As alles volgens plan verloop, skop ons 4-maande vakansie oor 2 weke af. Ons reisplan lyk as volg:
5 - 14 April: ATKV Hartenbos
15 - 21 April: Karoo Nasionale Park
22 April: Forever Gariep
23 April: Weltevrede, Parys
24 April - 3 Mei: ATKV Klein-Kariba
4 Mei - Malelane-kamp, Krugerwildtuin
5 Mei - 1 Junie: Krokodilbrug, Krugerwildtuin
2 Junie: Orpen, Krugerwildtuin
3 Junie - 3 Augustus: ATKV Eiland Spa
4 Augustus: ATKV Klein-Kariba
Die res van die beplanning terug huistoe moet nog gefinaliseer word, maar sal waarskynlik weer Weltevrede, Gariep en Karoo Nas Park insluit.
Ek het gister die Hilux by 4x4 Mega World in Somerset-Wes gehad vir die stofdigting en uitgly-laai vir die Snomaster. Op die oog af lyk dit of hulle 'n baie netjiese werk gedoen het. Ek het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om my voorraad Joey's boerewors en patties te gaan koop. Dit is gou by die huis in porsies vakuumverpak.
Ek het ook gou by Cara-Camp aangegaan om die Thetford chemikalieë vir die Porta Potti aan te vul. Ek moet genoeg saamneem vir die 4 maande. Teen 60 ml elke 5de dag behoort ek sowat 1.5 liter te benodig.
Vandag sal voortgegaan word om alle items wat onnodig in die karavaan is uit te haal. Ons het die "gawe" om onnodige goed (wat dalk gebruik kan word, maar nooit nie) saam te karwei.
27 April
'n Pragtige sonskyndag hier by Klein-Kariba - net lekker wat temperatuur aanbetref. Die voorspelling is 23° maksimum vandag. Beswaarlik 'n blaartjie wat roer. Ek sit en kyk na Njalas wat hier rondloop en luister na die mooi voëlgeluide. 'n Swartkop-wielewaal "gesels" aanmekaar in die boom langs ons karavaan, maar is 'n meester in wegkruip.
Ons het om die dam gaan stap. In al my besoeke by Klein-Kariba het ek die dam nog nooit so vol gesien nie. Die stroom wat die dam voed loop voor ons karavaan verby - net anderkant die pad. Dit gaan deur 'n klein stroomversnelling en die geluid van lopende water is te mooi om na te luister. In die nag is dit amper so strelend om na te luister soos die see waarna ons so mooi by Hartenbos kon luister.
Vir die res van die dag is die Chris Boucher spesialiteit aan die orde van die dag - niksdoen. Ek sal eers weer vroegaand aktief raak wanneer die Smokey Joe opge-"start" gaan word vir vanaand se Delico Valley Kreef en Joey's boerewors. Die Valley Kreef, vir diegene wat nog nie weet nie is 'n hoenderborsie gevul met cheddar en ham, toegedraai in "streaky bacon".

Dankie Chris
Dankie Chris. Ek toer lekker saam.
Sterkte met die toetse.
Agter tent
Chris is die tent agter jou jou eie of is dit die bure.
Die braai is seker die plek se braai.
Ek moet n draai maak daar. Soos jy weet is water my 2de naam.
Mooi toer en sien in Krokodil brug. Navigator het my gewys van n krok wat n hiena gevreet het.
Goeie Hout ...
... dit is die bure s'n. Ek maak die afleiding dat dit benut word deur kinderhuiskinders wat saam met 'n paar volwassenes hier kuier. Pragtige goed-gemanierde kinders!
Ja - die braai is die oord s'n. Elke staanplek het só ' n braai.
My Nelspruit-besoek
Ek het gister vir 2 aande (13 & 14 Mei) in Lekkeslaap-akkommodasie in Nelspruit bespreek vir my en Ralie. Ek het 'n plek naby die hospitaal gesoek - en gevind (800m vanaf hospitaal). Ons sal dus 13 Mei uit Krokodilbrug vertrek aangesien ek die volgende oggend reeds 06:30 moet inklok. Ek bly nog vol vertroue dat ek nie 'n aand in die hospitaal hoef oor te bly nie en dat ons die 15de kan terugkeer Krokodilbrug toe (waar die wa uiteraard sal bly terwyl ons in Nelspruit is). Sou ek langer moet bly, is die gasvrou bereid om ons tegemoet te kom.
Delico Valley Kreef
Ek sien hulle noem hom n Armadillo by ons slaghuis.
Hy moes seker heerlik gewees het in die Smokey Joe
Ek wou laasweek plek bespreek het by Klein Kariba vir eerskomende lang naweek....1-4 Mei, maar Klein Kariba was ongelukkig reeds vol. Ons het toe by Kokoriba bespreek. So, amper het ons julle raak kampeer. Ons was laas by Klein Kariba in 1996 of 1997....so dit raak weer tyd
Weltevrede oord
Chris B, ek vermoed julle is net betyds weg uit Weltevrede oord. As ek kyk op Maroela na Vaalrivier se vloed, wonder ek of Weltevrede nie ook oorstroom is nie.
Geert, ...
... janmer om te hoor dat ons mekaar nie gaan raakkamp hier by Klein-Kariba nie.
Wat die Delico-produkte aanbetref - wat hulle weer op hul beurt as Armadillo verkoop is 'n vark-filet toegedraai met "streaky bacon". Ek het dit een keer op die Smokey Joe gebraai - en waarskynlik te lank gebraai. Die vark-filet was baie droog. Daarna een in die lugbraaier gaargemaak - heerlik.
Wessel ...
... die Vaalrivier, alhoewel dit reeds baie sterk gevloei het, was nog etlike meters laer as Weltevrede se onderste kampeerplekke. Ek twyfel of dit sóveel sal styg dat genoemde plekke sou oorstroom. Ons staanplek was seker minstens 15 - 20 meter bo die rivier se oppervlak, wat soos ek reeds genoem het, baie sterk gevloei het. Op die brug oor die Vaalrivier buite Parys, was dit nogal 'n gesig om die rivier te sien.
28 April
Nog 'n droomdag hier by Klein-Kariba. Die twee oumense het lekker laat geslaap en is wakker gemaak deur 'n klomp vegtende bobbejane hier in die rante. Gelukkig het ons nog nie dié kalante hier in die kamp gewaar nie. Ek dink hier is te veel mense.
Intussen het mammie ons nagklere gou uitgespoel en ons moet nog gisteraand se paar skottelgoedjies gaan was. Dan gou stap na die oord se winkel om te sien watter van ons benodigde proviand sommer daar gekoop kan word - i.p.v. inry Bela-Bela toe.
My jonger suster vra gister of ons die warm swembaddens geniet. My antwoord was dat ons op hierdie stadium van ons lewens nie meer daarna voel om ons ou half-naakte lywe in die openbaar te wys nie. Ralie sê sy't te veel plooie en my boep begin nou-al té ver oor my broekrek hang. Ons is bang ons ontneem die ander vakansiegangers van hul swemlus.
Vanaand moet die tweeplaat-stofie weer sy ding doen as ons sommer 'n bietjie kerrie-maalvleis gaan maak. Ek weet ou Wessel sal nie wil saam eet nie, want hy't mos 'n renons in kerrie. Ons gebruik 'n baie lekker kerrie-mengsel wat 'n Indiërvrou verkoop - sy noem dit Honeymoon Curry (die naaste wat ek en Ralie deesdae aan "honeymoon" kom). Sy was voorheen in Somerset Mall, maar deesdae daar naby Len in (is dit?) Cape Gate Mall.
honeymoon curry
Die naam seg alles!!!! Gooi seker net 'n knippie, of is dit tikseltjie daarvan by die kooksel ![]()
Lees ek nou die dag oor waar…
Lees ek nou die dag oor waar die woord "Honeymoon" sy oorsprong gekry het. Hier kom dit vir die wat belangstel in vandag se stukkie nuttelose inligting.
Die tyd toe mense "Mead" gebrou het. Dit is nou, sê maar heuning bier, het pas getroudes ń voorraad Mead gekry om hul vir ń maand lank gelukkig en besig te hou.
Dit het dan hopelik gely dat die jong vroutjie swanger raak. So honey is die drankie, en moon is die siklus. Ta daa... Ai die ou tyd se gebruike was darem maar heel gepas.![]()
29 April
Ons beleef nou die een op die ander lieflike matige sonskyndae. Nadat ons verplig was om weer 'n paar noodsaaklike inkopies in Bela-Bela te gaan doen, is ons rustig hier in en om die karavaan. Die noodsaaklikste proviand wat aangevul moes word is die Bolandse voggies waarvan PnP nogal 'n knap verskeidenheid aanhou teen nie-te-onaardige pryse. Dit is net dat mammie se gunsteling BC Bachanté nie beslikbaar is nie. Sy moet dus maar verlief neem met Nederburg Lyric as beste alternatief.
Vanaand maak ek iets wat ek nog nooit gedoen het terwyl ons kamp nie -selfgemaakte viskoekies. Vir daardie doel het ek vars pietersiele gekoop toe ons by die huis was, dit deeglik gewas en die dikker stingels verwyder. En toe in pakkies, groot genoeg vir 'n aanmaaksel, vakuumverpak en gevries. Nataniël het eenkeer gesê dat pietersielie in onontbeerlik vir viskoekies en dat jy sóveel moet gebruik dat jy dink dit is nou te veel. Dan vat jy nóg soveel pietersielie.
Ek maak dit lekker fyn, saam met 'n medium-grootte ui met my karavaan se 'inwonende' "blitz-stick". En i.p.v. brood gebruik ek fyngekrummelde Weetbix. Saam met dit sal lekker goed-gebotterde knoffel-aartappels bedien word. Dus - die tradisionele bosveldreuke word vanaand weer hier in die omgewing van die Boucher-karavaan weer heeltemak op sy kop gekeer.
Maar nou moet ek eers gaan rus voordat ek my heeltemal op hierdie dag ooreis. Lekker slaap vir diegene wat ook 'n middagslapie neem.
Klink al te lekker Chris.!! …
Klink al te lekker Chris.!!
Hoe klink dit nou of Ralie gees gevang het? Hier bo erens het jy na vooruitskattings, nogal gegrond op histories daaglikse verbruik, presies geweet hoeveel kissies van haar wyn om vir die, Let wel. 4maande!!! in te laai. Well done Ralie!!
Nee Neef
Die ouvrou het darem nie so vinnig deur die voorraad gegaan soos wat ek boontoe genoem het nie. Inteendeel, sy is eintlik teleurstellend lig op die voggies. Op die nippertjie is daar besluit om net 4 x rooi (vir my), 4 x wit (myne) & 4 x BC Bachanté in te pak en maar eerder aan te koop soos nodig (wat myne aanbetref moes dit al verskeie kere aangevul word).
En dan natuurlik die ou Skotse drankie ook - wat ek sommer gister hier by die oord ten duurste aangekoop het.
Maar o donkie - ons kuier lekker en rustig.












26 April
Na 'n week van bewolkte of reënerige dae, is ons dankbaar om vandag 'n mooi sonskyndag te hê. Die temperature bly maar in die lae 20's en met 'n ligte briesie (nie werklik om van te praat nie) is dit maar steeds koelerig in die skadu.
Ek plaas sommer 'n paar foto's wat ek hier rondom ons karavaan geneem het. Vir diégene wat Klein-Kariba nie ken nie - dit is 'n puik en netjiese oord.