Ek gaan probeer om hulle vertelling op fb hier te plaas.
FB skakel.
Web skakel.

Toer Om SA - Dag 12
Donderdag 30 Januarie
Ek is nie eintlik ʼn vroeë oggendmens nie, behalwe as ek kamp, dan is ek meeste van die tyd op om die dag te sien breek. Weet nie wat dit is nie, maar ek put energie uit die aanskoue van elke sonsopkoms en ondergang. Dis seker die simboliek van “daar is ʼn begin en ʼn einde”, elke dag ʼn nuwe dag. Na ʼn paar koppies koffie het almal ontwaak en ek sit water op die vuur vir die stort, wil vir Magda en Moeksie bederf.
Die waterkraan by die wasbak buite die stort droog gou op, was nie laas hier toe ek hier was nie. Ek vul die water aan met ons eie water. Die geluide uit die stort, ʼn hout skerm met beton vloer en ʼn emmer wat jy vol water maak en ophys, bevestig dat hulle bederf voel.
Ons besluit om Mata Mata toe te ry vir die dag, ʼn voldag uitstappie. Op ons pad uit, stop ons weer by die gemsbok karkas wat nou al redelik skoon gevreet is. ʼn Tweede wyfie het ook kom vreet en ou vuilbaard bied goeie Kodak moments saam met die twee welpies. ʼn “Varknek” in ʼn Landcruiser stasiewa, Botswana nommerplaat, wil ons wys hoe dit gedoen kan word en ry deur die veld tot tussen die ander karre en die karkas.
Gelukkig is daar ʼn bewaarder in een van die voertuie wat die “varknek” uittrap in sy eie taal en hy het dit so goed gedoen, die “varknek” spin sy Cruiser en vat die pad. Dis wat ek jou noem as jy onbeskof optree in ʼn park, optree asof dit jou plaas is en maak soos jy smaak, ʼn “VARKNEK”.




Ons sien heelwat wild op ons pad na Mata Mata, leeus hier teen die pad, kameelperde, gemsbokke, steenbokkies, tierboskat, springbokke en vele ander spesies. Die roofvoëls dwing ons ook om telkens te stop vir ʼn fotosessie. Naby Mata Mata sien ons, aan die oorkant van die rivierloop, ʼn jagluiperd met ʼn springbok in sy bek, pas gevang.

By die winkel op Mata Mata koop en koeldrank en ʼn roomys en verken die kampterrein. Die grenspos na Namibië hier by Mata Mata is weer oopgestel, moet dit onthou vir my volgende trip woestyn toe.
Die pad terug lewer weereens baie diere op, nog ʼn jong jagluiperd, nog leeus, ou skillie, al die ander normale diere en heelwat roofvoëls. Vandag “mis ons nie die aasvoëls” nie, die pad is lewendig en ons gesels lekker in die bakkie. Ons vertoef lank by Urikaruus watergat want vuilbaard en ʼn wyfie lê in die koelte so naby aan die pad, jy kan hulle vryf en daar is net een ander voertuig saam met ons.



Ons ry by Twee Rivieren langs waar ons ys en ander aankope doen, nie te veel nie, want more ry ons Upington toe.







Terug by Rooiputs geniet ons die stilte van die kamp en ontspan lekker. Hoewel ons nie vanaand gaan braai nie, is dit nou maar my tradisie. Daar moet ʼn vuurtjie brand, of soos dit ook al bekend geraak het, ʼn bosveld TV moet aangesit word. Sien, as mense so om ʼn vuur sit, kyk almal na die vlamme en sien elkeen sy eie prentjie, op sy eie kanaal en woorde hoef nie baie te wees nie.
Dis jy en jou gedagtes wat duisende kilometers vêr wandel en dan weer hier by jou is as die jakkals hier agter die bos die nagstilte breek met sy getjank. Dis Anton se beurt vir kosmaak, “spekball” of dalk beter bekend as spaghetti bolognaise. Die water in die kraan by die wasbak is terug en die stort laat mens weer NUUT voel.




Om die kampvuur besluit ons om more vroegerig op te pak, so tweede mossie, by Twee Rivieren se ablusie te gaan stort en dan die pad te vat Upington toe. Die vertrektyd op my toere word aangewys deur mossies, voor die eerste mossie poep beteken voor sonop, tweede mossie beteken na sonop maar voor agt en derde mossie beteken rustig op ons tyd, as almal klaar is, maar gewoonlik so 10 uur se kant.
More gaan ons toer aan en dit voel asof ons net gou kom vakansie hou het vir 5 dae hier in die Kgalagadi. Lekker om te dink aan vakansie hou binne in ʼn toer, ʼn eerste vir my.
Toer Om SA - Dag 13
Vrydag 31 Januarie
Dis Moeksie se verjaarsdag en sy waardeer die koffie net na 6 in die bed. Jy kan die opgewondenheid in haar stem hoor as sy vertel hoe bevoorreg sy voel om dit hier te kan vier. Die oppak is vinnig en ons vat die pad na Twee Rivieren. Anton roep oor die radio en sê een van die waentjie se briekkabels sleep op die grond. Ek maak hom op ʼn manier vas aan die bakwerk en besluit om op Upington running repairs te gaan doen.
Ons stort in die kampterrein se ablusie, pomp die bande op en vat die pad. Die 253 km teerpad tot op Upington is soos Manna uit die hemel na die afgelope 5 dae se grond- en sinkplaat paaie. Oor die radio bespreek ons ons slaapplek vir vanaand en almal is dit eens, Moeksie moet bederf word, so dit sal ʼn gastehuis wees.
Ek gaan soek ʼn plek wat die waentjie se briekkabel kan regmaak, los hom daar en gaan soek ʼn koffiewinkel waar ons kan bel om slaapplek te bespreek. Ons Google en kry ook ʼn brosjure met lodges en gastehuise se kontaknommers. Meeste plekke is vol en redelik duur.
Ek praat met ʼn vrou oor die selfoon, dis R950 per nag vir ʼn dubbelkamer en daar is veilige parkering en kragpunte vir die waentjies. Sy wil nie verstaan as ek probeer verduidelik dat ons net gerieflik wil slaap vir een aand teen ʼn billike prys nie. Ons moet net eers kom kyk, die prys is onderhandelbaar, maar ons moet eers kom kyk na haar plek en kan dan ry as ons nie van die plek hou nie, of ons dink dis te duur, maar ons MOET kom kyk.
Sy wen die rondte en ons ry Riviera Garden Lodge toe, op die oewer van die Oranjerivier met ʼn pragtige tuin en swembad, rêrig mooi. Moeksie verjaar vandag en ek onderhandel nie te hard oor die prys nie, maar ek wen hierdie rondte as sy instem op ʼn redelike groot afslag toe ek twee dubbelkamers boek.
Sy vertel van die Karsten vrou wat oorlede is en more oggend begrawe word. Die Karsten’s is mos die bekende boere van die kontrei en dit gaan ʼn groot begrafnis wees, daarom is meeste plekke vol bespreek deur naasbestaandes, familie en vriende van vêr.

Ons laat ons nie twee keer nooi nie en gaan geniet ʼn kouetjie langs die swembad met ʼn mooi uitsig oor die rivier. Nou ontspan ons lekker, want dis nog vroeg en ons het geen planne vir die res van die dag nie. Ons het besluit om vanaand saam met Moeksie te gaan uiteet, sal later besluit waar en hoe laat. Dis ʼn luilekker middag onder die koeltebome, lower groen gras met die rivier voor ons en ons koel kort-kort af in die swembad, luuks, baie luuks.

Ons bad en stort en maak klaar vir die aand se uitgaan. Die Ocean Basket in die Kalahari Mall roep die hardste, want dis waar ons opeindig. Die wynlys voldoen nie aan ons behoefte nie maar ons kry ʼn bottel witwyn op die huis, of sal ek sê op Moeksie se verjaarsdag. Na ʼn paar glasies wyn en ʼn feesmaal, loop ons deur die sentrum om window shopping te doen. Moeksie het BAIE lekker verjaar, vertel sy telkemale.
Die lugverkoelde kamer met die vars beddegoed voel so reg vir my, dis immers Moeksie se spesiale dag en ek voel ook bederf. Dit was van die begin af die ooreenkoms met Anton, hulle is welkom om in gastehuise te slaap sou hulle nie op ʼn plek wil kamp nie, maar hy was vasbeslote om saam met ons te kamp, of in te val by ons reëlings. Ons slaap ekstra lekker, seker maar die opgewondenheid met Moeksie se dag wat die slaap so ekstra lekker maak.
Wessel, brandstofverbruik V6
Hier is sy antwoord.
"Willem, het gaan kyk, het 5,96 km/l met V6 gekry. Hulle moes petrol weggooi in Kaap toe ek die 2 tenks laat skoonmaak het, weet nie presies hoeveel liter nie ?"
Toer Om SA - Dag 14
Saterdag 1 Februarie
Dis net 121 km na Augrabies en ons beweeg eers laat, immers is die waentjies klaar reg en kan net gehak word. Na ons onsself reinig, geniet ons ʼn koppie koffie in die sprokiestuin, gevolg deur ons vars vrugte, papaja en jogurt. Die vrou kom wys ons die sultanas wat sy verkoop en na ʼn proeseltjie besluit ons om ʼn paar pakkies te koop. Hierdie is mos sultana en rosyntjie wêreld, hierdie kontrei langs die Oranjerivier.
Die besluit is om aankope te gaan doen by die Kalahari Mall en van daar af verder te ry. Dis net voor elf toe ons in die pad val. In Keimoes praat ons van nog vleis koop en my oog vang die bordjie, die naam wat die vrou by die gastehuis vir ons genoem het, Kalahari (Vleishuis) slaghuis. Dis maandeinde en Saterdag, die dorp loop oor en dit voel of die hele kontrei hier is om te kom koop. Ek bly by die voertuie en die res gaan doen die aankope. Dit voel later soos ʼn uur maar Moeksie bly weg.
Einde ten laaste kom hulle uit met ʼn verskeidenheid van vleise wat die vrou in die slaghuis aanbeveel het, sosaties, tjops, wors, flip-se-rib en oortjies, ja oortjies, sal later vertel. Die Pienk padstal net voor Kakamas is ʼn MOET, hier stop jy en jy moet nie te haastig wees nie, want jy verwonder jou aan al die “kaggelkakkies” (allerlei klein, ou- en nuwe artikeltjies) wat die plek karakter gee, veral die rooskwarts wat die grond bedek en die honderde nommerplate teen die muur in die binnehof. Hier is genoeg om die kameras aanhoudend te laat kliek.







Ons kom net na een by Augrabies waterval aan, boek in vir twee nagte en gaan soek koeltebome, want dis lekker warm. Dis al met die kamp opslaanslag dat die blou-ape lastig raak, maar vir nie te lank nie, want ek het al geleer, ek kamp NOOIT sonder my kettie nie.
ʼn Aap en bobbejaan skrik vir min dinge, het al gesien hoe die apies met ʼn rubberslang speel as hulle hom eers gewoond geraak het, maar ʼn kettie, span sy rek en almal maak gat-skoon (vir so 5 minute, dan kom try hulle jou weer).
Moeksie gebruik die luuksheid van die wasmasjien om op te vang met die wasgoed, na ons middag-snack, worsies, tamaties, kaas, broodjies en konfyt. Die kamp is leeg en die koeltebome waaronder ons kamp gee ʼn effe lafenis. Die middag spandeer ons rustig in en om die swembad en onder die koeltebome, aan hierdie luilekker lewe kan ek gewoond raak.

Ons stap laatmiddag met die paadjies tot by die waterval. Hy is maar redelik leeg, maar dit bly mooi. Was bevoorreg om hom in vloed ook al te kon beleef, wat ʼn gesig was dit nie.




Gewapen met kameras in hand gaan sit ons op die rotse en wag vir die skildery om te ontvou. Dis ʼn besonderse sonsondergang met ʼn wolkbank wat ekstra kleur aan die lug gee. So volmaak en ek kan nie ophou afneem nie, want elke minuut verander die prentjie. Nog ʼn onvergeetlike dag word afgesluit.



Die aand braai ons hoendersosaties en braaibroodjies met oortjies as voorgereg. Die oortjies is dungesnyde kortrib wat in ʼn spesiale marinade verpak is, jy braai hom soos rashers, smul lekker !! Ons moes meer hiervan gekoop het, beaam almal. Ons gebruik die luuksheid van die storte en sit tot laatnag om die kampvuur en kuier, soos net ou vriende kan.

Toer Om SA - Dag 15
Sondag 2 Februarie
Dis net na sewe voor ons begin roer, niks jaag ons nie en die dag kan rustig ontvou. Dit het deur die aand ʼn bietjie koeler geraak en almal het goed geslaap. Die koffie en beskuit is, soos elke ander oggend, net die regte medisyne vir die ontwaakproses. Die oggend verloop rustig en na ons vrugte en jogurt gaan ry ons in die park rond.
Die maanrots moet geklim word en ons moet na die uitkykpunte aan die onderkant van die waterval ry, vanwaar jy ʼn mooi uitsig oor die Gorge het. Op ons pad sien ons die gebruiklike springbok, zebra en klipspringers wat in die omgewing volop is, hoewel die park vele ander wildsoorte ook huisves.










Dis ons beurt vir kosmaak en Moeksie bederf ons met perfek gekookte lamskenkels vir middagete, soos dit op ʼn Sondag hoort, lekker gekookte kos.
Moeksie se een kleinniggie, Elna en Salmon Victor, bly hier naby. Sy het haar gister gebel en gesê ons sal vandag ʼn draai kom maak. Ons kuier heerlik om die kombuistafel en smul aan die koek wat Salmon gebak het terwyl die twee niggies die toue van toeka se dae optel en uitryg. Hulle het mekaar meer as twintig jaar laas gesien. Sy vertel ons van die lewe hier op Augrabies en ek kan myself daarmee vereenselwig, platteland en die rustigheid homself.
Laatmiddag is ons terug by die kamp waar Anton en Magda die luilekker rustigheid omhels het. Ons stap na agt weer af waterval toe, al langs die plankiespaadjie wat verlig is. Die groot spotlights wat die valle verlig gee ʼn ander dimensie aan die prentjie. ʼn Mens kan amper nie glo dat die uitkykpunt waarop ons nou staan amper onder water is as die Oranje in vloed is nie. Dit is wat die foto’s vertel by die kantoor wat geneem is met die groot vloed van 17 Januarie 2011.


Die swem voor slapenstyd koel ons lekker af en klaasvakie vat nie lank voor hy opdaag nie. Nog ʼn belewenisvolle dag.
Brandstof verbruik
Middag Willem
Dra my dank oor, ek sien die man is gesteld op korrektheid, gee dit tot twee desimale syfers. Afgerond na 6km/l, ek raai as gemiddeld oor die toer, is nie sleg nie.
Vir daai krag, gemak en gemoedsrus sal ek maklik opgradeer na die V6 toe.
Groete
Brandstof verbruik
Wessel, ja ek is ook vir die krag en ja jy betaal vir dit. Ek verkies ook eer der die petrol model.
Hier is myne se inligting van 2013 (na my Laptop gesteel is)
5.58 Gemidelde Brandstof Verbruik in km / L 385.44 Lopende Koste c / km 17.91 Gemidelde Brandstof Verbruik in L/100km 72,573 Totale Afstand Afgelê in km 13,001.43 Totale Brandstof in Liters R 174,075 Totale Brandstof Koste in R.Toer Om SA - Dag 16
Maandag 3 Februarie
Met die lekker slaap is ons vroeg op, drink ʼn koffie en begin oppak. Na die jogurt en vrugte haak ons die waentjies en gaan besoek eers die koöperasie op Kakamas. Die 204 km wat voorlê is meestal teer, net die laaste 30 km na Klein Pella is grondpad. By Oranjerivier kelders proe ons aan die wingerdvoggies en maak seker ons vul die rantsoene genoegsaam aan.
Die gesels met die Fransman wat ook kom proe het, verbaas ons, want dis net hy en sy vrou in ʼn gehuurde 4×4 wat in Afrika kom toer. Hulle kom nou uit Botswana uit waar hulle in die Delta rondgery en op ʼn keer ʼn dag lank vasgeval en gestrand was, voor hulp opgedaag het.
Maak net altyd seker jy het genoeg drinkwater by jou, hulp sal altyd opdaag, al is dit na twee of drie dae, kom dit van hom af. Boonop is hy self ʼn wynboer in Frankryk en besing hy die lof van die Suid Afrikaanse wyne, selfs verbaas oor die kultivars van hierdie kelder.
Ons maak brandstof vol op Pofadder. Die petrolstasie is geleë langs die erf met al die honderde beeldjies uit blik en staal, vlakvarke, voëls, kameelperde. Dit lyk soos ʼn dieretuin.



By Klein Pella kry ons kampplek vir twee nagte onder die twee groot kameeldoringbome aan die Noordekant van die terrein, langs die heining en naby die ablusie. Nee, ons is die enigste kampers, so ons kon op enige plek staan, geen ander malkoppies wat in hierdie hitte kom kamp nie.





Vandag is die son weer naby aan die aarde, want ek sweet lekker en besluit die mis-sproei moet weer werk. Die ou groot doringboom maak ʼn groot sambreel en ek ryg die mis-sproei deur die takke om ʼn groot area te dek. Die lafenis is onbeskryflik as die sproei op jou val en die windjie liggies roer om die afkoelwerk te doen. Middag-snack is skenkelvleis wat oorgebly het van gister, dun gesny op broodjies bedien. Dis seker waarom ek altyd oorboord gaan met braaivleis, wil net seker maak daar is ʼn hapseltjie oor vir more.
Die res van die dag word spandeer langs die swembad, maar nie voor ek al die heuningbye uit die swembad skep nie. Die water van die skoon swembad is verfrissend en die lower groen grasperk dra by tot die gevoel van “huis”.

Vanaand is “flip-se-rib” aan die beurt, die rib wat ons in Keimoes gekoop het. Die vrou in die slaghuis wou Moeksie nie laat gaan alvorens sy ʼn rib in die mandjie gepak het nie. Dis een van hulle spesialiteite en belowe sy, sal ons terugkom vir nog as ons eers geproe het.
Die vuur word aangesteek en ons bewonder die koppies en omgewing om ons, wat deurlopend van kleur verander as die son laag sak en die wêreld inkleur. Die lammertjie en ponie in die kraal aan die oorkant en die poue wat rondloop, gee ʼn regte plaas gevoel.



Die vrou van die slaghuis was reg, ons moes ʼn paar van “flip-se-ribs” gekoop het. Hierdie ontbeende lam rib is werklik besonders!! Die knoffelbrood gee ekstra smaak aan die kuier, of sal ek sê reuk.

Ons gooi nog ʼn paar houte op die vuur en gesels lekker oor ons wedervaringe tot nou toe. Die aand vorder langsaam maar die hitte wil nie breek nie. Moeksie gaan sukkel vanaand.
Toer Om SA - Dag 17
Dinsdag 4 Februarie
Voor die son sy kop uitsteek, sit ons buite en teug aan die koppie koffie. Vandag is weer ʼn rusdag want al wat op die program is, is ʼn draai ry om die dadelplaas vir Anton en Magda te wys. Ek en Moeksie was al hier tydens een van ons omswerwinge ʼn paar jaar gelede. Hierdie is die grootste dadelplaas ter wêreld en ons bly beïndruk met die netheid van die boerdery, alles op sy plek, netjiese store, paaie en besproeiings netwerke.






Ons swem en lê rustig onder die koelteboom langs die swembad en ontspan, so rustig dat ons oë toeval en kort-kort ʼn slapie vang as die lyf afgekoel is. NOU KAMP ONS LEKKER !!
Die middag begin ons ʼn ding wat later ʼn instelling sou raak, so by vieruur se kant maak ons ʼn blikkie ingelegde vrugte oop saam met idealmelk, dis ons middagtee. Na vandag is daar gereeld op die toer gevra of dit nie al vieruur is nie, tyd vir middagtee.

Na middagtee is ons weer swembad toe om af te koel. Die sonsondergang is weer wow en jy verlang na mense wat jy nie ken nie. Besig met jou eie gedagtes en gevul met dankbaarheid as jy die prentjie aanskou.



Dis Anton wat die hoender perfek braai en dit smaak lekker. Daar is ligte windjie wat opsteek en die lug afkoel. Vanaand sal ons lekker slaap. Ek merk daar is vloeistof op my waentjie se yskas slide. Dis die deep sycle battery wat lek en die suur het begin uitloop.
Ek is redelik moeilik, want die battery is net ʼn paar maande oud! Sal op Springbok plan maak, want ek moet krag vir die vrieskas hê, wil nie sukkel nie.
Toer Om SA - Dag 18
Woensdag 5 Februarie
Dis lekker koel as ons opstaan en ons het besluit om teen derde mossie te ry en op Springbok oor te slaap. Die 204 km is grondpad, want ons het besluit om Goodhouse om te ry, al langs die Oranjerivier. Na opslaan stort ons lekker, eet jogurt en vrugte en is net na tien in die pad. Die omgewing is regtig mooi as jy op die grondpad Goodhouse toe ry, ʼn redelike goeie pad.



By Goodhouse soek ons eers die lokale winkel op, nie ʼn groot keuse nie, want dit is ʼn one-horse-town. By B.P. Mobile word ons vriendelik ontvang. Die winkel is so 3m by 3m, ʼn regte plaaswinkeltjie, soos ek hulle onthou uit my kinderdae en ons is verbaas oor die verskeidenheid voorraad op die rakke. In die huisie aangrensend aan die winkel word die kos gekook, maar die res voel nie nou vir iets te ete nie en ek laat vaar dit.
Die vrou by die winkel wil weet wat ons hier kom maak en glo ons nie toe ons vertel ons ry net deur nie. Mense ry nie net deur Goodhouse nie. As hulle hierheen kom, dan kom doen hulle werk hier. Dis te vêr en afgeleë om net deur te ry, praat sy in mooi Afrikaans. Ons koop koeldrank, neem ʼn paar foto’s en vat die pad.





Op Springbok aangekom is dit weer tyd vir running repairs en gaan soek ek ʼn plek wat deep-cycle batterye verkoop. Die mense by Batery Centre is vriendelik en het voorraad. Hulle help my om die battery wat lek uit die waentjie te haal en vinnig is ons weer op pad. Anton soek ʼn tandarts wat na ʼn kroon kan omsien, wat hom moeilikheid gee.

Ons kamp vir een aand by Springbok karavaanpark buite die dorp, so 5 km op die lughawe pad uit. Dis ʼn netjiese terrein met lekker groen gras. Na opslaan gaan doen ons aankope terwyl Anton tandarts toe is.
Die aankope moet genoeg wees vir ten minste 6 dae want ons gaan die Richtersveld besoek, weet nog nie vir hoe lank nie en daar is niks. Terug by die kamp skarrel almal om ʼn baadjie in die hande te kry, kan nie glo dat dit so koel geraak het nie, eintlik redelik koud!


Die koue weer maak dat ons vroeg vuur aansteek vir die hoendersosaties en braaibroodjies. Na ete is ons redelik vroeg storte toe en direk bed toe. Gelukkig is daar altyd ʼn kombers in die waentjie se tent en hy is baie welkom vanaand. Ek kan nie glo ons kry so koud in die middel van die somer hier op Springbok nie! Sal ek later verneem dat dit ʼn redelike algemene ding is, die koeligheid as die son sak, gereelde ding in die somer.
Toer Om SA - Dag 19
Donderdag 6 Februarie
Ons is oudergewoonte vroeg op met ʼn lekker koppie koffie in die hand om die dag te bespreek. Magda en Moeksie wil dorp toe vir oulaas om lap en gare te gaan soek. Ek en Anton slaan kamp af terwyl hulle terug is dorp toe. My woorde is redelik ferm as ek sê hulle moet gou maak, want die 359km pad vir vandag is lank, veral die deel in die Richtersveld wat maar stadig aangepak moet word.
In Port Nolloth is die res nie baie ingenome toe hulle wou stop vir vis en chips en ek nie instem nie, die pad is nog laaaank.

By Alexanderbaai maak ons weer brandstof vol. Die wind waai erg en die stof pla my wat so oor die oop manhole waai waar ʼn tenker brandstof aflaai. Van hier af is dit 90km redelike grondpad tot by Sendelingsdrif waar ons moet inboek om in die Richtersveld in te gaan.




Ons vorder goed en kom voor vier by die Parkeraad kantoor aan. Hulle maak eers weer vieruur oop na hulle siësta. Terwyl ons rondstaan en wag, kom ons ooreen om 4 nagte oor te slaap in die Richtersveld, De Hoop en Kokerboomkloof. Ek was al voorheen by beide en is bly toe die groep instem.
Ons kry net plek by De Hoop, Kokerboomkloof is gesluit en ons boek in vir 5 nagte, koop genoeg hout en ʼn koeldrank vir die pad. Ons sal moet wikkel, want jy wil nie in die donker die 45km na De Hoop ry met ʼn sleepwaentjie nie. Die kantoor deel ons mee dat daar baie verspoelings was met die reën en die pad, veral Akkedis pas, redelik uitdagend is. Gelukkig is dit somer en die son sak redelik laat, maar ons sal moet ry om dit te maak.
Ons vorder fluks en die radio’s klets as ek vertel van die vorige maal wat ek hier was, ʼn hele paar jaar gelede. Dieselfde waentjie nog sonder ʼn inloopbriek, met ʼn Hilux 2.7 2×4. Dit was rêrig ʼn vreesaanjaende ervaring, want jy moes redelik vinnig teen die opdraandes uitry, rotse en klippe mis, pad te hou en om nie momentum te verloor nie, want ek sou nie weer kan wegtrek met die 2×4 en die gelaaide waentjie teen die steiltes nie.
Ek was BAIE waaghalsig of het BAIE vertroue in my Toyota gehad daardie tyd, ʼn rit wat Moeksie glad nie van gehou het nie. Maar nou is ek reg, kan nie wag om Akkedispas met my Hilux 4×4 kaf te draf nie! Die waentjie is ook intussen toegerus met ʼn inloopbriek, na my Sanipas wedervaringe, maar dis ook ʼn storie vir ʼn ander dag.

Aan die voet van die Akkedispas hou ons stil, donkierat en eerste en vat hom stadig, sê ek vir Anton oor die radio. Gee maar kans dat ek ʼn ent weg is voor jy kom, sodat daar genoeg afstand tussen ons is vir herstel as iets fout gaan. As jy voel die wiele spin, gebruik die diff-lock.

Ons is so paar honderd meter weg toe die sweet op my voorkop uitslaan! My Hilux het GEEN krag nie en ons beweeg sluk-sluk, hoes-en-proes die pas uit. By tye is dit so erg dat hy heeltemal gaan staan, dan moet ek eers die petrolpedaal behoorlik pomp voor ons weer sluk-sluk vorentoe beweeg. Hiers MOEILIKHEID !!
Dis nog erger as Anton oor die radio spog hoe maklik sy Fortuner die pas opeet en ek kan aan sy stem hoor hy geniet dit. Op ʼn gelyk stuk staan ek eers ʼn rukkie, rev die enjin behoorlik en hoop die vuiligheid in die carborator kom los, maar vergeefs. Dit was weer Akkedispas met ʼn voertuig wat nie sy kant kon bring nie! Moeksie is net so teleurgesteld soos ek, het rêrig uitgesien na die lekker uitdaging om Akkedispas met die 4×4 te geniet.


Aan die anderkant van die pas hou ons eers stil, want ek wil asem skep en die teleurstelling verwerk. Ek en Anton ontleed die situasie en beskuldig die vulstasie op Alexanderbaai van vuil petrol, daar waar die higiëne nie op standaard was met die tenker en die stof nie.
Ons moet wikkel, want die son sak en dis nog ʼn hele ent wat ek met die moeilikheid moet voortbeur. Ek sukkel-sukkel aan en is moedeloos, kan nie die Hilux geniet soos ek gedroom het nie. Wat ʼn teleurstelling en antiklimaks. Ek is sommer kwaad, BAIE kwaad.




Dis net na 7 toe ons eindelik by De Hoop aankom. Hier is nie veel koeltebome waaronder ʼn waentjie en tent kan inpas nie. By die eerste lekker kampplek is daar manne met ʼn tent wat kom visvang het en eenkant is ʼn gehuurde 4×4 met ʼn jong paartjie wat kamp.

Ons kies die terrein naby die rivier, voor die ablusie, met die bos wat as kombuis en kuierplek kan dien en genoeg skaduwee sal bied. Ek moet eers die moedeloosheid met ʼn sterk dop afsluk voor ons begin opslaan, my dag is bederf.

Ons bou ʼn braaiplek van klip voor die “kombuis” met ʼn mooi uitsig oor die rivier. Hier gaan ons lekker kuier. Ons braai hoender, wors en eet ʼn knoffelbroodjie. Dit is lekker koel hier langs die rivier en ons behoort goed te slaap.

Ek sukkel om die teleurstelling met die Hilux te verwerk en dink daaraan dat ek nog dieselfde pad moet terug, my gedagtes werk oortyd as ek na die bosveld TV staar. Anton praat my moed in en sê ons sal uitkom, sal more verder planne maak.
Toer Om SA - Dag 20
Vrydag 7 Februarie
Ons is redelik vroeg op en die koffie hier langs die Oranjerivier het ʼn ander smaak, nog lekkerder. Almal, behalwe ek, het lekker geslaap, die Hilux het my wakker gehou. Ons sit die sonpaneel uit, want ons is sonder krag vir 5 dae. Ek dink daaraan om terug te ry Springbok toe, daar is ʼn groot Toyota handelaar. Die fout daar te laat regmaak en weer terug te ry hierheen.
Die gedagte klink nie lekker nie en ek besluit om die air filter van die Hilux uit te haal en skoon te blaas. Daar kom nie veel stof uit toe ek hom blaas nie en ek soek die petrolfilter. Met die dubbele batterystelsel wat ek voor in die bonnet laat inbou het, is daar geen manier om by hom uit te kom nie.
Ek besluit om die filter skoon te ry en Anton en ek vat die pad al langs die rivier af in ʼn Noordelike rigting. Dis lekker oop en gelyk en ek trap hom plat, eers proes proes ʼn paar honderd meter en toe is dit asof hy weer homself is, gee krag as ek aan die petrolpedaal raak. Ek is verlig, BAIE verlig. Die vuiligheid is uit!!

Die roereier en toast smaak sommer lekker en ons, ek ook nou, ontspan lekker om die kombuis. Anton stap na die plek waar die manne gister visgevang het en gooi ʼn lyntjie in. Die klein geelvissies is honger en Anton vang ʼn paar. Hy sit op die wal van die rivier met sy voete in die water vir lafenis.
Hy geniet dit as die vissies nader swem en aan sy tone knibbel, soos die Oosterse Spa’s waar hulle spesiale visse het wat dit doen en jy ten duurste betaal! Hier kry hy dit gratis! Die res van die dag verloop rustig met Magda en Moeksie wat in die koelte by die kombuis sit en naaldwerk doen en Anton en ek ʼn paar klein vissies vang. Anton is later reg voor ons kampplek ʼn paar meter die rivier in, maak homself gemaklik op ʼn rots wat bo die water uitsteek en later sak hy so halflyf af in die stroom in en sit met sy rug teen die rots wat bo die water uitsteek.
Dis warm selfs hier in die koelte en ek laat nie op my wag nie. Strandsambreel in plaas van visstok gaan sit ek langs Anton in die water onder die sambreel. Daar is lekker groot plat rotse onder die water en die sit is gemaklik en koel, soveel so dat ons ons “sitkamer” ontdek. Dis ook nie ure voor die vrouens hulle swemklere aan het en by ons aansluit in die sitkamer nie. Ons sit lekker onder die sambreel in die water en gesels, met die nodige versnaperings wat in die water langs ons koel gehou word. Wonder wat sal mense sê as hulle nou hier aankom en ons so in die rivier sien sit, maar dis LEKKER !



As die skaduwee van die berge aan die Westekant die rivier begin bedek, is die versnaperings gepak en ons ry teen ʼn koppie uit vanwaar jy ʼn mooi uitsig oor die hele terrein en rivier het. Die berge aan die oorkant van die rivier se kleur verander elke oomblik as die son se strale skaduwees in die klowe maak en die klip met verskillende kleure inkleur. Jy moet dit self beleef om dit te kan waardeer, woorde kan dit nie beskryf nie en ek voel weer klein en dankbaar as ek na die prentjie voor my staar. Ons praat nie baie nie en geniet net die oomblik.



Dis amper donker en Moeksie se lamspotjie se reuk vul die lug. Ons besluit, soos dit goeie kampers betaam, om die jong paartjie wat so ent weg van ons af kamp te nooi om later die aand by ons te kom gesels – verneem hulle is van Holland. Die amper gebrande rys en die lamspotjie is net wat die dokter voorgeskryf het vir hier langs die rivier en smaak lekker.

Stuart en Melany sluit later by ons aan en vertel hulle is verloof en het besluit om bietjie in Afrika te kom toer. Voorbereiding is op die internet gedoen en hier is hulle. Stuart haal ʼn kaart uit en vra na ander besienswaardighede wat hulle in Namibië moet besoek. Na Namibië is dit Botswana, Kruger wildtuin, Mpumalanga, Lesotho en Natal.
Ons is verstom oor die twee se waagmoed om so toer alleen aan te pak en Stuart maak dit gou duidelik dat hy aan die polisie in Holland verbonde is en min dinge vrees. Sy kaart van Namibië is verouderd en ek gaan haal my Tracks4Africa kaart.
Hy wil weet waar hy so kaart kan koop waarop ek hom antwoord dat dit nie nodig sal wees nie. Hy kan myne kry op een voorwaarde, hy moet iets goeds aan iemand anders doen as blyk van sy dankbaarheid. Die pay-it-forward gedagte wat ek al baie in my lewe toegepas het. Hy verneem van al die moeilike roetes want hulle wil die off-the-beaten-track roetes volg, lus vir uitdagings.

Die vuurvliegies dans oor die rivier en ons gesels tot laataand om die kampvuur. Ons kan nou kooi toe, want dit het effe afgekoel.
Toer Om SA - Dag 21
Saterdag 8 Februarie
Die oggend ontvou soos meeste ander. Ons staan laterig op, was skottelgoed, drink koffie en beskuit, kuier en later ons jogurt met vrugte. Ons het besluit om Rigtersberg toe te ry vir die dag, die pad Suid al langs die rivier. Die nodige is gepak en ons vat die pad. Dis 6 km wat ons stadig vat. Jy moet mooi kyk waar die pad oor die klippe gaan en soms vat ons die verkeerde pad rivier se kant toe wat doodloop of weggespoel is.

Na 2 ure kom ons eindelik daar aan, stop op die gras teen die rivier en verken die area te voet. Dis ʼn mooi kampplek waar ons stop en ek sal graag hier kom kamp, nog meer primitief as De Hoop. Die stilte word verbreek deur ʼn voertuig wat aankom.
Die jong man met sy vier passasiers stop en vra of ons weet waar kampplek nommer 4 is, waarop ek antwoord dat hier nie nommers is nie en beveel ek aan hulle kamp net hier. Hier is lekker gras, skaduwee en ʼn mooi uitsig oor die rivier. Hy wil niks weet nie en sê hy gaan nommer 4 soek.
Na so twintig minute is hy terug. Ons het die gespin van die voertuig ʼn paar keer gehoor hier waar ons staan. Hy kry nie nommer 4 nie en sal maar hier kamp. Virseker sy eerste keer en sonder navorsing hier in die Richtersveld, dink ek. Ons vat die pad terug De Hoop toe en dit vorder effe vinniger, weet nou al waar die pad loop, maar nie ʼn pad wat ek vir ontspanning weer sal ry nie.


Daar word naaldwerk gedoen, ontspan en later is ons almal weer in die sitkamer, halflyf in die water onder die sambreel. Ons delf klippies uit die rivier met ons tone en stal hulle op die rotse om ons uit. Nou kamp ons lekker !!

Die skaaptjops en braaibroodjies is ʼn spanpoging tussen my en Anton as ons op die voetstoeltjies naby die vuur sit en nie uitgepraat kan raak oor die voorreg om hierdie droom saam te kan beleef nie, inderdaad ʼn groot stuk genade!
Magda en Moeksie is al in droomland toe ek en Anton nog laataand om die bosveld TV kuier. Uit die hoek van my oog vang ek die beweging en die volgende oomblik staan hy hier by ons langs die vuur. Jakkals se kind, sê ek vir Anton. Hy is vinnig om my reg te help toe die tweede hond ook sy opwagting maak. Die twee veldwagters volg kort op hulle hakke en kom hurk-sit hier langs die vuur.

Die mense daar by Richtersberg het probleme, sê hulle. Die Cruiser waarmee hulle ry se battery is pap en hulle moet more weer vroeg in die pad wees, ons moet gaan help. Dis net na elf toe ek, Anton en die twee wagters in die Hilux klim en die pad, vir die tweede keer die dag, aandurf. Anton glo ek het night vision, want ek ry die pad beter as vroeër vandag en ons is net na twaalf by Richtersberg.
Die vier gaste is mense uit Holland wat weer in Suid Afrika kom kuier het, met een van die vrouens wat hier in Suid Afrika grootgeword het en haar vriende oortuig het om die Richtersveld te kom besoek en deur ʼn toer maatskappy in die Kaap die trip bespreek het. Ek word uit dankbaarheid ʼn bier aangebied, ʼn warm een, want hulle het nie yskas geriewe nie. Waarom het hulle nie die rivierwater gebruik as yskas nie, wonder ek, maar besef almal is nie ewe ervare met hierdie dinge nie. Ook maar goed ek kamp nie saam met hierdie mannetjie nie, dink ek by myself.
Ons koppel die jumper leads en probeer die Cruiser start – niks – die battery is morsdood. Ek idle die Hilux vir so 20 minute en ons kry die Cruiser aan die gang. Ons stel voor dat die mannetjie die Cruiser die res van die aand moet laat idle of saam met ons terugry na De Hoop sodat ons hom more kan help om aan die gang te kom, want ons gaan NIE more weer die pad hierheen ry om hom te help nie. Hy bedank ons en sê hy sal ʼn plan maak, ons kan maar ry. Die pad terug gaan nog vinniger, weet nou al presies waar elke klip en gat in die pad is.
Nou gaan ons lekker slaap !
Toer Om SA - Dag 22
Sondag 9 Februarie
Ons almal lê bietjie in vanoggend na gisteraand se uitstappie en staan eers laat op. Magda en Anton het die skottelgoed klaar gewas toe ek en Moeksie kop uitsteek. Ons eet roereier en toast en vat die pad Kokerboomkloof toe na ontbyt. Die Hilux is reg en ons ry die ongeveer 65km binne 3 ure, stop kort-kort langs die pad om die omgewing te bespreek.






Ons is redelik teleurgesteld toe ons by Kokerboomkloof aankom en weet ons wou eintlik hier kom kamp het, maar hy is tans nie oop vir kamp nie. Ek het al hier gekamp en dis ʼn ongelooflike ervaring, tussen die rotse hier anderkant die “toon”. Dis ʼn groot rots wat soos ʼn groottoon lyk en is ʼn bekende baken in die omgewing. Hier kan jy die stilte “hoor” en in die aande is die sterre meer as op enige ander plek ter wêreld!


Die klipspringers teen die berg bied ʼn goeie Kodak moment.


Ons verken die kampterreine, klim die koppies en verken die area. Na besoek aan die Tatasberg uitkykpunt, waar daar mooi rotsformasies is, is dit broodjies en koffie en vat ons die pad terug De Hoop toe.







Terug by die kamp is dit terug sitkamer toe om die ergste hitte te breek. Stuart se gehuurde bakkie se voorwiel is pap en Anton en ek help die Hollander om die spaarwiel op te sit.
Laatmiddag vat ons ʼn lekker koue stort om die laaste hitte af te spoel. Ek is bly die Hilux is reg en ek sien uit na die terugtog oor die passe. Ek sit die kragopwekker uit om seker te maak die batterye word vol gelaai en gee ook kans om die selfone en kameras se batterye te laai.
Anton se spekball smaak onverbeterlik, dit komende van iemand wat nie rêrig pasta eet nie. Ek skep ʼn tweede maal op. Weereens ʼn volmaakte dag.
Toer Om SA - Dag 23
Maandag 10 Februarie
Dis weer koffie in die hand, maar redelik lank na die son sy kop uitgesteek het, want vandag is dit net lekker om die kamp kuier, geen haas nie. Ons ry ʼn ent teen die rivier op in ʼn Noordelike rigting en verken die area verder. Terug by die kamp is dit jogurt en vrugte waarna Magda en Moeksie opvang met die wasgoed. Ek trek die Hilux nader aan die rivier en met ʼn emmer en lap in die hand is dit tyd om die stof uit die Hilux uit te kry.
Die son is weer naby aan ons en die muggies wat pla is teken dat daar nie ʼn luggie roer nie. Dis later tyd om ons potra-pottie se cover te maak, Moeksie het die materiaal gekoop en Magda het valcro wat met selfhegtingsgom aangebring kan word. Ons al vier gee elkeen sy eie idee van hoe die cover se materiaal gesny en gepas moet word, wat ʼn affêre. Na ʼn lang stryery en geswoeg is die cover klaar, soos ek hom wou hê.

Ons sit die middag weer lank in die “sitkamer” om af te koel, praat oor die afgelope paar dae se wedervaringe en geniet die rustigheid. Daar is ʼn stilte om ons, want dis more weer verder ry. Ek moet hierdie ongelooflike ervaring in die gedagtes liasseer, want dis ʼn plek wat min mense kom beleef, die Richtersveld.

Moeksie stort lekker en was hare. Dis ons laaste aand, ʼn gedagte waaroor ons liewer nie baie wil praat nie. Die vuur brand hoog en die steak, aartappel, butternut en patats is die regte spyskaart om die kuier langs die rivier mee af te sluit.
Die vlermuise en vuurvliegies kom gee vanaand ʼn spesiale vertoning, so asof hulle weet ons ry more. Voor slaaptyd pak ek en Anton die bakkies en ruim op so vêr ons kan, net die afslaan van die tente more, dan kan ons pad vat, so by tweede mossie.
Toer Om SA - Dag 24
Dinsdag 11 Februarie
Ons is vroeg op, slaan af en drink ʼn koffie voor ons die 222km na McDouglesbaai aanpak. Die pad tot voor die Akkadispas vorder goed en ek kan nie wag om die pas kaf te draf nie. Die eerste opdraande van die pas bowl my vir ʼn ses, die hoes-proes sukkel-sukkel is terug en die moedeloosheid is hoorbaar as ek oor die radio vir Anton sê om ekstra spasie te gee, ek sukkel weer met die petrol toevoer. Dit gaan maar stadig en my moermeter is in die rooi, ek is BAIE teleurgesteld!

Ons stop op ʼn stadium, skep asem terwyl ons die halfmens van nader beskou, te voet teen die randjie, die bekende plant van die Richtersveld. Ons is net na 12 by die vullis gat buite die park waar ons stop en die vullis wat ons uitgebring het, weggooi. Hier mag jy geen vullis in die park agterlaat nie en my ervaring is dat die besoekers nogal ag slaan hierop, want die kampplekke is redelik skoon.





Voet in die hoek, teen ʼn variërende spoed van tussen 20km/uur tot 60km/uur, as ek gelukkig is, ploeter ons voort. Ons stop by Brandkaros en geniet ons padkos. Die wind waai erg en die terrein lyk onversorg.

Op pad na Port Nolloth laat weet ek oor die radio vir Anton dat ons gaan terugry Springbok toe, ek kan nie langer so sukkel nie. Die vis en chips in Port Nolloth, wat ek die eerste keer verbygery het, word op die waentjie se blad uitgepak en ons smul lekker daaraan, hier op die parkeerterrein langs die see. Ek verneem of hier nie dalk iemand is wat na die petrol filter kan omsien nie, maar tevergeefs! Dis terug Springbok toe.


So 5 km buite Port Nolloth sê ek vir Anton hulle moet nie saam terugry Springbok toe nie, dis onnodig en hulle moet solank Mc Dougalsbaai toe. Ons sal weer by hulle aansluit, weet nog nie oor hoeveel dae nie, die bakkie MOET reggemaak word.
Ek en Moeksie kom net voor toemaaktyd by die Toyota handelaar op Springbok aan. Hulle kan nou niks doen nie, maar ek moet more 7 uur terug wees, dan help hulle my. Ons is terug na die Springbok karavaanpark, steeds lekker koel waar ons kamp. Die bakkie word leeggemaak, want ek vermoed dat hy ʼn rukkie by die handelaar gaan wees. Ons is vroeg bed toe nadat ons worsies by oorskiet spagball gegooi en opgewarm het saam met ʼn paar glase wyn. Ek mis dit om nie vir Anton en Magda nag te sê nie.
Toer Om SA - Dag 25
Woensdag 12 Februarie
Ek is voor ses op en ry Toyota toe na ʼn koppie koffie. Moeksie bly agter en wil nog ʼn paar stukkies wasgoed was en die waentjie skoonmaak. Dieselfde man van gister ontvang my en ons trek die Hilux agter in die werkswinkel in. Hy sê ek moet maar rustig wees, want dit gaan ʼn tydjie vat om die filter, wat toegebou is, uit en vervang te kry. Ek het geen ander keuse nie, solank hulle die probleem kan uitsorteer, tyd is aan my kant, ek is nie haastig nie.
Die werktuigkundige kom wys my die petrolfilter na n paar uur. Dit wat hy uitgooi, lyk soos modderwater! Hy kan dit nie glo nie en is verbaas dat ek hoegenaamd nog kon ry. Die verligting raak groter, die probleem is opgelos. Hy kom na sowat ʼn uur weer terug en sê die nuwe filter is UITEINDELIK terug, hulle het geweldig gesukkel onder die ekstra batterystelsel en kon nie al die skroewe terugkry om die brackets vas te maak nie. Hy sit drie skroefies in my hand en sê ek moet dit laat doen as ek weer die Hilux invat vir ʼn diens.
Hy beveel ook aan dat ek die petroltenks (ek het ʼn long range tenk ook in) moet laat uitspoel by die eerste geleentheid, maar die skoon filter behoort nie probleme te gee tot in die Kaap nie. Hulle kan dit hier ook doen, maar dan moet ek ten minste twee dae wag wat nie nodig is nie, want ek moet die Hilux laat diens in die Kaap. Dis ʼn redelike troos en ek hoop sy woorde is waar, want ons gaan nog baie sand ry voor ons in die Kaap aankom.
By die kamp pak ons fluks op en vat die pad Mc Dougalsbaai toe. Dis net na elf en die rit is ekstra lekker as ek met die petrolpedaal speel, net om seker te maak als is reg. Ek geniet weer die Hilux, soos ek altyd het. Die 290km draai van Port Nolloth na Springbok en terug was die moeite werd.

By Mc Dougalsbaai het Anton besluit om “luuks” te gaan en ʼn huisie die vorige dag al bespreek waar hulle oorgeslaap het. Dit kos nie baie oortuiging toe ek die prys hoor om die “luuksheid” met Anton-hulle te deel nie. Hy en Magda sê hierdie een is op hulle, wil ons bietjie bederf.


Ons gaan besoek die museum op Port Nolloth en George, self ʼn diamant duiker in sy vroeë dae, raak opgewonde as hy al die staaltjies van die dorp en sy diamant geskiedenis vertel. Wat ʼn belewenis! Die prentjie van sy huis waar ons verbygery het in Mc Dougalsbaai, verskyn voor my as hy vertel waar hy bly. Die huis wat niemand kan miskyk nie, eksentriek met al die skulpe, toue, dryfhout en items van skepe wat op die werf uitgestal word.

Ons doen ʼn paar aankope en ry na die hawe waar ons op soek is na ʼn vars vis en met die afklimslag stap ek in die leeu se bek, want sien, ek vra dadelik by die vrou langs die geboutjie waar is die skuite waar ek ʼn vars vissie kan koop?
Ek besef nie sy is die eienaar van die winkel waar die skuite hulle vis kom verkoop nie. Hoe durf ek sê haar winkel vis is nie vars nie, ek kan self kom kyk. Ek moes lelik reïtereer en groot omverskoning vra toe ek die vars snoek op die tafels sien wat besig is om gevlek te word. Ons kies ʼn redelike grote, want koue gebraaide snoek is altyd lekker as padkos.
Daar is manne van die weermag wat kamp hier op die kampterrein en Anton en ek kyk na die oefeninge wat hulle doen met rubber-ducks hier vlak in die see.
Op die stoep van ons huisie sit ons en is vasgevang in die betowerende sonsondergang wat oor die see afspeel met die mis wat stadig inkom en die rye flaminke wat op die horison verbyvlieg om ekstra wow aan die prentjie te verleen. Glasie wyn in die hand en die vuur wat brand, vertel ons mekaar hoe sleg dit die vorige aand was toe ons nie bymekaar kon wees nie.

Die groot snoek braai stadig op die kole, hy moet nie gejaag word nie en Anton sê ons gaan lekker padkos oorhou vir more. Die sous (suurlemoen, botter, knoffel en appelkooskonfyt) word deurlopend aangesmeer. Snoek moet gaar wees, soos enige vis, maar meeste mense braai hom droog, dan is hy nie lekker nie.
Die wyn en knoffelbrood maak ons honger, want toe ons weer sien, is daar NIKS van die snoek oor nie. Alles opgevreet! Dit was ʼn lekker kuier, ekstra lekker met ʼn vars vis op die kole so langs die see en goeie geselskap.
Toer Om SA - Dag 26
Donderdag 13 Februarie
Ons is voor ses op en na die gebruiklike koffie pak ons. Dis baie mistig maar die wind is stil. Ons het nog nie besluit waar ons vanaand gaan kamp nie en vat die pad deur Kleinsee en Koiingnaas na Hondeklipbaai. Kleinsee het ʼn spookdorp geword met die diamantmyn wat gesluit het en dis hartseer om die groot huise so te sien leeg staan.


Op Hondeklipbaai stop ons by Sam’s restaurant naby die hawe en eet ontbyt.



Na ontbyt gaan wys ek vir Anton en Magda die Aristea skeepswrak wat sedert 1945 hier langs die kus lê en verweer. Die wrak lê op die rotse en is maklik te voet bereikbaar waar ons foto’s neem.




Van Hondeklipbaai af ry ons ʼn ent Suid met die grondpad en draai later regs af met ʼn twee-spoor grondpaadjie, deur plase. Dis n kortpad wat ek al voorheen gery het. Daar was 17 hekke wat Moeksie moes oopmaak op die pad tot by Groenriviermond. Na die 231km het ons besluit om hier te kamp en gaan boek in by Parkeraad se kantoor en betaal vir twee nagte.





Ek en Moeksie was al hier, die dag toe die laaste twee huise platgestoot is van die mense wat hier kom “plak” het met hulle vakansiehuise. Die mense van veral die Garies omgewing het blykbaar hier vakansiehuise kom bou, die grond was “verniet”, ongebruikte staatsgrond hier op die see. Hulle moes net eie water en krag voorsien, want hier was niks.
Toe kom die hofbevel. Die huise moet afgebreek word, dis onwettig. Dit het baie maande lank gesloer, maar ek was getuie van die laaste twee wat platgestoot is. Nou word die grond as deel van Parkeraad bestuur. Die wind het gewaai en dit het gereën toe ek en Moeksie laas hier gekamp het, maar dit was ʼn ongelooflike ervaring, seker daarom dat ons weer hier is.


Die wind waai erg as ons opslaan en dit gaan maar sukkel-sukkel om als op hulle plekke te kry. Jy kamp hier naby die see met ʼn ongelooflike uitsig, maar die prys wat jy daarvoor betaal is die wind wat getrotseer moet word, soos oral langs die see waar jy hierdie uitsig wil beleef.
Daar is ʼn klipgeboutjie met ʼn netjiese long-drop en ʼn klip Boma by ons kampplek, maar geen water nie. Jy kan wel gaan water haal by die Parkeraad kantoor, maar dis maar redelik brak. Behalwe die Cruiser met ʼn daktent ʼn paar honderd meter van ons af, is daar niemand anders wat die uitsig met ons deel nie.


Dit raak vinnig koel en die vuur se rook warrel ons uit die Boma uit. Ons braai steak met knoffelbrood en eet onder die gazebo wat tussen ons tente opgeslaan is en bietjie beskerming bied teen die koue en wind. Dis ʼn gazebo wat ek so 15 jaar terug laat maak het met van daardie trokseil as dak, baie stewige pale wat al baie storms oorleef het.

Die wind raak later stil toe ons bed toe is en die koel weer gaan ons lekker laat slaap.
Willem dankie
Willem dankie vir update wat n reis deur ons land ek nou mooi gatvol om nie te kan kamp nie







Eish ek wens
Wat n reis wens ek kon nou daar wees