As alles volgens plan verloop, skop ons 4-maande vakansie oor 2 weke af. Ons reisplan lyk as volg:
5 - 14 April: ATKV Hartenbos
15 - 21 April: Karoo Nasionale Park
22 April: Forever Gariep
23 April: Weltevrede, Parys
24 April - 3 Mei: ATKV Klein-Kariba
4 Mei - Malelane-kamp, Krugerwildtuin
5 Mei - 1 Junie: Krokodilbrug, Krugerwildtuin
2 Junie: Orpen, Krugerwildtuin
3 Junie - 3 Augustus: ATKV Eiland Spa
4 Augustus: ATKV Klein-Kariba
Die res van die beplanning terug huistoe moet nog gefinaliseer word, maar sal waarskynlik weer Weltevrede, Gariep en Karoo Nas Park insluit.
Ek het gister die Hilux by 4x4 Mega World in Somerset-Wes gehad vir die stofdigting en uitgly-laai vir die Snomaster. Op die oog af lyk dit of hulle 'n baie netjiese werk gedoen het. Ek het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om my voorraad Joey's boerewors en patties te gaan koop. Dit is gou by die huis in porsies vakuumverpak.
Ek het ook gou by Cara-Camp aangegaan om die Thetford chemikalieë vir die Porta Potti aan te vul. Ek moet genoeg saamneem vir die 4 maande. Teen 60 ml elke 5de dag behoort ek sowat 1.5 liter te benodig.
Vandag sal voortgegaan word om alle items wat onnodig in die karavaan is uit te haal. Ons het die "gawe" om onnodige goed (wat dalk gebruik kan word, maar nooit nie) saam te karwei.
'n "Splinternuwe" Hilux
Na afloop van ons 4-maande reis, waartydens baie kilometers op wildtuin-gruispaaie gery is, is die Hilux eergister bederf met 'n volledige "valet". Dit blink en skitter soos 'n spreekwoordelike nuwe sikspens (vir diégene wat nog hierdie ou uitdrukking ken).
Nou lê die karavaan en ander kamptoetusting, bv. grondnette se deeglike skoonmaak nog voor. Maar dit is grootliks my tuin-ingenieur se taak. En synde hy slegs elke 2de Maandag by my werk, en die winter-onkruid in die tuinakkers prioriteit nommer een na 4 maande, staan die Ou Lady nog eers rustig in haar garage en wag vir die regte weer.
Intussen berei ons druk voor vir die ver kinders se aankoms - vandag oor 2 weke. En dan nog al die ander strontery soos gister se aansoeke by Binnelandse Sake in Caledon vir nuwe paspoorte en ID-kaarte, asook die vooraf admin (by die oogspesialis in Hermanus) om reëlings te tref met die mediese fonds vir die opkomende katarak-operasie. Ek het sommer met die Hemel-en-Aardevallei-pad vanaf Caledon na Hermanus gery - watter mooi omgewing. En canola staan nou vol in die blom in die Overberg se saai-areas - watter pragtige gesig om te aanskou.
Maar die hoogtepunt was Sondag - toe my Boland rugbyspan die Blou Bulle in 'n Curriebeker-wedstryd geklop het. Dit het darem tot 'n mate opgemaak vir die Bokke se verloor van Saterdag. Aag, ek is maar 'n Bolander in murg en been - gegroot in die Boland (Tulbagh), my rugby in die Bokand gespeel en vir etlike jare 'n skeidsregter in die Boland gewees. Al wanneer ek teen die WP "cheer" is wanneer hulle teen Boland speel.
Sommer 'n bietjie nuttelose inligting
Ek het slegs een stukkie inligting i.v.m. brandstof-gebruik waar ek die hele ent pad geslaap het. Dit is met die terugkeer vanaf Eiland Spa tot in Kleinmond gesleep. Dit was 2 069 km. Ek het 'n totaal van 227,2 liter diesel oor hierdie afstand gebruik. Dit gee aan my 'n gemiddelde brandstofverbruik van 9,1 km per liter - oftewel 10,98 (sê maar 11) liter per 100 km. My normale sleepspoed is 90 kpu (volgens GPS) - wat 97 kpu op die Hilux se spoedmeter wys.
My totale afstand tydens die hele 4 maande toer was 8 119 km. Ek het 'n totaal van 849,5 liter diesel gebruik. Dit gee aan my 'n gemiddelde brandstofgebruik van 9,6 km per liter. My brandstofkoste het R18 215 beloop.
Uitstekend!
Dit klink mos uitstekend, of het ek erens agter gebly.
Verbasend die klein verskil tussen die gemiddelde en die sleepverbruik. Uit die totaal het jy seker ?? 5000km gesleep??
Wonder wat julle trip kostes was per dag. Ry en bly kostes. Sonder eet en drink. Dit sal handing wees vir dalk miskien eendag iets uitwerk as ń beginpunt.
Ja Neef ...
... ek het minstens 5 000 km gesleep. My verblyfkostes kan ek naslaan en sodoende my gemiddelde koste per dag uitwerk (reis en verblyf). Ek sou in elk by die huis ook geëet en gedrink het.
R4500/maand is nie sleg nie
My brandstofkoste het R18 215 beloop.
Natuurlik is die koste nie eweredig versprei oor die vier maande nie. Dis egter baie makliker om soveel te betaal vir vier maande weg as vir drie weke weg. Ons betaal naastenby soveel aan brandstof wanneer ons Krugerwildtuin toe gaan.
In antwoord op ...
... Neef se "wonder wat ons daaglikse kostes" vir reis en verblyf was, die volgende inligting:
ATKV Hartenbos x 10 aande = R2 830.00 (R283 per nag)
Karoo Nas Park x 7 aande = R2 919.91 (R417.13 per nag)
Forever Gariep x 1 aand = R370 per nag
Weltevrede Vakansieoord x 1 aand = R360 per nag
ATKV Klein-Kariba x 10 aande = R6 630.00 (R663 per nag)
Krugerwildtuin x 30 aande = R11 393.61 (R379.79 per nag)
ATKV Eiland Spa x 62 aande = R11 816.00 (R190.58 per nag)
ATKV Klein-Kariba x 1 aand = R166 per nag
Reyneke Park x 1 aand = R360 per nag
Karoo Nas Park x 1 aand = R417.13 per nag
Totale akkommodasiekoste: R37 262.65 (vir 124 aande) = gemiddeld van R300,51 per nag.
Dieselkoste: R18 125.18
Totale reis- & verblyfkoste: R55 387.83 - oftewel R446.68 per nag (oor 124 aande)
Die 10 nagte se kampeerkoste by ATKV Klein-Kariba was die duurste - maar omdat dit in daardie ekstra week skoolvakansie aan die einde van April was. Met die terugkeer was dit buite-seisoen, gryskop- en ATKV-lid afslag en gevolglik slegs R166 vir die aand.
Die wildtuin se 30 aande het een nag se "bungalow" akkommodasie in Orpen ingesluit. Dit alleenlik het R1 180.80 beloop - wat die gemiddelde koste vir die 30 aande in die wildtuin opgestoot het.
4 Weke in Krokodilbrug
Dit was lekker om vir 4 weke (28 aande) nie op- of af te slaan nie. En dit was, wat my aanbetref in die netjieste kamp in die hele Krugerwildtuin. Maar in kort gesê - ek sal dit nie weer doen as ek ooit vorentoe weer die geleentheid kry om wildtuin toe te gaan nie. Ons het later amper "moeg" geword daarvan om dieselfde paaie oor en oor te ry. En ons het vanjaar die kort strooitjie getrek wat wildbesigtiging in daardie (gewoonlik) goeie omgewing aanbetref.
In die toekoms (sou ek weer beskore wees om die wildtuin te besoek) gaan ek eerder weer vir 5 - 7 aande per kamp (en steek my luigatgeid in my sak). Dit sal sekerlik nie voor 2027 weer gebeur nie, want 2026 lê Roemenië vir ons en wag - as ons gesondheid ons toelaat (want skete en kwale dop al hoe meer uit).
Dit tel ook maar op
Totale reis- & verblyfkoste: R55 387.83 - oftewel R446.68 per nag (oor 124 aande)
Intussen betaal mens nog erfbelasting, dienste, sekuriteit, en versekering op jou huis maar spaar darem elektrisiteit. Dit bly egter uit en uit die moeite werd en as ek die tyd gehad het, het ek dit ook gedoen. Ek sou egter sommer die hele winter gegaan het (Mei tot einde September).
Maar in kort gesê - ek sal dit nie weer doen as ek ooit vorentoe weer die geleentheid kry om wildtuin toe te gaan nie.
eerder weer vir 5 - 7 aande per kamp
Ek stem saam. Ek sal ‘n week in ‘n kamp bly, maar nie langer nie.





Dogter en lughawe
Ek hoop vir jou part dat hulle aankoms en vertrek tye in goeie daglig ure val. Dis darem beklaenswaardig dat mens so ingeperk word deur kriminele aktiwiteite.