Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Smokey Joe Braai met 'n Weber Geert -5 hours ago
Tyd tot Junie'27..... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -15 hours ago
Mata Mata Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -16 hours ago
Afrikaanse Forum Afrikaanseforum.co.za Maria Lock -20 hours ago
Jou gelukkige dag Neef Herman Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -1 day ago
Herman... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -1 day ago

Jors se Kampstories op fb ...

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits
Submitted by Willem Brits on

Môre vriende,

Ek gaan probeer om dié Jors se Kampstories gereeld hier te plaas ?

Hier is die fb skakel.

 

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 04/02/2021 - 10:40

Dagsê vriende,

                           BOELIES.

    Hulle is soos kakiebos en kankerroos in n goeie seisoen, ou broer. Laat ek jou nou sê, n vuilgoed. Jy kan hul maar loop uitkap, môre is daar weer wat opgekom het. Jy moet hul loop uithaal voor daar n saadjie in die grond land anders bestaan hul doodeenvoudig voort. Dan verdring en wil ek amper sê vertrap hulle alles rondom hulle. 
   Nou praat ek van die boelies in die lewe.   En nie net by kinders nie, in die grootmenslewens ook. Hulle hou van bymekaarkomplekke, let maar net op. Daar waar hul gesien kan word. Dit laat hul belangrik voel. 
    Ek wil sommer net een plek uitlig waar hul like om uit te hang. Face Book. Man, hul kan nou vir jou soos n trop beeste daar om voerbakke die heel dag daar rondhang. Wag net dat iemand iets sê wat hul breine in n fight kan omskep. 
     Dan is hul soos n cowboy wat eerste moet "draw". Pluk hul rewolwers uit en skiet n hele arsenaal skote die FB wêreld in om reaksie te ontlok. 
   Lees ek hierdie week op kampgroepe weer oor die ding. Iemand plaas iets wat nou nie die boelie persoon se manier van kamp is nie. Hoekom enigsins daarop reageer as dit jou nou nie aanstaan nie. Ek gaan tog nou nie iemand wat van hotel vakansies hou probeer oorreed om van n tweemantent, staproete oorslaap te begin hou nie. Spraakvryheid, ja. Sal hul vinnig vir jou begin vertel. Maar ek dink tog daar is perke. Begin dan eerder jou eie gesprek en vra mense om daaroor te redeneer as om iemand se plasing te kaap en dit in n argument te laat ontaard.
   In elk geval dink ek admins van groepe sal dit meer waardeer as mense n grootmens benadering het omtrent menings en plasings. 
   Maar nou ja, die oom gaan nou sy keteltjie op die driepoot staanmaak vir n moerkoffietjie, ag ou broer, en as jy nou van n espressomasjien se koffie hou, sit hom aan dan drink ons saam waarvan ons hou.

Vreugde en vrede.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 05/02/2021 - 08:03

Dagsê vriende,

         n WRANG SMAAK IN DIE MOND.

 Smaak is nou vir jou n moelike ding. Hoe omskryf n ou dit nou, want dit kan so baie betekenisse hê. Dit sal my seker altyd aan  Jan Spies laat dink wat altyd gesê het, " Dit smaak my...." en dan uitgebrei het op wat hy ookal wou sê. Of sy Cremora advertensie wat ook oor smaak gegaan het.
   Nou het die vlermuissiekte mos my smaak kom loop steel. Hulle vertel dit is nou maar een van sy maniere, die en die reuk sintuig wat hy kom opvoeter. Vir n ou wat lief is vir sy kossies en selfs om dit te help maak saam die vrou, is dit n verkeerde plek om te kom krap.
    Uit die aard van die saak het n paar kilogramme darem ook in die slag gebly. Nou sê hulle, dit is nou die ouens met dikker brille as ek, dat dit n ruk kan vat voor jy weer jou smaak en reuk kan terugkry.
  Kom kuier die predikant gister by ons, hy het  laas jaar Augustus ook covid gehad. Praat ons oor hierdie ding. Hierdie wrang smaak in die mond.
   Vanoggend het ek nou met hierdie wrang smaak in die mond wakker geword. Jy kan hom maar "floss" en borsel, mondspoel, nes jy wil, van hom raak jy net nie ontslae nie. Nou vra ek jou ou swaer, hoe smaak wrang. Ek kan nie eers nou proe nie, en tog proe ek die wrang smaak.
   Almal weet hoe hy proe, maar vra om te verduidelik wat hul proe dan hoor jy, nie een weet eintlik nie. Party sal sê, so dooie smaak. Maar hoe proe dooie dan nou weer.
   Nou loop die proe en die reuk mos so half en half saam. Toe ek n kind was het ons bediende in die oggend altyd pap gemaak op ons Ellis de Luxe koolstoof. Vroegoggend is die koolstoof gestook en as sy daar kom het hy heerlik gebrand. Die middelplaat van die ring is uitgehaal en in hom het n driepootpotjie gepas waarvan die pote afgesaag was. Dit was die huis se pappot. Daarin is die pap gemaak. Nou, ou Johanna het my geleer, pap is eers gaar as jy hom kan ruik. 
  As jy so aanstap opstal toe vanaf die melkstalle en jy ruik die pap, dan weet jy, hy is nou gaar. Sy reuk kom lê mos so vlak in die neus waar hy rondtalm asof hy jou nie wil los nie. Man, sit darem nou n stuk vars plaasgemaakte boerewors met sous en n eier of twee daarby, dan het jy nou koningskos.
  O ja, en moenie die varsgebakte brekfispudding vergeet nie. In n oopgesnyde Parrafinblik van ouds gebak. n Dik sny brood met plaasbotter, appekooskonfyt en n glas melk.
    Ai ou broer, as hierdie wrang smaak darem sy wyk kan neem, sal ek hom darem weer wys. Vergeet het ek hom nie vergeet nie, al hierdie lekker dinge.
 Verbeel ek my nou, of kan ek al die pap begin ruik.

Vreugde en vrede vir julle.

.

.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 06/02/2021 - 09:23

Dagsê vriende,
 
                       DIT SMAAK MY. 
                      (Tong in die kies)

    Praat ek mos nou so van die smaak en die reuk wat die wyk geneem het gister, so met die covid saam. Man, is die mense nou vir jou behulpsaam. Die manne gee raad. Laat weet die mense my van die ding dat jy n lemoen vat en swart brand in die kole of op gas en dan die binnedeel eet. Soos die ouens praat werk dit soos n bom. 
     Ou broer, nou werk my kop mos bietjie anders. Dadelik sien ek hierdie prentjie van n pikswart bom met die swartgebrande stingel (lont) waarvan die punt so rooi begin gloei. n Propperse bom, sê ek jou. 
     Nou dink ek so by my selwers,dit is so maklik ek moet dit n traai gee, net dalk werk dit. Ek het niks om te verloor nie. 
   Ken julle Bethlehem, dit is n anderste plek hierdie. Van die een plek na die ander, opsoek na n lemoen. "Out of season" reken een ou my. Ek soek nou na die spreekwoordelike naald in n hooimied.
   Maar het my soektog van het jy al daar en daar probeer nou vir jou n paar interessanthede opgelewer. Tot by n ou uitgekom wat met allerhande goed brou. Van n pynappel tot aartappels en allerhande kook en borrel gedoentes. Voel kompleet of ek in n koshuiskombuis met n klomp drukkokers instap. Die goed borrel soos in n laboratoruim. Die stoker kort net n wit jassie, sê ek jou. Nou dat ek daaraan dink, ek dink as my reuk al terug was sou dit seker soos n sopkombuis met n alkohol reukie geruik het.
    Iets moes redelik sterk gewees het daar want my neus was lekker oop en dit het gevoel of ek op n trip was toe ek daar uitstap. Die soektog het my nou by baie plekke en kontakte uitgebring vir toekomstige Vrydag tot Maandag drank aankope. 
    Wel, laat ek jou nou sê, ek het tot die konklusie gekom dat dit makliker is om onwettige drank in die hande te kry hier by ons, as wat dit is om "out of season" lemoene te kry.
  Vandag sal ek maar my soektog voortsit.  
As ek nie lemoene in die hande kry nie, smaak dit my ek gaan nog n rukkie smaakloos deur die lewe moet gaan, of hoe smaak dit julle?

Vreugde en vrede vir julle.
(Ernstig - as ek kan kry gaan ek dit regtig probeer.)

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 08/02/2021 - 16:44

Dagsê vriende,
  
                    BRAAI LEMOENE.

      Jul laas week vertel van die covid smaak/reukverlies en die ouens se raad om n lemoen swart te braai en dan die vleis te eet, en viola, daar is alles terug. Amper soos in Kul jou Hier en Kul Jou Daar met Martino en sy towersstaffie. 
     Na kilometers se soektog kry ek Saterdag hierdie "out of season"  lemoene, die derdelaaste pakkie by Woollies. My duurste lemoene ooit, R54.95 vir vyf lemoentjies. 5c afslag gekry, seker vir kontant. By die huis gekom, baie opgewonde. Eers n paar suige van die suustofmasjien se suurstof gaan vat net om die vlakke reg te kry. 
      Nou gaan ons braai. Die vrou het die pensionaris braai uitgehaal, twee stukkies wors, twee T-bene. Die het in n sousie gelê om hom sagter te maak op deurge-eete tande en dan natuurlik ook vir die ekstra smaak. Want sien, as ek nou my braai lemoene as voorgereg geëet het gaan ek weer alles kan proe.
   Met die kole reg begin my lemoenbraai. Ou broer, dink ek dit toe goed om vir my en die vrou n ou glasie wyn in te gooi. Met n braai moet n ou darem so n ou ietsie vat. Die oom het al sulke videotjies gesien hul wys hoe toets jy vir covid met die wyn om te sien of jou smaak nog oraait is. Kort kort moet jy n slukkie vat. Die lemoene braai te lekker op die donkiedrol charcoal kole.
       Ek het so n kas wat vol is van die charcoal. Naderhand top ek die wynglase op. Wel so ver is daar nie n verbetering nie. Nou weet die oom nie, kyk met die ouderdom saam kom daar mos nou die ding met drank. Dit is so asof die goed meer skop het as die jare so aangestap het. Miskien was dit ook as gevolg van die dat ek vir drie weke nie n druppel kon drink nie. En nog boonop min geëet het.  
   Die vrou maak bykosse en ek haal die lemoene af, sit hul in n houtvrugtebak hier neffens my op die charcoalkas. Drink maar nog n bietjie wyn om die braailemoene kans te gee om koud te raak.
    Toe begin my eksperiment. Dan vat ek n hap lemoen, dan n slukkie wyn. Proe niks. Nou, ek weet nie waar het die fout ingekom nie. Kyk die goed is mos nou pikswart gebrand. Êrens het ek my hand verby die lemoene gedruk en n charcoalbol raakgevat in die kas. Ek het hoeka na die vleis gesit en kyk op die rooster en kon nie verstaan wanneer het die vrou nog twee worsies en twee T-bene kom bysit sonder dat ek haar gesien het nie. Shame, sy het seker gedink as die smaak terug is sal ek meer eet. Word toe sommer van vooraf lief vir die vrou. 
    Sit ek daai charcoal bolle en vreet, met so hier en daar n lemoen tussen in as ek die regte bak raakvat. Kom die vrou daar uit. " Kyk hoe lyk jy, ag nee man, en jou nuwe klere, wat maak jy, jy is pikswart, jy lyk soos n kolekamerboy by n hospitaal se boilerkamer, en jy kan mos nou nie hier sit en charcoal vreet nie" kom dit alles in een asem. Half gekrenk gevoel toe sy n halwe charcoal uit my hand uit klap toe hy halfpad oppad mond toe is. Kon sien sy was lus en klap my toe ek sê, maar hul sê dan charcoal pille is goed vir jou maag. Reken sy my jul van Heerdens is te slim. 
   Sy het my shower toe gejaag en toe self klaar gebraai. Sy kan goed braai. En daar was toe al die tyd net twee worsies en tweeT-bene. 
  Ewenwel ou broer, het ons toe later   geëet. Werk dit vra jy, ek weet nie ou maat, miskien so n bietjie. Maar nou ja, alles werk nie op almal nie, panado werk vir my hoofpyne, weer glad nie vir die vrou nie. 
    Nou vertel iemand my n bottel brandewyn, as jy hom vat en klaarmaak is jou smaak terug. Smaak my ek sal hom volgende naweek probeer of dink julle ek gaan net n babbelas smaak in die bek oorhou.
  
Vreugde en vrede vir julle.
(Ernstig-ek het my lemoen volgens voorskrifte gebraai en geëet en kan ongelukkig nie sê my smaak is terug nie.)

.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 09/02/2021 - 16:51

Dagsê vriende,
   Ek het jul gister vertel van die lemoenbraai episode om nou my smaak en reuk terug te kry na die covid gedoente dit kom steel het.  Miskien moet jul dit gaan lees, as jy bo by daai ou vergrootglasie intik Jors van Heerden gaan jy hom raakgelees kry. 

             LEMOENBRAAI GEVOLGE.

Ter inleiding; (Alles baie tong in die kies)
  
  Toe begin my eksperiment. Dan vat ek n hap lemoen, dan n slukkie wyn. Proe niks. Nou, ek weet nie waar het die fout ingekom nie, miskien die wyn. Kyk die goed is mos nou pikswart gebrand. Erens het ek my hand verby die lemoene gedruk en per abuis n charcoalbol raakgevat in die kas. Ek het hoeka toe na die vleis gesit en kyk op die rooster en kon nie verstaan wanneer het die vrou nog twee worsies en twee T-bene kom bysit sonder dat ek haar gesien het nie. Shame, sy het seker gedink as die smaak terug is sal ek meer eet. Word toe sommer van vooraf lief vir die vrou. (Miskien toe al dubbel begin kyk.)
    Sit ek daai charcoal bolle en vreet sonder dat ek dit besef, ek het mos nou nie smaak nie, met so hier en daar n lemoen tussen in as ek die regte bak raakvat. Kom die vrou daar uit. " Kyk hoe lyk jy, ag nee man, en jou nuwe klere, wat maak jy, jy is pikswart, jy lyk soos n kolekamerboy by n hospitaal se boilerkamer, en jy kan mos nou nie hier sit en charcoal vreet nie" kom dit alles in een asem. Half gekrenk gevoel toe sy n halwe charcoal wat ek nog besig was om te eet, uit my hand uit klap toe hy halfpad oppad mond toe is. Kon sien sy was lus en klap my toe ek ewe witty sê, maar hul sê dan charcoal pille is goed vir jou maag. Reken sy my " jul van Heerdens is te slim". 
   Sy het my shower toe gejaag en toe self klaar gebraai. Sy kan goed braai. En daar was toe al die tyd net twee worsies en tweeT-bene.
  OK. Nou sal jul onthou waar ons was. Toe ek nou daar opstaan by die braaivleisvuur het ek hierdie beroering in my ingewande gevoel. My maag het soos n olifant wat die heeldag in n lemoenboord gevreet het te kere gegaan. 
   Die aardigste geluide, julle moet onthou ek het nou n klomp gebrande lemoene en seker n half sak charcoal opgevreet voor die vrou genadiglik op my afgekom het. Anders weet ek nie waar dit sou eindig nie.  Nou, ek is nie n chemikus nie, maar ek het n idee dat die kombinasie een of ander ondergrondse motiewe gehad het.
 Dit grom en dreun hier in die maag. So is ek gang af badkamer toe. Hulle sê n mens maak so twee liter gas n dag. Hierdie resep sal Afrox koop, hulle sal geld maak met hom.
  Ou broer, en wil dit eintlik nie oorvertel nie, maar ek is daar in en begin uittrek om te stort. Plaas skop ek net die bleddy onderbroek weg, buk ek om hom af te trek. n Helse fout sê ek jou. Al daai gasse het net gelê en wag vir dit. Dit is iets vreesliks , dit dreun. Die badkamer is toe onder n rookwolk en roet van al die fyngekoude charcoal. Lyk omtrent soos n stoomlokomotief wat vars opstart  by n lokomotief depot. In die swart charcoal wolk tas ek na die deur om lug in te kry. 
Laat ek jou vertel nou lyk ek te naar stilweg hoop ek nou die ou vrou stap nie daar in nie. Myself en die badkamer silver skoon gewas en lekker afteshave aangesit. 
     Jul moes die vrou se smile sien toe ek by haar aankom en sy ruik my. Man, julle moet nou nie so loop en praat dat sy van die die badkamer hoor nie. Ons is nou net weer op goeie voet met mekaar. 

Vreugde en vrede vir julle.
Ns. Vir party ouens het die braailemoen wel gewerk. Iemand sê ek moes dit op n gasvlam gedoen het, nou wonder ek, Caltex, BP of Afrox gas.😁

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 10/02/2021 - 09:24

Dagsê vriende,

                      DIE DONKIEBYT.

Hoekom weet ek nie, maar dit was die eerste ding waaraan ek gedink het toe Ina van Biljon my die storie vertel. Jul onthou nog die donkiebyt, waar jy iemand aan die arm beetkry met albei hande en dan in teenoorgestelde rigtings draai. Dan knyp draai die los vel aan die arm so. Man as kinders het ons dit darem baie gedoen. Almal lag behalwe die ou wat moes deurloop onder die donkiebyt. 
    Ek het so n bietjie die inkleurpotlode gebruik op die storie van Ina.
    Ek dink haar ouers en myne het in dieselfde era groot geword. Haar pa hul het ook nog met donkies skool toe gery en diè het vertel. 
    Vroegdag word die donkies aangekeer in die klipkraal waar hul slaap. Daar is nie tyd in die oggend om agter n halstarige donkie aan te hardloop in die veld, in die oggende nie. Dus word hul in die kraal ingejaag saans. 
  Hul kry elkeen n toom of soos ook genoem leisel. n Donkie word bloots, dit is nou sonder n saal gery. Die son was nog nie eers uit nie toe is hul al daar weg vanaf die plaaswerf. Eers met die tweespoor paadjie af tot waar hy inloop in die grondpad. By die volgende plaashek kry hul hul neef Gert. Gert was n moeilike mannetjie. Net so befoeterd soos sy pa.
  Gert was ook nie n ou wat baie gepraat het nie, n man van min woorde. Hoe die ding nou werk weet ek nie, maar soort soek soort. Selfs Gert se donkie was skuinsbedonnerd. Taai in die bek het die oumense altyd gesê van sulke diere. Jy kan hom maar stuur soos jy wil, hy neuk in sy eie rigting in. 
  So was dit ook die betrokke dag, hy wil nie in die pad loop nie, neuk af van die pad af. Soveel so dat hy Gert wil gaan afskuur teen die lyndraad. Dan skel Gert op hom en lig sy been op dat hy nou nie gesny raak deur die draad nie. 
   Dan foeter hy doodeenvoudig oor na die anderkant van die pad waar hy dieselfde probeer doen. Die ander wil hul doodlag vir Gert en sy donkie. Maar daar is nie baie tyd te versmaai nie, ou Meester duld nie n gelaat kommery nie. 
   So het die donkie die heeltyd met n bedonnerde Gert gedoen. Kort voor n plaashek kry Gert n skraap oor die been teen n draad, nou is hy buite homself. By die hek spring hy af om die hek oop te maak, gaan staan voor die donkie, gryp sy kop weerskant, so aan sy wange vas en byt daai donkie aan die snoet terwyl hy tussen sy tande deur sis " Jou Bliksem". 
  Die ander wou hul doodlag en ou Gert het beter gevoel. Man het daai donkie darem nou toe soos n gehoorsame sirkus donkie verder gestap. Gert kon hom stuur net waar hy wil. Gelukkig was hul betyds en het hul Meester ook n slegte dag gespaar.

Vreugde en vrede vir julle.
Google foto geleen.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 13/02/2021 - 20:24

Dagsê vriende, 

                     PADGEBRUIKERS.
 
     Eers moet ek omverskoning vra dat Jors se Kampvuurstories gister n disappearing trick getrek het. Ek het gehoop om gistermiddag iets te skryf en kon toe nie. Maar kom ek begin by die begin. Met die wat ek en die vrou aansterk na die covid breek ons weg vir n week Christal Springs anderkant Pelgrimsrus toe. Ons gaan nou nie kamp nie, die moegheid en swakheid is nog met ons.
   Val ons gisteroggend in die pad uit Bethlehem. Totale afstand is 515 km. Ag wat dink jy, soos die Ingelsman sê n "piece of cake" Ou broer, wat n storie, ons paaie is n nagmerrie. Slaggate wat lyk soos opencast myne sê ek jou. Vat ons paaie en dan sit jy nou n klomp hooligan drywers op hom en jy het n situasie wat niks moois kan oplewer nie.
    Tussen Warden en Standerton kan n bobbejaan omtrent nie met n kierie loop nie. Bestuurders wat net dood eenvoudig hul nie steur aan padreëls nie, n trok en n bakkie gehad wat doodeenvoudig in ons baan in uitswaai vir gate.Twee naby ongelukke. Kort voor Standerton kom n SUV om n draai,  te vinnig. Kom oor in ons baan, ons moet rem. Hy kry weer beheer oor sy voertuig en beweeg terug by ons verby waar ons omtrent nou stilstaan met twee wiele van die pad af. Nou is die plan dat ons Carolina Baberton Nelspruit oor ry. Vyf en veertig km voor Baberton is daar rye en rye stilstaande voertuie met polisie. Nee, sê hul die pad is toe, daar is protes optogte, n trok het in die stilstaande voertuie en optog-gangers ingeploeg. Alles is toe. 
  Ons moet omdraai. Terug Carolina toe en dan Machadadorp toe. Tolpad hier kom ons dink ek by my selwers. +_ 100km ompad. Kry tolhek, nou kan ons ry, dog ek, 5 km verder verlegging en smalpad ompaaie. Almal jaag, dit is Vrydag, die hooligans is vrygelaat. Op n opdraande, dubbel sperstrepe, met n tou motors besluit n Hilux en n Sprinter Merc om verby te jaag by ons en n groot vragmotor voor ons. Voor die trok is daar nog vragmotors en rye motors. 
 n Taxidrywer tussen my en en die trok, dink, as hulle kan, kan ek ook, en gaan ook verby. Ek sê, hier kom n ongeluk. My woorde was skaars koud toe kom daar n voertuig van voor af. Waar die Hilux en Sprinter ingedruk het, weet ek nie. Die volgende oomblik is daar n hengse slag en stof links van die trok. Ek dog iemand skiet met n RPG op ons. Die ou van vooraf is op die grond verby die taxi. Toe daar afplek kom trek die trok af. Daar staan die Hilux en die Sprinter ook, hul het met die terugdruk in die verkeer mekaar se verf gemeng met die skraap en skaafmerke. Die Taxi is weg, seker maar vooruit. Die RPG slag was toe al die tyd n band op die trok  wat gebars het. 
   So het ons so teen 60, 70 km per uur op Nelspruit aangekom. Nou begin dit reën 
   Die paadjie na Pelgrimsrus is omtrent toegegroei, en dit lyk of die vlakvarke n paar gate in hom kom grou het. Met die reën daar ry ons toe stroomop tot by Pelgrims. Tien en n half ure later is ons nou by Christel Springs. Dit voel of iemand my met n lorrie getrap het. Ry al die pad  van Bethlehem af hiernatoe om te kom koud kry
     Ou broer, as jy veilig by jou plek kom, moet jy so dankbaar wees. Ek het die manne met die karavane so jammer gekry met al die omstandighede. Baie ouens was oppad Badplaas toe. 

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 15/02/2021 - 14:05

Dagsê vriende,
       
                  VAALTYN EN OUDERDOM.

   Vanoggend skryf ek vir jul hier vanuit n koel en nat  Chrystal Springs buite Pelgrimsrus. 
   Toe ek n kind was het ons beeste omtrent almal name gehad. Daar was Blommie, Minus, Kolle, en dan was daar natuurlik ook n Vaaltyn. 
  Toe het een of ander ou seker van die naam te hore gekom en vir Vaaltyn n dag van herinneringe  in die lewe geroep. 
   Vaaltyn se dag. So met die ouderdom saam het die Ingelse ook meer  geraak toe begin hul die dag Valentine's day te noem.Die vrouens is nogal erg op die dag. 
     Kyk ou broer, nou ek weet Die Bybel sê ons moet vir die weduwee en die wees sorg. Maar kom ek jul eers n bietjie inlig hoe die ding nou eintlik gebeur het.
   Ons het die groot vriende in Bethlehem, een se man sterf af. Sy eindig naderhand op in Nelspruit. Ons bly vriende. As ons die kant toe kom moet daar gekuier word.   Kom ons noem haar weduwee 1. n Klompie jare daarna sterf nog n ou vriend af. Weduwee 2. Sy is nog steeds in Bethlehem. Weduwee 2 en ons reis Nelspruit toe, tel weduwee een op en eindig op in Chrystal Springs. Het ek nou my hande vol om die klomp in toom te hou. 
   Daar word gekuier en gelag. Kyk, vrouens kan mos lekker lag. So word daar staaltjies en gebeurtenisse vertel van toeka jare. Vertel weduwee een van toe haar man nog gelewe het. Hy was n depressielyer en was op sterk medikasie. Daar was ook n sterk slaappil vir hom voorgeskryf dat hy goed kan slaap snags.   
   Hy was die middag by die huis en het seker maar laatmiddag gedink om vir hom n ou brandewyntjie teen doktersvoorskrifte in te gooi. Nou kyk, ons mans is mos nou nie lief vir pille nie.Weet nie eers aldag wanneer om wat te drink nie. 
  Nou sal julle weet pille en alkohol loop nie saam nie. Nou het die man sy pille gedrink, heel waarskynlik seker sommer so met n brandewyntjie weggesluk. Ou broer, skop daai goed in. 
   Sy kom van die dorp af, die kombuis lyk naar. Sit hy daar half bedwelm by die kombuistafel met n papbord vol roomys met n dik rooi laag chilliesous bo oor gegooi.
  Elke tweede hap wat hy vat druk hy by sy mond verby en diè land op die kombuisvloer. Na n goeie uitrap is hy bed toe. Daai icecream en chilliesous het die man daai nag soos n baba laat slaap.
  O ja, en het ons nou n lekker Vaaltyn dag herdenk gister. Ja ou boet, vertel hul my dit het iets met liefde te doen. Sê ek vir die vrou, dit is nie vir my snaaks nie, Vaaltyn was n baie baie liefdevolle dier.

Vreugde en vrede vir julle.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 17/02/2021 - 11:10

Dagsê vriende. 

   Eers moet ek verskoning vra, Chrystal Springs was sonder krag en netwerke gister, van daar die dat jul niks gehoor het van my nie. Blykbaar n Eskom fout hier op die plase gewees. Moes uitry en n seintjie soek en kon darem op my eie blad hierdie geplaas kry, toe is alles weer weg. Maar hier is hy.

                 DIE  TANDEM BICYCLE.

    Man toe ons kinders was, was dit nou n ding wat ons fassineer het. My twee ouer broers het een gebou. Ek weet net hy het ons kwaai laat spook met sy ketting, die een wat tussen die twee fietse was, wat bly afval het. 
   Nou vertel my oorlede vriend se vrou ons gisteraand die storie. Hul is omgee mense en help regtig waar hul kan. So het hul ook dan die spesifieke ma en seun jare gelede gehelp. Die ma is arm en woon in n enkelkamertjie op n plot saam met haar seun. Die seun was in n tref en trap ongeluk en het met sy breinbeserings skade opgedoen en was maar n bietjie traag en stadig van begrip.
     Met geen vervoermiddel nie, moes hul dus stap waar hul wou wees. So skenk iemand aan hul n tandem fiets. Nou kon hul darem met die fiets oor die weg kom. 
    Ry die vriend eendag en sien hul n ent voor hom met die  fiets ry. Ma voor en Boeta agter op. Hy verminder spoed en draai sy ruit af en wil groet, toe hy naby hul kom het die ma so oor haar skouer geroep "Boeta, kom jy nog"  
  My ou vriend, het vertel hy het dik van die lag toe gevra, hoe gaan dit en verder gery toe sy sê dit gaan goed.
    Hy kon sy lag nie inhou nie en dadelik sy vrou gebel en die storie vertel van die ma wat op hul tandem fiets vir die seun vra "Boeta, kom jy nog"

Vreugde en vrede vir julle.

Ĺ

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 18/02/2021 - 14:08

Dagsê vriende,

    Sit ons die aand so voor ons karavane by n ou kampvuurtjie daar in Berg en Dal. Dit is nou ons en Wilde Willem hulle. Kyk die man is mos vol stories. Vra hy of ons gehoor het van die monsterfiets. Sê, ek nee ou broer, vertel la ek hoor.
Laat ek jul dan die storie vertel, sê hy.

                     DIE MONSTER FIETS.

    Jare gelede het daar n familie Van Rooyen op n klein plattelandse dorpie gewoon. Hul was n gesin van vyf kinders en die mense was arm man, sê ek jou. In die dorp was hul egter meer bekend as die Rooi van Rooyens. So genoem omdat hul almal rooikoppe gehad het. Boonop was hul lig van gelaat en met die wat hul maar moes stap waar hul wil kom, was hul dus ook die meeste van die tyd rooi gebrand deur die son. Boonop was hul weens hul ligte velle vol sproete gebrand. Ou Broer, kom ek jou nou sê, dit lyk of hul beplak is met Simba chips soos wat die sproete wys.       
       Al vyf kinders is op skool en hulle moes ver loop om by die skool uit te kom. Die Pa het nie geld gehad om vir elke kind n fiets te koop nie, maar die man was goed met sy hande en hy kon sweis ook, so beplan hy om n monster fiets te bou vir sy kinders om skool toe te ry. As hy nou vyf frames kan bymekaar maak, hul aanmekaar weld, dan het hy net twee wiele nodig. So begin hy parte bymekaar maak, sien hy n ou fietsgeraamte in iemand se yard staan, gaan vra hy of hul nie die fiets wil verkoop nie. Die meeste goed het hy verniet gekry by die mense.        
      Hy bou toe n fiets waarop al vyf kinders tergelyk kan ry. Al wat hy moes koop was twee dikwiel bande. Met die fiets reg het die opleiding en inoefening begin. Die oudste seun kry die handle's en so het die orrelpypies kleiner geloop met die kleinste en jongste outjie heel agter. Die eerste dag was n belewenis om die klomp op daai monster lange fiets te sien skool toe ry. Almal in hul skooluniforms, met hul rugsak tasse op hul ruens. Die ander kinders het met bewondering na hul gestaar en wou ook graag so n fiets hê. Die man het ook n hele paar tandemfietse op bestelling vir ouers van die dorp gebou. Hy het n goeie geldjie met dit gemaak en het selfs gewone fietse herstel vir die inwoners van die dorp. Daar was nie iemand in daai geweste wat n fiets se speke so kon trek soos hy nie. Dit het sy besigheid geword.
    Alles het goed gegaan tot daai een dag. Die pad wat na die skool toe geloop het, het n taamlike afdraende gehad, net voor jy by die skool se hek indraai. Dit het die vorige dag gereën en sand oor die pad gespoel. Die kinders is sterk oppad skool toe op hulle monster fiets. Toe hulle daai draai vat is die spoed bietjie te hoog en die voorwiel gly op die sand. Ou broer, nou werk die ding mos so, as een val val almal. Hulle val hul sproete af op daai pad. Dit lyk naar, die hele wêreld lê vol sproete. Die hele toneel lê besaai van die vyf se sproete. Die juffrouens by die skool het al wat n band-aid pleisterjie is opgebruik om die kinders op te patch. Die opsigter by die skool het maar later die sproete met n besem kom opvee van die pad af. Alles maar net om te keer vir nog n ongeluk.
  Later het die man n fietswinkel oopgemaak en was die enigste fietswinkel in die omgewing. Die mense het van heinde en verre gery om, of n fiets te koop of te laat regmaak. Later jare was hul goed daaraan toe, maar tot vandag toe nog word daar vertel dat hul hul sproete af geval het.

Vreugde en vrede vir julle.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 20/02/2021 - 12:38

Dagsê vriende,    

              SLAAPKAMERSAKE.

    Gisteroggend het ons vertrek vanaf Chrystal Springs. As ek nou van ons praat is dit nou ek, die vrou en twee weduwee vriendinne. Dié is nou so n entjie buite Pelgrimsrus. Stop ons eers by Pelgrimsrus se Hotel vir n ontbyt. Wat n verassing, n volle "English breakfast" teen R100 per persoon. Heerlik ge-eet en toe val ons in die pad. Nou gaan ons Nelspruit toe om die een weduwee daar af te laai waar sy woon. 
  Ken jy vrouens, hul het mos nou die heel week tyd gehad om van winkels te vertel. Daar moet nou eers by n sekere winkel geshop word. Ek, Kiepie die karwag, alias die chauffer, gaan by n alreeds vol motor en sesvoet sleepwaentjie in Nelspruit se parkering wag. Daar het ek nou soos n wafferse karwag om die motor gedrentel tot die son my binne in die motor in gebrand het. Dan was ek binne in hom tot die hitte binne in hom my weer uitgebraai het. Loop ek maar weer n paar keer om die motor en herhaal die proses. Ek is seker ek het al my vakansie se optel kilogramme net weer daar verloor.
   Ek het jul al vertel van die slegte paaie, die slaggate en sulke dinge. Kom die drie vrouens met twee trollies vol goed terug gestap. Ou broer, hulle is gelaai. En nie met wat nie, glas produkte, wynglase, borde, bakke, blikke wat so mooi was, hul kon dit nie los nie, allerhande sulke goed. Leë gaatjies word vol, dan klim die vrouens in en ek pak hul verder vas met die bakke, glase en blikke. Dit is mos nou net tot ons die vroutjie afgelaai het, dan gaan daar weer plek wees. Rondom hul voete is dit, vol, tussen hul is dit vol, op hul skote is dit vol. n Vol taxi kan nie voller wees nie. 
   Gaan laai ons die vroutjie af waar ek die uitlaai proses met glasware moet herhaal. Naderhand is hul losgepak en uit die motor. Nou pak ons die bagasie uit om die vrou se goed uit te haal. Met een minder in die motor en haar bagasie uit is daar darem nou weer plek. 
   Vertrek ons uit Nelspruit. Nou om al daai klomp glase en blikke in die motor stil te kry. n SUV is of heeltemal motor of heeltemal bagasiebak met die wat alles aaneen is. Dit klink verskriklik. Dit is n geklingel en gerammel, klink weer sommer soos die kinders wat op blikke sit en slaan. Alles word so in die ry stilgemaak, Pappie wil nou by die huis vyfhonderd kilometer verder kom. 
   Skaars is ons mooi aan die ry buite Baberton waar jy afdraai Badplaas toe, n plaaspadstal, ou broer, mangos, piesangs, avos, papajas, neute, al die goed wat die Portugees in Bethlehem ook aanhou. Maar nee, stop moet ons stop. Dit is glo so vars, O en kyk net hoe goedkoop, moet ek hoor. Die assistent wat hul help se smile is reg rondom haar kop. Kratte vol word gekoop, my waar gaan ons alles pak vraag, hang in die lug en kom nie by hul ore uit nie. Die waentjie word oopgemaak en gate raak vol, pakkies mangos en avos word oopgemaak om kleiner gaatjies te benut. Met hom nou mooi vol word hy toegemaak, moes die deksel so bietjie afdruk om die knippe vas te trek. Nou word daar op die motor gekonsentreer. Elke bruikbare spasie word benut. Die vrouens klim in en ek pak hul weer verder vas. Die laaste twee pakke neute het ek een in die paneelkissie uitgeskut en die ander een tussen my en die vrou in die kissie vir die CD's uitgeskut. Genadiglik het ek die CD's by die huis vergeet. Ek dink in elk geval nie die klank sou by ons ore uitgekom het nie, die speakers is nou so toegepak soos wat kan kom. 
    Trotseer ons nou die langpad met sy slaggate. Kom ons op Standerton aan, hop hop.....hop ons die dorp in. Al wat nou leeg is, is die petroltenk en ons mae. Ook nie vir lank nie toe is alles weer vol en kon ons verder ry. Die enigste leë plekke nou, is ons blase. Nog so twee honderd kilometer dan is ons by die huis sê ek vir hulle. 
   So koeldrank en waterdrinkend het ons met n chippie hier en n chippie daar verder gery. Hoe nader ons aan Bethlehem gekom het hoe meer het ek gehoor dat ons nou vinnig by die huis moet kom, die ou liggame het nou weer die leë plek van vroeër gaan volmaak.
   So hop hop met n vol, vol motor en "vol" passasiers, met n vol waentjie wat al die pad saamgehop het, het ons veilig in Bethlehem gearriveer.
   O ja man, slaapkamersake. Ou broer, was dit darem nou weer vir jou lekker om in ons eie bed te slaap laasnag.

Vreugde en vrede vir julle.
NS. As ek al die vrugte wou inkry sou ek n video moes maak. Kyk die kudu in agtergrond, die bok vir sports is agter die kamera.😁

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 22/02/2021 - 08:22

Dagsê vriende,

   SKIELIK IS ALMAL GEMASKER. 

     Man, het ek nou lekker gesmile vir julle Saterdag. Heel onskuldig het ek jul Saterdag vertel dit is darem lekker om na n vakansie weer in jou eie bed te slaap. Alhoewel ek dit eers in die heel laaste paragraaf gedoen het. Dink ek dit toe goed om die storie "Slaapkamersake" te noem. Het die ouens nou daai storie verslind om dit te gaan raak lees. Miskien was dit omdat daar n foto van my vrou en twee vriendinne aangeheg was. Broer en ou Nig, dit was nou glad nie my intensie nie. Julle, ken die oom, sal jul mos nooit nie op n dwaalspoor lei nie. Terwyl ek nou hier skryf vra die vrou, wat smile jy nou so, sommer niks, sê ek. Dit is nou een ding wat jy nie vir n vrou sê nie, net een van daai kyke gekry. Nou sal ek eers moet verduidelik, wil darem nou nie n nuwe week verkeerd afskop nie.
    Waar was ek nou weer, jong die gedagtes raak ook maar kort. Laat ek jul gou eers die ding vertel. Vanoggend vra ek die vrou of sy koffie of tee wil hê, terwyl ons nog so lê. Ek staan op om te gaan maak. Ou broer, staan ek voor daai alarm se kontrolebord om hom te deaktiveer. Om de dood kan ek nie sy viersyfer kode nommers onthou nie. Druk eers n verkeerde nommer in maar hy wil nie af nie. As dit nie vir die vrou was nie sou ons vir die res van onse lewens in die kamer opgesluit gewees het. Huisarres of eerder kamerarres noem hul dit.
    Maar laat ek nou by my storie uitkom. So vertel ons vriendin Santie ons laas week die storie. Haar moeder is laas jaar oorlede op die rype ouderdom van negentig. Toe hul met die covid begin praat van die inperking besluit Santie, sy kan nie haar ma in die aftreeoord los nie en gaan haal haar om by hul aan huis te kom bly. 
  Ouma Magriet kuier te lekker, Santie het haar toe vertel van covid, maar sy het die dinge nie lekker verstaan nie. Wat vir n ding is dit het sy dikwels gevra. Nou is alles in n vol inperking. Die aftreeoord het sommer al voor die tyd tot lank na die inperking hul eie inperkings reëls ingestel om die oumense te probeer beskerm.
 Naderhand wil Ouma Magriet huis toe. Hul het vir haar n huis in die oord laat bou n klompie jare gelede. Tot toe het sy nog vir haarself gesorg in haar eie huisie. Nou moet Santie mooi verduidelik die oord is toe. Dit kon sy glad nie verstaan nie, dat sy nie by haar eie huis kan of mag kom nie. 
   Een naweek, na die vol inperking besluit Santie hulle om na hul plaas toe te gaan om uit te kom uit die huis en dorp. Alles gelaai vertrek hul. Oppad moet hul net vinnig stop om nog n paar goedjies te koop. Hul het ouma vertel van die maskers en dat almal dit moet dra. Stop hul by n robot en n Taxi vol gemaskerde mense stop langs hulle. Ouma Magriet sien dit en bars uit van die lag. Dit lyk vir haar te snaaks. 
   Stop hul by die winkel, nee sy wil saam, kort ook n paar goedjies. Nou sit hul vir haar n maskertjie aan, sy lag dat die trane loop. 
   So het hul hul inkopies met n kort kort laggende ouma Magriet gedoen. Dit was vir haar te snaaks, die mense met die maskers. Hul het toe lekker gaan kuier op die plaas.
   Kort daarna het Ouma siek geword en die ouderdom het die organe laat ingee.
  Ek sal haar egter altyd onthou vir haar lag en haar glimlag, al was dit dan nou vir hierdie klomp gemaskerdes wat nou die aarde bewandel.
   Rus sag Tannie Magriet.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 23/02/2021 - 09:51

Dagsê vriende, 

            STEENTYDPERK.

     Ek het nou al baie van die ding gehoor. Dan het ek baie gehoor van dinosourusse en sulke goed. Ons kleinseun wat nou twee en n half is het sulke speelgoed, en hy ken elkeen se naam. Nou, hulle het die wêreld bewandel, of moet ek eerder sê bespring vroeër jare. 
     Van hulle het jy verkillendes gekry, Agilisaurus, Aegyptosaures,Tyrannosaures, en nog n menigte van hulle.
   Hier in Clarens se wêreld was baie van hulle en daar word selfs nou n museum by Golden Gate vir hul gebou. 
  Maar laat ek jul vertel van laas week se laeveld vakansie. Ry ons die dag daar naby Graskop en in die ry vang my oog hierdie aambeeld n ent die veld in. Dadelik verminder ek spoed en ry in trurat terug, reverse man, as jy nie verstaan nie. Toe sien ons eers die klipspringer op n klip staan. Doodstil soos n monument staan hy daar. Ek stop en wil nou daar veld in om nader aan die aambeeld te kom. Die wil ek vir n vriend wat n grofsmit is gaan afneem. My vrou probeer keer, maar hoor is min. Plaas het ek maar na haar geluister.
   Ou Broer, nou hier het ek n paar voetfoute gemaak soos hul sê. Jy gaan nie veld toe met plakkies, n kortbroek, hoedloos, en iets wat jou bolyf teen takke kan beskerm nie. Verder moet jy water hê. n Kompas en kaart word ook aanbeveel, so nie n gids. Ek sal jou ook aanraai om sonbrandmiddel saam te neem. 
    Die ander groot fout wat ek gemaak het is om met n covidlyf wat nog besig is om na my hospitalisasie te herstel hierdie ekspidisie aan te pak. Ek moet nog so nou en dan suurstof vat as die vlakke daal. 
   Maar ek kan tog nou nie die Afrox bottel suurstof op my rug vasmaak nie. Hoe gaan dit nou lyk vir ander toeriste wat verby ry, hierdie man wat lyk of hy wil duik, en dit in die laeveld hier tussen die klippe in die veld.
   Die aambeeld is so honderd meter veld in. Nou vat ek die pad veld in, nee, ek lieg daar is nie n pad nie. Ek stap, of liewer spring, ek is bang vir slange, van klip tot klip. Die klipspringer sien dit en staan n ruk aandagtig vir my en kyk. So vir n klipspringer het sy in haar dagdens lewens nog nie gesien nie. Ek weet nie of sy gedink het ek wil paar nie maar sy het naderhand weg geskarrel veld in. 
  Ou broer, daar loop ek in gedrogte vas, slakke. Ek dog eers ek het verdwaal, hul is so groot soos die koppe van Drie Susters, dit het my n uur gevat om om hul te loop. Skaars was ek by hul verby, bespring n dinosourus my, ek neuk reg agteroor met die ding wat hier aan my bors vaskleef. Nou is ons oog tot oog. So n bleddy sprinkaan, laat hy my nou skrik, maar magtig ou broer, hy is groot, ek lieg nie. Enige tyd net so lank soos ek. 
   Hy was seker nie lus om my te eet nie en spring weg. Toe sien ek, hier is dit rof, ek sal my man moet staan as ek wil oorleef. Spring ek weer na n klip, met altwee voete nou in die lug sien ek die pofadder op my landingsklip lê, besluit ek net daar om om te draai daar bo in die lug. My bene begin outomaties wegharloop so bo in die lug. Toe ek weer land voel dit my of ek nou net die Comrades klaar gehardloop het, so moeg is ek. Ek het hom nie weer gesien nie, en hy ook nie vir my nie. 
   Maar met die wat ek in n ander rigting, wat heeltemal onbeplan was, weggehardloop het, deur bosse en takke lyk ek nou naar. Smaak my een bos moes n haak en steek gewees het. My hemp en broek hang in sulke repies aan my lyf. As dit nie was vir my kraag met een ou knopie wat gehou het  nie, was hy heeltemal af. Met die broek dieselfde, hy hang net aan die rek hier om my middellyf. Lyk kompleet of ek n minirok met splete aan het. Reg rondom my lyf sit daar so n rooi ring soos wat die rek terug geskiet het, terug lyf toe.
    My arms en bene is gekrap, dit is net bloed. Dadelik gedink ek moet seker vir ander soos Rambo lyk na n hangse fight.
     Nou weet ek nie waar ek is nie, verdwaal ek daar langs daai pad ou maat, nie bietjie nie. Dan loop ek die kant toe, dan loop ek daai kant toe. Pure verniet, ek kry nie my pad terug nie. 
  " Ann...Ann" roep ek die vrou, niks. Stap ek in n ander rigting, "Ann....Ann"   "Ja" kom dit van haar. "Waar is jy"  "Hierso"  sê sy en ek hoor die motordeur oopmaak en hier kom haar kop bokant n rots uit. 
   Hulle het hul doodgeskrik toe ek daar uitkom. By die motor gekom gryp ek die suurstof en die vrou en haar twee vriendinne probeer met hul first aid kid en kennis my weer oppatch. 
     Stop die karre daar ou broer, die mense dog dit was n ongeluk. Almal wil weet wat het gebeur. Was die vrouens nou vir my kwaad toe ek vinnig n storie opmaak en vir die omstanders vertel dit was die drie vrouens wat my aangerand het.

 Vreugde en vrede vir julle.
NS. As jul op die laaste foto inzoom kan jy die bokkie se ondelyf sien onder die aambeeld.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 24/02/2021 - 09:04

Dagsê vriende, 

    Jul gister vertel van die steentydperk, dinosourusse en van die massiewe aambeeld wat ek buite Graskop in die veld langs die pad gesien het. As jy bo by die soek opsie Jors van Heerden intik kan jy dit gou eers gaan lees. 

              DIE GROTMANNE.
 
    Daar het ek mos toe nou bebloed en deur n haak en steekbos verskeur uit die veld gestrompel na die motor waar die vrouens bekommerd op my gewag het. Met my covid asemnood het ek die Afrox suurstof bottel uit die motor gegryp, die pyp net so sonder die masker in my mond gedruk en soos n hanslam aan daai suurstofpyp begin suig. Ann en ons weduwee pêlle het my daar langs die teerpad op n skootkombersie neergelê en my bebloede liggaam begin verbind. 
  Ou broer, suig ek daai suurstofbottel vol duike. As ek voel hy gee te stadig suurstof het ek hom sommer so hier waar hy neffens my staan met die kop gestamp. Amper soos n kalf wat sy ma se eier so stamp met die kop.
  Reken Ann my ek moet nou nie staan en kêns raak nie. Een van die weduwees reken, miskien het ek malkoei siekte. Voel ek nogal soos n lam wat ter slagting gelei word. 
   Ou broer, begin die ander karre nou daar stop, hul dink dit was n ongeluk met my bebloede  liggaam langs n suustofbottel daar langs die teerpad. Vra die mense wat het gebeur toe spin ek hul mos die storie dat die drie vrouens my aangerand het. Dit was soos mes en vat hul my versorgers weg van my af en vorm n kordon om my, dit is nou om my te beskerm. Hul is kwaad en trap die vrouens uit. Man, het dit nou n verduideliking gevat om hul te oortuig dat ek gejok het.
   n Ou tannie van tagtig met n kierie, wou nie die storie glo nie, en het daar langs ons kom staan. Sy was glo n oudmatrone, net vir Ann en die weduwees gesê, maak jul hom net seer, so met haar kierie beduie, en ek neuk vir julle. Man, het dit nou vir my gevoel of ek n beskermengel het. Toe hul met my klaar was moet hul my in die kar kry. Ek lyk soos n mummy so toegedraai is ek van die verbande. Jy sal nie n mummy op n sitplek kry nie, heeltemal te styf daarvoor. Die ander mense het toe gehelp en my soos n lyk van agteraf in die SUV ingestoot.Daar het ek soos n stokmannetjie bo-oor die ruglenings gelê. 
   Sê die vrouens, nou kan ons aangaan met ons roadtrip en sightseeing. Wel, hul het toe, ek kon maar net vir die kar se dak lê en staar, steeds op suustof. Die volgende dag was ek darem weer beter en kon verder vakansie hou.
     Vra Lourens Basson gister hoe word so n rots gevorm. Nou kom ek terug na die steentydperk. Kyk daai jare het daai ouens maar rof gelyk. Klere van velle gedra later jare met allerhande sakkies waarin daar tools gedra was. Hul was groot van postuur. Dit is nou regtig toe die manne nog met sulke massiewe knopkieries oor hul skouers geloop het. Daar word selfs beweer dat hul dikwels die vrouns so aan hul hare rondgesleep het daar in hul grotte.         
     Die spesifieke aambeeld is deur n grotman met allerhande klippe en tools uitgekap. Dit is hoekom hy soos n hedendaagse aambeeld lyk.
 Kyk geoloë sal jou anders vertel, van die verweering van rotsformasies, erosie en sulke dinge. Sagter dele wat eerste verweer en wegkalwe. Maar dit is hul mening.
     Nou het daai ouens allerhande tools op daai rotsaambeeld aanmekaar geslaan. Hulle was die eerste blacksmith's wat daar was.
    Behalwe die gereedskap wat hul op hom gemaak het, het hul ook allerhande juwele en kettings met bene en ivoor gemaak. Dinosourus tande was gewild, so om die nek. Daarvoor het hul n mooi lang geelslang gevang, kop afgekap en dan die slang se vel soos n sokkie afgetrek van sy lyf af. 
   Die aand in n ritueel oorhandiging die man dan die juweelstuk aan die vrou. Vir die geleentheid het die vrou dan haar mooiste velle gedra en die man was ook getooi in sy stertriem vel met die verskillende bokbalsakkies om sy middellyf. Netjies sê ek jou man, netjies. Nou word die slang soos n wors opgedraai en gebraai. Dan het hul tot laatnag daar in die grot om die vure gedans en gekuier. Ou Broer, so kan ek jou baie dinge vertel. Interessante mense gewees, sê ek jou. 
   Hier teen twaalfuur die nag word die party opgebreek toe jy net hoor, tring tring....tring tring. Gryp die ou na n bokbalsakkie en haal n selfoon uit. Dit is sy buurman wat oor die lawaai moan. Toe moes hul maar die  caveman themed party opbreek. 

Vreugde en vrede vir julle.
Steentydperk fotos geleen by google.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 25/02/2021 - 09:06

Dagsê vriende, 

            WAT IS IN N NAAM.
              (Tong in die kies)
 
  Maak ek vanoggend n ou boeretroosie toe sit die oom nou en dink aan die ding, die wat hul die plekname nou so sta en verander.
  Dit maak mos nou die boere de hel in. Dan drink ek die ou boeretroosie, en werklik dit werk. Dit is seker waar die naam vandaan kom. Troos troos hy vir jou.
  "Fellow South Africans" vat n koppie "BOERETROOS"  en sit mooi en dink. Iets wat ek deeske dae baie hoor in die mense se toesprake is die woorde "WE NEED TO" en "WE MUST" 
  Nou wonder ek of SA. dalk "WENEEDTO" moet word nie. Kyk as al die name nou verander is gaan ek nog steeds lekker bly hier in Weneedto. Dit klink so idilies, amper soos Rio of Tahiti. 
  Miskien is dit n goeie ding, die naamsveranderinge. Ek meen as n plek nou na my vernoem was en hy het so agteruitgegaan dat hy nou soos n ashoop lyk, sal ek bly wees as hul hom nou een van hul eie name gee. Dalk is dit net meer gepas. 
  Nou het die oom gewonder of een van julle jongklomp wat so slim is met die komputers nie vir ons oumense n pleknaam woordeboek wil saamstel nie. Elkeen met sy ruitverwysing. My GPS wil hoeka nie meer vir my vat waar ek wil wees nie. Dan kan ek mos net die lengte en breedtegrade intik en hoef ek nie met een of ander onuitspreekbare naam te sukkel nie. As jul dit nou vir ons oues doen sal die oom so bly wees. 
   Fellow citizens, we must stay in "WENEEDTO", your country need you. 

Vreugde en vrede vir julle, vat n koppie "BOERETROOS".
Ek gaan liewer die comments afsit.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 26/02/2021 - 09:24

Dagsê vriende,

              GROOTWILDJAGTER.

 Kyk, vir die ding het ons n groot kampvuur nodig. Lekker vet hardekoolstompe my ou maat. Pak hom oordentlik. 
  By so n kampvuur kom die groot stories gewoonlik uit. Vissermanne en jagters, dié sal dit ken. Die grootste en die beste word van vertel. Watter geweer is die beste, my scope is beter as joune, stories. Selflaai of nie, ladings en sulke dinge word bespreek. Daai drie bokke met een skoot doodgeskiet stories word vertel. Gewoonlik, hoe later dit die nag raak, hoe erger en meer waaghalsig raak die stories. My ondervinding is dat dit iets met glase te doen het. 
    Vroegoggend roer die ouens mos, dan gaan hul wild soek. Baie kere lewer dit niks of min op. Op TV se 50/50 het ek al die gadget gesien waarmee hul wild soek, maar dan is dit wild wat gemerk en toegerus is met n sender. Bou ek toe so n gadget maar wat ongemerkte wild opspoor. Man was dit nou vir jou n grhênd ding. Voice activated soos hul sê. 
    Van vyftig vyftig gepraat, onthou julle nog, hoe hul  toeka jare gelede vir die wenner van die beste wildsfoto n Land Drover laat wen het. Wel een aand so om n kampvuur was daar so n wenner saam ons in die jag geselskap, of so vertel hy.
   Man was die man darem nou vir jou trots, oor sy foto en oor die eerste prys wat hy gewen het.
    Nou wil die manne weet wat hy afgeneem het, staan hy op vanuit sy kampstoel en haal sy beursie uit.  Julle weet hoe lyk n foto wat al lank in n beursie gedra word. Daar haal hy n verrimpelde foto van sy vrou uit. Met hierdie foto, lieg hy, het ek op 50/50 gewen. Nou lag die manne te lekker.
   Ek self is nie n jagter nie alhoewel ek graag saamgaan. Die diere is te mooi. Sal miskien net n bokkie vir die pot skiet, verder net saam kuier om n kampvuur en kos maak. En dan nou natuurlik met my fancy tracker wil ek graag die wild soek en uitwys. 
   Nou die patent van my wat uit houtstokkies gemaak is, fluister jy net bv. kudu dan kan jy maar begin stap of ry, ek sal beduie, hy vat jou reguit soontoe. Hier deur die baaltou na my ore, maak hy soos n kwêvoel. Die werk nou weer soos die twee blikkies wat met n lyn aan mekaar verbind was waarmee ons daai jare gespeel het, kan jul nog onthou.Dan het ons so met mekaar gepraat. Die ding werk nou so, dit is amper soos wat ons vroeër jare
gespeel het waar jy iets wegsteek en die ander moet dit soek. Dan het een ou mos warm warm al vinniger gesê hoe nader jy aan die ding kom. Of koud kouer en so aan. Hoe nader die bok kom hoe meer gaan die kwêvoël hier in my ore te kere.
    Ek sê jou ou broer die ding werk. Elke keer vat ek hom saam, maar niemand wil my glo nie. Dit is wat ek nie van jagters verstaan nie, hul glo die man wat drie bokke met een skoot morsdood geskiet het, maar hul wil my nie glo met my gadget nie. Ander ouens wys dan water met mikstokke, dan moet my patent mos werk, of wat sê jy ou broer?

Vreugde en vrede vir julle.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 27/02/2021 - 10:46

Dagsê vriende,
  
         BRAKPAN OP STEROIDS.

  Vanoggend sit ek so met n koppie boeretroos, sit ek so en dink aan ons land se nuwe naam wat ek hom gegee het "WENEEDTO"  
  Rama sê mos baie in sy toesprake "We need to......" Toe sit die oom nou so en dink, wat kan ek jul vertel  om jul goed te laat voel en blaai ek in my argiewe terug na n storie van so twee jaar terug. 
   Ek meen mos nou so,"We need to laugh" , is dit nie so nie. En hierdie een is net wat jul nodig het op hierdie Saterdag.

Dagsê vriende, 

              BRAKPAN  HORMONE.
 
    Vertel Wille Willem my die ding toe hy nog daar in Brakpan gewerk het. Hy is n appy, so hy is nog besig met sy ambag.
   Brakpan is mos n plek op steroids. Dinge gebeur daar. Sommer baie dinge, en boonop gebeur dit vinnig en so aanmekaar. Dit is ook daar waar Wille Willem se naam vandaan kom. Hy vertel dat hy so gedoop is. Nou begin ek uitvra daaroor. Nee vertel hy, sy van is Wille. Hy is eintlik Willem. Dit moes Willem Wille gewees het. Dit is hoe sy pa hom geregistreer het daar in Brakpan by Binnelandse sake daai jare. Hy vertel dat die dominee wat hom gedoop het vaak was en die dag by die doopvond deurmekaar geraak het en toe die fout maak deur te sê, ek doop jou Wille Willem. Sy pa het dit so laat staan, hy weer het gedog dit is maar hoe hul dit doen, eers die van en dan die naam. 
   Sit ek die dag na die langnaweek in my werkswinkel en Oom Apie kom ingestap met sonbrille op. Hy lei my op. Oom Apie is self maar n rowwe omie. Dit is nogal donker in die werkswinkel, al die ligte is nog nie aan nie. Maar hy haal nie die brille af nie, en ek dink, Ai, was die oubaas in n barfight of het hy dalk vir n katerak operasie gegaan. Gewoonlik loop diesulkes met sonbrille op selfs in die nag. Ek vra hom, en nou Oom, die donker bril, was oom in n barfight of in vir n oog operasie? Kon sien hy was lus en gee my n oorveeg. Wafferse operasie vra hy. Vir katerakte oom, sê vra ek. Nee sê hy, dit is nie n operasie nie en hy haal die bril af maar sy oog is pot blou en toe geslaan. Ek sê,  ag nee Oom moenie vir my sê Oom was weer met die tannie se 125cc na n biker naweek toe nie. Dié het hy n ombouing gegee en n driewiel van gemaak vir die tannie. Sy het beginne swaar loop en beweeg. Die ou ledemate het stram geraak, en die arthritis in die joints keil haar op. Alles om dit vir haar makliker te maak. Hulle raak nou oud. Oom Apie kort duskant aftree. Hy was baie trots op die bike wat hy so verander het vir die ou vrou en het orals gebrêk met hom.
 Nee ok nie, sê Oom Apie en hy kyk rond in die werkswinkel of daar nie iemand is wat hul kan hoor nie. Maar jy sê vir niemand nie gehoor, ek maak jou dood as dit uitkom. Ek maak daai Cross my heart bra teken, en hy beginne vertel .
   Jong die auntie het mos daai hormoon probleem, jy weet die “hot flushes“ en al daai ander goeters saam, so sy kry inspuitings. Nou ek weet nie wat die inspuitings aan haar doen nie maar sy gedra haarself al hoe jonger by die dag. Drink ook elke dag n handvol pille wat die aptekertjie heel gewillig aan haar verkoop. Hoeka gesien ons apteekrekening skiet die hoogtes in. Een of ander codliver olie vir die stram joints, die drink sy ook.. 
   Vertel Oom, vertel sê ek, ek meen hy moet my mos leer en as jong man is ek ook nou die ene ore om te leer. Hy sê, gisteraand sit ek op my stoel in die voorhuis en sy kom daar in met n mini rokkie en sulke net stockings aan met n draagbare radio /tape speler en sit hom op die tafel. Ek sê, en nou vrou, wat gat nou aan. Wat vir n snaakse klere het jy nou loop aantrek. Sy sê net, Pappa vandag gee ek vir jou n “striptease “ wat jy nie sal vergeet nie, sy trek allerhande goed daar uit n plastic shopping bag. Toe weet ek, ek is in vir n ding. Maak sy my daar vas aan my stoel met allerhande goete, glo dat ek nie die show kan onderbreek nie. Boeie, die toetie ou seun.  My voete aan die stoel se pote.Toue van my skouers af, al in die ronde om my en die rugkeuning. Sy klouter daar op die tafel en sit die tape aan, boeremusiek, een of ander vastrap. Nee, sê sy, hierdie gaan nie werk nie en sit hom op n stasie met sulke duf duf ntshk ntshk disco musiek, draai die volume vol oop en sy begin haar lyf te swaai, my eie paaldanser sonder die paal. My ou vrou, wat sukkel om deeske dae te beweeg het nou n bounce in die ledemate wat ek nie ken nie. Daai joints is nou ge-olie. Sy gooi sulke handevol blinkertjies in die lug en blaas van hul so oor my, te pragtig man. Nou is ons altwee vol blinkertjies. Sy het so lae bloes aan en die houers bons so rond en toe sien ek die Tattoo. n Tattoo Oom, waar vraag ek ? Hy sê hier so op die bors nogal,  n klein seuntjie wat op n rots piepie, soos daai beeldjies wat hul in die tuine sit, wei hy uit. Toe hy so na sy bors beduie terwyl hy vertel, toé sien ek eers sy hande is nog steeds aanmekaar vasgeboei. Heng Oom sê ek dit is nogal n gedoente. 
     Ou seun, en daar begin die tannie strip, en sy besmeer vir haar met baby oil. Sy blink nou van de olie en blinkertjies, die oom moet erken, ek het so n vonkel in die oog gekry
   Ja sê die ou, en sy dans so woes dat die seuntjie naderhand die klip mis piepie, en net daar gee die tafel in en sy val daar af, maar in die valslag skop sy my in die gesig met haar hoëhak skoene. Ek is onderstebo met stoel, tafel en al. In die val breek sy haar heup en ek lê op die grond met die boeie aan die gewrigte en vasgebind aan die stoel. Nie een van ons kan roer nie. Lê ons die heel nag na daai duf duf op full blast musiek en luister. So het Maria die huishulp ons vanoggend daar gekry. My losgemaak en op gehelp. Met die ouderdom saam kan die vrou om de dood nie onthou wat sy met die boeie se sleutels gedoen het nie.
   Maria kon toe darem die ambulans...... 
  Man sê hy nou sommer vererg, wat sal ek jou nou al die dinge staan en vertel,  bring die bleddy  grinder dat jy my kan los kry, die vrou wag vir my by die hospitaal.

 Vreugde en vrede vir julle.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 01/03/2021 - 14:40

Môre vriende,

Vanoggend gee ek jul weer een van my ouer stories van so twee jaar gelede wat ook in my boek saamgevat is. 

    DIE SPOOK VAN MONKS COWL. 

Ons kamp nog steeds by Monks Cowl. Oom Suurknol en tannie Suurlemoen nog steeds oorkant ons op Die Duitser en sy oulike vroutjie se plek. Ons waens front met hul voorkante na mekaar, alhoewel die pad tussen ons is.          
      Ek en Ann is baie lief om saam kos te maak. So besluit ons om die aand Ovis Aries sterte te braai. Nou vir die wat dit ken het ek n fototjie (kaalge-eet) aangeheg. Nou laat ek jul vertel daar is niks lekkerder saam met hulle as lekker stywe pap nie.
   Wat ons doen is om hul eers n bietjie sag te kook in n drukkoker. Dan word hul met suurlemoensap en geelsout(aromat) gebraai. Elke keer as jy draai gooi jy van daai tweetjies bo-oor.
    Vroegaand het ons klaar ge-eet. Ons oorkantste bure is nog besig om te braai voor hul karavaan. Ons groet elke dag vriendelik maar kry maar nie n smile op hul suurgesigte nie. So was dit ook vandag, net n kopknik en staar teruggekry.
   So na aandete, met die stilte van die nag, is dit vir ons lekker om dan stompe op die kole te gooi en met n lekker wyntjie terug te sit en "ons tyd" saam te spandeer. Gesels sommer dan oor alles en nog wat. Sê Ann sy wonder wat gaan met 7 De Laan aan. Ek kyk hom nie meer nie, sal miskien nog daar by haar sit maar dan dink ek eerder wat kan ek jul vertel. Hy het my begin verveel.
    Met die wat ons nie TV kampeerders is nie kry ek toe n blink idee. Sê sy moet net daar wag. Gaan haal ek die karavaan se stofdoek wat van ou lakens gemaak is en n klomp wasgoedpennetjies.
     Soos n wafferse Hilda knip ek daai doek aan die voorkant van die canopy vas. Ann bly vra, wat maak jy. Oom suurknol en tannie suurlemoen kyk ook nuuskierig wat gaan aan.
    Met die buiteligte van die karavaan aan is die canopy nou mooi verlig binne.
     Die lig by die braai skakel ek af. Draai Ann se stoel sodat sy vir hierdie kampgemaakte bigscreen TV kan kyk. Die suur nuuskierige bure se stoele is uit die aard van die saak ook in ons rigting gedraai. Die vlamme wat so n vlekkende skynsel gee teen die doek laat dit baie spookagtig lyk. 
   Gaan staan ek so voor die doek, en ek kondig hard af. "Dames en here, Die Spook van Monks Cowl"
  Ek glip agter die laken in so hul sien nou net my skadu teen die laken.
    Met n diep stem sê ek toe, terwyl ek baie beweeg en beduie. 
    Jul kamp so lekker, het jul nou regtig gedink n spook hou nie van kamp nie. Ons VREK oor kamp. (Maar ek sit klem in daai vrek, boetie.)
     Dit is hoe ek tot my einde gekom het, so by n kampery.(beduie en skop so met my bene asof ek nou die emmer skop) 
      Wie sit nou daar langs julle, o my magties ek sien nou dit is van my ou vrinne hier van Monks Cowl. Welkom, welkom ook vir julle. Ou Nic, spesiale welkom vir jou. Vriende, Nic het laas maand hier bo van n krans afgeval en nou nuut hier by ons aangesluit 
     Vriend Barry, jy sit nou so knus daar langs Ann, gaan sit daar langs die tannie oorkant die straat. Daarsy, ek is bly jul luister nog so mooi na my. Ek is darem after all die hoofspook.
   So met my laaste beweging het ek naderbeweeg aan die skakelaar en met n "Sweet Dreams" het ek die ligte afgeskakel, die laken afgepluk en langs Ann by die kampvuur gaan sit , met die vlamme wat so lek lek verlig rondom ons. 
   Oorkant ons was dit doodstil, die ou oom hul had nie woorde nie. Naderhand het die tannie net gesê "ek moet badkamer toe ek dink ek het in my broek ge...."
Sy het geweier om alleen te stap.
    Terwyl hul by die badkamer was het ek so twee van die fotomannetjies op ons gesamentlike asdrom deksel gaan uitpak.Toe die tannie hul braaivleis bene gaan weggooi toe hul terug is, het ek net een hengse gil gehoor en n asdrom wat sy wegskop soos sy probeer wegkom, hul is toe maar weer daar weg badkamer toe.
    Daai nag het al wat n lig is daar by hul gebrand en die volgende oggend vroeg is hul toe daar weg met hul karavaantjie. Ons net so suur aangekyk. Sê ek vir die vrou, ek dink nie hul het van die show gehou nie, ek dink ek sal n bietjie aan my acting moet werk.
  
Veugde en vrede vir elkeen.

NS. Ovis Aries is maar net die wetenskaplike naam vir n skaap.So ons het skaapsterte ge-eet. Jy kan n bestelling whattsapp na 0731709344
R160 per boek + R100 koerier kostes sou jy belang stel.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 03/03/2021 - 08:06

Môre vriende,

   Vanoggend wil ek met jul gesels oor n baie sensitiewe saak.
   Ek besef dat ek dit met baie oorleg, simpatie en empatie sal moet doen.
     Jy kry mos ouens wat permanent met n dikbek rondloop, ander kan met moeite net n greinslag op hul gesigte forseer, so asof hul bekke onder verdowing is.

         DIE TANDARTS STOEL.

     Ja, vanoggend praat ons tandarts sake. Nou ek dink nie daar was n ou wat dit beter kon vertel as ou Tolla nie, maar ek gaan probeer om jul van hierdie een te vertel.
     Onlang het ek n nuwe bril gekry. n Week daarna swel my wang op, die bril druk my aan daai kant. Dit raak net erger. Naderhand hang die ou brilletjie so skuins oor my gesig. Sommer die dinges in oor die bril wat my nou tandpyn gegee het.
    By my brilmaker gekom verseker hy my dit is nie sy bril se fout nie maar verstel nogtans die bril.  Nou lê hy net so windskeef oor my gesig, maar ek kan darem nou beter sien. Hy was eers so skeef dat ek met die een oog kan lees en die ander een kon ek mee ver kyk.
    Ek was maar nog altyd vrek bang vir n tandarts en diep binne my het ek geweet dit is die tand en nie die bril nie.
    Ek wil die mannetjie betaal maar sê hy, "nee wat oom, dit is verniet" en ek is toe daar weg. Stap kar toe en wonder so by my selfders hoekom n mechanic n ou dan charge as hy jou kar se enjin verstel. Die ou het my bril verstel en niks gevra nie.
    Ek maak toe n afspraak by n nuwe tandarts. Ek was al by almal. Ek werk hul almal deur in my soeke na een wat my nie seermaak nie. Skielik dink ek dat hul my nooit eendag aan my tande sal kan identifiseer sou dit nodig wees nie. Niemand het eintlik rekords van my gebid nie. 
    Die dame wat antwoord kan my die volgende dag help, kwansuis kan sy hoor ek het pyn.
     Daar aangekom die volgende oggend is dit n bejaarde dame by ontvangs. Haar bolla op haar agterkop is so styf getrek dat sy met sulke groot oë na jou kyk. Die haartjies wat hier by die ore verby gaan bolla toe, asook die van agter die ore af boontoe, trek n permanente smile op haar gesig. Dadelik gewonder hoekom hul nie n bolla vir n facelift gebruik nie. Dit is seker baie goedkoper. Jy moet hom net styf genoeg bind. Sal seker werk vir hang boude ook.
     Ek wil eers vir haar tannie sê maar sy vat die wind uit my seile met haar "was Meneer al by ons" Nee nig sê ek. Sy pak n hele pak papiere voor my uit. Glo om n nuwe leêr oop te maak.
    Daar vra hul nou wragties alles, sê ek naderhand vir haar ek doen nie aansoek vir n huislening nie, ek is net hier vir n tand wat my opkeil. Sonder om n oog te knip, ek glo nie sy kan nie, sê sy met haar alewige smile, dit is maar net om dokter te vrywaar teen eise sou hy n glipsie maak.
   Met my en my vrou se glipsie sit ons nou met n pensioenvretertjie in standerd tien, so ek ken van glipsies. 
     So is ek toe naderhand daar in. So n jong mannetjie, lyk nie veel ouer as onse glipsie nie.
     Sit maar oom sê hy met my nuwe leêr so oop in sy hand. Sien oom is nuut hier, wat is fout?
     Terwyl ek vertel sit hy so n maskertjie op, sit n bril op en trek sulke rubber handskoentjies aan, vra ek nou waarvoor die goed? Maar net vir veiligheid vir as die bloed spat, sê hy.
    Was nog besig om iets te protesteer, toe sê hy, maak oop. Nou grawe hy hier in my bo tande met so n blink ding met n skerpkant.
    My boude loop nou met my hele liggaam teen die ruglening uit. Karring hy aan die onderste tande dan loop hul af teen die stoel, deur se kant toe. 
    Reken hy my, oom moet stilsit. Hy haak en steek met daai tool en kap so teen die tand en met my wat nou deur die dak wil klim gee hy so n fluit agter die masker en sê net, "dit is erger as wat ek gedink het"
    Oom lyk angstig, reken hy, toemaar ek ook, ek kon nooit meer as 30% op universiteit kry nie en hul het my altyd op diere se tande laat werk, oom is nou my eerste menslike pasiënt.
    Nou druk ek daai armleningtjies dat hul lyk soos daai lang maer balonne waarmee hansworse mee speel. Weerskante van my hande staan hul sommers soos bolle uit.
      Hy haal die tool uit my mond uit, sê net, ek gaan oom nou spuit. Hy werskaf daar met n spuit en smeer met so n nat lapperige gedoente op die plek waar hy wil spuit.
    Met n maak wyd oop en sit stil druk hy die naald in, voel vir my of hy tot in my tone gaan. Wonder toe of ons nie sommer my GP kan laat kom nie, dan kan hy sommer my ingroei toonael ook doen met dieselfde verdowing.
    Nou, die ou doktertjie het toe nou sy ou muti-tjies daar ingespuit en gesê ek moet wag dat dit inskop.
    Nou daai wag opsigselwers is al erg genoeg. Jy sit mos net daar en rondkyk en wonder waarvoor alles werk.
     Switch ek die spotlight hier bokant my kop so aan en af,en verbeel ek myself ek is Mick Jagger op n stage. Net onder die lig hier bo my kop, is daar nogal n klein spieëltjie en waaragtig daar sit MickJagger met sy omkrul lippe in my plek. Hy pruil sy lippe so. Sulke dik lippe. Ek erken myself skaars. Ek kan nou voel daai kalmeerpilletjie wat my vrou gegee het, en die twee wat ek skelm by haar gesteel, het skop nou in.
    Hier langs my is so n skinkbordjie met sulke goed, ek neem aan dit is bore, hul hang so aan n skinkbord in sulke gleuwe. Ek gryp die grootste een, lyk net soos n mikrofoon.
   Al leênde, met die mikrofoon voor my mond, met my Mick Jagger lippe sing ek "I can't get no satisfaction, and i try, and i try" terwyl ek dink aan al die tandartse waarby ek al was sonder sukses. 
   Stap daai doktertjie en sy assistentjie daar in met hul bekke wat oophang, en vra is oom oraait?
    Ek vergeet van my stage personality en val so terug in die stoel.
   Kan daai meneertjie sy pose hou, sê so ewe, raak oom nou net rustig, oom kan by die huis verder aan oom se song gaan werk, ons is nou nou klaar.
     Maak oop, sê hy, en hy begin daar werskaf aan n bek wat niks voel nie. Begin die jongeling my mos so terwyl hy werk, n storie vertel.
     Hy vertel.
  Sit daar mos eendag n kleurling hier in my stoel en sê, doktor moet eers maar check. Die tand.... ,wat ga doktor my vra om ho te treê.
   Sê ek toe hoeveel dit gaan kos, reageer hy met n blikslater, e het nie gedink dit ga so baie wiees nie. Sê my doktortjie, as jy nou nie spuie nie, hoeveel ga dit dan wies? Uitdagend sê ek, dan is dit heeltemal verniet.
   Vlieg hy op en sê, sien doktor dan môre, ek ga net eers courage bymekar mak.
    Maak nogal dadelik n afspraak by ontvangs, net gehoor hy sê, julle moet my môre hier infit, die doktor sê so.
   Die volgende dag is daai man op tyd.
    Ek stel die stoel terug, en sê maak oop. Verniet kan darem ook nie verniet wees nie, dan moet dit darem met pyn gepaard gaan. Ek roer hom, ek draai daai tang, as ek sien hy wil loskom uit sy kas, druk ek hom terug.
   Daai ou sit daar, hy knip nie n oog nie. Dit is wragties die ou met die hoogste pyndrempel wat ek nog gesien het.
    Hy sê nie boe of ba nie, en ek het hom regtig geroer. Met die geklingel van die tand in die bakkie skaars weg, is hy toe daar uit, heelemal verniet. 
     Vertel ek die volgende dag vir n kollega van my (eintlik opposisie) in dieselfde mediese sentrum van hierdie ou met die hoë pyndrempel.
   Vra hy so ewe hoe laat was dit en hoe lyk die ou.
    Ek vertel hom.Hy vertel toe van dieselfde kleurling wat by hom was die vorige dag, vir die tand om te trek. Hy het hom dood gespuit en toe hy terugkom om die tand te trek het die pasiënt spoorloos verdwyn.
    Daai ou het doodeenvoudig van die een praktyk na die ander toe oor geloop, en sy tand kosteloos en pynloos by my laat trek.
   Daarsy, sê die doktertjie vir my, nou is oom weer reg. Daai mannetjie het my so geboei met sy storie, ek het niks gevoel nie. 
   Ek sal nogals terug gaan na hom toe, al is dit net vir sy stories.
 
Vreugde en vrede vir julle almal.
Cartoon by google geleen.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 05/03/2021 - 08:41

Dagsê vriende, 

              JANNIE ALMANAK.

    Vertel iemand my nou die dag van sy neef met die bynaam. Ek kan nog onthou dat ons destyds nie die woord kalender gebruik het nie, maar wel almanak. Of ons kinders het sommer ammanak gesê. 
   Vroeër jare het al wat n besigheid is, almanakke laat druk en dan aan kliënte uitgedeel. Van hul met die mooiste prentjies, of liewers fotos. 
   In ons huis het die almanak ook n spesifieke plek gehad waar hy gehang het. In die gang bokant die swart slinger telefoon. Dit was ook altyd die kerk se almanak. Pa was al die jare op die kerkraad en die datums en aktiwiteite was vir hom belangrik.
  Maar om terug te kom na Jannie Almanak. Peet van Staden sê sy neef Jannie Almanak is n ou wat alles wat wild is sal mak maak.
   Jy kry sulke mense, ek het n niggie en haar man wat so is. Toe sy sommer nog klein was, was dit n meerkat. En so het dit maar al die jare aangehou. Tot n leeu grootgemaak. Lulu dit is nou die leeu, is egter nie n katjie wat jy sonder hanskoene hanteer nie. Lulu is nou al n uitgegroeide leeu op n leeuplaas. 
 Nou, hulle boer eintlik met croc's, nie daai wat jy aantrek nie, krokodille. Hul het n hoenderhaan wat baie hans is en dink die hele plaas behoort aan hom. Doop hom toe Cheeky. Cheeky kon ook netsowel Jannie Almanak gedoop gewees het, hy het ook geglo hy kon almal mak maak. Was baie parmantig met Lulu toe die nog klein was. 
   Op so n plaas word die krokodille dooie hoenders gevoer. Daarvan was Cheecky nie bewus nie.
   Ewenwel ou maat, het daai hoenderhaan nou daai plaaswerf bewandel, heel cockyrig. Verjaag alles wat hy nie van hou nie. 
  Julle het al gesien hoe kan hoenders mekaar jaag, veral as daar n jong haantjie is, dan wil die baas van die klomp nou sy stempel afdruk. Wei en skrop hul die dag daar tussen die krokodilhokke. Dié is gebou met sulke lae mure. So borshoogte, sal ek sê. Raak hul weer daar aan't jaag. Cheeky het toe hoër gevlieg as wat hy gedink het en is bo-oor die muur. Vir n oomblik het hy gedink hy sal hul mak maak, maar dit het nie gewerk nie. Ek meen, afterall dink hy hy is baas van die plaas  Dit was n hangse fight, dit is net happende krokodiltande en n Cheecky wat traai opstyg. Jy sien net vere trek. Maar helaas ou broer, ou Cheeky het dit nie oorleef nie en het krokodilkos geword. Daar het nie n krieseltjie oorgebly wat begrawe kon word nie. 
 So sal die nig en haar man jou ook vertel dat n wilde dier altyd wild bly.    Daar is dae wat hul nie by Lulu sal ingaan nie. 
  
Vreugde en vrede vir julle.
NS. En voor jul nou jul oë uithuil. Alles was waar, behalwe Cheeky.😄 Kyk mooi wat lê onder die tafel.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus