Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Herman... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -4 hours ago
Bitterpan pad Kgalagadi Oktober 2026 neef Herman -4 hours ago
Brits diesel... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -4 hours ago
Foto laai Oktober 2026 saam gesels neef Herman -4 hours ago
Park kaart Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -4 hours ago
Johann.... Umfula Wessel Strydom -4 hours ago

One Drive Memories

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Is daar nog forum-gebruikers wat al hulle foto's op Microsoft se One Drive gestoor het? My dogter het my aangemoedig om dit te doen. Sou jou rekenaar se hardeskyf skielik besluit om die gees te gee - en die inhoud kan nie herwin word nie - het jy 'n rugsteun van al jou foto's op One Drive.

Maar wat ek nogal van hou is die feit dat One Drive elke dag (waarop jy foto's geneem het op daardie spesifieke datum) vir jou 'n herinnering stuur van die betrokke dag se foto's. Ekself gaan selde loer op al die lêers waarop my ou foto's is - behalwe wanneer ek dalk 'n spesifieke foto soek. Dan skielik, uit die bloute, kry jy 'n e-pos met die foto's wat jy op die betrokke dag geneem het. En dit bring meestal 'n klomp aangename herinneringe terug.

Vandag het ek o.a. die volgende foto's ontvang wat geneem is op 1 Feb 2019 tydens ons verblyf in Shingwedzi (tydens een van my vele wegbreke wildtuin toe as ek in die noorde moes gaan werk).

Shingwedzi

Dit was ons chalet waar Ralie amper die dikstert skerpioen, aangesien vir een of ander gogga, in die toilet wou optel. Genadiglik het sy my geroep om dit te kom doen - waarna ek toe sien dat sy met 'n lelike kalant "speel".

Die volgende foto het ek op die S56 (Mphongolo Loop) geneem toe dié ou "dagha boy" pas 'n lekker modderbad geneem het.

Shingwedzi

Tussen gister se foto's is ek weer herinner aan die muskeljaatkat wat ons met verlangende oë sit en aanstaar het toe ons die aand van 31 Jan 2019 in Mopani gebraai het.

Mopani

Aag - en so kan ek aangaan met foto's waarvan ek al amper vergeet het. As jy (ook) nog nie jou foto's op One Drive stoor nie, is dit dalk raadsaam om dit ernstig te oorweeg.

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 19/02/2024 - 14:02

Dit was toe inderdaad nodig vir Wouter om 2 jaar gelede tydens ons Hentiesbaaitrip die dameskostuum aan te trek toe hy die vorige dag niks gevang het nie.

Henties

Terwyl hy daar staan, stop 'n bakkie met Indiërmans by ons om te verneem of ons al iets gevang het. Toe hulle wegtrek sien die bestuurder vir Wouter raak. Hy stop en wys met sy vinger na Wouter en uiter 'n Groot woord en volg dit op met "what a disgrace". Nodeloos om te sê hoe lekker ons ander drie gelag het.

Met my 2021 werkstrip (my laaste voor algehele aftrede) het ons die laaste aand by Ebb & Flow oornag. Ons het al by hierdie kamp van Sanparke gekamp met die karavaan, maar ook etlike kere in dié "log cabins" gebly. Dit was vir my nog elke keer 'n fees om daar te kuier.

Ebb & Flow

Met my 2018 werkstrip op pad Brits toe het ons gruwelooslik verdwaal. Toe ons onsself kom kry, beland ons in Pretoriuskop in die wildtuin - kan jy glo.

Wildtuin

Pretoriuskop se swembad skep by my baie nostalgiese herinneringe.

Wildtuin

Maar op pad na Pretoriukop (ons het by Malelane-hek ingegaan) was een van ons eerste "sightings" hierdie. Dit bly maar goeie wildehond-omgewing.

Wildtuin

 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 20/02/2024 - 11:43

Van die paar foto's wat ek vandag, 6 jaar gelede, geneem het en 'n herinnering van One Drive ontvang het, plaas ek slegs een. Dit is net buite Pretoriuskop geneem op die Voortrekkerpad (H2-2). Die omgewing was pragtig groen en welig en hierdie toneel van 'n pad wat tussen die Vaalbome deur kronkel is só 'n tipiese toneel van die omgewing rondom Pretoriuskop waar Vaalbome en Tamboekiegras oorheers.

Wildtuin

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 20/02/2024 - 12:14

Daar is effe fout met die foto, dit sou soveel mooier gewees het met enige kaatjie in die padlaugh

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 20/02/2024 - 12:40

... is maar (in my ervaring) maar skaars. Tog het ek my eerste rooikat (van slegs twee wat ek al in die wildtuin gesien het) baie naby aan die plek waar dié foto geneem is, gesien.

En dan was ons heel eerste dier wat ons gesien het, toe ons by Numbi ingegaan het in 1978, 'n maanhaar. Maar andersins het ek nog maar min katte in dié omgewing gesien.

Ek is nie baie gek oor die Pretoriuskop-omgewing nie, a.g.v. die digte en hoë tamboekiegras, maar ek is baie lief vir die kamp. Naas Balule is dit die enigste kamp waar ek nog nooit kampeer het, maar verskeie kere in vaste akkommodasie gebly het. Ek het darem ook een keer in Balule (1981) in een van die ou rondaweljies in Balule gebly.

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 20/02/2024 - 13:13

Chris B, ek was ook nog nooit in die kamp nie. Seker maar omdat ek nie van die paaie na Numbihek toe, hou nie.

 

0
Pretoria

Geert

Tue, 20/02/2024 - 13:19

Ek was self lanklaas by Pretoriuskop oor dieselfde rede as ChrisB....ook nie baie gelukkig met wildsbesigtiging daar nie. Ons laaste besoek daar by Pretoriuskop (paar jaar terug ) was ons gelukkig om paar Sables langs die pad te kry....so 500m buite kamp. Dis die enigste keer wat ons nog ooit Sables in wildtuin gesien het.

Is die Wimpy nog by Pretoriuskop?

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 20/02/2024 - 13:20

... soos ons almal weet, 'n "no-no". En dis só jammer. Ek het sulke wonderlike herinneringe aan hierdie historiese wildtuinhek. As Pretoriuskop jou eerste kamp as kampeerder is, is jy eintlik maar gedwonge om hetsy Malelanehek of Phabeni te gebruik. En dit is lang ompaaie om van beide hekke af teerpad langs te ry na Pretoriuskop.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 20/02/2024 - 13:27

Ek glo die Wimpy is nog daar. My seun-hulle het verlede wintervakansie daar gaan brekfis toe hulle in Berg-&-Dal was.

Ek het baie jare gelede (ek dink dit was 1981) 'n mooi trop swartwitpense by die Skipberg langs die Voortrekkerpad gesien en in onlangse tye 'n enkele bul naby die Shitlhlavedam. Ek was darem al gelukkiger as jy Geert om by verskeie geleenthede swartwitpense in ander dele van die wildtuin te sien. Maar dit is elke keer 'n hoogtepunt wanneer ek hierdie ikoniese bok sien.

0
Pretoria

Geert

Tue, 20/02/2024 - 14:14

Ons is ook baie lief om n Wimpy brekkie in te werk as ons met vakansie is....net jammer dis bietjie ver ry as mens nèt vir dit gaan.

Ja, Swartwitpens is besonders. Vir ons was dit afgelope vakansie besonders om die Gemsbokke te sien by Karoo Nasionale Park....iets wat ons nie gewoond is nie

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 20/02/2024 - 14:26

............bly vir ons 'n gunsteling kamp, ten spyte daarvan dat wildbesigting iewat beperk is, maardie pragtige paadjies in daardie omgewing maak daarvoor op.  Die ruskamp self word puik versorg.  Ons het al leeus, jagluiperds, renosters en wildehonde daar gekry en ook die gewilde swartwitpense.

P/Kop was twee jaar gelede ons eerste kamp en ons het vroegoggend van Malelane teerpad om daarheen gery en dit was 'n heerlike rit.  Hier staan ons aan die bo-kant van die kampterrein, naby die stokou, mooi versorgde, ronde ablusie-gebou.

.

 

.

0
Worcester

Wildehont

Tue, 20/02/2024 - 14:43

Ek het al baie daar vertoef, as kampeerder en in vaste verblyf. Dis ‘n lieflike kamp, en die koppies in die omgewing is baie mooi. Ek was nog min in die somer in die wildtuin, en in my voorkeurseisoen is plantegroei nie so ruig nie.  Ek hou ook van die vaalbome se reuk.

Ons het al goeie wild gesien in die omgewing. Baie keer leeus, wildehonde ‘n paar keer en ook luiperd. Voordat die grootskaalse stropery begin het was renosters ook volop.

Die swembad is lieflik, en ek wil my verstout om te sê dit was die eerste kamp met een. Ek dink ook dit was die eerste kamp wat vir besoekers oopgestel is. Daar is geskiedkundige geboue soos die Royal huts wat vir die Britse koningsfamilie gebou is in 1947 en Wolhuter hut wat uit 1930 dateer. Daar is ook lieflike voëllewe in die kamp.
 

Ongelukkig is dit redelik ver afgeleë noudat Numbi hek nie meer veilig is nie. As ek reg onthou was ons laas in 2018 daar toe ons nog gevlieg het van die Kaap af en vriende se dubbelkajuit geleen het in Johannesburg. Toe is ons by Phabeni uit. Ek sal graag eendag weer die Suide wil besoek, maar sien nie kans daarvoor tydens skoolvakansie nie. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 21/02/2024 - 14:23

Pretoriuskop is bekend as een van die areas met die hoogste koedoebevolking. En dit ervaar ons keer op keer.

Wildtuin

Ons was op dié dag op pad na die Mesteldam, maar het eers gou by Numbihek aangegaan - net om 'n slaggie weer die nostalgie van vroeër te ervaar. Februarie is maroela-tyd. En olifante benut en geniet dit terdeë. Oral het die olifantbolle totaal afgewyk van dit wat ons gewoonlik sien - en het só gelyk in die teerpad op pad Numbi toe.

Wildtuin

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 21/02/2024 - 14:57

Ou groot pote het seker maar lekker slinger slinger geloop, of soos die Kaapse klonge sê---sy gat stamp maar lekker.!!

0
Worcester

Wildehont

Thu, 22/02/2024 - 07:45

Ek weet Wessel se opmerking was tong in die kies en waarskynlik met verwysing na die Jamie Uys rolprent waarin die bobbejane en olifante kwansuis dronk geraak het van maroelas wat in die son gegis het. ‘n Skoolvriend van my se pa was destyds Sanparke se fotograaf, en het gehelp met die maak van die rolprent. Hulle het klein hoeveelhede M99 (die verdowingsmiddel waarmee hulle olifante verdoof) in lemoene gespuit en vir die diere gegee om die aangeklamde reaksie te verkry. Dit het niks met die maroelas te doen gehad nie. 
 

Maroelas kan soos enige ander vrug wel gebruik word om alkohol te maak, maar dan moet dit ordentlik gegis word. Ons het een universiteit vakansie saam met ‘n wit Zimbabweër wat ons tydens vakansiewerk ontmoet het maroela mampoer gestook van die vrugte van ‘n reuse maroelaboom in my ouers se agterplaas. Dit was nogal lekker, maar het 70% alkohol bevat. 

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 22/02/2024 - 08:22

....dankie, ek was eintlik rerig onder die indruk dat oorryp maroelas wel 'n alkoholiese effek het. Nooit te oud om te leer nie.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 22/02/2024 - 13:42

Soos voorheen gesê - hou verby as hierdie insette en foto's jou nie aanstaan nie. Of spreek my selfs aan om te sê ek moet hiermee stop as ek dalk die forum besoedel

Nietemin - ek het vanoggend die volgende herinneringe ontvang.

Twee jaar gelede was ons Henties-trip amper 'n totale mislukking. Ek het al van verskeie persone gehoor wat bloutjies geloop het wanneer die see en heersende winde nie wil saamspeel nie. Dit het nog nie tydens my vorige vier kuiers by Henties gebeur nie, maar wel tydens die laaste hengeltog. Die see-temperatuur was abnormaal warm teenaan die kus en die water was baie vuil met seegras. Hengel van die kant af was 'n totale "disaster". Maar so kom ons agter dat die ouens wat uitgaan op die see sommer vragte kabeljou vang. Ons twee oumanne stuur toe die twee jongmanne uit met 'n boot vanuit Walvisbaai.

Dit was 'n lang dag vir ons twee in Walvisbaai se waterfront. Maar gelukkig was daar baie bier en 'n paar lekker kuierplekkies terwyl ons hoopvol wag vir die twee jonges om terug te keer. En was dit nou die moeite werd!! Ons het teruggekeer Kaaptoe met die minste vis wat ons nog ooit van die kant af gevang het, maar die meeste vis in ons vrieskaste.

Hier volg 'n foto of twee van Walvisbaai se waterfront en 'n gedeelte van ons kabeljou.

Walvisbaai

Walvisbaai

Walvisbaai

Walvisbaai

En nou is ons in die beplanningsfase vir volgende jaar (waarskynlik Maart) se Hentiestrip.

Op 22 Februarie 2018 het ons vanaf Pretoriuskop vertrek vir ons laaste paar aande in Berg-&-Dal. Ons sou aanvanklik in Malelane-kamp gebly het, maar toe ons die dag by Malelanehek die wildtuin betree, let die bestuurder by die hek (waar jy vir Malelanekamp moet inboek), dat ons nadat ons klaar gekuier het in  Pretoriuskop na Malelane sou gaan. Hy noem toe dat daar heelwat konstruksie in die kampie plaasvind en dat ons dit dalk steurend mag vind. Daar en dan verander ons die Malelane-aande na Berg-&-Dal. En dit was 'n goeie besluit, want ons het terwyl ons in Berg-&-Dal was gou by Malelane gaan inloer - en dit sou nie lekker gewees het nie.

Omdat ons eers 14:00 in vaste akkommodasie kan inboek, besluit ons toe om eers iets in Skukuza te gaan eet. Die volgende twee foto's is op die S65 geneem. Ek kan liries raak as ek sulke bosveldtonele sien.

Wildtuin

Wildtuin

Die pastei het goed afgegaan by Skukuza se kafeteria.

Wildtuin

En op pad na ons bestemming het ons hierdie twee raakgeloop. Verskoon die bakkie se spieël,

Wildtuin

Alhoewel ek nie 'n foto daarvan het nie (dit was te ver vir my selfoon - my enigste kamera wat ek in die wildtuin gebruik), het ons net suid van Afsaal ons tweede (en laaste) luislang in die wildtuin gesien. Ek kon nie glo dat voëls, vir wie so 'n groot slang seker nie juis 'n gevaar inhou nie, só kon tekere gaan by die aanskoue van 'n luislang.

 

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 22/02/2024 - 14:21

My kinders het dit 'n apie bruggie genoem, as bome so bymekaar kom bo 'n pad.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 23/02/2024 - 15:57

Ons eerste keer in Berg-&-Dal was in 1989 - toe nog 'n relatief nuwe kamp wat in Februarie 1984 geopen is. My oorlede ou moeder was toe saam met ons in 'n 6-bed eenheid en sedertdien het hierdie kamp nog altyd 'n "soft spot" vir my en Ralie. Ons is weer 19 & 20 Maart daar vir 2 aande. Maar onderstaande is op 23 Feb 2018 geneem nadat ons die vorige dag vanaf Pretoriuskop arriveer het.

Jammer, nou sukkel ek om die regte clip te laai.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus