Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Neef Herman, Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -1 hour ago
Herman... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -1 hour ago
Voorwêreld Oktober 2026 saam gesels neef Herman -1 hour ago
Sterkte Verskoning Geert -2 hours ago
Vlieënde Tesla Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -3 hours ago
Suksesvolle/bevredigende vakansie Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -3 hours ago

Hollies en Glynis Hollenbach - Toer om SA se grense

Daspoort Pretoria
Submitted by Willem Brits on
Forums

Ek gaan probeer om hulle vertelling op fb hier te plaas.

FB skakel.

Web skakel.

.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Wed, 24/06/2020 - 10:59

Donderdag 21 Maart

Die 522 km na TO Strand is deur die Transkei en jy moet maar wakker bestuur met al die diere en voetgangers op en langs die pad, so ons wil maar vroeg wegkom. Ons is almal vroeg op en ons drink net koffie saam met ʼn beskuit en pak op.

Soos elke ander keer verwonder ek my aan die kleur van al die hutte. Dis kompleet of daar ʼn spesifieke verf op ʼn uitverkoping was, want almal is dieselfde bou-groen kleur geverf. Dan kry jy weer helder groen in ʼn kol en dan weer ligblou op ʼn ander plek. Ek sal maar eendag moet stop en navraag doen oor die kleur van die hutte, dalk ʼn dieper betekenis as net ʼn uitverkoping op ʼn verfkleur.

Die verkeer in die dorpies is maar deurmekaar, elkeen stop waar hy wil, gesels met ʼn voetganger of laai mense of items op of af. Geduld is die wagwoord, baie geduld. Gelukkig is daar die mense by die winkeldeure op die luidsprekers wat die een harder as die volgende roep om jou van al die specials te vertel, tesame met die oorverdowende musiek wat ander weer op die straat uitbasuin om klante te lok.

Die pad en natuur van Mtata na Port St Johns is mooi en ook die deel van Port St Johns na Port Edward met al die berge en passe. Hier en daar kom ons padwerke teë, maar dit is altyd vir my ʼn goeie teken. Daar word darem nog aan die pad gewerk.

By TO Strand aangekom, net buite Port Edward, is ek aangenaam verras met die kwaliteit van die oord, rêrig vyfster. Baie mense het my al vertel van die plek, maar ek is beïndruk. Ons slaan kamp op langs die ablusie op die groen gras. Dis lekker groot staanplekke.

Die eende, ʼn ma met ʼn klomp kleintjies, kom groet terwyl ons kamp opslaan. Ons kamp is lekker beskut teen die wind en ons het ʼn lekker hoekie aan die agterkant wat lekker privaatheid gee. Omdat ons drie dae staan, besluit ons om die gazebo ook op te slaan tussen die twee waentjies. Daar is ook heelwat ander kampers op die terrein, maar die terrein is groot.

Ons raak rustig en steek die vuur aan. Ek merk dat Anton gereeld sy rug vryf, maar hy stel my gerus en sê dis die langpad se sit van vandag. Vanaand braai ons hoender en dit moet stadig gedoen word, gaar maar nie droog nie. Anton is die een wat weet hoe en dis sy beurt om te braai. Ek maak sy stoel naby die braai staan sodat hy sommer kan sit en dit op die gemaklike manier kan doen.

Die windstil weer dra by tot die lekker kuier. Na ete gaan ons vroegerig inkruip, sal more die omgewing verder verken.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 25/06/2020 - 13:34

Vrydag 21 Maart

Ons is almal redelik vroeg uit die vere. Ons gaan later inkopies doen en besluit om net koffie en beskuit te eet en iets in die dorp kry vir ontbyt. Dis Vrydag en die winkels is redelik besig. Niks jaag ons nie en die inkopies neem ʼn paar uur as Magda en Moeksie eers in elke winkeltjie wil rondstap om te sien wat daar is.

Ek moet bieg, soms is dit vir my ook interessant om in van die winkeltjies rond te dwaal net om te wonder, wie koop al hierdie goed?? Dit verander deesdae ook met die buitelanders wat almal dieselfde artikels, meer soos ʼn vlooimark, te koop aanbied. Terug by die kamp gaan stap ek en Moeksie op die strand en is verbaas oor die wind wat hier sterk waai, maar ons nie in die kampplek voel nie.

Daar is min mense wat die wind trotseer en die strand is leeg. Met die wind wat ons hare heen en weer kam, sit ons en staar oor die branders terwyl ons vir mekaar sê hoe lekker die toer tot nou toe was en hoe geseënd ons is. Dit voel nog eerder soos ʼn lang vakansie wat moet eindig en ons moet teruggaan werk toe.

Die res van die dag kuier ons net rustig by die kamp met die eende wat kort-kort kom hoor of alles nog reg is as hulle onder jou stoel kom snuffel vir ʼn krummel wat dalk geval het. Anton beweeg min en sit meestal en lees en ek kan sien die rug pla, veral as hy van die stoel af opstaan of buk.

Die eende kom maak laatmiddag weer n draai.

Die vuurtjie brand weer vroeg. Vanaand hou ons fees, dis wors, rib, steak en hoender sosaties, klein porsies van elk wat as ʼn aparte voorgereg geniet word. Die knoffel en chilli brood tussenin, gee net daai ekstra smaak aan die vleise.

Ons kuier na ete nog lank om die vuur, voor ons gaan slaap. Hoewel ons redelik ver van die see af is, hoor jy die branders in die agtergrond wat net die regte musiek is om mee aan die slaap te raak.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 25/06/2020 - 13:37

Saterdag 22 Maart

Anton is reeds buite toe ek opstaan, sy rug pla en hy het besluit om mediese raad te gaan kry. Hy en Magda ry na koffie dorp toe om sterker pynpille te gaan kry. By die apteek kry hy ook ʼn Voltaren inspuiting om die pyn te verlig.

Die brunch vanoggend is die full monty, spek, wors, eier, gebraaide uie en tamatie en roosterbrood. Ons smul lekker en moet na ete eers bietjie sit en rus, ongemaklik versadig.

Ek en Moeksie loop vir Herman en Deidrè raak waar hulle besig is om kamp op te slaan. Hulle het vroeër die oggend aangekom en die kinders sluit volgende week by hulle aan. Hulle ken die plek en kamp gereeld hier as hy praat oor die mooi geriewe en lekker kampers wat hulle al hier ontmoet het en nou gereeld saam kamp.

Deidrè vertel ons van haar ervaring ʼn week gelede toe sy beroof is en een van die rowers amper haar vinger afgebyt het om haar ring te kon afkry. Ek skud net my kop en beveel aan dat hulle vir berading moet gaan. Ek besef net weer ons lewe in ʼn stukkende wêreld en soms leef ons, as kampers, onder ʼn vals illusie van veiligheid. Maar ons kan nie anders nie, kan nie elke aand alles weer wegpak nie.

Die wind is effe stiller op die strand en ek en Moeksie geniet die stappie. Ek hou van die plek en sal verseker weer hierheen wil terugkom, miskien vir ʼn week of twee se vakansie. Anton en Magda was die dag rustig by die kamp, wil kyk of die rug nie beter word nie.

Die middag kyk ek op die internet of daar plek is in die Kruger Wildtuin oor ʼn week of wat as ons daar sal verbygaan. Dis skoolvakansie oor ʼn week en ek besluit om liewer ʼn bespreking te doen wat ek later kan verander as dit nodig is. Ek kry plek by Krokodilbrug vir 1 en 2 April, Letaba 3 en 4 April en Punda 5 April.

Ons is nog nie heeltemal seker waar ons oral gaan aandoen op pad wildtuin toe nie, maar het besluit om vir ʼn nag of twee by Salt Rock te gaan kamp. Anton het besluit hulle gaan eerder in ʼn gastehuis bly met die rug en daar ʼn finale besluit neem oor die pad vorentoe en doen ook die bespreking.

Moeksie begin laatmiddag om die deeg te knie, vanaand is steak en potbrood. Ek steek die vuur aan en begin rustig van die los items wegpak, ons ry weer more. Die potbrood kom perfek en die steak smelt in jou mond, moet die seelug wees wat ekstra spice op die kos gee.

Na ete word daar nog ʼn los item of twee weggepak voor ons gaan slaap. Ons is nie haastig more nie, maar wat klaar is is klaar. Die see maak musiek wat my gou aan die slaap sus.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 25/06/2020 - 13:44

Sondag 23 Maart

Almal is weer vroeg op en die koffie en beskuit smaak heerlik. Dit het gedou en die tente is klam, sal wag tot die son hulle droog bak, want Anton weet nie of en wanneer hy sy tent weer gaan opslaan nie. Dis 212 km tot by Salt Rock, so ons het baie tyd.

Anton se rug is erg vanoggend, hy kan nie beweeg nie en moet op sy stoel sit en kyk hoe Magda die tent afslaan en die waentjie pak. Sy kom goed reg en spot dat sy alleen kan verder kamp. Dis net na 10 uur toe ons by die hek uitry.

Oor die radio praat ons oor al die tientalle kampplekke van hier tot in Durban, het al by baie van hulle gekamp, maar ons moet by Happy Wanderers ʼn draai maak. Ons het al ʼn paar keer hier kom vakansie hou, toe die kinders nog op skool was en ek en Moeksie alleen daarna ook.

Die melkskommel op die dek voor die restaurant herinner my aan my eie kinderdae, was baie lief vir ʼn strawberry milkshake. Daar is heelwat verander aan die oord oor die jare en die swembaddens voor op die strand bly ʼn wenner as die see onstuimig is of in die aande. Lekker plek, die Happy Wanderers.

Dis net voor twee as ek en Moeksie by die kampplek aankom. Ons was al hier, eenmaal vir ʼn week toe die wind die wit waks uit ons gewaai het. Dit was nogtans lekker, anders sou ons nie nou hier gestop het nie. Ons was op staanplek nommer 29, redelik voor aan die Oostekant van die terrein, in die wind se bek. Ek glo daar sal ander plekke beskikbaar wees wat meer beskut is, dis nog nie vakansietyd nie. Ons slaan af op nommer 23, tweede ry van agter met ʼn mooi uitsig oor die see, maar terselfdertyd beskut teen die wind. Nie dat die wind nou waai nie, maar jy weet nooit. Dis ook lekker naby die ablusie.

Anton en Magda het gaan inboek by hulle gastehuis, net ʼn ent verder op in die straat. Hulle het laat weet hulle kom later ʼn draai maak, gaan eers bietjie rus. Magda het ook op die internet begin soek na ʼn fisio of spesialis wat Anton more kan gaan sien om te kyk na sy rug.

Ek en Moeksie is klaar afgeslaan en sit lekker op die sintetiese gras op die staanplek. Ja, hierdie is nie sommer enige kampplek nie, jy staan op sintetiese gras en kyk uit oor die see met die groot geteipoel voor ons. Dis ʼn rustige Sondagmiddag en ek en Moeksie gesels oor die pad vorentoe. Ons glo nie Anton en Magda gaan verder saam toer nie, ons gaan alleen die laaste deel doen.

Anton en Magda sluit by ons aan en vertel hoe lekker hulle met die eienaars van die gastehuis gekuier het. Anton kry nie opgehou om verskoning te maak dat hulle nie saam kamp nie, hy wil, maar kan nie die pyn hanteer nie. Hy begin besef hulle saam toer is verby, maar sal eers more fisio toe. Ek weet nie hoe ek voel nie. Dit gaan nie dieselfde wees nie, maar ek praat nie daaroor nie. Tog besef ek die skrif is aan die muur.

Ons gaan eet by die restaurant, of eerder die lokale pub, net oorkant die straat. Ek en Moeksie was al ʼn paar maal hier om die bekende bunny chow te geniet en met die locals te gesels. Ek en Anton bestel die lamskerrie bunny chow en soos voorheen slaan die sweet op my voorkop uit en my oë traan, maar ek eet. Ek hou nie van brandkos nie, maar hierdie is op ʼn manier lekker. Moeksie sê die brand is in die slaai wat ek so mildelik in die vleis inmeng, brand chillies.

Die locals stel ook nie teleur nie en hulle wil sommer net daar en dan konneksies  in die publikasie bedryf bel as hulle hoor waarmee ons besig is, om die land se grens te toer. Hierdie is ʼn storie vir die koerante. Ons word gepeper met vrae en jy kan die verbasing op hulle gesigte sien. Dit was ʼn lekker kuier.

Na ete is Anton en Magda terug gastehuis toe en ek en Moeks kuier nog ʼn rukkie buite om die uitsig oor die see te geniet. Ons begin gesels en beplan asof ons alleen verder gaan, ons weet Anton se rug gaan nie regkom nie. Dit vat ʼn rukkie voor my gedagtes stil raak en ek aan die slaap raak met die see wat redelik hard gesels.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 25/06/2020 - 13:51

Maandag 24 Maart

Ek en Moeksie is vroeg op. Die koffie vanoggend is bitter, ons mis ons pelle. Dis nie dieselfde nie. Anton het gesê hy sal ons later in die dag bel, na al sy rondtes gedoen het, om te reël waar ons mekaar weer ontmoet.

Ek het besluit om die tyd te gebruik om vir my die lank uitgestelde visstokhouer aan die waentjie aan te bring. Ons ry en gaan koop PVC pyp met fittings wat ek aan die kop-en-ent wil aanbring wat kan opskroef. Hulle is gaaf en sny die pyp vir my die regte lengte. Gom, cable ties en die pyp gelaai is ons terug kamp toe waar ek met die puzzle begin. Het al baie met PVC pyp gewerk so dit gaan vinnig en die visstokhouer is vas. Anton het al so visstokhouer aan sy waentjie, die verskil is net hy het hom oorspronklik aangebring vir die vervoer van wyn, wynbottels pas netjies in hom.

Ek en Moeksie is die res van die dag rustig by die kamp. Dis laatmiddag as Anton en Magda weer kom draai. Slegte nuus, hulle gaan omdraai. Die dokter sê hy kan nie verder toer nie, moet rus en dan stadig terug Kaap toe vir verdere ondersoeke. Ek kan die teleurstelling en hartseer op sy gesig sien. Magda kan nie praat nie.

Hulle voel hulle drop ons, wil graag die ding saam met ons klaarmaak, maar ek troos en sê ons sal later in die jaar plan maak om saam met hulle Kruger Wildtuin toe te gaan. Hulle het besluit om more Ladismith toe te ry en by klein Anton te gaan rus tot die rug kans gee vir die terugry Kaap toe. Dis soos ek en Moeksie al die afgelope paar dae begin gesels het, ons gaan alleen voort.

Ons besluit om vanaand by Siggi’s te gaan eet, die Duitse restaurant net op in die straat. Anton het al baie daar geëet as hy Natal toe gekom het met die bouwerk aan Sasko se Shakaskraal bakkery, dan het hy en kollegas baie keer hier in Salt Rock geslaap.

Daar aangekom is daar hoeka oud kollegas en ons kuier lekker saam. Die Eishbein wat ek bestel is uit die boeke uit en almal praat oor die lekker kos. Hierdie is ons afskeidsete, maar Anton nooi ons om more, na ons opgepak het, saam met hulle ontbyt by die gastehuis te geniet. Hoewel ons lekker kuier, is daar ʼn somberheid in die lug, ons toerpad skei.

Terug by die kamp begin ek en Moeksie los goed wegpak. Daar is ook enkele items van Anton en Magda by ons wat ons more aan hulle moet gee voor ons verder gaan. Daar is ʼn gevoel van verlies as ek en Moeksie hulle goedjies netjies eenkant pak om maklik uitgehaal te word more.

Na ʼn lekker produktiewe dag en lekker ete gaan ons inkruip, maar praat nog lank oor ons pelle en hoe die res van die toer nie dieselfde gaan wees nie.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 27/06/2020 - 13:24

Dinsdag 25 Maart

Ons is weer vroeg op. Dis ʼn mooi windstil dag as ons koffie drink en vir oulaas oor die see sit en uitkyk. Hierdie bly ʼn besonderse kampplek. Die opslaan gaan vinnig en ons ry gastehuis toe. Ons gaan vandag ry tot by Cape Vidal. Dis net 225 km, so ons is nie haastig nie.

Die eienaars by die gastehuis is baie vriendelik en gasvry. Die ontbyt saam met Anton en Magda is weer die full monty en smaaklik. Na ontbyt help ek vir Anton sy waentjie haak. Die groet is hartseer, maar ek besef net weer die lewe loop sy eie draaie met mens. Die toekoms is nie in ons hande nie. Geniet vandag, want jy weet nie wat more gaan oplewer nie. Moenie uitstel nie, dinge verander vinniger as wat jy dink. Die lewe bly ʼn lied!!

Ons stop op Mtubatuba om aankope te doen. Die plan is om so twee aande by Cape Vidal te slaap en dan weer pad te vat, weet nog nie waarheen nie. Ek wil graag Kosibaai toe, maar Moeksie wil nog nie lekker byt nie. Vriende van ons is ʼn tyd gelede by Kosibaai gekaap, saam met die kinders by hulle.

Gewere teen die kop is hulle die bosse in gevat en hulle voertuie gevat. Hulle moes ook van hulle klere en skoene uittrek. Hulle moes later spesiale reëlings tref om die kampgoed terug te kry by die huis in Centurion. Ek lees en hoor ook nog te gereeld van voorvalle op die Noordkus van Natal, sal maar sien. Dis jammer, want dis ʼn mooi deel van ons land.

Dis net na een as ons by die hek van die Isimangaliso Park net buite St Lucia stop. Van hier af is dit nog so 30km teerpad tot by Cape Vidal. Ons is in ʼn wildtuin en ry stadig. Dis nie lank voor ons twee renosters redelik naby sien wei nie. Die een se horing is groot.





Na heelwat ander wild en nog renosters langs die pad, kom ons by Cape Vidal aan. Ons boek in kan van ʼn hele aantal plekke kies. Daar is wel heelwat mense en groepe wat kamp. Ons kies ʼn kampplek nie te vêr van die ablusie af nie en wat mooi gelyk is.

Ons moet bontstaan en keer as ons opslaan, want die ape hier is hans. Hulle is lankal nie meer bang vir mense nie en sal goed hier langs jou kom gryp en jou snaaks aankyk asof jy nie hier hoort nie, dis hulle plek. Die Bosbokkies kom ook gou nader om te groet, so ook die Rooiduikers. Dis lekker hier tussen die diere.



As ons klaar opgeslaan het, sit ons en aanskou die stellasies van van die ander kampers. Dit lyk of hulle semi-permanent hier bly! Die karavaan en of tente staan onder ʼn groot skuur wat met dik pale en skadunet gebou is, kompleet soos ʼn sirkustent waaronder jy kamp. Ander het ʼn elektriese heininkie wat om die seil gespan is van die opslaan dak van die karavaan om die ape te keer.

Ek besef dat die ape hier ʼn probleem kan wees en ons sal moet katvoet wees as ons die kamp alleen los. Alles sal toe moet wees, ook die seil voor die gaas van die deur en vensters. Die rubber slang wat ek uithang, skrik hulle nie af nie, al lankal so een gesien en gewoond aan hom. As ek die ketty se rek span, dan hardloop hulle so paar meter en draai om of spring net in die naaste boom en kyk na jou. Ek het in my lewe nog nie sulke hans ape beleef nie.



Die vuur brand lekker en die bokkies en ʼn trop gebande muishonde kom kuier saam. Die rustigheid van die kamp is besonders as ek en Moeksie ʼn draai deur die kamp stap. Hierdie plek is veral gewild onder vissermanne en duikers en oral is daar visstokke (baie) en bote op die kampplekke. Meeste kampers hier het ook ʼn gilli of twee wat besig is om visgerei en bote te was na die dag se aktiwiteite.

Vanaand is dit vark tjops en knoffelbrood. Ons mis vir Anton en Magda as ons langs die vuur sit en gesels. Ons gaan vroeg inkruip en jy hoor die see agter die groot duin in die agtergrond gesels.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 27/06/2020 - 13:39

Woensdag 26 Maart

Dis ʼn mooi vroeë oggend as ons sit en koffie drink. Dit voel of jy in ʼn woud kamp, oral pragtige groen bome en struike rondom jou. Die kamp is in ʼn kom geleë met groot duine rondom wat oorgroei is met bome en struike, baie beskut. Ek en Moeksie dink aan ons seun Riaan wat vandag verjaar, sal kyk of ons kan kontak maak, want die selfoon sein hier is maar sleg.

Ons het besluit om nie deur die wildtuin te ry nie, net hier rond te stap en later strand toe te gaan. Na brunch, roereier op brood saam met rooiworsies en ʼn tamatie in kwarte gesny, stap ons see se kant toe. Ons stap, of sal ek sê klim oor die groot duin aan die Suide kant van die kampterrein en word bo-op die duin begroet  met ʼn ongelooflike uitsig oor die strand en see.

Ons moet eers ʼn rukkie hier vertoef om dit te kan inneem, dis pragtig. Pyp in die mond staar ek na die prentjie voor my en verlang na mense wat ek nie ken nie – kan heeldag net hier sit en weer mens word. Skielik word jy ook bewus van die wind wat redelik sterk waai, want die kampplekke is baie beskut, daar voel jy nie die wind nie.



Dis lekker om so langs die see te loop, in diep gesprek met jouself. Hier en daar staan ʼn paar manne met stokke in die hand, maar die wind is erg en ek glo nie hulle vang iets nie. Hier is selfs ʼn paar mense wat in die wind en son lê en tan, moet buitelanders wees, want hulle lywe is bleek. By die parkeerarea waar die bote uitkom is daar gillies wat vis skoonmaak. Ek stap nader en is lus om ʼn Barracuda te koop, hulle is redelik groot, maar ek word gou deur die skipper geantwoord dat hulle nie te koop is nie, gaan self eet.

Laatmiddag by die kamp ontspan ons lekker met Bosbokkies en Rooiduikers wat rustig saam kamp. Die Blou ape is deurgaans op soek na ʼn geleentheid om iets te gryp, maar kies vinnig koers as die buurman sy paint ball gun uithaal en op hulle losbrand. Hierdie ding ken hulle nie en hy maak seer, so hulle kom nie weer vinnig nader nie.


Oral brand die vure en die rustigheid is salig, so kan ek lank kamp. Die son sak redelik vroeg agter die duine en bome en dit raak al redelik vroeg skemer. Vanaand braai ek hoender en Moeksie gaan groente gaarmaak. Ons praat oor Anton en Magda en wonder waar hulle trek, sou hierdie kamp baie geniet het. Ek het Moeksie oortuig om Kosibaai ons volgende stop te maak, baie bly, want ons was nog nooit daar nie. Het wel ingestem dat ons nie sal kamp as ons enigsins onveilig voel nie, sal dan ander verblyf gaan soek.


Ons kuier tot redelik laat buite, want die weer is fantasties, nie ʼn teken van die bedompige Natal hitte waarvan ek nie hou nie.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 27/06/2020 - 13:45

Donderdag 27 Maart

Dit reën saggies as ons wakker word, net so sagte motreën om alles nat te maak. Ons het gelukkig redelik weggepak gisteraand, so daar is nie veel oor om te pak nie. Na koffie en beskuit sak ons die tent. Nattigheid pla nie, want ons slaan later vanmiddag weer op. Dis net na agt as ons die pad vat.

Die 304km na Kosibaai ken ons nie, so ons het besluit om maar eerder vroeg te ry, want miskien moet ons nog ander slaapplek gaan soek as ons nie van die kamp hou nie. Dis net anderkant Mkuze waar ons regs afdraai na die Pongolapoortdam, of die Jozinidam, soos algemeen bekend. Dis ʼn groot dam en ons stop anderkant die damwal om eers foto’s te neem, indrukwekkend ! Hier is tiervis in die dam, redelik baie maar klein, nie soos die grotes in die Zambezi nie.



Ons ry met die redelike goeie teerpad aan en van die name op die padtekens klink bekend en lui ʼn klokkie. Ons kerk het jaarliks ʼn uitreik na die omgewing en nou weet ek ook waar dit is. My kinders was ook by geleentheid deel van so uitreik, jare gelede.

Net buite die dorpie Manguzi is die Natal Parkeraad wegwyser wat aandui ons moet hier regs op die grondpad uit na Parkeraad se Kosibaai kampterrein. Van hier af is dit net 10km reguit aan met die teerpad, dan is jy in Mosambiek. As jy net op die grondpad kom, is daar tientalle gillies wat langs die bakkie hardloop en hulle dienste aanbied.

Ek wonder vir ʼn oomblik of ek nie maar een moet oplaai vir veiligheid nie, maar besluit daarteen, sal sien as ons by die kantoor kom hoe die dinge lyk. Die 6 km grondpad vat ons maar stadig, redelik verspoel en uitgery. By die kantoor is daar weer ʼn aantal gillies wat hulle dienste aanbied, wat ek baie vriendelik van die hand wys. Ek en Moeksie raak redelik rustig toe ons die heining en die wagte by die ingangshek na die Kosibaai Natuurreservaat gewaar. Ons besluit om vir twee aande te betaal.

Moeksie voel nou sommer BAIE rustiger as ons by ons kampplek aankom. Dis ruim en lekker gelyk en baie beskut tussen die groot bome, voel weer of ons in ʼn woud kamp. Dis lekker harde sand waarop jy kamp. Hier is heelwat kampplekke maar vêr uit mekaar en sommige het gras. Daar is ʼn paar ander kampers ook in die kampterrein.

Hier is ses mere langs mekaar van die mond se kant af wat Oos van hier af lê. Die kampterrein in op die vyfde en grootste meer, Kosimeer geleë. Jy kan nie die meer van ons kamp af sien nie, hoewel hy slegs so 300m ver is. Die naaste ablusie is ook ʼn ent op met die duinepad, so 200m ver.

Dis effe bewolk as ons kamp opslaan en jy voel die windjie roer. Ek maak seker die penne is goed vas, want ek wil nie in die nag opstaan as die wind en reën kom nie. Ons kan nie ophou praat oor die lekker staanplek en die terrein nie, ons gaan lekker kamp.

Dis as jy op die plankiespaadjie op die meer stap, dat jy eers besef hoe sterk die wind rêrig waai. Dis ʼn groot meer en die wind maak groot golwe met wit brandertjies oor die hele meer.

Hier is ʼn kampplek voor op die meer en ons is dankbaar dat ons nie daar kamp nie, die wind waai erg! Daar is wel ʼn boot op die meer, manne wat ernstig is oor hulle vis as ek die weer so aanskou en bly is ek is op droë grond.

Ons steek vroeg die vuur aan, bang die reën kom. Die wind is rustiger en hier by ons kamp is dit eintlik ʼn lieflike aand. Jy is nie bewus van enige ander mense nie en die rustigheid daal op mens neer. Oor ʼn glasie wyn praat ons weer oor Anton en Magda, mis hulle baie. Die skaaptjops en braaibroodjie kon nie lekkerder smaak nie, hier in die “woud”.

Na ete kuier ons nie langer nie en gaan vroeg inkruip. Deur die aand begin dit reën, met tye baie hard en dit maak ons net lekkerder slaap.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 27/06/2020 - 13:48

Vrydag 28 Maart

Ek is vroeg uit om te kyk of alles nog OK is na gisteraand se reën en is dankbaar alles is nog reg. Dit reën steeds liggies en ek grawe vore om die water om die tent te lei. Gelukkig is dit sand en nie modder nie en die water trek redelik vinnig weg. Die koffie smaak anders so in die reën en ek drink sommer ʼn paar koppies.

Ons sou graag mond toe wou ry, maar besluit daarteen. Dit sal nie die moeite werd wees in dié weer nie. Gaan kyk wat maak die reën en maar bietjie rondloop om die plek verder te verken.

Dis net na elf toe dit opklaar. Dis nog bewolk met die wind wat steeds waai. Ons loop weer op die plankiespaadjie op die meer maar die wind waai ons gou terug. Ons stap na van die ander kampplekke en sê vir mekaar hoe lekker mens hier kan kamp in redelike groot groepe.

Ek dink dis maar dieselfde as by Cape Vidal, meer vir die vissermanne met bote en duikers hoewel ek maklik ʼn week hier sal kom rus. Hier is ook heelwat om te sien in die omgewing en die Kosibaai mond is baie gewild.

Die res van die dag is ons net rustig by die kamp met Moeksie wat ernstig brei aan handskoene. Die sonnetjie kom nou en dan deur en dan is dit redelik bedompig.

Dis tyd vir spek ball die aand, maar Moeksie keer my nie as ek ʼn vuurtjie aansteek net vir die geselligheid nie. Die wind het gaan lê en dis oopgetrek. Hier in die “woud” raak dit ook redelik vroeg skemer, maar dis ʼn pragtige aand. Ons kuier tot laat om die vuur nadat ek myself ooreet het aan Moeksie se aandete, rêrig baie lekker.

In die kooi bespreek ons more se planne. Ons gaan ry tot op Badplaas en ʼn nag of twee daar bly. As die weer hou behoort die tent darem nie te nat te wees as ons opslaan nie.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 28/06/2020 - 13:25

Saterdag 29 Maart

Die son is nog nie behoorlik uit toe ons sit en koffie geniet nie. Dis ʼn perfekte oggend, nie ʼn wolkie in sig nie en windstil. Ons wil maar vroeg roer, dis 458km tot in Badplaas.

Die afslaan gaan maar stadig, alles word eers skoongewas en afgedroog. Ek is net weer bly dis sand en nie modder nie. Dis na nege as ons die kamp verlaat. Ek wil weer hier kom kamp, volgende keer visvang ook, as die weer dit toelaat.

Die pad deur Piet Retief na Badplaas is mooi. Ek en Anton het op ʼn stadium besin of ons deur Swaziland gaan toer en of ons binne die SA grense gaan bly. Ek het toe al besluit ek wil binne die grense van die land bly, daarom ry ons die Pongola, Piet Retief en Amsterdam pad na Badplaas, al langs die Swaziland grens.

Dis na twee as ons by Forever Resort op Badplaas intrek. Ons was al baie hier en ons ken die plek. My seun Jan Hendrik, het ook ʼn jaar of wat hier gewerk, was die Entertainment Manager by verskeie Forever oorde na skool. Die oord is redelik vol, maar ons kry plek vir drie nagte.

By ons kampplek aangekom is daar ʼn kar op ons staanplek geparkeer. Ek rapporteer dit aan ontvangs en hulle soek die eienaar. Na langer as ʼn uur se wag kom die buurmense daar aan, dis hulle kar. Hulle was by die swembad. Intussen het kampers wat verbyloop ons gewaarsku teen die bure, hulle drink vreeslik, is lawaaimakers en vloek verskriklik.

Bestuur het hulle al glo kom aanspreek die vorige dag. Die man wil eers net die kar nader aan hulle tent trek toe ek hom versoek om asseblief die voertuig van my perseel af te verwyder. Die waentjie en my bakkie gaan die hele perseel opneem.

Die wiele spin dat die klippe spat en ek besef hierdie is nie ons dam se eende nie. Ek bly kalm en geduldig slaan ek en Moeksie kamp op. Die bure se vyfjarige seuntjie kom kort kort spog met sy pa se kar, hy is BAIE vinnig en ʼn paar ander woorde wat ek nie wil herhaal nie. Ek kry die kind jammer. Die pa roep hom elke keer terug met woorde oor ons wat ek nie duidelik hoor nie, maar ek maak of ek doof is en bly vriendelik teenoor die kind. Hierdie kan ʼn laaaang drie dae word, dink ek by myself.

Ons ry om ʼn paar inkopies te doen vir die volgende drie dae by die winkels net buite die oord. Die slaghuis se vleis lyk nie te sleg nie en die winkeltjie langsaan het die ander basiese goedere. Hout en ʼn paar ander items koop ons by die winkel op die oord.

Dis ʼn mooi aand met geen wind nie. Moeksie het die luuksheid van die wasmasjiene gebruik om vroeër die middag wasgoed te was en het dit gaan ophang om te droog. Dis effe vreemd om ewe skielik tussen so baie mense te kamp, dis skoolvakansie en die oord is vol.

Ons sit rustig om die vuur en is verbaas dat die bure stil is. Miskien warm hulle net op en kan die aand nog lank raak. Vanaand braai ek tjops en Moeksie kook mielies. Ons geniet tog op ʼn manier die besige kamp met al die mense wat rondloop en die gelag van kinders. Dan besef ek hoekom, ek verlang na my eie kinders en kleinkind. Moeksie maak dieselfde opmerking.

Dit vat langer om vanaand aan die slaap te raak, moet eers weer die stemme van mense om jou gewoond raak. Dis ook effe koeler as van waar ons kom, maar nie kombers koud nie. Die bure was kalm, glad nie die mense waarteen ons gewaarsku is nie.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 28/06/2020 - 13:28

Sondag 30 Maart

Ons staan rustig op en drink koffie. Dis asof die oord ook weet dis Sondag, almal slaap redelik laat voor die kamp tot lewe kom. Ons staar oor die oord se reservaat en kyk of ons nie ʼn paar bokke raaksien nie. Hier was vroeër renosters ook, weet nie of hulle nog hier is nie.

Dis ook hier waar ek een vakansie my agterstewe rou gery het op ʼn perd. Stefan, ons jongste was nog klein en ek het hom saam met my op die perd gelaai. Moeksie moes maar goed roompie smeer en ek het vir ʼn paar dae wydsbeen geloop.

Ons kuier net rustig by die kamp en Moeksie brei haar handskoene klaar. Dis weer die full monty vir brunch en ons vind dit nodig om deur die terrein (redelike groot terrein) te wandel om die spysvertering aan te help. Daar is heelwat aktiwiteit om die swembad, maar ons besluit om nie te swem nie.

Die middagslapie was soet. Ons mis vir Anton en Magda en hulle name word gereeld geopper. Ook die kinders se name is gereeld op ons lippe. Dis ʼn snaakse ding, die Sondagmiddag gevoel. Jy is stil en dink aan mense uit die verlede en daar is ʼn verlange wat wil opvlam. Jy wens al jou kinders en vriende kan nou hier wees om die tyd met jou te deel. Jy voel alleen al is daar mense rondom jou, hulle is vreemdelinge. As kind het ek nogal redelik ergere Sondag blues gekry, dié vreemde gevoel.

Ek maak vroeg al vuur as Moeksie vra of ek vroeg wil gaan slaap, al het ons netnou net opgestaan. Ons maak nie gewoonlik so vroeg vuur nie. Vanaand is dit skaap riblets en ʼn braaibroodjie. Die bure se seuntjie is weer gereeld by ons om te kom gesels as sy pa hom telkens terugroep. Ons wonder wat gebeur het voor ons hier aangekom het, want almal wat verbyloop spreek hulle verbasing uit oor die stil gedrag van die bure en ek is bly hulle het bedaar.

Die aand is nog jonk as ons klaar geëet het en ons stap oudergewoonte deur die kamp en knoop oral gesprekke aan. Die warmer vanaand en windstil, ideale kampweer. Die slaap kom oorval my vinnig nadat ons gaan inkruip het.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 28/06/2020 - 13:32

Maandag 31 Maart

Ek is vroeg op na die baie slaap van gistermiddag en gisteraand. Dis nog sterk skemer as ek my eerste koppie koffie geniet en wag vir die son om op te kom.  Eben en Magda Wessels se name flits deur my kop as ek oor die plaas kyk wat aan die noordekant van die reservaat grens.

Ons het al lekker daar op Many Streams gekuier en in die huisies teen die berg geslaap voor die grondeise gekom het. Dit was ʼn pragtige plaas met baie potensiaal, maar dis nou net ʼn stuk grond. Hulle bly nou in Witrivier.

Die perfekte somersdag ontvou en dis asof die kamp stadig ontwaak. Meeste mense het Vrydag eers hier aangekom toe die skole sluit en hulle wil seker die Maandag reg begin, bietjie inlê om die vakansiegevoel te ervaar. Moeksie is ook op na my derde koppie koffie.

Die vakansiegevoel is aansteeklik as ons langs die swembad lê en al die mense aanskou. Selfs Moeksie soek ʼn keer of twee lafenis in die swembad. Sy is eintlik “allergies” vir koue water en swem net as die water 30º of warmer is, maar ons geniet dit. Ons is lui vir terugstap kamp toe en gaan eet ʼn Hamburger en Hot Dog by die Kiosk bo langs die koue swembad.

Die res van die middag lê ons soos vrot velle langs die swembad en geniet ook die vakansiegevoel. Ek dink terug aan die keer wat ons hier vakansie kom hou het toe Jan Hendrik die entertainment aangebied het. Hy het Bingo hier langs die swembad aangebied en ons het ook kaartjies gekoop. Seun Riaan is toe die gelukkige een wat eerste Bingo skreeu en hy hardloop om sy geld te gaan op eis.

Hy besef nie dat hy na regte nie mag wen nie, aangesien sy Boetie in beheer is – maar hy het eerlik gewen. Dis toe Jan Hendrik hom vra “wat is jou naam” en hy snaaks na sy broer kyk of hy ʼn grappie maak en hardop sê “jou broer”, dat Jan Hendrik vinnig die mikrofoon moes wegruk om die verleentheid te spaar en net die prysgeld oorhandig en vir “Riaan” baie geluk sê. Die boerpot was ʼn paar honderd rand!!.

Die kampvure brand hoog as die son agter die berge wegsak na ʼn pragtige dag. Vanaand braai ek hoender en Moeksie kook aartappels. Ons pak tussendeur stadig van die los goed weg, want môre is dit weer padvat. Na ete wandel ons weer deur die kamp en geniet die atmosfeer.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 29/06/2020 - 18:06

Dinsdag 1 April

Ons is al voor ses op om die dag met koffie te begin. Ons wil maar vroeg ry en kyk of ons nie ʼn plekkie teen die draad in die Wildtuin kan kry nie. Dis net 198 km tot by Krokodilbrug, maar ons moet nog aankope doen. Genoeg vir die 5 nagte wat ons beplan om deur die Wildtuin te ry.

Ons stop op Malelane en doen aankope by die Spar, ken hom al goed van al die kere wat ons hier voorraad kom aankoop het vir ons vele besoeke aan die Wildtuin. Ons is lief vir die Kruger en kom gereeld hier kuier.

Dis net voor elf as ons kamp opslaan in Krokodilbrug en is gelukkig om kampplek teen die draad te kry. In Kruger kan jy nie ʼn spesifieke staanplek bespreek nie, dis first come first served, so jy probeer maar so vroeg moontlik by die kamp kom met die hoop om ʼn goeie plek te kry.

Ons verkies om naby die grensdraad te staan, want dan het jy ʼn uitsig oor die bos en kan gelukkig wees om diere te sien. Veral snags as die nagdiere rondloop hier langs die grensdraad. Ons gaan lekker bly vir die twee dae, het nog nie baie hier in Krokodilbrug gekamp nie.

Ons ry net na een om te gaan diere kyk. Die S25, die grondpad langs die Krokodilrivier na Malelane hek, is een van ons gunsteling roetes en stel nie teleur nie. Ons sien olifante, renosters, zebras, kameelperde, bobbejane, blou-ape, seekoeie, krokodille, vlakkies, ʼn skilpad in die pad, koedoes, steenbok, blouwildebeeste, waterbokke, rooibokke, buffels en ʼn jagluiperd met twee kleintjies wat uit is op jag. Dis net na vyf as ons weer terug is by die kamp.






Die son brand nog baie warm as ek die flying fish uit die yskas haal en vir Moeksie ʼn glasie wyn skink. Daar is min dinge so lekker soos hier in die Kruger langs die draad sit en ontspan, terwyl die son stadig agter die bome op die horison wegkwyn. ʼn Tipiese Afrika sonsondergang met die kampvuur wat hier langs ons brand. Moeksie het met Magda gepraat en sy en Eben sal môre oggend vroeg by ons wees om die dag saam met ons diere te kyk. Hulle is al twee in die onderwys en het ook skoolvakansie.

Die steak op die rooster lyk vanaand sommer anders as ander kere, miskien die smaak van die knertsies fles wat die oë anders laat kyk. Nou voel ek weer tuis, hier in die bos. Ons kuier nog lank buite na ete, want dis nog baie warm.

Die nagapies vermaak ons as hulle op die telefoondraad rondskarrel en elkes amper-amper afval. Die hiënas is ook van vroegaand af hier langs die draad om te aas. Ons praat oor die pad deur die Wildtuin wat vreemd gaan wees, ry om bo by Pafuri uit te kom, nie soos die gewone vakansies van die Wildtuin nie.

Die naggeluide van die Wildtuin is soos musiek in die ore as ons gaan inkruip na ʼn perfekte dag. Die hitte laat Moeksie rondrol voor sy aan die slaap raak.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 29/06/2020 - 18:21

Woensdag 2 April

Soos altyd in die wildtuin is ons op voor die son uit is. Ons het goed geslaap en sien uit om saam met Eben en Magda te kuier. Die koffie en beskuit gaan goed af terwyl ons vir hulle wag. Net voor agt en net voor die ongeduld vatplek kry, daag hulle op.

Ons besluit om met twee voertuie te ry tot by Afsaal, waar ons gaan piekniek hou en hulle dan van daar af sal terugry Witrivier toe. Ek gee hulle die hand radio sodat ons met mekaar kan gesels op die pad.

Hulle kom BAIE in die wildtuin en hulle oë is ingestel op die diere. Ons sien heelwat wild, maar sien net leeu en luiperd spore. Hulle hou hulle lywe skaars en kruip goed weg.


By Afsaal aangekom is dit al ʼn bynes van mense, soos gewoonlik. Ons kry ʼn gasbraai en kry ʼn tafel onder die koeltebome. Die flying fish in die koffiebeker smaak vorentoe. ʼn Jaar of wat terug is die gebruik van alkohol by alle piekniekplekke verbied, nadat dagbesoekers in kombi’s die plekke gebruik het om te kom suip en dan so lawaai het, dat mense nie meer wildtuin toe wou kom nie.

Dis jammer, want ek hou van my biertjie so saam met die brunch in die wildtuin, maar ek het daardie jare self by piekniekplekke aangekom om net weer terug te klim in die kar. Ek het nie kans gesien om by sulke lawaaimakers in die bos te kuier nie. Toe het ek al voorspel dat hulle die gebruik van alkohol gaan verbied, nie net by piekniekplekke nie, maar vir alle dagbesoekers. Nou “vermom” ek maar my versnapperinkies.

Ons is rustig en kuier tot net voor vieruur by Afsaal, die langste wat ons nog by ʼn piekniekplek gekuier het. Gewoonlik eet ons klaar en ry weer, moet gaan diere soek. Dit was lekker om weer vir Eben en Magda te sien. Ons is al langer as dertig jaar bevriend met Magda en het al diep spore saam geloop.

Ons vat pad en ek en Moeksie besluit om by Malelanehek uit te ry en met die N4 hoofpad buite die wildtuin terug te ry Krokodilbrug toe. Eben en Magda gaan nog diere soek en ry Wes om by Phabenihek uit te gaan.

Dis nog redelik vroeg as ek die vuur aansteek en ek en Moeksie oor die veld sit en kyk met ʼn glasie in die hand. Dis ʼn rustigheid wat ek nie kan beskryf nie en ons praat oor hoe Anton en Magda hierdie sou geniet het. Hulle was nog nie baie in die Wildtuin nie, maar ons het ʼn afspraak om hulle te bring. Die skaapsosaties en knoffelbrood is vyfster. Ek braai ook ʼn stukkie wors wat ons padkos vir môre sal wees. Ek en Moeksie kuier lekker en ek wil nie hê die tyd moet aanstap nie, wil vir nog BAIE lank net hier sit en menswees.

Dit het effens afgekoel as ons bed toe gaan. Moeksie sal beter slaap vanaand.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 29/06/2020 - 18:26

Donderdag 3 April

Ons is al vroeg opgepak want die 201 km na Letaba gaan ʼn paar ure vat. Dis voor sewe as ons die pad vat teen so gemiddeld 30 km/uur en stop ook gereeld by diere en voëls wat tyd opneem

By Tshokwane piekniekplek stop ons om blaas leeg te maak en ʼn ietsie te eet. Die wors en broodjies smaak vorentoe saam met die koppie koffie. Die plek is al so bekend aan ons dit voel of ons gister hier was.

Dis net na een as ons by die kantoor op Letaba instap om in te boek vir die twee nagte. Was al baie hier en dis een van ons gunsteling kampe. Ons is weer gelukkig om teen die draad staanplek te kry wat naby genoeg aan ʼn kragpunt is. Soms is daar plek teen die draad maar dan moet jy ʼn 50 meter kabel hê om krag te kan kry.

Dit voel of die son laag hang as ons opslaan want die sweet loop my af. Ons besluit ons het genoeg gery vir die dag en gaan koel af in die swembad. Die water is koel maar selfs Moeksie geniet dit. Lyk my heelwat mense het so gevoel want daar is baie mense in en om die swembad om die hitte van die lyf af te was.

Ons stap laatmiddag na die restaurant en sien heelwat olifante wat in die rivierbedding loop. Dis ʼn ongelooflike mooi uitsig hier van die stoep van die restaurant af oor die draai in die Letabarivier hier voor jou, met heelwat diere wat gesien kan word en ʼn ryk voëllewe. Mens hoef amper nêrens heen te ry nie, kan heeldag net hier kom sit met jou verkyker en gedagtes.

Die wind het opgesteek en dis heelwat koeler as ek die vuur aansteek. Moeksie geniet die Gin wat ek vanaand vir haar bedien. Dis Inverroche Gin wat ons in Stilbaai by die distillery gekoop het. Min dat sy iets anders as wyn geniet, moet die afkoel in die swembad wees wat ander smaakkliere wakker gemaak het. Die tjops en mielie gaan lekker smaak vanaand.

Ons kruip na ete in en raak gou aan die slaap in die koel weer.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Mon, 29/06/2020 - 18:31

Vrydag 4 April

Dis bewolk en koel as ons vroegoggend sit en koffie drink. Het lekker geslaap. Ons besluit om met die grondpad al langs die Letabarivier na Olifantskamp toe te ry en daar brunch te geniet.


Ons ry stadig al met die kronkelpaadjie langs die rivier en soek agter elke bos die luiperd, het hulle al ʼn hele paar keer hier langs die rivier gesien. Vandag sien ons baie diere, ook gelukkig om vyf leeus hier langs die pad te sien, maar die luiperd ontwyk ons.

Die olifante in hierdie omgewing is volop en ons sien ʼn hele paar troppe met kleintjies by. Ek geniet altyd hierdie pad, nie net vir die diere en voëls nie, maar ook die natuurskoon hier langs die rivier.


By Olifantskamp gaan sit ons oudergewoonte eers voor by die uitkykpunt en soek met die verkykers diere. Dis verstommend hoeveel diere jy sien as jy so stil sit en die bos fynkam met die verkyker.



Ons het sleg voorberei vir die brunch vandag, want daar is nie ʼn mes ingepak nie. Ons maak worsbroodjies en die lepel sny die broodjie net so goed as wat hy botter op die broodjie smeer. Die worsbroodjies smaak heerlik.

Ons ry met die teerpad terug Letaba toe, maar maak eers ʼn draai by die N’wamanzi uitkykpunt vanwaar jy die ongelooflikste uitsig het oor die Olifantsrivier.



Dis laatmiddag as ons na ʼn middagslapie ʼn laaste draai gaan ry. Die teerpad Noord is altyd ʼn goeie opsie vir ʼn kort laatmiddag rit, ook langs die Letabarivier. Ons sien weer baie diere en voëls. Die sonsondergang is besonder mooi vanmiddag, met wolke wat geel en oranje ingekleur word, soos geen skilder dit kan nadoen nie. Mens wil hier langs die pad sit en kyk tot dit donker word, maar die hek gaan toemaak en dan is daar moeilikheid.

Terug by die kamp het ek vergeet om vleis vir vanaand uit die vrieskas te haal. Ons stap winkel toe en koop steak wat nie te sleg lyk nie. Die fles proe soet en ons geniet die kampvuur en koeler weer. Ons mis ons pelle baie as ons nabetragting hou oor die dag se sightings en die besoek van die bosbokkies waardeer.

Hier is heelwat van hulle in die kamp en hulle is baie mak. Ons was verbaas oor die lekker steak wat rêrig sag was, moet die bosveld hout van die wildtuin wees wat hom so sag gemaak het en ekstra geur aan die braaibroodjies gegee het. Nog ʼn onvergeetlike dag.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 02/07/2020 - 10:57

Saterdag 5 April

Ons is reeds vroeg op, ry vandag 176 km Punda Maria toe. Dit voel anders as ons afslaan, die “ry” deur die wildtuin en nie vakansie hou nie. Maar ons is op toer en is nie hier om vakansie te hou nie, ry net deur, sus ek myself.

Ons is voor sewe in die pad en stop eers op Shingwedzi om ietsie te ete te kry. Ons het al heelwat hier gekamp en in huisies gebly, die tyd toe ons in Venda gebly het. Selfs baie tot hier gery vir ʼn daguitstappie, gebrunch en weer terug Venda toe. Dit was wonderlike jare.

Die vetkoek en maalvleis wat ons by die kiosk koop smaak lekker. Hulle is klein, maar die tweede een stil die honger as ons dit saam met ʼn koppie koffie geniet.


Die mopanies hier bo staan ruig en die diere is skaars. Dit kan ook die “bose kringloop van die wildtuin” wees soos ek dit noem. Hoe minder diere jy sien, hoe vinniger ry jy en hoe vinniger jy ry, hoe minder diere sien jy en later jaag jy so, jy sien niks!.

Dis na twaalf as ons by Punda inboek. Dis die enigste kamp in die Wildtuin waar ons nog nie geslaap het nie. Het altyd hier ingekom en na Shingwedzi gery, baie male, maar nooit hier oornag nie. Ons is verbaas oor die grootte van die kampterrein en die netheid, gedink dis ʼn klein kampie.

Die lekker plekke langs die draad is almal gevat en ons soek ʼn koelteboom om die een nag te slaap. Hier is ook ʼn baie lekker uitkykpunt op pale gebou wat oor die dammetjie hier voor ons uitkyk. Dis nog effe bewolk en die opslaan gaan vinnig, net die nodigste want more ry ons weer.

Die middag besluit ons om net die S99 sirkelroete van 22 km te ry. Ons sien baie Njalas, ook ʼn paar makoeloe Njala bulle en heelwat koedoes, rooibokke en olifante.




Terug by die kamp sit ons vir ʼn rukkie op die uitkykpunt en besigtig die diere en voëls wat kom water drink laatmiddag. Dis ʼn rustige atmosfeer. Ek is nou spyt ons het nie daardie jare meer hier oorgeslaap nie, ek hou van die kamp.

Dis ons laaste aand in die wildtuin en gelukkig het ek onthou om die steaks vroegmiddag uit te haal om te ontvries. Om die kampvuur gesels ek en Moeksie oor die besoek aan die wildtuin. Dit was ʼn ander ervaring om van onder tot hier bo te ry, nie vakansie kom hou nie. Ons was gelukkig en het baie diere gesien wat goeie kodak moments gebied het, maar nie gelukkig genoeg gewees om die Groot 5 op dieselfde dag te sien soos ons gewoonlik doen nie.

Die gelukkigste wat ons nog was, was ʼn paar jaar gelede toe ons drie keer die Groot 5 op dieselfde dag gesien het. Dit was verskillende diere en nie dieselfde diere oor en oor nie. Ons het net buffels gekort om die Groot 5 vier maal te kon beleef. Mense kyk ons ongelowig aan as ons hulle vertel dat ons gewoonlik die Groot 5 op dieselfde dag sien. Wat nog te sê om hulle drie keer te kan sien op dieselfde dag, verskillende diere.

Ons ry gewoonlik BAIE as ons hier kom, glo ons moet die diere gaan soek, hulle kom jou nie soek nie. Moet erken, die kinders is gewoonlik saam en hulle sien ʼn leeu agter die bos, veral seun Riaan het ʼn skerp oog.


Ons het al ver gevorder met ons toer en behoort nie meer te lank op die pad te wees nie. Die steak en braaibroodjies proe anders vanaand, dalk die verlange na die kinders en die gemis van Anton en Magda wat die smaakkliere verstop.

Vanaand gaan ons vroeg inkruip.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 02/07/2020 - 15:57

Sondag 6 April

Moeksie is al vroeg uit die vere as ek die skottelgoed hoor kling as sy was. Ek lê bietjie in vanoggend en Moeksie is besig om te lees as ek my kop by die tent uitsteek en vra vir koffie. Ek kom agter Moeksie is nie lekker vanoggend nie, die gesels gisteraand het haar homesick gemaak en as ons oppak, kan ek sien daar is ʼn haastigheid aan haar.

Ons ry net na agt by die kamp uit, op pad na Pafurihek, die mees Noordelikste ingangshek van die wildtuin. Die 76 km tot by die hek gaan vinnig, want ons ry 50 km / uur. Die landskap hier is mooi en die groot bome gee ʼn ander dimensie aan die landskap.

Van die hek af is dit nog 355 km na Mapungubwe via Musina. Dis ʼn mooi teerpad, maar ons moes ʼn ent op die grondpad langs die pad ry, waar hulle ʼn brug oor ʼn rivier bou. Die kremetarte troon soos reuse oral bo die bos uit, hier is baie van hulle en ʼn paar grotes, sommer teen die pad. Veral die stukkie pad van Tshipise tot by Musina is besaai met die oerbome.  Werklik ʼn mooi gesig.

Ons stop in Musina om aankope te doen. Ek was baie jare laas hier en my mond hang oop as ek die uitbreiding van die dorp sien. Dis ʼn miernes van mense en dis nie dieselfde dorp as wat ek geken het nie. Al is dit Sondag is baie winkels oop, moet seker maar skep terwyl die golf verbykom. Oral is daar bakkies met Zimbabwe registrasie nommers wat tot in die hemel gelaai is met goedere. Dis hulle naaste en beste aankopiesentrum en daagliks kom daar honderde Musina toe om goedere aan te koop en weer in Zimbabwe te gaan verkoop.

Dit vat baie oorreding om Moeksie te oortuig dat ons aankope vir minstens drie dae moet doen. Sy wil net een aand in Mapungupwe slaap, sy wil huis toe!

Dis net na een as ons by die kantore van Mapungupwe instap. Dis een van die nuutste toevoeging tot die Parkeraad se parke en ons was nog nie hier nie, net gehoor by vriende dis ʼn mooi plek. Het gehoor die plan is om dit ʼn oorgrens park te maak in die toekoms, met die Tuli blok in Botswana en die Tuli Safari deel in Zimbabwe.

Ek bespreek vir twee nagte en is teleurgesteld om te hoor ons moet “om” die park ry na die kampterrein wat sowat 35 km verder is, naby die Pont Drift grenspos waar die Westelike bewaringsgebied se ingang is. Hier is nog ʼn aantal plase tussen die Oostelike en Westelike bewaringsgebiede waar boerdery bedryf word en oor die jare vorentoe as deel van die park geïntegreer sal word.

Die Mazhou kamp is die enigste plek waar jy kan kamp. Dis ʼn klein kamp, net tien staanplekke, naby die Limpopo rivier met pragtige skadubome. Ons is gelukkig om die kampplek onder die reuse Jakkalsbessieboom te kry. Ons word vriendelik ontvang deur die veldwagter en ek is aangenaam verras om te hoor hier is baie diere in die omgewing.

Die luiperd het gistermiddag laat hier in die pad by die kamp gesit en inloer. Die kamp is nie toegespan nie, net ʼn lae elektriese heining om die olifante uit te hou wat ook blykbaar gereeld kom kuier. Hier gaan ons lekker kamp. Daar is wel drie of vier kampe met huisies in die hoof kamp.

Die blouape is baie hans en ons moet oral keer as ons kamp opslaan. My kettie is naby en hulle slaan vinnig op die vlug as die rekke span, maar gaan nie ver nie, loer net van agter die naaste boom of die “koeëls” kom en kom gou weer nader. Die kampplek is ruim en die braairooster is van die beste wat ek nog ooit by ʼn kampplek gesien het. Die ablusie is in die middel van die terrein en naby die kampplekke. Meeste van die ander kampplekke is beset.

Ons gaan ry laatmiddag ‘n draai en sien honderde Maraboes oral in die veld rondloop. Dis ʼn snaakse gesig om al die voëls so bymekaar te sien. Daar is ook nog baie wat in die lug rondsirkel. Ons kyk of ons sprinkane of insekte sien wat dalk die rede is vir die samedromming, maar sien niks ooglopend wat hulle hier laat vergader nie.

Ons sien ook heelwat rooibokke, blouwildebeeste, koedoes, waterbokke en kameelperde. Nou is ek tevrede, het aanvanklik gedink die kampplek is heeltemal buite die park, maar dis aan die verre Westekant van die park. Moet wel met die teerpad terugry hoofhek toe om die “hoof” park te besoek wat ons beplan om môre te doen.


Ons sit laatmiddag rustig in die kamp en geniet die besoek van al die bosbokkies wat tot by jou stoel kom om te bedel. Hier is ook baie voëls. Tussendeur geniet ek dit om die blouape met die kettie te verwilder, want hier is genoeg “koeëls” wat deur die Jakkalsbessieboom voorsien word. Die son sak op ʼn ander manier hier agter die digte bosse en bome, ʼn mooi gesig.

Die kampvuur brand hoog en dis rustig in die kamp. Ek en Moeksie gesels en sal weer hier wil kom kamp. Vanaand se steak word sonder bykosse geniet.

Dis lekker koel as ons eindelik kooi toe gaan, gaan vanaand lekker slaap.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 02/07/2020 - 16:00

Maandag 7 April

Ons staan vanoggend later op as gewoonlik en geniet die koffie hier in die bos. Dis na agt as ons die pad vat na die “hoof” park. Ek volg die GPS se kort pad deur plase, soms tweespoor paadjies in die bos, maar moes omdraai toe ons by dele kom wat heeltemal verspoel het en diep dongas jou verhoed om deur te gaan.

Dis terug teerpad toe na die hoofhek. Van die hoofhek ry ons Noord om by die samevloeiing uit te kom, daar waar die Limpopo- en Shaseriviere saamvloei en die grense vorm tussen SA, Botswana en Zimbabwe. Ons sien heelwat diere en voëls op ons pad. Die kremetarte laat jou kort-kort stop, net om hulle te bewonder. Hierdie bome wat onderstebo groei, soos sommige mense mos glo.


By die samevloeiing is daar netjiese wandelpaadjies om die riviere uit verskeie hoeke te kan besigtig. Oral is daar bankies waar jy rustig kan raak as jy net sit en staar en die natuur bewonder. Dis ʼn asemrowende gesig!! Ons kyk oor die Limpopo in die rigting van die Tuli blok en herken die huis aan die oorkant, het daar ʼn draai gemaak naby die huis ʼn paar jaar gelede toe ons in die Tuli blok gebly het vir ʼn week saam met vriende.


Die warm son verhoed ons om langer te sit en ons ry stadig met die 4×4 roete, al langs die rivier, in ʼn Oostelike rigting tot teen die grensdraad. Dis ʼn uitdagende stukkie pad, maar baie mooi. Ons sien weer baie diere op die pad na die hoofhek en stop weer ʼn keer of twee om die massiewe kremetarte te bewonder.



Die besoekersentrum naby die hoofhek is die moeite werd om te besoek. Die argitektoniese boustyl het internasionale erkenning gekry en die inligting binne die sentrum is goed uiteengesit.

Ons is vroegmiddag terug by die kamp. Moeksie sit en lees terwyl ek die ape besig hou met die kettie. Hulle het amok gemaak by buurman, want oral lê die sakkies rond soos hulle geplunder het. Laatmiddag ry ons ʼn laaste draai met die 4×4 roete al langs die rivier. Dis dig begroei en die riete maak die soek na wild moeilik. Ons sien wel ʼn paar Njalas en bosbokkies.

Vanaand maak ek groot vuur, wil die oorblywende twee sakke hout klaar brand. Die rooster se kolebak is groot genoeg dat ek kole eenkant kan krap om die hoender stadig te braai. Die rustigheid is oorweldigend as die son weer agter die bosse en bome skuiling soek en die bosbokkies al hier om ons wei.

Die selfgemaakte knoffelbrood van Moeksie rond die smaak in die mond goed af. Ons gesels nog tot laat langs die kampvuur oor die dag se ervaring en bevestig dat ons verseker weer moet kom. Dis ʼn baie mooi park hierdie. Ek voel geseënd, my beker loop oor.

Moeksie is kort-kort op nadat ons gaan lê het, kan nie die hitte wees nie, want dit het lekker afgekoel. Miskien is dit die leeu se brul wat ons kort-kort hoor, maar dis die blaasontsteking wat haar so opjaag.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Fri, 03/07/2020 - 12:08

Dinsdag 8 April

Ons is weer vroeg op en geniet ʼn koppie koffie saam met beskuit. Vandag se roete is 431 km tot by Marakele Nasionale Park net voor Thabazimbi. Ons is net na agt in die pad.

Dis ʼn mengsel van grondpad en teerpad tot daar. Die teerpad vorder maar stadig as ek al die slaggate moet misry. Die omgewing is mooi, my tipe wêreld die, bosveld op sy mooiste.

Ons boek half drie in by Marakele, gaan twee aande hier slaap. Ons was al tevore hier saam met Martin en Rika en die kinders vir ʼn naweek. Dis die keer toe ons amper weggespoel is deur die stortreën. Ons kry ʼn lekker gelyk staanplek onder ʼn groot doringboom.

Die kampterrein is nie toegespan nie en die renosters kom loop hier tussen die tente deur. Daar is nog drie ander kampers op die terrein. As ons opslaan, kom die renoster en sy kalf tot hier voor ons, nuuskierig om te kyk wie kom hier kamp. Moet sê dis nogal ʼn ander gevoel om hulle so naby jou te beleef. Opgewonde. maar BAIE versigtig.


Ons ry na die opslaan gou die 10 km dorp toe om ʼn paar goedjies te gaan koop, die belangrikste is medikasie vir Moeksie se blaas. Laatmiddag ry ons ʼn kort draai en sien heelwat wild. Moeksie sit rustig en boek lees as ek die vuur aansteek. Dis net vir die atmosfeer, want vanaand is dit spek ball, lanklaas daarvan geëet. Dis ʼn rustige aand as buurman kom kennis maak. Ons vertel hom ons storie van om die grense van die land ry en hy wil net weet wanneer ek die hele storie gaan skryf en publiseer, hy wil ʼn kopie hê.


Die sterre is baie vanaand, seker die Waterberge wat hulle nader trek. As Moeksie nie kort-kort opstaan nie, weet ek die medisyne vir die blaas het gewerk. Ons gaan lekker slaap vanaand.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus