6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Geert se braaivleise.... Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -19 minutes ago
Traction control Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -7 hours ago
Braai Lux Oktober 2026 saam gesels Geert -11 hours ago
Kappie e Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -13 hours ago
Wen 'n Hilux Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -14 hours ago
Gesiggies Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -15 hours ago

Wildtuin piekniek plekke

Brits
Submitted by Wessel Strydom on
Forums

Môre willetuin liefhebbers

Sit en dink aan hoe 'n mens se lewe deur fases gaan. Nou is die vraag, wat het dit te doen met piekniekplekke? Ek lees in van die gesprekke raak iets wat Chris B genoem het, dat hulle deesdae al minder daar aandoen.

Ons is egter baie lief om ons dagritte om sulke plekke te beplan, ry juis in die oggend om byvoorbeeld by Timbavati te gaan eet ensomeer. Lank gelede met die kinders saam op vakansie, was dit 'n groot ontbytmaak op gasbraaiers.

Deesdae ry ek sommer net 'n klein pannetjie saam om iets oorskiet warm te maak, en eier by die bak. Soms is dit sommer vooraf bereide toebroodjies en koffie. By Tshokwane egter koop ons sommer ietsie by hulle wegneem kombuis, bloot omdat ons dan met mening met die woonwa nog oppad is. 

Laat hoor wat julle rituele met piekniekplekke is, al is dit ook in KarooNP of Kalahari. 

Pretoria

Geert

Mon, 16/01/2023 - 07:17

Ons beplan ook elke dag se roete wat n piekniek plek insluit. Ons besoek gewoonlik meer die suide deeĺ van KNP....Letaba en suid en besoek dan omtrent elke picnic plek wat daar is aangesien ons probeer Satara, Lower Sabie en Berg en Dal by besoek insluit. Elke dag probeer ons afwissel met ander ete. As ons spek en eiers maak, huur ons die skottelbraaiers wat beskikbaar is. As ons hotdogs of hamburgers maak, gaan die travel Weber braai saam. Een van ons gunsteling is Tshokwane waar ons gewoonlik dan iets koop om te eet.....mal oor hul roosterkoek geregte. Een van die enigste piekniek plekke wat ons nie suid besoek nie, is die een by Pretoriuskop aangesien ons nie meer in daai rigting ry oor die swak wildsbesigtings wat ons daar ervaar nie. Unkhulu tussen Lower Sabie en Skukuza het vir my die afgelope paar jaar baie nice geword. Die ander piekniek plek wat ons nooit besoek nie is die een by Lower Sabie, hoofsaaklik omdat ons daar bly, maar twyfel of ek daai fasiliteite sou gebruik het as ons mie daar gebly het nie omdat dit so vreeslik verwaarloos is en geen onderhoud hoegenaamd geniet nie. 

Brits

Wessel Strydom

Mon, 16/01/2023 - 08:17

Môre Geert

Twee vrae;

1] waar is die foto geneem, kan dit nie plaas nie, dalk Muzandzeni?

2] Waar is die piekniekplek, Tshikwalo. 

Sedgefield

Jan Meyer

Mon, 16/01/2023 - 10:51

Pafuri piekniek plek .............................in die noorde op die oewer van die Luvuvhu rivier en in die suide Mlondozi piekniek plek naby Laer Sabie. 

 

Pretoria

Geert

Mon, 16/01/2023 - 10:59

Hi Wessel. Skuus fout getik....Tshikwalo is in Dinokeng, ek het bedoel Tshokwane. Ja...daai foto is by Muzandzeni geneem. 

Brits

Wessel Strydom

Mon, 16/01/2023 - 14:10

Middag vriende

Ek sal hopenlik die jaar die noorde deel van Kruger besoek. 'n Rit tot by Pafuri piekniekplek is reeds op die doenlysie.

Ons was baie lank gelede by Mlondozi, dit bly lieflik daarbo op die koppie.

Geert: laat daai rosterkoek nou my mond water!!! 

Worcester

Wildehont

Mon, 16/01/2023 - 16:27

Ons was een keer daar, tydens ons eerste en enigste besoek aan Punda Maria. Alhoewel daar stoute ape was, was dit seker die beste piekniekplek waarby ek nog was in die wildtuin. Nie te besig nie, en die lieflike groot bome en trop olifante wat kom drink het terwyl ons daar was, was wonderlik. Daarna oppad na Crook’s Corner is die bome ook lieflik. Dis net die rit terug Punda toe as almal behalwe jy in die kar slaap wat baie lank was. 

Wynand Venter

Tue, 17/01/2023 - 15:21

Die wildtuin se onderskeie piekniekplekke het maar elkeen ‘n bekoring van sy eie. Dit is seker maar ‘n gegewe dat gereelde besoekers maar elkeen hul voorkeur piekniekplekke het.Sommiges is sommer net pleinweg mooi, danksy die pragtige bome. Andere voel so ‘n bietjie afgeskeep ten opsigte van onderhoud en voorkoms. Party is (vir my) net te besig – hier dink ek veral aan Afsaal en Tshokwane. Nkuhlu kan ook baie besig raak, maar behalwe vir die lastige ape is dit darem maar lekker om daar onder die groot bome te sit en uitkyk oor die Sabierivier terwyl jou ontbytworsie of -spek besig is om te knetter in die gasskottel.

Mlondozi kan ook baie lekker wees as jy gelukkig is om ‘n plekkie onder die afdak te kry. Maar o hene, dit kan darem bedrywig raak daar – seker omdat dit so naby aan Onder-Sabie is. Sou jy, soos reeds genoem, gelukkig wees om ‘n plekkie onder die afdrak te kry is die vista oor die dam en die Laeveld darem maar mooi.

Een van ons persoonlike gunstelinge is Nhlanguleni, maar dit is redelik ver van enige kamp af. Maar praat van rustigheid – hier vind jy dit. Lekker skadu is nie volop nie, maar die gevoel van “in die bos wees” kom hier tot sy glorie. Nog ‘n gunsteling ‘n entjie verder noord is Muzandzeni. Hier het ons al die leeus vanuit die piekniekplek dopgehou.

Nog ‘n gunsteling is N’wanedsi. Na ontbyt kan ons lang tye verwyl by die uitkykpunt. Ons het nog nooit noemenswaardige besigtigings hier gehad nie, maar die stilte en rustigheid maak dubbel en dwars op daarvoor. In die verlede het ek graag hier gesit met ‘n lekker koue bier, maar as gevolg van sommiges se wangedrag met alkohol is dit deesdae maar ‘n ou koeldrankie.

Ons besoek ook graag Timbavati as ons in Satara of Orpen tuisgaan. Maar hier kan dit ook maar besig raak.

Een van die stiefkinders van die wildtuin se piekniekplekke is beslis Masorini. Waarskynlik is die eintlike doel van die fasiliteite vir diegene wat graag die argeologiese terrein wil besoek – terloops, as jy dit nog nie besoek het nie skuld jy jouself iets. Maar die piekniekarea is maar karig.

Makhadzi, wat ‘n ou weermagbasis was, is ook uniek met sy houtgeboue. Maar na drie besoeke daar kon ek nog nie ‘n aangetrokkenheid met hierdie piekniekplek vind nie.

Mooiplaas is ook een van ons gunstelinge. Maar ons besoek dit al minder omdat ons verlief geraak het op Mopani se netjiese dagbesoekers-area. Mooiplaas is nog ‘n piekniekplek waar ons al die voorreg gehad het om leeus vanuit die piekniekterrein te bekyk.

Dan natuurlik ou Babalala onder daardie reuse-groot wildevy. En as jy in Shingwedzi tuisgaan het jy die voorreg om met een van die mooiste (en beste) wildspaaie na hierdie piekniekplek te ry, naamlik die Mhongolo Loop (S56). En as jy later terugkeer na Shingwedzi is dit asof jy ‘n totaal nuwe roete ry. Ek kan daardie pad elke dag ry.

Laastens Pafuri. Verseker een van die mooistes en bestes. Ongelukkig is dit vir ons net te ver vanaf Punda Maria.

Ons het nie spesifieke rituele by piekniekplekke nie. Soms huur ons 'n gasskottel indien ons ontbytspek of wors saam met 'n gebakte eier wil maak. Soms neem ons' n gasstofie en 'n pan saam en maak net 'n bietjie roereier op 'n broodjie. Ander kere neem ons 'n toebroodjie en/of van die vorige aand se braaivleis saam en geniet dit met 'n beker koffie. Dan is daar ook enkele kere wat ons dit slegs as 'n benerek-stop gebruik en om gou 'n toilet te besoek, gewoonlik omdat ons te veel gepeusel het op pad na die piekniekplek.

Ai – hoe verlang ek nou na al daardie wonderlike plekke. As gevolg van verskeie faktore lyk dit onwaarskynlik of ons sommer weer die voorreg gaan hê om daar uit te kom. Maar herinneringe steek diep vas.

Brits

Wessel Strydom

Tue, 17/01/2023 - 15:41

....dankie vir jou omvattende inset. Ek het dadelik die onbekendes aan my, op my kaart gemerk.

Ons gaan Junie 23 deur die widtuin opry van Shingwedzi tot by Punda, en dan af na Tsendze, Satara en af tot by Berg en Dal. Alles noord van Letaba is redelik tot totaal onbekend aan ons. 

Worcester

Wildehont

Wed, 18/01/2023 - 06:09

een van die mooiste (en beste) wildspaaie na hierdie piekniekplek te ry, naamlik die Mhongolo Loop (S56). En as jy later terugkeer na Shingwedzi is dit asof jy ‘n totaal nuwe roete ry. Ek kan daardie pad elke dag ry.

Ek stem heelhartig saam. Dis waarom ons elke jaar terugkeer Shingwedzi toe, en elke dag ten minste een keer die pad ry. Ek sal vrek graag die Mphongolo rugsak stap wil doen, maar ons kinders is nog te klein.  

Pretoria

Geert

Wed, 18/01/2023 - 06:51

Net voor Berg en Dal se kamp is daar n afdraai wat by die berg opgaan na hulle piekniek plek, maar pad is altyd gesluit en neem aan dat die piekniek plek ook lankal nie funksioneer nie. Ek was nog nooit daar gewees nie....is daar van julle wat al daar was, hoe het die piekniek gelyk? Weet iemand wat is rede dat piek nie meer oop is nie?

Wynand Venter

Wed, 18/01/2023 - 09:45

Die piekniekplek waarna Geert hierbo verwys was veronderstel om Berg en Dal se dagbesoekers-area te wees. Dit het nie aftrek gekry nie en was so te sê van die begin af 'n mislukking. Die laaste keer wat ons uit nuuskierigheid daar was (etlike jare gelede) was dit reeds vervalle en verlate. Dit is té naby aan die "beskawing" en mense wat as dagbesoekers deur Malelane-hek inkom ry gewoonlik verder (Afsaal/Skukuza/Nkuhlu) om te gaan piekniek maak. Sou hulle wel aanvanklik na Berg en Dal ry, koop hulle eerder iets in die kamp en geniet dit op die bankies langs die dam voor die kamp.

As ons in Berg en Dal bly spandeer ons ook menige ure (veral saans na ete) voor by die dam.

Worcester

Wildehont

Wed, 18/01/2023 - 14:57

was veronderstel om Berg en Dal se dagbesoekers-area te wees. 

Klink omtrent soos Shingwedzi s’n. In lg se geval is dit te naby aan die kamp gebou, en is nooit in gebruik geneem nie. Nou sit dagbesoekers steeds langs die rivier net na jy by Shingwedzi se hek inkom, en as jy oppad terug is kamp toe na ‘n middagrit jaag hulle by jou verby om by Punda uit te kom. Ek wonder hoeveel diere sterf in die proses. Ai, die geselsies laat my nou vreeslik verlang…

Brits

Wessel Strydom

Wed, 18/01/2023 - 15:47

..... na Aprilmaand kan jy ons alles vertel van piekniekplekke in die Kalahari.

Ek weet die plek se naam word anders gespel, maar ek is net nie lus om die korrekte spelling elke keer op te soek nie. 

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus