Petra en ek kamp al ons lewe lank, eers saam met ons ouers en van ons troue in 1971 op ons eie.
Ons het maar altyd in die “bos” gekamp, daar waar absoluut geen geriewe is nie, vir jare in ‘n tent en in 1994 bou ek toe vir ons ‘n boswa.
Toe ek besluit om maar finaal die tuig neer te le, het ons begin praat van permanent te kamp. Petra voel toe die boswa is te klein om permanent in te leef en begin ons toe na karavane kyk.
Voor ons toe finaal besluit om ‘n woonwa te koop, voel ons toe ons moet maar eers in ‘n konvensionele karavaanpark gaan kamp om te sien of ons sal oorleef waar die mense so opmekaar ingeryg staan. Gaan toe vir ‘n maand met die boswa Eiland toe!
\
Dit was ‘n redelike kopskuif, bure reg op jou drumpel, baie mense reg rondom jou, maar ons voel toe dat ons dit tog sal kan doen.
Die woonwa koop was nogals ‘n storie, eers op ‘n Sahara besluit, paar keer Bronkhorstspruit toe gery, heelwat gepraat met die eienaar van die fabriek, maar ons besluit toe dat die ding te groot was, en natuurlik ook ‘n kruiwa vol geld sou kos.
Die volgende op ons lys was toe ‘n Exclusive, paar keer gaan kyk en net voor ons koop, noem Petra toe dat ek die stort moet verander in ‘n inloop kas vir haar klere. Nouja… ek verduidelik toe mooi vir haar dat ons dan liewer ‘n Penta kan koop met ‘n Add a room waar ek dan ‘n kamp hangkas sal insit vir haar klere. Sy is toe gelukig nadat ons na die Penta gaan kyk het.
Die volgende besluit was toe die huis? Gelukig het ek so twee jaar tevore ‘n eenheid in ‘n aftree kompleks gekoop het wat ek verhuur. Ek stel toe voor da tons ons huis in roodepoort verkoop, ontslae raak van al ons meubels, en die pad vat.
Ons wou nie meubels stoor nie, meeste sou in elk geval te groot wees vir die 110 vierkante meter eenheid – ons huis was 380 vk meter! Kinders gebel en gese hulle moet kom vat wat hulle wil he en die res vir die kerk geskenk.
Net voor ek ophou werk word Petra toe met kanker gediagnoseer, operasie en chemo en die onkoloog reken toe hulle het die ding geklop.
Huis verkoop die wa gehak en ons vat die pad net so rapsie meer as 5 jaar gelede Drie maande later staan ons in Marakele en Petra laat bloed trek in Thabazimbi vir toetse en kry ons toe ‘n oproep van haar onkoloog dat die kanker versprei het.
Ons was platgeslaan, wat nou? Petra voel toe dat sy liewer in ‘n kamp in die natuur siek is, in plaas van om tussen 4 mure in die aftree oord te sit. Onkoloog reel toe dat ons ‘n onkoloog in Pietrasburg kan sien vir behandeling en ons vat die pad Tshipisse toe. Daar moes ons toe twee keer ‘n maand Pietersburg toe ry vir chemo, maar geniet ons nog steeds die kampery voluit!
Nouja 5 jaar plus later en ons ry nog steeds die wereld vol, enigste beperking is dat ons maar redelik naby groot stede moet wees waar sy kan behandeling kry.
Sy het in die 5 jaar al 4 operasies ondergaan heelwat kursusse chemo en ook heelwat kursusse bestraling gekry. Sy het twee jaar terug nog ‘n heel ander tipe kanker in haar mond bygekry, die lyk darem of hy nou oorwin is, nadat hulle ‘n groot stuk van haar tong verwyder het en ook twee kliere uit haar keel uitgesny het. Die oorspronklike kanker is ongelukig nog steeds aktief.
Ek noem die problem om te wys dat mens nog steeds kan kamp al is die gesondheid nie van die beste nie. Petra weier volstrek dat ons in ons aftree oord intrek.
Dinge wat mens moet ingedagte hou met so kampery;
Niks hou vir ewig nie, ons het ‘n aparte belleging met genoeg geld om ons voertuig en woonwa te vervang indien dit sou nodig raak, hou in gedagte dat ‘n tent wat heel jaar in die weer staan ook ‘n baie beperkte lewe het. Ons Penta tent, dubbel tent met add a room kos nou so R30,000! Ons het ook in die rekening genoeg geld gelaat om meubels te koop sou ons die dag wil terug trek in ‘n permanente gebou. Gelukig hou die groei van die belleging sover tret met die styging van voertuie ens.
Petrol is ‘n ander groot uitgawe, ons ry gemideld so R2500 tot R3000 per maand uit, verder is dit ‘n betreklik goedkoop lewe.
Om te kamp is vrek harde werk en ons prober om elke jaar ‘n “vakansie” te neem, los die wa in die kamp waar ons is, met die tent opgeslaan en al ons goed, en boek dan in ‘n hotel vir ‘n paar dae, of in ‘n tyddeel eenheid. Ook al vir 14 dae Kaap toe gevlieg, ‘n kar gehuur en daar gaan rondry. Twee jaar terug ook vir 14 dae Zim toe gevlieg. Die breke gee mens net weer lus vir die kampery, daai bederf is lekker, jou eie badkamer, ‘n spa vir Petra, gaan sit net aan en eet, geen kosmakery of skotelgoed, maar net so 10 dae dan mis ons die wa!
Vir ons werk die permanent kampery, ons het al wonderlike vriende gemaak met die kampery, ongelooflik hoeveel mens permanent kamp, ek kan so vining aan 35 paartjies dink wat dit al vir jare doen. Apie en Eileen, hy is al 81 en dink nog glad nie aan ophou. Corrie en Duncan, Duncan ook al naby tagtig, altwee sy bene al verloor as gevolg van suiker, altwee verloor terwyl hulle kamp en het maar net bly aangaan. Dan natuurlik die heel bekende Flippen Tilla, sorry, Flip en Tilla wat al meer as twaalf jaar so op die pad is.
Ons glo dit is die “ultimate” lewe, maar ja dit is nie vir almal nie, mens moet mooi besin en nie oorhaastig dit aanpak nie. Ons staan soms vir lang tye waar daar niemand anders in die kamp is nie, dan is mens net aangewese op mekaar se geselskap, dit kan nogals probleem afgee as mens nie uiters goed met mekaar oor die weg kom nie.
Hier is ander mense op die forum wat ook permanent kamp, dink nou vining aan Koos Mol, ek dink so draad soos deur Voorie voorgestel kan lekker werk, en dalkies bietjie goeie raad aan ander wat dit oorweeg gee.
VOORTREKKER: Dankie Oom Arie!
Het juis vandag 'n subforum spesiaal vir permanent kamp oopgemaak. Ek skuif hom soontoe as die eerste inskrywing.
KOOS MOL: Hi Arie.
Hoop om julle weer op Richardsbaai te sien. Ons hoort so teen 2 of 3 Junie daar in te klok.
Mooi loop en groete aan Petra.
FREDA: Arie, ek het nou baie lekker gelees aan jou vertelling. Ek geniet altyd jou insette en het al agtergekom jy is 'n regte kalant. Maar nou voel dit vir my of ek jou en Petra leer ken het. Eerstens moet ek sê hoe baie ek julle admireer dat julle die lewenswyse aangegryp het en volhou daarmee, ten spyte van Petra se siekte. Dit is nie sommer enige ou wat dit sal doen nie. En ek spreek die opregte wens uit dat volkome genesing vir Petra sal kom na soveel jare van behandeling. Sterkte vir albei van julle daarmee.
Dit is duidelik dat julle dinge alles behoorlik deurdink en uitsorteer is. Ek glo dit is een van die belangrikste aspekte van permanent kamp. 'n Mens kan nie net blindelings die pad vat en hoop vir die beste nie.
Ek dink daardie "vakansie binne in 'n vakansie" van julle is 'n uitstekende idee.
Ek hoop ons gaan nog lees van baie jare se kampe met jou en Petra saam.
VOORTREKKER:Freda, julle doen ook mos die semi-permanente ding. Maak assblief ook vir ons so 'n draadtjie en vertel bietjie (-;
ARIE:
Koos Mol het geskryf:
Hi Arie.
Hoop om julle weer op Richardsbaai te sien. Ons hoort so teen 2 of 3 Junie daar in te klok.
Mooi loop en groete aan Petra.
Dag Koos, ja ons sal julle weer sien in RB, sal so om en by 3 Mei inboek.
Vertrou julle geniet dit baie by Marekela, ook een van my gunsteling plekke.
Groete vir Irene, en sien julle binekort.
ARIE: Dankie Freda, eintlik gaan dit op die oomblik baie goed met Petra!
VOORTREKKER:
Ek het 'n afdeling op KamBlad gemaak vir Permanent kamp.
ARIE VERTEL 13 APRIL 2017
Uiteindelik toe opgepak by Drie Berge, ariveer op 1 april by Manzi Maningi, nogal 'n lekker slegte stuk grondpad vir so 15 km, maar as jy mooi ry is dit geen probleem nie.
Werk ons allie af om die kamp hier op te sit, vrek warm en geen hulp, Petra probeer haar bes maar sy sukkel maar met van die goed.
Dag drie is alles reg en ons is so bly dat ons nou weer 'n slaggie kan sit en lekker ontspan....... maar nee, so gelukig kan ek mos nie wees nie!! Ons yskas in die wa besluit toe hy het nou genoeg gewerk en gaan nou aftree!
Met moewiese gesukel kry Petra en ek die yskas deur die venster uit die wa uit, laai hom op en ry Brits toe. word van bakboord na stuurboord gestuur net om op die einde te hoor ons moet maar die yskas weggooi. Ai man baie hartseer, dit was 'n 3 way yskas wat vir my top diens gegee het en my goed lekker yskoud gehou het!
Nou ja terug kamp toe, gee die yskas vir een van die swart werkers, en begin die "gat"meet waar die yskas was.
Volgende oggend maar weer Brits toe op die riller van 'n grondpad, by die 3 de winkel kry ons toe 'n KIC wat net net sal pas, koop die ding maar nou moet ons dit by die kamp kry, jy mag mos nie daai goed laat le nie. Kry toe na groot gesoek 'n Bulperd sleepwa in die hande, laai die kas en vat weer die pad kamp toe. Laai af en ry weer terug om sleepwa terug te neem.
Volgende oggend bekyk ek toe die afere, ek moet die ding somehow maak pas en vas kry. Verwyder toe die kassies bo die ou yskas, en sien toe dat as die nuwe een in is het ek presies 3 mm speling as die dak gesak is tussen die kas en die dak! die yskas is ook 100mm smaller as die ou een. die kas in sy plek gekry, nou moet ek dit vas kry, wil mos nie he die ding moet uitval as ek om 'n draai gaan nie! Ek moet 4 brackets maak waarmee ek die ding kan vas skroef en bout. nou kyk as mens kamp het jy mos nie 'n hele kas gereedskap en 'n werkswinkel by jou nie. Ek het selfs al 'n stukkie hout met 'n angle grinder gesny vir 'n wiggie onder die een kant van die kas! nogal goed gewerk maar ek dink ek het die hout eintlik deur gebrand in plaas van sny.
Gelukig het ek groot vriende geword met 'n plaaslike wildboer, by hom wat ek die sleepwa geleen het. Ry weer na hom toe, kry in sy werkswinkel die regte dikte en breedte Flat iron. Die gesny gebuig en geboor en terug by die kamp pas hulle perfek. Skroef en bout die kas stewig op elke hoek vas en "Bob is youre Uncle" alles werk soos dit moet en daai kas sit stewig vas! Nou sit ek nog net met 'n 100mm opening langs die kas. Weer die volgende dag Brits toe na Camp World, kry toe daar presies die selfde hout soos my wa se kaste, hulle sny dit toe mooi op maat vir my, terug by die kamp smeer ek die plank bietjie silikoon en druk dit in, perfek!!
Nou ja Petra smile weer, sy het nou sommer 'n groter vrieskas, dit is 'n dubbel deur yskas.
Gisteraand die wildsboer en sy vrou oorgehad vir 'n lekker braai met 'n klomp skaap tjops en wors, om dankie te se vir al sy hulp!
Sewe dae na ons hier aangekom het kon ek vir die eerste keer terug sit en ontspan!
Daai nag besluit 'n alleen loper vries bul om amok te maak in die kamp, loop mense se tent toue uit, kom half binne my tent in, maar dit is 'n storie vir 'n ander dag, kan net noem hulle soek nog steeds daai bul, was nou al drie nagte hier om amok te maak!
22 April 2017 - ARIE SE KAMP PROGRAM (volg op forum)
Nouja, Petra en ek het vandag ons finale reelings tot einde April volgende jaar afgehandel!
Ry die tweede Mei na Richards Baai vir drie maande, reeds klaar betaal tot einde Julie. Vandaar na Salt Rock tot einde Oktober reeds 50% deposito vir die drie maande betaal.
Drie Berge van Nov 2017 tot einde Jan 2018 - nog niks betaal - hulle wil nie korting gee as ek vooruit betaal nie. Dan Mabalingwe Feb 2018 tot einde April 2018, reeds voluit betaal, hulle gee dit vir my teen hierdie jaar se prys as ek alles vooruit betaal.
Daarn moet ons nog besluit, dink op die oomblik aan Zimbabwe vir die winter?
So my volgende jaar is beplan en groteliks reeds betaal, lekker om te staan en niks te betaal nie!
Nou kan ek ontspan weet ten minste ons het 'n slaapplekkie vir die volgende 12 maande.




