Die draad het begin na aanleiding van my vraag hier onder maar het toe op “resensies”, menings en ervarings oor al die ruskampe en satelliet kampe in die Kruger wildtuin met kampeerplekke uitgeloop. Dit is van onskatbare waarde vir enige voornemende of terugkerende kampeerder in die nasionale park.
Hier is die oorspronklike plasing en vraag:
Uit die aard van die saak het almal hulle voorkeure, is dit redelik subjektief en is daar drastiese verskille tussen seisoene en binne/buite seisoen maar ek wil tog die draad begin. As daar dalk reeds so een is; verwys my gerus daarheen.
Ons staanplek vir Julie is reeds bespreek; 4 aande by Punda Maria, 4 aande by Shingwedzi en 3 aande by Tsendze. Ek ken die wildtuin goed en besoek dit al vir 47 jaar elke jaar ten minste een keer. Die meerderheid van my besoeke was egter nie kampering nie en ek het nog net by Shingwedzi, Tsendze, Letaba, Balule, Satara, Pretoriuskop en Malelane kampeer en die laaste keer was by Tsendze omtrent 7 jaar gelede.
Alhoewel ek lief is vir die Suide en wildbesigtiging daar goed is, is dit vir my te besig en moet ek vanwee skoolvakansies van volgende jaar af binne seisoen gaan. Ek verkies dus om nie verder Suid as Satara te gaan nie. Ek en my vrou verkies rus en vrede bo skares en verkeersknope by elke leeu en daarom die drie ruskampe waarby ons vanjaar staan. My klong het egter verlede jaar toe ons in hutte by Punda Maria, Shingwedzi en Letaba geslaap het laasgenoemde die meeste geniet want hy hou baie van die olifantmuseum en die natuurlewe rolprente wat saans daar buite vertoon word.
Ek wil egter weet uit ‘n kampeerperspektief watter julle gunsteling ruskampe is om by te staan en waarom? Ek moet een of ander tyd besluit waar ons volgende jaar wil gaan staan.
wildtuin besoekers met, en…
wildtuin besoekers met, en sonder klein kindertjies
Uit die aard van die saak maak dit ‘n groot verskil indien jy skoolgaande kinders het (in my geval omdat ek stormlope wil vermy maar vir ander ouers moontlik omdat hulle besorg is oor fasiliteite vir kinders. My twee het nie vermaak nodig nie en ek bly by die reëls en vat nie fietse saam nie). Ek het uiteraard vir Oom Len en Mnr Boucher in gedagte gehad maar ek hoop dat alle gereelde besoekers hulle insette sal deel. Satara se kampterrein lyk bv vir my so effe deurmekaar en asof daar dalk skadu kan kort maar ek het laas op skool daar in ‘n tent geslaap en was toe op ander dinge gefokus (en baie dinge het verander in die wildtuin sedertdien).
Chris-wildehont.....
Vir my is dit 'n baie moeilike vraag om te beantwoord, want daar is nie een ruskamp waarvan ek nie hou om by te kamp nie. Daar is baie faktore wat die keuse van 'n kampeerplek beïnvloed, soos byvoorbeeld kinders wat saam kamp, skoolvakansies, seisoen van die jaar en nog baie meer.
Ons het in Julie 2017 in die skoolvakansie saam met ons drie kinders en hulle gesinne vir 12 dae by Skukuza gekamp. My dogter wou graag saam met haar kleutertjie naby 'n dokter gewees het en ons wou graag baie doen-dinge hê om die kinders 'n bietjie afwisseling van net wildkyk te gee. Geen kind moet 'n renons in die Wildtuin ontwikkel van rondry van die môre tot die aand nie. Met al die rondry paadjies om Skukuza, piekniekplekke en baie wild was dit 'n belewenis vir die kleinkinders en die res van ons groep.
Wanneer ek en my annerhelfte alleen sou kamp, verkies ons buite seisoen en spesifiek Meimaand, net na die somerreëns. Dan sal ons altyd Punda Maria en Balule as kampplekke insluit. Punda vanweë die groot drinkgat reg langs die kampeerterrein en net bloot die rustigheid van hierdie ruskamp. Die kampeerterrein is ook lekker boomryk. Balule boskampie is heerlik op sy eie omdat 'n ou 'n bietjie gespeen word van elektrisiteit, maar ook omdat dit 'n hanetree van die Olifantsrivier is. Balule het ook lekker baie bome en is eintlik maar piepklein. Die nuwe S147 pad daar naby is 'n wild-belewenis. Shingwedzi, Letaba, Tsendze en Krokodilbrug kampe is ook altyd deel van ons bespreking, elkeen met sy eie uniekheid.
As ek dan nou moet, sal ek twee ruskampe noem wat ons minder geval. En dit is Berg-en-dal vanweë die voortdurende verpesting van blouape en bobbejane in die kampterrein wat net nie onder beheer gebring word nie. En dan die ander een wat miskien 'n verrassing sal wees is Satara. Daardie weste son, stowwerige kampterrein wat altyd oorvol is met min skaduplekke en elle-lange kragkoorde wat nodig is as jy gelukkig is om 'n beskikbare prop te kry - dis altyd eers 'n klagte by die kantoor voor die misbruikers van kragpunte uitgesorteer is. Aan die besliste positiewe kant, dis 'n wildparadys !
Ons hou ook baie van Maroela wat naby Orpen is, maar dis te afgeleë aan die westelike grens met skraps paaie wat almal alleenlik uit die H7 teerpad bereik moet word.
Kamp uitlegskadu
Middag Chris
Ek het verlede jaar 'n week in Satara gekampeer. Jy is reg, die terrain veral teen die draad kan effe deurmekaar raak, en 'n vertrapping.
Ek en Chris Boucher het beide in die middle staanplek gehad. Daar was dit effens meer ge-ordend, maar steeds nie rigied afgemerk uitgelê nie. As jy gelukkig is, is daar staanplekke met volop skadu, maar natuurlik val die klem op geluk!
My ander groot voorkeur is Balule, en ek gaan weer daar staan vir 'n week in Julie. My uitdaging gaan wees om skadu te vind vir die wa, maar genoeg son naby vir die sonpanele. Ek het al daar gestaan met my Palma, met lifelike gas koel/vrieskas, en geen bekommernis gehad om in skadu te staan nie, sien foto.
Groete
Satara..
Soos Chris sê, as die geluk aan jou kant is gaan jy 'n koelteplekkie in Satara kry. Hierdie was die mees suidelike staanplek in die kampterrein :-

En by Balule was ons ook gelukkig, maar ons kampvriende met hulle BushLapa se sonpanele het gesukkel :-
Sommer so bo-oor Balule se grensdraad :-
Balule skadu??
Middag Len
Daardie plekke in jou Balule foto lyk of dit sommer links van die pad is, soos mens by die hek inry. Ek het juis dit in gedagte gehad, om effe son te vang.
Ek was laas in Junie 2010 in Balule, toe was die kampie minder skadu-ryk. Die boom in my foto was, soos jy afry, heelonder waar paadjie regs draai, aan die linkerkant.
Groete
Bush lapa sonpanele
Middag Len
Jy noem dat jou vriende gesukkel het met hulle sonpanele. Was dit omrede van die skadu, sekerlik 'n faktor, of was hulle panele permanent bo-op die boswa se dak monteer?
Myne is losstaande, en ek hoop dat ek 'n kompromie kan vind tussen skadu oor die wa en die panele neffens in die son.
Ek moet 'n nuwe padkaart aanskaf, ek kry nie die S147 pad waarna jy verwys nie.
Moet asb nie weer fotos plaas met jou vriend se sleepvoertuig op nie, ek oortree sommer 'n paar gebooie![]()
Groete
Dis reg...
Dis reg Wessel, by Balule die eerste staanplek aan die linkerkant, net deur die hek.
Die sonpaneel is permanent op sy dak gemonteer, maar intussen het hy die Boabab BushLapa aangeskaf waarvan die dak horisontaal oplig en die sonpaneel is ook permanent gemonteer. Laas keer het hy gelukkig 'n afsonderlike oprol-sonpaneel ook gehad wat ons toe in 'n sonkol kon staanmaak.
Ek stel jou dan graag in die versoeking met nog 'n foto :-
S147 naby Balule
Wessel, ek wou nog sê hierdie briljante nuwe pad kom nog nie op padkaarte voor nie. Dit is 'n verpligte eenrigting grondpaadjie wat begin in 'n oostelike rigting uit die H1-4 teerpad, so tussen 5 en 10km suid van die H1-4/S89 kruising. Dit kronkel dan op vir 7km om weer aan te sluit by die Ngotso S89-pad. Toegang uit die S89 is verbode. Hierdie S147 is die omgewing van 'n trop van 10 leeus en twee luiperds.
twee ruskampe noem wat ons…
twee ruskampe noem wat ons minder geval
Wessel en Oom Len se ervaring van Satara bevestig my vermoede uit wat ek daarvan gesien het. Dis jammer, want Satara se omgewing is werklik lekker sonder om so besig soos die Suide te wees en die kamp is boonop maklik toeganklik van Pretoria af (al is die paaie nie meer wat dit was buite die wildtuin nie).
Ek het al by Balule gekampeer en by twee ander geleenthede in een van die ou hutte daar geslaap en dit is 'n heerlike kampie. Een wat ek nie geniet het nie was Malelane. Ons het baie geluide van buite die wildtuin gehoor - die suikermeule en musiek en partytjie rumoer van anderkant die Krokodilrivier. As die boere die suikerriet landerye brand is dit ook 'n gemors met die roet wat uitsak. Ek sal nie weer daar gaan staan nie.
Wie het al by Onder Sabie gestaan en wat was julle ervaring van die kampeerterrein?
Satara en Balule
Môre Len, Chris en al die wildtuin liefhebbers
Chris: Na alles genome oor Satara, stof, son, wat ookal, bly dit my 1ste keuse. Bloot omdat dit omring is met baie paaie en heerlike piekniekplekke. Ons ry in die oggend uit, maak ontbyt by so 'n plek, en keer terug met ander pad. Dan natuurlik is die S-100 daar, berug/bekend vir sy katte!!! Ek staan veel eerder in Satara, as in Letaba tussen die mopaniestruike, waar mens sukkel om wild te sien.
Len: Dankie vir die S147 info, toe ek dit lees, besef ek dat ek dit verlede jaar halfpad gery het, en omgedraai het.Dit was nie op my kaart en ek dog later dat ek op 'n verbode pad is. Dankie vir die pragtige versoekings-foto, dis wragtig twee mooi sleepkombinasies daai. Jy is bevoorreg met vriende wat die lang pad wildtuin toe saam aanpak. Sekerlik gee dit vir julle beide gemoedsrus om nie alleen op die pad te wees nie.
Groete
kampeerplek/ke in die wildtuin
Letaba 2003-08
Berg-n-Dal 2007-08
Karoo Nasionaal - 2008-02
Bontle - 2009-06
Shingwetzi - 2017-10
Apies in die boom
Môre Willem
Ek hou van jou laaste foto, die apies in die boom! Baie duidelik kinders wat hulle self kan besig hou, en nog kan speel.
Jou fotos toon ook duidelik dat grasstaanplekke iets van die verlede is in die willetuin.
Groete
Mmmm....
Chris-Wildehont, ons het nog nooit by Malelane gekamp nie, maar ek weet Chris Boucher is baie verlief op hierdie kampie. Ek het gewonder of ek dit iewers op my lysie moet sit, maar die nabyheid van Malelane-dorp en die bedrywighede daar naby het my laat twyfel. Jou ervaring het my nou afgesit van die kampie.
Wessel, ons het drie pare vriende wat gereeld saam ons in die Wildtuin kamp. Ons en ons Cruiser vriende kamp al vir jare saam, selfs toe ons kinders (nou almal met hulle eie gesinne en almal gek oor die Wildtuin, elk met hul eie karavane/boswaens) nog kleintjies was. Ons kamp egter langer as hulle en het dus ook ons eie alleen-tyd. Ons het selfs nog ander vriende (nie-kampeerders) wat iewers 'n chalet bespreek in 'n ruskamp waar ons kampeer en dan kuier ons ook lekker saam.
Jy sal opmerk my opmerking oor Satara is darem gekwalifiseerd. Ons kamp dikwels daar, juis vanweë die omgewing en verdra maar die paar negatiewe punte, wat ook nie te erg is nie.
Wessel ...
Jou fotos toon ook duidelik dat grasstaanplekke iets van die verlede is in die willetuin.
Ek weet nie van 'n kamp in die KNP wat gras staanplekke het nie, dit sluit seker KarooNPark en Bontle in.
Malelane kampie
Môre wildtuin besoekers
Ek het verlede jaar in Malelane oorgeslaap. Ek beskou die kampie, asook Krokodilbrug bloot as gerieflike 1ste aand of laaste aand in wildtuin. Sodoende maak ek die roete van Brits na waar ek in KNP wil wees korter. Ek slaap liewer net binne wildtuin, goedkoper en veilig, as buite.
Ek sal beslis nie in Malelane langer as 'n aand wil staan nie, bloot vanwee sy ligging, andersins is daar geen fout nie.
Groete
Dalk was ons by Malelane op …
Dalk was ons by Malelane op ‘n pay day, ek kan nie onthou nie. Die suikermeule is egter daagliks aan die gang en ek het super sensitiewe gehoor.
Ek sien aan die begin van…
Ek sien aan die begin van die draad dat ons moet onderskei tussen Wildtuin kampeerders en ander?
Ons het al paar keer oom Paul se plaas probeer, maar glad nie vir ons nie. Dit is vir my net hipeloos te komersieel. Ek hou nie van verkeers knope, teerpaaie restourante en sulke goed nie!
Gelukig is daar baie ander wildtuine behalwe die Kruger.
Heel bo-aan my lys is Mana Pools gevolg deur Serengeti en dan Wankie.
Ek hou van plekke waar die pad opervlakte jou vorseer om stadig te ry en nie spietcops nie.Plekke waar wild deur die kamp terein kan loop, plekke waar jy heeldag kan ry en net wild sien, geen ander voertuie of mense nie!
Maar ja smaak verskil, gelukig ook maar anders was Mana vertrap deur mense.
Amper vergeet ek Marakella is ook hoog op my lys.





KNP kampe??
Middag Chris-wildehont
Goeie draad wat jy begin het, laat ons nou terug sit en kommentare dophou.
Dalk moet die forum 'n prys uitloof aan die beste inset/antwoord. Ek vermoed oom Len heelwat kan bydra, gevolg deur oom Chris Boucher, met geringe bydraes van die ander forumlede.
Dalk moet ons by voorbaat 'n ondeskeid maak tussen wildtuin besoekers met, en sonder klein kindertjies, want dit gaan beslis die voorkeure beinvloed.
My gunsteling kamp----die wat ek op kort kennisgewing kan bekom in die suide.
Groete