Ek begin die gesprekslyn sodat ek ophou om die Alternatiewe sleepvoertuie gesprekslyn te besoedel met praatjies oor die 2013 Ford Ranger 3.2 auto 4x4 wat ek onlangs gekoop het.
Ek wil nie die goeie raad wat ander lede wat soortgelyke voertuie het/gehad het verbeur nie, so nou kan ons verder daaroor praat hier.
Almal ken teen die tyd die besonderhede van my aankoop, so ek gaan niks herhaal hier wat reeds gesê is onder Alternatiewe sleepvoertuie nie.

Dorpskarretjie
Salomien het die Fiesta, maar sy ry daarmee. Ek geniet dit in elk geval nie meer om uit so ‘n lae kar te klim nie. Ek het mos die RAV gehad as my platkar, en dit was hoog genoeg en het vir my baie goeie diens (en beter verbruik) gegee tot dit begin lol het met koud aansit en niemand dit kon reg kry nie.
Gelukkig ry ek maar so 7000km/jaar met my dorpskar, en teen verwagte verbruik in die dorp met die Ranger en die duurder diesel eersdaags gaan dit my so R2000/maand kos aan diesel. My diesel begroting vir plaaslik rondbeweeg vir 12 maande is dus dieselfde as Oom Len s‘n vir hulle opkomende Kruger wildtuin toer.
Dorpskar x2
Môre Chris S
Dalk tyd om kopskuif te maak. Besluit wat jy as sleep/vakansie-kar wil hou. Raak ontslae van ander groot voertuie, en skaf nog 'n dorpskarretjie aan.
Dan tjommel jy en Salomien goedkoop in dorp rond, en vakansiekar staan en rus op batterylaaier.
Vir eers klaar gekoop
Dan tjommel jy en Salomien goedkoop in dorp rond, en vakansiekar staan en rus op batterylaaier.
Dis waar ons was met die Everest, RAV en Fiesta. Toe begin my stuitigheid met die koop van die Prado, daarna die RAV se nukke en toe jeuk my alie vir ‘n bakkie. Dit sou ‘n 2.2 gewees het en nie 4x4 nie maar toe kom hierdie Ranger oor my pad, en nou is ons klaar gewoond aan die gerief van vakansie hou met ‘n dubbelkajuit.
Ek moet dalk vir oulaas met die Prado weggaan Hartenbos toe vir die naweek van 5 April en die Kavango daarmee terugbring. Lg bly mos in Mosselbaai na Dwarswegstrand. Daarheen sal ons met die Ranger ry.
Daarna moet ek dan kyk vir hoeveel kan ek die Prado swaai. Dit sal baie hartseer wees, nie net omdat dit so lieflike voertuig is nie maar ek het ‘n klompie geld daarop uitgegee en weet dit is gereed en behoort betroubaar te wees vir ten minste nog 100000km.
Solank as wat die Ranger betroubaar bly moet dit dan diens doen tot ek ‘n aftree ryding koop. Ek sien Toyota bring nou ‘n mild hybrid Fortuner en Hilux uit. Die elektriese motor lewer maar iets soos 15kW so dit gaan net bietjie ligter op brandstof wees. Teen die tyd wat ek ‘n aftree ryding moet koop behoort daar beter hibriede beskikbaar te wees.
Dorpskarretjie
Die idee van ń dorpskarretjie kan ook nie ophou karring aan my nie. Ongelukkig word die idee uit te veel hoeke bekyk, en daar is gladnie ń halwe rede waar dit sin maak nie. Ek gaan een maal per week dorp toe. Landy vir vragte, of die Nissantjie vir net inkopies. So elkeen sit so 200km/ maand op. Gemiddeld. Von gaan 1 keer per maand dorp toe, so die Cruiser sit 100km/maand op. Elke 4de maand maak ons die trip Onkoloog toe met die Cruiser. Dan is so 250km by. Sou daar nou n dorpskarretjie bykom wat 20km/l gee, dan word die prys van 5 liter diesel ń maand gespaar. So met nagenoeg R125,00 besparing gaan die dorpskarretjie tot in die 3de geslag na my moet diens doen. En moet sonder versekering gery word. No brainer.
Trailer patch control
Ek was vroeër by die tandarts, en haar spreekkamer is skuins oorkant Jaffe’s Ford. Ek stap toe maar oor na die tyd en koop ‘n trailer patch control sodat die Kavango se ligte nie weer flikker as ek my hoofligte aansit terwyl ons Donderdag Dwarswegstrand toe ry nie.
Ek het voorheen verduidelik dat dit lyk soos ‘n kort verlengkoord wat een kant by die Ranger se vroulike sok vir die karavaan inprop. Aan die anderkant van ‘n kort kabel (seker so 40cm) sit ‘n vroulike sok waarin resistors ingebou is wat voorkom dat ‘n sleepding se LED ligte flikker as dit aangeskakel word.
Ek verkies dit om my sleepvoertuig se hoofligte aan te hou terwyl ek sleep, al is dit daglig. As ek dit sonder die toestel doen flikker die Kavango se parkeerligte aanhoudend. Om een of ander rede flikker die remligte nie. Die flikkerligte is nog die ou soort, en hulle flikker net soos hulle veronderstel is.
Die uitstappie het my R784 gekos, want toe koop ek mos so olyfgroen Ford Ranger keps ook. Voor die Toyota manne naar raak, die gare waarmee die Ford embleem klein aan die kant en Ranger ook nie baie groot nie op die voorkant geborduur is, is net effens donkerder as die keps so mens moet mooi kyk om dit te sien. Die Ford en Ranger name is nie waarom ek dit gekoop het nie, dis ‘n lekker gemaklike keps en my ou een raak nou baie oud.
Keps versus laphoed
Middag Chris S
Dra jou keps, maar ek verkies 'n laphoed[jie]. Ek het met die kinders se swem en lewensredding uitstappies en kompetisies effe veel son op die ore gekry.
Dit het tot gevolg dat ek 'n nie kwaadaardige groeisel op een bakoor gekry het. Dit is genadiglik op die bek geslaan met 2 brandsessies. My vel is net baie sonsensitief, ek is mos 'n blouoog spesie. Dokter het my aangeraai om laphoed oor die ore te dra. Nie weer keps en oop ore vir my nie.
Ek ook
Toemaar, ek het velkanker by my pa geërf. Ek laat vries al die afgelope 20 jaar solar keratose. Tydens COVID was hier ‘n stikstof skaarste, en toe moes ek Efudix chemoterapie salf gebruik. Ek het toe my hele voorkop, neus en wange behandel. Dit was nie pret nie. Dit vat so ses weke se behandeling. As jy ophou met die salf begin die rou vel gesond raak. Dan begin dit jeuk, maar mens kan dit nie krap nie want dis te seer. Maar soos gereeld dwaal ek af.
Ek vermy die son sover as wat ek kan. As ek in die son moet wees gebruik ek faktor 50 sonroom oral waar vel uitsteek. Dit sluit my oorskulpe in. Maar as ek lank (langer as ‘n uur of so) in die son gaan wees dra ek ‘n breërand hoed. Die keps gebruik ek meestal in die Krugerwildtuin in die oggende om my deurmekaar hare weg te steek totdat ek stort na wildrit.
Gister se aankope
Hier is gister se aankope. Darem skrikwekkend hoe kort R750 deesdae is. Die aankoop hier onder was bietjie meer as dit. ‘n Besoek aan Clicks vir ‘n paar benodigdhede gistermiddag het my ook soveel gekos, en toe kos een aan Checkers vir hoofsaaklik swembad skoonmaakmiddels en byvoegings ook soveel. Ek het sopas die Ranger gewas, en moet vanmiddag nog ‘n paar dinge in en om die Kavango nagaan. Die komende week is ‘n kort een, ons ry DV Donderdag.

12V na die laaibak toe
Kara vra my gister wanneer gaan ons wildtuin toe. Ons ry oor minder as 40 dae. Dit klink nog ver. Die Ranger gaan egter Donderdag na Hein die auto elektrisiën toe.
Daar is ‘n BH prop langs die trekstang wat veronderstel is om 12V van die battery af te bring. Die kontakte was taamlik aangepak, maar selfs nadat ek dit skoongemaak het was daar steeds nie krag nie. Hein gaan dit vir my nagaan (ek het nie tyd of lus om te probeer volg waar die draad langs loop teen die onderstel nie).
Hy gaan ook vit my ‘n BH prop in die laaibak sit waarby ek die DC/DC laaier vir die tweede battery waarvan die Engel loop kan inprop terwyl ons ver ry. Dit sal ook tydens wildritte die battery laai in die Krugerwildtuin. Mens kan darem nie warm bier drink nie, en die Ranger het ongelukkig nie ‘n yskassie in die konsole tussen die voorsitplekke soos die Prado nie.
Gereed
Hein sê hy het ‘n uur lank geboor om ‘n gat vir die kabel te maak. Ek onthou hoe het ek gesukkel om kleiner gaatjies te boor vir die voetstukkies van die ringe waaraan ek die bande vasmaak wat die yskas en battery vashou. Gelukkig was daar reeds ‘n 16mm kabel van die battery af en ek het ‘n BH prop gehad so dit het my “net” R750 arbeid gekos.

Hein is ń slim man om ń…
Hein is ń slim man
om ń uur te boek vir die gat se boor, seker ń spyker as boorpunt gebruik.
. Wil nie uit my beurt praat nie, maar ń rubber grommet sou nie sleg idee in die gat, om die draad te beskerm teen deurskuur.
Behalwe as die bak van 'n…
Behalwe as die bak van 'n spesiale staal (harder as normaal) gemaak was (onderstelle word wel van spesiale staal gemaak). Maar moet byvoeg laaste wat ek van so 'n lang boor proses gehoor het was toe ek 'n gat deur 'n pantserplaat moes boor...spesiale boorpunte en al het gesukkel, maar ek dink nie die Ranger word van sulke staal gemaak nie! Of dalk verkoop hulle net stomp bore innie Kaap?
Neef, jy is reg wat die grommit aanbetref, dis eintlik standaard praktyk dat enige bedrading wat deur 'n "bulk head" van enige soort gaan deur 'n grommit beskerm moet word. Stel voor jy vat die bakkie terug en vra die ou om sy joppie asb klaar te maak.
Julle stel my nie teleur nie
Ek het gewag vir die opmerking oor die grommet, en toe kom dit sommer twee keer ![]()
Hein het nie die regte grootte gehad vir die gat nie en dit was te laat in die dag om een te gaan koop. Hy werk alleen met net een handlanger. Hy het aangebied dat ek die bakkie kan terugbring sodat hy een insit nadat hy dit gekry het, maar ek gaan dit sommer self doen. Dis vinniger.
Gepraat van vinnig, dit en ‘n gat boor deur die plaat waaruit die Ranger se bak gemaak is kom nie in dieselfde sin voor nie. Daar is boonop ‘n dubbele plaat waar die kabel deurkom. Ek kan dit onthou, want ek het die gaatjies geboor vir die klinknaels van die voetjie vir die silwer ring wat op die foto sigbaar is. Ek is deur twee boorpunte om die ses gaatjies te boor (daar is drie voetjies altesaam).
As jou boor nie stadig genoeg kan draai nie, word die punt warm en stomp. Hein weet hoe om ‘n punt te slyp en sy uur vir die werk sluit die skerpmaak in, maar ook ‘n gestoei om ‘n plek te vind waar hy kan boor. Hy het eers die plastiek plate aan die binnekant van die modderskerm afgehaal want hy wou nie die gat so ver van die kant van die bak af gemaak het nie. Daar was egter nie plek om die kabel ordentlik te lei/lê nie.
Die ouman praat ‘n hond uit ‘n bos en kan baie kla, maar ek sal hom aanhou gebruik want hy ken sy storie.








ritrekenaar....
.... se brandstofverbruik brgin eers redelik korrek word na so 200km[?] gery. Ek vermoed dat jou ~8km/l baie meer korrek is, as die dorp se waarde. Met daai 2 passe ingedagte, is 8km/l heel skaflik vir daai masjien.
Het julle dan nie nog 'n dorpskarretjie ook nie. wie ry daarmee, en wie tjommel die meeste in dorp rond.
Jis, ek sal maar swaar afskeid neem van die v6 Prado, maar julle moet besluit watter ene gee die meeste nut, nie plesier nie.