TO
Drie Berge
mabalingwe
galago private bush lodge
Alloutgear
Sionbergh

 

superbrulekker reseptenuwe onderwerpgraderingsarrowartikels buttonkompetisiessaamtrekkemeningspeilingskamp diyarrowarrow

Doringlaagte Montagu

Algemene Inligting

Resensies

Worcester

Wildehont

Mon, 14/10/2019 - 08:32

Doringlaagte is 'n paradys vir gesinne met klein kinders. Die kampterrein is so 3km buite Montagu en maklik bereikbaar. Julle weet wat my sleepkombinasie is en ons vriende was saam met hulle Kombi en Sprite Tourer SW. Daar was baie padkaravane ook. Die grondpad in is kort en heel skaflik. 

Die dam op die webwerf is grootliks leeg vanwee die droogte. Hulle het 'n kleiner dam gemaak langs die hoofkampterrein. Die "see" by die strand langs die hoofkampterrein het ook water in. Daar is vreeslik baie om te doen vir oud en jonk. Verwag baie gesinne met kinders onder tiener ouderdom. As julle ook een is gaan gerus want die kinders gaan hulle gate uit geniet. My klong sê gister; "Pappa, ons moet volgende keer vir honderd slapies kom".

Daar is 'n speelparkie wat omhein is en 'n klomp "skilpads" (soos ons vriende sê 3-jarige dogtertjie hulle noem) in het. Daar is 'n trampolien, klimraam, glyplanke, wipplanke, 'n sandput en swaaie. Daar is ook twee koue swembaddens (omhein) en 'n lapa by die kantoor waar ys en hout vir 'n paar uur op Saterdag verkoop word en daar ook 'n kroeg is. 

By die dammetjie is 'n stuk of 10 kayakke (is dit 'n woord?) wat gratis gebruik kan word. Mense swem ook in die dam en Doringlaagte het kurpers en baars daarin gesit maar ons het nie eers 'n byt gekry die paar keer wat ons probeer het nie. Die strand het 'n vlak dammetjie met trapbootjies waarvan net een van die drie gewerk het, glyplanke in die water in en 'n foefie slide. Daar is gras en sand om op te sit, piekniektafels onder afdakkies en 'n restaurant (basiese etes) en kroeg met 'n warm swembad. Mens kan heerlik rondom die "see" kuier terwyl die kinders baljaar. Dit is reg langs die hoofkampterrein. 

Daar is heelwat bergfiets roetes, 'n "baan" met 'n paar hobbels waar my klong 'n plasie gekoop het en ons kinders het heerlik fiets gery op die paaie tussen die kampeerplekke. Al die karre het stadig gery in die kampterrein en mooi vir die kleintjies gewag of uitgedraai. Die hek waar mens inkom na Doringlaagte het die hele naweek oopgestaan maar ons het nooit onveilig gevoel nie en ons kinders (2, 3, 4 en 6 jaar oud) het (afgesien van twee fietsvalle wat nie te ernstig was nie) veilig en baie lekker gespeel. 

Daar is net een ablusieblok maar dis baie groot en redelik sentraal. Dit was meestal skoon en is aanhoudend skoongemaak. Hier en daar was 'n los toiletsitplek maar die onderhoud is oor die algemeen goed. Daar is opwasplek ook en 'n porta pottie stasie. Die kragpunt by ons kampeerplek was redelik ver (so 30m) maar dit het my nie gepla nie want ek wou die Kavango se batterystelsel uit toets. 

Daar is orals bordjies wat sê musiek word nie na 20:00 toegelaat nie en 'n selfoon nommer wat mens kan skakel as iemand dit verontagsaam. Daar was 'n span sonder klein kindertjies naby ons wat lekker gekuier het maar darem vroeg opgehou het met hulle musiek. Hulle het ons nie gepla nie. 

Die kamp is redelik beskut teen wind deur heuwels rondom dit en ons het nie regtig las van die wind gehad nie.  Vriende van ons vriende was in Montagu karavaanpark vir die naweek en hulle sê die wind het erg daar gewaai. 

Daar is 'n aantal hutte ook as verblyf en die kampterrein was maar omtrent half vol. Ek dink as dit vol is gaan dit besig raak maar die fasiliteite sal steeds voldoende wees. Ons braaiplekke is nie skoongemaak die naweek nie, en ons asblikke ook nie leeggemaak nie. Andersins was die kamp goed gediens en skoongehou. Jy moet jou eie rooster vat. Daar is 'n 4x4 roete maar ek het net die wa staangemaak en afgehaak Vrydag en die Ford eers gister weer aangesluit toe ek gehaak het. Daar is ook 'n 9-putjie "gholfbaan" en staproetes so daar is meer as genoeg om te doen. Montagu is baie naby as jy die oulike dorpie wil verken. Daar is tans padwerke met stop/ry tussen Worcester en Ashton en ook tussen Ashton en Montagu so dit kan bietjie langer neem maar wanneer dit klaar is gaan die pad baie lekkerder ry. 

Beveel jy hierdie plek aan?
Ja
My Gradering
7 uit 10
Kamp Datum
11-13 Oktober 2019
Toegangbaarheid
Grondpad met enige sleepkombinasie
Troeteldiere vriendelik
Nee
Elektrisieteit by staanplekke?
Ja
Water by staanplekke?
Ja, nie drinkbaar
Staanplekke?
Gras met skadu
Swembaddens?
Warm en Koue Swembaddens
Winkel?
Winkel restaurant en kroeg
Ablusies
4uit 5
Sekuriteit
3uit 5
4x4 attraksies
4X4 roetes
Vir kinders?
Baie fasiliteite
Vaalpark Vrystaat

Johann L

Tue, 15/10/2019 - 06:38

Dankie vir die voledige terugvoering Chris,  ons was April die jaar in Montagu Guanu grot oord, en het ook die padwerke gehad. Dit was egter nie baie hinderlik nie, en het ons kans gegee om die pragtige natuurskoon te bewonder.

Montagu is 'n lieflike dorpie, my vrou sou graag daarheen wou trek, (of Franschoek) maar ons twee kleinkinders hou ons hier in Vaalpark.

Montagu Guanu grot

Ons het ook eers daarna gekyk maar 2 goed het my afgesit; hulle laat dagbesoekers toe en blykbaar is die speelplek ver van die kampterrein af. Is dit so? By Doringlaagte kon ons by ons kamp bly en die kinders kon lekker rondbeweeg tussen die speelareas en fiets ry.

Vaalpark Vrystaat

Johann L

Thu, 17/10/2019 - 07:58

Môre Chris, ja die kamp terein is redelik verwyder van die ontspannings area,  maar dit is weer juis wat ons gryskoppe verkies 😂

Daar is ook 'n hele mini zoo by die ontspannings area wat kinders baie sal geniet.👍