Is daar nog forum-gebruikers wat al hulle foto's op Microsoft se One Drive gestoor het? My dogter het my aangemoedig om dit te doen. Sou jou rekenaar se hardeskyf skielik besluit om die gees te gee - en die inhoud kan nie herwin word nie - het jy 'n rugsteun van al jou foto's op One Drive.
Maar wat ek nogal van hou is die feit dat One Drive elke dag (waarop jy foto's geneem het op daardie spesifieke datum) vir jou 'n herinnering stuur van die betrokke dag se foto's. Ekself gaan selde loer op al die lêers waarop my ou foto's is - behalwe wanneer ek dalk 'n spesifieke foto soek. Dan skielik, uit die bloute, kry jy 'n e-pos met die foto's wat jy op die betrokke dag geneem het. En dit bring meestal 'n klomp aangename herinneringe terug.
Vandag het ek o.a. die volgende foto's ontvang wat geneem is op 1 Feb 2019 tydens ons verblyf in Shingwedzi (tydens een van my vele wegbreke wildtuin toe as ek in die noorde moes gaan werk).

Dit was ons chalet waar Ralie amper die dikstert skerpioen, aangesien vir een of ander gogga, in die toilet wou optel. Genadiglik het sy my geroep om dit te kom doen - waarna ek toe sien dat sy met 'n lelike kalant "speel".
Die volgende foto het ek op die S56 (Mphongolo Loop) geneem toe dié ou "dagha boy" pas 'n lekker modderbad geneem het.

Tussen gister se foto's is ek weer herinner aan die muskeljaatkat wat ons met verlangende oë sit en aanstaar het toe ons die aand van 31 Jan 2019 in Mopani gebraai het.

