Na aanleiding van Len en Chris S se korswel oor die 2 plekke, begin ek die gesprek. Ek sal graag wil hoor wat is almal se mening/siening/belewenis van die plekke. Wat dryf jou terug na die plekke, wat se hunkering.
Wel, afstand soheentoe gaan groot rol speel. Selfs vir my is KNP die helfte nader as Twee rivieren toe. Dan is daar nog faktore soos verskeidenheid wild, en paaie
Laat ek maar my sent in die…
Laat ek maar my sent in die blikkie gooi.
Kgalagadi sal my seker nooit sien nie, my vrou en my wa is nie gebou vir die terein nie. Sy hou nie van "rof" kamp nie en my Penta is ook nie gebou vir daai paaie nie![]()
Selfs om haar te oorreed om Kruger toe te gaan vat maande se haarfyn, subtile, praatjies.
Ek sal graag een jaar saam met my niggie-hulle met 'n tent wil gaan, maar weerens, my vrou soek luukse om haar, hulle gaan elke jaar met hul bakkie en tent en kom "brêk" oor hoe hulle dit geniet het.
Padwa na Twee Rivieren
Môre Johann
Laat ek jou en jou beterhelfte gerusstel. Ons was Meimaand soheentoe, en julle hoef oor niks bekommerd te wees nie. Jy sleep lekker teerpad tot in Twee Rivieren. Maak soos wat ek gedoen het, ek het NET in Twee Rivieren gekampeer, juis ompad ek nie uit onkunde die sand/gruis-paaie verder wou sleep nie.
Lieflike kampie, elektrisiteit die hele dag, tipiese SANPARKE ablusie, skoon en heel. Daar was selfs wasmasjiene en 'n tuimeldroër. Die kamp is omhein, met winkel en daar is chalets ook. Mens kamp beslis nie rof nie, wel niks rowwer as in Kruger of Manyane nie.
Ons het soggens en namiddae uitgery en gaan wild kyk.
Onregverdig
Dis soos om vir ‘n ouer te vra watter een van jou kinders is jou gunsteling. Elkeen het aspekte waarvoor jy bitter lief is, maar elkeen het ook iets waarvan jy minder hou.
Ek wil glad nie spog met wat ek nou gaan sê nie, maar daar is ‘n rede waarom ek ‘n lysie gaan maak van die reservate wat ek nou aan kan dink wat ek al besoek het so wees net gou geduldig met my.
- Kruger wildtuin en aangrensende Timbavati, Klaserie, Balule, Sabie Sand, Manyeleti en al die kleiner privaat reservate rondom Hoedspruit
- Mapungubwe
- Marakele
- Privaat reservate rondom Vaalwater en Warmbad
- Hluhluwe-Imfolozi
- St Lucia
- Mkuze
- Ndumo
- Ithala
- Pongola
- Pilanesberg
- Addo
- Bergkwagga
- Kgalagadi
- Bontebok
- De Hoop
- Golden Gate
- Mlilwane in Swaziland
- Matobo, Hwange, Gonarezhou en Zambezi NP in Zimbabwe
- Mabuasehube, Sentraal Kalahari, Moremi, Savuti, Chobe en drie privaat konsessies in Botswana
- Mosi-O-Tunya, Lower Zambezi en South Luangwa in Zambië
- Etosha en Waterberg in Namibië
- Serengeti en Ngorongoro in Tanzanië
- Reservate in Gaboen, Sentraal Afrika Republiek en Madagaskar
Amper elkeen van die reservate is spesiaal, en sou ek weer die geleentheid gegun word sou ek almal behalwe Mlilwane weer wou besoek. Ek was baie lank gelede daar, maar ek onthou bloekom bome en ander uitheemse plantegroei en ‘n baie onegte natuur ervaring. Sommiges is baie rof en moeilik (en duur) om by uit te kom. Ek was gelukkig dat ek die meerderheid besoek het as deel van my werk in toerisme, en selfs ‘n paar sente ontvang het in plaas van om self te betaal.
Plekke soos Botswana het ek vreeslik geniet omdat dit so ongerep is en in die konsessies het ons meestal die plek vir ons self gehad (wat waarskynlik is hoekom ek nou nie lief is vir skares soos in die Suide van die Kruger wildtuin binne seisoen nie). Maar raai watter een is my gunsteling? Die Kruger wildtuin. Dis ook die beste plek vir enige gemiddelde mens om sonder enige spesiale voertuig of toerusting ‘n eersteklas natuurervaring te geniet en wonderlike dinge te sien.
Keuse.....
Ek voel soos ChrisWH hierbo dis onregverdig om Kgalagadi op te weeg teenor die Kruger Wildtuin of omgekeerd. Netsoos die onderskeie ruskampe het elkeen 'n eie, unieke aantrekkingskrag. Almal weet teen hierdie tyd dat ek jaarliks die 2000km aflê om by die Kruger Wildtuin uit te kom terwyl die Kgalagadi 'n skamele 1000km hier vanaf Kaapstad is.
Ek is soos so talle baie ander mense (veral die boswa ouens) baie lief vir die Kgalagadi, maar omdat ek oor 'n teerpad-karavaan beskik kamp ons net by Tweerivieren en is sodoende in 'n mate beperk. Die enigste, enkele ding wat my afsit van Kgalagadi is die toestand van die paaie. Vriende van ons was 'n maand gelede daar en volgens hulle was al die paaie in 'n baie goeie toestand - behoorlik geskraap na die lieflike reën, maar dit gebeur nie sommer nie. Hier kamp ons heerlik by Tweerivieren en het selfs 'n heerlike Kalahari reënstorm in Septembermaand gehad.

Wildbesigtiging in Kgalagadi is besonders, heelwaarskynlik as gevolg van die skaarste van water en die drinkgate wat naby aan toeristepaaie aangebring is.

Na die lekker Kalahari-reënstorm lyk dit so by Samevloeïng van die Nossob en Auab riviere :-

Die Kgalagadi bly 'n wonderlike plek, netsoos die Kruger Wildtuin !
Ek en Oom Len stem saam!
Ek voel dis onregverdig om Kgalagadi op te weeg teenor die Kruger Wildtuin
Vir ‘n verandering stem ons saam
Ek wou al.......
Chris, ek wou al verskoning aanbied dat ek alles wat jy sê verkeerd verstaan, maar voor ek dit kon doen vind jy toe gelukkig iets waar daar nie 'n "verkeerd verstaan" is nie.
Kombineer Kalaghadi met....
.... 'n uitgebreide vakansie. Ons het met dieselfde rit by Augrabies aangegaan. Dus sus ek my gewete dat ek 2 plekke met een brandstofkoste besoek het.
Soos hierbo genoem deur Len en Chris S, dit is weliswaar twee uiteenlopende parke. Kruger is amper oorontwikkel met kampe[dorpe], magdom paaie en 'n magdom wild spesies. Dit is dus "besig" veral rondom die die gewilde kampe in die Suide. 'n Groot vyf besigtiging ontaard in 'n verkeersknoop.
Daarteenoor is die Kalaghadi op sy besigste amper mensloos. Die 3 hoofkampe is klein, byvoorbeeld Twee Rivieren het maar net ~ 25 staanplekke. Jy voel amper alleen in die veld, en meestal slegs 2 voertuie by wild.
Ek worstel menige kere met die vraag, sal ek weer Kalaghadi toe gaan. Dalk wel, net soos wat ek DV volgende jaar na die Noorde deel van Kruger gaan. Bloot omdat ek nog nooit daar was nie.
'n Besoek aan beide, en ten minste eenkeer aan die Kalahari is die moeite werd, bloot omdat dit anders is.
Wessel, jy was gelukkig om…
Wessel, jy was gelukkig om Kalagadi so "mensloos" re ervaar. Ons was al hele paar keer daar, en gevind dat dit maar bedrywig kan wees met tye Eenkeer was ons in n vasgevang in n verkeersknoop waar n paar sotte dwars in die pad gestaan het om n paar slapende leeus te bekyk, waar net die ore sigbaar was. Hulle het seker beplan om so te bly sit tot Ta wakker word...eendag.
Misverstaan
ek wou al verskoning aanbied dat ek alles wat jy sê verkeerd verstaan
Nee wat Oom Len, dis dalk eerder ek wat so swak verduidelik. Ek sal in elk geval nie kan kwaad word vir iemand wat so lief vir die wildtuin is nie. Dis mos my kerk se mens!
Kgalagadi besoek
jis, Chris S se inset het nou my kop in 'n liederlike rigting gestuur.
Eerstens moes ek net eers seker gaan maak het, maar die spelling soos Chris dit gebruik, en in titel, is die korrekte ene. Ek kan dit net nie onthou nie, en kry dit altyd verkeerd.
Ek oorweeg dit ook sterk om volgende jaar weer 'n Kalahari [baie makliker
] kuier in te werk. Dalk moet ek die jaarlikse vêr sleep na die mooie Kaap omgewing inboet vir 'n besoek aan die Kalahari.
Ek weet Kruger is baie nader en daar is 'n groter verskeidenheid wild, maar ai, ek wil ook nog Nossob omgewing verken.
Dis nou op die punt waar die gedagtes nou rerig liederik sleg raak. Om tot by Nossob met gemoedsrus te sleep, het mens mos 'n 4x4 en ordentlike boswa nodig.
Chris B, is 'n 2.4 Hilux 4x4 'n ordentlike aanbevole trokkie, of moet ek iets beter soek?? Wonder of jy kan/gaan antwoord
Wessel ...
... nie in die minste nodig vir 4x4 op die twee hoofpaaie (Auob & Nossob) in die park nie. Ek sal nie deesdae sommer met 'n platkar die park se paaie aandurf nie, maar ek was met minstens 4 geleenthede in die park met Cressida's - o.a. tot heelbo by Unie-end.
Nossob toe
As jy die paaie in die park in Twee Rivieren se omgewing kan ry, kan jy tot by Nossob ry. Mata-Mata ook. As jy dit vang kort na dit geskraap is soos tydens ons 2023 besoek sal jy met ‘n padkaravaan ook kan gaan. Die Kavango was al twee keer in Kgalagadi sedert ek dit het, en voorheen ook ‘n hele paar keer maar toe in Mabuasehube se gedeelte. Dit is ‘n ordentlike boswa.





Kalaghadi versus Kruger ...
Hartseer was ek nog nie in die Kgalagadi Transfrontier Park gewees nie maar is nou al te lank op my lysie.
So ek sal maar net hier volg.