Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Ongeleesde insette Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -1 hour ago
Chris Kgalagadi Oktober 2026 Johann L -2 hours ago
Ons het so paar jaar gelede… Umfula Johann L -2 hours ago
(Nee wat ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -2 hours ago
Johan Umfula Johann L -2 hours ago
Wessel ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -2 hours ago

Alta ek en die toekoms

Waar my wa staan
Submitted by Arie on
Forums

Ja ek weet ek het baie lanklaas gesels hier op die forum. Ek glo dat omstandighede dit veroorsaak het!

Soos die ou manne hier weet het my vrou vir 11 jaar 'n stryd teen kanker gevoer. Die manne wat haar al ontmoet het weet ook dat sy altyd positief was en 'n smile op haar gesig gehad het.

Wat min mense weet is dat sy vir 10 jaar in helse pyn verkeer het, sy het 'n jaar na die kanker begin het 'n oop wond in haar lies gekry as gevolg van bestraling, die wond het tot met haar afsterwe nooit genees nie. Moes dit twee keer per dag ontsmet en skoon maak. As gevolg van die ligging van die wond kon dit nie verbind word nie, dus was dit altyd oop.

Sy het op die einde van die dag vier soorte kanker gehad, al die okoloe het gereken dit gebeur feitlik nooit nie! Daar is 30% van haar tong verwyder, haar tong was so kort dat sy  nie haar lippe kon nat lek nie. ek kan nie eers onthou hoeveel sessies chemo en bestraling sy al gehad het in die 11 jaar nie, as ek reg onthou het sy 9 operasies gehad.

Ondanks haar probleme wou sy nooit dat ons ophou kamp nie, sy het altyd gese dat sy liewer in 'n karavaan kamp siek is [waar sy heeldag mense om haar sien] as wat sy in ons huis gaan sit en niemand sien nie. 

Gelukig is daar in al ons groot stede baie en goeie privaat hospitale so sy kon orals behandeling van die hoogste gehalte kry. Shame sy het altyd skuldig gevoel oor die lang ure wat ek in spreekamers en hospitale moes sit en wag vir haar, alhoewel ek dit met plesier gedoen het sonder om daaroor te dink!Sy het ook baie skuldig gevoel oor die geld wat dit gekos het, alhoewel ons 'n baie goeie mediese fonds het, moes ons maar gereeld vir spesialiste ekstra betaal. Julle weet seker dit is niks snaaks om vir 'n narkotiseer en 'n spesialis sommer so R10 000 by te betaal boben behalwe wat die mediese fonds betaal. Ek was altyd maar net baie dankbaar dat ons dit kon bekostig!

Februarie 2020 was sy weer vir scans en sulke goed, en daar kry ons toe die goeie nuus dat sy vir die eerste keer heeltemaal skoon is, geen teken van enige kanker nerens nie!! ons was natuurlik uit ons velle van blydskap en het ons Vader alle dank en eer gegee. Maar toe kom die duiwel en befoeter alles. Daai lies wond raak septies, na hoeveel jare se mooi skoon hou. Twee operasies in een maand om die septisme te verwyder, en toe beging nimfklier vloeistof uit die wond uit stroom. Daar is sy toe permanent gekoppel aan 'n suig pomp om die vloeistof uit te suig. Ek het so klein hand karretjie gekry waar die pomp op pas en moes sy maar altyd die ding agter haar aansleep. Elke derde dag na die wond suster om die pype wat in die wond gaan te ontsmet en weer vas te sit, 'n helse pynlike proses. Na drie maande droog die wond op en kan sy van die pomp afgaan. Toe begin die wond bloei, weer 'n operasie om die aar binne te heg en die bloeding te stop.

Intussen het Sy so verswak dat sy nie meer kan loop nie. Koop toe vir haar 'n mobility scooter en kan sy darem so bietjie rondbeweeg. Pyn is vir die laaste jaar van sdo aard dat sy nie in die bed kan inkom of uitkom nie, ek moes haar help. As sy in die nag wou omdraai maak sy my wakker dat ek haar help omdraai. Steeds bly sy weier om na ons huis terug te trek!

 Nou ja die slagaar het met die wond wat nog steeds oop was en met al die gesukkel daar en die septisme, gebars en sy bloei toe deur die wond uit, binne 6 minute was alles oor!!

Julle kan seker verstaan dat ek in die laaste jaar nie lus was of tyd gehad het om op die forum te skryf nie!

Right dit net agtergrond wat my laat 'n nuwe dametjie in my lewe kry! Petra is op 12 Okt 2020 oorlede. Ek was platgeslaan, na ek so gewoond was om haar te versorg en by te staan is daar skielik niks, ek sit net hier en staar voor my uit, le in die bed tot nege uur soggens, gaan stap nie meer , my golf stokke weggee, en net as hulle my soebat gaan jukskei speel.

November is daar toe 'n toernooi in Naboomspruit, hulle het my omgepraat om te speel omrede hulle 'n kaptein gekort het. Nou ja die een span teen wie ek toe speel het 'n dame as kaptein en haar naam is Alta. So met die speel vind haar geselskap nogal heel inteligent en etenstyd sit ons toe saam aan tafel en gesels nogals lekker. Ek was op daai stadium nog baie rou en hartseer, so my nie regtig aan haar gesteur nie. 

Desember kom en ek besluit ek moet iets doen, hier sal ek sit en vrek. Spring in die Fiat en ry Weskaap toe, geen tyd beplan om terug te kom, nie regtig 'n roete beplan of niks nie. Net agter my neus aan gery.

Daai trip was toe een helse fout, niks so sleg as om alleen in 'n hotel te sit of alleen te gaan uiteet nie! Pragtige natuurskoon gesien.... maar mooi is ook net mooi as jy dit kan deel! So na 5 weke kom ek toe maar terug en sit maar weer op my stoep en vrek!

ek sal more of so verder vertel, nie meer gewoond om so aanmekaar te tik nie!

 

Waar my wa staan

Arie

Thu, 04/03/2021 - 21:05

Ai "OOM" Chris net toe ek vir jou voel oor jou Toy, toe lees ek van die "Ou Donner" Wens ek kan my skrywe op jou draad uitvee!!!devil

Nou ja, voor ek aangaan met ons toekoms drome eers 'n paar antwoorde;

Nee klein begin is nie 'n troetel naam vir my nie, laat my dink aan die hand rem storie - maar dan sou dit wees "Groot begin en Moewiese ge-eindig!"

Ja sy kamp op Kleinbegin, sy en haar man sou ook net begin permanent kamp en sou begin op Kleinbegin. So dit is eintlik so soort van pelgrims tog vir haar om nou daar te kamp. Hulle het altyd met tente gekamp wat sy vreeslik geniet het, maar sou die permanent ding met 'n karavaan doen.

Ek dink dit was wille brak wat meer wou weet oor Alta, Sy is nou al tweemaal 'n weduwee, ja ek weet dit klink erg en laat haar maar eers eet en drink van alles wat sy vir my maak!! Nee eerste man is in kar ongeluk oorlede, sy moes haar twee kelin kindertjies vir 9 jaar alleen groot maak! Seun en dogter, pragtige kinders en sy het twee kleindogters ook. so ek slaap al weer by 'n ouma!! Moet se daai experience werk hoor!! vra maar vir enige oupa hier wat by 'n ouma slaap!!

Tweede man is oorlede aan beroerte, so alles darem "above water!?" Uit die aard van die saak het ek geen idee van haar finansieele sake nie maar sy bederf my erg, dra aanmekaar biltong, sjokolade, koeksisters en dan omtren elke dag 'n bord gekookte kos vir my aan. Sy het baie goeie notas in haar kop geneem van waneer ons so in die algemeen sit en gesels. Sy het nog nooit vir my groente gemaak nie, want soos enige regdenkende mens weet is daai goed erg ongesond vir mens. Sy bring gereeld so liter lekker vars room hier aan om oor die bakke vrugteslaai wat sy vir my maak te gooi. My ontbyd begin altyd met 'n bord vol aarbeie en room, gevolg deur protiene [wat mens natuurlik broodnodig het] soos gebakte eiers bacon, en so skaaptjoppie of so. Koek is altyd sjokolade koek met opgeklitste vars room, so sy weet presies waarvan ek hou.

Nou ja terug na ons toekoms planne;

ek het laasjaar al soort van besluit om permanent hier op Shammah nes te skop, kon net nie die lus kry om weer te sleep en so aan nie. Met die eienaar gepraat en hy het toestemming gegee dat ek permanent mag staan, solank my plek maar nog altyd soos 'n kamp plek lyk. nie semi permanente strukture opsit, silver seile oor alles trek wat dan later afskilfer en die plek soos 'n plakkers kamp laat lyk nie! Geen probleem met my nie, ek kan daai ouens ook nie verdra nie, o ja en geen tuin maak, wat my ook soos 'n handskoen pas. Ek was van plan om op die staanplek waar ek was te bly staan. so maand later kom die bestuurder se vrou na my en sy die heel beste staanplek gaan oopkom ek moet soontoe trek. Ek weier toe want dit is juis die opak en afpak wat ek nie wou doen nie! Ek meen ek het dit nog nooit gedoen nie, dit wads immers Petra se werk terwyl ek sorg vir ons land se ekonomie en julle ouens se belasting laer te hou. Met al die rum en tabak wat ek maandeliks verorber, maak dit 'n hengse duik in die land se werkloosheid om nie eers te praat van al die aksyns belasting wat ek betaal nie!

Elk geval sy gee my toe twee dae om te besin, maar vra my om vir enige iemand wat vra te noem dat my naam al lank op die waglys is vir die staanplek! ek het nie eers geweet daar is 'n waglys vir die plek nie! Elk geval ek gee toe maar in en daai einde van die maand daag sy haar man en al die swart werkers daar by my op, man voor ek behoorlik tot verhaal kom kom staan my wa level en opgelyn met tent opgeslaan en alles uitgepak op die nuwe plek. Magties Petra kon lesse neem by hulle, maar ek wil nou maar vir Alta stuur vir so paar lesse! Kyk ek het nou 'n droom plek, dit is toe met die bome voor my, hulle vorm heeltemaal 'n dak, en daar sit ek nou heeldag in plaas van op die stoep, weet nie meer van warm kry nie. Probleem is net ek het nou heeldag kuier mense, sodra dit te warm word kom hulle oor hier na toe! My bier rekening het vir vierdubbel en ek drink nie eers bier nie! Nou kyk hier roer ek nie weer my wa nie, dink selfs daaraan om die wielle af te haal, ek glo as ek hier beweeg is die volgende wa direk hier in. O ja die staanplek het selfs sy Frenc Drain vir die grys water!!!

Anyhow, die plan was ek sal maar so op my se eie met 'n tent kort kort wegbreek en erens gaan kamp, na die Kaap trip twyfel ek of dit sou gebeur, ek dink ek sou maar hier sit en krepeer!

Nou ja gelukig het ek nou die jong meisietjie wat mal is oor tent kamp, sy kom laas week hier aan met 'n amper nuwe Town en Country 6 vt sleewa, vol gepak met groot ordentlike tent, Tentco se dinning Gazebo, een van daai konsertina gazebos, stretchers beddens stoele ketels potte panne en breek ware, alles wat mens kan nodig kry. die idee is dat die wa gepak bly en as ons skielik lus is vir 'n wegbreek gooi ons net kos, klere rook goed en rum in en ry!Ek mag ook glad nie praat van haar wa nie! Dit is of ons wa of die wa!

Voordeel is naturlik dat ons nou weerRichetersveld, Kosi , botswana en sulke plekke kan gaan!! Sal kyk hoe werk dit, as dit dalk, ek twyfel te ongemaklik vir die ou man is sal ek dalk 'n boswa koop, sal maar sien, tyd sal leer.

Ons ry Maandag Mabelingwe toe, kyk of ons 'n vinnige trippie Kosi kan inwerk en dan die winter vir twee of drie maande Moreson toe - vlug vir die koue! Dan hopelik Mama Pools toe. Ons sal dan die Penta hier by Shammah los en dit as ons "huis" gebruik! Ja dit behoort dan 2021 vol te maak, volgende jaar sal ons nog later oor beplan.

Ek weet net ek is weer mens en baie gelukig, ek lag en maak weer grappe en is weer lus vir die lewe!! Ek word tot in die afgrond bederf, moet net lyk of ek my boude wi8l lig dan is sy op en vra wat wil ek he! Ek het 'n vermoede sy werk aan 'n plan waar sy vir my kan gaan piepie, dan hoef ek dit ook nie meer te doen nie!!!

Nou ja genoeg vir eers. Ek wonder hoeveel van julle manne hier het al die ["dubious"] vooreg gehad om te gaan kinders vra? die meeste, indien nie almal moes seker een of ander tyd al ouers vra? Laat ek julle vertel, kinders vra is nou weer 'n heel ander storie hoor! Twee agter die rug en nog twee om te gaan, maar meer hier oor op 'n volgende keer!!

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Thu, 04/03/2021 - 22:46

Hierdie is nou sowaar 'n kampstorie van 'n heel ander aard  en dit bewys maar net weer 'n tentpen kan tog weer anders ingeslaan word !

0
Waar my wa staan

Arie

Fri, 05/03/2021 - 07:54

Len ja, die jong manne kan by ons ou toppies kom leer van presies hoeveel maniere dasr is om ń pen in te slasn. Natuurlik van uiterse belang is die tegniek, mens doen dit met finesse en geduld. Uiters belangrik ook om die tent pen se behoeftes altyd voorop te stel!

Die jong manne bessef nie altyd die belangrikheid van geduld nie, wil alles so vinnig as moontlik klaarkry sodat hulle kan gaan slaap! Hul bessef nie as mens eers daai pen seergemaak het kan jy dit nooit weer gebruik nie nie, ń gebuigde pen kan jy maar rwguit buig, maar hy buig maar weer die eerste keer ad die hammer hom tref.

Met geduld, oorleg en liefde kan mens jare se plesier uit daai pen kry!!

Mens kan boekdele skryf oor tent penne inslaan, om nie eers te praat van tent opslaan nie.

Chris nee wat ek het nog baie "stories" hier in my kop!

Soos altyd is al my stories die waarheid, ek kleur dit maar net so bietjie in om dit op te kikker, so ja daar is heelwat versinsel by maar die ketn is altyd ware gebeurtenisse!

Ek geniet dit weer om te skryf! Ek het in my loopbaan baie handleidings, verhandelings en lesings geskryf. Daai goed was uiteraard vrek droog en tegnies, maar srlfs daar het ek maar altyd my bes gedoen om so tikkie humor in te bring. Wat is die lewe as mens nie kan lag nie?

Ek is nogal lief pm maar so effens pnder die belt te skryf, maar probeer wegbly van kru beskrywings. Ek haat vloekery en kru taal gebruik. Dit is hoekom ek so min van meeste van vandag se " standup comedians" respekteer. Dit wil my voorkpm of mense vandag glo dat iets net snaaks is as daar baie kru taal en hope vloekwoorde in is!

Ja ek het vir ń bair lang tyd " Writters block" gehad, vetmoedelik maar weens die pmstandighede by die huis.

Ek moes my menige dag vir al die laaste 18 maande of so maar hard asnspreek elke dag, om masr ń glimlah op my gesig te sit. Petra het skuldig genoeg gevoel omdat sy geglo het dat sy my last swasr kry. Dus het masr nog gelag gemask of ek glad nie moeg is nie en nog steeds vol lewenslus was. Glo nie ek het haar ooit geflous nie, mast wil tog glo dit het hast gehelp?

Ek het spmmer net op ń oggend so week of so terug met talle stories in my kop, en die lus pm te skryf.

Ongelukkig is my dae nou so vol dat ek mast min tyd vir skryf het.

Ironies so ruk terug was ek petmanent moeg van spanning en besig bly met versorging, nou is ek petmanent moeg van heeldag jol, rondloop, dans en al dasi lekker goed!

Nooit geweet mens kan dans onfiks raak nie, magties my tong hang soms uit en ek kry hartkloppings ns ń uurtjie se lewendige dansery!!

Ja die lewe is bair goed vur my, en ek is my Hemelse Vader baie dankbaar daarvoor!

Dam lyk my ek begin nou " Verbal diaree" kry?

0
Waar my wa staan

Arie

Fri, 05/03/2021 - 08:19

So gepraat van humor; ek moes eendag ń stuk skryf oor kliente diens;

By die gedeelte oor hoe belangrik ń glimlag en die klient bedank vir sy gebruik van jou diens gebruik ek toe die voorbeeld van die ontvangs dame by die saadbank (Sperm bank)

Sy het altyd as die mans klaar hul " deposito" gemaak het hul vriendelik bedank as hulle op pad uit is.

" Thank you for comming, please come again soon!"

Daar was so klomp suur ou omies en tannies in die bank wat erg onsteld was oor die sinnetjie in my skrywe. Aangedring dat ek dit moes verwyder, wat ek geweier het! Later uitgekom dat die personerl dit geniet het en geen aanstoot geneem het nie! Dit het hul wel help onthou om altyd die klient hartelik te bedank vir sy ondersteuning!

0
Vaalpark

Johann L

Fri, 05/03/2021 - 08:21

Arie, niks fout met jou "verbal diarrhea" nie, ons almal, glo ek, geniet almal se vertelings, veral die humoristiese stories.

Ek self raak ook soms weg hier, ja selfs pensionariste kan soms te besig raak vir gesêls.laugh

0
Waar my wa staan

Arie

Fri, 05/03/2021 - 21:44

Nou ja soos beloof, die ding van kinders vra teenoor ouers vra!!

Kyk as julle ding ouers vra was senutetrgend, dan weet julle nog nie wat senuwees is nie!! Ek het my kinders en skoonkinders, assook die twee ouer kleindogters [16 en 19] vertel. Almal behalwe my dogter het dit orraait gevat. My dogter en ek het 'n lang gesprek gehad, en sy het my vertel dat sy bly is vir my en dat sy my gelukig wil sien..... MAAR sy is glad nie reg om my saam met Alta te sien nie! Die kleindogters het omtren ook so gevoel! Ek het vir my kinders verduidelik dat ek darem al oud genoeg is om my eie besluite te maak - maar dat ek tog graag hulle blessing sou wou kry!

Gister 'n foon oproep van my dogter gekry en sy reken toe sy is nou reg om Alta te ontmoet. Dus gaan ons Volgende Sondag as ons terug is van Mabalingwe daar by hulle braai. Die twee dogters - oupa se oogappels is ook reg om haar te ontmoet!

Alta se kinders was direk reg om my te ontmoet, of sal ek liewer se, onder kruis verhoor te neem!!

Ek moes omtrent 'n CV [nee man nie die goed wat op 'n kar se vooras is met voorwiel aandrywing nie, daai ander tipe met so lang Franse naam] opstel met my ID en als. Die ID is blykbaar om 'n polisie ondersoek op my te doen!? Kyk of ek dalk 'n reeks verkragter, of swendelaar is en al sulke lelike goed. Kyk daai kinders en veral die seun is hengse beskermend teenoor hul mamma, ongelooflik. Nou ja sotwee weke terug keur hulle toe dat ek hul persoonlik mag gaan sien, dit is dan nou sommer om persoonliksheids toetse en leun verklikers en sulke goed te doen! Wens ek van al daai goed geweet toe my skoonseun my vir my onskuldige ou dogtertjie so 21 jaar terug kom vra het!!

Dus val ek en Petra maar vroeg daai Sondag oggend in die pad Brits toe, dit is waar die seun bly, ek is gespit en polish, tot my hare laat sny en my neus hare getrim! Die seun en sy lewensmaat het dit goed gedink dat ek hulle op neutrale grond moet ontmoet. Kan nie die plek se naam onthou nie, maar glo Wessel sal weet. Dit is nogal 'n smarterige plek met perde stalle en bane waar hulle perde vertonings hou. 

Ontmoet toe die kinders daar by die restaurant reg langs die perde baan.  Ek het 'n sterk vermoede gehad dat die man dit nie by sy huis wou he nie, net ingeval hy my dalk wil slaan en hy wou seker nie bloed op sy matte he nie? Ek besluit toe maar, net ingeval die my laaste maaltyd ma wees om maar die duurste gereg op die spyskaart te bestel. Kyk sal die mannetjie my nie daar aan tafel deeglik ondervra, kort van 'n body search gestop! Ek het darem so half begin moed skep toe hy op 'n stadium te vertelle het dat hy lanklaas sy ma so gelukig gesien het. Alhoewel hy nooit gese het dat ek die toetse deurgekom het, het ek so aangeneem toe hy daarp aandring dat hy vir die ete sal betaal.

Van daar af toe deur Pretoria to om dogter en skoonseun met die twee kleindogter te ontmoet. Die twee dogtertjies het ek geweet ek het in de sak toe ek vir hulle die lekkergoed gee wat ek vir hulle gekoop het, en altwee gee toe vir "oupa" 'n drukkie! 

Skoonseun was ek maar lugtig voor, net so lank soos ek maar seker maklik 3 keer my size!! Ek het maar baie mooi met die ou gepraat, dogter was sommer van die begin af orraait, en veral toe sy my liefling sjokolade koek uithaal met vars room, toe weet ek sy is aan my kant.

Skoonseun en ek het karre en 4x4's gepraat, iets wat hy baie in belang stel so dit het toe ek lekker gevlot. Ongelukig ry die man 'n Nissan Patrol en sy vrou 'n Nissan Navarra!!angry

Ek het maar my gesonde verstand weerhou om vir die man te verduidelik dat hulle maar uiters swak kennis van 4x4's het gesien aan die keuse van rygoed. Ek sal maar heel wat later, dalk so oor 5 jaar of meer aan hulle verduidelik dat hulle die pad heel byster geraak het toe hulle daai goed gekoop het. Nou nie gedink daai dag was die regte tyd om hulle reg te help nie, al wou ek hoe graag vir hulle my profesionelle kennis van voertuie uit te lig!

Maar intussen gaan ons nou 'n week uitspan en lekker rus by Mabalingwe, Len Alta het belowe sy sal fotos neem vir die forum!! Dan is dit Pta toe dat sy die vuurdoop by my dogter hulle kan deurgaan. Lekker om haar vir 'n slag te sien bloedsweet! Al klaar gereel dat die hare Volgende Saterdag gedoen word, blykbaar moet sy ook 'n pedi, mani cure en facial daai dag kry anders is sy dan glo nie vertoonwaardig vir my dogter nie?! Ja ek weet ons mans is nie so belalglik nie, dit is maar 'n vroue ding, net hulle sal weet hoekom sulke goed noodsaaklik is. Ja en dan moet daar nuwe bloes, lang broek en skoene gekoop word, my dogter mag haar blykbaar nie sien in klere wat sy al voorheen gedra het nie??

As dit agter die rug is moet daar nog in Maart Krugersdorp toe gery word om my seun te ontmoet, seker weer hare, mani, pedi facial en nuwe klere!?

Dan... as dit nou alles agter die rug is kom die volgende stap, al die kinders moet dan weer ingelig word dat sy nou by my gaan intrek!! Dit is gelukig nog so entjie weg. 

Ander is wat meeste mense sommer glo slaap ons nie bymekaar nie! Sy is 'n ordentlike vrou en klim nie sommer met die eerste ou in die bed nie! Ek is ook maar so half ordentlikerig opgebring  en glo ook nie aan sulke losbandigheid nie, om die waarheid te se, ek is eintlik so half skrikerig ook, Julle moet weet, dat alhoewel ek goed rond gejol het, en baie " Wild oats gesow" het voor ek Petra ontmoet het in 1968, was ek nog nooit weer by 'n ander vrou nie. Ek is eintlik maar baie outyds wat sulke goed betref!! Ek maak nog al die jare die kar deur oop vir 'n vrou, staan op as 'n vrou die kamer inkom, staan op in 'n restaurant as enige vrou aan my tafel opstaan en kleed kamer toe gaan, staan weer op as hulle terugkom en al die ou outydse  [vir my] mooi etiket en respek teenoor 'n vrou.

Dit is die een ding wat vir my baie swaar afgaan, die wat sy vir my goedkoop en kos aandra, ek wil aanmekaar vir haar geld terug gee! Ek is glad nie gewoond dat 'n vrou vir my goed betaal nie! Die ouer manne hier sal onthou dat hier in die sestiger jare was daar nooit sprake dat 'n meisie vir iets betaal of bydra tot die kostes nie. Al die jare wat ek getroud was em Petra uit die huis uit gewerk het [ wat nie baie was nie, sy ophou werk toe ons eerste kind in 1973 gebore is en het eers weer begin werk toe die jongste hoerskool toe gaan. In 1994 het sy heeltemaal ophou werk en haar dae in die wiklels gym en sulke plekke deurgebring. ek het nooit enige bydrae van haar salaris geneem nie, ek het selfs vir haar 'n persoonlike toelaag gegee wat sy net vir haarself kon gebruik. Haar salaris het sy maar elke maand belle en toe sy ophou werk het ons dir in 'n trustfonds vir ons kleinkinders gesit. Dit is maar hoe ek in die huis geleer was deur my pa, hy het ons gereeld vertel hoe 'n man 'n vrou moet behandel en dat 'n man nooit sal toelaat dat 'n vrou hom finansieel moet help nie. So julle kan seker verstaan hoe moeilik dit is om te aanvaar dat sy sekere goed wil betaal of dan help betaal. Ek het baie oor daai teerpuntjie sit en dink, en aanvaar dit maar, want ek kom agter sy wil graag haar kant vook bring! Ek glo natuurlik sy bring haar kant deur vir my te sorg met kos maak en my plek skoon en netjies te hou!? Maar ja ek het aanvaar dat verskillende mense verskilende sienings het, en ek het al lankal geleer dat my sienings nie noodwendig reg is nie!!

Behalwe natuurlik my siening dat daar nie 'n beter voertuig as FORD is nie! Ai tog en sy ry 'n Opel, maar ja ek is groot genoeg om mense maar hul mistastings te vergewe en kyk maar verby die kar. Sit natuurlik glad nie my voete in daai kar nie, en as sy praat oor haar "lekker" karetjie dan smile ek maar net en se maar niks nie!

Ons het die naweek wat voorle baie goeidjies beplan so ek sal seker maar vir 'n rukkie weer stil raak hier, Sal wel aangaan met my storetjie op 'n stadium!

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 05/03/2021 - 22:31

Ag nee man Arie, daar bedonner jy nou sommer 'n mooi, lekker lees storie met jou opmerkings oor Nissan-produkte.

Ek is bly jy raak nou vir 'n rukkie stil sodat jy weer jou ou self kan wees.

Ns. Ek het eers geskryf......."sodat jy weer jou varkies op hok kan kry" maar toe besluit dis darem nie mooi om dit so te stel nie  -  en toe wysig ek die sinnetjie.

0
Waar my wa staan

Arie

Sat, 06/03/2021 - 06:47

Len julle moet maar my aanmerkings oor motor fabrikante met ń groot sak sout neem!

Ek wat altyd so oor Ford praat het 15 jaar laas self ń Ford besit!!

Maar ek bessef ook sat jy my ken en die gespot oor karre nie ernstig opneem nie!!devil

Ek is masr soos meeste mense en glo dat die beste motor een is wat klaar betaal is !

0
Vaalpark

Johann L

Sat, 06/03/2021 - 07:29

Ja swaer, is swaar swaer.

Die dag wat Arie ophou "skoor" soek, sal 'n jammer dag wees, jy bring lewe in die "saai" lewe van ons klomp "ou mense"wink

Arie julle moet Mabalingwe geniet, hoop net die Fiat kry julle daar, ek sou veel eerder met die Opel ry, my Opel Corsa bring my waar ek wil wees, sonder veel problemelaugh

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus