133453 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Len... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -8 hours ago
Buitelandse besoekers Oktober 2026 saam gesels Len Loader -8 hours ago
Skrif Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -9 hours ago
Dinokeng fooie Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -12 hours ago
Wessel Oktober 2026 saam gesels Geert -13 hours ago
Geert... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -14 hours ago

September 2026 saam gesels

Brits
Submitted by Wessel Strydom on Tue, 01/09/2026 - 13:45
Forums

Ek het met groot gesukkel en lank aanhou vir Ezibookings, my bespreking vir Mokala en KarooNp gedoen. 

Ek het later vir Chris B gebel, hom gevra om klaar te maak, sodat ek ook 'n beurt kan kry. Die vriend pleit toe geheel onskuldig.

Teen 10h30 kry ek bespreek, en vra sommer vir Nossob ook. Volgens die kantoor was Nossob toe reeds vol bespreek, seker vir Aug'27. MataMata en Twee rivieren het nog plekke oop gehad.

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 01/09/2026 - 14:54

Ek kon darem vanoggend my 3-maande bespreking by Eiland Spa bewerkstellig, maar ongelukkig nie op die staanplek van my keuse nie. Na 35 aande in die wildtuin (ja - 'n volle 5 weke) is ek vir 90 aande by Eiland Spa bespreek. Ons mik vir somer in die winter.

As alles volgens plan verloop arriveer ons op 3 Mei in die Laeveld (Malelane) en vertrek weer op 5 September vanaf Eiland.

Pretoria

Geert

Tue, 01/09/2026 - 16:54

Nou dat ek jul plasings lees....ek het skoon vergeet dat besprekings vandag oopgemaak het vir Aug. Ek het nou vinnig Ezibookings en Sanparks hoofkantoor gebel, maar beide het reeds gesluit vir die dag. Ek het toe kans gevat en Satara kamp gebel.....binne 5sekondes tel hulle op en help my met my bespreking. Ek kon alles kry by Satara en Lower Sabie.....ek weet nie hoe vinnig staanplekke in wildtuin daai tyd verkoop nie, maar ek is darem gehulpe

Dullstroom

Rona du Plessis

Fri, 04/09/2026 - 09:51

met geen kampeerplanne vir die naweek nie, maar vele stof tot nadenke.

Gisteraand lees ek iets raak (eintlik was dit baie vroeg vanoggend) - 'n Prof Brooks se mening oor dissipline. Hy reken dat mense nie gemaak is om naguile te wees, maar in werklikheid almal oggend-mense is. So moet mens soggens opstaan terwyl dit nog donker is - sy tyd is 4h30 (weet nie waar hy woon nie). Dan kom oefeninge eerste - hy praat van strawwe oefening vir +/- 'n uur, gevolg deur Godsdiens te beoefen, meditasie of na musiek te luister. Daar was nog meer geskryf, wat ek gelees het, maar hy het my toe lank reeds verloor.... Sou mens dit nié so doen nie toon dit 'n tekort aan dissipline.

Iets wat ek dan omtrent myself geleer het, is dat ek totaal ongedissiplineerd issurprise Om dit met kampering in verband te bring, kan ek darem sê dat, toe ons jonger was, ons tydens Wildtuinvakansies saam met die hoenders?? opgestaan het om teen oopmaaktyd voor die hek te wag. Die gevolgtrekking waartoe ek kom, ten einde gedissiplineerd te wees, is dat ek permanent in die Wildtuin moet wees en teruggaan na die vroeg-opstaan gewoonte (sonder die strawwe oefening want dan skrik mens jouself té wakker).

Besluit maar in watter kategorie jy vallaugh

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 04/09/2026 - 11:18

As ek Rona se inset hierbo lees (en as daardie ou na wie sy verwys enige "sense" praat), dan is ek sedert my aftrede 'n totaal ongedissiplineerde mens. Ek gaan slaap wanneer ek wil, ek staan op wanneer ek wil, ek gaan stap wanneer ek wil, ek gaan speel rolbal wanneer ek wil - en so kan ek aangaan. Selfs in die wildtuin is ek dan ongedissiplineerd. Daar staan ek ook op wanneer ek wil. Vroegoggend by die hek wag is uit soos ... (ek sal nie die vergelyking gebruik wat ons in die "army" gebruik het nie).

En ek geniet dit om ongedissiplineerd te wees.

Sedgefield

Jan Meyer

Fri, 04/09/2026 - 11:28

So het die tyd om aan te pas my skielik soos 'n dief in die nag oorval.

Tot nou toe het ek alles in en om die huis self gedoen. Nog 'n maand terug in die plafon in om waaier in die badkamer te installeer. Nuwe krane in die badkamers en sloot gegrawe vir besproeiing pype in die tuin. 

Maandag oggend is warm water uit kraan lou. Stroombreker vir geyser is af. Sit weer aan en hoop vir die beste maar weet daar is moeilikheid want na so 30 sekondes weer af. 

Daardie gevoel van magteloos wees wat ek gekry het was baie erg want nou moet ons iemand kry wat kom regmaak wat ek gewoonlik self kon doen. Bel rond en pryse wissel van R1600 tot R2200 vir nuwe geyser element en termostaat en almal is besig. 

Gelukkig in plaaslike koerantjie advertensie van Handyman wat sê hy sal kom kyk so by 11h00. Ontvang 10h30 oproep en sê bietjie opgehou en sal oor 'n uur by my wees. 

So word nuwe element ingesit en rekening sal gestuur word. Gister rekening van R870 ontvang vir die werk wat my opnuut laat besef dat daar nog mense is wat nie oornag ryk wil word nie. 

"Dan die Handyman"  het 'n nuwe kliënt bygekry en die aanpas vir my so bietjie makliker gemaak.

 

 

 

 

Sedgefield

Jan Meyer

Fri, 04/09/2026 - 14:58

Knie kom mooi aan dankie. Kan al sonder krukke stap maar die kop bly maar huiwerig om dit te aanvaar. Kannie wag dat die swelling sak nie. 

Kan ook nou deur die nag slaap wat in die begin maar gesukkel het. Dinsdag kom die steke uit en kan dan seker meer normaal lewe. Gelukkig het Elmarie 'n plastiese kous met rek bo wat styf op die been pas gekry en kan ek lekker stort. 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 04/09/2026 - 15:42

By my sal dit regtig maar broekskeur gaan om Prof Brooks  se idee van dissipline te glo.  Dis die grootste twak onder die son en Rona, ek is bly jy het voor die einde van sy artikel tot 'n soortgelyke gevolgtrekking gekom.

Dat dissipline in die land 'n probleem is, is ongetwyfeld 'n feit.  Kyk maar net na ongeërgde verkeersoortredings (so asof dit nie bestaan nie), skoolkinders wat onderwysers terroriseer,  bedrog, moord, aanranding, huishoudelike geweld en nog vele meer. Voormelde gedrag staan in stille kontras van hierdie Prof Brooks se idee van dissipline.

Dullstroom

Rona du Plessis

Fri, 04/09/2026 - 17:25

Vandag het ek hierdie aanbeveling van opstaan met hanekraai begin toepas, met die verskil dat daar net 'n (hoogstens) 5 minute ligte-oefening sessie was. Al die res het het ek mooi nagevolg. Die Prof voorsien dan dat die res van die dag outomaties heel vlot sou verloop want nou is mens mos gedissiplineerd. Wel, 12 ure later en die dag op sy rug, kan ek nie sê dat die hele oefening my so gemotiveer het om dit te probeer volhou nie - niks het vandag anders verloop as normaalweg nie. Tienuur na bed vanaand gaan ook nie werk nie. So nee wat - hoe gaan die gesegde van 'n ou aap nuwe truuks leer?

Dullstroom

Rona du Plessis

Fri, 04/09/2026 - 17:46

Verskoning vir die laat antwoord. Iewers het ek op 'n ander draad (onthou nie waar nie) gesien jy wonder of ek en Annatjie moontlik saam op hoërskool was in Thabazimbi. As ek dit reg het, het jy tevore genoem dat haar nooiensvan Bezuidenhout was. Ek het toe al daaroor gedink, maar nee, ek glo nie. Daardie jare was dit nie 'n baie groot skool nie en mens het altyd jou seniors geken. Ons was ook nie saam in die koshuis nie. Swartklip se jare was dit ook nie - haar pa was nie oom Retief Bezuidenhout nie - enigste met dié van wat ek geken het daar (die liefste meneer wat my gehelp het om kop bo water te hou tydens my twee jare in die onderwys). Klein wêreld, maar enkele jare het die verskil gemaak dat ons mekaar nie geken het nie.

Brits

Wessel Strydom

Sat, 05/09/2026 - 13:44

Ek sien nou net 'n insiggewende artikel in News24, oor die visie van Prof Bismark Tyobeka van NWU.

Die oproep tot herontwaking van TRISO partikels en brandstof "pebbles" se vervaardiging en toetse by Pelindaba, is effe te laat. Die meeste van ons wat betrokke was by die PBMR projek, en by Pelindaba het of hulle raklewe reeds bereik, of is land uit. 

Sy visie is prysenswaardig, maar om brandstofvervaardiging en bestralingstoetse daarop uit te voer, verg 'n totale gesinchroniseerde program en beplanning.

Necsa is besig om 'n nuwe veeldoelige navorsings/materiaaltoets/ isotoop produksie- reaktor te oorweeg. Ek vermoed reeds vêr gevorder. Die bestralings toerusting om uraanhoudende partikels en/of "pebbles" te bestraal, moet betyds in ag geneem word. Daarbenewens is daar 'n geweldige infrastruktuur nodig om veilig die vereiste nabestralingstoetse te kan doen.

Dit sal 'n grootste poging verg met groot finansiële staatsinsette, en dan nog klomp omkoopgeld om sekere oumense se raklewe te verleng.laughwink

Oudtshoorn

neef Herman

Sat, 05/09/2026 - 15:40

Jitte ou Wessel jy het klompie goedjies aangeroer wat lyk my die huidige houtskool bedryf onderstebo gaan draai!

Daar is egter ń baie sterk moontlikheid dat Neef nie die kapasiteit het om sinvol aan jou gesprek te kan deelneem nie.

Brits

Wessel Strydom

Sat, 05/09/2026 - 19:39

...sit jy nou die klem op die regte woord---"ou" Wessel!!!

Jis man, weet jy hoe het ek , Grootwind en kollegas na so 'n program destyds uitgesien. Nou sit baie van daardie jong kollegas in Amerika waar hulle presies dit doen, gebaseer op plaaslike ontwikkelende suksesse,.

Brits

Wessel Strydom

Wed, 09/09/2026 - 11:21

Ek moes vanoggend my opspoorstelsel se jaarlikse fooi vooruit betaal. Ek verkies dit so, in plaas van 'n debietorder wat maandeliks afgaan. Behalwe vir die feit dat daar nie 'n verkeerdelike bedrag verhaal word nie, kry ek boonop 'n maand se gratis dekking.

Die 2 stelsels in Grompie werk dus uit op ongeveer R208/m, wat darem nie te erg is nie.Sonder dit het ek nie dekking by Santam as Grompie gesteel of gekaap word nie.. 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 09/09/2026 - 12:31

Ek woon gelukkig in 'n "mak" deel van ons land. Dit beteken nie dat ek enigsins gevrywaar is van kriminele probleme nie, want ek ry met my Hilux tog relatief gereeld in of deur dié meer berugte kriminele omgewings. Maar die "geel sambreel" verwag nie van my om enige opsporingstoestel in my Hilux te hê nie.

Die nuwer Hilux-modelle het almal (of is dit net die outomatiese modelle?) deesdae 'n sluitmeganisme by die rathefboom - 'n knoppie wat jy slegs indruk en verhoed dat die voertuig in rat gesit kan word. Die kriminele het seker reeds iets in plek om dit te omseil, maar ek gebruik dit maar as ek iewers parkeer. Ek vergeet net pal om die ding te ontsluit wanneer ek weer wil ry.

Brits

Wessel Strydom

Wed, 09/09/2026 - 12:40

Slegs die outomatiese modelle het daardie handige slot. My 2022 model het sonder dit uit die fabriek gekom. 

Ons Corolla het so 'n slot wat sluit as voertuig in tru-rat gesit is. Dis nog slegter, mens stoot terug uit parkeerplek, en oeps die slot is nog gesluit. 

Ek kan so 'n slot op Grompie laat aanbring, maar stuurwielslot was goedkoper, en diewe sien dit dadelik. Boonop kan ek nie vergeet om dit te ontsluit nie.  

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 09/09/2026 - 15:25

Gegewe my riskante gesondheidstoestand en my ouderdom, is my kinders uiters bekommerd dat ek alleen in my huis woon en natuurlik ook op my eie oral rondrits.  Hulle is bang ek kom iewers iets oor en daar is nie hulp byderhand om my te help of om hulp te kry nie.  Moet ook by sê, dit het myself ook begin pla en ek het toe maar besluit om 'n plan in plek te sit.

Ek het toe 'n kontrak met AidCall aangegaan en die ding werk min of meer so :  jy dra nou 'n arm-horlosie ('n "smart watch") met een knoppie wat jy druk as jy skielik mediese hulp nodig het. Die 24-uur kontrole-operateur kry dadelik die sein en praat met jou deur die horlosie. Die stelsel bepaal jou GPS koördinate en stuur onmiddellik ER24 ambulansdienste na die punt waar jy lê, enige plek in SA. Vooraf word jou mediese geskiedenis, Mediese Fonds besonderhede en jou naasbestaandes se kontakbesonderhede op hulle stelsel gelaai.  Die oomblik wat 'n noodsein van jou ontvang word, kom al jou besonderhede onmiddellik op die operateur se stelsel te voorskyn sodat hulle dadelik kan reël vir die regte hulp. Die naasbestaandes die naaste aan jou huis ( of andersins jou bure) het almal toegansleutels en alarm-kodes om vir die mediese personeel te kom oopsluit.

In die geval van die slag van 'n motorongeluk of as jy hard op die vloer in jou huis val, stuur die horlosie outomaties 'n noodsein af na die kontrolekamer waarna die hulpaksie onmiddellik begin.

Moet sê my kinders se siele (en myne) het nou tot ruste gekom.

Brits

Wessel Strydom

Wed, 09/09/2026 - 16:27

...dit klink na 'n uitstekende idee/toestel. Ons gaan almal in gesondheid/ouderdom/omstandighede kom, waar so 'n toestel vir mens daardie gerusstelling gee.

Jy moet nou dit toets. Haal die horlosie af, laat val dit ordentlik, maak koffie en kyk hoe vinnig daar reaksie kom.winkdevil

Oudtshoorn

neef Herman

Wed, 09/09/2026 - 20:12

Die wat nog van Voolie onthou so bietjie nuwe nuus. Sy en Piet het nes gebou hier onder ons stoepdak. Bo- op die dak van ñ nessie wat ek vir hulle daar vasgesit het.

Wat ons nuut waargeneem het, is, is dat die Huismossies se beentjies ook rooierig raak as dit by broeiyd kom. Julle het seker al gehoor van die " rooi hakskene" gesegde wat baie sigbaar is by Volstruise. Altyd wonderlik om iets nuut waar te neem.

Brits

Wessel Strydom

Thu, 10/09/2026 - 06:43

....nou weet ek ook waar daardie gesegde vandaan kom. Ons voorvaders het darem hulle fyn waarnemings pragtig in onse taalontwikkeling ingeweef.

Ek wonder hoeveel jongmense ongeag taal voorkeur, gebruik en begryp nog sulke juweel gesegdes.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus