Om 06:00 op Saterdag 1 Julie vertrek twee karavane uit Brackenfell op 'n 2000km roete Kruger Wildtuin toe, afgebreek in skofte van ongeveer 500km per dag, hoofsaaklik om die jongste kleindogtertjie van 2 jaar oud en haar oupa van amper 70 te akkommodeer. Ek en my beterhelfte in ons 4 jaar oue Nissan Pathfinder met die 12 jaar oue Exclusive agterna. In die 2016 3.2 Ford Ranger met 'n Gypsey Regal agterna, is my skoonseun, dogter, kleinseun (7) en kleindogter (2). Ons het twee-rigting radios in die voertuie en gesels 'n hond uit 'n bos terwyl ons ry - my kleinseun reken dis 'n cool idee.
Genadiglik is dit bewolk en ons word verlos van die son se verblindende strale as jy daardie tyd van die oggend in 'n noord-oostelike rigting uit die Kaap ry. Seker so 170km vanaf Kaapstad trek ons af by Touwsrivier se BP diensstasie vir ontbyt en die kleintjies kry geleentheid om die hasies in hokke met wortels te voer.
Hier staan die twee trekperde met hulle waens :-
Ons hervul brandstof by die Ultra City Leeugamka en mik nou na die Karoo Nasionale Park by Beaufort-wes waar ons gaan oornag. Puik geriewe soos altyd en 'n voorgevoel van 'n Wildtuinvakansie begin posvat.

Ons volgende stop is Reyneke Park in Bloemfontein. Net af van die N1 op die pad na Kimberley (N8). Uitstekende privaat ablusie-geriewe, 'n heerlike oornag uitspanplek. Die naby geleë meule en die N8 was geensins steurend nie.


Na Bloemfontein is ons Pretoria toe waar die kinders in hul Regal by familie tuisgegaan het. Ons twee oues kuier saam, maar die Exclusive is te groot om ook op die erf in te pas en ons oornag soos gebruiklik by die munisipale oord, Joos Becker. Ongelukkig 'n groot teleurstelling, maar iets meer hieroor later.
Ons volgende skof is na Numbi Hotel & Karavaanpark in Hazyview, 'n hane tree tot by die Phabeni-hek van die Kruger Wildtuin. Een van ons seuns en sy gesin (sy vrou en tweeling tiener dogters van 16jr) met hulle 2.2 Ford Ranger en Sprite Super Sport het ons intussen ingehaal en by ons aangesluit. So lyk die Ford en Super Sport :-

En so lyk die "three musketeers" oppad Hazyview toe :-

Geriewe hier in Hazyview is puik en ons kuier lekker voor ons die volgende môre die Wildtuin binnegaan.

Wat is dan nou lekkerder as koffie en beskuit vroeg in die môre ? Hier is klein Anja, die jongste in die geselsskap.

Len dit klink en lyk baie…
Len dit klink en lyk baie lekker. Baie dankie vir die vertel en al die fotos.
Dit blyk 'n baie suksesvolle…
Dit blyk 'n baie suksesvolle reis te gewees het, Len, bly julle het veilig gery en dit klaarblyklik terdee geniet.
Dankie vir die fotos, dit laat mens sommer verlang na ons volgende familie reunie.
Hoe het julle die wild ervaar?
Len, dit klink en lyk asof…
Len, dit klink en lyk asof julle 'n fees van 'n tyd tegemoet gegaan het met julle trek na die noorde. Alte lekker om so saam met die kinders te trek. Sien uit na jou volgende aflewering.
Dit is ...............
Dit is Donderdagoggend 6 Julie in Hazyview en die plan was om 06:00 voor die hek by Phabeni (net 15km verder) gereed te wees om ons eerste dag in die Wildtuin tegemoed te gaan. Dis nog pikdonker in die karavaanpark by Numbi Hotel toe ons drie karavane vertrek. Die ou indoena (hoe spel 'n mens dit ?), dis nou ek, neem natuurlik die leiding want ek ken mos alles van Wildtuin toe gaan. Maar o-wee, die reuse brug-kennisgewing oor die pad wat aandui draai regs Phabeni toe is nie verlig nie en Oupa mis dit wragtag ! Die trein karavane kom toe na 2okm op die verkeerde pad tot stilstand en ons moet omdraai en die 20km weer terug tot in Hazyview se middedorp waar die reuse oor-die-pad brug-kennisgewingbord nou duidelik is nadat dit intussen lig geword het. By die Phabeni-hek staan 'n reuse tou van dagbesoekers van omtrent 50 voertuie om ingelaat te word, maar gelukkig vir 'n skerp hekwag laat sy ons drie karavane deur aan die uitkom-kant van die hek omdat ons mos oornag-besoekers is.
Ons eerste dier wat ons sien is 'n "gote, gote ooifant" volgens die jongste tweejarige in ons groep.
Dis skoolvakansie in Julie en die kampeerarea in Skukuza is redelik vol. Ek kon amper nie ons geluk glo toe ons op drie staanplekke langs mekaar, in 'n verbindingspaadjie tussen twee ander paaie, afkom nie. Oudste slaan kamp op in die middel met die kinders weerskante. Reg teen die rug van die Exclusive is 'n dubbel-waterkraan en 'n dreineringsdrein met 'n staal asblik vir as, en nog 'n bobejaan-proef asblik vir herwinbare items en nog een vir nie-herwinbare items asook 'n kragpunt vir drie karavane. Ons staan feitlik in die middel tussen drie ablusieblokke. Ons ou spulletjie kon nie vir beter gevra het nie.
En so wraggies, 'n werker met die naam van Kennith kom aangestap en bied aan om die "oubaas" te help om die vol tent en multi-room op te slaan. Wil jy nou meer ? Ek en Kennith pak my opset aan terwyl die kinders weerskante hulle blyplek staan kan maak. Die multi-room word benodig vir my anders seun, skoondogter en hulle dogtertjie wat met die Fortuner en my nou al bekende 33 jaar oue sleepwaentjie oppad is - hulle karavaan het tuis gebly.
Kort voor lank staan alles, niks het vergete gebly nie. Omdat ons vir twaalf dae staan, is aldrie karavane se voltente opgeslaan, plus die Exclusive se multi-room en die Super Sport se add-a-room vir die twee tiener dogters.
Ek plaas later 'n foto van ons kampopset.
Teen die aand se kant...............
Teen die aand se kant is dit badtyd vir klein Anja. Dit was die laaste bad van haar want vir die res van die vakansie het sy (en haar boetie en niggie) in Oupa se Exclusive se stort gestort.

Jy vertel hom so lekker,…
Jy vertel hom so lekker, mens voel deel van die kampering.
Kenith was gestuur om julle te gaan help, daai mense is baie hulpvaardig.
Lennie & Kie in die Kruger Wildtuin
Len, Dit is nou 'n lekker trip voor ons KNP trip met die Oktober skoolvakansie.
Len welkom terug, jy maak…
Len welkom terug, jy maak ons lekker jaloers met jou lekker familie uitstapie!
Ontbyt.........
Kosmaak was 'n groot storie hierdie vakansie in die Wildtuin ! My kinders glo drie etes per dag en alles op die vuur. Ek en Ma is dit nie gewoond nie - koffie en beskuit in die oggend en 'n braaitjie vir aandete. Maar ons is heeltemal uitgestem.
Hier is my drie kinders besig met ontbyt op die vuur - repies steak van die vorige aand wat oorgebly het, gebraaide uie en eiers na elkeen se smaak. Die vuur is gemaak met kameeldoring hout wat ons van die Kaap af saamgebring het en toe dit op is, het die seuns ysterhout buite die Wildtuin gaan koop - vuur moes daar gemaak word.

Ons het ook een oggend gaan ontbyt-piekniek maak by Tshokwane en die dertien van ons sit sommer drie tafels vol !
Hier is daardie ontbyt in wording op 'n gehuurde skottelskaar - fillet steak blokkies, gebraaide uie en roereiers :
Ek het die laaste tyd van heelwat negatiewe kommentaar oor Tshokwane Piekniekplek gelees, maar ons het alles puik ervaar. Selfs die lastige blouape is 'n plan mee gemaak want hulle was nie daar nie.
Swerm voëls............
Een oggend terwyl ek my vergaap aan die sonsopkoms 'n entjie buite Skukuza, kom 'n swerm voëls (letterlik miljoene van hulle) verby gevlieg, en vir 'n volle 10 minute slaan ek dit gade.
Wolnek...........
Volgens my Voëlgids is hierdie 'n Wolnekooievaar, 'n skaars standvoël.
Jy sal sukkel.............
Jy sal sukkel om 'n mooier dier as 'n koedoebul met volle gedraaide horings te kry.
En hier is 'n Uber-taxie met 'n klomp waterskilpaaie opgelaai !
Len, dankie, ek geniet die…
Len, dankie, ek geniet die draad van jou vreeslik baie. Ek kom loer kort-kort of daar nie nog iets bygekom het nie. Ek weet daar gaan nog baie mooi foto's kom. Geniet jul kosmakery ook, lyk nie of daar 'n vleistekort was nie!
Daai skaapboud lyk na 'n…
Daai skaapboud lyk na 'n verleidelike besigheid...............
Sanparke word dikwels beskuldig van............
Sanparke word dikwels beskuldig van swak onderhoud en instandhouding. Hier is 'n voorbeeld van die teendeel daarvan.
'n Brug op die hoof-teerpad tussen Skukuza en Thsokwane is onlangs weggespoel. Op die foto hieronder kan die opgefrommelde sink pype gesien word wat onder die brug gebruik is om die waterdeurlaat te vorm. Aan die regterkant van die foto is die skerp wal waar die teeroppervlakte opgehou het.
Op die onderste foto kan gesien word die netjiese, deeglike ompad wat Sanparke gebou het totdat 'n nuwe brug gebou kan word. Wel gedaan Sanparke !
Skerpioen.......
'n Nuutjie vir my in die Wildtuin was 'n ultra violet flitsie wat in die winkel te koop is om skerpioene mee te soek.
As jy in die aand in die kamp rondloop met die flitsie en jy skyn op 'n skerpioen, gloei die skerpioen lemmetjie-groen. In gewone daglig is die skerpioen pikswart, maar gloei groen met 'n ultra violet straal. Dis 'n lekker tydverdryf vir kinders teen donker :-

Baie dankie Len, nou lekker…
Baie dankie Len, nou lekker gekuier met julle foto's!








Lennie, dit lyk na die begin…
Lennie, dit lyk na die begin van nog lekker lees en foto's wat voorlê. Daai drie karavane wat so bymekaar staan, gee mens hoendervleis. Wat kan nou lekkerder wees as dit? Dankie sovêr, sien uit na die opvolg.