Middag vriende
Ek gesels met 'n kennis in die dorp, want ek sien daar staan 'n Palma in sy erf. Hy het die wa op 'n vendusie gekoop, en eers by die huis gesien daar is houtvrot in. Sonder om in sy detail te gaan, het dit my laat dink;
1] mens het seker probleme in 'n geval waar mens voetstoots[?] by 'n vendusie koop, om die koop te kanselleer.
2] wat is die kans om by 'n handelaar 'n wa met houtvrot te koop. Gaan so 'n handelaar mens tegemoet kom?
Ek noem dit hier, want hoe maklik oorweeg ons dit om 'n gebruikte wa te koop. By 'n handelaar kan mens seker aandring op 'n vogtoets, voordat mens teken.
Indien mens privaat koop, kan mens seker ook so 'n koop onderhewig aan 'n vogtoets maak. Dan moet die verkoper maar die wa na 'n geskikte handelaar neem, wat 'n toetsverslag beskikbaar moet maak.
Ouens soos Ski, Tora, Lapskag en Arie wat gereedskap het, en handig is, skrik sekerlik nie vir so 'n probleempie nie. Ek met 10 duime [25cm's] sal egter bitter ongelukkig wees met so 'n terugslag.
Rede vir die gesprek..
Middag vriende
....is eintlik om moontlik julle ook so bietjie gedagtig te maak oor so 'n moontlikheid.
Ek sit baie en kyk na 2de handse waens, en ek het heeltemal vergeet dat houtvrot 'n wesenlike faktor is met so 'n aankoop.
Chris B: Jou wa staan tog in 'n toe garage, het die deur gevrot bloot van nat word tydens sleep en vakansies. As jy kampeer is julle sytent/kantseil tog meestal opgeslaan, wat die reen van die deur afhou.
Wessel ..
... dit is net soos jy sê - my wa staan in 'n toe garage wanneer ons by die huis is. Ek was verstom toe hulle my meedeel dat daar houtvrot in die onderste gedeelte van die deur is. Die "ou lady" is nog uiters selde in die reën gesleep - en soos jy sê, wanneer ons kamp is die stoeptent maar altyd opgeslaan, behalwe as ons net vir 'n nag of twee oorstaan.
Houtvrot, of karavaan kanker…
Houtvrot, of karavaan kanker, is sekerlik enige woonwa eienaar se vrees. Ek het die Penta laat seël en aluminum band (tape) bo-oor geplak. Die dak het so stuk houtvrot waarna ek sal moet laat kyk.
Die voordeel van veselglas
Die Kavango is nie ‘n liggewig nie, maar gelukkig is houtvrot nie ‘n faktor nie. Die vlekvrye staal onderstel en eenstuk veselglas dop behoort my te oorleef. Gelukkig klink dit darem of ander waens se houtvrot maklik herstel kan word ![]()
Tinkie
Môre
As jy wil oplees oor die vieslike woord "houtvrot", gebruik die soek enjin op die tuisblad, en tik in houtvrot. Dit sal waardevolle leesstof bied.
Blaai ook boontoe op hierdie gesprek.
Gewoonlik gaan houtvrot begin waar water/vog gereeld kan indring, soos by nate, daknate rondom pop-up gedeelte, venster rame en waar goete aan die panele vasgeskroef is.





Ek weet nie ...
.... of my ou waentjie reeds 'n mate van houtvrot gehad het toe ek dit gekoop het nie. Dit is 'n 1993 model wat ek in 1998 aangeskaf het. Volgens die registrasie-sertifikate was daar drie eienaars voor my.
Nietemin, na etlike jare van gebruik, begin ek oplet dat daar water aan die binnekant van die voorruit inlek wanneer die wa gewas word. Gedagtig dat dit dalk die rubber is wa nie meer dig seël nie, vra ek tydens een van die dienste by Cara-Camp dat hulle aandag daaraan moet gee. Die bestuurder vra toe ek moet hom wys waar presies die water inlek. Tot my groot onsteltenis druk hy toe sy vinger, reg bo die lekplek, bykans deur die hout agter die plakpapier. Houtvrot!!!
Hy gee my toe die versekering dat hulle dit sal kan herstel. Hulle sou egter eers moet oopmaak om te sien hoe ver dit versprei is voordat hulle 'n beraming van die koste kan gee. Ek gaan loer toe 'n dag of later daar by hulle in. Ek was geskok om te sien tot hoe ver die houtvrot versprei het. Die hele neus en dele van die sykante (voorlangs) was verwyder. Maar ek gee Cara-Camp alle krediet - hulle het 'n uitstekende werk verrig.
Ek is maar een van daardie ouens wat my wa voor elke lang reis (soos wildtuin toe) laat diens. Die deel wat vervang is ('n reuse-groot deel) het nog nooit weer probleme opgelewer nie. Hulle het wel met die voorlaaste diens (in 2019) houtvrot aan die onderkant van die deur gediagnoseer - en dit ook herstel.
Ek vertrou maar dat die "ou lady" (soos Len al my wa verwys het) my laaste klomp kampjare goeie sorgvrye diens sal gee. Ek kan net met die grootste lof van Cara-Camp se werkswinkel praat.