Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Len... Len gaan weer Kruger Wildtuin… Wessel Strydom -6 minutes ago
groen Kgalagadi... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -3 hours ago
Mata Mata Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -3 hours ago
Etoll Voertuiglisensie Geert -4 hours ago
Die Auobrivier Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -4 hours ago
Voortrekkery Voertuiglisensie Rona du Plessis -5 hours ago

Ons 4-maande toer

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

As alles volgens plan verloop, skop ons 4-maande vakansie oor 2 weke af. Ons reisplan lyk as volg:

5 - 14 April: ATKV Hartenbos

15 - 21 April: Karoo Nasionale Park

22 April: Forever Gariep

23 April: Weltevrede, Parys

24 April - 3 Mei: ATKV Klein-Kariba

4 Mei - Malelane-kamp, Krugerwildtuin

5 Mei - 1 Junie: Krokodilbrug, Krugerwildtuin

2 Junie: Orpen, Krugerwildtuin

3 Junie - 3 Augustus: ATKV Eiland Spa

4 Augustus: ATKV Klein-Kariba

Die res van die beplanning terug huistoe moet nog gefinaliseer word, maar sal waarskynlik weer Weltevrede, Gariep en Karoo Nas Park insluit.

Ek het gister die Hilux by 4x4 Mega World in Somerset-Wes gehad vir die stofdigting en uitgly-laai vir die Snomaster. Op die oog af lyk dit of hulle 'n baie netjiese werk gedoen het. Ek het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om my voorraad Joey's boerewors en patties te gaan koop. Dit is gou by die huis in porsies vakuumverpak. 

Ek het ook gou by Cara-Camp aangegaan om die Thetford chemikalieë vir die Porta Potti aan te vul. Ek moet genoeg saamneem vir die 4 maande. Teen 60 ml elke 5de dag behoort ek sowat 1.5 liter te benodig.

Vandag sal voortgegaan word om alle items wat onnodig in die karavaan is uit te haal. Ons het die "gawe" om onnodige goed (wat dalk gebruik kan word, maar nooit nie) saam te karwei.

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 22/05/2025 - 18:59

... ja, dit was die eerste keer wat ek water in die pan gesien het. Ons het egter nie gestop en in die "hide" gaan sit nie. Daar was heelwat voertuie en ons kon niks rondom die pan waarneem nie.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Fri, 23/05/2025 - 08:44

Wat interessant is op julle program vandag daar in Krokodilbrug, gaan julle weer Spar toe in Komatipoort ?  Wat is op die spyskaart vir ontbyt ?

Ek weet jy drink graag koffie na opstaantyd en aanvaar jy het al 'n koppie of twee agter die blad. By the way, watse koffie drink jy graag daar in die Wildtuin, regte moerkoffie of sommer kitskoffie ? Watter produkmaak verkies jy ?

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 23/05/2025 - 13:55

Nou net hier by die karavaan arriveer na 'n rit via Mpondodam. Nie veel gesien nie, maar darem. Ek is net dankbaar dat die H5 geskraap is, want dit was plek-plek in 'n haglike toestand.

Ja Len - ongelukkig moet ons vanmiddag Komatipoort toe gaan. Die diesel, maar veral die wyn, raak min - en my suster-hulle kuier vanaf Sondag vir 3 aande saam met ons in Krokodilbrug. Sy maak my groen van jaloesie met hulle "sightings" sedert hulle Dinsdag in die wildtuin aangekom het. Ek het so pas 'n video van haar ontvang van 'n luiperd en haar twee welpies, in die teerpad, toe hulle vanoggend van Pretoriuskop af na B&D verskuif het.

Wat koffie aanbetref is ek nie 'n kenner nie. Ek drink wat vir my lekker is - Nescafé Classic. Ek waardeer 'n lekker koppie moerkoffie - ek vind Spur s'n besonders lekker. Maar by die huis (en in hierdie tydelike huis van my) voldoen Nescafé Classic (lekker sterk) aan my behoeftes.

Ons maak elke dag vir ons elkeen 'n beker "padkoffie". Ek het 'n paar maande gelede van daardie bekers (510ml), wat die koffie so lekker warm hou, gekoop. So "sip-sip" ons koffie tot laat in die oggend. Ek het dit via Takealot bestel - uit en uit hulle geld werd.

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Fri, 23/05/2025 - 17:21

Dis nog iets wat ek wil sien met eie oë....luiperd met welpies. Weet jy waar dit ongeveer was....seker op teerpad omdat hul besig was om van kamp te verander?

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 23/05/2025 - 20:16

Ek sal nog by haar moet uitvind waar. Ek vermoed dit was iewers op die H3.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 24/05/2025 - 16:00

Behalwe vir 'n lekker M&B brunch vanoggend by Onder-Sabie, is daar werklik niks om oor opgewonde te raak oor vanoggend se "game drive" nie. Dit was egter 'n praguitsig vanaf M&B se stoep met baie olifante in die Sabierivier. Krokodilbrug-omgewing produseer beslis nie vanjaar soos wat ek dit oor die jare leer ken het nie. Maar - ons kamp lekker en geniet nog elke oomblik.

Vanaand timmer ons 'n tamatiebredie, in die swartpot, aan die gang. Ek steek sommer nou-nou vuur aan om die skaapnek eers 'n bietjie sag te kook en genoeg tyd te gee vir 'n paar glasies Arabelle Merlot.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Sat, 24/05/2025 - 16:20

Die swak wildbesigtiging ten spyt, klink dit steeds baie lekker. As ek net onder ‘n appelblaar, of mopanie kan sit terwyl die spreeus, neushorings en rooioogtortelduiwe daarin kwetter en roep is ek gelukkig. Al die wild wat mens sien is net ‘n bonus. Geniet die kampvuur en die pot. 

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Sat, 24/05/2025 - 17:14

Ek is baie bly julle geniet nog julle "lang-kamp" by Krokodilbrug, ten spyte daarvan dat die wildbesigtiging nie oplewer wat julle tog sou wou ervaar nie. Net die teenwoordigheid in die Wildtuin met sy wonderlike natuur is opsigself 'n goeie beloning.

Aan die ander kant is die teenwoordigheid van die wildlewe darem maar die "cherry" op die koek en dit bly 'n wonderlike ervaring om na die verskillende spesies te kan kyk hoe hulle in hul natuurlike omgewing leef.  Vir my is 'n wye verskeidenheid wild-spesies tydens 'n Wildtuin-besoek baie lonend, al sluit dit nou nie altyd al die Groot 5 lede in nie.  Maar sou dit wel moontlik wees, rond dit die besoek darem mooi af.

Ek is vol vertroue dat julle oorblywende kuier in die Wildtuin steeds baie lekker sal wees en veral, dat julle tog 'n bietjie beter met wild beloon sal word.

Weer eens, baie dankie dat jy ons ou tuisblyers op die hoogte gehou het met julle doen en late.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 25/05/2025 - 14:33

En steeds bly die katte ons nog ontwyk. Maar hulle g@tte as hulle nie vir ons wil gesig wys nie. Ons sien baie ander mooi goed. Ons het die korter "loop" via die S108 vanoggend geneem. Ons het 'n plekkie langs die Bumerivier waar ons graag onder 'n groot jakkalsbessie ons toebroodjie en koffie nuttig.

Krokodilbrug

Dit is só lekker om net rustig daar te sit met jou ruite afgedraai en na die bos te luister.

Dit is amper te goed vir woorde hoeveel bekendes ons al die afgelope 3 weke in Krokodilbrug raakgekamp het. Afgesien van ons forum-maters, Maurits en Goeie Hout, het my suster-hulle en nog ou kennisse vanuit ons Grabouw-dae vandag hier ingetrek. Laasgenoemdes was sleutel rolspelers om fondse in te samel sodat my sendeling-kinders in Roemenië hulle eerste voertuig kon koop. Dan ook nog 'n oud-kliënt (appelboer) wat in een van die rondawels bly. O ja - ook Goeie Hout se swaer wat saam met my op Elsenburg geswot het.

En almal is beïndruk met Krokodilbrug as kamp. Na 3 weke hier voel dit of ek deel van die personeel is.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 26/05/2025 - 14:46

Ons wildsrit het vanoggend Gezantfombidam, die S28 (Nhlowapad) tot by die S137 (verby Duke), die suidelike deel van die S130 (Gomondwane Loop) en die H4-2 teerpad terug kamptoe ingesluit.

By Gezantfombi het dit gelyk of daar 'n groot sportbyeenkoms aan die gang is soos die voertuie daar gestaan het. Ons het ook maar ingedraai, maar kon geen parkeerplek kry nie. Die leeu-betotteldes het die plek toegepak. Terloops - dit is opmerklik hoe die watervlak in die dam gedaal het oor die afgelope 3 weke. En as jy praat van 'n mekka vir blou-groen alge - die water lyk maar naar.

Sowat 2 km af op die S28, loop ons onsself in 'n moerske verkeersknoop vas. Die roofdier-betotteldes het 'n jagluiperd gewaar. My bloeddruk is behoorlik opgejaag deur onbedagsame mense wat die pad volgestaan het om te kyk na 'n lêende jagluiperd wat jy beswaarlik kon sien.

Die res van die S28 het weinig opgelewer. Vir die hoeveelste keer het ons afgedraai op die S107 na Nhlanganzwani, maar letterlik niks wild gesien nie.

Die S137, via Duke, het soos in heeltemal niks opgelewer nie. Die suidelike deel van die S130 was ook maar power behalwe vir 'n kleiner trop buffels net voor ons by die teerpad aangesluit het.

Vanaf die Vurhamirivier-brug het ons darem weer 'n klompie algemene wild gekry tot by Krokodilbrug. 

Dit is 'n wonderlike dag wat die weer aanbetref. Ek het al verskeie kere genoem - ons geniet Krokodilbrug (die kamp), maar die populariteit van die ongewing onder dagbesoekers en die "jeep jockeys" piepie my af. Dus - nie sommer weer Krokodilbrug nie.

Vanaand kuier ons saam met my jongste sus en swaer. Dit is sommer net 'n (krummel) pap en wors aand (Travalia se boerewors).

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Mon, 26/05/2025 - 18:29

..............ek lees tussen die lyne dat jy erder maar by Die Eiland moet uitkom om te gaan jukskei speel.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 26/05/2025 - 19:24

Ek wonder hoe mens die probleem sinvol onder Sanparke se aandag kan bring.

Ek het vandag 'n evalueringsvorm van Sanparke ontvang, en daarin baie sterk melding gemaak van die probleem.

Ek het fotos geneem van die trokkies se gedrag, by 2 geleenthede, maar het dit nie by Satara - oordbestuurder gaan aanmeld nie. Ek twyfel of hy vir mens sal te woord staan. 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Mon, 26/05/2025 - 20:16

Toe ek in die Krugerwildtuin gewerk het 23 jaar gelede, het die bestuur ‘n toeriste vriendelike beleid gehad. Ons het so baie ondinge gesien wat toeriste aangevang het, en wou help om dit te bekamp. Toe ons dit met die bestuur bespreek het, het hulle duidelik laat blyk dat hulle nie lelik wil wees met die toeriste nie. Hulle sou eerder anderpad kyk as die toeriste nonsens aanjaag as om hulle te berispe. 
 

Ek stem nie met die benadering saam nie. Ek sou eerder wou sien dat hulle die reëls duidelik onder elkeen wat die park betree se aandag moet bring en dit dan streng en sonder genade toepas. Dan sal die toeriste hulle mos beter gedra. Tog moet mens onthou waar SANPARKE se inkomste vandaan kom. Die Krugerwildtuin en Tafelberg is die hoofbronne, en subsidieër die res van die nasionale parke.
 

Moet dus nie asem ophou dat die gehate omskepte bakkies gaan verdwyn nie. Die toergroepe maak gebruik van hulle, en hulle het gewoonlik net ‘n dag in die Krugerwildtuin. Die gidse ry elke dag en weet waar die roofdiere is. Hulle is ook in radioverbinding en dis nie ongewoon dat hulle in een dag vir hulle meestal oorsese gaste die Groot Vyf wys nie. En hulle is ‘n belangrike bron van inkomste vir SANPARKE. Moet dus ook nie asem ophou dat hulle beter gereguleer sal word en minder van ‘n las gaan word nie.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Tue, 27/05/2025 - 16:33

Weereens het ons die gruispad na Onder-Sabie geneem en o.a. weer gaan jagluiperds soek by Nhlanganzwani - sonder sukses. In Onder-Sabie het ons 'n lekker "brunch" by M&B geniet - maar ai, die glansspreeus is 'n "nuisance".

Krokodilbrug

As jou aandag vir 'n kort oomblik nie by die kos voor jou is nie is hulle binne-in jou bord.

Ons is behoorlik bederf met troppe olifante oorkant die restaurant.

Krokodilbrug

Toe ons uitry by Onder-Sabie se hek, het 'n vriendelike man ons ingelig van leeus sowat 2km in die rigting van Skukuza. En wraggies, daar kry ons toe die 4 leeus (bietjie ver vir selfoon-foto's) oop en bloot lê - nie platlê nie, maar almal kop in die lug. Ek het gewens ek het 'n ordentlike kamera met 'n behoorlike telefoto-lens.

Ons het teerpad-langs teruggekeer en sowat 6 km vanaf Krokodilbrug kry ons toe 'n goeie "sighting" van 'n luiperd.

Krokodilbrug

Ons het 'n lang tyd daar spandeer met die luiperd wat net padlangs geloop het.

Verder het ons redelik goed gedoen met algemene wild.

Vanaand eet die twee oumense baie eenvoudig - net 'n tuna/mayonnaise roosterbroodjie. Ons sal weer môre-aand vuur aansteek.

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Tue, 27/05/2025 - 16:43

Ek sien elke dag uit na die dag se terugvoering en dan ook die aand se menu....dankie!

Sjoe....pragtige luiperd, en so meer spesiaal so langs jou kar. My gunsteling dier in wildtuin bly maar n luiperd en as ek hom 1x in my hele verblyf so mooi soos julle hom gesien het, is ek gelukkig vir res van tyd....dit wat bo op dit kom is dan n bonus 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Tue, 27/05/2025 - 17:21

Ek stem saam met Geert. So ‘n luiperd reg langs die motor en boonop aan die beweeg is darem maar spesiaal. Moet nou nie weer gaan staan en vis eet nie. Dalk is dit die visreuk wat die roofdiere weghou.

0
Sedgefield
Profile picture for user Jan Meyer

Jan Meyer

Tue, 27/05/2025 - 17:52

Dit bly maar 'n pragtige prentjie as 'n luiperd so langs die voertuig stap sodat jy hom vir 'n rukkie mooi kan sien. 

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 27/05/2025 - 19:17

...daai luiperd foto maak my rerig jaloers. 

Ons het vlietend ene in teerpad voor Tsendze se hek gesien, maar so vinnig oor pad en weg tussen mopaniebosse.sad

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Tue, 27/05/2025 - 20:08

Die luiperd is darem 'n pragtige dier. Dan ook nog in die pad, so asof hy geweet het hy moet nog op jou lysie afgetik word.

Moenie so kwaai wees met die spreeus nie, hulle is tog so mooi en dit lyk asof hierdie een spesiaal vir jou 'n peperkorrel erens gegaps hetdevil

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus