Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Lig my laphoedjie.... 2025 Wonderland 45 Wessel Strydom -4 hours ago
wapen lisensie My nuwe voertuig Wessel Strydom -4 hours ago
Pragtige fotos 2025 Wonderland 45 Geert -4 hours ago
Dapper pa! 2025 Wonderland 45 Rona du Plessis -4 hours ago
Goeie Hout Nog lekker hoender resepte Rona du Plessis -5 hours ago
Raai wat's vir aandete vanaand. Nog lekker hoender resepte Goeie Hout -5 hours ago

Len in die Kruger Wildtuin in Augustus 2026

Brackenfell, Weskaap
Submitted by Len Loader on
Forums

Ek weet dis nog 6 maande voor Augustus, maar ek weet ook Kampforum-vrinne hou daarvan om deel te wees van 'n ou se beplanning op 'n lekker wegbreek. Gegewe dat my omstandighede tot gevolg het dat ek nie meer kan karavaankamp nie, het ek gewonder met wie gaan ek nou my opgewondenheid deel oor 'n nie-kamp Wildtuin-vakansie ?  Gelukkig het ChrisB vir my gewys dat die Kampforum-vrinne netso lekker saamgesels al is daar nie 'n karavaan ter sprake nie.

Nouja, hier begin my storie : Vandat my karavaan verkoop is, kyk ek daagliks die TV-program WildEarth wat 24-uur daagliks vir jou in-tyds opreis neem met 'n toergids by verskeie wildtuine in SA en omliggende lande, maar veral by SabiSands en ander kleiner wildtuine. Hierdie program het my lus vir die Kruger Wildtuin aangevuur om plan te maak om so gou moontlik weer daar te kom. Dis nogal 'n helse aanpassing om nie 'n kampeer-bespreking te doen nie, maar wel 'n vaste-akkommodasie bespreking, maar ek is daardeur en dis gedoen.

My kinders deel my opgewondenheid, maar was uiter bekommerd dat hulle 79-jarige pa alleen die tog van 2000km van die Kaap af en nog 2000km weer terug aanpak.  Hulle wou gehad het ek moet eerder vlieg en 'n kar huur.  Ek is egter allergies vir vliegtuie (het oorgenoeg daarvan in my werker-dae gehad) en dit sal 'n gelol wees om my getroue Nissan Pathfinder tuis te laat. Dus :-

Ek en my broer (hy is 81) is ons ouers se enigste kinders en ons het geen ander oorlewende familie nie, behalwe ons eie kinders. My broer en skoonsuster woon die afgelope 29 jaar in Oostenryk waar hy verbonde was aan die Universiteit van Wenen voor sy aftrede.  Hy was ook vir jare lank 'n ere-veldwagter in die Kruger Wildtuin en is netso lief vir dié plek soos ek. Maar ek en hy was  laas saam met my ouers  in die Wildtuin toe ons nog skoolkinders was. Ek kom toe op die blink gedagte af om hom en my skoonsuster te nooi om saam met my aan te sluit in die Wildtuin dan kuier ons sommer in die wildtuin saam. Die uitnodiging is onmiddellik aanvaar.  Nou vir my kinders se beswaar dat ek alleen van die Kaap af Wildtuin toe ry : My broer se ongetroude dogter is 'n lektor aan die Universiteit van Bournemouth in Engeland en sy wil graag saam ! Toevallig werk haar universiteit en die Universiteit van Kaapstad saam aan een of ander projek en daarvoor moet sy Kaap toe kom.  Sy gaan dus Kaap toe vlieg vir die projek en dan ry sy saam met my tot in Pretoia, natuurlik met my Pathfinder ! Haar ouers vlieg dan van Oostenryk af Pretoria toe en alvier van ons ry saam in die Pathfinder Wildtuin toe.

Ons het drie hutte in Berg-en-dal en drie hutte in Letaba bespreek, 5 dae in elke kamp, vanaf 6 Augustus tot 16 Augustus 2026. Dis nogal wyd om die 240km te ry vanaf Berg-en-dal tot by Letaba, maar teen 30kpu (ChrisB se spoed) behoort dit 8ure te duur terwyl ons 12ure beskikbare het vanaf 06:00 t0t 18:00

Nouja, dis die plan tot dusver. Ek vertel later verder as ek julle nie vereel het nie.

 

Brits

Wessel Strydom

Wed, 14/01/2026 - 05:04

...as jy jou oge uitvryf, is jy in die pad willetuin toe.

Ek kan net dink hoe jy jou vooraf beplanning en reis soheentoe moet herbeplan van die destydse woonwa- reelings af. 

Gaan die lektor-dogter weer saam met jou terugry Kaap toe ook. ??

Jy moet egter onthou dat jy liefs teen 50km/hr moet beweeg tussen B&D en Letaba om tyd te wen vir eet by Tshokwane en vinnige stoppe by leeu se kind.

Wat 'n belewenis wag op julle!!!! Bederf jouself jou rowwe ou omie!!! 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 14/01/2026 - 07:52

... waar val jy nou uit met 50 kpu in die wildtuin surprise

Ja, dit is nogal 'n stywe ent tussen B&D en Letaba. Ons het eenkeer van B&D af Olifants toe "verhuis". Dit is ver, maar doenbaar.

Mooi Len! 'n Mens is aanpasbaar. Ek glo ons gaan almal lekker saamkuier.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 14/01/2026 - 09:50

Wessel : Vir die terugrit ry ons alvier saam tot in Pretoria en Reina-Marie klim by OR Tambo op die vliegtuig terug Engeland toe.  My broer en sy vrou ry saam met my tot in die Kaap voor hulle terugvlieg Oostenryk toe.  Volgens hom sal dit seker sy laaste geleentheid wees om van bo in die noorde van SA padlangs deur al die dorpe tot onder in die suide te ry.

Neef Herman : Nee Herman, ek sien al lankal nie meer kans daarvoor nie.  Ek sal maar soos die laaste klompie jare die rit afbreek in seksies van 500km per dag. Maar dalk rek ek die ritte 'n bietjie, ek het mos 'n "co-driver" wat saamry.

0
Pretoria

Geert

Wed, 14/01/2026 - 21:13

Dit klink na n heerlike vooruitsig oom Len. Hoekom het oom in Letaba bespreek....gedink Satara is hoog op in oom se gunsteling lys? 

Geniet die voorbereidings

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Thu, 15/01/2026 - 08:34

Geert, dit kry 'n ou nou maar as jy laat slaap. Trudie, die bekende Sanparke bespreking-spesialis hier in die Kaap, kon vir ons gekose dae net in Berg-en-dal en Letaba drie hutte langs mekaar kry.  Ek en my broer hou albei baie van hierdie twee kampe en ons is tevrede daarmee. Dit maak  die terugkeer via Phalaborwa ook makliker.

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 15/01/2026 - 09:06

....bepaal ook in groot mate my besprekings.

Begin en eind-kampe verkieslik naby die hekke, Malelane, Krokodilbrug en P.Borwa.

Onthou 'n forumlid het 'n lieflike gastehuis naby Colesberg. Kyk onder insette van Dirkvh.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 16/01/2026 - 15:50

Colesberg : dankie vir die herinnering Wessel  -  ek maak dadelik 'n aantekening daarvan.

Vloede : Die vloede is erg, veral in Letaba waar ons hoop om in Augustus in drie van hulle hutte tuis te gaan. (Ek wonder of 'n hut en 'n rondawel dieselfde ding is ?).

Ek hoop maar teen die tyd oor ses maande wat ons daar gaan kom is die ergste skade herstel en is die vaste akkommodasie  weer leefbaar gemaak .  Ek glo ook die plantegroei sal dan, selfs na die winter, nog pragtig groen wees na die uitermate baie water.  Van die destydse vloede in Februarie 2000, onthou ek toe ons in Mei van dieselde jaar daar was, was die geweldige opdrifsels van bome, takke en ander items oral in riviere, veral by brûe nog duidelik sigbaar.

In my kampeerdae het ek altyd gesê dat wanneer ek eendag verplig is om in vaste akkommodasie te bly, sal ek graag in Januarie/Februarie die vloede van die riviere wil beleef. Na al die fotos, videos en berigte die afgelope week, sal ek maar eerder hiervan afsien want dit kan 'n verskrikkende ervaring wees.

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 16/01/2026 - 15:58

Len, ek wil liewer ook nie daar wees as dit soos tans, gaan nie. 

Ek en Marie gesels nounet hieroor, moet mens vooraf bel en uitvind oor paaie en verblyf, OF gaan opruiming en beskikbaarheid op Sanparke se webblad gegee word. 

 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 16/01/2026 - 17:13

Na aanleiding van Len se vraag. Sanparks verwys na 'n hut as 'n eenheid wat gemeenskaplike ablusies en kombuise gebruik (en gewoonlik nie oor "utensils" beskik nie). Rondawels en chalets beskik oor hul eie ablusies en meestal oor hul eie kombuisies (nie noodwendig nie) en eetgerei.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 16/01/2026 - 20:33

............Ek sien op my bespreking sê SANparke "Bungalow, Fridge, Hotplate, Sink Utensils WC/shower, and Aircon" .  Ek het maar net gewonder wat is die Afrikaans vir "bungalow".

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 17/01/2026 - 07:12

Volgens my ou 2 talige woordeboek is 'n

bungalow = huthuis, buitehuis of selfs strandhuis

rondawel= rondavel, round hut, cottage 

Dus is die verklaring soos wat Chris B van Sanparke se woordkeuse gee, die mees korrekte, in praktyk. Die vorm van die wooneenheid is NIE ter sake nie, die klem val op die toerusting/geriewe daarin. 

0
Pretoria

Geert

Sat, 17/01/2026 - 08:15

Ons het al 5 keer in die 3/4 bed hutte by Lower Sabie en ook eenkeer by Pretoriuskop gebly. Snaaks dat hulle steeds op hul website adverteer dat daar nie eetgerei is nie. Al 5 geleenthede wat ons daar was, was daar volledige eetgerei  gewees....borde, bekers, glase, messe, vurke, lepels en selfs eierspane, kurk trekker en nice braai tange. Binne in eenheid is dan nog n wasbak en yskas. Badkamers word gedeel en gemeenskaplike kombuis soos in kampeer areas....baie gesellig. Ons het dit vreeslik geniet.....was vir ons lekkerder as die chalets waar elkeen net privaat op sy eie is. Saans was dit vreeslik gesellig met al die toeriste wat saam vuur maak, kos maak en elke aand was jy verseker van n gesellige kuier saam.....veral by Lower Sabie by daai U-vormige gebou langs swembad, daar heers elke aand n fantastiese atmosfeer

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 17/01/2026 - 08:25

....as ek so baie van jou insette lees, soos ook die ene hierbo, som ek jou op as 'n kuddedier, om Herman se beskrywing te gebruik. Dus, 'n ekstrovert wat hou van gesels en vriende maak, en 'n ekstra myl te stap.wink.  

0
Kaap

Goeie Hout

Mon, 19/01/2026 - 17:58

Die trippie moet julle geniet.

Ek sien self uit na my toerkie 2027.

Mooi bly.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 20/02/2026 - 19:42

Ek het 'n maand gelede my lot hier bekla oor die vloede wat Letaba getref het en moontlik ons  besoek oor 6 maande in middel Augustus gaan beduiwel.  Intussen het dit duidelik geword dat die skade in Letaba-kamp self aansienliker is, maar tog reken SANParke se woordvoerders oor TV en radio  dat die herstelwerk by Letaba teen einde Julie voltooi behoort te wees.

Ons moet dus maar duim vashou en as dit nie gaan realiseer nie, vertrou ek SANParke sal ons elders kan help want my gaste se oorseese vliegkaartjies is reeds bespreek en betaal.

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 20/02/2026 - 19:51

....of ander kampe in Suide.

Naand mater, nou waarom bly jy so lank afwesig. ?? Ek wou al 'n soekpatrollie uitstuur. Daar is forumlede onheilspellend naby aan jou.

Die vraag is, hoe lank moet mens wag, voordat mens blyplek elders probeer bekom.??? Einde Julie, geskatte datum, is net te naby aan middel Augustus  vir gemoedsrus.  

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Fri, 20/02/2026 - 21:28

Miskien was dit ten tyde van jou bespreking die enigste kamp met 3 hutte na aan mekaar. Moontlik wil julle graag in Letaba wees. Hoe ookal, dit lyk asof die spanne roer met die opruiming. Ek sou nie te bekommerd wees nie. Julle gaan die eerstes wees om in silwerskoon hutte te bly met nuwe beddens en spierwit lakenslaugh

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 21/02/2026 - 17:25

nou waarom bly jy so lank afwesig. ??

Wessel, op my ouderdom is die diens-intervalle soos in Toyota se geval, op baie korter tye as die res van die motorindustrie.  Ek was in die hospitaal en is darem eergistermiddag ontslaan. So 'n week of wat gelede het ek gedink om tydens 'n kuier by vriende in Somerset-Wes flou te val en het eers na drie ure behoorlik bygekom.  My kinders het my daar kom haal en Cape Gate hospitaal toe gebring waar my dokters my lang mediese geskiedenis ken. Die oorsaak van die skielike floute was disfunksionerende niere as gevolg van  te min vog in my liggaam wat veroorsaak is deur 'n afwesige dikderm, vog verloor te vinnig en te veel. Dan is daar 'n hartklep wat lek, maar op die stadium nie te erg nie en ook 'n versteuring in my hartritme, maar ook nie te erg nie.  Ek het hoë bloeddruk al vir jare, maar deesdae val my bloeddruk sommer skielik baie laag en my internis kon dit nog nie verklaar nie.

We Buy Cars stel nie belang nie, glo teveel foute !

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 21/02/2026 - 20:10

...goed om die humor steeds waar te neem. 

Bly om te hoor dat jy OK is. Wel, dan moet jy seker maar net baie water drink, sonder die C- OH groepe [alkohol] vir die chemies gestremdes.

Skryf ek nou wenke voor, ekke met die skielike "gout" aanval en glas rooiwyn in die hand.

Ek sal ok maar op sypaadjie gaan staan ----Te koop voetstoots

Sterkte   

 

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus