Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Maer Leeu? Kgalagadi Oktober 2026 neef Herman -17 minutes ago
Kieterkatte Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -34 minutes ago
Slange Kgalagadi Oktober 2026 Goeie Hout -35 minutes ago
12 Oktober Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -1 hour ago
Betaal vir entertainment Dinokeng Camp and Leisure… Geert -3 hours ago
Geert, Dinokeng Camp and Leisure… Johann L -3 hours ago

One Drive Memories

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Is daar nog forum-gebruikers wat al hulle foto's op Microsoft se One Drive gestoor het? My dogter het my aangemoedig om dit te doen. Sou jou rekenaar se hardeskyf skielik besluit om die gees te gee - en die inhoud kan nie herwin word nie - het jy 'n rugsteun van al jou foto's op One Drive.

Maar wat ek nogal van hou is die feit dat One Drive elke dag (waarop jy foto's geneem het op daardie spesifieke datum) vir jou 'n herinnering stuur van die betrokke dag se foto's. Ekself gaan selde loer op al die lêers waarop my ou foto's is - behalwe wanneer ek dalk 'n spesifieke foto soek. Dan skielik, uit die bloute, kry jy 'n e-pos met die foto's wat jy op die betrokke dag geneem het. En dit bring meestal 'n klomp aangename herinneringe terug.

Vandag het ek o.a. die volgende foto's ontvang wat geneem is op 1 Feb 2019 tydens ons verblyf in Shingwedzi (tydens een van my vele wegbreke wildtuin toe as ek in die noorde moes gaan werk).

Shingwedzi

Dit was ons chalet waar Ralie amper die dikstert skerpioen, aangesien vir een of ander gogga, in die toilet wou optel. Genadiglik het sy my geroep om dit te kom doen - waarna ek toe sien dat sy met 'n lelike kalant "speel".

Die volgende foto het ek op die S56 (Mphongolo Loop) geneem toe dié ou "dagha boy" pas 'n lekker modderbad geneem het.

Shingwedzi

Tussen gister se foto's is ek weer herinner aan die muskeljaatkat wat ons met verlangende oë sit en aanstaar het toe ons die aand van 31 Jan 2019 in Mopani gebraai het.

Mopani

Aag - en so kan ek aangaan met foto's waarvan ek al amper vergeet het. As jy (ook) nog nie jou foto's op One Drive stoor nie, is dit dalk raadsaam om dit ernstig te oorweeg.

Oudtshoorn

neef Herman

Fri, 02/02/2024 - 21:06

Dit was eers floppies en na dit stiffies. Gesien dat my volgorde nie reg is nie, maar gewag dat my ou maat met die skerp geheue sal dit optel.

Ek is in die wolke dat daar stoorplek is daar bo??? Altyd gedink daar is net waterdruppels en stikstof op daai level.

Die mense raak darem nou regtig slim verby. Waar gaan die slimmigheid ophou. Ek meen, eintlik was ons tot onlangs maar redelik dom, as jy dink waneer die wiel uitgedink is. Voor dit praat ek nie eers van nie. Stertrieme gedra en mekaar met klippe gemoker.

0
Vaalpark

Johann L

Fri, 02/02/2024 - 21:22

Destyds toe ek my eerste laptop gekoop het, het ek 'n groter hardeskyf laat in sit, dit was 'n 500 meg skyf, sê die verkoop man vir my ek sal dit nooit vol maak nie. Sjees, dit was nog voor Windows met muise, nou vat een toep meer spasie dit.

0
Worcester

Wildehont

Mon, 05/02/2024 - 11:21

Salomien het ‘n nuwe iPhone gekry, en vir my haar ou iPhone 13Pro gegee. Dit het 512GB se geheue, so ek sal vir ‘n goeie tyd genoeg plek hê vir my foto’s ens. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 05/02/2024 - 11:39

Ek het die volgende herinneringe van One Drive ontvang op 3 Feb. Dit is darem maar mooi in die somermaande as jy langs die Shingwedzirivier stroomaf ry.

Shingwedzi

By die Nyawutsi-skuiling (langs die S50 - net meer as 30 km vanaf Shingwedzi) was ons nog elke keer gelukkig om alleen daar te wees en die absolute rustigheid te beleef. Ek en Ralie spandeer soms lang tye daar - net om die vredigheid in te drink.

Shingwedzi

Shingwedzi

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 05/02/2024 - 11:44

... One Drive Memories het my gister weer daaraan herinner dat ons darem na 'n "katvrye" 9 nagte in die wildtuin gelukkig was om hierdie wittebroodspaartjie langs die H14 te vind kort voordat ons by Phalaborwahek die paradys verlaat het.

Shingwedzi

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 05/02/2024 - 13:24

Blaai maar net verby indien dié onderwerp en my vervelige foto's jou nie aanstaan nie. Maar die rede waarom ek dié gesprekslyn begin het, is omdat ek deur One Drive herinner word aan geleenthede van die verlede, waarvan ek al bykans vergeet het.

Die foto hieronder is vandag, 7 jaar gelede (2017), geneem tussen Okahandja en Karibib - op pad Hentiesbaai toe. Dit was 'n besondere goeie reënjaar in Namibië en oral het die veld behoorlik gepronk.

Henties

En vandag, 18 jaar gelede (2006) was ons vir die eerste en enigste keer by Stormsriviermond - 'n prag-plek. Ons het nie gekamp nie, maar in die Oceannettes gebly. Lekker staptogte in die inheemse woud en besoek aan die bekende hangbrug oor die Stormsriviermonding was o.a. op ons spyskaart.

Hier drink die antie haar oggendkoffie op die balkon van ons Oceannette, met 'n fantastiese uitsig oor die see.

Stormsrivier

Stormsrivier

Stormsrivier

Stormsrivier

Stormsrivier

Dit is eintlik 'n skande dat ons nog nooit daar gaan kamp het nie.

0
Worcester

Wildehont

Mon, 05/02/2024 - 13:43

Sover ek verstaan is die plek se naam nie om dowe neute Stormsriviermond nie. ‘n Kennis het voorverlede Desember daar kampeer, en het gesê die wind het ordentlik gewaai. Dalk as mens in Maart gaan sal dit OK wees.

0
Pretoria

Geert

Wed, 07/02/2024 - 18:02

Blaai maar net verby indien dié onderwerp en my vervelige foto's jou nie aanstaan nie.

Ek hou daarvan om die foto's te volg...al is dit bietjie ouer, bly interesant 

0
Vaalpark

Johann L

Thu, 08/02/2024 - 06:26

Nee wat, laat waai met jou vertellings, meeste geniet dit, wel ek doen en soos jy sien op die tellertjie, baie ander ookyes

256 views

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 08/02/2024 - 11:53

... dat vandag, 7 jaar gelede, het ons nogal 'n goeie dag langs Hentiesbaai se viswaters beleef toe die kabeljoue ons goedgesind was.

Henties

Henties

Henties

Henties

Lekker tye! Kyk hoe verlang ek nou Hentiesbaai toe. Ek wil darem vir my dogter hulle gaan wys hoe lyk Henties en blootstel aan 'n Myl 14 brekfis wanneer ons end-Apr in Swakopmund is. My seun en sy gesin gaan egter wel die eerskomende Apr-skoolvakansie by Henties hengel. Ek hoop hulle vaar goed sodat my visvoorraad ook bietjie aangevul kan word. Mens kan nie net snoek eet nie.

0
Worcester

Wildehont

Thu, 08/02/2024 - 12:51

Lyk of julle man-man 6 visse gevang het. Wat is die kwota daar? Ek weet maar min van visvang, so vergeef my onkunde. Kabeljou sal ek eet, maar snoek eet ons nie gereeld nie. Die wat mens by die vis- en tjips winkels koop kan soms baie olierig wees, en ons is te ver van die see af vir vars snoek. 

0
Oudtshoorn

neef Herman

Thu, 08/02/2024 - 12:51

As ek na die fotos kyk, verlang ek ook vreeslik na Hentiesbaai. Jy sal maak dat die visstokke wat nou bo in die skuur se dak hang afgestof word. En die twee Abassador katrolle wat verseker nog diensbaar is.

Dit is net so vreeslik vêr om te ry.....

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 08/02/2024 - 13:48

Wat is die kwota daar?

10 per spesie per persoon per dag. Die algemene spesies is kabeljou, steenbras, galjoen en kolstert. Laasgenoemde se kwota word saam gereken - m.a.w. jy mag nie meer as 10 van hulle gesamentlik hê nie. Dit is maar selde dat jy deesdae vol-kwota van 'n spesie per dag vang. In my 5 hengeltogte na Henties het ek nog nooit 'n steenbras gevang wat voldoen aan die minimum lengte nie. Soms kry jy 'n kleiner een aan die hoek terwyl jy inderwaarheid vir kabeljou of galjoen hengel. Maar steenbras-vang is 'n "wetenskap" op sy eie. Jy spits jou toe daarop wat die korrekte aas aanbetref, maar ongelukkig is haaie net so lief vir daardie aas (sandkrap en tjokka). My seun het egter al mooi groot steenbrasse gevang (fantastiese eetvis). Hier's 'n foto van hom met 'n lekker groot steenbras tydens een van sy eerste ekskursies Henties toe.

Henties

Wanneer ek vis & tjips koop verkies ek stokvis. My eie snoek op die kole gebraai is lekker, maar ek hou ook nie van vis & tjipswinkels se snoek nie. 

So van snoek gepraat. Toe die snoek nog hier by Kleinmond "geloop" het, het dit by geleentheid so op my karavaan-inrit gelyk.

snoek

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 09/02/2024 - 05:54

....is omtrent groot. Ek dog die kabeljou wat jy vashou Chris is groot, maar nie besef dat 'n Steenbras so 'n groot vis is nie.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 09/02/2024 - 10:13

Ek het vanoggend o.a. die volgende "memories" vanaf One Drive ontvang.

'n Mens raak maar moeg teen die Namibiese viswaters. 'n Tipiese dag lyk min of meer as volg:

Ons staan so by 04:00 op en pak al ons toerusting en kos vir die dag in om teen ongeveer 05:00 te vertrek. Die meeste van die dae ry ons sowat 100 km noord op die soutpad en draai dan eers see toe. Ons gewone beginpunt is 'n area bekend as Angolaklip waarvandaan ons stelselmatig strandlangs suid beweeg terwyl elke moontlike opsie ge-"scan" word. Gooi-gooi beweeg ons al verder suid. Ons is gewoonlik nie later as 17:30 terug in Henties nie. Dan word die bakkie by die Skubbebar op 'n "ramp" getrek en deeglik skoon gespuit om die sout van die soutpad en die seesproei sover moontlik af te spuit. Die dag se vangs word ook daar skoongemaak terwyl ons die kele 'n lafenis ontvang. Dan gou vinnig vars voorrade soos brood ens by die plaaslike Spar gaan koop. Terug by die huis word die vis weggepak in vrieskaste, die hengeltoerusting word skoongemaak en gebêre voordat daar begin word met die aandkos en die volgende dag se padkos. Meestal word daar saans gebraai en ons eet maar laterig.  Jy's gelukkig as jy voor 23:00 in die bed kom. Twee weke se hengel by Henties is dus hard op die lyf - maar lekker. Maar soms vang die moegheid jou en moet jy noodwendig daar langs die water 'n uiltjie knip. Ons een ou gereelde hengelmaat, Jaco van der Merwe ('n byeboer van Grabouw) het gewoonlik geen probleme om op enige plek gou 'n "power nap" in te pas nie - selfs al moet die bakkie se wiel as jou kussing dien.

Henties

En wat is dan lekkerder as 'n vars kabeljoutjie wat daar op die strand vir middagete gebraai word.

Henties

Ek het ook vanoggend 'n paar herinneringe ontvang van 9 Feb 2008 toe ons saam met ons ver kinders, wat toe in Suid-Afrika gekuier het, op pad Sun City en wildtuin toe was. Ons het o.a. by Kambro oorgebly. Watter uitstekende oorblyplek.

Kambro

Ons het met Ralie se destydse Avanza gery, want die kinders het na afloop van die paar dae in die wildtuin nog kuier-kuier teruggery Kaaptoe terwyl ek en Ralie vanaf Kruger-Mpumalanga lughawe teruggevlieg het.

Alhoewel ons nog nooit self by Kambro met die karavaan oorgestaan het nie, beskik hulle oor 'n paar netjiese kampeerplekkies.

Kambro

En Kambro se padstal is natuurlik bekend vir die uitsonderlike blommetjies wat daar groei en waarvan jy selfs die saad in die padstal te koop kan kry.

Kambro

Kambro

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 09/02/2024 - 12:13

het ook mooi gevat.  Laasjaar Augustus daar gekoop, en dit staan seker al so 1.5m hoog. Baie ekonomies, nie baie water nodig nie. laughlaugh

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus