Weens die ewig stygende koste om Kruger wildtuin toe te sleep, het ek min of meer besluit ons toer van 29 Junie tot 19 Julie vanjaar is vir eers ons laaste daarheen. Toe mis ek SANPARKE se oopmaak van besprekings vir April 2023, en kon nie plek kry aan die SA kant van Kgalagadi nie. Oor die afgelope paar weke het ‘n agent in Botswana vir my plek probeer kry by Rooiputs en Polentswa. Vandag het sy vir my gestuur wat sy kon kry, en ek het gevra sy moet dit bespreek.
Ons toer lyk so:
31 Maart: Kakamas Palmhof Chalets
1 & 2 April: Kalahari Sands (kampeer)
3 & 4 April: Polentswa (kampeer)
5 - 8 April: Rooiputs (kampeer)
9 April: Kenhardt hotel
10 April: Worcester
Bly vir jou onthalwe
Lyk my dinge begin vir jou in plek val vir volgende April in Kgalagadi. Ons kom so 'n paar dae nadat julle reeds weg is, daar aan. Die groot verskil is egter dat ons op die "sissie"-styl gaan bly, naamlik in chalets in die konvensionele kampe.
Verskillende style
verskil is egter dat ons op die "sissie"-styl gaan bly, naamlik in chalets in die konvensionele kampe
Niks fout daarmee nie. Ons het oor ons vorige besoeke (drie in totaal) op die volgende maniere geslaap:
2007: Kampeer agter in my Colt Trailbuster by Twee Rivieren, Mata-Mata, Nossob en twee panne in Mabuasehube (die name ontgaan my)
2009: Kieliekrankie, Kalahari Tented Camp (puik) en Nossob in ‘n hut.
2020: Twee Rivieren, Nossob en Mata-Mata (alles kampering met die Kavango).
Alhoewel ons die eerste twee aande buite die hek sal moet staan sien ek baie uit na Polentswa en Rooiputs, en die avontuur van in die Kgalagadi staan sonder heinings. Dit sal ook ons langste kampering (ses aande na mekaar) sonder geriewe wees.
Ek het by Willie Grobler van Echo uitgevind; my Kavango se stelsel kan tot ‘n 160W paneel hanteer. Dit het tans net ‘n 90W paneel, en ons het vier aande by Tsendze gestaan verlede Julie sonder elektrisiteit, maar met ‘n vrieskas vol vleis wat gevries gebly het terwyl ons die ligte en waterpompie ook gebruik het. Die ekstra oemf van die groter paneel (wat onder R1 300 kos) is maar net vir gemoedsrus.
Kgalagadi Lifestyle Lodge
Dit blyk, wat ek ken as Kgalagadi Lodge, te wees. Indien wel - dit is 'n baie bakgat plek. Hulle kampplekke het elkeen sy eie geriewe. Ek het na die kampplekke gaan loer toe ons in onlangse jare in die chalets oorgebly het, en was beïndruk. En hulle het 'n uitstekende goed-toegeruste winkel (met bakkery) en restaurant waar ons een oggend ontbyt geëet het.
Jy sou waarskynlik goedkoper wegkom as jy direk by hulle bespreek.
Kgalagadi (lifestyle) lodge
Die lifestyle gedeelte is in die naam bo-aan hulle webwerf. Dit lyk baie netjies (sien onder). Ek moet nog by hulle en Lekkeslaap in Kenhardt bespreek. Ek wil net eers die Polentswa en Rooiputs besprekings vasmaak.

Dankie Willem.Bespreking…
Dankie Willem.
Bespreking vir Mei 2023 in die Kgalagadi is toe so aanmekaar gesit. En ek moet vir Eezibookings bedank dat hulle n 12 dag roete kon uitwerk, gegewe die oorvloed besprekings wat seker op die stadium gebeur het. Von se sy het gehoor van mense wat 1 minuut na 12uur in die nag op die 1ste dag van die maand wat die besprekings oopmaak, aanlyn gaan.
Begin 1 Mei Nossob 2 nagte ,Gharagab 1 nag, Nossob 2 nagte, Bitterpan 2 nagte, Kgalagadi tented camp, 1 nag, Mata Mata 2nagte, 2 Rivieren 2 nagte, Urikaruus 1 nag.
Dit lyk dalk deurmekaar, maar as jy op Kglagadi kaart kyk, maak dit sin. Ek gaan net vir 30 April en die 14de Mei by Twee Rivieren ook bespreek. Die wat nie weet nie, jy kan nie in die Kgalagadi bespreking maak waar daar n dag oorgeslaan word nie, so as jy jou trip beplan, moet al die daaropvolgende dae bespreek wees.
Die is die eerste keer dat ons so lank vooruit n vakansie beplan! Se vir ouma, sy kan maar solank n inkopie lys maak, dan begin ons kry sodra die vervaldatums dit toelaat. Ek gaan volgende maand die agtersitplek uithaal en die "drawers" insit, Engel vasmaak en paar biere inpak.![]()
Lekker!
Bespreking vir Mei 2023 in die Kgalagadi is toe so aanmekaar gesit.
Wat ‘n heerlike vooruitsig! Lyk my een van die dae gesels ons meer oor Kgalagadi as oor Kruger op die forum. Eers was ons daar einde 2020, toe Wessel, nou Mnr Boucher en Oom Neef, en as alles goed gaan bevestig ek ook eersdaags ons besoek in April 2023. Ek sal uiteraard hier verkondig wanneer dit gebeur het.
Wiel goete
Môre Herman
Dis reg, vryf maar die voorbereiding in, gehoor. Onthou tog net om die pompie, die elektriese domkrag en snotstroppe sommer ookal in te pak.
Aangesien my Kruger vakanse die maand afgeskryf is, moet ek dalk na julle datums kyk, en probeer om julle raak te kampeer in Kalahari. Die ou verdroogde herfsblare kan dalk weer bymekaarkom.
Wessel, daai goete ry…
Wessel, daai goete ry permanent saam. Vir Kgalagadi se duine vat ek n ekstra spaarwiel, op n rim, klaar gepomp.
Jy en die ander ou Blare kan gerus n draai kom maak. Vir my, en Len, is dit net so oor 1000km en vir die Pretorianers net onder 1000km. So, dit kan werk, dit is nog 11 maande die toekoms in. Dalk moet die ander maters in hulle hordes opruk Twee Rivieren toe vir April, Mei 2023. Maar besluit maar gou, die dame wat my bespreking gedoen het, se die verblyf loop vinnig vol.
Groete.
Mag ek myself ook maar saamnooi asseblief?
Ons was nog nooit daar nie maar my ouers wel n paar maal. My ma moedig ons gereeld aan om te gaan en dalk is dit n goeie plan om dit saam met die "experts" te doen?
Julle sal nie spyt wees nie
Kgalagadi is ‘n heerlike ervaring. Probeer egter om ten minste Nossob ook te besoek maar verkieslik beide Nossob en Mata-Mata. Dis ongelukkig nie geskik vir padkaravane nie (al was daar ‘n omie met ‘n Exclusive by Mata-Mata net voor ons einde 2020 daar was), en die vaste verbly is duur (soos al SANPARKE s’n). Maar dis vir seker die moeite werd. Heeltemal anders as Kruger (wat ek met groot hartseer sal moet vaarwel roep weens die afstand en gepaardgaande koste), maar só lekker. Veral Nossob, waar mens eintlik nie eers die kamp hoef te verlaat nie. Die skuiling langs die kamp stel nooit teleur as die veld droog is nie.
Chris, jy lees te deeglik…
Chris, jy lees te deeglik. Het vir jou reggemaak.My kop verbaas my somtyds met die goet wat uitpeul, en oorgelees word, en nie die fout raaksien nie.
Wonderlike nuus
Ek het gistermiddag ‘n e-pos met die gewysigde bespreking gekry van Botswana Footprints. Ons vriende is bygevoeg en ons almal is nou baie opgewonde oor die avontuur wat wink. Ek gaan sommer vandag betaal vir die bespreking en die ander besprekings rondom dit maak. Dan moet ek begin spaar vir brandstof, want teen April 2023 kos dit seker R50/l.
Hier is ‘n paar foto’s wat by Rooiputs geneem is wat ek as lusmakertjie gisteraand op ons WhatsApp groep met ons vriende wat saamgaan gestuur het.



geniet .....
Môre Chris S
.... julle beplande avontuur Kgalagadi toe. Daar is nie 'n kans dat ek my beterhelfte in so 'n kamp sal kry nie. Dalk sien ek myself ook nie daar nie.
My beskeie opinie: dit lyk, en is seker, baie avontuurlik om die wilde diertjies so tussen en om 'n mens te hê, maar dit hou groot risiko in. Veral as daar kinders teenwoordig is. Ek wil nie nog rondkyk vir katte as ek oppad na die ablusie is nie. Gee maar 'n goeie heining om die kampeerplek vir my.
Daai bruin heyna het net 'n…
Daai bruin heyna het net 'n vinnige stort gevat en die leeus seker gemaak die res is skoon, en koelte is voldoende vir besoekers.
Wilde diere in en om kamp
Wessel, ek hoor jou. Dit is nie almal se voorkeur nie. Ek het vir meer as twee jaar in Botswana gebly (in onomheinde kampe in wildernisgebiede) en in totaal drie jaar daar deurgebring as ek die toere bytel wat ek daarheen gedoen het (ook meestal in onomheinde kampe in wildernisgebiede). Van die toere het kinders ook ingesluit, en ek is baie bedag op veiligheid en ken diere gedrag betreklik goed.
Ons gaan vir seker egter ekstra versigtig moet wees omdat daar twee ses- en twee agt jariges (teen daardie tyd) saamgaan. Die kanse is wel beter dat ons glad nie leeus of ander groot roofdiere in ons kamp sal hê nie, as wat dit is dat ons sal. Maar die kans is daar. Bedags is ek nie so bekommerd nie want mens kan mooi sien en hulle is nie so aktief nie. Snags is dit ‘n ander storie, en sal ons die kinders binne hou.
Afskrikmiddel of irritasie?
Vir redelik min geld is hierdie ‘n werkbare opsie vir gemoedsrus. Of dalk maak dit die leeu net die hel in.
Twee Rivieren was gister onder water
Salomien wys gisteraand vir my ‘n foto van Facebook af wat gister by Twee Rivieren geneem is. Die kampterrein was onder water nadat hulle 23mm reën gehad het. Ek het gesien dit het in Namibië gesneeu ook. Aardverwarming sê hulle…
Langer bly in Twee Rivieren
Ek het gister my bespreking vir April 2023 gewysig - ons kom nou twee dae vroeër in Twee Rivieren aan. Ons reisplan behels nou 4 aande in Twee Rivieren, 3 aande in Mata Mata en sluit af met 'n verdere 2 aande in Twee Rivieren.
My seun het afgelope Sondag weer skielik sy pa se arm gedraai om tydens volgende jaar se Maart/April skoolvakansie Hentiesbaai toe te gaan. Ek benodig tweekeer se oorslaap tussen Henties en Kgalagadi. Hulle keer terug huistoe, terwyl ek en Ralie mik om die park by Mata Mata in te gaan. Ek voorsien om mid-oggend by Mata Mata aan te kom aangesien ons beplan om naby Gochas op 'n gasteplaas te oornag (na die vorige aand in Windhoek).
Ons gaan dus meermale die pad tussen Mata Mata en Twee Rivieren ry. Maar ek sien só uit daarna aangesien ons in 2007 laas in die Mata Mata omgewing was. Dit is ongelukkig al kampe waar ons akkommodasie kon bekom (laatslapers, t.o.v. besprekings kom maar tweede by 'n populêre park soos Kgalagadi). Maar ek hou maar die web gereeld dop om te sien of daar nie dalk 'n nag of twee by hetsy Nossob, Urikaruus of Kielie Krankie beskikbaar raak nie.





Die agtergrond
Toe ons einde 2020 Kgalagadi toe is, het ek met groot moeite ‘n bespreking by Rooiputs bygevoeg tot ons besprekings by Twee Rivieren, Nossob en Mata-Mata. Die volle verhaal van daardie toer kan hier gelees word. Ongelukkig het hulle eers by Twee Rivieren vir my gesê hulle verlang ‘n negatiewe Covid toets van elkeen van ons, en kon ons toe nie Rooiputs besoek nie. Nou probeer ons weer, en hier is die e-pos wat ek vandag ontvang het, wat eers na slegte nuus gelyk het maar toe goeie nuus was.