Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Nieuwoudville na Kambro.... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -4 hours ago
Selfde leeuwyfie? Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -4 hours ago
Wessel ... Oktober 2026 saam gesels Chris Boucher -5 hours ago
Wessel, Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -5 hours ago
Gemsbok... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -6 hours ago
Stil pad Tulbagh toe. Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -6 hours ago

One Drive Memories

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Is daar nog forum-gebruikers wat al hulle foto's op Microsoft se One Drive gestoor het? My dogter het my aangemoedig om dit te doen. Sou jou rekenaar se hardeskyf skielik besluit om die gees te gee - en die inhoud kan nie herwin word nie - het jy 'n rugsteun van al jou foto's op One Drive.

Maar wat ek nogal van hou is die feit dat One Drive elke dag (waarop jy foto's geneem het op daardie spesifieke datum) vir jou 'n herinnering stuur van die betrokke dag se foto's. Ekself gaan selde loer op al die lêers waarop my ou foto's is - behalwe wanneer ek dalk 'n spesifieke foto soek. Dan skielik, uit die bloute, kry jy 'n e-pos met die foto's wat jy op die betrokke dag geneem het. En dit bring meestal 'n klomp aangename herinneringe terug.

Vandag het ek o.a. die volgende foto's ontvang wat geneem is op 1 Feb 2019 tydens ons verblyf in Shingwedzi (tydens een van my vele wegbreke wildtuin toe as ek in die noorde moes gaan werk).

Shingwedzi

Dit was ons chalet waar Ralie amper die dikstert skerpioen, aangesien vir een of ander gogga, in die toilet wou optel. Genadiglik het sy my geroep om dit te kom doen - waarna ek toe sien dat sy met 'n lelike kalant "speel".

Die volgende foto het ek op die S56 (Mphongolo Loop) geneem toe dié ou "dagha boy" pas 'n lekker modderbad geneem het.

Shingwedzi

Tussen gister se foto's is ek weer herinner aan die muskeljaatkat wat ons met verlangende oë sit en aanstaar het toe ons die aand van 31 Jan 2019 in Mopani gebraai het.

Mopani

Aag - en so kan ek aangaan met foto's waarvan ek al amper vergeet het. As jy (ook) nog nie jou foto's op One Drive stoor nie, is dit dalk raadsaam om dit ernstig te oorweeg.

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 10/06/2024 - 12:47

Vandag, 3 jaar gelede, het ek hierdie foto van ons kampplek in Krokodilbrug asook 'n kort video van die kamp geneem.

Krokodilbrug

 

video
0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 10/06/2024 - 15:40

Ek het al eenkeer van die kamp as 'n 1ste aand oorslaap gebruik gemaak. Nog nooit dus daar "gekamp" nie. 

 

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Mon, 10/06/2024 - 16:14

Stem saam... netjies versorg. Ons het laasjaar julie skoolvakansie hier paar aande gekampeer teen die grensdraad....die dagbesoek verkeer was onplesierig baie gewees ....laat middag het ons maar gesorg dat ons voor 4pm in die kamp is, andersins staan mens saam in dagbesoekers se rye wat hengse lank is om by hekke uit te gaan

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 12/06/2024 - 17:31

2009

Ons het in Junie 2009 so 'n bietjie van 'n "disastrous" kuiertjie in die wildtuin beleef. Ek en Ralie sou alleen wildtuin toe gaan. Toe my seun daarvan verneem, het hulle gesê dat hulle dit graag sal wil meemaak. Ons sou net Punda Maria en Mopani toe gaan.

Ek het ons huisvesting-bespreking verander om hulle ook te akkommodeer. Ons twee het kuier-kuier tot Johannesburg gery waar ons hulle op die lughawe gekry het. Toe hulle egter die oggend opstaan, sit hulle met 'n koorsige 10-maande oue seuntjie. maar vlieg tog en hoop dat dit wat die koors veroorsaak sommer gou sal wyk - wat ongelukkig nie die geval was nie.

Na een aand se oorslaap by Klein-Kariba, vertrek ons die volgende dag Punda Maria toe, waar ons vir 3 aande bespreek was. Die eerste oggend wat ons daar wakker word, besef ons dat ons nie langer die kans kan vat met dié klein mannejie wie se koors nie wil breek nie. Na slegs die een aand ry ons Tzaneen toe waar my vriend vir ons 'n afspraak by hulle huisdokter reël. Maar boeta word opgeneem in Medi-Clinic Tzaneen omdat daar nie vasgestel kon word wat die koors veroorsaak nie. My skoondogter slaap toe die aand saam met boetatjie in die hospitaal. Maar uiteindelik word dit te laat vir ons om terug te ry Punda toe. Ons slaap toe oor by ons vriende nadat ons gou 'n paar nodige dingetjies soos o.a. tandeborsels en onderklere gaan koop het (al ons bagasie was nog in Punda). Boetatjie se koors was die volgende dag nog nie gebreek nie en moes langer in die hospitaal bly. Ek, Ralie en my seun ry toe terug Punda toe, ant ons moes die volgende dag daar uitboek en om ons bagasie te kry. Die volgende oggend is ons weer terug Tzaneen toe met die hoop dat ons my skoondogter en kleinseun sal kan optel en by Phalaborwa ingaan vir ons volgende en laaste 3 aande in Mopani.

Boetatjie was beter en ons het die kans gevat. Maar ons het net die eerste 2 aande (van 3 wat ons bespreek en betaal was) gebly omdat die knapie net nie heeltemal wou herstel nie. Maar die voldag (12 Junie) wat ons wel in Mopani was het ons darem die volgende gesien:

'n Paar jagluiperds:

Cheetahs

En hierdie pragtige streeppens-sandslang in 'n mopanieboom:

Mopani

Mopani is vir my een van die mooiste en lekkerste kampe as jy in vaste akkommodasie tuisgaan. Bykans elke wooneenheid laat jou voel of jy alleen in die bos is - soos hierdie foto vanaf on chalet se stoep:

Mopani

Mopani se restaurant-area is ook een van die bestes met pragtige uitsig oor die Pionierdam:

Mopani

En een van die mooiste swembaddens in die wildtuin:

Mopani

Boetatjie se koors wou maar nie heeltemal weggaan nie en ons het 'n dag vroeër vertrek. En daardie aand (weer by ons vriende in Tzaneen) toe begin hy weer sy ou self wees. Die volgende 4 aande by Sun City weet ons nie van 'n kind wat siek was nie.

Dit was egter 'n kort (en onderbroke) wildtuinvakansietjie wat ons altyd sal onthou a.g.v. teenspoed.

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 12/06/2024 - 17:39

kamp ons in B&D. Een of twee van ons kinders begin die nag sleg hoes. Jis, ons probeer alles in medisynekas, maar hulle hoes in 'n koor. Die volgende oggend kom die buurman oorgestap. Vra hy of hy na hulle kan kyk, hy is 'n kinderarts. Sommer daar uit sy tas, medisyne gehaal en gegee. Mensig, dan voel 'n mens effe sleg verleë.

Deesdae prop Marie 'n paar toolboxe vol, wat MOET plek vind in styfgepropte wa. 'n Clicks rak sal sleg afsteek teen haar versameling.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Tue, 18/06/2024 - 15:28

So lyk die Bouchers se kampplek by ATKV Eiland Spa wanneer ons vir 2 - 3 maande daar staan. Ek sou wat wou gee om nou daar te kon wees. Hierdie foto's is vandag 3 jaar gelede daar geneem:

Eiland Spa

Eiland Spa

Eiland Spa

Eiland Spa

Eiland Spa

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Tue, 18/06/2024 - 17:52

Chris, ek sou wat gee om net een keer so lank op my alie te kan sit.  Dit moet hemels wees.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Tue, 18/06/2024 - 19:59

..........daardie opset lyk fantasties. Hoe lank neem dit jou om die spulletjie so netjies opgeslaan te kry ?

0
Vaalpark
Profile picture for user Johann L

Johann L

Tue, 18/06/2024 - 20:20

Is maar net een van die lekkerste oorde in ons land.

Sjoe Chris, behalwe vir vier blare op jou grond net kan mens daar sommer so op die vloer sit en eetlaugh

Baie netjies, sal self graag so lank daar wil staan.

0
Vaalpark
Profile picture for user Johann L

Johann L

Tue, 18/06/2024 - 20:25

Sit ek nou en terug verlang, ons was self daar in Junie 2019 (net vir twee weke), en ek het vir  'n vriend wat ook in D blok lank staan gaan kuier. Wil amper sweer hy was baie na aan jou plek. Jou opset lyk baie bekend, ek het gereeld daar verby geloop.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Tue, 18/06/2024 - 22:00

... ek doen dit maar so stukkie vir stukkie. Die eerste 3 dae hou my maar besig, maar vir die res van die 2 - 3 maande kuier en speel ons 'n barshou. Dit is 'n groot pakkaas wat jy moet saamry - en wat nie altyd lekker saamwerk as jy hetsy voor of na die tyd wildtuin toe gaan nie. Maar as jy so lankstaan maak jy dit maar so gerieflik moontlik. Tog slaan ek nie eens 'n voltent op nie - net die stoeptent met 'n 100% skadunet wat die helfte van die stoeptent toemaak, plus die gazebo en 'n "pakkamer-tentjie".

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Wed, 19/06/2024 - 05:41

Dìt lyk jou na n regte lekker setup om te kampeer. Netjies gedoen ChrisB!

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 19/06/2024 - 06:37

...saam met los tentjie nie minder werk en voldoende nie??

Baie netjies, maar baie werk en bagasie. Onthou, ek het nog nooit langer as 6 aande op 'n plek gekamp nie.laugh

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 19/06/2024 - 11:09

Synde ek gister foto's gelaai het van ons Eiland kaia, het ek dit sommer goedgedink om ook hierdie video van ons kampopset te laai. My Ver dogter het mos onverwags vir ons in die wildtuin kom kuier en ook die eerste week by Eiland saam met ons deurgebring. Op die foto sit sy saam met haar ma langs 'n lekker mopanievuur.

Eiland Spa

 

video
0
Dullstroom

Rona du Plessis

Tue, 16/07/2024 - 21:42

Ek moes nou ver gaan delf vir hierdie draad en sien uit na bykans 'n maand se memories wat ons gemis het. Die wêreld is groot en jou reise was wyd. Neem niks weg van jou Kruger wildtuin herinneringe wat ek graag lees nie, maar ek glo daar is baie meer...laugh

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Wed, 17/07/2024 - 07:59

... ek kry nog daagliks One Drive Memories, maar dit is merendeels familiefoto's. Ek verstom my net soms aan geleenthede waaraan ek weer herinner word - dinge waarvan ek inderwaarheid al lankal van vergeet het. 'n Mens kyk mos nie gereeld na jou ou foto's nie - veral as dit iewers op die rekenaar in 'n lêer lê nie.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Fri, 19/07/2024 - 18:01

My foon het nou my laat onthou ek het 3 jaar gelede die ou ontmoet net na ons kamp opgeslaan het in Shingwedzi toe ek alleen ‘n kort draai gaan ry het. Hy hang nou nog om die kamp rond en blyk geselskap te geniet. 
 

A

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 19/07/2024 - 18:10

Is maar olifant-wêreld daai. Ek geniet ook die ouens. Al so hier en daar 'n iesegrimmige een raakgeloop, maar oor die algemeen het ons 'n goeie verhouding met mekaar.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 25/07/2024 - 12:37

Ek ontvang vanoggend hierdie foto van 25 Julie 2012, toe my seun-hulle nog kon snoek vang hier in Kleinmond. Hy het dit sommer net vir die plesier gedoen en die meeste geskenk vir o.a. ouetehuise. Dit blyk dat daardie dae is iets van die verlede. Hier in Kleinmond word omtrent glad nie meer snoek gevang nie.

Snoek

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus