Om 06:00 op Saterdag 1 Julie vertrek twee karavane uit Brackenfell op 'n 2000km roete Kruger Wildtuin toe, afgebreek in skofte van ongeveer 500km per dag, hoofsaaklik om die jongste kleindogtertjie van 2 jaar oud en haar oupa van amper 70 te akkommodeer. Ek en my beterhelfte in ons 4 jaar oue Nissan Pathfinder met die 12 jaar oue Exclusive agterna. In die 2016 3.2 Ford Ranger met 'n Gypsey Regal agterna, is my skoonseun, dogter, kleinseun (7) en kleindogter (2). Ons het twee-rigting radios in die voertuie en gesels 'n hond uit 'n bos terwyl ons ry - my kleinseun reken dis 'n cool idee.
Genadiglik is dit bewolk en ons word verlos van die son se verblindende strale as jy daardie tyd van die oggend in 'n noord-oostelike rigting uit die Kaap ry. Seker so 170km vanaf Kaapstad trek ons af by Touwsrivier se BP diensstasie vir ontbyt en die kleintjies kry geleentheid om die hasies in hokke met wortels te voer.
Hier staan die twee trekperde met hulle waens :-
Ons hervul brandstof by die Ultra City Leeugamka en mik nou na die Karoo Nasionale Park by Beaufort-wes waar ons gaan oornag. Puik geriewe soos altyd en 'n voorgevoel van 'n Wildtuinvakansie begin posvat.

Ons volgende stop is Reyneke Park in Bloemfontein. Net af van die N1 op die pad na Kimberley (N8). Uitstekende privaat ablusie-geriewe, 'n heerlike oornag uitspanplek. Die naby geleë meule en die N8 was geensins steurend nie.


Na Bloemfontein is ons Pretoria toe waar die kinders in hul Regal by familie tuisgegaan het. Ons twee oues kuier saam, maar die Exclusive is te groot om ook op die erf in te pas en ons oornag soos gebruiklik by die munisipale oord, Joos Becker. Ongelukkig 'n groot teleurstelling, maar iets meer hieroor later.
Ons volgende skof is na Numbi Hotel & Karavaanpark in Hazyview, 'n hane tree tot by die Phabeni-hek van die Kruger Wildtuin. Een van ons seuns en sy gesin (sy vrou en tweeling tiener dogters van 16jr) met hulle 2.2 Ford Ranger en Sprite Super Sport het ons intussen ingehaal en by ons aangesluit. So lyk die Ford en Super Sport :-

En so lyk die "three musketeers" oppad Hazyview toe :-

Geriewe hier in Hazyview is puik en ons kuier lekker voor ons die volgende môre die Wildtuin binnegaan.

Wat is dan nou lekkerder as koffie en beskuit vroeg in die môre ? Hier is klein Anja, die jongste in die geselsskap.

Anton, help !!!
Anton, hier het nou fout gekom nadat ek 'n foto van 'n krokodil in modder wou plaas. 'n Klomp vanvorige posterings word nou op elke bladsy herhaal.
Die krokodilfoto moes net na die koedoekoei gekom het en die ander fotos moes nie herhaal word nie.
Help asb om dit reg te stel want die spul is nou deurmekaar.
Baie dankie by voorbaat.
Baie mooi fotos Len, dankie…
Baie mooi fotos Len, dankie vir die saam toer.
Len se foto's
Ek sien nie herhalings van foto's nie? Len, jy kan gerus nog foto's plaas. Ek sien die draad van jou is op die forum se Facebook blad.
swerm voels
Len, ek het ook daardie swerm gestaan en bekyk, soos jy sê letterlik miljoene, dit het geklink soos 'n wind wat opsteek. Ons was ook in Julie in Skukuza. Mense vra altyd was dit warm of koud, kan net sê enige dag in die park is 'n wenner.
Jukkery ...............
Len. Ek het nou weer jou hele verhaal deurgelees en moes toe eers die borsel kry om die jukkery stop te sit. Wat is dit wat 'n man so laat voel dat jy net nie genoeg van oom Paul se plaas kan kry nie, sal moet plan maak om daar uit te kom. Julle moet die herinneringe geniet.
So sit...........
En so sit my ou spannetjie van 13 mense vir 'n middagete by Mug & Bean in Onder Sabie - absoluut puik ! :-
Groente
Môre Len,
As ek daai rooster so beloer laat dit my onwillekeurig dink aan die 3 jaar oue mannetjie wat in die kamer insluip terwyl sy Ma sy baba boetie borsvoed.
Al wat hy kon uitkry was " Jitte Ma -- suffel vleis en niks grrroente nie"
Glo dit was so lekker soos dit lyk op daa rooster
Jy kan maar nog fotos laai…
Jy kan maar nog fotos laai met stories Len.
'n Bietjie te luidrugtig..............
Dit was 'n heerlike vakansie saam met my kinders en kleinkinders en ek is baie dankbaar ons kon dit so reël. Maar soms was dit 'n bietjie luidrugtig en ek hoop nie ons het ander Wildtuin kampeerders verpes nie. Hieronder is juis 'n foto waar die een boetie die ander boetie om die nek gryp om hom te soen terwyl 'n foto geneem word. My skoonseun kyk toe, maar hy het toe ook later 'n soen van sy swaer gekry.
Met 'n volgende Wildtuin-vakansie sal ek en my ander helfte maar seker weer buite-seisoen in Meimaand die natuur gaan geniet - hierdie keer het ons die kinders en kleinkinders geniet !
Kameelperde.........
'n Groepie kameelperde maak darem altyd 'n mooi foto !
En........
En 'n zebra se swart en wit strepe maak netso 'n mooi foto :-
Wat sê...............
Wat sê julle van hierdie een tydens ons onlangse besoek aan die Wildtuin ?





Sien julle wat ek sien ?
Sien julle wat ek sien ? Net die oë van 'n krokodil !