Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Sterkte vir Daan (en vir jou… Oktober 2026 saam gesels Chris Boucher -2 hours ago
"Opgevang" Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -3 hours ago
Tuis Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -3 hours ago
Donker Lag 'n slag Voortrekker -5 hours ago
14 Oktober Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -5 hours ago
13 Oktober - nm Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -16 hours ago

Wildehont se nuwe ou Ranger

Worcester
Submitted by Wildehont on
Forums

Ek begin die gesprekslyn sodat ek ophou om die Alternatiewe sleepvoertuie gesprekslyn te besoedel met praatjies oor die 2013 Ford Ranger 3.2 auto 4x4 wat ek onlangs gekoop het. 
Ek wil nie die goeie raad wat ander lede wat soortgelyke voertuie het/gehad het verbeur nie, so nou kan ons verder daaroor praat hier. 
Almal ken teen die tyd die besonderhede van my aankoop, so ek gaan niks herhaal hier wat reeds gesê is onder Alternatiewe sleepvoertuie nie. 
 

A

Brits

Wessel Strydom

Tue, 21/11/2023 - 16:12

LED staafligte, veral dwars is totaal onwettig

Mens mag tot 6 ligte voor hê

Die ligte moet laer as 1.4m vanaf grond tot senter  wees

Die ligte, in pare moet ewe vêr van voertuig vertikale senterlyn wees.

Alle ekstra ligte moet aparte eie skakelaar hê, en afgaan as jy domp. 

'n Kollig wat stelbaar is, maw kan ronddraai [soek] is ook onwettig. 

Enige lig, al is dit bedek moet op 'n openbare pad aangeskakel kan word. Dit help nie ons sê dit word net in veld gebruik nie.

LED ligte waarmee 'n voertuig uit die fabriek kom, as deel van die totale lig-komponent is wettig.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 21/11/2023 - 18:56

My twee skedonks het nie bykomende ligte nodig nie  -  dié wat deur die vervaardigers jare gelede geïnstalleer is, verlig die wêreld goed genoeg - selfs vir ons ouballies ook !

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 21/11/2023 - 19:22

Ek vind dit altyd humoristies, mens sien selde 'n 4x4 sonder al die vreeslike ekstra ligte. Asof dit nou rerig die voertuig se veldry vermoë verbeter. Dit lyk egter indrukwekkend, om die ego te streel. Ek wonder hoeveel keer ry ouens in Botswana en Namibië wat met vakansie is, in die donker, en slaan dan kamp op.  

Op my ouderdom, en die bose wêreld hier in Gauteng, NoordWes, ry mens net nie meer in die donker nie, behalwe in noodgeval. Dalk ry mense nog in die afgeleë dele [platteland] nog in die aand rond. Seker die plaasboere wat hulle self beveilig en sekuriteitsgroepe. 

Ek het dus ook geen behoefte aan ekstra ligte nie. 

0
Worcester

Wildehont

Wed, 22/11/2023 - 07:56

Dankie Hennie. Ek het boonop meer gekry as waarvoor ek gehoop het. Ek sou tevrede wees met R100k maar ons het ooreengekom op R110k. Dis net R10k minder as wat ek betaal het 5,5 jaar en 36000km gelede. 

0
Worcester

Wildehont

Wed, 22/11/2023 - 11:13

Ek het gistermiddag die onwettige LED staaf van die Ranger afgehaal. Ongelukkig was dit nie moontlik om die draad te volg tot by die kragbron en dit daar te ontkoppel nie. Ek kon dit ook nie binne die lig ontkoppel nie, want dit is geseël. 
 

Noodgedwonge moes ek die draad toe afknip en die lewendig en neutraal afsonderlik insuleer. Soos ek gevrees het, het die uitskakel van die LED staaf veroorsaak dat van die ander ekstra ligte wat die oorspronklike eienaar laat insit het nie meer werk nie. Ek sal die voertuig maar na Hein die auto elektrisiën toe vat om dit wat nie afgehaal is nie alles weer aan die werk te kry. Die voertuig se oorspronklike ligte werk darem nog almal. 

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 22/11/2023 - 11:26

net die lewendig en neutraal koppel, waar jy nou ge-isoleer het??

Klink of jy net die stroombaan gebreek het. Al daai nie standaard ligte het seker net skakelaar gehad in kajuit. Skakel alles aan/af, en dan nog die koppeling om te "dim" met jou gewone ligte skakelaar.

0
Worcester

Wildehont

Wed, 22/11/2023 - 11:51

net die lewendig en neutraal koppel, waar jy nou ge-isoleer het??

Ek is te bang ek veroorsaak ‘n kortsluiting wat alles beneuk.
 

Die ekstra ligte is nie so eenvoudig nie. Daar is LED running lights weerskante van die sierrooster. Hulle het self aangekom as die enjin loop, saam met ringligte om die kolligte. Daar is misligte ingebou in die ARB bosbreker. Ek het vergeet om te kyk of hulle nog werk. Dieselfde met die parkeer ligte en flikkerligte ingebou in die bosbreker. Dan is daar die twee kolligte en die LED ligstaaf. Die het hulle eie ekstra skakelaar in die konsole tussen die sitplekke, en kan net aangeskakel word as die hoofligte aan is en nie gedomp is nie. 
 

Ek sou nie self al die ekstra ligte toegevoeg het nie, maar gegewe Grootwind se inset oor die swak ligte waarmee die Ranger uitkom wil ek dit nie net alles afhaal nie en sal die wettige deel hou. Die voertuig se voorkant lyk anders as standaard vanwee die ARB bosbreker en ekstra ligte, en ek is reeds gewoond daaraan so ek gaan dit so hou en net seker maak alles werk weer sonder die ligstaaf. 

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 22/11/2023 - 12:32

Chris, gaan sien eerder 'n auto elektrisien. Daai beligting moet ook erens relays en eie smeltdrade hê.

Ek stem, jy het nou al daardie ligte, gebruik dit . 

0
Irene

Grootwind

Wed, 22/11/2023 - 14:13

Dink daai Ranger is 'n XLT? Indien wel is die "running lights" en misligte in die buffer standaard (dink die vorige eienaar het bloot die misligte na die staalbuffer oorgedra). Stem saam, laat 'n motor elektrisiën eerder die ander uitsorteer, as jy iets blaas kan dit duur elektronika wees (maak net seker die ou wat jy aan die voertuig laat werk weet wat hy doen...as hy drade wil begin sny hardloop weg...party mense daar buite ken nie die verskil tussen 'n +12V GS draad en 'n CAN-Bus draad nie...)

 

0
Worcester

Wildehont

Wed, 22/11/2023 - 16:14

Dit is ‘n XLT en die misligte werk nog, ek het gekyk. Die LED running lights werk egter nie sedert ek die ligstaaf uitgeskakel het nie. Die bakkie is darem nou deur die toets en op my naam geregistreer. Ek moet nog net die nuwe nommerplate opsit. Die auto elektrisiën wat ek gebruik werk baie stadig omdat hy so deeglik is. Ek glo hy sal vinnig die besigheid kan herstel. 
 

Wat ‘n kappie betref kyk ek nog rond. Daar het nog nie ‘n alu/vss opgeduik wat onder R30k kos nie. Dis ‘n klomp geld. Chris Jnr verkies die oop bak en ry elke oggend agterop skool toe. Dalk moet ek maar eers die bakkie so hou en met die Prado sleep. Ek gaan nie oorhaastig kappie koop nie. 

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 22/11/2023 - 16:27

Ek hoop dis in stil strate, sonder hobbels. Dit bly maar gevaarlik, maar lekker vir 'n kind.

0
Worcester

Wildehont

Wed, 22/11/2023 - 20:01

Ons bly darem net 1,6km van die skool af, en ek ry nie vinniger as 40 km/h as hulle agter op sit nie. Hulle moet ook plat in die bak sit. Die snaaksigheid sal seker oorwaai, maar intussen gun ek dit vir hulle. Dis hulle eerste bakkie. Ek het die laaste een verkoop voor ons Worcester toe getrek het en hulle is albei hier gebore. 

0
Worcester

Wildehont

Wed, 22/11/2023 - 20:13

Ek was na werk gou by Hein die auto elektrisiën. Hy sê toe die ligstaaf wat ek uitgeskakel het behoort geen effek te hê op die ander ligte nie. Toe praat hy my bang oor die body control unit wat so sensitief is en R10k kos om te vervang.
 

Gister toe ek die ligstaaf ontkoppel het, het ek gesien daar is so plaatjie onder die battery se negatiewe terminaal waaraan drade gekoppel is wat lyk of dit die ekstra ligte kan voer. Dit was nie styf vas nie, en ek kom nie sien hoe ek dit stywer kon vas kry nie. Ek wys dit toe vir Hein vanmiddag, en hy aard die twee drade wat daaraan gekoppel is toe teen die bakwerk. Daarna werk al die ligte toe weer soos dit moet. 
 

Dit kan dus wees dat die swak kontak die probleem was, en dat die ligte se nonsies begin het toe ek gister aan die plaatjie getorring het. Die ligstaaf bly dus in die motorhuis en daar word nie verder gelol aan die ligte nie. Ek gaan net wanneer ek tyd het deur die enjinruim gaan, en seker maak alles is mooi vas. 

0
Worcester

Wildehont

Thu, 23/11/2023 - 06:17

Na aanleiding van die besprekings hier en elders op die forum oor body control units en ander tegnologiese foefies in voertuie die volgende:

Afgesien van die Prado se groter rygenot (nie net gerief nie - dit versnel ook vinniger sonder ‘n wa op sleeptou. Dalk met een ook - ek moet nog die Ranger toets), is dit vyf jaar ouer as die Ranger. Eintlik is dit meer as vyf jaar ouer, want die 120 reeks kom al langer aan, terwyl die Ranger T6 reeks maar van 2012 af aankom. 
 

Hoekom is dit ‘n goeie ding in my oë? Dis meer eenvoudig, met minder tierlantyntjies wat onklaar kan raak of deurmekaar kan raak. Alhoewel ek nie een van die twee soseer as ‘n veldry voertuig gaan inspan nie, was die Prado bv al Polentswa toe. Dis vrek ver van Upington af, waar die naaste agente van bekende handelsmerke is. As iets bv met die Ranger se body control unit moet foutgaan daar, sit ek met my vinger waar ek dit nie wil hê nie. 
 

Daar kan sekerlik tegnologiese foute insluip op die Prado ook, maar dis ‘n model uit ‘n reeks wat homself al oor en oor bewys het as betroubaar. In dieselfde asem moet ek noem dat my goeie vriend wat in Pretoria vir my na die Ranger gaan kyk het voor ek dit gekoop het, se 2005 Prado in Sentraal Kalahari gaan staan het vroeër vanjaar. Na ‘n gestoei deur bos mechanics kon hy teen 90 km/h terug kruie Pretoria toe. Hulle het gedink dis die petrol pomp. Op die ou end was dit ‘n foutiewe lugvloei sensor. So het alle hedendaagse voertuie allerhande elektronika in wat kan faal, al bly dit droog. 

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 23/11/2023 - 06:41

Môre Chris, ek is tegnologies en sensor onkundig as dit by voertuie kom. Ek aanvaar dat alles werk soos dit moet, peuter aan niks aan my voertuie nie, en ry in goeie geloof dat alles sal aanhou werk.

Jou verhaal van die vriend en sy Prado sensor probleem, onderstreep net weer die feit----moenie sonder goeie vriende die vêr en afgeleë terreine gaan verken nie. Wel, persone soos ek moet dit nie waag nie.

Sommer 'n lawwe vergelyk; waar is dit die veiligste om gestrand te raak? In die middel van sentraal Kalahari of langs sekere dele van ons snelweë soos

N2 -Kaapstad lughawe na Strand  

N3 naby Heidelberg

N1 Maraisburg afrit tot by Parys afrit

om 'n paar plekke te noem

0
Oudtshoorn

neef Herman

Thu, 23/11/2023 - 06:58

Wat my bekommer is dat soos hierbo genoem elektronika al n hele ruk aankom, Nou raak dit progresief meer ingewikkeld. Vervaardigers "waarborg" dat daar onderdele vir jou voertuig vir 10 jaar beskikbaar sal wees. Nou wonder ek of dit raadsaam is om n model  aan te hou na die 10 jaar periode?

As mens loer wat se "winskopies" daar is met die High End voertuie van net so oor die 10 jaar oud, dan is dit dalk deels die rede. Laat mens wonder.

0
Worcester

Wildehont

Thu, 23/11/2023 - 08:07

Dis mos die Afrikaanse naam vir software. Ek sit met ‘n stokou iPhone 8, en Apple het opgehou om dit te ondersteun. Dit beteken ek kan nie meer bedryfstelsel opgraderings aflaai nie. Dit beïnvloed die werksverrigting van die toestel. As ek lank genoeg wag sal die foon seker heeltemal ophou werk. 
 

Ek wonder hoe lank dit gaan wees voor voertuie nes slimfone programmatuur opgraderings gaan benodig van tyd tot tyd om aan te hou werk. Dalk is dit reeds so. Alles van lug/brandstof mengsel tot hoe en wanneer ‘n outo ratkas ratte verwissel word deur programmatuur op die voertuig se blikbrein beheer. Beskikbaarheid van onderdele gaan dus nie die enigste kwelling raak nie. 
 

My 2011 Everest het op ‘n tyd gesukkel om oor te skakel na 4x4. Volgens ‘n Ford forum in Australië was die oorsaak meganies. Ek en Pierre Nolte het alles probeer wat hulle voorgestel het, maar die probleem het nie weggegaan nie. Pierre gee nie maklik moed op nie. Op die ou end het hy ‘n programmatuur opgradering gekoop en in die Everest gelaai. Toe werk alles weer soos dit moet.

Terug na Oom Neef se kommer. Ford en Toyota verkoop so vrek baie bakkies in SA, en die goed hou lank aan met ry. Dis nie ongewoon om 500000km uit ‘n enjin te kry nie. Boonop is die tweedehandse mark reusagtig omdat nuwe rygoed so duur is. Ek twyfel darem of vervaardigera sommer net na 10 jaar ondersteuning sal staak vir ‘n produk. Dis nou wat produkte soos Ranger en Hilux betref wat plaaslik vervaardig word. Vir ingevoerde goed is daar seker minder gemoedsrus. 

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus