Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Len... Len gaan weer Kruger Wildtuin… Wessel Strydom -6 minutes ago
groen Kgalagadi... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -3 hours ago
Mata Mata Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -3 hours ago
Etoll Voertuiglisensie Geert -4 hours ago
Die Auobrivier Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -4 hours ago
Voortrekkery Voertuiglisensie Rona du Plessis -5 hours ago

Februarie 2025

Brits
Submitted by Wessel Strydom on
Forums

Middag vriende, daar het die 2de maand van die jaar aangebreek. In Brits met erge hitte die afgelope week en min reën.

Ek troos my daaraan dat ons volgende week in DA-land is. Hopenlik kan die Kapenaars toutjies trek vir lekker koel weer terwyl ons daar is.

Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Wed, 12/02/2025 - 07:16

Gisteraand, nadat ek Chris B se inset gelees het van die tyd wat ons twee ook inhaal, dat ons bietjie meer moet rondloop. 

En net daar praat ons van ń Kalaghadi trip. Wel, daar is net mooi niks beskikbaar vir die jaar nie, dalk 5 agtereenvolgende dae in Twee Rivieren in September. Ons wil graag in Mata Mata en Nossob ook oorbly, maar net mooi niks. 

Behalwe dat die akkomodasie als opgeneem is, beteken dit nog iets wat my pla, die Park gaan ń absolute miernes van bedrywigheid wees. Daar is eintlik net 2 roetes om te ry. Konfooi ry en gepaardgaande verkeersknope..... Dalk moet ons maar eerder die gedagte laat verbygaan en vergeet van Kalaghadi vir die toekoms.

Dalk is blomme kyk saam klomp oumense in ń bus die voorland. Terrible om so te dink.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Wed, 12/02/2025 - 08:27

Ek het op hierdie blog afgekom wat lekker reisverhale en foto’s het van ‘n afgetrede paartjie wat in Struisbaai woon en met ‘n Gecko toer. Bietjie inspirasie vir Oom Neef vir sy volgende toer Kgalagadi toe. Moenie moed opgee nie - bespreek net ‘n jaar vooruit. Selfs tydens die besigste tyd is daar darem nie toue karre in Kgalagadi nie, daar is te min verblyf. 

0
Irene
Profile picture for user Grootwind

Grootwind

Wed, 12/02/2025 - 09:26

Daar is 'n insiggewende artikel deur Andre Pienaar in vanoggend se Maroela Media getiteld "Suid Afrika steek Amerika se rooi lyne oor". Wil voorkom asof ons groter probleme het wat oppad is....selfs al is net 'n deel van wat Pienaar skryf waar. Waar Trump voorheen in sy eerste termyn geneig was om wilde stellings en dreigemente te maak wat daarna wegkwyn hy dieselfde neiging toon het maar hierdie keer byna elke dreigement wat hy maak wel uitvoer, hy het duidelik 'n wonderlike stuk gereedskap ontdek genaamd "Executive Orders" wat hom toelaat om byna enigiets te doen ongeag of sy Kongres of Senaat saamstem of nie.

 

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Wed, 12/02/2025 - 17:08

Toemaar, die Kgalagadi oorgrens Park word so gespel. Van die ander ?? mense spreek dit uit Kaalaghaadie,  met so effe van ń " guttural" klank op die gh" in die ghadi. En dan die Kalahari wat seker ń gebiedsnaam is ??

Vandag was dit hier net so warm soos dit kan word daar in die Kalahari, plek van droogte, as neef reg onthou.

Oor die DRK en ons soldate wat glo versterk is met nog ń paar honderd, hopelik nou spes magte, skud ek ook maar my kop en vra , waarom??. Is daar dalk stukkie waarheid in dat van ons politici , bedoelende nou die "Elite" manne met goeie contacts, belange het daar?

Waar daar ń rokie is, is daar ń vuurtjie.

En dan dat Afriforum agter die Trump manewales sit ook nog. Wat moet mens deedae glo?? 

0
Brackenfell

HennieBo

Thu, 13/02/2025 - 07:14

Oor die DRK en ons soldate wat glo versterk is met nog ń paar honderd, hopelik nou spes magte, skud ek ook maar my kop en vra , waarom??. Is daar dalk stukkie waarheid in dat van ons politici , bedoelende nou die "Elite" manne met goeie contacts, belange het daar?

Ek sê ook dat daar belange beskerm word.

Jy noem ook hopenlik spes magte. Herman, ons spesmagte se uitsluitlike doel was nog altyd om "recce" te doen op plekke wat aangeval of opgeblaas moet word en indien hulle moes, dan uit sekere situasies te kan kom. Baie goeie soldate maar nie die tipiese "grensvegters" wat jy in kroeë kry nie. Ons grootste eenmalige verliese van destyds (Eheke) was juis omdat hulle verkeerdelik aangewend was en die oormag te groot was. Daarvoor was 32 Bataljon en dan meestal Infanterie eenhede gebruik, wat natuurlik valskermsoldate ook insluit. Valskermsoldate het ook maar Infanterie opleiding gehad met addisionele kwalifikasies van valskerm spring.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 13/02/2025 - 08:03

Ek wil nou nie soos ‘n gekrapte plaat klink nie, maar hier het ‘n redelike stilte neergesak oor die forum. 
 

Wanneer gaan iemand weer kampeer, sodat ons wat vir eers gestrand is kan saamlees aan hulle voorbereidings en avonture?
 

Die Smalle gaan eers DV 21 Maart weer haak en dan sleep Moon river boskamp toe. Voor dit kan gebeur moet ek ook nog vir mamma sê daarvan. Daar is nie elektrisiteit nie maar darem lopende fonteinwater. Ek glo darem nie sy sal kapsie maak nie. Tsendze se geriewe is net ‘n bietjie meer luuks. Sy sal ook hou van die bad by Moon river. Ek kan nie glo ek moet nog so lank wag voor ons kan gaan kampeer nie. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 13/02/2025 - 11:26

... hierdie outoppie vertrek volgende Saterdag Hentiesbaai toe vir 2 weke. Die finale voorbereidings is in alle erns aan die gang. Ons (my seun, twee van sy vriende en ek) beplan om 04:00 in die pad te val. Die sirkus-Hilux (wit, swart en rooi Gazoo Racing) word Vrydagmiddag gepak en ek slaap Vrydagaand (vir 'n kort naggie) by my seun in Grabouw. Die eienaar van die sirkus-Hilux woon in Somerset-Wes waar ons hom Saterdagoggend by sy huis kry.

Ons eerste bestemming is Grünau waar ons by Grünau Chalets oornag. Die volgende dag ry ons tot Windhoek, waar ons by Arebbusch Lodge oornag. Na 'n lekker stewige buffet-ontbyt (wat ons altyd daar nuttig), is dit die laaste stuk pad via Okahandja, Karibib en Usakos tot Hentiesbaai. By Usakos word biltong, chili bites en droëwors gekoop om te dien as versnaperinge langs die viswaters. Maar daar word ook eers stilgehou by Windpomp 14 (voorheen Myl 14) vir ons eerste Hansa Draught.

Nadat ons afgepak het, word ons stokke vir die volgende dag ge-"rig" sodat daar nie vertragings is om Dinsdagoggend te begin hengel nie.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 13/02/2025 - 13:33

... die hengeltogte Henties toe is gewoonlik baie lekker. Jou geselskap, bedoelende die groep, moet net 'n klomp lekker mense wees - twee weke in mekaar se geselskap, van vroeg tot laat elke dag, verlang goeie kameraderie en "verstaan mekaar". Soms sukkel dié outoppie om by te hou by die jongeres. Alhoewel dit nie langs die viswater gedoen word nie, is die manne gewoonlik nie skaam met die polisiekoffie saans nie. 

'n Tipiese dag bestaan uit vroeg opstaan (04:30) elke oggend. Ons vertrek donkeroggend met die soutpad noord en mik om met eerste lig te begin hengel - gewoonlik 'n 80km+ trip elke oggend. Ons begin graag by 'n spesifieke punt - bekend as Angolaklip. Dan werk ons dit stelselmatig suidwaarts al met die strand langs en probeer ons "luck" maar kort-kort as ons 'n plek sien wat belowend lyk. Sommige plekke is laagwaterplekke en ander weer meer geskik met hoogwater. Jy ruil kort-kort stokke. Elkeen het 3 stokke - een ge-"rig" vir kabeljou, een vir galjoen en een vir steenbras.

Sommige dae is jy gelukkig met goeie vangste, maar jy kry ook die afdae. Wind speel 'n belangrike rol. Ons hou van die wind vanuit die suidweste.

Ons mik om voor 17:30 terug te wees in Hentiesbaai waar die voertuig elke aand deeglik afgespuit word met vars water om van die sout ontslae te word. Die plek waar ons dit laat doen is die Skubbebar waar jy ook 'n ou nattigheidjie vir die keel kry terwyl hulle ook jou vangs van die dag bewerk. Hier sukkel dit soms om die dors jongmanne weg te kry.

Dan gou gaan volmaak met diesel - die sandryery maak die Hilux ook maar dors. Dan huis toe om die Hilux uit te pak, die vis in vrieskaste te kry, aandete te maak, padkos vir die volgende dag te maak ens. Jy is gelukkig as jy voor 23:00 in die bed kom. En môre begin dit weer van vooraf. Na 2 weke is jy behoorlik op - maar o donkie, dit bly lekker. Daarna het jy 'n vakansie nodig, maar gelukkig vertrek ek en Ralie, net 4 weke nadat ons teruggekeer het, op ons lang vakansie na Hartenbos (10 aande), Karoo Nas Park (7 aande), Klein-Kariba (10 aande) en wildtuin (29 aande). En ons hoop steeds dat ons gelukkig sal wees om vir 2 maande by Eiland Spa plek te kry.

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Thu, 13/02/2025 - 13:51

Amper vra ek wat is DIT?

Hier duur die droogte steeds voort (kampdroogte). Buite reën dit nou kliphard. Soveel dat ek eers die tuinwerkie waarmee ek besig was moes los vir later.

Chris se trippie na Henties klink nogal na iets wat ek ook sal geniet om saam te lees (behalwe die visse-vang gedeeltesurprise). Ek het 2x in my lewe gaan diepsee-visvang saam met 'n boot en dit was oorgenoeg, dankie. Nee, ek het nie ook seesiek geraak nie, dit was die aas-aan-die-hoek-ryg oefening wat net een te veel was. Hierdie was so dertig jaar gelede en ek onthou amper al die detail - ons het van Shelly beach af uitgegaan (twee jare na mekaar) en die skuite se name was Dabula Manzi en Thanda Manzi, met Andy wat die skipper was. Nou moet julle my maar glo (sonder 'n foto-bewys): aan die einde van die dag is pryse toegeken vir die grootste en meeste vis. Ek het albei gewen (tydens die Dabula-trip)! Hoe ek dit reggekry het - net drie van die agt mense was in staat om vis te vanglaugh. As Andy gou omgedraai het kon hy 'n paar huise en karre gehad het.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 13/02/2025 - 14:29

As ek op 'n boot moet uitgaan om vis te vang, bly ek eerder by die huis en sonder vis. Ek was tweekeer uit op die see. Die eerste keer was by Struisbaai. Daarna het ek myself belowe "nooit weer nie". Toe verloop daar baie jare en ek word omgepraat om by Mosselbaai uit te gaan. Daardie dag het ek 'n plegtige belofte aan myself gemaak dat ek dit NOOIT weer sal doen nie. Ek word só seesiek dat ek later bang is ek gaan nie dood nie. Ek gooi nie op nie - ek kots. Na die laaste keer was my maagspiere vir etlike dae seer van die sametekkings terwyl jy niks meer in jou maag oor het om uit te braak nie.

Nee wat - ek staan eerder met my voete vas op Henties se sand. Terloops, die ou balans laat my ook nie meer toe om op rotse te loop nie. Ek is dus nie meer 'n strand- en rotshengelaar nie. Ek is net 'n strandhengelaar.

Toe ons twee jaar gelede in Henties was, het ons dit ongelukkig getref wat visvangs van die strand af betref. Die water was abnormaal warm teen die kus. Gewoonlik is jy bang om jou voete in die water te sit a.g.v. die koue. Maar toe het jy amper lus gevoel om in die lekker warm water te swem. Ons was twee pa's en seuns. Ons twee oumanne het toe maar die twee jongelinge opgekommandeer om met 'n boot by Walvisbaai uit te gaan. Hulle het soveel kabeljou gevang dat dit die meeste vis is waarmee ek ooit uit Henties teruggekeer het.

0
Kaap

Goeie Hout

Thu, 13/02/2025 - 15:03

Ai ek het nou so lekker gelees aan julle agenda.

Sjoe, dit klink heel lekker.  My skoonsuster se altyd jou toer maatjies moet mekaar verstaan en dit geld vir jou trippie ook.  Ek het ook die probleem van mense weg kry by n plek.  As my 2 skoonseuns vas haak (ek het net 2 dogters) dan kos dit om hulle weg te kry van n plekkie.  Ek probeer ook nie baie hard nie want dit is belangrik vir my om met hulle te kuier.  Ek kon nie met my ouers of skoon ouers so kuier.  Ander tydgleuf.

Maar nie te min.  Geniet die sirkus kar en kom veiling tuis.  Ek sal n ekstra pakkie Joeys wors in pak na Kruger toe vir n Klein Galjoentjie wat ons daar kan ruil....... 

Mooi loop

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 13/02/2025 - 17:54

... mens weet nooit. Ons hoop maar die galjoene loop mooi. Ek het hoeka gisteraand 'n Henties-galjoen gebraai om solank in die gees te kom. 

Ek neem darem gewoonlik 'n vissie, of meer, saam as ek gaan kamp. Hierdie ou visvoet kan nie lank sonder vis klaarkom nie - gemiddeld elke 4de aand.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 13/02/2025 - 19:08

Dit lyk na ‘n baie netjiese plek vir die wat ingerig is om sonder elektrisitieit te staan. Dis vir my bietjie ver van die see af. Ek is nie bang vir die wind nie, ek bly al langer as 10 jaar in Worcester. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 13/02/2025 - 19:13

... 'n paar nuwe water shoes waarvan ek môre 'n aflewering van Takealot verwag, is die res van my hengelklere ingepak. Water shoes is nodig vir wanneer ons gaan sandkrappe vang. Kan die ouens seer knyp!!

Ons het 'n spesifieke plek waar ons tydens laagwater op 'n vlak sandbank lemoensakkies, met sardyne in, vassteek met 'n metaalpen. Jy kan nie glo hoe sardyne se reuk/geur die sandkrappe lok nie. Maar mater, jy moet vinnig wees om die kalant te gryp anderd is hy blitsvinnig onder sand in. Ons gebruik rubberhandskoene, want die manne knyp vingers stukkend dat jy net bloed sien. En moenie op die bogghers trap met 'n kaalvoet nie. Vandaar die noodsaaklikheid van water shoes. Maar jy trotseer maar die moontlikheid om stukkend geknyp te word, want daar is geen beter aas vir steenbras nie. Sandkrappe is hul voorkeur-kos.

Dinsdagoggend gaan ons eers afskop met 'n sandkrap-vang-sessie. Ons vries dit in plastiekbakkies in seewater om vir die res van die tyd te hou.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Fri, 14/02/2025 - 08:13

Ek het dalk al vertel van my eerste (en enigste) poging om van die strand af te hengel. Ek was seker omtrent matriek, en ‘n vriend van my pa het vir my ‘n lang visstok gegee om mee in die see te hengel tydens ons jaarlikse Desember vakansie in Hermanus. 
 

Ons het tuis gegaan in huisies aan die Stanford kant van Voëlklip wat aan die munisipaliteit behoort het as ek reg onthou. Ons het tjokka gekoop vir aas, en ek het een oggend gestap Grotto strand toe neffens die strandmeer. Die wind het ordentlik laat loop die dag, maar met ‘n lekker swaar sinker het ek ‘n goeie ent ingegooi. Ek kon die sinker sien plons in die branders.
 

Toe staan ek en oë knyp teen die sterk wind van die see af. Dit was baie onplesierig. Die wind het my lyn met ‘n boog na regs van my gewaai, en ek het gewonder hoe ek sou weet as iets byt. Ek het voor dit al ‘n hele paar keer saam met maats by Hengelaarsvriend by Roodeplaatdam Noord van Pretoria gaan hengel, en dan sit mens ‘n polisieman aan of hou jou wysvinger op die lyn om te voel as iets pluk aan die lyn.
 

Na ‘n ruk in die goor weer op die strand het ek inkatrol om te kyk of daar nog aas aan die hoek was. Tot my groot verbasing het my hoek en sinker agter my op die strand gelê. Die lyn het genoeg weerstand gebied dat die wind die hoek en sinker uit die see uit gesleep het tot agter my op die strand. Nodeloos om te sê het ek opgepak en die res van die vakansie in die see by Voëlklip deurgebring op my bodyboard.

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 15/02/2025 - 06:06

Ons is terug na 'n blitsbesoek aan die mooie Kaap. Heerlik saam met die kinders en kleinding gekuier, gebraai en gespeel, respektiewelik.

Dit is net 'n ander wêreld tussen die see en die berge. Maandag in Stanford aangekom, en van Dinsdag tot Donderdag rondbeweeg na die onderskeie kusdorpe. Hieronder 'n paar foto's van die gastehuis en die bekende pikkewyne kolonie in Bettiesbaai.

Op die erf is twee sulke huisies, ons was in die kleintjie, slegs slaapgedeelte bo in 'n halwe soldervertrek. Die ander huis[ie] is effe groter in vloeroppervlak met 2 slaapkamers onder, en ruim slaapvertrek in halwe solder ruimte. Beide het net 1 badkamer. Die eiendom is tans in die mark vir 'n skamele MR5.9.  Daar moet iers magies wees aan Stanford om sulke pryse te regverdig.  

huis

pik1

 

see

Naskrif: Daar is geen verwantskap met die persone in die fotos nie. 

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 15/02/2025 - 06:56

... jou ou donder! Jy ry hier deur Kleinmond om 'n pikkewyn in Bettiesbaai te gaan kyk, maar jy kom wys nie eens jou gesig nie. M.a.w. jy't 200 meter van my huis af verby gery. Jissie - hoe disgusted is ek nou.angry

0
Brackenfell

HennieBo

Sat, 15/02/2025 - 07:21

M.a.w. jy't 200 meter van my huis af verby gery. 

Al het hy net gesê loop hoofstraat toe en waai vir my.laugh Toemaar Chris, ek sal nie weer net daar deurry as ek weet jy is by die huis.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus