As alles volgens plan verloop, skop ons 4-maande vakansie oor 2 weke af. Ons reisplan lyk as volg:
5 - 14 April: ATKV Hartenbos
15 - 21 April: Karoo Nasionale Park
22 April: Forever Gariep
23 April: Weltevrede, Parys
24 April - 3 Mei: ATKV Klein-Kariba
4 Mei - Malelane-kamp, Krugerwildtuin
5 Mei - 1 Junie: Krokodilbrug, Krugerwildtuin
2 Junie: Orpen, Krugerwildtuin
3 Junie - 3 Augustus: ATKV Eiland Spa
4 Augustus: ATKV Klein-Kariba
Die res van die beplanning terug huistoe moet nog gefinaliseer word, maar sal waarskynlik weer Weltevrede, Gariep en Karoo Nas Park insluit.
Ek het gister die Hilux by 4x4 Mega World in Somerset-Wes gehad vir die stofdigting en uitgly-laai vir die Snomaster. Op die oog af lyk dit of hulle 'n baie netjiese werk gedoen het. Ek het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om my voorraad Joey's boerewors en patties te gaan koop. Dit is gou by die huis in porsies vakuumverpak.
Ek het ook gou by Cara-Camp aangegaan om die Thetford chemikalieë vir die Porta Potti aan te vul. Ek moet genoeg saamneem vir die 4 maande. Teen 60 ml elke 5de dag behoort ek sowat 1.5 liter te benodig.
Vandag sal voortgegaan word om alle items wat onnodig in die karavaan is uit te haal. Ons het die "gawe" om onnodige goed (wat dalk gebruik kan word, maar nooit nie) saam te karwei.
Gelukkige verjaardag, Chris!
Ai, dat sommige so gelukkig kan wees om dié dag in die Kruger wildtuin te vier! Ek glo dat hierdie vakansie alles is waarna jy uitgesien het en wens ook dat daar in die jare wat kom nog vele kampe sal wees. Lekker dag.
Baie geluk
Baie geluk...hoop dis n mooi en geseende jaar. Julle is seker maklik deur die N1 vanoggend.....ons is so 10am op die N1 teruggekom, toe het verkeer nog lekker gevloei. Geniet KNP....sien uit na fotos
Baie geluk Chris, hoop daar…
Baie geluk Chris, hoop daar is nog vele geseënde jare
Lekker verjaar
Daar is definitief slegter plekke om dit te vier.
Op hierdie oomblik sit Chris…
Op hierdie oomblik sit Chris glo ek, met ń Skotse drankie in die hand, by sy vuurtjie.
Chris mag jy ń wonderlike jaar beleef, en die volgende twee maande, is dit drie??? Voorspoedig en baie lekker wees. Aangenaam klink net te saaklik, lekker is beter.
4 Mei
Neef - hoe kon jy dit raai? Maar jy's 100% reg.
Baie dankie vir almal se verjaarsdag-boodskappe. Watter voorreg om dit hier in die wildtuin te kan geniet. Ons was maar die grootste deel van die dag op die pad en het eers 16:00 in Malelane-kamp arriveer.
Ons het 'n staanplek teen die draad gekry.

En Wagter, ons plaaslike waghond, het hom so pas kom tuismaak anderkant die draad.

Wagter....
is 'n baie slim waghond. Hy weet presies waar die lekkerste ete vanaand aanmekaargeslaan gaan word. Vis op die spyskaart? Foeitog Chris, hy het dit nog nooit geproe nie....mededeelsaamheid is 'n mooi eienskap![]()
![]()
Rona ...
... ek dink die ou het maar moed opgegee toe hy sien daar kom niks na sy kant toe nie. Dit is mense wat hul wel voer wat hulle so stout maak. En nee - daar was vanaand 'n stukkie gerookte pork belly op die kole. Foeitog - ek dink sy bek het gewater terwyl hy dit moes ruik.
5 Mei
Net gou so 'n vinnige vroegoggend "update".
Terwyl ons gisteraand hier teen die draad sit en braai, verstom ons onssels aan die manewales van twee nagapies op die kampdraad. Nooit kon dink die klein rakkers is só rats nie. Hulle spring van paal tot paal, sowat 3 meter uitmemaar, met presiese akkuraatheid. Een het homself selfs op 'n stadium op ons opvoubare wasgoedlyn kom tuismaak. En lank nadat ons gaan lê het, het hulle nog op die karavaan se dak kerjakker.
Terwyl ons braai kon ek hoor "iets" wei naby die draad. Ek het vermoed dit is 'n olifant, maar kon selfs m.b.v. die "spotlight" niks sien nie. Ons was egter skaars in die bed toe ons onsself letterlik regop skrik toe 'n olifant hier reg voor ons karavaan 'n snydende trompetter gee. Ek vermoed die ou het homself teen die elektriese draad geskok.
En om vanoggend wakker te word met die geluide van neudhoringvoëls en 'n kwêvoël, laat jou besef jy is in die wildtuin.
Malelane is 'n pragtige ou kampie.
Ons was egter skaars in die…
Ons was egter skaars in die bed toe ons onsself letterlik regop skrik toe 'n olifant hier reg voor ons karavaan 'n snydende trompetter gee.
Ek dink ek sal 'n hartaanval kry. Wessel sal sommer terugdraai Brits toe.![]()
Olifant trompetter so te sê langs Chris se karavaan !
Ai tog, om te dink môre 'n jaar gelede het ons feitlik op dieselfde plek gekamp in Malelane.
Dis iets wat ek by ChrisB geleer het, as jy in die suide van die Wildtuin gaan kamp, moet Malelane-kampie jou eerste intree kampplek wees - dit is hemels. Jy kan dan rustig ry tot by die Wildtuin en die volgende môre vertrek om redelik vroeg 'n lekker staanplek by jou eintlike kampplek te kry. En as jy noord sou ry, wag Afsaal-piekniekplek vir jou vir ontbyt !
Krokodilbrug
Ons was 09:00 hier in Krokodilbrug - en het 'n uitstekende staanplek gekry. Nie teen die draad nie, maar een wat so te sê heeldag skadu het en naby die ablusies.


Na die groot opslaan het ons laatmiddag net 'n kort draaitjie tot by die seekoeigate en terug gery en net algemene wild gesien - rooibokke, vlakvarke, koedoes, blouwildebeeste en kameelperde. Ons het vroegaand ons eerste leeubrulle gehoor - maar baie ver.
Die Krokodilrivier vloei tans redelik sterk.

Ek het op Goeie Hout se gesprekslyn genoem van ons ontmoeting hier in Krokodilbrug.
Die twee oumense maak nie vanaand vuur nie. Ons maak sommer 'n bietjie kerriehoender op die tweeplaatstofie.
Hi Chris, jy moet kyk, daar…
Hi Chris, jy moet kyk, daar by julle is ook nagapies in die park. Hulle slaap in die hoekpaal onder by die rivier. Van jou staanplek, die Noord ooste hoek by die huisies. Ons het hulle daar gekry en was by ons in die kamp ook. Ons het ook daar in die middel blok gestaan Wes van jou af op daai binneste hoek met baie koelte en die kraan reg langs die boom. Julle moet die varke geniet wat so lekker daar rondloop.
6 Mei
Goeie Hout het my gisteraand vertel van die nagapies in die spesifieke paal. Hulle kom glo ongeveer 17:30 uit. Ek sal hulle nog gaan beloer.
Ek kan onthou van die vlakvarke tydens ons vorige besoek hier 4 jaar gelede. Die ouens het nog nie sedert ons hier aangekom het kom gesig wys nie. Hier loop egter 2 bosbok-ooitjies in die kamp rond.
Ons is nog lekker rustig. Mammie lê nog met haar koffie en beskuit knus in die bed. Daar is 'n tipiese vroegoggend koeligheid in die lug, maar dit lyk of dit 'n lekker sonskyndag gaan wees. Ek het sommer die draagbare lugreëlaar gister gekoppel en opgestel vir indien ons dit tydens siesta-tyd benodig.
Die beplanning is om vandag met die teerpad Onder-Sabie toe te ry en terug te keer met die Nhlowapad (S28).
Hi Chris !
Jy weet seker die S28 is die jagluiperd-pad, veral in die omgewing van Nhlanganzwani.
En net langsaan op die S130 pad was daar verlede jaar 'n troppie leeus wat kort-kort kom gesig wys het. En tussen-in hierdie twee paaie het Duke's watergat selde teleurgestel.
Lekker roete, geniet dit !
Ons het toe gedoen ...
... soos wat ek hierbo genoem het - teerpad-langs Onder-Sabie toe en met die S28 teruggekeer. Die teerpad het nie veel opgelewer nie, maar die S28 het wel "perform". Ons het nie Len se jagluiperds gekry nie (alhoewel ons ook in die verlede meer as eenkeer gelukkig was by Nhlanazwane), maar ons het 'n mooi trop buffels (ek skat tussen 200 en 300) gekry wat by 'n laagwaterbrug gesuip het.


Jy kry darem maar groot mamparras in die wildtuin. Vanoggend was daar net noord van die Vurhamirivier 'n "traffic jam". Mense parkeer die hele pad vol om na 'n slapende leeu na te kyk. Ek het my daar deurgewurm.
Met die terugkeer staan die hele Vurhamirivier-brug toegepak. Mense (of liewer 'n CT voertuig - ja, Ceres-mense) blok selfsugtig alle verkeer. My bloed het gekook, maar ... Toe ek uiteindelik kon verbykom het ek die Ceressiete sommer toegesnou met "mamparras". En dit om leeus te sien waarvoor jy 'n moerske klomp verbeelding moet gebruik om hulle te sien.
Dalk is ek maar die mamparra.





Baie geluk met jou…
Baie geluk met jou verjaarsdag Chris. Mag dit 'n mooi jaar vir jou wees met goeie gesondheid.