As alles volgens plan verloop, skop ons 4-maande vakansie oor 2 weke af. Ons reisplan lyk as volg:
5 - 14 April: ATKV Hartenbos
15 - 21 April: Karoo Nasionale Park
22 April: Forever Gariep
23 April: Weltevrede, Parys
24 April - 3 Mei: ATKV Klein-Kariba
4 Mei - Malelane-kamp, Krugerwildtuin
5 Mei - 1 Junie: Krokodilbrug, Krugerwildtuin
2 Junie: Orpen, Krugerwildtuin
3 Junie - 3 Augustus: ATKV Eiland Spa
4 Augustus: ATKV Klein-Kariba
Die res van die beplanning terug huistoe moet nog gefinaliseer word, maar sal waarskynlik weer Weltevrede, Gariep en Karoo Nas Park insluit.
Ek het gister die Hilux by 4x4 Mega World in Somerset-Wes gehad vir die stofdigting en uitgly-laai vir die Snomaster. Op die oog af lyk dit of hulle 'n baie netjiese werk gedoen het. Ek het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om my voorraad Joey's boerewors en patties te gaan koop. Dit is gou by die huis in porsies vakuumverpak.
Ek het ook gou by Cara-Camp aangegaan om die Thetford chemikalieë vir die Porta Potti aan te vul. Ek moet genoeg saamneem vir die 4 maande. Teen 60 ml elke 5de dag behoort ek sowat 1.5 liter te benodig.
Vandag sal voortgegaan word om alle items wat onnodig in die karavaan is uit te haal. Ons het die "gawe" om onnodige goed (wat dalk gebruik kan word, maar nooit nie) saam te karwei.
Goeie Hout ...
... jy het dit. 5-uur in die middag braai vir aandete?? Ek is oud, maar nog nie só oud nie.
Voertuig-oortreksel
My huidige oortreksel vir die Hilux is nie die ware Jakob nie. My buurman het een wat sy Ranger heeltemal toemaak - by Midas gekoop. Ek skakel toe vir Midas in Tzaneen, maar hulle het nie die betrokke grootte in voorraad nie. Ek is egter verseker dat dit môre teen 12:00 by hulle sal wees. Hopelik is die Hilux van môre-aand af behoorlik bedek.
10 Junie
En so het Tzaneen vandag aan die beurt gekom. Ek het in die vroeë 80's in dié dorp gewoon en baie terugverlang nadat ons daar weg is, want ons het baie lekker daar gewoon. Maar, ek wil nooit weer daar woon nie. Ek kan nie glo dit is dieselfde dorp waarin ons gewoon het nie. Ek sê eerder verder niks, want ek mag dalk goed kwytraak wat my in groot moeilikheid laat kom. Kom ek sluit af deur te sê dat ek baie dankbaar is om in my ou klein dorpie in die Wes-Kaap te woon.
Ek is 'n nuwe mikrogolfoond, 'n nuwe oortreksel vir die Hilux en 'n blare-blaser ryker. My vleisvoorraad en ander kruideniers is aangevul - maar my bankbalans het 'n moerske duik gekry.
Die kouefront se laaste tentakels het ook sy laaste stuiptrekkerige kloue hier in die noordelike Laeveld ingeslaan. Ons temperatuur het van gister se 31° tot 23° gedaal en 'n lawwe windjie het gisteraand opgekom. Snaaks genoeg was dit een van ons warmste aande en vanaand is sommer weer knyperig.
Vanaand se ete pas dus sommer lekker by die kouerige aand - 'n pot kerriehoender. Ons buurvrou het aan ons 'n groot pak van haar tuisgemaakte kerriemengsel gegee wat ons vanaand probeer (ek sal nie vir Wessel nooi om te kom saameet nie, want hy't mos 'n aversie in kerrie). Maar ek moet sê dat hier 'n fantastiese geur in die lug hang.
Chris B
Ek het volle begrip van jou Tzaneen indruk. ek is bevrees dit is tiperend van alle dorpe/stede in NoordWes en Limpopo. Ons in my tuisdorpie, is daai padda in die pot wat warmer word.
Geniet jou kerrie-gereg.
Ek en Marie het beide ons kompleksvergaderings gehad vanaand, en nou net terug gesit van heerlike pot sop, met baie vleis in.
11 Junie
Die Bouchers is weer terug by "square one" - ons is weer rustig hier by Eiland. Die weer is aan die verbeter en ons het weer 'n mooi sonskyndag.
Die Hilux staan in sy nuwe "garage" wat die voertuig heeltemal bedek.

Die "blower" is vanoggend beproef en doen 'n bakgat "job" met die knoppiesdoringblare.
Ons het vanoggend wakker geword met uitstekende nuus toe my dogter vir ons foto's stuur van hul vliegtuigbesprekings. Ons het nog altyd gewonder of dit gaan realiseer, maar nou weet ons hulle arriveer 3 Sep.
My buurvrou se tuisgemaakte kerrie-mengsel is 'n absolute wenner. Gisteraand se kerrie-hoender was 'n treffer op 'n besonderse koel aand. Ek het voorheen gemeld van die heerlike kerrie-mengsel (sogenaamde Honeymoon-kerrie) wat ons by 'n Indiërvrou gekoop het (aanvanklik in Sometset Mall en later by Cape Gate - Len se "joints"). Dit is lekker, maar my buurvrou (ala Heila Potgieter van Malelane) se mengsel wen die prys. Haar kerrie-mengsel bestaan uit 28 bestanddele wat sy van "scratch" af meng. Sy kan dit maar bemark - sy sal Cartwrights en Rajah ore aansit.
Gister het ons twee (rou) Hawaiin Pizzas by Food Lover's in Tzaneen gekoop wat vanaand op die Smokey Joe gebak sal word. Mammie is dus weer in haar element - sy't mos iewers 'n streep Italiaanse bloed in haar, altans so vermoed ek.
Ons is nog só rustig dat ons nog nie eens by die julskei uitgekom het nie. M.a.w. ons doen n....
Oortreksel
Chris, koop jy dit per bakkie naam, of algemene grootte??
Dit lyk omtrent soos die oortreksel waarmee ek die Kavango toemaak. Myne is groen aan binnekant en die voor en agter dele het tipe rek in, wat dit intrek onder die wa. Voor en agter is daar ook luginlate, met kappie oor.
Ons het vanoggend wakker…
Ons het vanoggend wakker geword met uitstekende nuus toe my dogter vir ons foto's stuur van hul vliegtuigbesprekings. Ons het nog altyd gewonder of dit gaan realiseer, maar nou weet ons hulle arriveer 3 Sep.
Baie goeie nuus. Ek hoop nie julle het iets vir daai tyd beplan nie, want dit sal nou dadelik gekanselleer moet word.
Ek het Trokkie se oortreksel…
Ek het Trokkie se oortreksel doelgepas laat maak deur Romeo van All Outdoors (Pierre van Ryneveldt Park) net in die pad af van ons in Irene. Daai tyd het die vannie rak af oortreksels so styf gepas soos 'n jong meisie se klere! Het Trokkie na hom toe gevat sodat hy die spul kon opmeet en sowat 'n week later die finale produk by hom gaan optel. Dis nie van die dun nylon-rige materiaal gemaak waarvan meeste oortreksels is nie maar van 'n dikker materiaal wat nie sweet nie...werk vir my maar ek moet erken enige oortreksel is eintlik ietwat van 'n pyn wat inmeng met mens se vinnioge besluite om te gaan g$tskuur!
Oortreksel
My kampbuurman het so 'n oortreksel oor sy Ranger. Ek't gedog hy't dit dalk ook laat maak (soos Grootwind hierbo noem), maar hy't dit by Midas in Mosselbaai gekoop. Hy't die sak (amper 'n tas) waarin dit kom vir my gewys. Ek het toe die Midas-tak in Tzaneen gebel, wat dit nie in voorraad gehad het nie en spesiaal vir my bestel het. Dit is 'n All Gear-produk met produkkode (CE35) oftewel 'n "4x4 SUV or Bakkie Cover". Dit pas, na my mening, perfek. Die binnekant is uitgevoer met 'n sagte viltagtige materiaal.
Hennie ...
... gelukkig is daar niks op beplanning vir September nie. Hulle vertrek weer 30 Sep en ons eerste wegbreek-beplanning is vanaf 14 Okt in Karoo Nas Park en vandaar op 4 Nov tot 4 Des by Dwarswegstrand.
12 Junie
Watter rustige dag was dit nie. Soos pensioenarisse het ons lekker laat geslaap (in ons standaarde). 08:10 het ek vir die eerste keer my oë oopgemaak - en dadelik weer toegemaak. So by so dat ek eers om en by 09:00 my eerste beker koffie gedrink het - as jy my Nescafé Classic as koffie kan reken (ala die koffie connoisseurs).
Ons het weer 'n gematigde dag (23°) gehad. Ons het darem 'n lekker stappie, sommer hier in die oord, ingepas. Ek sien daar is môre om 07:00 'n staptog langs die Letabarivier, maar dit is eerstens te vroeg vir my en tweedens verkies ek om dit op my eie tyd te gaan doen. As ek voel dat ek langer tyd by die seekoeie wil verwyl wil ek nie aangejaag voel nie. Ons doen die roete gewoonlik 'n paar keer terwyl ons hier kuier.
Ek het eergister (wat lyk soos) lekker Steak House Classic Rump Steaks by Checkers gekoop. Alhoewel ek al 'n stel daarmee afgetrap het, was ek nog meestal baie in my noppies met dié steaks. Vanaand val een van hulle op die kole in die Smokey Joe, terwyl mammie vir ons 'n lekker pot krummelpap maak wat saam met Miami se Braai Relish geniet gaan word.
Gematigde dag....
....moet julle geniet!!! tot hier in Brits is dit bleddie koud. die dae is OK, maar ons paleisie is koud, veral in die aande.
Ek is lief vir lekker koffie, en as ons kamp drink ons ook net Nescafe classic.
Daai stappery klink darem…
Daai stappery klink darem lekker Chris. Ek mask al 6 uur vir ons koffie, en gee die katte en Giep brekfis.
Ons is koffiesnobs......koop bone en word in die Dura bewerk. Oupa drink swart en bitter by die huis, Ouma met ń melkie. Cuppuchino in die dorp, ook net sekere coffee shops sin, ouma sal besluit.
Ons kampkoffie is die Pronto sakkies. Meer sigory as koffieboon, maar met ń lekker vet lepel kondensmelk is dit net die een.
12 Junie
OO dit klink lekker.
Die week by werks konferensie besef die %^^%$#@$^& wetgewing verander drasties.
So ek is dalk volgende jaar n wetlike pensionaris. Ek is nie meer lis vir die (*&^%$%^&* wetgewing nie.
Chris geniet dit.
Lekker langnaweek vir die werkende mense....en vir n ene persoon wat sop met baeie vleis eet.
Krummelpap
mmmmm....daai rump steaks klink lekker en veral daai krummelpap! Daai Miami souse is heerlik. Ons gebruik gewoonlik die Boerie Relish van Miami op ons pap.....die Sweet Tomato een of die Knoffel een, maar eersgenoemde is vir ons lekkerder op pap.
As ek dit nie mis het nie is Miami se fabriek naby aan Die Eiland? Ek hoor die publiek kan die geduikte blikke daar koop vir n paar rand.
Ek sien Die Eiland het n besige aktiwiteits program vir hierdie lang naweek....geniet dit!
Miami
Jy's reg - Miami se fabriek is enkele km's van Eiland af. Laasgenoemde borg baie van die aktiwiteite van Eiland se vakansie-programme.
Dié inmaakfabriek se beplanning is reeds in my Tzaneen-dae begin. Jan Welthagen het een van die 21 ha Miami-plotte besit. Syne het aan die Letabarivier gegrens, maar het nie oor waterregte beskik nie. Jan het met boorgatwater tamaties en ander groente gekweek. Toe hy my die dag meedeel dat hy 'n inmaakfabriek wil oprig, was my gedagte hy's gek. Ek is duidelik verkeerd bewys. Hulle is tans besig met groot uitbreidings.
Jan en sy vrou is enkele jare na die begin van die fabriek in 'n motorongeluk oorlede, maar sy broer het ingespring om voort te gaan. Vandag is Jan se kinders in beheer van hierdie suksesvolle onderneming.
Ons vul gewoonlik voorrade daar aan voordat ons terugkeer huistoe. Smaak verskil, maar ek vind die Boerie Relish te soet na my smaak. Ek verstaan hulle het nou 'n Boerie Lite, maar ek moet dit nog probeer.
Hier raak dit te stil
Sedert die nuus dat die kinders kom kuier vermoed ek dat Ralie met ander beplanning besig is, en Chris koop karavaan. Lekker tydverdryf vir albei
Met die karavaan-koop sien ek 'n ding kom - dink terug aan wat Len lank gelede vertel het - die keer toe hulle by Hartenbos (?) gekampeer het, 'n nuwe wa in George gekoop het en die kampbure gereken het die "balju lê beslag" op die karavaan wat ingeruil is. Lag steeds lekker as ek daaraan terugdink.
As die "Ou Lady" nie meer geskik is nie, waarom nie inruil nie? Ek glo dat julle nog 'n hele paar jaar vele lekker kampe kan geniet. Hou styf duime vas dat een van dié waarin jy belangstel sommer gou by Die Eiland afgelewer sal word.





Mac & Cheese
Goeie naand Chris. My gunsteling os ook Mac and Cheese.
Geneit dit. Stem saam 5 uur bietjie vroeg. Wil eers by n vuurtjie sit en n Glen Carlou geniet en dan kos maak.
Lekker aand.