Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Nieuwoudville na Kambro.... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -6 hours ago
Selfde leeuwyfie? Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -6 hours ago
Wessel ... Oktober 2026 saam gesels Chris Boucher -7 hours ago
Wessel, Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -7 hours ago
Gemsbok... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -8 hours ago
Stil pad Tulbagh toe. Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -8 hours ago

November saampraat

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Jan Meyer skop die maand af met sy verjaarsdag (wat toe 'n fout is). Vele meer word jou toegewens Jan (wat ek sal herhaal op 19 Nov). Mag jy vinnig volkome herstel na jou operasie.

Kaap

Goeie Hout

Wed, 12/11/2025 - 21:21

Skuus ek kan nie so gereeld julle bewoording lees, aangesien ek in platteland werk.  RAKA.

 

Geert ons het toe Onrus gekamp.

Die Ford is gelukkig nie myne.  Suzie is wel myne.

Awning.

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 12/11/2025 - 21:45

Goeie hout, ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar daai ding gaan probleme gee as dit reen. die water gaan bo-op opdam, behalwe as jy die 2 hoekpale laat sak.  

Die oorspronklike awning met sy struktuur na die woonwa, is na my mening steeds 'n beter opsie.

nou het ek ongelukkig op jou awning gereen.sad

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Wed, 12/11/2025 - 22:30

Nice Goeie Hout...ek is bly julle het die geleentheid kon kry om te kampeer. Dankie vir die deel van foto's....lyk nice en hoop dit gee julle nog jare se plesier. Rol jy die pale saam op in die sak?

0
Kaap

Goeie Hout

Thu, 13/11/2025 - 07:31

Toe ons Onrus toe ry, was die pale nie by awning.  Die sak het lekker rond gewapper.

Met die trug koms was pale by en nie gewapper.

 

Lekker week verder.

0
Kaap

Goeie Hout

Thu, 13/11/2025 - 07:33

Wessel, jou komentaar is baie waar en ek sal moet dop hou as dit reen.

Maar dit reen mos nie in n karavaan park nie....

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 13/11/2025 - 09:43

....is al goed bespreek op die forum. Gebruik die soekenjin en mens vind vele idees om daarmee te handel.

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 13/11/2025 - 09:51

Sonder om Grootwind se gesprek oor sy soeke na 'n luukse padwa te besoedel, gesels ek sommer hier.

Ek het al vergeet dat ek ook 13jaar 'n Jurgens padwa gesleep het. Soos Grootwind sê, mens raak gewoond aan die breedte.  Myne was 2.33m wyd, en ek het dit agteruit in sy garage gestoot, deur 'n deur met 2.8m wydte. 

Wil ek weer, nee wat. Soos Chris S is ek nou gewoond aan, en sleep te lekker die smal Kavango boswa. Ek kan self waag om so slinger aksie in snelwegbaan uit te voer. Saam met laphoedjie doen dit wondere om die gatkruipers en sykant skuurders weg te hou. laugh

0
Irene
Profile picture for user Grootwind

Grootwind

Thu, 13/11/2025 - 12:34

Probeer met 'n Rooikat, niemand waag dit om in jou pad te kom nie...en vir die paar dapperes draai jy net die kanonloop in so iemand se rigtinglaugh

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 14/11/2025 - 12:15

My Kgalagadi-besprekings vir Oktober volgende jaar vorder al hoe meer. Ek soek nog een aand se akkommodasie, maar intussen kon ek ook 'n 2-bed "River Front Chalet" (vir 1 aand) in Mata Mata en 'n 2-bed "Desert Tent" in Kalahari Tented Camp (vir 3 aande) bekom. Beide genoemde besprekings het ek op die aanlyn-besprekingstelsel gemaak en moes dus te volle betaal. Tans lyk my bespreking as volg;

6 & 7 Okt: Twee Rivieren (4-bed chalet)

8, 9, 10 & 11 Okt: Nossob (6-bed chalet) - wie wil saamgaan, want ons is net 2 persone)

12 & 13 Okt: Twee Rivieren (4-bed chalet)

14 Okt: Soek nog akkommodasie (verkieslik Mata Mata of Kalahari Tented Camp, maar self Urikaruus of Kieliekrankie). Laasgenoemde is egter seker maar wors in 'n hondehok.

15 Okt: Mata Mata (2-bed Rivierfront Chalet)

16, 17 & 18 Okt: Kalahari Tented Camp (2-bed tenthuis).

Die laaste keer (en enigste keer) wat ek nog in Kalahari Tented Camp gebly het was in 2007. Ons het dit baie geniet. In Mata Mata het ek nog langer gelede laas gebly. Toe ons verlede April by Mata Mata uitgegaan het Namibië toe, was ek verstom om te sien hoedat die kamp verander het. Dit was vir my bykans onherkenbaar. Ek verstaan dat daar ook baie verandering by Nossob plaasgevind het sedert ons in 2007 daar gebly het. Dus sal die verrassing daar seker ook groot wees.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Fri, 14/11/2025 - 12:22

Dis die aangewese tyd om die Leeudril 4x4 roete te gaan ry.
 

Verder lyk dit na ‘n vrek lekker program, veral die vier aande in Nossob en drie by Kalahari tentkamp. Ons was in 2010 daar as ek reg onthou. Dit was vrek warm, maar wat ‘n lieflike uitsig. Ek het een aand teen Salomien se sin op die stoep geslaap. 

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 14/11/2025 - 12:40

in Meimaand vir my. 

Ons was laas in 2019 daar, en het dit baie geniet. Dit was 'n jaar wat die veld oortrek was met wuiwende gras, sodanig dat mens omtrent geen rooiduin gesien het nie.

Uit 'n wildkyk perspektief wonder ek, wat is beste tyd, winter of na die reën. Somermaande is sekerlik baie warm met 'n woonwa.  

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 14/11/2025 - 13:24

... vrees wat ek het - uitermate warm weer in Oktober. Ek onthou van eenkeer wat ek en Ralie daar was. Ons was die eerste 2 aande in Mata Mata - dit was in die tyd van die ou akkommodasiegeriewe. Dit het bestaan uit 2 losstaande 6-bed huise en 3 x 2-bed kamers met een groot gemeenskaplike stoep. Ons het in een van laasgenoemde gebly. Om te sê dat dit vrekwarm was toe ons daar arriveer is baie lig gestel. Ralie het haar plat uitgestrek op die stoep met 'n kussing onder haar kop.

Daarna was dit 2 aande in Nossob. Dit was warm. Ons het een aand die agterdeur laat oopstaan sodat die koeler luggie kan deurvloei ten einde die chalet bietjie af te koel voor slaaptyd. Ons was besig om buite te braai toe Ralie gou iets in die chalet gaan haal. Skielik kom 'n rooijakkals vanuit die huis. Die agterdeur is sonder seremonie toegeklap.

Die een nag het sy my wakker gemaak en na die oop venster bokant ons beddens beduie. 'n Witwanguil het ons daar van bo-af dopgehou.

Aag - ek het wonderlike herinneringe aan Kgalagadi, maar ek sal julle nie langer daarmee verveel nie.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 14/11/2025 - 14:19

... aan hierdie wonderlike park (Kgalagadi), wat toe nog bekend gestaan het as die Kalahari Gemsbokpark, was in 1986. Ons het saam met vriende eers vir 2 aande by Augrabies oorgebly voordat ons Gemsbokpark toe is vir 4 aande - en daarna Namibië toe (nee - toe nog Suidwes-Afrika. Ons was bloot toevallig saam met een van my kliënte ('n appelboer van Grabouw - waar ons ook toe gewoon het) by Augrabies en die 2 aande in Twee Rivieren.

By Augrabies is daar reeds besluit dat ons die tweede aand in Twee Rivieren 'n afvalpot sal maak. Ek en my vriend is afgevaardig om 'n skaapafval in Upington te koop op pad Kalahari toe. Nêrens kon ons egter afval kry nie en ons besluit toe om beesstert vir die pot te koop.

In Twee Rivieren aangekom (dit was nog die gruispad via Noenieput en Koopan-suid), het ons die namiddag ons eerste wildsrit onderneem. Daardie middag het ek my eerste (en bykans enigste) luiperd in dié park gesien. Ons het reeds daardie aand aan ons beesstert begin kook.

Die volgende oggend is die platboompot, met die beesstert in, gelaai om verder by Melkvlei piekniekplek te gaan kook terwyl ons "brunch" aanmekaar slaan. Ek en Ralie het bietjie later uit die kamp vertrek. Toe ons by Melkvlei aankom, staan die appelboer se Range Rover daar met die enjinklap oop. Toe hulle daar aankom, besef hulle dat hulle nie vuurhoutjies by hulle het om vuur aan te steek nie. Daar word toe 'n stuk papier in petrol gedoop en met 'n vonkpropdraad wat uitgetrek is, poog hulle toe om 'n vlam vir die vuur te kry. Ek het toe gelukkig 'n dosie vuurhoutjies in my Cressida se paneelkassie.

Die vuur is aangesteek en die beestert verder gekook terwyl ons "brunch" maak in 'n ysige Junie-wind wat gewaai het. Daar kry Ralie toe nog 'n klip teen die kop toe die kinders "hop scotch" speel en die klip uit my dogter se hand glip.

Maar daardie aand het ons 'n murgsagte beesstertpot gehad wat vanaf vroegmiddag weer in Twee Rivieren op die vuur was.

Maar net nog een van my herinneringe aan dié park.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 14/11/2025 - 20:57

Na 2 windverwaaide aande in Twee Rivieren het ons "verhuis" na Mata Mata vir die volgende twee aande. Ons en ons appelboervriend van Grabouw se paaie het geskei. Hulle is vort Nossob toe na Twee Rivieren.

Ons het die twee 6-bed huise in Mata Mata beset. Ons was 2 pare en elke paar het 2 jong kinders gehad. Ek onthou die heerlike tuisgebakte brood wat die personeel in Mata Mata gebak het.

Ons het tydens die hele vakansie kaart gespeel tot laataand. Ek kan nie onthou teen watter tyd die kragopwekker saans in Mata Mata afgeskakel is nie. Maar die tweede aand het ons nog gesit en kaartspeel by 'n gaslamp, is daar skielik 'n klop aan die deur. Die vrouens het dadelik gesê dat hulle ons kom stilmaak omdat die Chateau Libertas redelik mildelik gevloei het.

Maar toe ek die deur oopmaak staan ene Piet Retief daar, met sy glasie rooiwyn in sy hand en 'n bottel Tassenberg in die ander. Sy vrou het al gaan slaap en hy't gehoor en gesien dat daar by ons nog "lewe" is. Hy was duidelik reeds "op 'n stasie". Watter aand was dit nie! Ons het gelê soos ons lag vir Piet Retief se spitsvondige humor - wat beslis aangehelp is deur die Tassies, wat gou op was en verder aangehelp is met die Chateau Libertas. Dit het laatnag geword voordat ons hom uiteindelik tot by sy slaapplek begelei het - ek is seker dat hy dit nie self sou kry nie. Maar kom dat ek eerlik wees - op daardie jong stadium van ons lewe was my en my vriend se leuse: "Spaar water, drink wyn".

Die volgende oggend het ons opgepak vir ons Suidwes-Afrikatoer. Toe't ons nog nie paspoorte nodig gehad om oor die grens te gaan nie. Piet Retief se vrou was besig om hulle Mercedes te pak. Wonder bo wonder was sy baie vriendelik met ons en het ons selfs bedank dat ons hom tot by sy slaapplek begelei het.

Lekker ou Kalahari.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 15/11/2025 - 08:39

Ek dink ek het hierdie al voorheen op dié forum gedeel. Indien wel, vergeef maar of blaai verby.

Ek kan nie die jaartal onthou nie, maar dit was ons tweede besoek aan die destydse Kalahari Gemsbokpark en ons eerste keer in Nossob. Destydse akkommodasie het o.a. vier eenhede ingesluit wat elkeen sy eie voorstoep gehad het, maar agter 'n lang (noem dit) toegeboude stoep waarop elkeen van die vier eenhede uitgeloop het. Twee elk van dié eenhede het 'n badkamer en kombuis gedeel. Ons het met 3 Nederlanders 'n badkamer en kombuis gedeel.

Toe ons die dag daar aankom, het die Nederlandse vrou ons gewaarsku om nie saans vensters, en veral die deur wat na buite gaan vanuit die lang stoep, snags oop te laat nie a.g.v. "fledermause" wat inkom. Ons het die eerste aand haar aanbeveling gehoorsaam. Hulle het die volgende oggend vertrek.

Die tweede aand was die "Hollandse antie" se waarskuwing heeltemal vergete. Ons het nie vir een oomblik daaraan gedink om die buitedeur toe te maak nie. Daardie nag jaag my blaas my toilet toe. Ek gaan badkamer toe en laat ons kamerdeur, wat op die langstoep uitloop, oop terwyl ek my blaas verlig. Daar was na 'n sekere tyd saans geen elektriese lig nie en gevolglik neem ek 'n flits saam.

Ek besluit toe om, terwyl ek op is, 'n glasie koue water uit die yskas te gaan drink. Die deur na die kombuis het oopgestaan. Toe ek met die flits in die kombuis ingaan, is dit tientalle (indien nie honderde) vlermuise wat aan die fladder gaan. Hulle het behoorlik die kombuis geannekseer. Ek vlieg kortom terug kamer toe - maar die vlermuise wat by die kombuisdeur uit is, het by ons kamer ingevlieg.

Ons moes noodwendig ons voordeur en vensters oopmaak sodat die lot kon uit. Maar o wee, daar het eerder meer ingekom - sodanig dat ons, hitte te spyt, met ons koppe onder die laken gelê het. Hulle het eers vroegoggend, toe die eerste tekens van dagbreek te sien is, verkas.

Nodeloos om te sê - ek was nie baie populêr na 'n nag van uiterste swak slaap nie. Maar dieselfde fout is nie weer die volgende aand gemaak nie.

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 15/11/2025 - 09:39

....hou seker nie 'n wesenlike gevaar vir mense in nie, maar dit bly maar grillerig. Veral as dit baie is. 

Dit gebeur soms dat ene rigting verloor en by ons oop skuifdeur invlieg. Dan skarrel ek maar om al die deure na die ander vertrekke toe te maak. ek los net die buite skuifdeur oop, sit die lig af en gee kans dat dit die opening waarneem. 'n Waaier wat blaas in die deur se rigting help nogal. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 15/11/2025 - 11:09

Toe ons na afloop van ons 3 nagte (waarvan ek in my laaste inset hierbo noem) vroegoggend uit Nossob vertrek, kry ons net suid van Rooikop-suiping die vars spore van 'n leeu in die pad. Dit was duidelik dat die spore in 'n suidelike rigting loop. Ons volg dit oor die duintjie (die kortpad wat Marie se Draai uitskakel). Anderkant van die duin gaan die spore soms links en dan regs uit die pad, maar elke keer kom dit terug pad toe.

Tot duskant Kaspersdraai beweeg die spore na links (Botswana-rigting) uit die pad - en ons kyk fyn om iets te sien. Ralie het die Cressida bestuur en net 'n entjie verder sien ons die maanhaar, wat steeds suid loop) aan die Botswana-kant van die droë Nossob. Ek het destyds 'n bandjie gehad (wat ek in die wildtuin gekoop het) met die titel "Klanke van die Bosveld". Die verteller was oorlede Gert van den Bergh (Regardt se pa). Dit het begin met die roep van 'n visarend en dan oorgegaan na die gebrul van 'n leeu. Ek vra vir Ralie om stil te hou en ons draai al die ruite af. Ek speel toe die leeubrul so hard as wat die Cressida se radio dit kon doen. "Okay" - ek weet dat jy nie mag doen nie, maar dit was nog in my stoutgat-dae. 

Die maanhaar steek toe in sy vier spore vas en kyk in ons rigting. Hy't botstil gaan staan en net in ons rigting gestaar. Ek speel toe weer die brul, terwyl hy steeds botstil staan. Toe ek dit die derde keer speel, begin hy dadelik in ons rigting draf en steek seker sowat 30 meter van ons vas. En toe begin die ou brul. Toe ek dit weer speel, kruis hy die pad voor ons en toe dit lyk of hy verder van die pad af wil beweeg, speel ek weer die brul. Hy draai toe om en kom staan op die rand van die pad en brul dat ons kan sien hoe die spoeg spat. Na vele foto's ry ons toe verder, want Upington was nog ver.

'n Paar kilometer verder aan let Ralie in die truspieël op dat 'n blou Hilux (nog die ou soort) van agter af aankom. Ek vra toe dat sy stadiger ry sodat die Hilux kan verbykom. Toe hulle ('n ouer man en vrou) langs ons kom, wys die vrou dat ons moet stop. Ek sê toe dadelik vir die kinders dat hulle niks moet sê van my stoutgat optrede nie. Die vrou vra toe of ons die maanhaar langs die pad gesie het. Volgens haar het hulle nog nooit 'n leeu so sien brul nie. Ons beaam toe net dat ons dit ook ervaar het.

Toe ons by die piekniekplek kom, waar die duinepad afdraai, staan die blou Hilux ook daar. Die man begin toe dadelik gesels oor die leeu wat so gebrul het. Ek vertel hom toe maar wat ek gedoen het. Hy wou dadelik die bandjie sien sodat hy vir hom ook een kan koop.

Ek is genees van daardie stoutgatgeid - maar dit was die mooiste leeu "sighting" wat ek ooit gehad het.

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 15/11/2025 - 11:52

Ek het ook gesien hoe leeus reageer en brul as daardie kasset-leeu brul. Ons het lank gelede net buite Satara by die Nsemani-dam by 'n paar lui/slaperige leeu leeus gestaan. Daar was 'n paar voertuie, en skielik brul die een kar. Maggies, soos mes spring daai dooierige lot op en begin angstig rondkyk. die volgende oomblik begin daai regte mannetjie brul.

Wat 'n ongelooflike klank wat deur alles resoneer. Op kort afstand laat dit jou lyf dril.

Praat van stout, wie het al die groot 5 met 'n kettie bygekom??? 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 15/11/2025 - 16:38

Daardie keer toe ek en Ralie so warm gekry het in Mata Mata en Nossob onderskeidelik het ons vir die eerste keer Unie-end toe gery. Op pad sien ons 'n klompie leeus teen 'n duin lê soos dooie goed - nie 'n oor op stert wat beweeg nie. Enkele kilometers verder sien ons iets soortgelyks. Nog 'n ent verder sien ons mense, bakkies en 'n draadhok. Terwyl ons nog so kyk, kom nog 'n bakkie van voor af gery en stop langs ons. Die veldwagter sê toe dat ons seker wonder wat aangaan. Ons noem toe van die twee groepies leeus wat ons gesien het - en nou hierdie snaakse draadhok-petalje? 

Ons word toe meegedeel dat hulle besig is met 'n stelselmatige leeusensus reg deur die park. Hulle verskuif van plek tot plek deur die park, stel hulle draadhok op waarbinne hulle snags skuil. 'n Bok-karkas (wat al 'n "klankie" aanhet) word aan 'n boom vasgemaak en hiëna-klanke word deur 'n luidspreker gespeel - met die hoop om leeus te lok. Die leeus word dan verdoof en gebrandmerk.

Hy noem toe dat ons net 'n entjie verder nog 'n klompie slapendes onder 'n boom sal sien - wat inderdaad die geval was.

Dit was ongetwyfeld die meeste leeus (hoewel onnatuurlik) wat ek op een dag in Kgalagadi gesien het. Maar dit was nog nie die einde van ons leeus vir die dag nie.

Omdat bykans ondraaglik warm was, het ons besluit om vroegmiddag die hitte in die lugverkoelde binneruim van die Cressida te gaan troef. Skaars by die hek uit, in 'n noordelike rigting, kom 'n leeuwyfie in die rigting van die watergat aangeloop. Ons draai toe om en volg haar. Sy gaan lê toe in die skadu van 'n kleinerige bos, knap langs die pad. Ek draai my ruit af en bring die videokamera in fokus. Dit was seker maar die hitte wat bygedra het tot haar iesegrimmigheid - maar die volgende oomblik storm sy na ons toe. Ek skrik só groot dat die videokamera op die vloer val. Sy stap toe verder tot by die watergat by die skuiling voor die kamp. En dit was ook sommer die einde van ons voorgenome rit toe ons maar in die skuiling gaan sit het.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus