Dankie Oom Arie vir hierdie mooi prentjie van Mana Pools wat jy vir ons skilder met woorde!
Om meer uit te vind van oom Arie en sy vrou Petra se permanent kamp, lees hier: Oom Arie en tannie Petra se Permanent Kamp
|
Moet maar met die intrap omverskoning vra, ek het geen fotos om te plaas nie, fotos is saam met van ons ander goed gestoor en kan nie nou bereik word nie. Alhoewel ons die permanent kamp ding vreeslik geniet, mis ons die plekke waar ons nie met die karavaan kan kom vreeslik baie. Sit Petra en ek vroeer oor ‘n koppie koffie en gesels oor van ons vroeer kampe. Beide stem saam dat Mana Pools beslis heel bo aan ons lys van top bestemings is, ons glo dat dit die Paradys is waarna in die groot, swart reel boek gepraat word. Serengeti word vreeslik opgehemel, maar in my opinie is Mana net so, indien nie mooier nie. Ongelukig het Mana [en Serengeti] ons heeltemaal bederf en was ons nog net een of twee keer in die Kruger gewees. Dit is hopeloos te komersieel vir ons, Marakela gaan ons nog na toe, die is darem nie so gekomersiliseer [is daar so word?] nie. Raak uiters gefrusteerd as mens op die teerpaaie in ‘n verkeersknoop belande kom omdat almal stop om iets te kyk, daar sal hulle dan vasstaan en niemand anders kry kans om iets te sien nie. Vir die wat nog nie by Mana was nie, of nie weet van die plek nie; dit le op die Zambesie rivier, so tussen Kariba dam en Cahorra Bassa in Mosambiek, oorkant die Zambesie is dan natuurlik Zambia. Daar is ‘n klompie konsesie kampe in Mana, maar die is baie luuks en vrek duur, gerig op die oorseese besoekers. Daar is basies net een kamp wat aan Zim wildbewaring behoort, en in die kamp is daar behalwe ‘n ablusie absoluut niks, nie eers ‘n kantoor nie, die is by die hoofhek, so 20 kilos weg. Daar is geen krag, geen warm water [nie eers ‘n donkie nie] en die heel beste GEEN heinings, wild loop deur die kamp, en uiteraard mag jy enige plek in die reservaat uit jou voertuig klim en rondloop. Versigtig waar jy jou tent opsit, maak seker dat jy nie op ‘n seekoei paadjie staan nie, hulle kom snags uit om te wei, en draai glad nie uit vir ‘n tent wat op hul voet pad staan nie, loop sommer bo-oor die tent. Versigtig ook maar om te naby aan die water te kamp, die plek is vervuil van die krokodille en hulle mag dalk lastig raak hier in jou kamp!. Maak ook seker jy het genoeg eet en drinkgoed, naaste plek om te koop is by Kariba, so 4 ure se ry van die kamp af! Boswaentjies word ook sommer maklik omgekeer om te kyk of hulle daai lemoene van onder af kan bykom. Smeer jou cooler boks met vleis in met diesel buite om, anders dra die hyhienas [spelling??] dit weg, moet ook nie dink daai cooler wat laasmaand vleis ingehad het, gewas is en nou vol bier is veilig, hulle ruik nog steeds daai vleis en gaan loop met jou bier. Daai blikemmers het een nag my cooler, daai harde plastiek sort met ‘n handvatsel wat die deksel toehou, met 3 dosyn bier in weggedra. Gelukig is hulle eintlik maar vrek bang diere, as jy regop staan jou arms in die lug hou sodat jy groot lyk, en dan op hulle skreeu, hol hulle weg. Ek kon hulle darem verjaag en my bier red. Ja dit is seker gevaarlik, olifante stap gereeld deur die kamp, soms sommer so 15 tree van waar julle sit voor die tent, maar as mens kophou nie beweeg en stil bly loop hulle aan, seekoeie moet mens maar soos bo genoem mooi kyk waar jy kamp dan los hulle jou ook. Ons het al gehad dat leeus so 30 meter agter ons tent verby stap, kyk dan beweeg jy glad nie, al wil jy ook jy is lam geskrik, kan eers so uur na hulle weg is opstaan en ‘n droee broek gaan aantrek! Ek weet van slegs drie probleme oor die laaste 20 jaar, so 15 jaar terug is ‘n jong dametjie van Benoni deur krokodille dood gebyt. So jaar of twee daarna is ‘n jong man [as ek reg onthou ‘n buitelandse besoeker] uit sy tent uitgehaal deur ‘n leeumannetjie en ge-eet. Die leeu is opgespoor en doodgeskiet, was blykbaar ‘n ou mannetjie wat uit die trop uitgeskop was en byne dood van die honger. Die laaste keer wat ons daar was is ‘n jong dametjie van Beira deur buffels doodgetrap. Jong couple wat daar op hul wittebrood was, oorkant ons gekamp, sy het die nag opgestaan om toilet toe te gaan toe loop sy voor ‘n trop buffels in. Ek glo hier is heelwat ouens wat ook vir Mana ken, ek weet baie van die SA polisie was in die oorlog jare daar, en hulle sal kan bevestig dat dit absoluut paradys is. Tweede op ons lys is Kosi Baai en omgewing, van die mond tot en met Lake Sibaya, sal op ‘n anderdag weer daaroor praat. |
|
Voortrekker voeg by: "Dankie oom Arie, alhoewel hulle se "a picture speaks a thousand words" wil ek se "good words speaks a thousand pictures" |
- 42 views




