Ek gaan probeer om hulle vertelling op fb hier te plaas.
FB skakel.
Web skakel.

Toer Om SA - Dag 28
Saterdag 15 Februarie
Vandag is my oudste seun Jan Hendrik se verjaarsdag. Hy is vandag 30 jaar oud en ek verlang as ek met die koppie koffie in die hand oor die see staan en staar. As ons tuis was, was ons ook vanaand by sy party, want hulle bly net om die draai van ons af en glo vir my, dit gaan ʼn PARTY wees! Dis soms moeilike goed hierdie, die besluit om op vakansie te wees met iemand na aan jou se verjaarsdag. Watter verjaarsdag is nou die belangrikste, watter een mag jy nie mis nie en watter ander kan jy maar laat verbygaan?
As gesin het ons die kinders probeer leer om nie vir ʼn spesifieke geleentheid te wag (verjaarsdag, Kersfees, wat-ook-al) om iemand se lewe, blydskap, prestasie of vriendskap te celebrate nie, doen dit by vele geleenthede en moet nie wag vir ʼn spesifieke datum nie. Vertel die mense wat hulle vir jou beteken elke keer as jy hulle sien, nie net op ʼn spesifieke dag nie. Ek mis nogtans my seun.


Ons pak op, eet jogurt en vrugte en vat die pad. Vroeër jare het jy ʼn permit nodig gehad om hierdie 137 km roete na Strandfontein al langs die see af te ry. Die pad is redelik sanderig en moet jy maar momentum hou om nie vas te val nie, veral as daar opdraandes is. Die natuurskoon is ongelooflik met die see aan die regterkant en die uitgestrekte landskap links.
Hier kan jy nog enige plek kom tent opslaan en kom vakansie hou, hier op die see. Jy moet net genoeg drinkwater saambring, seker maak jy het ‘n battery en Solar krag en die see sal vir die kos sorg, in oorvloed. Ek wil dit nog eendag kom doen, hier die lewe kom ervaar, naby moeder natuur. Die kus hier is nog ongerep en min mense weet van hierdie juweel.

Ons vorder goed en ry verby Abraham Villiersbaai, Bruinklip, Geelklip, Blougat, oor die Brak rivier, Strandbaai, verby Brand se Baai tot by die Namakwa Sands myn waar ons op die teerpad klim na Koekenaap en Lutzville. Hierdie stuk kuslyn moet jy eintlik stadig beleef, so paar dae toer en plek-plek kamp om dit te waardeer.




Op Lutzville maak ons brandstof vol en doen aankope. Dis weer lekker warm hier in die binneland en ons mis die see-bries van die afgelope paar dae as ons die sweet afvee.

By Strandfontein boek ons vir twee dae, die kampplekke wat oor die see uitkyk met sy eie privaat ablusie. Die plek het twee kampplekke, die perdeskoen en die see-uitsig staanplekke elk met sy eie ablusie. Ek en Moeksie was al hier van-te-vore, twee keer. Die eerste keer het ons hier aangekom toe die kerkbasaar aan was oor ʼn Desember, die lekkerste lamsosaties wat ek nog geëet het. Die “ou” kampers het ons ook lekker bederf met kreef daardie keer.
Die volgende keer was ons te laat vir die sosaties, ook ʼn Desember, maar daar was gelukkig nog genoeg wyn om te koop. Ons het elke keer in die “oorloop” kampplek moes staan, Paxton, links van die perdeskoen teen die bult uit met geen uitsig nie, maar lekker beskerm teen die wind. Die rede hiervoor was dat ons vir jare oor Desembermaande ook net pad gevat het sonder om te bespreek en moet vat wat jy kry.

Ons is verbaas toe ons kamp opslaan, windstil met ʼn ongelooflike uitsig oor die see. Dis Saterdag en heelwat mense van die binneland kom naweke hier uitspan, die kampterrein is redelik vol, maar ons is gelukkig om plek voor te kon kry. Baie mense verkies die agterste plekke vir as die wind waai, dan kan hulle darem oorleef, soos die stukkend geskeurde gazebo daar eenkant sy windverhaal vertel, uitmekaar gebreek. Maar ons is gelukkig, nie ʼn briesie nie. Die dagbesoekers se braaiplekke hier onder ons is almal vol en die kinders hardloop op die gras en op die strand rond, speel en raas, soos dit hoort. Ek het altyd gesê ʼn stil kind is siek, veral in hierdie omstandighede. Dit voel skoon vreemd om so baie mense om jou te sien, moet eers weer daaraan gewoond raak.
Dis lekker om op so laatmiddag vuur aan te steek, die rokie trek regop boontoe as die son die prentjie voor ons oor die see mooi maak.

Anton gaan “roofkyk” die rugby by ʼn ou wat agter ons in ʼn Tiny kamp, een van daai klein karavaantjies. Hy hang so halfpad deur die venster en kyk as hy kort-kort swets, seker as die Bulle aanjaag.

Dis nie lank nie en raai wie kom hallo sê? Gerhard die Hollander wat besluit het hy wil nie alleen op Groenriviermond agterbly nie en het ons gevolg tot hier. Hy kom ook hier kamp. Om die kampvuur vertel hy ons die res van sy lewensverhaal, al die draaie wat hy al in die lewe gemaak het, die geld, die aandeel in die bakbouersbesigheid wat hy later verkoop het. Dit was ʼn GROOT besigheid, maar hy soek nou net ʼn lewensmaatjie met wie hy al hierdie dinge kan deel, hy is alleen. Hy moet weer volgende naweek terug wees in Pretoria, het ʼn afspraak met die kerk se orreliste, en wie weet….
Terwyl hy so vertel, gaan dit deur my gedagtes, die alleenheid, eensaamheid, nie iemand om, wat jy beleef en ervaar, mee te kan deel nie. Ek sê baie vir Moeksie, sal nie lank vat vir my om weer ʼn lewensmaatjie te moet soek as sy nie meer daar is nie. Sy moet weet dit is as gevolg van my lekker lewe saam met haar.

Die sonsondergang vanaand is WERKLIK besonder! Die hemelruim gevul met rye wolke wat soos watte in die lug hang en skakeringe van oranje, geel en rooi weerkaats as die son agter die horison verdwyn, ongelooflik mooi.

Die reuk van braaivleis vul die lug as die ander kampers begin braai en die gesels van die mense vertel jou hulle is gelukkig. Die varktjoppies, groente en knoffelbrood smaak vorentoe, veral saam met die wyn wat die Hollander gebring het, weer ʼn paar GOEIE rooiwyne en ons kuier tot laataand. Die koeligheid hier langs die see gaan ons lekker laat slaap, of is dit die wyn?
Toer Om SA - Dag 29
Sondag 16 Februarie
Moeksie is al besig met die skottegoed, toe ek my kop by die tent uitsteek. Die koffie wat jy met sulke klein slurpies opsuig terwyl jy op jou stoel sit en oor die see staar, is medisyne vir die liggaam. Die son is al uit en ek en Anton slaan die gazebo op. Hier is nie koeltebome nie en die son gaan ons vandag pak gee as jy nie oppas nie.

Anton se beurt vir ontbyt. Moeksie maak pap en hy en Magda braai wors, eiers en ʼn lekker bredie-sous wat alles opgeëet word, elke laaste krummeltjie. Na ontbyt is dit net rustig wees, Magda en Moeksie besig met hulle naaldwerk en Anton gaan stap ʼn vêr ent langs die strand. Moeksie kry selfs ʼn oggendslapie in so met die koel luggie uit die see.

Die middag ry ons Doringbaai toe, wil gaan kyk of ons nie ʼn vars vis of wie weet, dalk ʼn kreef kan koop nie. Die “bakkies” is lankal terug (dis wat hulle die klein skuite hier op die Wes-kus roep) en geen vars vis nie. Ons ry by ʼn winkel aan wat vis en kreef adverteer. Besluit om ʼn paar krefies te koop, gevries natuurlik en redelik duur, maar lus vir hierdie rooi gogga van die see saam met ʼn pak mossels.
Ons is skaars terug by die kamp toe die Hollander haastig aangestap kom, hy het hulp nodig. Hy het hom misgis met ʼn draai en sy Cruiser in ʼn sloot ingery. In my geestesoog sien ek die Cruiser daar onder naby die see lê, op sy dak. Daardie 4×4 paaie Suid van die dorp teen die see kan rof wees.
Ek, hy en Anton klim in die Hilux en is skaars 500m weg, hier staan die Cruiser dwars oor ʼn diep beton watersloot langs die teerpad, onderkant die perdeskoen kampterrein. Hy was op pad kafee toe en het homself misgis met die draai. Hy sit behoorlik en daar is nie ʼn manier wat ek hom sal kan uitsleep sonder om sy voertuig BAIE seer te maak nie. Hy sê hy ken iemand uit sy verlede hier op die dorp en sal hom gaan vra vir hulp.
By die kamp sit ons en kuier toe die Hollander na so twee ure, uitasem, weer by ons aankom. Hy het een van die locals gevra of hy ene meneer Hannes ken waarop hy sê hy ken hom goed en sal saam met die Hollander stap tot by sy huis. Hulle is sowat drie kilometer die dorp uit, kom by ʼn gehuggie aan en hy stel die Hollander aan meneer Hannes voor. Dis ʼn baie bejaarde kleurling man wat sy lewe lank hier op Strandfontein bly. Die Hollander sê baie dankie, maar dis nie heeltemal die regte man waarna hy soek nie en stap al die pad weer terug.
Nou is hy raad-op. Ek stel voor hy kry buitebande wat ons onder die Cruiser kan insit om beskerming te bied, of stene onder die wiele pak. Dit sal baie stene moet wees, want dis ʼn diep sloot, dan kan ek hom uitsleep. Hy is weg om te kyk wat hy gereël kan kry.
Sowat ʼn halfuur later stop hy met die Cruiser langs ons, een van die plaaslike manne met ʼn Landie het hom uitgekry met ʼn winch, eers bande en planke onder die Cruiser gepak en hom oor die sloot gesleep. Hy is baie verlig.

Ons maak ʼn vuurtjie en geniet die windstil laatmiddag saam met die mooi sonsondergang. Die krefies word gekook in die seewater wat ek gaan skep het, glo dit MOET seewater wees, gee die regte smaak aan die kreef. Die krefies en mossels is net voorgereg maar smaak nie soos vars kreef nie, effe teleurgesteld. Die hoender en braaibroodjies kom aan die beurt en is ʼn wenner, soos altyd. Sal my eersgeboortereg verkoop vir braaivleis en braaibroodjies, ‘n dieet wat ek elke dag kan volg.


Wat ʼn dag, die weer wat mooi saamgespeel het, die rustig by die kamp sit en ontspan deur al die Hollander se wedervaringe deur wat gelukkig goed geëindig het, ʼn volmaakte dag. Mens kan nie anders as lekker slaap na so dag nie.
Toer Om SA - Dag 30
Maandag 17 Februarie
Oudergewoonte is ons vroeg wakker. Moeksie skrop die potte en skottelgoed terwyl sy haarself verlustig in die mooi oggend wat besig is om te ontluik. Anton en Magda is wakker teen die tweede koppie koffie.
Ons is rustig met die oppak, want dis net 46 km na Lambertsbaai, ons volgende kampplek. Jy ry met die grondpad langs die spoorlyn wat ʼn tolpad is en aan Spoornet behoort. Dis ʼn netjiese grondpad en mense ry hom eerder as die 185 km teerpad oor Lutzville, Vredendal en Klawer.

Dis nog vroeg as ons in Lambertsbaai aankom en kan eers nie besluit of ons hier in die dorp wil kamp of eerder by Muisbosskerm wil gaan ontspan nie. Ek en Moeksie het al by beide gekamp en die dorp wen, want hier is heelwat te sien en doen. As ons by Muisbosskerm kamp, moet ons die hele tyd in- en uit ry om in die dorp te kom.
Die kampterrein is verlate en daar is nog een ander karavaan in die kamp. Ons kan kies en keur waar ons wil staan en soek maar die boompies op wat beskutting kan gee teen die wind van die see se kant af, want hier het jy dit nodig as hy begin waai. Ek en Moeksie is verbaas om die plek so leeg te sien, ʼn heel ander prentjie as die Desember toe ons laas hier was.
Hier kamp die mense groot, ek bedoel GROOT oor Desember. Het al gesien hoe mense ʼn draad heining, kompleet met ʼn voorhekkie, hier om hulle kampplekke span. Ander het ʼn ingeboude braai hier maak staan, kompleet met steenwerk en al. Die hout wat ʼn paar bondeltjies hoog reg rondom van die kampplekke gestapel word sê vir jou die mense kom staan nie net ʼn week of twee hier nie, en hulle hou van braai.
Dit is soos baie jare terug by Die Eiland naby Tzaneen waar ons dit ook beleef het, die platbak trok kom ingery met yskaste, wasmasjiene, hangkaste, beddens en matrasse – die hele huis se meubels, lyk dit as hulle begin afpak. Die werkers maak heeldag kamp en net as die vuur laatmiddag lekker brand, kom die oom en tannie in die Mercedes daar aangery, hulle kom kamp vir ʼn paar weke en die werkers kan terug plaas toe.


Nadat ons kamp opgeslaan het, gaan maak ons ʼn draai by Juanita Birkholtz by Sir Lamberts gastehuis. Erwin, haar man, kuier tans in Carletonville by sy pa se tagtigste verjaarsdag. Erwin, ʼn lewenslange vriend, het saam met ons op Schweizer Reneke grootgeword, sy pa was ons huisdokter, oom Frans.
Dis altyd lekker om ou vriende op te soek, iets wat ons nie genoeg doen as ons op vakansie is of deur plekke ry waar vriende of familie bly nie. Ons is te haastig, het nie nog tyd vir kuier nie, moet vakansie hou. Dan, eendag, as dit te laat is, wens ons ons het meer tyd gemaak vir mense wat inspraak in ons lewe gehad het, maar dan is die tyd verby, te laat, want hulle is nie meer daar nie.
By Spar koop ons rolletjies en ʼn paar ander goedjies. Die hot dogs terug by die kamp vul die ergste honger en ons besluit om rustig te verkeer by die kamp vir die res van die dag. Magda en Moeksie vorder fluks met die naaldwerk en breiwerk.
Later die middag gaan stap ons langs die see en die seereuk is uniek en vars hier teen die Wes-kus. Ons gaan soek later ʼn plek in die dorp wat Anton se waentjie se jockey wiel kan reguit buig, hy gee probleme. Ons kom by die PIENK werkswinkel aan, alles is pienk geverf, selfs ʼn piek tuinslang en Magda wil dadelik ook so een hê. Die man is baie hulpvaardig en met die hidroliese press gaan dit vinnig om die yster weer reguit te druk.


Net soos die son sy kop wil wegsteek oor die horison, bevind ons onsself op die stoep van Isabella’s, die bekende restaurant op die hawe en geniet die lekker weer waar Juanita by ons aansluit. Moeksie, Magda en Juanita bestel elkeen ʼn Weskus slaai op Juanita se aanbeveling. Ek en Anton bestel die vis van die dag wat ʼn lekker snoek is. Toe ek die Weskus slaai sien, is ek en Anton spyt ons het nie ook daarvoor gegaan nie, maar besluit dat ons sal terugkom vir hom.


Die gesels en ching-ching om die tafel getuig dat almal hulself geniet en spreek van BAIE LEKKER kuier saam met die regte geselskap!


Dis laataand en toemaaktyd toe ons die laaste glasie wyn wegsluk! Wat ʼn fantastiese aand!
Toer Om SA - Dag 31
Dinsdag 18 Februarie
Ons slaap laat as die bewolkte oggend besluit om ʼn misreën oor die dorp in te bring. Na koffie en shower besluit ons om by Sir Lambert’s te gaan kuier. Ek het bietjie rekenaar werk om te doen op die internet en Juanita het gesê ek is welkom om dit daar te kom doen. Na die kuiertjie en koffie klim ons terug in die Hilux, natuurlik nie sonder die twee plastieksakke in die hand nie.
Na gisteraand se lekker kuier nog vars in die gedagtes, besluit ons daar moet weer besoek afgelê word by Isabella’s op die hawe, moet daai Weskus slaai gaan proe. Dis amper Kaapse wintersweer as die windjie waai en die misreën alles nat hou. Ons geniet almal die Weskus slaai (en die wyn) en is nie haastig kampplek toe nie. Hier kan mens maklik vashaak en vergeet jy het ʼn huis, dis lekker.


Later die middag is ons terug by die kamp en Moeksie en Magda vorder fluks met die naaldwerk. Daar is nog genoeg tyd om ʼn middag-slapie in te werk, heerlik, veral in dié weer.
Ek is eerste op om die halwe drom reg te kry vir die vuur, want vanaand is die aand! Die rooi goggas gaan aandete verskaf, 10 van hulle op die kole. Dis redelik koel met ʼn windjie wat van die seekant af inkom, maar die bos aan die Westekant bied genoegsame beskutting dat ons almal om die vuur kan kuier. Ons het wel baadjies aan en Moeksie het haar kombers.
Vanaand word die half gekookte krewe in helftes gesny en op die kole gebraai met ʼn knoffel-botter sousie en suurlemoensap. Moeksie het klaar die mayonnaise en tamatiesous gemeng, ons eie seefood konkoksie. Ek en Anton dop die vleis uit die doppe en suig aan die pote so tussen die wynproe deur. Die leë bakke later die aand is genoegsame bewys dat almal, Moeksie ook, die kreef geniet het.


Die weer laat ons nie toe om laat buite te kuier nie en die vroeg bed toe gaan is dalk bestel, want more is dit opslaan en verder ry, sal nog besluit waarheen.
Toer Om SA - Dag 32
Woensdag 19 Februarie
Dis nog reënerig as ons opstaan. Ons hang rond, Magda en Moeksie was die skottelgoed en ons geniet ʼn koppie koffie (ek so drie) en besluit om eers na ontbyt kamp te kom afslaan. Dalk is die tente dan bietjie droër. Juanita het ons genooi om by Sir Lambert’s te kom ontbyt eet, dan het ons minder skottelgoed.
Die ontbyt by Juanita is ʼn GROOT bederf, die Full Monty soos jy dit net by Sir Lambert’s kan kry. Ek voel weer bevoorreg om sulke vriende te hê! Mense wat jou op die hande dra en bederf, geen moeite is te veel om jou lekker te laat kuier nie. Wens ek kan hulle ook so bederf, maar hulle kom min in ons wêreld. Sal maar die pay-it-forward ding doen, daar is baie geleentheid daarvoor.
Terug by die kamp is die tente redelik droog toe ons oppak.

Ons ry al langs die see af na Elandsbaai, drink koffie by die Wit Mossel Pot en ry verder al langs die see na Velddrif, waar ons weer voorraad aanvullings doen op ons pad na Paternoster.

Die 144 km vir die dag is als teerpad en ons het besluit om by Tietiesbaai te gaan kamp. Ek was al baie hier maar het nog nie by Tietiesbaai gekamp nie, was elke keer net ʼn dag-trip hierheen. Ek en Moeksie het al eenkeer hier op Paternoster in ʼn huisie gebly vir ʼn naweek, jare terug. Dis ʼn lekker plek hierdie.
Soos ons die pad verby die hotel in Paternoster ry, merk ons die interessante manier van die locals se groet, plat hand in die lug met die vingers wat vinnig na die palm toe en terug beweeg, wat beteken hulle is nog vars. Nee, jy verstaan verkeerd, nie die locals wat vars is nie, dis die kreef wat hulle verkoop wat vars en nog lewendig is.
Ons is wetsgehoorsame burgers en ons ry reguit verby hulle Tietiesbaai toe. Ons is redelik verbaas om te sien hier is heelwat kampers by Tietiesbaai en met die naweek wat voorlê, is daar nie baie kampplekke beskikbaar nie. Die plek wat ons kry is lekker beskut langs die rotse, maar ook naby genoeg aan die see. Hier gaan ons lekker kamp!

Die sonnetjie skyn lekker as ons begin opslaan, het die sonnetjie nodig, want die tente is nog redelik klam en hier is nie krag nie. Die sonpaneel moet die werk doen. Met die ablusie wat redelik vêr is, slaan ek ons porta skerm op vir as ons hom gaan nodig kry.

Anton se matras is klam en hy gooi die matras op die rotse voor ons uit om asem te kry. Die matras lyk so aanloklik en Anton maak homself tuis op die matras, so gemaklik dat hy soos ʼn rob in die son lê en bak.

Die mense kamp maar redelik rof hier en dit vat ʼn tydjie om al die gemors op te tel en die terrein om ons skoon te kry. Ek kan baie dinge verstaan en hanteer, maar die een ding, mense wat bottels teen die rotse stukkend gooi en die glasskerwe net so los! Daai een verstaan ek nog nie. Ek is seker nog nie so STERK soos hulle nie.
Daar is ʼn groot gewerskaf op die rotse tussen ons en die strand, ligtoring se kant toe, met ʼn groot klomp tente wat naby die ingang na die baai opgeslaan is. Ons sou later verneem dit is die jaarlikse On-The-Rock’s fees wat hierdie naweek hier aangebied gaan word. Blykbaar ʼn GROOT kuier hier op die rotse by die see.

Nadat ons kamp staan, besluit ons om die dorp te gaan besoek, ʼn paar ou herinnerings te gaan oproep. By die hotel is ‘n kuier en ʼn dop in die Panty Bar ʼn moet en ek dink terug aan die keer toe ek en Moeksie laas hier gekuier het. Die twee van ons saam met ʼn klomp oud-lede van die polisie wat jaarliks hulle reünie hier kom hou het. Dit was ʼn laaaang en lekker kuier saam met die manne, elkeen met ʼn storie wat jou dae lank kan besig hou.
Van die muurbehangsels (en die dak dekor) wil ek nie veel sê nie, jy moet dit self gaan besigtig. Maar wees gewaarsku, dis nie vir onder agtien nie, en jy MOET ʼn dop sit en drink om alles te kan inneem en waardeer. By die parkeerterrein onder die bloekoms voor die hotel is die aanbod van die mossels en rooi flapstert baie aanloklik, maar ons staan sterk.
Ons koop hout op ons pad terug kamp toe en help eers ʼn ou-ballie naby die ligtoring wat sy BMW motorfiets laat val het en nie alleen kan regop kry nie. Nee, hy is nie hoog-bo nie, hy is redelik tingerig, vol ge-kiet en met die omdraaislag op die dik sand het hy balans verloor en die fiets laat val. Hy het ʼn paar keer probeer om die fiets regop te kry, maar sy krag is te min.
Die windjie is stil en dit is die perfekte weer wat ons gebruik om ʼn glasie wyn (of twee of drie) op die rotse langs ons kampplek te sit en geniet, terwyl ons sien hoe die son sy kop stadig neerlê na nog ʼn perfekte dag. Die branders praat hard hier voor ons as hulle teen die rotse slaan en die massas water meters hoog die lug in skiet.
Hier sit jy en staar, elkeen besig met sy eie gedagtes en jy verlang na mense wat jy nie ken nie, dis ʼn salige gevoel. ʼn Emosie gevul met dankbaarheid vir al die genade, die geleende tyd. Dis kosbaar!






As ons die vuur aansteek is dit redelik koel met die son wat weg is en ʼn ligte windjie wat van die see af ingekom het. Die hout is nie van die bosveld (of Bray) af nie en rook ons behoorlik uit voor ons dit ordentlik kan laat vlamvat. Anton en Magda het afsprake by die tandarts in Durbanville gemaak, running repairs moet gedoen word en hulle gaan more na ontbyt oppak.
Ek en Moeksie gaan nog kamp en toer en wel, weet nie wanneer nie, by hulle in Durbanville by hulle huis aansluit. Van daar af sal ons weer saam toer. Die kuier om die vuur na die tjops en knoffelbrood duur nie lank nie, almal kry koud en ons gaan kruip vroeg in.
Toer Om SA - Dag 33
Donderdag 20 Februarie
As die ander hulle koppe by die tente uitsteek sit ek lankal op die rotse na die see en kyk, besig met my eie gedagtes en dink diep. Dit is terapie vir my, so te staar na die see, die berge of sommer net die natuur. Die koffie hier op die rotse het weer ʼn eie smaak, soos dit net hier kan proe.
Ons ry ablusie toe en gaan reinig onsself en ek moet bieg, die plek was nogal skoon en netjies. Net die reukie buite van die verstopte of vol riool wat nie lekker was nie. Wonder hoe dit die naweek se mense gaan hanteer en ek besluit by myself ek sal maar self more oppak.

Ons ry dorp toe en stop eers by die duikertjie wat voor ons oor die pad loop. Lekker om te weet hier is nog wild wat hier rondloop, weet nie vir hoe lank nog nie. Ons stop by die hotel en stap die winkeltjies deur, Moeksie en Magda meer sorgvuldig as ek en Anton. Hier is heelwat winkeltjies en jy kan redelik tyd hier spandeer.
Ons gaan eet ʼn brunch by Blikkie Pizzeria en raak lekker aan die gesels met die eienaar en ander besoekers. Dis ʼn Wes-kus huisie op die hoek van die straat met ʼn lekker groot stoep voor op die pad. Het al geleer, hier op die Weskus moet jy nie haastig wees nie, daar is altyd ʼn storie om na te luister of te vertel oor ʼn glasie wyn.

Ons help vir Anton en Magda oppak en ek en Moeksie geniet ʼn rustige middagslapie. As ons opstaan is dit vreemd om nie vir Anton en Magda hier te hê nie, dit voel so half eensaam sonder hulle. Ons gaan hulle mis die volgende paar dae.
Ek en Moeksie ry weer dorp toe, het besluit om ʼn kreefslaai vanaand saam met die ribbetjie te eet. Dit vat nie lank om die twee lewendige krewe op te spoor nie en ek dink anders hierdie keer as hulle in die sak agter in die bakkie val. Ek kry hierdie mense jammer as ek na al die stories van die mense op die dorp luister, vissermanne wat uit die see ʼn lewe gemaak het, maar nou kry hulle nie meer permitte nie.
Die stories al menige maal op televisie ook gesien, hulle LEWE is opgeskort. Hoe moet hulle nou maak, hoe moet hulle oorleef, waar moet hulle kos vandaan kom? Baie gesinne en families om te onderhou, wat sou ek gemaak het as ek in hulle skoene gestaan het? Ek weet nie rêrig nie, want die genade is nog oorvloedig in my bord. Maar ek voel vir hulle, die vissers van die Weskus.

Dis sommer lekker koud as die son laag op die see die einde van die dag aankondig. Dis weer ʼn besonderse sonsondergang met wolkies wat ekstra kleur aan die lug gee. Die krewe is in die potysterpot vol seewater op die kole en die ribbetjie begin stadig op die kant kleur kry. Vanaand, soos elke ander aand, is ons nie haastig nie en ek en Moeks geniet die geluid van die see wat die enigste klank is wat jy hoor, musiek in die ore.
Die kreefslaai (kreef, tamatie en uie baie fyn gekerf met ʼn bietjie seefood mayonnaise) saam met die ribbetjie is ʼn ete wat jy nêrens ter wêreld so lekker kan geniet soos hier nie, nie eens gepraat van wat jy daarvoor sal betaal nie! Ek en Moeksie geniet dit!!!


Die koue jaag ons vroeër as gewoonlik bed toe, of is dit ons geselskap wat nie vanaand saam met ons kuier nie. Ek kook eers water vir Moeksie se warmwatersak, anders gaan die ysblokke – haar voete – my koud maak deur die nag.
Toer Om SA - Dag 34
Vrydag 21 Februarie
Met die fees wat die naweek hier gaan plaasvind het ons besluit om verder te toer, maar ons is nie haastig nie en pak op ons tyd op. Dis redelik koel en die windjie waai wat die oppak lekker maak, hoef nie elke tien minute te rus en die sweet af te vee in die son nie.
Dis net na tien as ons die dorp uitry op pad na Langebaan. Ons moet eers daar gaan hallo sê. Ons het baie tyd, want dis net 105 km tot op Yzerfontein waar ons wil kamp.
My swaer Kobus en Anna, my oudste seun se skoonouers, bly op Langebaan. Kobus het sy droom hier kom lewe, diamante. Hy het ʼn konsessie in die see naby Groenriviermond wat hy wil delf, maar sukkel al ʼn geruime tyd om die regte boot te kry en die regte toerusting te installeer. Daarby saam het hy al vir ʼn geruime tyd kanker, wat hom onlangs weer in die hospitaal laat beland het.
Kobus is ʼn figther en niks kry hom onder nie. Ek glo hy kry swaar maar hy soek nie simpatie nie. ʼn Voorbeeld vir baie van ons. Daar is ʼn paar maande tevore, ʼn TV program “Diamond Divers SA”, van sy boot en die diamant industrie van klein diamant delwers van die see geskiet. Nogal die program gevolg en lekker gelag as my skoondogter Michelle al die inside info vir ons vertel van elke episode en wat die WAARHEID agter die skerms was. Net weer besef, moet nie alles glo wat jy op TV sien nie. Die pap word soms, of is dit meeste van die tyd, maar dik aangemaak. Mense soek mos sensasie.
By hulle huis aangekom, het hy nog gerus en kom groet ons toe hy opgestaan het. Sy neus bloei en hy voel baie verleë om so voor ons te sit met die lap voor sy neus. Dis nou al ʼn paar dae wat die neus nie wil ophou bloei nie. Soos altyd weerspieël hy hierdie sterk man, praat nog van wat hy alles moet doen om die boot op die see te kry, maar ek kan sien hy is moeg en kry swaar.
My seun het ons ʼn paar dae tevore laat weet dit gaan nie goed met Kobus nie. Ons geniet die tee en koekies en ons kan die waardering vir ons inloer op hulle gesigte sien toe hulle ons afsien. Ek en Moeksie is ʼn rukkie lank stil toe ons daar wegry, nie seker wat om vir mekaar te sê nie. Elkeen net besig met sy eie stilgebed.
Ons het besluit om op Yzerfontein te gaan kamp. Ons was al hier, baie jare gelede, vir ʼn goeie vriend Chris en Riana Esterhuise kom kuier wat hier kom vakansie hou het in ʼn huis. Ons het in die laat tagtigs vir vier jaar in Sibasa (die ou Venda) gebly en dis waar ons hulle leer ken het, groot vriende geraak.
Die kinders was nog klein en dis waar hulle die eerste keer kreef geëet het. Ons was gelukkig en het omtrent 15 KREWE, ja KREWE in die hande gekry. Dit was knewels. Party gekook en ander gebraai saam met die witmossels wat ons self gaan uit jive het. Dit was ʼn GROOT fees, het nog nooit weer soveel kreef op een slag geëet nie.
By die kampterrein se ontvangs is ons verbaas om te hoor daar is nog net twee staanplekke beskikbaar vir die naweek. Wat is die geleentheid in die dorp wat almal hierheen lok vir die naweek, wil ek weet? Niks, dis normaal en hulle is amper elke naweek van Desember af nog redelik vol bespreek. Ons kry ʼn goeie staanplek naby die ablusie tussen die laning boompies oorkant die speelpark.
Hier is al die kampplekke beskut teen die wind met die lanings bome aan weerskante geplant, wat ʼn heining vorm en het redelik gras. Net die aan die see se kant teen die duin het groot koeltebome, maar min gras. Nadat ons kamp opgeslaan het, gaan stort ons eers lekker voor ons aankope gaan doen.

By die Spar gaan doen ons aankope vir die naweek en “praat van die duiwel dan trap jy op sy stert” is die uitdrukking as jy van iemand praat en jou wrintie waar, hier is hy. ʼn Oud kollega van my, Jan en Hanle Marais, het hier kom aftree en hier staan hy voor ons in Spar. Hy nooi ons om ʼn wyn te kom drink later die middag.
Ons is terug kamp toe, eet ʼn broodjie en gaan soek vir Jan en Hanle op. Ons word gasvry ontvang en kuier op die stoep met ʼn mooi see uitsig. Die glasie wyn was dalk ʼn bottel of twee, maar dit was lekker om weer ou toue te vleg en oor die “goeie ou dae” te gesels.
Terug by die kamp is ons verbaas hoe vinnig die kamp vol raak. Dis na ses en die mense van die Kaap het seker nou hier aangekom. Ons stap met die plankiespad oor die duin wat uitkyk oor die strand en geniet die sonsondergang.
Ons kampvuur is goed op dreef toe ek die gesprek langs ons hoor. ʼn Man wat nie baie gelukkig is nie en sy vrou nog minder. Met die harwar tydens die pakkery het hy die pale van sy tent by die huis vergeet, nou moet hy terugry Durbanville toe om die pale te gaan haal.
Ek stap oor en bied aan dat hulle my tent (ek het altyd ʼn ekstra twee man tent by my as ek kamp, vir ingeval) kan leen vir die naweek. Ek help hulle opslaan en hulle dankbaarheid is oorvloedig, ek is net dankbaar dat ek iemand kon help. Ek reël met hom dat ek na die naweek iewers in Durbanville gaan wees en hom sal kontak om weer die tent terug te kry.
Ek en Moeksie het ons vergaap aan die mense, meestal jonges, wat hier kom kamp het vir die naweek. Die kar stop, tent word opgeslaan, matras word opgeblaas en saam met beddegoed – nie veel nie – in die tent gegooi. Dan gaan die kattebak oop, dit is die kombuis en hulle kuier uit die kattebak uit, kos en dop. Ons doop hulle die kar-kampers, soos ek dit gedoen het baie jare terug tydens Jool by RAU (UJ).
Wat het jy nou meer nodig, sal die antwoord wees as daar enige vrae gevra word. Soos gewoonlik stap ek en Moeksie na ete deur die kamp en geniet dit saam met die mense wat om die kampvure kuier.

Die atmosfeer die aand in die kamp is jolig, nie hard nie, maar gesellig en ons kuier tot laat om ons eie bosveld TV. Ek en Moeksie praat tot laat die aand in die tent oor die kar-kampers, eenvoudige manier van kamp, maar tog so lekker! Maar kamp sal ons kamp.
Toer Om SA - Dag 35
Saterdag 22 Februarie
Ons slaap lekker en staan eers laat op, dit is na son-op. Na ʼn paar koppies koffie besluit ons om verder te ry, miskien Paarl toe om by Swaerie te gaan kuier. Dit is my sussie Antoinette se man, Ben Vermooten. Hulle bly in Winelands Estate buite Paarl op die pad na Franschhoek.

Sus Antoinette en Swaerie
Die naam Swaerie kom al baie jare, toe ek nog gewerk het en baie by hulle oorgeslaap het met al my vergaderings in die Paarl. Hulle butler se naam was Christopher. Hy was die tuinier en huishulp en as ek daar stilgehou het was hy altyd daar om my baie vriendelik te groet “hallo Swaerie” en my tas te dra. Hy sal nie huis toe gaan as hy weet ek kom kuier nie, moet my eers verwelkom. Ek dink ek en Christopher het aan Ben die naam Swaerie gegee, baie jare terug.
Ons pak op en vat die 167 km pad na Paarl. Die padstal langs die pad lok ons in vir ʼn koppie koffie. Daar is baie snuisterye maar ons beursies bly toe, soms lekker om net deur te stap en na al die goedjies te kyk. Ons besluit om vir Swaer Kevan, my jongste seun se skoonpa op Melkbosstrand, te gaan hallo sê.
Kevan is deur ʼn moeilike tyd en het ʼn ruk gelede sy werk verloor. Hy het op kontrak by Koeberg gewerk en sy kontrak is nie hernu nie. Hy het ʼn nuwe meisie ontmoet, Zelda, wat baie goed na hom omsien. Ons kry hulle by die Restaurant waar Zelda werk. Ons geniet ʼn ligte voorgereg saam met Kevan en die gratis vonkelwyn wat Zelda aanbied en saam met ons geniet gaan goed af. Bly ons het vir Kevan weer gesien en vir Zelda ontmoet.
Die pad verder Paarl toe is vreemd, ek bedoel ongewoon, het lanklaas soveel karre op die pad gesien. Die afgelope 35 dae was daar maar min verkeer op die paaie waar ons gery het en ek verkies dit so, maar dit vat nie lank voor jy weer die ding gewoond raak nie. Die rat race waarmee ek vir soveel jare moes saamleef in Johannesburg.

By Swaerie aangekom is die huis vol mense, soos gewoonlik. Hulle hou ook van onthaal soos ek en Moeksie. Sy neef en die se vrou en hulle drie kinders uit Engeland is in die Kaap op vakansie en het vir die dag kom kuier. Ben se ma, tannie Charlotte, kuier ook uit Potchefstroom en seun Tertius se meisie Mari en oudste seun Ockie sluit die middag ook by ons aan. Dis lekker warm en die swembad bied lafenis teen die hitte van die Paarl.

Ezandri Ockie en Moeksie
Ons kuier gesellig en die vuur brand hoog. Swaerie se inkom in die familie is eintlik ʼn lang storie, maar ek sal ander dag alles vertel. Hy is amper meer soos ʼn broer vir my en die res van die familie as ʼn swaer. Vanaand is dit ontbeende skaapboud op die kole, soos net Swaerie dit kan doen. Dis n mooi middag hier by hulle, veral voor op die stoep, met ‘n mooi uitsig oor die berge!


Dis tyd vir fles vat, want almal wil ons storie hoor. Waar ons oral was, wat het ons gedoen, gesien, ervaar, te veel vir een aand om die vuur. Dis lank na die feesmaal van vleis, groente, slaaie en nagereg en al die gaste weg is en die ander in die bed, dat ek en Swaerie nog gesels oor die toer en al ons wedervaringe. Dit raak gewoonlik laat saam met hom voor ons gehoor gee aan die velle wat roep, dis ʼn ander naam vir ʼn bed.
Toer Om SA - Dag 36
Sondag 23 Februarie
Die slaap was luuks en ons ontwaak eers as die son al hoog sit. Ons geniet die gebruiklike koffie (of twee) en Antoinette bederf ons met ʼn groot ontbyt. Die vrae oor ons wedervaringe hou nie op nie en ons hou net aan vertel.
Ons luister saam met hulle na die kerkdiens oor die radio en ek verlang na my gemeente, my predikante se preke. Ons ry dorp toe, want Moeksie wil ander sandale koop. Gelukkig gaan dit vinnig. Dink Moeksie het ook benoud begin voel tussen al die mense in die Mall en nie lank ge-shop vir die sandale nie. Ons is nie meer soveel mense om ons gewoond nie en verkies die stilte van die bos.
Ons kuier die res van die dag saam met die familie en is rustig by die huis. Ben se sus Ri, kom ook die middag kuier en dis lekker om haar weer te sien. Swaerie is soos ek. Hy hou ook van braai en die middagete is steak en varktjops op die kole saam met slaai. Die middagslapie is net wat die dokter voorgeskryf het en ons staan heelwat later met nuwe energie op.

Ons – Ben, Anto, tannie Charlotte en ek en Moeksie – besluit om die aand net ʼn voorgereg of Sushi by Bossa Nova restaurant in die hoofstraat te gaan eet, net iets lig na die groot middagete. Ek dink ek het al aandele in hierdie restaurant, soveel kere het ek hier kom eet as ek vergaderings in die Paarl moes bywoon.
Die atmosfeer is lekker ontspanne met die uitsig vanaf die stoep oor die Hoofstraat en die plek is redelik vol, almal seker te lui (soos ons) om kos te maak. Die weer is lekker en ons is gesellig en kuier lekker tot redelik laat.
Terug by die huis sluit ek en Swaerie ons kuiertjie af met ʼn laaste knertsie, want more ry ons na Anton en Magda toe. Die weer is redelik warm en ons slaap lekker.
Toer Om SA - Dag 37
Maandag 24 Februarie
Dis Maandag en Ben en Anto is vroeg op, hulle moet gaan werk. Ons drink ʼn koffie saam met hulle en sien hulle af. Ek en Moeksie kry al ons goedjies bymekaar, pak die waentjie en vertrek na ons ontbyt geniet het. Die 35 km na Durbanville gaan vinnig, dis lank na spitsverkeer. Ons gaan ʼn paar dae hier vertoef, want die Hilux moet ingaan vir ʼn diens. Die petroltenks moet afgehaal en skoongemaak word en dit kan ʼn dag of twee neem.
Die waentjie is ook due vir ʼn diens na al die paaie wat hy deur is. Die afspraak vir die Hilux is reeds verlede week gemaak, hy moet more in. Anton beveel aan ek laat die waentjie by Speedy Exhaust nagaan, hulle gee hom altyd goeie diens en dit is net die wheel bearings en shocks wat na gekyk moet word. Die Hilux en waentjie wat moet ingaan vir dienste noop ons om amper alles af te pak en in Anton se garage te stoor. Dit vat nogal ʼn tydjie.
Na die afpak besluit ek en Moeksie om ander vriende wat in Somerset Wes bly, Bruce en Louise Morrison, te gaan opsoek. Ons ken hulle ook van ons Venda dae af. Ons word hartlik ontvang en gesels ou dae se dinge oor ʼn koppie tee en koek. Lekker om ou vriende op te soek en stories uit te ruil, werk, kinders en sommer net die verloop van die lewe.
Die aand by Anton en Magda is rustig en ons vertel hulle van die laaste paar dae se kamp. Dit was baie lekker, maar het hulle gemis. Hulle het al hulle running repairs gedoen, Anton se swembadpomp loop weer en hulle is reg om weer die pad saam met ons te vat.
Toer Om SA - Dag 38
Dinsdag 25 Februarie
Ek en Anton is vroeg op om die Hilux in te vat vir sy diens. By die garage verduidelik ek aan die diensbestuurder van die vuil petrol en gee die drie skroewe van die petrolfilter wat die ouens nie kon terugsit nie, aan hom. Hy sê dit gaan minstens twee, moontlik drie dae neem om beide petroltenks af te haal en skoon te maak en die diens te doen. Gelukkig het ons ʼn basis – Anton en Magda se huis – en ons is nie haastig nie.
Ons het besluit ons sal weer verder ry as alles gedoen is wat gedoen moet word. Ons ry terug huis toe om die waentjie te gaan haak. Moeksie en Magda is reeds weg om hare te gaan sny en ek en Anton gaan los die waentjie by Speedy vir sy diens. Ek is nie haastig om hom terug te kry nie en sê die manne moet ʼn goeie job doen, moet nog vêr ry die volgende paar weke, of maande.
Dis net voor twaalf toe ons al vier die pad vat in Anton se Fortuner, Bloubergstrand toe. Ons het ʼn paar jaar tevore ʼn eetplek hier ontdek wat ons elke keer MOET besoek as ons in die Kaap kom, Ons Huisie. Die weer is ongelooflik, een van daardie windstil sonskyn dae wat die kuier buite op die stoep met die uitsig oor die see na Tafelberg aan die oorkant en Robbeneiland aan die Westekant besonders maak. Sulke dae is nie volop nie en ons geniet die voorreg om hier te kuier.
Die gebruiklike Mosselpot as voorgereg is ʼn feesmaal op sy eie en ek vra vir nog van die spesiale broodjies om die laaste sous uit die potjie te skraap met die broodjie. Dis amper ʼn ete op sy eie,maar ons het tyd om laaaank te kuier saam met die glasies wyn en ons bestel hoofgereg. Ons Huisie se kos was nog altyd tops, veral op so mooi dag saam met vriende, dan smaak dit nog beter. Na die feesmaal is dit die gebruiklike draairoomys en ʼn entjie stap op die strand.
Ons ry terug, want twee ander oud kollegas en vriende is oorgenooi vir braaivleis, Chris Neethling en Jacques Crous. Terwyl ek en Anton die dinge by die huis regkry, gaan Moeksie en Magda besoek aflê by een Magda se gunsteling plekkies, die lapwinkel.
Die vuur brand lekker as Lolla, Anton en Magda se dogter en die Soutie, haar kêrel, opdaag. Chris en Jacques het ook intussen aangekom en die kuier raak lekker as ons al die stories hoor en ook ons eie vertel. Dis Soutie se beurt om vir die grootmense te braai, onder protes van Anton, want hy glo nie Soutie kan so goed soos hy braai nie.
Dis mos maar ʼn manne ding hierdie, niemand kan so lekker soos jyself braai nie, nooit. Dis of Soutie wat KAN braai of dis die steak wat goeie kwaliteit is, of dalk albei, want dit smaak soos ek daarvan hou, veral saam met die knoffelbroodjie. Die kuier gaan aan tot laataand en Moeksie trek amps toe ons eindelik bed se kant toe staan.
Dit was weer ʼn volmaakte dag, Ons Huisie, die weer, ou vriende, Hilux in vir diens, luuks slaap vanaand, lekker braaivleis, wat meer kan ek vra?
Toer Om SA - Dag 39
Woensdag 26 Februarie
Ons lê in vanoggend en staan stuk-stuk op en drink ʼn koffie of twee. Ek en Moeksie het na Anton en Magda se kampstoele gekyk oor die afgelope weke en besluit om ook sulkes te koop. Hulle sit baie gemaklik en verleen meer ondersteuning aan jou rug. Boonop kan die rugleuning verstel om plat te lê ook. Ek het al BAIE kampstoele gehad en uitprobeer en ek glo hierdie is die antwoord, veral Moeksie wat meer regop wil sit in ‘n stoel met ʼn armleuning. Ons ry na ontbyt na Brights hardeware en is gelukkig, hulle het nog net twee van die Kaufmann stoele in voorraad.

Terug by die huis begin Magda en Moeksie sakke maak vir die stoele, kan nie glo hoe verniel dit as dit net los lê agter in die bakkie van al die geskut nie. Ek en Anton ry om die waentjie te gaan haal. Hulle moes die shocks vervang. Een was mors-af gebreek, blykbaar al ʼn tyd terug, getuig die roes op die breekplek. Een van die boute wat die vere vashou, is ook soek en ek is gelukkig dat die vere nie afgekom het in die ry nie.
Ek gee ʼn sug van verligting en sê weer dankie vir die genade. Alles is versien en hy is weer reg vir die langpad. By die huis pak ek alles weer terug in die waentjie en ons parkeer hom voor Anton se huis op die grasperk. Dit was dalk ʼn fout, want menige mense stop en wil by Anton weet, hoeveel soek hy vir die waentjie? Hy is nie te koop nie en rus net vir die langpad, was elke keer die antwoord.
Anton het een van daai monitor stelsels gekoop wat deurlopend jou bande se druk monitor. Die vyf pap bande (ʼn paar stukkend gery) ʼn paar jaar gelede op ons toer deur Namibië, het hom oorreed om een aan te skaf. Kon dalk een of twee bande gered het, as hy dit toe al gehad het. Die een sensor het probleme gegee en hy het ʼn nuwe een bestel. Ons ry na 4×4 Mega World om die sensor te gaan haal.
Hy was nie baie gelukkig toe hy amper soveel vir die een sensor moes betaal as wat die hele stelsel hom gekos het nie. Ek het besluit om ook so monitor stelsel te koop, maar besluit om maar te wag tot ek terug is in Johannesburg. My vriend Martin het ook een en die prys waarteen hy hom gekoop het was aansienlik goedkoper as wat hy hier kos. Ek weet jy kry stelsels en stelsels, maar Martin het nog nooit probleme met syne gekry nie en hy gebruik hom permanent.
Die radio wat ek in Anton se Fortuner geïnstalleer het, het nie ʼn inplug luidspreker nie en die klank lol maar soms as ons met mekaar oor die radio’s praat. Ek het ʼn plek in Parow gebel wat radio’s en onderdele verkoop en hulle het ʼn luidspreker. Dis redelik uit die pad uit, maar ons besluit om te ry en een te gaan koop.
By die huis sit Moeksie en Magda weer vasgenael agter die naaimasjiene, want die stoele se sakke moet klaar en Anton het vir hom ʼn sonpaneel gekoop wat ook in ʼn sak moet kom.
Terwyl hulle besig is, gaan haal ek en Anton die Hilux net voor vyf. Hulle het laat weet hy is klaar. Die werkswinkel bestuurder wys my die vuil modder-petrol wat uit die ou filter gekom het.
Hulle het al twee die tenks afgehaal en mooi uitgespoel. Hulle kon egter ook nie al die skroefies wat die petrolfilter vasmaak terugkry nie, maar hy verseker my die twee wat in is, sal nie probleme gee nie en is genoegsaam. Ek is verlig oor die petroltenks wat skoon is, maar nie baie gelukkig dat hulle oor twee dae nie al die skroefies van die filter kon terugkry nie, maar nou ja.
Ons het besluit om take aways vir die aand te kry, want ons wil more weer pad vat. Moeksie en Magda eet die Nando burgers so tussen die werkery deur, hulle het nog heelwat om te doen en wil klaarmaak. Ek en Anton pak die voertuie en waentjies sover ons kan en besin oor die volgende kampplek.
Ons besluit ons gaan op Kleinmond kamp tot na die naweek en sommer al die familie en vriende van die omgewing nooi om saam met ons die naweek te kom spandeer. Die uitnodigings gaan uit en almal sien uit daarna om saam te kom kamp.
Die selfoon lui en dit is seun Jan Hendrik. Skoonpa Kobus is weer opgeneem in die Constantiaberg hospitaal en dit gaan nie goed nie. Michelle het af gevlieg en is ook daar om haar pa en ma te ondersteun. Ek en Moeksie besluit om more oggend eers gou daar by die hospitaal te gaan kuier voor ons pad vat.
Dis na elf as ek bed toe gaan en vir Magda alleen by die tafel los waar sy nog besig is met die naaimasjien. Sy is besig om vir elke stoel ʼn sakkie te maak wat oor die armleuning pas, waarin mens jou selfoon en nog ander los goedjies kan bêre. Dis nie moeite vir haar nie, die naaldwerk is terapie en sy is in haar element.
Toer Om SA - Dag 40
Donderdag 27 Februarie
Ek en Moeksie is vroeg op en kry vir Magda nog by die tafel agter die masjien, sy het deurnag gewerk en alles is nou klaar. Na koffie ry ek en Moeksie Constantiaberg hospitaal toe. Ons kry vir Anna onder by die ontvangs en drink ʼn koffie saam met haar. Michelle sluit later by ons aan en sê Kobus sal nie kan afkom nie en ons sal hom ongelukkig ook nie kan besoek nie, hulle is besig met toetse op hom. Sy gees is goed en hy is vol grappe, vertel Michelle.
Ons bestel ontbyt en kuier saam met hulle. Uit die opmerkings kan ek aflei dat Kobus se tyd dalk min is, weet nie rêrig nie, want dis nie in ons hande nie. My gemoed is rustig, want ek weet Kobus se siel is gereed. Ons het al diep gesprekke gehad, ek en my swaer. Ek was al by hierdie hospitaal, twee keer vantevore, vir ʼn kollega kom kuier wat kanker gehad het en Tiaan met sy rugoperasie. Ek weet Kobus is in goeie hande.
Dis net voor een as ons terug is by Anton-hulle en ons begin die laaste goedjies pak. Die 98 km tot by Kleinmond is ʼn pad met mooi natuurskoon en uitkykpunte, veral as jy deur Gordon’s baai, Rooiels en Betty’s baai al langs die see ry en nie oor Sir Lowry’s pas nie. Die waentjies is gehaak en ons vat koers Strand se kant toe.
Ek skrik eers toe ek skielik die stem oor die radio hoor, dit lanklaas gehoor. Hollies, Hollies, kom in. Ek staan by. Ons sê vir mekaar hoe opgewonde ons is om die toer verder saam aan te pak en sien weer uit na die kampery. Dit was lekker by hulle huis, maar het die kamp begin mis. Dis mooiweer en windstil en ons hou kort-kort stil op die pad anderkant Gordon’s baai, dis ʼn pragtige uitsig oor die see en bied heelwat Kodak moments.




Ons besluit om by Palmiet te kamp, want ek en Moeksie het al by die Kleinmond Karavaanpark aan die Oostekant van die dorp gekamp, tyd vir nuwe ervaringe.
Dit was oor ʼn Desember vakansie ʼn paar jaar gelede wat ons hier was, ken nie regtig die plek nie maar wil kom kyk. Ons was redelik benoud toe ons tussen al die locals kamp opslaan. Die voertuie, duur 4×4’s en luukse karavane laat my rustiger voel en die kreef en kos wat vir ons aangedra was, was werklik ʼn wonderlike belewenis. Net weer besef ons oordeel mense voor ons hulle ken, groot swakheid. Dit was werklik ʼn lekker paar aande tussen vriendelike en openhartige mense.
Dis net na drie as ons inboek by Palmiet en is gelukkig om ʼn lekker staanplek met ʼn mooi see-uitsig te kry, maar ook redelik beskut vir as die wind opkom. Dis ook groot genoeg en aangrensend aan die ander plekke wat ons vir die familie en vriende bespreek vir die naweek. Die enigste nadeel is die ablusie wat redelik vêr is, maar goeie oefening was nog nooit sleg vir ʼn mens nie. Die ander nadeel is al die kampers waar ek elke keer eers vashaak en stories hoor en vertel op pad ablusie toe en terug. Dan raak die uitstappie partykeer laaank, maar lekker as jy eers ʼn glasie moet saam drink.

As die kamp opgeslaan is, ry ons Spar toe om ʼn laaste paar inkopies te gaan doen. Veral hout vir die braaivleis van vannaand is belangrik! Die weer is fantasties en vanaand gaan weer spesiaal wees. Daar is heelwat ander kampers in die kamp en hulle sê die naweek gaan hy vol wees. Daar word ʼn groot jazz fees oor die naweek hier aangebied.
Ons sit op die “nuwe” stoele, myne net met ʼn rooi kolletjie naellak op, want al my kampgoed is so gemerk, iewers met ʼn kolletjie rooi naellak om seker te maak ek kry my eie terug. Die vuurtjie brand en die rokie trek regop boontoe, nie ʼn windjie nie. Dis wonderlike weer en jy sien en hoor die branders daar onder by die see op die strand breek. Ons is gelukkig om hierdie uitsig te hê!

Ons is nie haastig met die ribbetjie en braaibroodjies nie, want die wyn hier in Kleinmond smaak anders, veral as jy hom stadig in die mond spoel terwyl jy oor die see uitkyk en hom sluk. Moet ʼn duur bottel gewees het, of dalk is dit net die ambuans wat die smaak gee. As die sonnetjie sak, is daar ʼn lekker koeligheid wat die dag se hitte tem.
Na ete kuier ons nog lank om die vuur wat hoog brand, wil dalk seker maak die stoele was die regte koop. Die voetstoeltjies wat ons het, is ook net die regte hoogte vir die stoele en Moeksie se manier van sit bevestig dat dit die regte koop was. Sy is gemaklik soos ek haar daar sien sit, of is dit dalk die wyn hier op Kleinmond wat mens so laat ontspan, wonder ek.
Toer Om SA - Dag 41
Vrydag 28 Februarie
Ons is vroeg op om die dag te sien breek as die koppie koffie die hande warm hou. Anton en Magda moet Paarl toe vandag, hulle het onderskeidelik ʼn tandarts en dokters afspraak, die laaste van die running repairs wat afgehandel moet word. Ons sien hulle af en ek en Moeksie geniet die rustigheid en uitsig vanaf ons kampplek. Ons gaan stap later ʼn ent langs die see en gaan sit op die strand en luister net na die see se inspraak.
Die windjie begin teen middag opsteek, maar ons is lekker beskut en geniet dit om so in die sonnetjie te sit en bak. Moeksie met haar breipenne in hand en ek wat met die kamera en 500mm lens speel. Anton en Magda is vroegmiddag terug en ons beplan die ete, want vriend Pieter en Linda Cilliers kom later van Worcester af om hallo te kom sê. Die kamp raak redelik vinnig vol as die mense aankom wat die Jazz Fees kom besoek.

Anton / Pieter / Hollies
Linda / Magda / Moeksie
Dis lekker om weer vir Pieter en Linda te sien en dit vat nie lank voor ons fles vat nie. Pieter het my laat oorskakel Captain Morgan Rum toe, baie jare gelede. Hy was lank saam met my in verkope en ons het BAIE konferensies en vergaderings bygewoon waar die twee van ons fles gevat het, die lekker ou dae.
Ek het vir baie jare Red Heart Rum gedrink voor die oorskakeling. Dit gee ʼn man borshare en jou ore suis die volgende oggend as vroulief kla oor die reuk wat jy vir nog baie ure lank uitsweet. Die asem, veral as jy knoffelbrood ook geëet het, is ook rof. Ons drie manne kom al ʼn lang pad saam, sowat twintig jaar al vriende en langer kollegas en die gesels gaan aan waar ons dit laas laat staan het. Die vrouens is ook na aan mekaar en die kuier is lekker.

Die vuur is aan en die steak en braaibroodjies kan nie gou genoeg gaar word nie. Ons is redelik honger en Pieter en Linda het besluit om nie oor te slaap nie, maar weer terug te ry Worcester toe. Pieter is ook al ʼn paar jaar op pensioen en ʼn baie besige man, weet nie waarmee nie, maar hy moet terug huis toe.
Na ete is hulle in die pad en die res van ons mors nie baie tyd daarna voor ons velle toe is nie. Die kuier was lekker gesellig en dit vat nie lank voor die slaap intree terwyl die windjie buite roer nie.
Toer Om SA - Dag 42
Saterdag 1 Maart
Ons wag vir die son om hoog te sit, voor ons kop by die tente uitsteek. Ek is eers ordentlik wakker na die derde koppie koffie as ek en Anton besin wie waar gaan opslaan, Ben en Antoinette, Chris Neethling en sy meisie Jacqui en Lolla en Soutie kom vanaand saam kamp.
Ons was nog besig met die besinning toe Ben en Anto en tannie Charlotte opdaag. Ben se waentjie staan agter myne teen die heining. Tannie Charlotte het gereël dat sy by ʼn ou vriendin van haar wat hier op Kleinmond bly, gaan oorslaap. Ek en Ben gaan soek die plek en laai sy ma af. Ons sal haar later die middag weer kom haal voor ons braai.
Ons is net terug toe Chris en Jacqui en net daarna, Lolla en Soutie ook opdaag. Ons wys waar almal moet opslaan en gee hand waar ons kan. Moeksie en Magda gaan maak ʼn draai by die lokale naaldwerkwinkel, want Moeksie wil ʼn kombersie maak vir tannie Charlotte. Chris en Jacqui bespreek ʼn kamer by ʼn gastehuis. Hulle gaan nie kamp nie, maar saam kuier. Ons kampplekkie is nou vol en die gesels neem ʼn ander toonhoogte aan, dit raak baie gesellig!
Dis net na 12,toe ons op die dek van die Shellfish Restaurant en Shushi Bar sit met ʼn paar bottels wyn wat tussen die twee tafels wat langs mekaar geskuif is, rondgestuur word. Dis besig hier by die hawe, want dis waar die Jazz Fees aangebied word. Die groot wit tent onder by die hawe is die hoof attraksie, maar ons het besluit om hier op die dek te kuier waar jy die musiek kan hoor en oor alles uitkyk.
Ons geniet die miernes van bedrywighede wat onder ons in die straat afspeel en almal is vriendelik. As ons van hier bo af groet en skerts met van die feesgangers, skerts hulle vriendelik terug. Reg onder ons is ʼn verhoog op die sypaadjie, waar daar gisteraand en weer vanaand optredes sal wees. Van die eetplekke se manier om gaste te lok vir etes en kuier. Die leë bottels wyn wat vinnig ophoop wil sê ons kuier al ʼn paar dae hier en almal geniet die bordjies snacks wat van tyd tot tyd bestel en verorber word.

As ons net na vieruur die trappe afstap, haak my voete op die verhoog op die sypaadjie vas en my lyf gaan outomaties aan die beweeg op die ritme van die musiek. Die agtergrond musiek is redelik hard en bekend. Voor ek my kon kry, is die denkbeeldige mikrofoon in my hand. My band is op ʼn roll en my vertoning trek vinnig heelwat toeskouers.
Die applous as die musiek eindig, laat my dink dat ek dalk my verborge talent ontdek het. Of dalk is dit die wyn wat praat, maar die mense skater-lag en vra vir nog toe die werklikheid my oorval en na ʼn buiging doodluisters van die verhoog afstap. Die hele straat cheer as ek aanstap kar toe.
Ons is almal terug by die kamp en stap af see toe, moet eers voete in die water gaan natmaak. Ek sê mos altyd : Jy kan nie sê jy was by die see, as jou voete nie seewater geproe het nie.
Die windjie roer goed as die sproei van die branders wat breek terug gewaai word see se kant toe en ʼn mooi Kodak moment bied met elke brander wat breek. Ek voel geseënd om so oor die waters te gluur, met familie en vriende wat oral om my sit en gesels en die oomblikke geniet. Die lewe is ʼn LIED.




Die vuur brand hoog, Moeksie en Magda met breiwerk in die hand, die res op stoele en die manne staan om die vuur. Tannie Charlotte is baie dankbaar vir haar kombers wat Moeksie vir haar gemaak het en is snoesig om haar bene gevou.

As die kos gaar is, getuig die stilte wat aanbreek dat almal die feesmaal van die verskeidenheid vleise saam met die groente en knoffelbrood terdeë geniet. Nog hout word op die vuur gegooi. Die aand is nog jonk en daar is nog baie om te sê. Dis Nuwe maan en die vure wat by die kampplekke brand, is ekstra helder.
Dis laataand as ons, na nog ʼn onvergeetlike dag, mekaar nagsê en gaan inkruip.
Toer Om SA - Dag 43
Sondag 2 Maart
Ons het gisteraand om die kampvuur besluit om vanoggend almal by een van die restaurante by die hawe ontbyt te gaan eet en eers daarna te kom kamp afslaan. Anton het vir Frans en Yvonne, ook ʼn oud kollega en vriend wat op Onrus kom aftree het, genooi om by ons te kom aansluit vir ontbyt.
Die wind waai onplesierig as Frans en Yvonne reeds vir ons sit en wag by die restaurant. Ons groet en hulle wil die hele verhaal hoor. Ons deel ons stories en gesels oor “daardie” dae – Frans was saam met Anton ʼn Streekbestuurder vir ʼn aantal jare en ook op ‘n stadium my baas. Dis lekker om net te sit, jou bestelling te plaas, lekker te eet, gesels en dan op te staan sodat ander mense die skottelgoed kan was. Die ontbyt hier by die restaurant was ʼn goeie voorstel.
Die oppak in die sterk wind is ʼn uitdaging, maar ons vorder goed. Ons gaan ook vandag verder, weet nog nie waarheen nie. Almal betuig groot dank vir die reëlings om almal saam te genooi het vir die kamp en elkeen vat pad in sy eie rigting. Ons en Anton-hulle deur Hermanus, en Stanford na Struisbaai. Na ʼn paar draaie ry ons Arniston toe, wil graag daar gaan kamp en die Waenhuiskrans Natuurreservaat gaan besoek en ervaar. Het al baie en mooi foto’s van die bekende grot gesien, wil dit ook gaan afneem.

Dis Sondag middag en daar is nie ʼn siel by die ontvangs van die kampterrein nie, dis gesluit. Gelukkig is die boom nie toe nie en ons ry deur na die kampplekke. Dis vreemd om die kampplek so te sien, net twee ander kampers in die hele terrein.
Ek en Moeksie wou al een Desember hier kamp toe ons hier verby is, maar kon nie plek kry vir een nag nie. Hy was vol en ons moes op die grasperk van goeie kennisse en oud kolega van Moeksie (Nantes en Kiewiet) se vakansiehuis in Struisbaai kamp opslaan. Ook ʼn lekker kuier gewees.
Die windjie roer nog en ons slaan kamp op aan die Suidekant van die terrein, langs die sandwal wat met bome beplant is en beskutting bied en ook lekker naby die ablusie.

Na die opslaan ry ons ʼn draai en is beïndruk met Kassiesbaai. Die huisies en eetplekkies word netjies in stand gehou en almal wat vriendelik groet as jy verbyry. Ons stop by die hotel en drink ʼn lekker koue melkskommel op die stoep.


Ons steek ʼn vuurtjie aan en gaan geniet die warm storte in die netjiese en skoon ablusie. Ons braai vroeg, wil na gisteraand se kuier ʼn bietjie vroeër in die bed kom. Dit was ʼn BESIGE naweek en ons geniet die rustigheid as ons om die vuurtjie kuier. Ek en Moeksie geniet ons nuwe stoele.
Toer Om SA - Dag 44
Maandag 3 Maart
Ons staan rustig op, so om-en-by tweede mossie en geniet die koffie. Ons het besluit om Struisbaai en L’Agulhas toe te ry en die dag daar te gaan deurbring.
Ons eerste stop is die bekende mees Suidelike punt van Afrika, waar die Indiese en Atlantiese oseane mekaar ontmoet. Daar moet ons eers die oomblik op kamera vaslê en die kameras kliek. Ek neem ook ʼn paar foto’s vir ander besoekers met hulle kameras, gereelde ding wat ek doen. Dis lekkerder as al twee die mense op dieselfde foto is as elkeen apart op twee foto’s.


Ons stop by die skeepswrak van die Japanese visboot, die Meisho Maru wat in 1982 hier gestrand het en ek besef net weer, niks is bestand teen die “rooi gogga” (my naam vir roes) van die seewater nie, niks. Ek wonder hoe lank gaan hierdie besienswaardigheid nog vir die nageslag behoue bly as die golwe onophoudelik, dag en nag teen die romp slaan. So asof hulle wil sê hy moet uit die pad uit. Ons kus is mos bekend vir al die skeepswrakke wat getuie is van die stormsee om Suid Afrika, wil nog ʼn toer doen om almal te gaan besoek en elkeen se storie te hoor.

Ons ry verder Oos die reservaat in en sien nog oral in die vlak see die oorblyfsels van die viskrale van toeka se dae. Die klippe in ʼn kraal gepak en as die gety sak, die vis wat in die kraal vasgevang is na die hooggety, gaan uithaal. Die een wat in die vorm van ʼn hart gepak was, vang die oog. Wonder wat deur sy gedagtes gegaan het om hierdie vorm te pak, verlore liefde of dalk sy liefde vir die see. Ons stap rond en verwonder ons aan die ongereptheid van die omgewing. Dankbaar dat dit as ʼn natuur reservaat beskerming sal bied, sodat my kinders dit ook eendag kan kom aanskou.




Die besoek aan die vuurtoring was werklik ʼn ervaring, waar Maureen ons elke klein detail van die geskiedenis van die toring en die omgewing entoesiasties vertel het. Ek kan sien dis haar passie. Die plek is ʼn museum met al die foto’s van ander vuurtorings en hulle geskiedenis wat teen die mure pryk, tesame met skeepswrakke en ander interessante artikels. Sy weet tot op watter dae watter bekende skepe hier sal verbykom. Die uitsig van bo, as jy kans sien om al die houtleer trappies te klim, is die moeite werd!





Die hawe by Struisbaai mag ons nie mis nie, daar is ʼn restaurant wat heerlike vars vir bedien. Ons is aangenaam verras om vir Vollie, my niggie Else se man, hier raak te loop. Ek was nog ʼn jong seuntjie toe ons baie jare gelede hier vir hulle kom kuier het by hulle vakansiehuis. Daardie jare was hier nog min huise en amper geen ontwikkeling nie. Dit kan in die jare laat sestig / vroeg sewentigs gewees het?
Hulle het jare gelede al hier kom aftree en ons het sedertdien al ʼn hele paar keer vir hulle kom hallo sê as ons hier verbykom. Die bier is lekker koud en ons verwonder ons aan die skuit wat honderde Geelsterte aflaai, vars uit die see. Dit was ʼn suksesvolle dag, lanklaas so vangs aanskou.
Nig Muriel (Meeu soos ons haar ken), Else se sus, het ook hier kom aftree en sy sluit by ons aan. Else is ook op pad, net nog besig met haar Pilatus klas. Sy lyk BESONDER goed en is soos altyd kaalvoet as sy op die tafel by ons kom sit. Sy vertel ons wat ons als moet doen, die skeepswrak en reservaat (reeds gedoen) en vertel van haar groot pel Maureen by die vuurtoring, ʼn plek wat ons MOET besoek. Sy is bly as ons haar vertel hoe ons Maureen geniet het. Altyd lekker om hierdie familie te kom opsoek, ons geniet hulle.

Vollie Else Meeu
Anton stap op die sementblad af waar die bote ge-launch word om vir Parrie, internasionaal bekende Stingray haai en sy vriende, te gaan groet. Else wys ons hoe hy haar hand blou gedruk het teen die sementblad, toe sy hom voer en as hy speel. Hy weet nie hoeveel krag hy het nie.
Anton is in verwondering as hy vir Parrie en vriende hier voor hom in die vlak water sien speel, voorwaar ʼn wonderwerk. Voor ons ry, verneem ons of die winkel nie vars vis het nie. Ons moes maar teleurgesteld die pad vat, alles uitverkoop.
Ons steek vuur aan om die tjops en braaibroodjies te braai as ons oor die dag se ervarings gesels, voorwaar ʼn dag vol nuwe belewenisse wat lank by ons sal bly. Dis effe koel, maar ons gooi nog ʼn paar stompe op die vuur, moet eers die dag ordentlik verteer voor ons kooi toe gaan. Ons kan nie more weer sonder vis huis toe kom nie, ons moet ʼn plan maak.
Toer Om SA - Dag 45
Dinsdag 4 Maart
Vandag het ons ʼn afspraak met die bekende grot. Dis so groot, dat ʼn ossewa in hom kon draai en net behoorlik besigtig kan word as dit laagwater is. Na die koffie en shower is ons op pad, nie ver nie en mens kan amper soontoe stap, sowat twee km van die kampplek af, maar ons ry en geniet die laaste paar honderd meter wat 4×4 vereis as gevolg van die los sand tot bo by die parkeerterrein by die uitkykpunt. Dis ʼn entjie se afklim van die parkeerterrein om by die see uit te kom. Dis laagwater en die rotsbanke is mooi oop.
Ons stap versigtig op die gladde rotsbanke na die voorpunt vanwaar jy die grot van die see se kant af kan inkyk. Na ʼn paar foto’s loop ons weer terug en ontdek waar die ingang na die agterkant van die grot is. Dis ʼn redelike klein opening waarheen jy gebukkend moet loop en waardeur jy klim en dan, die opening wat gaap na die see se kant toe wat jou begroet as jy deur is.





Dis nog mooier as die foto’s wat ek al gesien het. Dit moet die emosie wees as jy hier agter sit en deur die gapende grot se mond oor die see uitkyk. Dis asemrowend! Die grot is diep na agter maar die water kom redelik ver in middel deur na die agterkant met loopvlakke aan die kante tot naby die bek van die grot teen die see. Ons gaan sit eers op die rotse naby die water en kan nie ophou foto’s neem nie, dis mooi.
Daar is nog twee ander pare besoekers saam met ons in die grot en dit gee die geleentheid om foto’s te neem, sonder dat daar heeltyd mense in die foto verskyn. Net die opening en die see. Die een of twee kere wat daar wel mense in die mond van die grot naby die seekant staan, verwelkom jy dit, want dit gee dimensie aan die grootheid van die grot. Dis hier waar ek besef ek sal maar moet begin spaar om daardie droom te koop. Die wyehoek lens wat ek lankal oor dink.


Dis Anton wat oor die klippe klouter om nader aan die water te kom. ʼn Klein kransduif het in die water beland en probeer uitkom as die golwe elke keer sy pogings kortwiek en hom net dieper die water insleep. Hy bly net buite bereik van Anton se helpende hande. Die minute tik verby en jy kan sien die duifie se kragte is min, hy het ophou fladder. Hy dryf nou net op die water. Ons voel magteloos en moet toekyk hoe die see hom ʼn paar keer omdop en teen die rotse spoel tot die beweginglose voël, kop onder die water, by die mond van die grot, die oop see ingetrek word.
Mens voel jy het hom versaak, voel amper of jy ʼn mens hier voor jou sien verdrink het, terwyl jy magteloos toekyk. Wonder of dit ons skuld is, het ons hom kom pla dat hy probeer uitvlieg en in die water beland het, maar dis die lewe en die verloop van die natuur. Soms kan jy nie anders nie as net te kyk, te wonder en ʼn gevoel van dankbaarheid en genade jou oorspoel dat jy die toeskouer en nie die deelnemer is nie.



Ons spandeer redelik tyd in die grot en klim en klouter van hoek tot kant om foto’s van alle moontlike hoeke af te kan neem. Dit smaak my dis die laaste foto’s wat ek ooit gaan neem, want ek kan nie ophou nie. Ek moet elke oomblik vaslê.



Met die opklimslag terug na die parkeerterrein loop ons in nig Meeu en haar seun Dielies, sy vrou en kind vas. Hy werk in Kanada en het vir sy ma kom kuier. Ons groet vlugtig en gesels ʼn paar woorde. Het hom laas gesien toe hy nog ʼn tjokkertjie was.
Dis net na drie en ons ry hotel toe en gaan drink weer ʼn melkskommel op die stoep. Die wind is rustig en dis ʼn mooi uitsig hier van die stoep af. Voel of mens die hele dag net hier kan sit en chill met so uitsig. Ek en Anton merk dat daar beweging is by die hawe en sê vir die vrouens hulle moet die Hilux terugry kamp toe, ons sal kom.
Ons stap hawe toe en sien die skuit waar hulle die laaste Geelsterte aflaai, dis mooi visse, amper net soos ons gister in Struisbaai gesien het. Ons vra of hulle nie een wil verkoop nie en ons wil eers nie aanvaar toe ons gesê word dat hulle alles klaar verkoop het nie.

Moedeloos vat ons die pad terug kamp toe, maar net verby die hotel besluit ons, ons het te maklik die antwoord aanvaar. Ons draai in ons spore om en stap terug. Al die vis is reeds in groot kratte gepak en die skipper en ʼn netjies geklede man, staan en gesels. Ons staan nader en vra ons of ons nie net een vis kan koop nie, waarop die netjies geklede man vra : Watter een wil julle hê? Ons vra nie prys nie en kies ʼn redelike een, een wat padkos ook sal verskaf. Een van die manne maak hom vir ons skoon en vlek hom, soos ek daarvan hou. Die paar rand wat ons betaal, sal maak dat ek elke dag my kos hier sal kom koop, vars en goedkoop.
Die pad terug kamp toe is kort van die opgewondenheid in ons om so lekker vars vis te kon kry. Die vuur word aangesteek en Moeksie moet die sousie regkry. Die sonnetjie is nog nie onder nie en die weer is mooi, reg vir visbraai.
Die stoele word uitgesit en ʼn wyntjie vul die glase as ons rustig raak en die middag verder geniet. As die kole reg is, skuif ek en Anton elkeen ʼn voetstoeltjie nader aan die braaier, net ʼn lekker hoogte om die rooster dop te hou en te draai.
Die Geelstert is te groot en ons kry net een helfte in die rooster. Vanaand sal ons twee keer moet braai, maar ek is vol energie! Veral as ek die sousie (botter, knoffel en appelkooskonfyt gesmelt in ʼn bakkie) oor die vis druip en dit in die kole drup en die geur vul die lug. Vanaand kuier ek besonder lekker, moet die uitsien na die vars gebraaide Geelstert wees.
Die eerste helfte, genoeg vir ten minste ses mense, is gaar en ons skep slaai, ʼn broodjie en die vars vis. Die ander helfte van die Geelstert is stadig besig op die kole as ons onsself soos vrate gedra en vinnig die eerste helfte van die vis opvreet. Die woorde en geluide tydens die ete sê vir my dit was ʼn sukses! Die varsheid van die vis en die sousie het mooi gepaar, ʼn wenresep.

Hollies & Anton
Ons is redelik versadig, as die ander helfte gaar is en ons is bly daar is ontbyt of dalk padkos oor. Die besluit is geneem, ons gaan more weer aanry.
Kon nie vir ʼn mooier dag gevra het nie.





Toer Om SA - Dag 27
Vrydag 14 Februarie
Dis Valentynsdag en ons is nie haastig om op te staan nie. Dis nog windstil en die koffie en beskuit met die uitsig oor die see gaan goed af. Ons besluit om rustig te kuier en eers later te gaan rondry en die area te verken, of sal ek sê aan Anton en Magda voor te stel.
Teen die tyd wat Anton met die Frensch toast begin is die windjie al stewig, maar die gazebo is ons redding. Na ete gaan lê Moeksie weer in die bed en boeklees. Alhoewel ons in die son staan, koel die windjie dit genoegsaam af en is die tent nie te warm nie. Anton en ek verken die rotse voor ons kampplek en bewonder die golwe wat hoog teen die rotse uitslaan. Hier is nog baie vis en kreef in hierdie ongeskonde see, vertel ons vir mekaar. ʼn Vriend van my van Lambertsbaai het my al daai ding vertel, BAIE kreef hier.
Die gedreun van ʼn voertuig laat ons kop uitsteek by die gazebo. Die man stop in die pad en kom nader gestap. Sy naam is Ian en kom van Rustenburg, werk daar op die myn. Die mense van die myn strike en hy het besluit om gou ʼn wegbreek te maak na hierdie deel van die land, was nog nooit hier nie. Pelle het hom vertel hy kan maklik met die pad hierlangs ry tot by Strandfontein en wil verneem of dit so is.
Hy het ʼn 2×4 en sleep ʼn gewone waentjie. Hy dra ʼn hoed, want hy het velkanker en ʼn lelike veluitslag in sy gesig, blykbaar die effek van nuwe medikasie wat hy spesifiek daarvoor gebruik. Die dokter het gesê dit gaan so lyk voor dit beter word, maar sal na ʼn paar dae heeltemal opklaar. Ons oortuig hom om sy vrou te kry en eers ʼn bier saam met ons te drink voor hy pad vat.
Ek ken nie die pad vorentoe nie, het gehoor dis maar dik sand en jy moet momentum hou as jy nie wil vasval nie. Ek is effe bekommerd oor die waentjie wat hy sleep, hy is BAIE laag. Hy gee ons ʼn sak hout en besluit om die pad aan te pak. Ons sê hy moet nie te gespanne raak as hy iewers gestrand raak nie, want ons kom more agter hom aan. Ons gaan ook Strandfontein toe en sal hom uithaal as hy vasval.
Die tweede bier was nog nie half nie, hier staan Ian weer onder die gazebo, uitasem geloop. Hy het nie vêr gevorder nie, sit met die voertuig en waentjie se aste op die grond sowat ʼn kilometer weg. Die Hilux is ʼn YSTER met die uitsleep van die bakkie, nadat ons eers die waentjie afgehak het wat soos ʼn ploeg in die sand agterna gesleep is. Ek begrawe ook die Hilux in die sand met die eerste poging maar die donkierat en in eerste, wip hy gemaklik uit. Ian besluit om eerder die ompad binneland te ry en nie verder te sukkel nie.
Ons ry later eers Noord tot by die vuurtoring, maar nie voor ek die man in die Cruiser die slegte nuus moes gaan meedeel dat sy linker voorwiel pap is nie. Hy weet, sê hy, as ek hom wakkermaak. Hy wag net dat dit koeler word voor hy hom omruil. Ek bied ons hulp aan en wys hom waar ons kamp, sou hy hulp benodig. Ons ry daarna in die rigting van die riviermond en gaan stap op die strand. Die flaminke in die riviermond is ʼn mooi gesig. Die seesand tussen die tone voel goed en ons stap ʼn vêr ent voor ons gaan sit en net oor die see uitkyk, branders wat breek en die blou lug op die horison. Wil nog eendag hier in die Namaqua Kus Nasionale park kom bly, hier waar daar nog rus te vinde is, eendag as ek groot is.
Die windjie is stil toe ons laatmiddag begin vuurmaak en Moeksie en Magda se hande is besig met die breiwerk as ons, ons stoele nader aan die vuur sit. Dis volmaan en net as die son sy kop wegsteek oor die see, verskyn die volmaan agter ons op die horison. Dis soos ʼn sprokie, te mooi om waar te kan wees, baie spesiaal, veral hiér en op hierdie Valentynsaand!
Die vuurtjie brand lekker en ek steek ʼn paar kerse aan om die Valentyn atmosfeer te versterk. Dis ʼn mooi gesig hier waar ons in die Boma sit, die volmaan wat opkom en die sterrehemel bo ons saam met die stilte, net die geknetter van die vuur en die see in die agtergrond wat jy hoor. Die skaduwee wat aankom is die buurman, Gerhard die Hollander, wat daar anderkant kamp. Wynbottel in die hand om te kom dankie sê dat ons hom hulp aangebied het. Hy het die pap band omgeruil en is reg vir die pad vorentoe. Ons nooi hom om saam met ons te kuier en die vinnige instemming vertel my hy is honger vir geselskap.
Hy het min of meer dieselfde roete van Hondeklipbaai tot hier gevat, maar het iewers verkeerd afgedraai en verdwaal. Na ʼn paar uur besef hy, hy is op die verkeerde pad en met die omdraaislag in die bosse moes hy die band beskadig het. Dit was so erg dat hy vasgeval het en gelukkig het daar plaaswerkers opgedaag om hom met die omdraaislag te help. Hy is seker dis waar die pap band vandaan kom.
Die rooiwyn wat hy voorsit is nie jou gewone nie. Die man het of BAIE goeie smaak vir wyn of hy het geld. Ek geniet gereeld self ʼn goeie rooiwyn. Proe soos engeltjie piepie soos my oorlede pa sou sê, sag op die tong.
Gerhard is van Pretoria, het hier kom kop skoonmaak, so op sy eentjie. Weet nog nie waarheen nie en ook nie wanneer hy verder gaan reis nie. Ek kan met hom identifiseer, want dit is presies wat ek besig is om te doen. Reis ek weet nie waarheen nie en ook nie wanneer ek weer vertrek nie.
So om die skaaptjops en braaibroodjie raak ons vriende met die Hollander en hoor van sy teleurstelling na sy vrou se dood, toe hy met die jong poppie trou wat BAIE van sy geld vir hom spandeer het. Gelukkig het hy gou agter gekom sy is lief vir sy geld en nie vir hom nie en die huwelik beëindig. Ek sou later eers uitvind wat die BAIE geld beteken wat sy spandeer het, dis genoeg om my pensioen te verdubbel !!
Ons kuier lekker die Valentynsaand, saam met die Hollander en groet hom deur te sê ons sien mekaar dalk weer vorentoe, min wetende!