Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
losstaande raam... Hoe maak ek my ou rally tent… Wessel Strydom -7 hours ago
Neef Herman Braai met 'n Weber Geert -7 hours ago
Vordering met die Triber se Kamp-aanpassings Hoe maak ek my ou rally tent… Fanie Bekker -8 hours ago
Uit 'n ander hoek Hoe maak ek my ou rally tent… Fanie Bekker -8 hours ago
Dis hoe die rallytent twee… Hoe maak ek my ou rally tent… Fanie Bekker -8 hours ago
Triber se dakspore is baie swak Hoe maak ek my ou rally tent… Fanie Bekker -8 hours ago

Hollies en Glynis Hollenbach - Toer om SA se grense

Daspoort Pretoria
Submitted by Willem Brits on
Forums

Ek gaan probeer om hulle vertelling op fb hier te plaas.

FB skakel.

Web skakel.

.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 21/06/2020 - 12:29

Woensdag 5 Maart

Ons is redelik vroeg wakker en begin so tussen die koffie kamp afslaan en oppak. Ons het beplan om net 149 km vandag te ry, Stilbaai se kant toe, maar nie voor ons lekker Geelstert op broodjies geniet het nie.  Die Geelstert proe amper lekkerder as gisteraand en ek is bly ons het ʼn grote gekoop, anders het ons nie left overs gehad nie.

Die grondpad is redelik goed en ons vorder mooi. Kort-kort kom dit oor die radio – kyk daardie valkie op die paal, daar is ʼn kraanvoël – en ons is gelukkig genoeg om twee volwasse kraanvoëls met twee jonges sommer hier teen die pad te kon sien. Hulle is mos redelik volop in hierdie kontrei.

Ons stop eers by die Trading Post Restaurant en winkel en geniet ʼn koeldrankie voor ons verder ry tot by Malgas. Dis waar ons met een van die min werkende ponte in die land, oor die Breërivier moet kom. Die pont is aan die oorkant van die rivier besig om voertuie te laai en ons het ʼn tydjie om te verken voor ons gelaai gaan word.

Daar is ʼn leë erf, met ʼn netjiese grasperk langs die huis hier agter ons, waar mense om ʼn tafeltjie sit en kuier en ek stap nader om te verneem of hulle kampers toelaat. Dit lyk rustig om hier naby die rivier te ontspan. Die vriendelike vrou sê ek is nie die eerste persoon wat kom aanklop nie, maar hulle laat ongelukkig nie mense toe om te kamp nie.

Die pont is die enigste handgedrewe pont in Suid Afrika en is reeds in 1860 begin. Malgas was daardie dae ʼn belangrike handelspos vir skepe wat met die Breërivier van die see af ingevaar het. Dit was voorraad van die Kaap af  en bestem was vir Swellendam en die omgewing.

Die huidige pont is reeds vanaf 1914 in bedryf met deurlopende opgraderings wat al aangebring is oor die jare. Die pont word net tussen sonop en sononder bedryf, so jy moet seker maak jy is betyds as jy hier wil oor. Ek en Moeksie was al hier oor, jare gelede toe die kinders nog klein was. Hulle het dit geniet om ook hand by te sit met die trek van die pont oor die rivier.



Oor die rivier ry ons verder en gaan besoek eers Witsand. Die miljoene slakke oral teen die plaasdraad verstom my, selfs die stamme van die struike oral in die veld is oortrek met die skulpies wat op sommige plekke in trosse saamgepak is. Interessante verskynsel.

Die melkskommel by die Anchorage Beach Restaurant voor op die strand is lekker. Van hier het jy ʼn mooi uitsig oor die riviermond in die rigting van Kaap Infanta aan die oorkant. Hier het ek al mooi Grunters uitgehaal en GROOT Kabeljoue sien uitkom. Die wind het so erg gewaai toe ons een Desember hier kom vakansie hou het, dat ons die plek herdoop het na Windsand. Dit was wel ʼn baie lekker vakansie.



Ons vat die eerste grondpad van hier af regs uit in die rigting van Vermaaklikheid en Jongensfontein. Dis nog ongerepte wêreld hierdie en ons geniet die rit na Stilbaai. Ons besluit om by Jongensfontein te gaan kamp opslaan,  Al baie gehoor van die plek, maar was nog nie hier nie. Dis toe ons, net voor jy Stilbaai inry, regs oor die brug draai oor die Goukou rivier, wat Stilbaai Wes en Oos van mekaar skei, dat ek en Moeksie weer gesels oor ons Oujaarskamp ʼn paar jaar gelede. Hier in die oop stuk veld, net links van die pad.

Dit was 31 Desember en ons was redelik vroeg al hier op Stilbaai om plek vir die aand te kom soek, maar vergeef. Als is vol bespreek en net toe ons uitry, hier by die brug, merk ons die karton boks by die hek na die oop stuk veld waarop staan: “Kamp R20 per persoon”. Daar is geen ander kampers nie, net ʼn kar of twee wat eenkant in die veld staan en ʼn man wat naby die ablusie op ʼn stoel langs sy motor sit.

Ons ry in en vra die man of ons maar hier kan kamp vir die aand. Is julle seker julle wil hier kamp, vra hy? Dis Oujaar en hier gaan vanaand ʼn moerse party wees. Honderde studente gaan die plek betrek en hier party hou aan tot more in die vroeë oggend ure. Ons sal nie kan slaap nie.

Ek en Moeks is nie bang nie en aanvaar die offer om ons waentjie naby die ingangshek teen die draad op te slaan. Soos die dag gevorder het, het die motors begin inry, almal vol jongmense, meeste studente van Stellenbosch. Daar het ook ʼn koswaentjie of twee ingekom en langs ons kom opslaan, take aways vir wanneer die jongklomp honger raak. Die een koswaentjie leen my kragopwekker en ons kan gratis rib-rolls en hamburgers eet, net soveel ons wil en hulle was rêrig lekker.

Daardie aand was hier ʼn MOERSE party en as die studente ons vra of hulle kan help, as ons deur die terrein stap. Dan spot ek en sê dat ek net my dogter kom soek,. Dan wys ek hulle waar ons kamp en die ongeloof en verbasing is sigbaar as hulle die waentjie en die gazebo sien staan.

Al die duisende studente en jongmense hier was karkampers, sommer net so langs die karre op komberse geslaap, die paar wat wel geslaap het. Die volgende oggend het menige student by ons wou kom koffie koop, gedink die gazebo is ook ʼn stalletjie. Ons het lekker gesels oor ʼn “gratis” koppie koffie met heelwat babbelleerders. Dit was ʼn onvergeetlike Oujaar daardie jaar hier op Stilbaai.

Ons boek in by Jongensfontein karavaanpark en ek is aangenaam verras met die netheid van die terrein asook die hoeveelheid kampers. Dit lyk na ʼn gewilde plek. Met swaer Kobus heeltyd in ons gedagtes, besluit ons om vir minstens drie dae hier te kamp in afwagting van ʼn oproep wat enige dag kan kom, moeilik om daaraan te dink.

Dis lekker sonskyn weer en drukkend met hoë humiditeit. Nie baie bome hier op die gras waar ons opslaan nie en die sweet tap my af. As die kamp staan, pak ons broodjies en koue vleise in ‘n houer en stap see se kant toe, waar daar ʼn paar gras afdakkies met bankies en tafeltjies is. Die windjie is stil en die koelte van die grasdak bied ʼn lekker lafenis as jy hier langs die see sit en die uitsig waardeer.


Ons gaan ontmoet die mense wat naby ons kamp en almal wil luister, as ons ons storie begin vertel. Kampers werk mos so, jy gaan maak kennis met die mense en deel stories. Ons raak sommer gou groot pelle met Fred en Elmarie oorkant ons. Magda en Moeksie is besig met breiwerk as ek en Anton Seesig Supermark net bo die kampterrein toe stap om hout te gaan koop en die nabye omgewing te  verken.

My selfoon lui en ek kan die hartseer hoor aan seun Jan Hendrik se stem, skoonpa is oorlede. Hulle sal ons op hoogte hou van begrafnisreëlings. Die eerste gedagtes wat deur my kop gaan, is die gevoel van vrede en dankbaarheid dat ons by hulle kon kuier ʼn paar dae tevore en hom kon sien.

Dis soos my eie pa wat ook op 5 Maart in 1995 oorlede is, die Sondag middag nadat hy by ons geëet het. Hy is na ete na my broer Carel toe in Pretoria, waar hy later daardie middag oorlede is. Die lewe is kort en kosbaar en ek moet dankbaar lewe vir die genade wat ek in oorvloed geniet!

Dis vanaand weer Anton en Magda se voorreg om kos te maak en almal stem vir spagball. Op een voorwaarde, voeg ek by, dat ons wel ʼn vuurtjie eenkant mag aansteek vir die geselligheid. Buurman Willie-hulle kom ook oor en ons kuier lekker om die vuurtjie. Dis ʼn rustige kampplek, ten spyte van die hoeveelheid mense en die geselsery en laggies in die agtergrond klink gesellig.

Die windjie het effe opgesteek as ons bed toe gaan, net genoeg om af te koel en maklik aan die slaap te raak met die branders wat breek as musiek uit die verte.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 21/06/2020 - 12:32

Donderdag 6 Maart

Die krag is af as ons opstaan, maar ons gasbottels is gou uit om die gebruiklike koppie koffie te kan geniet. Soms proe die koffie op die primuskop anders as die elektriese ketel, dalk ook maar my verbeelding. Ons verneem dat die krag storie ʼn redelike landwye affêre is en groot dele van die land het loadshedding.

Ons verkeer rustig by die kamp en gaan maak later ʼn draai by die wassery om lakens en handdoeke te was. Die aankoopielysie is opgestel en ons ry Stilbaai toe vir die aankope by Spar. Dis nie moeilik om vanaand se spyskaart uit te werk as die lekker lamtjops op die winkelrak uitgestal lê nie.

Ons ry verder na Stilbaai Oos en gaan ry ʼn draai deur die karavaanpark. Kan amper nie glo dis dieselfde plek wat elke Desember uit sy nate bars nie, nie ʼn enkele kamper in sig nie, verlate.  Moet darem byvoeg, dis buite seisoen en ook nog nie naweek nie. Ons besoek ook die bekende Preekstoel rots op die strand.

Die Preekstoel

Die middagslapie terug by die kamp is net die regte medisyne, hoewel ek meer gelê en dink het aan Swaer Kobus se mense, Anna, die kinders, familie en vriende, my gebede trek ver.

Ons gaan stap langs die see en geniet die omgewing, dis ʼn mooi stuk van die kus hierdie met die baai hier reg voor die karavaanpark. Terwyl ons stap kyk ek en Anton na lekker plekke om more dalk ʼn lyntjie te kom nat maak.

Ons steek redelik vroeg al die vuur aan en sit sommer net rustig en kuier met bure wat kort-kort ʼn draai maak en nog stories kom deel. Die potbrood het mooi gerys en moet nog net kleur kry en deurbak. Tyd is aan ons kant en die tjoppies word stadig oor die regte hitte lekker crispy gebraai, soos Moeksie en Magda daarvan hou.

As ons opskep, moet ek vir buurman Willie ook aan die potbrood laat proe. Ons skerts al heel middag oor die brood bak en vat ʼn paar lekker dik snye met appelkooskonfyt oor. Alles voel net so perfek, die weer, vriende, lekker kos, sommer net alles.

As Willie kom dankie sê vir die brood ʼn tydjie later, is dit die koekies en biltong in die bord wat hy terugbring wat my weer laat terugdink. Dit is mos ʼn ding waaraan die oumense geglo het, moet altyd die bord weer “vol” teruggee. Nog ʼn mooi dag word afgesluit.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 21/06/2020 - 12:38

Vrydag 7 Maart

Ek en Moeksie is opgewonde as ons opstaan en gesels oor Armand, ons kleinseun, wat vandag een jaar oud word. Sou graag daar in Johannesburg wou wees om hom te bederf, maar dinge werk nou nie so uit nie. Ek gooi sommer meer suiker as gewoonlik in my koffie en drink die soetigheid op my kleinseun. Oupa se oogappel, ons eerste en enigste kleinkind. Glo daar sal later jare nog wees, maar hy is NOU die een.

Ons stort lekker en besluit om te gaan Gin proe by die bekende distilleerder Inverroche, net buite Stilbaai. Al baie van hulle gehoor maar, nog nie daar gewees of hulle produk geproe nie, nie dat ek ʼn groot Gin mens is nie. Moeksie geniet nogal nou en dan haar G&T.

Ons word hartlik ontvang en word gevra om net ʼn rukkie te wag in die ontvangslokaal, iemand sal nou na ons kom omsien. Die jong man stel homself voor en hy sal ons deur die aanleg vergesel en ʼn proe-sessie aanbied. Hy is die seun van die eienaar, het aan die Universiteit van Stellenbosch sy graad verwerf en nog altyd ʼn belangstelling en liefde gehad om met veral fynbos as kruie vir smaak in drank te eksperimenteer.

Dis ʼn redelike klein maar BAIE netjiese opset hierdie en ons word in die fynste besonderhede vertel van al die prosesse en dinge, die ryk geskiedenis aan die plek en van die prosesse, van die begin tot by die eindproduk, veral die fynbos wat die hoof bestanddeel is in die verkryging van die spesifieke en besondere smake van elk van hulle produkte. Ons is aangenaam verras en kon nie sonder ʼn bottel of twee daar wegstap nie. Koop vandag nog vir die bederf nou en dan vir Moeksie een om te geniet, rêrig besonders.



Ons is weer vroegmiddag terug by die kamp en Moeksie en Magda maak Tuna toebroodjies, koffie en tee en ons stap weer af na die grasdakkie voor by die see. Hier proe alles net beter, of sal ek sê anders. Ons kry die nuus dat daar Maandag ʼn gedenkdiens vir swaer Kobus gehou sal word in Jacobsbaai. Ek en Moeksie sal Sondag Langebaan toe ry en weer Maandag na die diens terugry. Anton sê hy en Magda sal hier vir ons wag.

Later gaan ek en Anton aas koop by die Seesig Supermark en besluit om ons vernuf te gaan toets, het nie die visstokke verniet saamgery nie en wie weet, dalk eet ons vars vir vanaand. Moeksie en Magda bly by die kamp, Moeksie wil die skinkbordlappies waarmee sy besig is klaarmaak en Magda het ook naaldwerk wat moet vorder.

Ook maar goed ons is nie afhanklik van die see vir kos vir vanaand nie, want ek en Anton kom leë hande terug. Dis mos maar hoe die see (en die bos) werk, soms gee hy en soms hou hy terug. Nie dat ons twee die gesoutste vissermanne is nie, maar dis altyd lekker om ʼn lyntjie in die water te gooi. Ons stap na die restaurant net langs die kampterrein en gaan koop ʼn lekker draairoomys wat ons so loop en eet al langs die see.

Ons is net betyds terug om te sien hoe die mense saamdrom om die waterkanaal wat deur die kampterrein loop. Een van die manne van die omgewing is besig om die palings in die kanaal te voer, ʼn bakkie hoender lewertjies. Hulle kom van oral onder en tussen die klippe uit, kleintjies en grotes. As die man ʼn stukkie lewer in sy hand onder die water hou, kom hulle om dit uit sy hand te kom eet.

Daar is twee of drie GROTES wat hy heeltyd moet vryf en wegwys as hulle om sy voete kom rondswem op soek na nog lewertjies, anders kry die ander niks. Hy noem van hulle op die naam, ken hulle al goed oor al die tyd wat hy na hulle omsien. ʼn Lekker ervaring om dit te kon aanskou.

Daar kom ʼn hele aantal kampers die middag in wat vir die naweek hier kom ontspan en die kamp is redelik vol. Die vuur knetter lekker as ons seker maak daar sal genoeg kole wees. Vanaand braai Anton lekker hoender en Magda het ʼn groot slaai voorberei. Ons gesels tot laataand oor die dag se ervaringe en die bure gesels lekker saam. Nog ʼn volmaakte dag.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 21/06/2020 - 12:42

Saterdag 8 Maart

Ons lê bietjie in vanoggend, is lankal wakker maar geniet dit om te lê en na die see te luister en hier-en-daar die mense se stemme wat praat oor die dag se planne. Ons drink koffie en begin regmaak vir die ontbyt, vanoggend is ek lus vir die full monty: Spek, eiers, wors, tamatie, kaas, roosterbrood en oorskiet hoender van gisteraand en jogurt met muesli vir die wat wil. As ek opskep, lyk dit of ek weke laas kos gehad het, maar alles lyk so lekker. Die mmmmm klanke vertel dat almal dit geniet, beter as wat enige hotel kan voorsit.

Na skottelgoed ry ons weer Stilbaai Oos toe tot by die Preekstoel waar ons ʼn ent op die strand gaan loop. Ons loer by ʼn paar winkeltjies in op pad terug kamp toe en koop ook nog aas, moet net weer gaan kyk of die vis dalk intussen honger geword het nie.

Ek en Anton ry in die rigting van Nuwebaai waar ons versigtig op die rotse ons gereedskap uitsit. Daar is ʼn paar ander manne wat ook lyne gooi, maar dis net kleintjies wat uitkom. Die paar vissies wat ons uithaal gaan dadelik terug water toe, maar eers na die opdrag dat hulle die oumas en oupas moet stuur om te kom eet. Hierdie is lekker ontspanning en kopskoonmaaktyd vir my. Stok in die hand en gesels met die see, maar net ʼn visserman sal dit verstaan.

Na ʼn paar ure kry ons vir Moeksie en Magda soos ons hulle gelos het, lekker ontspanne op hulle stoele met breiwerk in die hand. Hulle sê die breiwerk is vir hulle soos visvang vir ons, baie goeie terapie. Maar hulle kan darem iets wys na hulle terapiesessie, nie soos ons wat leë hande terugkom nie.

Daar is vanmiddag rugby en ek en Anton stap na die Drie Pikkewyne Restaurant om ons spanne te gaan ondersteun, hy ʼn Blou Bul en ek ʼn Lion. Die Bulle speel eerste en daarna die Lions en ons kuier lekker saam met die ander mense wat ook kom ondersteuning gee.

Die sonnetjie is al laag as ons terugstap kamp toe. Vanaand is dit steak en braaibroodjies. My alombekende antwoord as daar vir my gevra word waarvoor is ek lus om te braai? Dis oudergewoonte en almal kuier saam om die vuur. Moeksie is bang ons kry skeurbuik en maak ʼn slaai om saam met die braaivleis te geniet.

Ek beplan ons roete vir more – van hier af terug Langebaan toe vir die gedenkdiens en besluit om Swellendam, Robertson, Worcester en Piketberg om te ry na Langebaan.

Die windjie stoot sterk en dwing ons om redelik vroeg te gaan inkruip.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 21/06/2020 - 12:45

Sondag 9 Maart

Ek en Moeksie is voor ses op en drink ons koffie, terwyl dit liggies reën. Gelukkig het ek twee van die tent se kante opgeslaan, doen dit gewoonlik as ons langer staan, om koelte te gee en die wind en reën weg te keer. Ons pak ons klere,

Ons groet vir Anton en Magda en vat die 440 km terug na Langebaan. Die pad van Swellendam deur Worcester en Piketberg is nuut vir ons en ons geniet die roete. Die sowat 40 km grondpad is die kortste roete na Moorreesburg van Gouda se kant af en gelukkig het ons die Hilux wat die uitgeryde pad goed vat. Ons ry deur Hopefield en aanskou die 37 wind turbines op die windplaas wat gesamentlik 66 MW krag opwek, genoeg vir sowat dertig duisend huishoudings.


Daar is gereël dat ons die kinders en die familie wat reeds daar is, by Boesmanland Plaaskombuis, naby Club Mykanos ontmoet vir middagete. Die Restaurant is bekend met ʼn mooi uitsig oor die see. Ons ontmoet van die familie en kuier lekker saam met Anna en Jan Hendrik en Michelle.

Ek het vir ons slaapplek bespreek by Oliphantskop gastehuis en gaan boek in na ete. Ons pak af en ry later na Drift Wood Restaurant voor op die strand waar Jan Hendrik en Michelle by ons aansluit. Hulle gemoed is goed en meeste van die reëlings vir more se diens is afgehandel.


Dis net voor sononder, as ons terug is by ons kamer. Marlene, ʼn jarelange en baie goeie vriendin van Anna, slaap in die kamer langs ons en ons ken haar van vorige kuiers in Johannesburg. Ons kuier lekker en Jan Hendrik bring vir my die klere wat hy vir my moes saambring uit Johannesburg.

Dis nog redelik vroeg as ek en Moeksie in die bed lê en Big Mamma en daarna The Client op die TV kyk. Dis ongewoon, want ek is nie ‘n groot TV mens nie. Die matras is okay en ons raak aan die slaap na ʼn vol dag.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 21/06/2020 - 12:49

Maandag 10 Maart

Dis na sewe as ons opstaan en buite by die tafeltjie sit en koffie drink. Moeksie het gister, op pad hierheen, een van haar breinaalde laat val en kon hom nie kry nie. Sy stap terug bakkie toe om net weer te gaan soek en is BAIE gelukkig toe sy hom langs die bakkie optel. Moes uitgeval het toe ons gister hier gestop en sy uitgeklim het.

Ons stort, trek aan en ry na die Weskus Mall, Moeksie soek ʼn spieël en skoene. Ons koop ʼn Take Away ontbyt by die Wimpy en ry na Jacobsbaai. Dit was swaer Kobus se gunsteling plek en die gedenkdiens word in die Weskusplek Restaurant gehou met sy mooi uitsig oor die baai. Dis regtig ʼn mooi plekkie die, het al vinnig hier deur Jacobsbaai gery jare gelede.

Die tafels in die Restaurant is keurig gedek en versier. Jan Hendrik doen die verwelkomings en bedankings waarna skoonseun Johan ʼn paar gedeeltes uit die Bybel voorlees en enkele gedagtes met ons deel. Michelle, Liezel en Jacobus lewer elkeen ʼn baie mooi huldeblyk aan hulle pa. Dis vir my en Moeksie ʼn baie spesiale manier waarop die gesin en familie afskeid geneem het van ʼn geliefde en ek dink by myself, sal ook van so-iets kon hou.


Ons eet en kuier na die verrigtinge en groet almal. Ek staan vir oulaas en staar oor die baai, Jacobsbaai, en besef dat die naam nooit weer dieselfde sal wees nie, het na vandag ʼn ander betekenis gekry.

Ons moet nog eers Paarl toe ry om goed daar te gaan aflaai wat Ben en Antoinette by ons agtergelaat het toe hulle in Kleinmond saam kom kamp het. Dis net na een as ons die 560 km pad via die Paarl terug na Jongensfontein aanpak. Ons ry goed en kom net na sewe by ons kamp aan. Dit was die hele pad maar redelik bewolk van die Kaap af tot hier.

Anton en Magda staan met oop arms as ons daar aankom, BAIE bly ons is veilig terug. Dadelik begin hulle vertel van die KAAP VAN STORMS wat hulle die afgelope twee aande moes trotseer. Dit was erg, so erg dat hulle op ʼn stadium daaraan gedink het om my tent af te slaan, maar het net kort-kort kom loer of alles nog staan en niks deur die stormwind geskeur is nie.

Die wind het die reën by hulle tent ingewaai en hulle matras het nat geword, Soveel so, dat hulle dit op ʼn stadium sterk oorweeg het om by ʼn gastehuis te gaan inboek en te wag tot die storm oor is. Gelukkig, soos ek al genoem het, ek slaan ALTYD op vir wind en reën en het ek gelukkig geen skade gekry nie, nogtans dankbaar dat hulle ʼn ogie kon hou.

Die vuurtjie brand reeds en ons vang eers op oor die afgelope paar dae se gebeure. Dis hartseer om so daaroor te dink, maar dit waarvoor ons gewag het, het gebeur en ons kan more verder toer. Na ete pak ons van die los goedjies in die Hilux en waentjie en gaan kruip in.

0
Oudtshoorn

neef Herman

Sun, 21/06/2020 - 13:37

Ai Willem, hierdie is pitkos tot nadenke, ek sal ook sooooo graag so toer doen. Hoekom nie, ek kan eerlik nie sê nie, dalk ons 4 katte en 2 perde waarvoor ons te lief is.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 21/06/2020 - 19:45

Na die toer sal ek hulle Namib toer ook plaas.

Gelukkig vertel hy sy storie saam foto's so dat dit voel of jy saam toer.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 22/06/2020 - 10:49

Dinsdag 11 Maart

Dis bewolk as ons opstaan en ons koffie geniet. Nadat ons afgeslaan het, geniet ons eers weer ʼn koffie saam met cup-cakes voor ons pad vat. Ons het nog nie finaal besluit waar ons vanaand gaan kamp nie, weet net ons moet Mosselbaai se kant toe.

Ons ry tot net buite Stilbaai en draai op die eerste grondpad af na regs. Ek het hierdie grondpad al langs die kus na Gouritsmond baie jare terug gery en wil vir Anton-hulle die mooi natuurskoon wys. Ons ry verby Melkhoutfontein, Driefontein en Ystervarkfontein tot in die Rein’s Coastal Natuur Reservaat. Ons is ʼn paar keer met paadjies af see se kant toe, net om weer – met groot moeite – te moes omdraai, want dis ʼn doodlooppad.

Die tweespoor paadjie waarop ons ry dra nie baie verkeer nie en ons is deur ʼn paar plaashekke. Voor ons is ʼn draad gespan reg oor die pad en ons moet omdraai, sal ʼn paar kilometer moet terugry tot by die paadjie wat regs draai, weg van die see af.

Ons kom eindelik naby Gouritsmond en wil nie tyd mors nie, skep net vars lug en ry verder, wil gaan koffie drink by Die Punt in Mosselbaai. Ons is so 20 km verder toe my selfoon lui. Dis seun Stefan, daar is by ons huis ingebreek. Hulle het die voorhek se ysters af gesaag, die veiligheidsdeur en die voordeur oop gebreek en so ingekom.

Dis maar redelik deurmekaar maar die TV is weg, die kluis in die kamer is uit die muur geruk en weg en daar lê ʼn klomp goed, onder andere juwele, op ons bed. Lyk of hulle gepla was en weg is sonder om die goed op die bed in die duvet kon toevou en saamvat. Dis ʼn baie mistige dag in Roodepoort en niemand het iets gesien nie, nie eens die wag so twee huise van my hek af wat ʼn ander ou se huis beskerm nie, die mis is te dig. Selfs die hond, Jess die Boerboel, het in haar hok agter die huis gelê en nie eens geblaf nie.

Ek is so geskok dat ek aflui en eers tot verhaal wil kom voor ek vir Stefan terugbel. Ons bly in ʼn gebroke wêreld. Ek raak seer hier diep binne my en bid vir kalmte en wysheid, ek gaan dit nodig kry. Ek gee hom die nommer van die versekering en vra dat hy dit moet rapporteer en ook ʼn saak by die polisie moet gaan oopmaak. Hy moet ʼn wag reël en mense kry om die voorhek en veiligheidshek reg te maak. Ek sal hom later bel as ons in Mosselbaai is en net probeer vasstel wat als weg is.

Die oorblywende 30 km pad tot op Mosselbaai werk my brein oortyd, skok en teleurstelling, ongeloof, woede, weet nie wat nog nie, ietwat deurmekaar. Dalk is dit die einde van ons toer. Al die moontlike vrae flits deur my kop, maar ek het al geleer. Moet nie antwoorde soek nie, konsentreer op die oplossings, maar dis makliker gesê as gedaan.

Ons ry Mosselbaai binne, bekend aan ons deur al die jare wat ons tot na 1995, met pa Jan se dood, hier kom vakansie hou het. Ons kinders het ons aandeel in Schweizer-Hof verkoop en ʼn vakansiehuis op Tergniet gekoop. Anton en Magda ken ook hierdie wêreld, het al baie op Hartenbos en hier vakansie gehou. By Die Punt is ons verbaas om te sien dat die kampterrein vol is, almal pensioenarisse wat kom ontspan hier by die see.

Ons stap by die restaurant in en daar is heelwat mense. Ons het skaars gaan sit toe die kelner vra of ons wyn of koeldrank wil hê saam met die ete. Sy wys na die Buffet en sê ons kan onsself gaan help. Verbaas kyk ons mekaar aan, wat is nou aan die gang. Sy sê dis middagete vir pensioenarisse, R50 per kop en sluit nagereg en koffie ook in. Ons is mos pensioenarisse en geniet die aanbod. Anton weet nie rêrig wat om te sê as ek hom vertel van die inbraak nie. Is die toer nou klaar? Gaan julle terug, wil hy weet.

So tussen die ete deur bel ek weer huis toe. Ek gaan met Stefan deur die huis, lyk of dit net die TV en kluis is van die groot goed wat weg is. Kan nie rêrig vasstel van die juwele en ander kleiner items nie. My pistool, twee Kruger Rande en moontlik 2 horlosies van Moeksie was in die kluis, een van hulle nogal waardevol en sentimenteel, ʼn erfstuk. Klink nie of die hele huis ge-ransack is nie.

Ek besluit om nie die toer hier te stop nie, Stefan sal die goed by die huis kan hanteer en reël. Ek laat hom ʼn lysie maak van die items wat ek vermoed gesteel kan wees, gee vir hom waardes en vra hy moet dit as “voorlopig” op die verklaring sit. Die vuurwapen wat saam met die kluis weg is is die belangrikste. Hy sal my op hoogte hou soos die goed vorder.

Die ete hier by die Punt is ʼn groot verassing en bederf. Oor ete besluit ons om deur te ry tot op Buffelsbaai en daar te gaan kamp, nog sowat 110 km. Die 120 km van Jongensfontein tot hier het stadig gegaan met al die omdraai en grondpad wat ons gery het. Eerder soos ʼn paar honderd kilometer gevoel, maar dit was ook lekker. Dit reën liggies as ons pad vat en die windjie roer. Ons is op die N2 en is net voor drie in Buffelsbaai.

Ons het al ʼn paar Desember vakansies hier kom kamp saam met vriend Martin-hulle, kinders was nog op skool. Was my nog nie beskore om op een van die staanplekke reg voor op die see oor ʼn Desember te kom kamp nie. Daar is reeds ʼn paar karavane voor, maar daar is genoeg staanplekke oop vir ons om van te kies, reg voor op die see. Daar is rêrig min plekke in ons land waar jy so naby aan die see kan kamp, baie naby, met ʼn ongelooflike uitsig oor die baai in die rigting van Brenton-On-Sea. Dis redelik bewolk en hier is nie bome nie. So ons slaan die gazebo op vir as dit dalk kom reën of as die son ons more wil uitbraai. Daar is ʼn ligte windjie wat waai maar pla nie as ons buite op die stoele sit en die uitsig geniet nie.

Ons vuurtjie hier voor ons brand lekker en ek dink terug aan die aande wat die rokies reg na bo getrek het as ons by vriende hier voor kom braai het. Sulke windstil aande is skaars, baie skaars en jy moet hulle geniet. Hier het die wind ons al deurmekaar gewaai, al ʼn paar rowwe dae hier beleef wat jy moet vaskap en goeie stormtoue oorgooi.

Vanaand is die uitsig na Brenton se kant toe effens belemmer deur die dynserigheid op die see, maar dit bly mooi. Hier het ons al ʼn paar keer die volmaan sien opkom soos ʼn rooi bal oor die heuwels by Brenton-On-Sea en jy sy weerkaatsing regoor die baai kon sien, werklik ʼn sprokies prentjie.

Die vleis smaak hier ook anders, moet die kos wees wat die skape hier eet, of dalk net omdat Anton dit so lekker gebraai het, hier voor op die see. Ons kuier lekker om die vuur na ete, maar ek is stil vanaand, verwerk nog die inbraak. Stefan kon alles laat regmaak, maar het nogtans ʼn wag vir die aand gereël. Die res is in hand en ek moet nie verder bekommer nie, troos hy, hy sal alles uitsorteer.

Die rustige kabbel van die see oor die rotse hier naby sus ons gou aan die slaap.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 22/06/2020 - 10:53

Woensdag 12 Maart

Dis voor die son sy kop uitsteek, wat ek onder die gazebo sit met koffie in my hand en net oor die baai sit en staar, besig met diep gesprekke binne myself. Die beskuit proe spesiaal vanoggend, weet nie hoekom nie. Die res ontwaak en kom geniet ook die rustigheid met ʼn koppie koffie. Ons gaan eers lekker stort en dan Knysna toe ry om daar te gaan ontbyt eet, aankope te doen en sommer net in die dorp rond te loop.

Dis lekker om sonder verkeer in Knysna rond te ry, nie die mal Desember verkeer wat jou ure lank kan vashou hier in die dorp nie. Ons eet ontbyt in die Wood Mill Walk sentrum en doen van ons aankope ook daar.

Die vuurwapen wat gesteel is, pla my en ek besluit om polisiestasie toe te stap en net te gaan seker maak die regte verklaring is afgelê. Die persoon daar sê die saak is reg hanteer, maar die wapen is nog nie op die register as gesteel gemerk nie. Ek bel die ondersoekbeampte in Johannesburg en noem dit aan hom, waarop hy my gerusstel dat hy nog besig is met die proses. Nou is ek meer gerus en kan ontspan tot ek terug is by die huis om alles af te handel.

Ons stap deur ʼn paar winkeltjies, doen nog aankope en ry na Thesen’s eiland, Leisure eiland en na die Knysna Heads. Eers na die Paquitas Restaurant onder teen die see by die mond van die Knysna Lagoon, waar ons ʼn drankie geniet en daarna op na die uitkykpunt waar jy ʼn asemrowende uitsig oor die Knysna Lagoon aan die een kant en die see aan die voorkant het. Dis werklik besonders.

Terug in Buffelsbaai gaan stap ons ʼn ent langs die see en herroep ek en Moeksie die talle kere wat ons van hier af tot in Brenton-On-Sea gestap het tydens ons vakansies hier, ʼn bier daar gedrink het en teruggestap het. Soms was ons “moeg” en het iemand by die kampplek gebel om ons te kom haal, lekker herinnerings.

Ons steek die vuurtjie aan en ontspan lekker as ons wag vir die kole om reg te kom. Vanaand is dit braaivleis, pap en sous, lankal weer lus daarvoor. Dis ʼn mooi aand en ek en Anton gesels tot laataand.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 22/06/2020 - 11:00

Donderdag 13 Maart

Die besluit is om tot by Tsitsikamma te ry en te gaan kyk of ons plek kry by Stormsrivier mond. Dis net sowat 116 km tot daar en ons is nie haastig om op te pak nie. Eers die gebruiklike koffie, jogurt en vrugte en begin dan, op ons tyd, om op te pak.

Ons ry rustig die pad deur Plettenbergbaai, verby Keurboomsrivier en oor die bekende Bloukrans brug, die hoogste Bridge Bungy ter wêreld, 216m met ʼn skoon rekord vanaf die begin in 1997 met geen ongevalle tot op datum nie. Die oudste persoon wat al hier gespring het, was 96 jaar oud, ʼn wêreld rekord en die meeste spronge deur een persoon binne een dag, ook ʼn wêreld rekord van 107 spronge in nege ure.

By die ontvangs van die Tsitsikamma Nasionale Park waar jy inboek om by Stormsriviermond te kamp, is ons gelukkig om twee staanplekke langs mekaar voor op die see te kry. Ons bespreek vir die naweek tot Sondag. Anton het intussen met ʼn vriend en oud kollega, Ewald en Carol wat in Kleinbrak kom aftree het gesels en hulle genooi om die naweek saam te kom kamp. Daar is gelukkig nog ʼn staanplek langs ons oop en ons bespreek hom vir Vrydagaand.

Dis die ongelooflikste weer as ons opslaan, sonskyn en windstil. Anton was eers skepties om hier te kom kamp, het kwaai met die wind gestoei ʼn vorige keer en was nie ʼn lekker ervaring nie. Ons was al self hier ʼn paar jaar terug, dit het BAIE gereën daardie Desember en toe ons hier aankom, het baie mense die vorige paar dae moeg geraak vir die reën en modder en opgepak. Ons kry ʼn pragtige staanplek voor op die see met mooi gras en plaveisel, sonder enige modder, vir twee nagte. Dit was perfekte weer vir die twee dae wat ons hier gestaan het, soos nou.

Ons stoele word hier voor langs die braaiplek uitgesit met die mooiste uitsig oor die see, die branders wat teen die rotse hier voor ons breek en water meters hoog die lug in skiet, elke keer ʼn Kodak moment. Dis prentjiemooi.

Dis nog vroeg en ek en Anton besluit om die Otter Wandelpad wat hier begin en tot by Nature’s Valley gaan, ʼn entjie te gaan stap, tot by die waterval. Die totale roete is 43 km lank, baie uitdagend en dit neem 5 dae om te voltooi. Die waterval is ongeveer 6 km se stap daarheen en terug. Dis baie mooi en ons kan dit geniet sonder die full-kit wat mens moet dra as jy die vol roete doen, ons het net elkeen ʼn botteltjie water en kamera.

Dis nie ʼn maklike roete nie, op en af en heelwat klim en klouter om oor die rotse te kom. Ons stop elke nou en dan en geniet die natuurskoon en gebruik die talle Kodak moments wat gebied word. Dit vat egter nie te lank om by die waterval uit te kom nie en ons spandeer ʼn tydjie hier, neem genoeg foto’s en vat die pad terug. Dis jammer Moeksie is nie ʼn stapper nie, knieë gee probleme, want ek sal graag die Otter eendag wil kom stap.







Die sonnetjie begin laag sak as ons terug is by die kamp, net betyds om die kameras op te stel vir die skilder mooi prentjie wat besig is om te ontvou. Dis ʼn besonderse sonsondergang, die vuurbal wat afsak see se kant toe tussen die hoë rotse aan die see se kant en die berg aan die regterkant. Ek kan nie ophou foto’s neem nie, bang dit gaan nooit weer gebeur nie en wil elke oomblik op kamera vaslê. Die meesterstuk wat ek aanskou laat my klein voel, die rotsformasies op pad waterval toe, die plante, die see, die voorreg om hierdie alles te kan beleef! Wat het ek gedoen om dit te verdien? Dis net genade.




As die son in die see verdrink en ek omdraai en terugstap kamp toe, groet die volmaan my wat oor die berg opkom en ek moet eers ʼn minuut of twee staan om dit alles in te neem.

Daar is genoeg hout op die vuur, want ons is nie baie haastig om te braai nie, moet die oomblik en die weer geniet. Die braaivleis vanaand is onverbeterlik, moet die speserye wees wat deur moeder natuur gemeng en vandag deur ons oë ingegee is. Die vriendskap van mense wat dit saam met jou deel is daai laaste bietjie spesery waarvan jy nie genoeg kan kry nie. Moeksie en Magda vorder fluks met die breiwerk, moet dalk vra om alles te wys wat al klaar is.

Ons lê ʼn rukkie na die see en luister so deur die gesels, voor ons aan die slaap raak. Hier slaap jy lekker, veral as die weer jou goed gesind is soos hy nou is.

0

Middag vriende

Mens kan baie leer uit die mense se wedervaringe soos;

1] vat die lewe soos dit kom,

2] moenie jou toer in te fyn detail beplan nie

3] moenie ontsteld/mismoedig word deur terugslae nie

4] moenie dat selfs 'n huisinbraak jou vakansie/toer tot einde bring nie.

Ek is oortuig dat ek nie die toets slaag om solank op die trekpad te wees nie.

Groete

 

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 22/06/2020 - 14:56

Wessel, ek sal so toer doen maar die oorslaap sal vir my moet rek want ek hou nie van so baie beweeg nie.  Dit sal dan my toer nog langer maak.

Maar jy is reg die inligting is van baie waarde vir ons ander vernaam om jou gesindheid positief te hou en nie holderstebolder met jou kop gaan nie.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 23/06/2020 - 17:08

Vrydag 14 Maart

Die ritme van die see maak ons rustig wakker. Dis weer ʼn windstil sonskyn oggend. Ons drink koffie en beskuit, gaan wag vir Ewald en Carol om saam ontbyt te maak.

Hulle arriveer net na nege en ons help vir Ewald om sy tent op te slaan. Dit gaan vinnig, hy het een van daai OZ tente wat jy uitgooi en amper net optrek, dan staan hy. Die vrouens is hard besig met hulle breiwerk so tussen die klets deur.

Na ontbyt stap ons na die riviermond se kant toe, wil oor die hangbrug oor die rivier gaan stap. Ons is lus vir stap en vat die Loerie wandelpad, tussen die kampterrein en die restaurant voor by die mond, wat redelik hoog teen die berg uitgaan tot by die Agulhas uitkykpunt, ʼn hout dek waarvandaan jy die mooiste uitsig oor die kamp aan die regterkant tot anderkant die riviermond aan die linkerkant het, met die see wat voor jou uitgestrek lê.

Van hier af sien mense gereeld Dolfyne en ook Walvisse gedurende die wintermaande. Die paadjie vat jou deur dele van die woud, fynbos en oor baie stroompies en kom naby die Restaurant weer uit op die teerpad. Dit was ʼn modderspul toe ek en Moeksie laas hier gestap het en jy moes mooi trap om gly-gly die berg uit te kom.




By die restaurant stap jy verby die klein strandjie en vat die 2 km plankiespad al teen die helling van die berg. Die paadjie was laas nog grond toe ek hier geloop het en die hangbrug was gesluit. Die plankiespad is redelik maklik om te loop en klim, daar is BAIE trappies. Oral op die roete is daar Dassies wat op die rotse en in die bome rond klim en in die son sit en bak en ook ʼn verskeidenheid van voëls.

Ewald vat dit stadig met sy knie wat baie moeilikheid gee, rus kort-kort, maar vang dan weer op. Die plantegroei hier langs die paadjie is goed bewaar en jy koes hier en daar om nie jou kop te stamp teen die reuse bome hier langs die paadjie nie. Jy klim redelik hoog, tot by die uitkykpunt oor die hangbrug en riviermond, dan vat jy die trappies af na die hangbrug, baie trappies.

Die hangbrug is in 1969 gebou, maar is sedertdien heelwat opgradeer en aan gewerk deur Parkeraad wat die instandhouding doen.  Die 77 meter lange brug hang sowat 7 meter bo die water en mens het die mooiste uitsig van hier af oor die rivier wat uit die berg uit kom en ook oor die see. Ons besluit om nie na die uitkykpunt aan die oorkant van die brug te klim nie en sit net ʼn paar minute hier en neem die omgewing in, dis asemrowend. Die staptog terug gaan baie makliker met die twee nuwe brûe wat gebou is om jou al die trappies terug na bo te spaar en sluit later weer by die hoof plankiespad aan, heelwat makliker.

Die roomys by die winkel smaak ekstra lekker as ons terugstap en amper aan die Bosbok ooi kan raak wat hier langs die pad staan. Hulle is redelik volop hier en baie mak. Ons sit rustig by die kamp en kuier, staar na die water wat hoog die lug in skiet as die golwe die rotse tref en die Meeue wat hier by ons op die braaiplek kom sit.

Die Swarttobies kom maak ook kort-kort ʼn draai op die rotse hier voor ons waar die Duikers gespreide vlerke in die son sit en bak. Die Bosbok ooi steur haar nie aan ons as sy hier vlak voor ons vreet-vreet verbybeweeg nie. Ons praat oor ons land en al die mooi plekke waarheen ons al was en waarheen ons graag nog wil gaan. Ons is baie bevoorreg.

Die son begin laag sak en ek is weer op my pos, kamera op die driepoot gemonteer en  gefokus op die son wat weer ʼn groot rooi bal word wat oor die see hang en stadig afsak. Dis BAIE mooi as die dag so tot ʼn einde kom en die maan weer sy verskyning uit die Ooste maak.

Die vuur brand hoog as ons almal rondom die braaiplek sit, elkeen met sy eie glasie versnapering wat stadig geniet word. Ons braai steak met knoffelbrood en daar is ʼn lekker slaai ook gemaak. Ons kuier lekker laat om die vuur as ons oor toeka se dae en wat nog als gesels. Na ʼn warm stort is ons kooi toe.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 23/06/2020 - 17:11

Saterdag 15 Maart

Ewald en Anton sit al buite met ʼn koffie in die hand as ek my kop by die tent uitsteek. Dis weer ʼn perfekte oggend en daar is nie ʼn windjie wat roer nie. Almal is later op en ons maak reg vir ontbyt. Ewald en Carol moet vandag terug, het ander reëlings wat nog by die huis afgehandel moet word.

Die ontbyt is ʼn feesmaal en as ons klaar geëet het, help ons vir Ewald om op te pak. Ons ander geselskap, Anton se neef Lorette en Maryna is ook in die omgewing en hulle is genooi om vir die dag te kom kuier. Ons sien vir Ewald en Carol af en hy ʼn paar pakke vleis vir ons los om later te braai. Hy gaan dit nie saam terugry huis toe nie. Ons was die skottelgoed en kuier rustig verder.

Dis net na elf as Lorette en Maryna by ons stop. Stoele word uitgesit en ons kuier soos ou bekendes saam met Anton en die familie. Magda en Moeksie maak later snackies waaraan ons peusel so tussen die glasies wyn deur. Ons begin redelik vroeg met die vuur, wil klaar braai en eet voor dit te laat is vir Lorette-hulle om terug te ry. Die wors word eerste gebraai, in stukkies gesny en as ʼn voorgereg bedien wat ons sommer so met die vingers eet. Ek hou van die speserye in die wors en Anton het dit perfek gebraai, gaar maar nog lekker sappig.


Ons kuier na ete om die vuur en ek kom agter Lorette en Maryna gaan nie gou ry nie. Ek en Moeksie groet en gaan kooi toe na nog ʼn perfekte dag. Ons raak gou aan die slaap en hoor nie eers as Lorette en Maryna ry nie.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 23/06/2020 - 17:15

Saterdag 16 Maart

Almal is redelik vroeg op en ons geniet die koppie koffie as ons die verloop van die dag bespreek. Wil oppak en gaan kyk wat op Boesmansrivier aangaan, dalk ons volgende stop. Die oppak gaan vinnig en ons is vroeg in die pad.

Hierdie deel van die Kaap tot by Port Elizabeth ken ons almal goed en het al by verskeie plekke hier gekuier en gekamp.  Ons bly op die N2 verby PE tot jy anderkant die Addo is waar die R72 regs uitdraai in die rigting van Port Alfred. Eers maak ons brandstof vol op Bluewater Bay en doen aankope by die Spar.

Ons ry verder tot by Boesmansriviermond om kampplek te soek. Die Boesmansriviermond kampterrein se hek is gesluit en die gras lyk lank. Dis jammer, want ek het al by baie mense gehoor dis ʼn lekker plek, veral oor Desember. Dit neem nie lank om te besluit dat ons gaan aanbeweeg nie.

Op pad na Port Alfred stop ons by die padstal aan die linkerkant, lyk interessant en ons het tyd. Ons drink ʼn koppie koffie en kan nie genoeg praat oor al die interessantighede in die winkeltjie nie – bly ons het gestop.

 

Die Kampterrein langs die lagoon op Port Alfred lyk na die plek. Ons ry eers in en die plek lyk effe verwaarloos. Die ligging is pragtig hier op die lagoon, maar ons besluit om nog te soek. Ons hoor van die plek net buite die dorp en is aangenaam verras toe ons by Green Fountain Farm Resort stop. Ons word vriendelik ontvang en die groen grasperk roep om op gekamp te word.

Ons slaan kamp op langs ons eie privaat ablusie en daar is net een ander paartjie – buitelanders in ʼn campervan – op die staanplek langs ons. Die terrein is rêrig baie netjies en ons hou van die uitsig na die Suide wat teen die berg opgaan in die Oceana Beach & Wildlife Resort, waar ons kort-kort wild met die vêrkykers opsoek. Die 346 km tot hier was gemaklik en ons het vroegmiddag hier aangekom.

Ons bure lyk krapperig as hulle mor-mor en later hulle campervan skuif, BAIE vêr van ons af. Sou later uitvind die vrou het nie van my pyprook gehou nie. Ons is rustig in die kamp en Anton gaan na die ontvangs waar daar boeke is wat jy kan leen om te lees.

Anton braai die aand Hamburger patties wat Ewald vir ons gelos het. Niemand kan ʼn Hamburger maak soos Moeksie nie en die sous loop langs my lippe af as ek aan die burger smul. Anton het dalk by Moeksie geleer, ons eet lekker. Die weer is ons goedgesind, kortbroek en korthemp. Om die kampvuur besluit ons om twee nagte hier oor te slaap en die volgende dag Port Alfred van nader te leer ken. Die aand is warm as ons gaan skuinslê.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 23/06/2020 - 17:18

Maandag 17 Maart

Moeksie is vroeg uit die vere en maak koffie met die oord se reënwater. Hulle het watertenks wat reënwater opvang by elke ablusie. As almal op is, eet ons vrugte en jogurt. Magda en Moeksie was wasgoed en ons is op datum.

Ons ry laatoggend dorp toe en gaan loer in by al die winkeltjies. Moeksie koop ʼn kombers wat lankal op ons lysie is. Ons ry rond en stop by die restaurant voor by die Kowierivier mond op die see. Ons sit buite op die dek, want die weer is mooi en ons bestel ʼn bordjie slap-tjips met ʼn glasie wyn. Dis al laat genoeg en ons is mos op vakansie. Hierdie is ʼn dorp waarheen ek wil terugkom om ʼn week of twee te kom ontspan, lyk lekker hier.

Op ons pad terug Green Fountain toe stop ons eers by Pick&Pay om ʼn brooddeeg te koop. Die res van die middag is lui-lekker by die kamp. Hoewel daar nie vanaand gebraai gaan word nie, moet daar ʼn vuurtjie wees. Dis Moeksie se beurt vir kosmaak en die skaapkerrie is besig om stadig in die pot op die primuskop te prut, terwyl Anton die brooddeeg in ʼn pot op die kole het. Dis ʼn gesellige aand, die weer is mooi en ons bespiegel oor die res van ons toer, waar slaap ons môre aand?

As Anton die brood uit die pot haal, weet ek hy was jare in die bedryf, perfek gebak met ʼn pragtige kleur !! Ons ooreet onsself aan die skaapkerrie en potbrood en daar bly nie veel oor nie. Ons nuttig nog ʼn glasie om die spysvertering aan te help voor ons gaan slaap. Die lug is lekker warm en ons slaap lekker.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Wed, 24/06/2020 - 10:51

Dinsdag 18 Maart

Na laat opstaan is dit eers koffie, twee of drie vir my, voor ons begin pak. Ons vat dit rustig en is net na 10 uur in die pad. Ons ry deur Oos London en besluit om by Genubie te gaan draai. Ons eet ʼn ligte middagete – en ʼn glasie wyn – op die Beach House Coffee Shop se stoep terwyl ons op die see uitkyk.

Dis weer ʼn perfekte windstil dag. Het al van baie mense gehoor dat Genubie ook ʼn lekker vakansieplek is, moet dit nog kom beleef. Ons het al heelwat hier kom inkopies doen as ons by Arend’s Nes in Cintsa gekamp het. Ek wil nuwe plekke ook ervaar en ons besluit om by Morgan’s Baai te gaan kampplek soek, maar doen eers aankope en ry by Cintsa in om Anton & Magda die plek te wys.

Die 253 km tot in Morgan’s Baai gaan vinnig en ons is gelukkig om plek te kry in die Morgan’s Baai karavaanpark, voor op die lagoon met ʼn uitsig oor die mond. Daar is nogal heelwat ander kampers hier. Die man by die Hotel waar jy bespreek en betaal is baie vriendelik en ons besluit om twee aande oor te slaap. Ek wou al hier gekamp het maar dit was Desember en hulle was vol, het toe maar by Double Mouth so 5 km met die kus aan gekamp.

Dis toe ek na twee dae hier wegry wat ek amper my waentjie verloor het – het net die veiligheidsketting om die hak gesit en die waentjie nie in die hak laat insak nie – en met die wegtrek op die kampplek breek ek die ketting, ook maar goed so, want as dit gebeur het met die steil opdraande uit die kampplek uit, was die waentjie in die see.

Ons is vroegmiddag opgeslaan en sit lekker in die son met ʼn uitsig oor die lagoon en see en ontspan. Later stap ons langs die see en gaan drink ʼn bier by die hotel. Dis ʼn klein plekkie hierdie en ek geniet die rustigheid.

Die kampvuur brand al vroegaand as ons die uitsig geniet. Dis Anton se beurt vir braai en hy vervolmaak die varktjops en braaibroodjies. Dit moet die vars seelug en die uitsig wees wat die ekstra smaak aan die kos gee, veral as ʼn goeie vriend dit vir jou bedien. Die fles loop ook sommer mooi as alles so goed uitwerk. Die gesels hou aan tot laataand voor ons gaan inkruip.

Ons het besluit om nie al die afdraaie in die Transkei te vat van hier af nie. Ons gaan met die N2 reg deur ry tot by Port St Johns. Ons was al ʼn paar keer by Koffiebaai en Hole-Inn-The-Wall en sal eerder op ʼn ander geleentheid die Transkei se ander plekke kom opsoek.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Wed, 24/06/2020 - 10:54

Woensdag 19 Maart

Moeksie is al net na ses op en was skottelgoed. My koffie staan reg toe ek opstaan en die nuwe dag groet. Dis sonskyn en windstil. Ons gesels oor die volgende stop en besef dis amper skoolvakansie wat kampplekke skaars kan maak. Nadat ons besluit het op T.O. Strand net buite Port Edward, as ons volgende stop, bel ek hulle en bespreek vir 3 nagte.

Na ons vrugte en jogurt ry ons na Double Mouth, Haga Haga en wou ook by Bosbokstrand ingaan, maar hulle is net vakansies oop en moes by die hek met die slot omdraai. ʼn Jammerte, want ek wou graag die plek sien, het gehoor dis ʼn vakansie paradys. Ons waardeer die ongereptheid van hierdie deel van ons kus en wonder vir hoe lank dit nog so gaan wees.





Ons stop op Kei Mond en drink ʼn bier en wyn by een van die lokale Pub & Restaurante.  Dis altyd lekker om met die plaaslike mense te gesels, die plek se geskiedenis te hoor en ook hulle eie stories te hoor. Dis hier waar jy soms goeie inligting kry oor toekomstige kampplekke en besienswaardighede.

Terug by die kamp het die wind effe opgekom, net genoeg vir my kite. Ek het ʼn 2,8sqm power kite wat ek baie geniet, veral as die wind bietjie stoot en my oor die sand sleep. Vandag is die wind lekker, nie te sterk nie, want hy kou jou arms. Ek speel lekker met die Staffy wat heeltyd agter die kite aan hardloop as ek hom laag oor die strand vlieg.

Die vuur word aangesteek, vanaand is lamtjops en groente, sou maklik die groente vir ʼn braaibroodjie wou ruil, maar ek dink Moeksie is bang ek kry skeerbuik. Dis rustig om so oor die vuur na die see te sit en staar, besig met jou eie gedagtes wat jy soms uitspreek soos “ek verlang na my kleinkinders” of “my kinders sal hierdie geniet”.

Die aandete is vyfster en my uitdrukking “nou kamp ons lekker” word herhaaldelik ge-uiter. Dis was weer ʼn ongelooflike dag.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus