Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Lig my laphoedjie.... 2025 Wonderland 45 Wessel Strydom -10 hours ago
wapen lisensie My nuwe voertuig Wessel Strydom -10 hours ago
Pragtige fotos 2025 Wonderland 45 Geert -10 hours ago
Dapper pa! 2025 Wonderland 45 Rona du Plessis -10 hours ago
Goeie Hout Nog lekker hoender resepte Rona du Plessis -11 hours ago
Raai wat's vir aandete vanaand. Nog lekker hoender resepte Goeie Hout -11 hours ago

Len in die Kruger Wildtuin in Augustus 2026

Brackenfell, Weskaap
Submitted by Len Loader on
Forums

Ek weet dis nog 6 maande voor Augustus, maar ek weet ook Kampforum-vrinne hou daarvan om deel te wees van 'n ou se beplanning op 'n lekker wegbreek. Gegewe dat my omstandighede tot gevolg het dat ek nie meer kan karavaankamp nie, het ek gewonder met wie gaan ek nou my opgewondenheid deel oor 'n nie-kamp Wildtuin-vakansie ?  Gelukkig het ChrisB vir my gewys dat die Kampforum-vrinne netso lekker saamgesels al is daar nie 'n karavaan ter sprake nie.

Nouja, hier begin my storie : Vandat my karavaan verkoop is, kyk ek daagliks die TV-program WildEarth wat 24-uur daagliks vir jou in-tyds opreis neem met 'n toergids by verskeie wildtuine in SA en omliggende lande, maar veral by SabiSands en ander kleiner wildtuine. Hierdie program het my lus vir die Kruger Wildtuin aangevuur om plan te maak om so gou moontlik weer daar te kom. Dis nogal 'n helse aanpassing om nie 'n kampeer-bespreking te doen nie, maar wel 'n vaste-akkommodasie bespreking, maar ek is daardeur en dis gedoen.

My kinders deel my opgewondenheid, maar was uiter bekommerd dat hulle 79-jarige pa alleen die tog van 2000km van die Kaap af en nog 2000km weer terug aanpak.  Hulle wou gehad het ek moet eerder vlieg en 'n kar huur.  Ek is egter allergies vir vliegtuie (het oorgenoeg daarvan in my werker-dae gehad) en dit sal 'n gelol wees om my getroue Nissan Pathfinder tuis te laat. Dus :-

Ek en my broer (hy is 81) is ons ouers se enigste kinders en ons het geen ander oorlewende familie nie, behalwe ons eie kinders. My broer en skoonsuster woon die afgelope 29 jaar in Oostenryk waar hy verbonde was aan die Universiteit van Wenen voor sy aftrede.  Hy was ook vir jare lank 'n ere-veldwagter in die Kruger Wildtuin en is netso lief vir dié plek soos ek. Maar ek en hy was  laas saam met my ouers  in die Wildtuin toe ons nog skoolkinders was. Ek kom toe op die blink gedagte af om hom en my skoonsuster te nooi om saam met my aan te sluit in die Wildtuin dan kuier ons sommer in die wildtuin saam. Die uitnodiging is onmiddellik aanvaar.  Nou vir my kinders se beswaar dat ek alleen van die Kaap af Wildtuin toe ry : My broer se ongetroude dogter is 'n lektor aan die Universiteit van Bournemouth in Engeland en sy wil graag saam ! Toevallig werk haar universiteit en die Universiteit van Kaapstad saam aan een of ander projek en daarvoor moet sy Kaap toe kom.  Sy gaan dus Kaap toe vlieg vir die projek en dan ry sy saam met my tot in Pretoia, natuurlik met my Pathfinder ! Haar ouers vlieg dan van Oostenryk af Pretoria toe en alvier van ons ry saam in die Pathfinder Wildtuin toe.

Ons het drie hutte in Berg-en-dal en drie hutte in Letaba bespreek, 5 dae in elke kamp, vanaf 6 Augustus tot 16 Augustus 2026. Dis nogal wyd om die 240km te ry vanaf Berg-en-dal tot by Letaba, maar teen 30kpu (ChrisB se spoed) behoort dit 8ure te duur terwyl ons 12ure beskikbare het vanaf 06:00 t0t 18:00

Nouja, dis die plan tot dusver. Ek vertel later verder as ek julle nie vereel het nie.

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 30/08/2026 - 14:51

Fotos van sebras met hul swart en wit strepe maak altyd indrukwkkende fotos.

.

 

0
Oudtshoorn

neef Herman

Sun, 30/08/2026 - 14:53

Die ou Kees lyk darem regtig baie mislik. Ek kan myself sien sou ek so nat sit en wag vir die sonnetjie.

Het die Kuifkophoutkapper so baie skril KRRR... roep Len. Die Wildtuin het pragtige voëls wat ons nie hier kry nie. Die Maribu is een van my gunstelinge. Hy stap met sulke lang en stadige treë soos n lyksbesorger. Én net so stroewe uitdrukking op sy gesig.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 30/08/2026 - 15:07

Ten spyte daarvan dat SANParke hul bes probeer om instandhouding te doen, kom daar tog hier en daar plekke voor wat totaal besig is om te verval, en in hierdie geval, nie veroorsaak deur vloede nie.  Masorini is naby aan Phalaboewa-hek..

 

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 30/08/2026 - 15:11

By die Matjulu drinkplek naby Bergendal, help 'n mamma-olifant haar kalfie om ook 'n bietjie water te kry want hy kannie by die water in die sementdam bykom nie.

.

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Sun, 30/08/2026 - 16:20

wat mens sommer laat verlang om daar te wees.

Weet nie of Len so gelukkig was om die Vleiloerie onder skoot te kry nie. Op die dag wat ons saamgekuier het in B&D het dié skugter voël  ons van erens uit die bos vermaak met sy unieke roep en is altyd iets om te waardeer.

Bobbejane. Self ook gedink dit lyk maar na taamlike naby-familie en gedraglaugh

Masorini se verval is jammer om te sien. Sommige dinge is seker nie nou meer prioriteit nie....

Sien uit na nog meer vertellinge en foto's, dankie Len.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 30/08/2026 - 16:26

Ek kan nie help om te wonder of die foto van die swartriethaan op die laagwaterbruggie by Shipandane-skuiling geneem is nie. 90% van die kere kry jy hulle daar. Ons het selfs al kuikens op een van die klein graseilandjies teenaan die laagwaterbruggie gesien.

Ek raai maar dat die foto daar geneem is. En indien wel is, is dit 'n plek waar die grootvoete lief is om water te drink en jou lank kan laat wag voordat jy weer kan ry.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 30/08/2026 - 19:34

Hierdie swartriethaan is inderdaat by die laagwaterbruggie by die Shipandane-skuiling, suid van Mopani-kamp geneem.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 30/08/2026 - 19:46

Rona, ek het vreeslik gesukkel om 'n mooi foto van daardie knaap met die fantastiese roep geluid te kry. Hieronder is hy wel, maar 'n baie swak foto  -  probeer die foto in-zoom dan kom sy gesiggie beter uit.  Wanneer hy vlieg kom die poskantoor-rooikleur onder sy vlerke mooi na vore.

Oops, zoom werk nie op die forum nie.

.

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Sun, 30/08/2026 - 21:02

Len, jou foto is inderdaad dié van 'n Bloukuifloerie met sy indrukwekkende kleure. Sy roep is wel anders as dít wat ons die dié dag gehoor het. Weet nie presies hoe om dit te beskryf nie, maar dis meer 'n kok-kok geluid.

Die Vleiloerie het die mooi roep en dit is dan ook die roep wat uit die bos gekom het. Die beskrywing wat ek eenmaal gesien het, is dat dit klink soos water wat uit 'n bottel loop.  Mens is baie gelukkig om hulle raak te sien aangesien hulle die grootste gedeelte van die dag in digte bosse bly.

So....dit sê net een ding. Jy moet vinnig weer plek bespreek in B&D, spesifiek dan ook dieselfde huisie om sodoende te gaan soek na die Vleiloerie met die pragtige roeplaugh

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 31/08/2026 - 07:20

Ons was met ons onlangse paar aande in Shingwedzi gelukkig om by meer as een geleentheid 'n vleiloerie te sien. Ek is nie só op hoogte van sy geluid soos Rona nie. Maar as ek een sien, kom gedagtes aan Faay Loop by Pretoriuskop by my op. Dit is waar ek die eerste keer 'n vleiloerie in die wildtuin gesien het.

'n Jaar of wat gelede was ek baie opgewonde toe ek een hier agter my huis in die fynbos van die aangrensende blomplaas gesien het. Baie jare gelede het ek ook een op 'n appelplaas by Grabouw gesien. Daardie dag wou ek aanvanklik nie my oë glo nie, want ek was seker dit is 'n bosveldvoël. Maar voëlboeke wys toe dat hulle wel hier by ons in die Wes-Kaap ook voorkom.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 31/08/2026 - 17:14

Ek moet seg, dit lyk darem baie na 'n selfoon in haar hand. Ek wonder of sy deurgekom het na iemand.

Sit maar fotos op, ek kyk lekker.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 01/09/2026 - 06:07

Dit bly maar net 'n massiewe, groot dier wat verbasend vinnig op droë grond kan hardloop en met vreesaanjaende groot tande !

.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 01/09/2026 - 06:16

'n Wildtuinbesoek sonder om krokkies te sien bestaan nie.

.

Kyk hoe lekker lê hierdie knaap op 'n eilandjie in die rivier.

.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 01/09/2026 - 06:33

Ek wonder wat sê sy vir hom ? Seker net een van twee dinge, "kom hier ek soek jou !" of "voertsek, maak dat jy wegkom !"

.

 

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 01/09/2026 - 06:43

Ons het renosters gesien, maar ai, 'n mooi naby foto lyk so lelik met daardie afgesnyde horing - so tragies dat dit gedoen moes word.  'n Foto van verder af lyk minder sleg.

.

 

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus