6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Hennie Botha Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -1 hour ago
Privaat boodskap Forum Herstel en terugvoering Geert -3 hours ago
Plaveisel Olifants River Lodge Geert -5 hours ago
vars terugvoer?? Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -10 hours ago
7 Oktober Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -11 hours ago
Dis erg! Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -11 hours ago

Kan volstruise vleig

Durban
Submitted by dassie on
Forums

Die storie gaan so. Oom Flip van die plaas onder die berg het eendag besluit om ’n paar volstruise aan te skaf om te help met die jakkalse. Sy skape word mos so weggedra saans. Hy reken toe dat ’n volstruis mos maar min vreet. Eindelik amper net klippe soos dit vir hom klink. En dan kan mens geld maak met die kleintjies. Dit maak vir hom toe sin. Sy seun wou toe ook ’n mak volstruis kry vir sy verjaarsdag en Flip gee toe vir hom een van die baba volstruise. ’n Mannetjie volstruis. Oom Flip reken toe mos die volstruis raak soos ’n hanslam grootgemaak. So uit die hand uit om die huis rond.

 

Daar was aan die begin maar probleme met die drie werf foksterriërs. Die foksterriërs het nie aanklank gevind met die nuweling nie. Hulle het hom na die beste van hul vermoë geterroriseer. Die arme volstruis is in hinderlaag na hinderlaag betrap en dag na dag was dit volstruis voor en foksterriërs op sy hakke om die huis. Die arme volstruis is van kleins af geleer om vinnig te wees. Vinnig en rats. So word hy toe groter en vinniger. Flip vertel toe dat daardie volstruis so vinnig was dat hy partykeer sonder sy skaduwee om die hoek van die huis gekom het. Hy kon deur die groentetuin se sproei stelsel hardloop sonder om nat te word.

 

Later was die spelery vir die foksterriërs nie meer so opwindend nie. Hulle het mooi geleer dat hulle nooit daardie langbeen hoender gaan vang nie. So begin hulle die volstruis ignoreer. En die volstruis mis die speletjie ook.  So begin hy toe sy eie speletjie. Elke oggend wag hy om die hoek van die huis. Tussen die foksterriërs en hul kosbakke. As hy dan hoor hulle kom blaffend aangehardloop kosbakke toe storm hy om die hoek deur die klomp foksterriërs en veroorsaak chaos. Die foksterriërs spat uitmekaar en rol die kant toe en daardie kant toe. Teen die tyd wat hulle weet wat aangaan is die volstruis al om die hoek.

 

En die foksterriërs is nie so aanpasbaar soos die volstruis gewees nie. Elke dag is dit dieselfde storie. Hulle hardloop kosbakke toe en dan storm die volstruis om die hoek tussen hulle deur. Dag na dag. Nou een aand kry ou Flip toe ’n oproep van Gert Vogel af. Gert Vogel het ’n jagplaas so paar kilometer vêrder langs die berg afgehad. Hy wil weet of Flip hom met die trekker kan kom sleep. Sy bakkie het gebreek en dit was te laat om verder te ry. Oom Flip is daar weg met sy Volvo trekker en het Gert gaan haak. Daar gekom sien hy dat Gert ’n groot krat agterop die bakkie se sleepwa het. Dit blyk toe ’n leeumannetjie te wees wat hy op die wildveiling gekoop het. So om sy jagplaas bietjie op te kikker. Hy is so trots op die mannetjie. Flip was bietjie bekommerd oor die bou kwaliteit van die hout hok maar Gert het so slag of wat op die kant geklap om te wys die hok is sterk.

 

Binne die hok was daar so diep grom geluid. Gert het beduie die leeu is onder verdowing vir die rit en hulle hoef hulle nie oor die leeu te bekommer nie. Hulle los hom sommer op die sleepwa agter die skuur. Die hok het so groot staalpen gehad waarmee hy toegemaak is. Flip wou nog voorstel hulle sit ’n slot op maar Gert wou nie daarvan hoor nie. Wie sal nou ’n leeu wil steel ?

 

Daardie volgende oggend begin alles mooi op die werf. Die haan kraai. Jafta kom met die melkkanne aan om te loop melk. Die foksterriërs blaf vir hom. Die volstruis stel sy lokval om die hoek van die plaashuis.  

Jafta sien sommer dadelik die groot houtkrat wat nie gesluit is nie. En sy nuuskierigheid kry die oorhand.  Hy gooi die kanne langs die wa neer en hoor nie die gegrom daarbinne nie. Die foksterriërs spring op en af en blaf asof hulle lewens daarvan afhang. Jafta pluk die staalpen uit die hok en maak die deur oop. Toe Jafta daar inloer kyk hy in die verskriklikste ding vas wat hy nog in sy hele lewe gesien het.

 

Sy lewe speel voor hom af in stadige aksie want Jafta was nog nooit baie haastig nie. En toe daardie leeu brul, toe raak die stresvlak vir Jafta te veel en hy val agteroor. Uit soos ’n kers. Staalpen nog in sy hand. Daardie leeu vlieg uit daardie hok uit en sien Jafta nie eers raak nie. Hy sien foksterriërs. Blaffende foksterriërs. Irriterende foksterriërs. En hy pyl reguit op hulle af. Brullend. Daardie foksterriërs het besef hierdie is nie ’n volstruis nie. Hierdie is iets veel ergers en het die hasepad gekies. Huis toe. Veiligheid  toe.

 

Flip sê hy en Gert het nog koffie gedrink toe hulle die brul en die hond se tjanke hoor. Toe hulle op die stoep kom, kom die foksterriërs ook om die hoek, teen ’n snelheid wat nie goed vir hulle was nie.  Dit is ook hier waar die volstruis in die prentjie kom. Al sy aandag op die foksterriërs gespits. Hy hardloop deur die foksterriërs en jy sien net honde trek. Een is deur die groentetuin. Een is tussen die kaktus laning in. Die ander een het sommer daar opgegee met die lewe en sy lot aanvaar en het met ’n boog teen die hoek van die huis neergeslaan en bewend daar bly lê.

 

Dit is ook hier op die hoek van die huis waar die leeumannetjie en die volstruis mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet. En Flip sê hy het nog nooit so iets gesien nie. Daardie leeumannetjie het stilgehou dat die stof staan en die volstruis het agteroor gelê en in trurat begin retireer terwyl hy nog vorentoe op pad leeu toe was. Toe daardie volstruis nou tot ’n semi stilstand kom was hy so halwe sentimeter van die leeu se gevaar kant af. Nou ’n volstruis het groot uitpeuloë, maar daardie dag het hulle so gerek, die kante het aanmekaar geraak. En toe daardie leeu hap, toe hap hy lug want die volstruis was weg. Op pad draad toe. Daardie draad was so by die drie meter hoog maar daardie volstruis is met ’n geklap van vlerke daar oor en het eers so dertig meter anderkant die draad grondgevat.

 

Dit is toe ook nog nie waar hy gesien het dat ’n volstruis kan vlieg nie. Nee, eers later het hy gesien volstruise kan vlieg.  Teen die tyd wou die manne weet hoe het hulle die leeu gevang gekry. Nee, dit was maklik het Flip vertel. Noudat die volstruis mos so baie klippe kou deur die dag was sy maag mos vol klippe. Toe hy nou daardie leeu op die hoek ontmoet toe het hy so met die omdraai en weghol besef hy moet van die oortollige gewig in sy maag ontslae raak. En dit is toe een van hierdie uitskot klippe wat die leeu mos mooi voor die kop tref en die leeu het net daar bly lê. Uit soos ’n kers.

 

Nou wou die ouens weet van die volstruis. Nee, vertel Flip. Toe hulle nou die leeu eindelik in die krat toe het en Jafta wakker gekry het, het hulle die volstruis gaan soek. En hulle kry hom toe daar in ’n bloekomboom. So tien meter bokant die grond waar hy steeds met uitpeuloë gesit en bewe het. En dit is toe dat hy besef dat volstruise kan vlieg. Hulle moet net nie met ‘n maag vol klippe sit nie.

 

 

Port Elizabeth

Frieps

Sat, 13/05/2017 - 15:24

Ek dink selfs ek sou kon vlieg oor daai heining as 'n leeu op my afkom!!  Lekker storie, Dassie.yes

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus