Ja ek weet ek het baie lanklaas gesels hier op die forum. Ek glo dat omstandighede dit veroorsaak het!
Soos die ou manne hier weet het my vrou vir 11 jaar 'n stryd teen kanker gevoer. Die manne wat haar al ontmoet het weet ook dat sy altyd positief was en 'n smile op haar gesig gehad het.
Wat min mense weet is dat sy vir 10 jaar in helse pyn verkeer het, sy het 'n jaar na die kanker begin het 'n oop wond in haar lies gekry as gevolg van bestraling, die wond het tot met haar afsterwe nooit genees nie. Moes dit twee keer per dag ontsmet en skoon maak. As gevolg van die ligging van die wond kon dit nie verbind word nie, dus was dit altyd oop.
Sy het op die einde van die dag vier soorte kanker gehad, al die okoloe het gereken dit gebeur feitlik nooit nie! Daar is 30% van haar tong verwyder, haar tong was so kort dat sy nie haar lippe kon nat lek nie. ek kan nie eers onthou hoeveel sessies chemo en bestraling sy al gehad het in die 11 jaar nie, as ek reg onthou het sy 9 operasies gehad.
Ondanks haar probleme wou sy nooit dat ons ophou kamp nie, sy het altyd gese dat sy liewer in 'n karavaan kamp siek is [waar sy heeldag mense om haar sien] as wat sy in ons huis gaan sit en niemand sien nie.
Gelukig is daar in al ons groot stede baie en goeie privaat hospitale so sy kon orals behandeling van die hoogste gehalte kry. Shame sy het altyd skuldig gevoel oor die lang ure wat ek in spreekamers en hospitale moes sit en wag vir haar, alhoewel ek dit met plesier gedoen het sonder om daaroor te dink!Sy het ook baie skuldig gevoel oor die geld wat dit gekos het, alhoewel ons 'n baie goeie mediese fonds het, moes ons maar gereeld vir spesialiste ekstra betaal. Julle weet seker dit is niks snaaks om vir 'n narkotiseer en 'n spesialis sommer so R10 000 by te betaal boben behalwe wat die mediese fonds betaal. Ek was altyd maar net baie dankbaar dat ons dit kon bekostig!
Februarie 2020 was sy weer vir scans en sulke goed, en daar kry ons toe die goeie nuus dat sy vir die eerste keer heeltemaal skoon is, geen teken van enige kanker nerens nie!! ons was natuurlik uit ons velle van blydskap en het ons Vader alle dank en eer gegee. Maar toe kom die duiwel en befoeter alles. Daai lies wond raak septies, na hoeveel jare se mooi skoon hou. Twee operasies in een maand om die septisme te verwyder, en toe beging nimfklier vloeistof uit die wond uit stroom. Daar is sy toe permanent gekoppel aan 'n suig pomp om die vloeistof uit te suig. Ek het so klein hand karretjie gekry waar die pomp op pas en moes sy maar altyd die ding agter haar aansleep. Elke derde dag na die wond suster om die pype wat in die wond gaan te ontsmet en weer vas te sit, 'n helse pynlike proses. Na drie maande droog die wond op en kan sy van die pomp afgaan. Toe begin die wond bloei, weer 'n operasie om die aar binne te heg en die bloeding te stop.
Intussen het Sy so verswak dat sy nie meer kan loop nie. Koop toe vir haar 'n mobility scooter en kan sy darem so bietjie rondbeweeg. Pyn is vir die laaste jaar van sdo aard dat sy nie in die bed kan inkom of uitkom nie, ek moes haar help. As sy in die nag wou omdraai maak sy my wakker dat ek haar help omdraai. Steeds bly sy weier om na ons huis terug te trek!
Nou ja die slagaar het met die wond wat nog steeds oop was en met al die gesukkel daar en die septisme, gebars en sy bloei toe deur die wond uit, binne 6 minute was alles oor!!
Julle kan seker verstaan dat ek in die laaste jaar nie lus was of tyd gehad het om op die forum te skryf nie!
Right dit net agtergrond wat my laat 'n nuwe dametjie in my lewe kry! Petra is op 12 Okt 2020 oorlede. Ek was platgeslaan, na ek so gewoond was om haar te versorg en by te staan is daar skielik niks, ek sit net hier en staar voor my uit, le in die bed tot nege uur soggens, gaan stap nie meer , my golf stokke weggee, en net as hulle my soebat gaan jukskei speel.
November is daar toe 'n toernooi in Naboomspruit, hulle het my omgepraat om te speel omrede hulle 'n kaptein gekort het. Nou ja die een span teen wie ek toe speel het 'n dame as kaptein en haar naam is Alta. So met die speel vind haar geselskap nogal heel inteligent en etenstyd sit ons toe saam aan tafel en gesels nogals lekker. Ek was op daai stadium nog baie rou en hartseer, so my nie regtig aan haar gesteur nie.
Desember kom en ek besluit ek moet iets doen, hier sal ek sit en vrek. Spring in die Fiat en ry Weskaap toe, geen tyd beplan om terug te kom, nie regtig 'n roete beplan of niks nie. Net agter my neus aan gery.
Daai trip was toe een helse fout, niks so sleg as om alleen in 'n hotel te sit of alleen te gaan uiteet nie! Pragtige natuurskoon gesien.... maar mooi is ook net mooi as jy dit kan deel! So na 5 weke kom ek toe maar terug en sit maar weer op my stoep en vrek!
ek sal more of so verder vertel, nie meer gewoond om so aanmekaar te tik nie!
Dankie vir jou vertel tot…
Dankie vir jou vertel tot dusver Arie. Ons Kampforum-maters het net 'n klein bietjie kennis van wat jy (en Petra) deurgemaak het en nou voltooi jy die prentjie vir ons.
Ek sien ook uit na jou verdere vertelling, maar intussen is ek baie dankbaar dat jy die geleentheid kry om nou weer voluit te lewe.
Waar staan jou wa op die oomblik ?
Arie, ek is saam met jou bly…
Arie, ek is saam met jou bly dat jy weer iemand in jou lewe gekry het.
Dalk sien ons julee een van die dae.
Môre Arie, baie van ons lede…
Môre Arie, baie van ons lede het die voorreg gehad om vir Petra te kon ontmoed, ja sy was 'n positiewe mens. Jul verhouding was 'n voorbeeld vir baie.
Juis daarom, is ek en Bennanta, en duidelik ook forum lede, dankbaar dat jy weer 'n kans gegee is om geluk in die lewe te geniet, die mens is nie gebou vir alleen wees nie.
Moet nou net nie te vinnig vir Alta leer om alleen kamp op, en af te slaan terwyl sy vir jou ram en coke aandra nie, vat dit rustig, opleiding gee is harde werk en jy wil dit deuglik doen.
Arie ons is
Arie ja jy het n tyd deur gegaan wat ek niemand toe wens nie maar jy is daar deur en n nuwe lewens reis vir jou en Alta sopas begin sterkte ons wag vir jou volgende skrewe![]()
Ek dwaal nou af van my…
Ek dwaal nou af van my eintlike storie, maar na aanleiding van mense se antwoorde hier wil ek tog noem;
Ja Petra was 'n uitsonderlike mens, en niemand of niks sal ooit haar plek in my hart kan oorneem nie, ek het dit ook baie duidelik aan Alta so gestel en sy is gemaklik [?] daarmee.
Petra het van 1968 my bygestaan, sy was nie alleen 'n wonderlike minares nie maar een van die heel beste maats wat enige iemand ooit voor kan hoop! Eintlik nou dat ek daaraan dink is enige vrou wat so lank met my kan uithou besonders!
Ek het baie dinge in my lewe gedoen wat baie geld gekos het, en ook glo ek van Petra se lewenskwaliteit wegeneem het, maar sy het NOOIT my verwyt of gekla nie. Ek het twee keer in die 70 tigs my eie besigheid begin, altwee kere 'n hengse flop gewees, die eerste keer ons huis en alles verloor. ons het vir omtrent 6 maande nie 'n stukkie vleis in die huis gehad nie! Petra het in die aande vir ons mielie pap gemaak en dan Royco kits sop daar oor gegooi! Nooit ooit gekla nie altyd net gesmile en aangegaan.
Ek wou altyd resies jaag, het begin met motorfietse, mense dis 'n vrek duur sport, sy en die kinders wat nog pap babas was het elke wedren by my gewees. Sy het gehelp waar sy kon al was dit net om die bike te polish! Daai vuurvaste klere en die resies oorpakke kos 'n klein fortuin maar sy het van die kosgeld afgeknyp sodat ek dit kon koop. Ek het nooit regtig sukses daarmee behaal nie.
Skakel toe oor na enkelsitplek motor wedrenne, formule Ford, ook nooit regtig kon deurbreek na die groot manne nie. Toe sedan motores met 'n Renault Gordini, weer eens maar baie midelmatig, hier en daar 'n wen maar nooit regtig uitstaande nie!
Begin toe met boot wedrenne daar uiteindelik my forte gevind. Ook 'n klein fortuin gekos maar toe ek later saam met die groot manne kon meeding, kry ek toe vol sponsorship van Suzuki. Kry toe elke jaar 'n nuwe boot met enjin, mechanic om die boot te tune en instand te hou plus 'n salaris. Uiteindelik kon Petra haar geld vir haarself hou. Daar redelik suksesvol gewees, kompeterend en finansieel besonder goed gedoen. Ongelukig ook maar nie uitstaande, beste was tweede plek op die wereld kampioen skappe. Maar dit was lekker, het betaal geword om myself te geniet verskeie kere oorsee gaan deelneem en dit het my niks gekos nie. Daai tyd al by Absa gewerk en omdat ek nasionaal en internasionaal deelgeneem het, het ek spesiale verlof gekry, hoef nie my gewone verlof op te offer nie!
Alhoewel dit nie meer geld uit die huis uit geneem het nie, inteendeel was 'n grotewr ekstra inkomste as my Absa selaris, moes Petrea tog maar weer die spit afbyt. Ek was baie uithuisig, orals in die land deelgeneem en paar keer oorsee. Sy moes maar alleen die kinders versorg. Paar keer redelike groot ongelukke gehad waar ek redelik tyd in die hospitale deurgebring het en heelwat hulp by die huis nodig gehad terwyl ek aansterk.
Ek kan nie aan een enkele keer dink wat sy gekla of my verwyt het nie, inteendeel sy het my nog altyd bygestaan en ook aangemoedig!
Maar ja sy het die laaste tyd van haar lewe baie swaargekry en dit was vir my 'n voorreg om haar te kon bystaan en vertroetel, dit was nooit vir my 'n las of so iets nie!
Maar ja ek is die Vader baie dankbaar dat hy haar huis toe geneem het en verlos het van haar pyn en lyding, nie dat dit enigsins help met my seer en groot gemis nie. Ek was vir daai pragtige vroutjie ontsettend lief!!
Sal later verder vertel van Alta en ek, hier kom netnou twee couples koffie drink en Alta het vir ons lekker koek gebak. Vamiddag speel ons weer jukskei so my dag is vol
Nou ja, uiteindelik kan ek…
Nou ja, uiteindelik kan ek kom by die opskrif van die draad! Verskoon maar ek is soos 'n jong tiener laaitie met 'n kop vol muisneste en hormone wat my rondjaag!
Hier begn Feb sit ek toe maar weer op my stoep en suig aan my pyp en teug aan 'n laaang Red Hart en coke. Probeer sin maak van hoe nou, waarnatoe vorentoe? Wonder of ek nie maar die karavaan moet verkoop en in een van my huise gaan intrek nie. Wonder oor my bespreking vir die winter by Moreson, wonner ek so by myself of dit al die moeite werd is om soontoe te ry. Wat gaan ek daar maak ook maar so op my stoep sit en rook en drink!? Begin toe sommer wonder of dit enigsins die moeite werd is om so voort te karring!?
Skielik kom daar in my kop daai jukskei toernooi in Naboom laasjaar Nov. Ek onthou toe dat daar so meisietjie was wat nogals lekker kon gessels en [ja ek weet dit is vreemd vir 'n vrou] maar nogals so half intelegent kon gessels ook Hoe meer ek aan haar dink, hoe meer begin my hormone rond gallop, ek sweer ek het sommer puisies op my gesig begin kry!!!! Skielik kry ek so vreemde gevoel om my mond, skrik, ek dog ek kry 'n beroerte, maar dit is toe net 'n smile - iets wat ek maande laas gedoen het. Suig daai pyp laat dit lyk soos 'n ou stoomtrein, sien net rookbolle op die stoep.
Gryp die foon en begin op die jukskei klubs soek vir 'n Alta, ken glad nie haar van nie!! Gelukig is daar toe net een Alta wat 'n kaptein is - s9 dit moet sy wees!!! Tik en stoor die nommer op my foon en toe...... daar begewe my moed my mos heel en toetentaal!
Kyk julle moet nou mooi verstaan, die laaste keer wat ek 'n meisie op 'n date gevra het was erens in Augustes 1968!!! dit was Petra! Gelukig het sy dadelik ja gese.
Daar sit ek toe heel middag op die stoep en berei 'n speech voor om haar uit te vra. Ek moes seker 12 verskillende versions voorberei het! Toe ek na helse gesukkel op die regte een besluit toe is ek te bang om te bel!!! Volgende dag sit ek weer op die stoep met my pyp en die foon, geen rum, netnou ruik sy my asem oor die selfoon en dink ek is 'n alkie! Net toe ek genoeg moet bymekaar geskraap het om te bel toe wonder ek skielik, sy sal seker glad nie weet wie is Arie nie, wat laat my dink dat sy 3 maande later gaan onthou wie de joos Arie is?? Daar moet ek nou weer 'n speech uitwerk om te verduidelik presies wie ek nou eindelik is!! Drie uur daai midsdag het ek toe uiteindelik al my speeches mooi reg, ek behoort darem gesofistikeerd en redelik opgevoed klink, of altans so hoop ek!!
Right die oomblik breek aan, ek mos darem nie so bang nie!! Druk daai groen knoppie op die foon, ag magtag toe sy antwoord is al my speeches weg uit my kop uit!! Ek kry toe uiteindelik so tussen die gehakkel iets van jukskei - Arie, Naboom en koffie uit> Sal sy begin giggel en se sy is so bly ek het gebel, sy het gewonder of sy ooit weer van my sal hoor! Nou ja toe sy darem weet wie ek is raak ek toe sommer baie braaf, vra haar of sy my die eer sal aandoen om die volgende dag saam met my sal gaan koffie drink by die Koffiekan in Nylstroom, sonder om eers te aarsel se sy dit sal vreeslik lekker wees kom tel my so 10.30 op.
Woensdag oggend is ek al 5 vm op, twee keer gestort om seker te maak ek is goed skoon en dat daar geen reukie aan my is nie. So kwart voor nege in dorp toe na 'die enigste bloemiste in die dorp, hulle maak 9 vm oop, toe hulle die deure oopmaak toe koop ek twee dosyn rooi rose! Weer terug karavaan toe, en net om seker te maak gasan borsel ek maar weer my tande. Vat toe maar die pad, met die rose op die sitplek langs my, na haar toe, toe ek so naby kom sien ek ek gaan hopeloos te vroeg daar kom! Bang dat sy gaan kwaad wees as ek vroeg opdaag terwyl sy dalk nog regmaak, stop ek maar toe langs die pad, mense kyk daai was die langste 20 min om , omte kry!! Loop sulke kring om die Fiat, wat terloops gewad ne ge-polish is, binne silver skoon en gespuit met lekker ruik goed. nou stap ek so om en om die Fiat, ek vrek vir 'n rokie, maar my tande is vars geborsel en ek wil nie met 'n rook asem dar opdaag nie. My klere ook die vorige aand buite die tent gehang, net in geval daar nog so rook lugie aan hul kleef na die was en stryk!
Stop toe voor haar deur en klop presies 10,29 vm aan haar deur! Op pad Nylstroom toe vra sy of ek ophou rook het, sy kan onthou by die toernooi het elke moontlik kans gegryp om te gaan rook! Se nee maar dalk hou sy nie van rook nie, vertel sy my daar is vir haar niks so lekker soos die reuk van 'n pyp nie. Nou kyk ek is toe al sonder 'n rokie van omtrent 9 uur af, en alhoewel ek nooit in my voertuie rook nie, stop ek daai pyp , laat sak my venster en steek daai pyp aan dat die karre agter my moesd gedink het die bakkie het seker ringe gebreek soos hy rook!
Nou ja ons kliek toe so lekker dat ons van net na 11 tot 6 uur by daai Koffiekan sit en kuier het! Sommer middag ete daar ge-eet en toe sommer weer 'n vroee ligte dingetrjie voor ons toe maar verkas. Sal sy my toe vertel dat daai dag in Nov het sy aangetrooke gevoel tot my, en elke dag gewens het dat ek haar kontak. Sy het al my nommer ook opgesoek en op haar foon gesit, en gereken as ek teen einde Feb nog nie vir haar gebel het nie, sy my gaan bel! Go figure, en ek worry my alie af dat sy niks met sou wou te doen gehad het nie!
Nou ja die res is geskiedenis soos hulle se. Sal annerdag meer vertel oor ons onmiddelike planne, vir die toekoms.
Jong verliefdes
Ai, dis nou ‘n mooi verhaal! Soos die Engelse spreekwoord lui; The Lord works in mysterious ways. Nou maar vertel ons bietjie meer van haar; wat het sy vir ‘n lewe gedoen, het sy jonk afgetree, het sy kinders?
Dankie Arie ! Ek het nou…
Dankie Arie ! Ek het nou die dag gesê Kampforum is deesdae "boring", maar jy het nou skielik 'n ander perspektief na vore gebring !
Ons sal maar moet wag tot die volgende episode.
Arie dit is nou 'n lekker…
Arie dit is nou 'n lekker romanse, en as reel verkies ek om cowboy of speur verhale te lees, maar wraggies, hierdie een kon ek nie neer sit nie.![]()
Ons kyk uit vir die kamp stories (lees mane wales)![]()
Alta en ek Arie ...
Dankie vir die vertel ![]()
Wonder ook, kamp sy ook of bly sy daar in haar huis ?
Klein begin
Ek dink sy bly by Klein Begin
Dalk is dit net haar troetelnaam vir Oom Arie
Dalk is dit net haar…
Dalk is dit net haar troetelnaam vir Oom Arie
Chris, daar is so 'n plek naby waar Arie is. My broer is op die oomblik daar
Net gewonder....
Middag Stoffel
Ek het nogal my bedenkinge gehad oor hoe weet jy so baie van Arie se nuwe vriendin af![]()
Die ou donner laat ons lank…
Die ou donner laat ons lank wag vir die volgende episode van sy liefdesverhaal nê!!
Jis ou Arie - dit klink vir my só 'n bakgat verhaal. En ek is só bly dat dit blyk jy't weer geluk en liefde gevind. Soos Johann Lock hierbo gesê het, glo ek ook 'n mens is nie bedoel om alleen deur die lewe te gaan nie.





Ek luister graag Arie.
Ek luister graag Arie.