Aag - en so kan ek aangaan met foto's waarvan ek al amper vergeet het. As jy (ook) nog nie jou foto's op One Drive stoor nie, is dit dalk raadsaam om dit ernstig te oorweeg.
Len ...
... ek stem heeltemal saam dat Kambro te ver is vir 'n enkele skof vanuit die Boland, asook te naby aan bv Karoo Nas Park vir ' n tweede aand se oorbly. Daarom dat ons nog nooit daar oorgebly het met die karavaan nie. Wanneer ek die N12 noorde toe neem (wat maar min gebeur) is my tweede oorslaapplek eerder Riverside by Richie - net a.g.v. afstande wat vir my gemaklik is.
Die spesifieke keer wat ons (soos hierbo genoem) in een van hulle chalets oorgebly het, het ons ter wille van my kleindogter, wat toe maar twee en 'n half jaar oud was, kort skofte gery. Ons eerste skof was tot 'n gasteplaas by Leeu-Gamka, toe tot by Kambro en 'derde aand in Bloemhof by 'n baie oulike plek alvorens ons die laaste skof tot Sun City aangepak het. Destyds het ons flexi-tyddeel by Sun City se Vacation Club gehad wat net vir 8 jaar geldig was.
Ons slaap elke Junie daar oor
Maar wel in ‘n huisie. Ek hou nie van koud kry nie. Dis Vir ons heel haalbaar van Worcester af, en die volgende dag ry ons tot in Potchefstroom.
Herinneringe van 10 Feb
Ek plaas gou 'n One Drive herinnering of twee (van gister se datum) hier. Ek het nie gister daarby gekom nie, want ek was heeldag op die jukskeibaan waar ek opgetree het as tydhouer vir 'n interklub-toernooi. Ek is nog nie goed genoeg om in sulke toernooie te speel nie.
Nietemin - ek het genoem van die oorslaapplek in Bloemhof. As ek reg onthou was die naam Weltevrede (dit was 17 jaar gelede - die ou kop onthou nie meer so lekker nie). Wat ek wel onthou is dat dit 'n pragtige ou kliphuis uit 'n vorige era was. 'n Mens verbaas jou oor die "klein juweeltjies" wat jy soms op onverwagte plekke ontdek.
Geniet regtig die van jou…
Geniet regtig die van jou Chris. Sal nie altyd iets kan byvoeg nie, maar kyk beslis.
Vandag ...
... word ek weer herinner aan die lekker tye wat ons by Sun City se Vacation Club deurgebring het. Soos boontoe genoem, het ons flexi-tyddeel ('n mid-week) slegs vir 8 jaar gehad. Onderstaande foto's was tydens ons Feb 2008 besoek.
Ons het dit destyds vir 'n absolute winskopie gekry - as ek reg onthou het dit R4 200 gekos plus die jaarlikse heffing wat ongeveer R1 000 per jaar gekos het. M.a.w. gemiddeld sowat R1 525 per jaar vir 'n 6-bed eenheid - of dan R305 per nag. As ek reg onthou was dit vanaf 2003 tot 2010. Ek en Ralie het dit nie elke jaar self gebruik nie. My seun-hulle het dit twee keer benut en ons het dit een jaar uitgeruil vir die Fish River Sun (wat 'n fout was).
Ons is geensins dobbelaars nie. M.a.w. dobbel is nie vir ons 'n aantrekkingskrag gewees nie. Maar die mooi van Sun City met sy pragtige tuine, mooi gholfbane (alhoewel ek nie 'n gholfer is nie, maar graag daar gaan stap), die netjies-versorgde swemareas en 'n verskeidenheid van restaurante terwyl jy die Pilanesberg wildtuin op jou spreekwoordelike voorstoep het - dit was altyd vir ons 'n belewenis.
Die Lost City se gholfbaan was een van my gereelde stapplekke.
Die Vacation Club se swembad waar ons ure spandeer het - soos ryk mense met 'n G&T in die hand.
Of Valley of Waves se branderbad - hieronder my dogter en kleindogter. My kleindogter (reeds 17) het nou nog 'n hunkering na Sun City - elke keer as hulle in Suid-Afrika kom kuier. Sy't hoeka verneem of daar dan geen moontlikheid is dat ons tydens hulle eerskomende besoek (Maart - Mei) daar kan uitkom nie. Maar 'n wildtuinkuier en 'n Namibië-trippie los vir oupa platsak.
Gister se herinneringe
A.g.v. van jukskei en rolbal (op een dag) - ja, ek's 'n besige man - kom ek nou-eers uit by gister se herinneringe danksy One Drive.
Ons het twee jaar gelede as 2 pa's en seuns op my laaste besoek aan Hentiesbaai vertrek. Terloops, ons beplan om dieselfde groepie weer in Maart 2025 na hierdie hengelmekka te gaan vir 2 weke.
Ons het die eerste dag vanaf Grabouw tot Grünau gery waar ons 'n lekker vleisie gebraai het.

Namibië was pragtig groen na goeie reëns. Die volgende foto is tussen Grünau en Keetmanshoop (sommer in die ry) geneem.

Ons volgende bestemming was Arebbusch Lodge in Windhoek. Watter uitstekende plek!

Die gees tussen die 4 van ons was van begin tot end een groot lekkerte - vandaar die besluit dat ons volgende jaar weer wil gaan. Daar is vooraf besluit dat die person wat die voorafgaande dag 'n bloutjie loop met visvang (m.a.w. niks vang nie) 'n spesifieke baaikostuum moes aantrek. By Arebbusch het ons sommer gekyk of dié kostuum vir Wouter sou pas.

En daardie aand het ons 'n lekker stukkie rump steak saam met pap & sheba geniet.

Maar ek is ook gister herinner aan 'n werkstrippie (op pad Bethlehem toe) wat drie jaar gelede onderneem is. Ons het by een van ons gereelde koffie-stoppe op die N1 stilgehou noord van Richmond, naamlik die Karoo Plaastal. As jy ooit daarlangs ry, moenie huiwer om hier te stop nie.

Maar nog is dit einde niet. 7 jaar gelede was ons ook op hierdie datum in Hentiesbaai waar ons onsself op dié betrokke dag in 'n skool GROOT kabeljoue vasgeloop het. Ek het maar gestaan en kyk, want die ouballie kan nie meer so ver ingooi - daar waar die kabeljoue geswem het - nie. Jy word beperk tot twee visse van langer as 70 cm per persoon en ons vier manne was dus beperk tot 'n totaal van 8 van die groot menere. Ons was dus vroegoggend klaar gehengel.


Hier staan en 'brag' ons by die Skubbebar met ons oggend se vangs. Ek pronk ook met 2 visse, maar het nie een daarvan gevang nie.

Valentynsdag
Hierdie oukêrel het nog nooit daarop aanspraak gemaak dat hy enigsins 'n romantiese mens is nie. Ek waardeer die liefie van die afgelope meer as 50 jaar in my lewe, maar nie een van ons twee het nog ooit die geringste moeite gedoen om Valentynsdag, en ander mensgemaakte
dae soos Moedersdag/Vadersdag en wat daar ookal is, te vier nie. Gevolglik was ek twee jaar gelede saam met my seun, 'n skoolvriend van hom en dié se pa, eerder op pad Hentiesbaai toe. One Drive herinner my toe net-nou van ons lekker eerste koue Hansa Draught wat ons by Windpomp 14 (eens bekend as Myl 14) geniet het.

Maar drie jaar gelede het ek darem my liefie aan my sy gehad toe ons hierdie uitsig kon beskou van die Gariepdam wat oorloop. Ons is die oggend op Colesberg weg en het besluit om die stukkie ompad te ry nadat dit oor die nuus was dat die dam oorloop.


Agt jaar gelede was ons tweetjies darem ook saam, maar ek wonder of ons vir een oomblik daaraan gedink het dat dit Valentynsdag was. Dit was vir 'n paar dae se uitspan by ATKV Hartenbos. As ek reg onthou was dit die eerste keer dat ek ons forumvriend, Len Loader, ontmoet het. Daarna het ons mekaar dieselfde jaar in Junie raakgekamp in Punda Maria en Shingwedzi.


Hoe smaak so knewel?
Is daar ‘n verskil in smaak tussen ‘n werklike groot vis van ‘n sekere soort teenoor ‘n kleiner een van dieselfde spesie?
Ek het grootgeword met die…
Ek het grootgeword met die idee dat 'n groot vis vir niks anders goed is as kerrievis nie. Bog!! 'n Groot vis se vleis is sogenaamd droog en proe nie so lekker soos 'n jonger vis s'n nie. Bog!!
Gevolglik het ons aanvanklik van die groter steenbrasse en kabeljoue eers net kerrievis gemaak. Natuurlik ook 'n lekkerny. Totdat ek eendag besluit het ek gaan iets anders met 'n groot steenbras doen. En sedertdien maak ek gereeld so.
Ek fillet die vis en ontgraat elke fillet. Dan verwyder ek die vel en sny dit in mootjies. Soos met enige vis wat jy bak moet dit net-net gaar wees wanneer jy dit opdien. Smaaklike skoon vleis sonder vel en grate.
'n Jonger vis, veral kabeljou tot en met 70 cm, is 'n uitstekende braaivis. Toegegee, jou groter visse braai is nie bedoel vir braai op die kole nie. Gevolglik word jonger visse oor die algemeen gebraai en groter visse se mootjies word vakuumverpak vir maande se opberging.
Maar daardie "maande" is nou verby in die Boucher-huishouding en dit is hoogtyd dat ek weer 'n slag in Hentiesbaai kom. My visvoorrad loop laag - nog net 3 galjoene oor wat my seun se vriend aan my geskenk het. Gevolglik braai ons grotendeels snoek en bak stokvis. Ek het darem onlangs twee geelbekke kon koop, maar dit is amper onbetaalbaar duur. Nie dat Henties se vis enigsins goedkoper is nie - inteendeel, per kilogram kos dit jou vrekduur as jy al die kostes bymekaar reken. Maar die lekkerte van die hele avontuur kan eintlik nie in geld gemeet word nie.
Vanaand eet ons egter keffie vis-&-tjips. Nogal soms ook nie onaardig nie.
Geniet jou vertelleinge en fotos
Ek doen ook nie plasig na alle fotos nie, maar volg jou draad graag en geniet dit baie
Gariep wat...
....oorloop bly darem 'n indrukwekkende gesig.
Ek het op 'n keer daar oorgeslaap oppad terug van Oos Lodon af. Kry toe genadiglik 'n staanplek heelonder langs onderste dwars pad, maar gelukkig nie aan die water kant nie.
Die dam was so vol, die water het opgestoot tot onder die ouens se tente.
Gariep
Die dam was so vol, die water het opgestoot tot onder die ouens se tente.
Dis hoekom ablusie seker daar bo sit....bo vloed lyne. Kan ver stap begin raak.
Toe ons 28-29 Januarie daar was, het ons netnet die oorvloei gemis....dam was op 99,5%. Die week daarvoor blykbaar meer as 108% gewees....ongelukkig dit gemis
16 Feb se herinneringe
As jy eers Hentiesbaai se seesand tussen jou tone voel deurkrul het, veral as daar 'n galjoen of kabeljou aan jou hoek is, dan is jy "hooked". Twee jaar gelede het ons pa's en seuns hier op die onderste foto's by Myl 106 maar redelik vrugteloos probeer vir steenbras en toe maar 'n stukkie vleis op die strand gebraai.


Toe ek en Ralie drie jaar gelede terugkeer van my besigheidsbesoek in Bethlehem, het ek besluit om langs Lesotho af te ry en ons eerste aand op pad huistoe by Little Rock in Ladybrand oornag. Watter pragtige omgewing, maar watter verwaarloosde oord. Ek was baie spyt dat ons daar bespreek het vir die aand. Dit was 'n eerste keer, maar beslis ook 'n laaste keer.

Van die Oos-Vrystaat se paaie en die dorpe se strate bly ek liewer stil. Een woord - "skrikwekkend" - beskryf dit soos hierdie in Ladybrand.

Op hierdie dag, 6 jaar gelede was ek ook op pad met 'n werkstrip na die noorde. Ons het oorgebly by een van ons gunsteling-oorblyplekke naamlik Travalia - 'n ware oase in die Karoo.

As alles volgens plan verloop slaap ons vanaand oor 4 weke weer daar op pad wildtuin toe. Met daardie jaar se trippie sou ons juis ook 'n paar aande in die wildtuin insluit.
En dan 'n foto wat vir my baie nostalgiese waarde het. Dié foto het ook in die destydse WegSleep verskyn. Op hierdie dag, 16 jaar gelede, het my ver kleindogter haar eerste Krugerwildtuin olifant gesien toe ons na Sun City vir 'n paar dae in Skukuza gekuier het.
Dis lekker ...
... as jou kinders "saam met" die wildtuin kan grootword. My kleindogter in Roemenië kom uiteraard nie baie in die wildtuin nie, maar dit is een van haar "moet besoek" plekke wanneer hulle hier kom kuier - soos oor minder as 5 weke.
17 Feb One Drive Memories
Ek het hierbo genoem dat ek met my 2021 werkstrip na Bethlehem langs die Lesotho-grens teruggekeer het.Ek kan onthou dit was vir my traumaties om dorpe soos Hobhouse en Wepener te sien - newwermaaind die verskriklike toestand van die R26. Maar nadat ons by Rouxville by die N5 aangesluit het, het padomstandighede dramaties verbeter.
Ons het op 17 Feb 2021 in Queenstown oornag. Ons het deur Lekkeslaap bespreek, maar op pad na Queenstown het die gasvrou ons gebel om te sê dat sy een of ander probleem het om ons te akkommodeer. Maar sy't vir ons alternatiewe akkommodasie gereël, verduidelik waar die plek is en ons daar ontmoet. As gebaar van verskoning oorhandig sy 'n koevertjie aan my. Ek dog dit is dalk 'n briefie waarin sy haar verskoning skriftelik aanbied. Maar binne die koevert is toe 'n Pick n Pay koopbewys ter waarde van R500. Watter gebaar! En sy kry toe vir ons akkommodasie in die plek wat op hierdie foto verskyn.

Met my 2018 werkstrip op pad noorde toe het ons op 17 Februarie in Ventersburg in 'n Lekkeslaap selfsorgplek (Die Gewel) oorgebly. Weereens 'n aangename plek gewees met 'n mooi tuin en lekker braaiplek.


Met ons kort kuiertjie in Skukuza in 2008 saam met ons ver kinders, het ons in die Elsie Clarke Guest Cottage gebly. Dit is lekker voor teen die kampheining, 'n klipgooi van swembad en Selati restaurant af met 'n lekker uitsig oor die Sabierivier.
Daardie jaar moes jy jou sitplek maar mooi kies as jy iets by die kafeteria gaan eet. Die vrugtevlermuise kon jou dalk 'n streep in jou bord getrek het.
Nog 32 slapies - dan's ons weer in Skukuza, maar nog net 30 dan's ons in Berg-&-Dal.
Jy bedoel .....
....fynproe!!! Alle strepies in bord was nie eetbaar nie. Seker eerder vlermuise bo jou kop, as 'n Mamba of Mosambiekkobra ??
Gister (18 Feb) ...
... ontvang ek toe weer 'n paar "memories" vanaf One Drive. Ek plaas enkeles daarvan.
Met my laaste werkstrip (Bethlehem toe in 2021) het ons, soos reeds genoem, al teen die Lesotho-grens afgery. Vanaf ons oorslaap in Queenstown (nou Komani) mik ons toe vir Oos-Londen om uiteindelik die aand in Kenton-on-Sea te oornag. Maar ons ry toe sommer so 'n kort draaitjie deur Oos-Londen om 'n paar nostalgiese en minder nostalgiese herinneringe op te soek.
Laterig in 1984, pas teruggekeer Boland toe vanuit Tzaneen, besluit ons dat ons graag oor die Kerstyd iewers by die see wil gaan kuier. Ons was nog nie toegerus vir kampeer nie (selfs voordat ons 'n tent besit het) en by gebrek aan die hedendaagse kommunikasie-metode d.m.v. e-pos, bekom ek toe akkommodasiegidse vanaf die destydse Toerismeraad en skryf 'n briefie vir al wat moontlike plek langs die kus is. Dit was so goed soos om word te soek in 'n hondehok - ons soek plek vir die periode net voor Kersfees tot Nuwejaar. Die enigste plek wat ons kon help was Protea Vakansiewoonstelle in Oos-Londen. Dit moes toe al die gevaarligte laat flikker het, want waarom het hulle nog akkommodasie beskikbaar or daardie gewilde periode. Hulle stuur toe ook 'n brosjure met enkele wit en swart foto's met 'n beskrywing van die woonstelle. O.a. noem hulle van die lang swierige gordyne waaroor die woonstelle beskik.
Dit was 'n gagga plek. Die kokkerotte het ons bykans opgevreet en die plek het verwaarloos voorgekom. Ralie sê toe dit was 'n drukfout in die brosjure. Dit moes seker lees: "lang smerige gordyne".
Nietemin - ons het besluit ons het ver gery, ten volle betaal en dat ons die beste van die situasie moes maak - wat ons wel gedoen het dat ons selfs met lekker herinneringe kon terugdink aan ons kort (en verskriklik winderige) vakansietjie in Oos-Londen.
Ek en Ralie gaan soek toe 3 jaar gelede Protea Vakansiewoonstelle op. Ons was verbaas om te sien dat dit mooi reggeruk is en 'n naamsverandering ondergaan het. Dit staan nou bekend as 14 On Marine.

Met die 2018 werkstrip was ons volgende oornagbestemming by 'n Lekkeslaap-plek net buite Nelspruit gebly (LoerieRoep). Dit was 'n netjiese plek met wonderlike uitsigte vanuit die pragtuine.



Met ons kort Sun City/Skukuza-vakansie in 2008 is ons op 18 Feb by Phabenihek uit om na Kruger Mpumalanga Lughawe te ry waar ons kinders ons afgelaai het en hulle nog kuier-kuier met Ralie se Avanza teruggekeer het Kaaptoe. Ons het nog min gebruik gemaak van Phabenihek.







Kambro langs die N12
Dis werklik 'n lieflike versorgde oornagplek - ons het al met ons karavaan daar oorgestaan. Ongelukkig pas die ligging nie lekker in met ons 500km per dag reisplan tussen Kaapstad en die Kruger Wildtuin nie - partykeer net te ver of net te naby.