So het 'n jaar waarna ek baie uitsien aangebreek vir vir een groot rede: die einde van ons kampdroogte is in sig!
Dan ook wens ek aan al my forumvriende net die beste vir die jaar wat voorlê met goeie gesondheid en vele heerlike kampe. Mag 2025 al julle stoutste verwagtinge oortref. Julle verdien dit![]()
Blyde dam Swadini
Ek kyk nounet na 'n video van die Blyde dam by Swadini wat oorloop. Dit is sekerlik van die mooiste damme in ons land, met die Blyderivier canyon wat so opgedam is.
Sjoe, hoe mooi dit ookal is, sou ek nogal moeilik kampeer by Swadini met die gedonder van daai water oor die damwal. Ek dink altyd daaraan, hoe dun daardie damwal is, met daardie massa water daaragter, as ons by Swadini kampeer.
Dis eintlik selde dat daai dam nie oorloop nie, hoewel dit nou omtrent in vloed is.
My mond water al ...
... vir die lekker hoendersosaties wat wag vir eerskomende Vrydagaand. Ons plaaslike Spar maak 'n "mean" hoendersosatie. Die vleisgoeters is alles reeds in die karavaan se vrieskas gepak. Vir die 10 aande is dit nie nodig om my kampvrieskas saam te karwei nie.
Die beplande aandspyskaarte bestaan uit genoemde hoendersosaties, murgsagte sirloin steak, snoek, lamskenkel vir 'n lekker kerrielamspot (om Wessel jaloers te maak met sy kerrielus), hoenderporsies, pork belly, beesvleis-sosaties (ook ala ons plaaslike Spar), Valley Kreef (ala Delico) en lamstjops. Die Valley Kreef is mos 'n hoenderborsie met ham en cheddar gestop en toegedraai in bacon. Dan word daar ook beplan om minstens een aand te gaan uiteet. Joey's boerewors en ons plaaslike slaghuis se Gouga boerewors is ook in. Maar met die antie wat nou op 'n gluten-vrye dieet is, word daar maar min wors geëet - net ek. Ons moet hoeka môre haar spesiaal-gebakte glutenvrye brood by ons Spar se bakkery gaan optel, sny en vries.
Vanaand braai hierdie visvreter 'n lekker hotnotsvis (oftewel Kaapse Hangberger - as jy nou wil ghrênd wees).
Chris B...
....gaan jy vakansie hou, of 'n fynproewer restaurant open, minus die kerrie.
Die Wes-Kaap, of liewer ...
... die Boland. Mensig, ons is bevoorreg om hier te kan woon. Ons besef dit net nie altyd nie.
Ek sit en kyk nou die SA20 krieketwedstryd wat in die Paarl gespeel word (met 'n lekker yskoue Skotse drankie in die hand). So hier en daar is daar 'n wye kameraskoot met die Du Toitskloofberge in die agtergrond. O my pok - dis darem maar mooi.
Daar is ikoniese krieketvelde in die wêreld - ook in Suid-Afrika. Ek dink o.a. onwillekeurig aan Lords in Engeland, die Wanderers in Johannesburg - maar is daar dan 'n meer ikoniese krieketstadion as Nuweland?
Chris B
Ai man, nou het jy my aand sommer omgeklits. Dan praat ons nog nie van Stellenbosch omgewing, met die Pieke, en omring met berge, Franchhoek, en Helshoogte pas, Baineskloof.....
Dan raak die mense hier begaan oor die "Magaliesheuwels". Genade, die goete is nie verwysing na berge werd nie. Stik sommer in my Pinot Noir van Muratie!!!
Dan brunch by Ou Meul in…
Dan brunch by Ou Meul in Riviersonderend
My kinders het die Ou Meul net duskant Melkbosstrand hierdie vakansie ontdek, en my skoonseun kon "gladnie" daar verby ry sonder om te stop. Verlede vrydag toe hulle terugry Gauteng toe, eers daar gestop, padkos gekoop en toe fort. Die kleinkinders en my dogter het die eetgoed net so geniet.
Dankie Jan
Ek moet nog eers die oogspesialis vandag agter die rug kry om te verneem of daar iets aan my dowwe linkeroog gedoen kan word.
Die dofheid van jou oog,...............
...............is dit nie dalk daardie koue Skotse drankie se skuld nie ?
Pulled Pork
Vanaand is my eie weergawe van "pulled pork" op die spyskaart. Die varknek is vroegoggend in die "slow cooker" gesit. Vanaand trek ek daardie vleis uitmekaar, braai 'n bietjie uie in 'n ander pot, voeg die vleis by, aartappels en wortels in blokkies gesny en 'n klompie paddastoele by. Bedien op bruinrys met 'n lekker glasie (of meer) Arabella Merlot daarby.
Hierdie is 'n klein wysiging van my ver kleindogter se resep. Sy gebruik bees "shin". Net so lekker.
Pulled pork
gelukkig het Chris verduidelik, want ek het gedog hy praat van 'n "getrekte vark", soos in 'n gesuipte teertou![]()
Kaaimans rivier …
Kaaimans rivier vanoggend met ons kanoe gaan verken.
Baie mooi natuur en die weer was pragtig. Interesant vir my is die riviere wat ons nou al op geroei het in hierdie omgewing se water is baie skoon en helder tog is daar so bruin/swart kleur op die bodem. Dit maak nie jou voete vuil nie maar is opmerkend.
Lekker waterval ook sommer naby. Die ou treinbrug nog in 'n goeie toestand. Het iewers gehoor hulle wil die trein weer in werking stel by Wilderness.
Tannien
Ek neem aan dis hoe mens tannin spel in Afrikaans. Is dit nie wat die donker kleur veroorsaak in die riviere nie? Dit gee die water so ‘n tee kleur, so dalk slaan dit neer op die bodem omdat die riviere naby die kus so stadig vloei? Of dalk lyk die bodem net so omdat die water so bruin is van die tannien. Lg kom van die plante af wat groei langs die water.
Dankie Chris het …
Dankie Chris het gedink dat dit van die plante en bome af moet kom want die oewers is baie dig bebos maar was nie seker nie.
Is net 'n plesier om in skoon water te roei na al die tye wat ons in vuil besmette water geroei het in Pietermaritzburg en Durban.
Hier kan jy stop en piekniek hou op die sandbanke. Foto wys die kleur maar as jy dit in jou hande skep is dit skoon. Plekke kan jy die bodem duidelik sien.

Donker rivier
Toe ons in die Suid-Kaap gewoon het, het ons ook navraag gedoen oor die donker kleur van die Kaaimans. Daar is aan ons verduidelik dat dit verrotte/ontbinde plantreste is wat die kleur veroorsaak soos wat Wildehont ook noem.
Mooi foto's Jan en dit lyk na 'n ideale dag wat julle gekies het vir die uitstappie. Ek onthou ook die huise (dink dit was 2?) aan die oorkant van die rivier. Aan die agterkant was dit omring met bosse en voor kon hulle met bote die water in vaar. Daar was geen pad sigbaar nie, so het ek altyd gewonder hoe die mense daar kom. Sal weer moet gaan kyk...





Stanford kuier
Chris S, dis 'n slegte tyd om uitgebreide vakansie te maak. Dis jaarafsluiting vir kompleks, en ekke moet boeke by ouditeure inkry.
Ek oorweeg dit om volgende jaar dalk 'n Chris B uit te oefen, en vroeg in Januarie 'n "see" vakansie in te werk. Moet nog besluit of dit via Bergkwagga is, na Bosbokstrand, of alternatiewelik na DWS.
Ongelukkig is dit Januarie veronderstel om [baie] warm te wees in Bergkwagga en KarooNP.