Iran & Dubai
Wessel
Ons altwee sit maar benoud en kyk en luister.
Ons kinders is ook in Dubai. Hulle woon in Damac Hills so 4 km vanaf Dubai se militere lughawe Minad Airbase. Dit maak my meer bekommerd want sou daar na militere basisse gemik word is hulle binne tref afstand.
Hulle vertel dat hulle deurlopend via sms inligting ontvang en op hoogte gehou word van wat aangaan. Daar is selfs beraders wat jy kan bel.
Ek wonder so by myself wat die gevolge sal wees as daar so iets hier moet gebeur. Is die ou strukture van burgerlike beskerming ens nog in plek is daar `n plan a, b of selfs c. Ek dink dit sal totale chaos wees hier.
Groetnis
Iemand (niemand) sprak g'n sprook
Is hierdie die rekord forum-stilte? Geen bydrae vir vandag sover. Daar kan 'n paar redes voor wees, so hoop ek maar net dat almal ok is??? Net miskien is daar 'n saamtrek iewers waarheen ek nie genooi is nie - deel maar foto's asb![]()
Rona...
...hierdie pensioenaris was afgelope 2 dae vreeslik vieslik besig. Die 6 huis kompleks se hoofriool wat al die huisies bedien, loop deur my stukkie tuin. Dit het net besluit om so elke 3 dae te blok, en dan in my tuin oor te borrel. Omdat ek die vroegtydige tekens ken, kon ek elke keer die blok betyds verwyder deur 'n lopende tuinslang in die pyp af te druk..
Ek het uitgestel en gehoop dat praat gaan help, maar dit het oopgrawe geverg. Soos vir onse neef Herman verduidelik het die pyp gesak, maar dit het veroorsaak dat die pyp gedeeltelik toegeknyp het.
Hopenlik is die probleen opgelos en kan ek nou my lang toere sonder bekommernis aanpak.
Nie die skoonste storie nie, maar die waarheid.
Stilte
Dit is asof ek vir Wessel tot hier onder in die Kaap kan ruik. Sies!!!
Ek het self gewonder - was daar al ooit só 'n stil Dinsdag op dié forum? Almal het seker niks sinvols om by te dra nie.
Ek het nog nie by my wildtuinrekords van verlede jaar gekom nie. Sedert gister sit ek bankvas agter die laptop om my rekords op datum te bring. Ek poog om minstens 2 dae se rekords per dag oor te dra - m.a.w. 'n minimum van 15 dae+ wat ek besig gehou gaan word. Vir baie mense sal dit nuttelose inligting wees, maar ek put groot behae daaruit om weer elke oomblik van my vorige vakansie te beleef.
Toe ek die 17 olifante op die H5 op my rekords sien, toe beleef ek weer die oomblikke wat ek seker meer as 2km agteruit gery het met die grootvoete wat net besluit het om eenvoudig in die pad te bly en op ons afgestap kom.
Ongelukkig ook die oomblik herleef toe onnadenkende leeu-betolteldes die hele H4-2 op die bruggie oor die Gezantfombispruit geblok het en niemand kon verbykom nie. Mamparras!!!!
Maar so-by-so het ek ook die aangename herinneringe weer beleef om op die Onder-Sabie restaurantdek die olifante, seekoeie, kameelperde, buffels ens langs die rivier te kon waarneem, met 'n goue koue in die hand.
En terloops - ek raak al hoe meer optimisties dat ons probleemvry (behalwe vir die prys) t.o.v. petrol-beskikbaarheid na Pretoria kan reis. As die Roemeense ambassade nou net hulle vingers uit hul agterkante kan trek om die amptelike "validation" van ons visums aan te stuur. Eers dan kan ek voortgaan met die finalisering van 'n moontlike kort wildtuintrippie.
Self min om te deel
Ons is tans maar taamlik bedruk - ons vriend vir wie ons Augustus verlede jaar in Botswana gaan kuier het is Donderdag oorlede. Dit was vir ons 'n baie groot skok. Ons het nog gepraat van die moontlikheid om iewers saam met hulle deur Botswana te toer. 'n Maand gelede het hy 'n video gestuur wat wys hoe die Makgadikgadi panne onder water is na groot reën. Ai.
Verder kom ons wildtuinkuier darem ook nader. As alles goed gaan sal ons seker die 15e April in die pad val en iewers 'n kampeerplek soek, waarskynlik in Schoemanskloof. Ons wil nie op die 16e vroegoggend ry nie want die moontlikheid van digte mis is altyd daar, en Daan se sonar-afspraak is reeds om 9 uur. Ons bespreking vir daardie aand is dan in Berg en Dal. Om bietjie te gaan skoene uitskop sal lekker wees.
Witrivier ???
Rona, daar was, of nog steeds 'n kampeerplek in Witrivier, ek dink sy naam was Ben-Marie. Dit mag dalk van naam verander het.
Dit is nog nader aan Nelspruit, as Schoemanskloof, en kan dalk 'n goeie alternatief wees.
Ek is oningelig oor kampeerplekke rondom Nelspruit.
Kuiken steek kop uit
Manie van Worcester Brake & Clutch het gister gebel en gevra ek moet die Kavango gaan haal en ‘n paar draaie in die dorp en ‘n ent uit die dorp ry voor ek dit weer terugbring. Ek het dit na werk gedoen. Dis blykbaar om die nuwe remskoene mooi te laat settle. Vanoggend stel hulle dit finaal, dan kan ek die wa gaan haal. Die kombinasie het gister lekker gesleep, en beter gerem as ooit tevore.
Hier in J'baai waai die wind…
Hier in J'baai waai die wind ons weer deurmekaar. Dit bly maar n aanpassing vir my om alles vas te hou en nie lekker om so buite te werk nie. Dan moet alles toe wees en dan is dit te bedompig binnenshuis. Die goeie is dat ons ingetrek het in ons plekkie wat nou ook nou so te sê klaar is. Nog net die kombuis kaste wat op sy tyd sal kom. Nou kan ek seker begin werk daar aan om dan in Mei n kamp kuier in te werk om te gaan rus en dalk n wyntjie of 2 te drink.
Ek verstaan Wessel se…
Ek verstaan Wessel se probleem met daai pype met die geurtjie. Het in laas jaar ons sin moes skuif om die woonstel se een hoek in te kon pas. Glad nie lekker nie.
Ons ry volgende Woensdag…
Ons ry volgende Woensdag oggend vroeg na Marloth tot Sondag. Sien vreeslik uit daarna.
Rona ...
... plaas bietjie jul wildtuindatums weer hier. As my dinge realiseer rondom my visum-besoek in Pretoria, beplan ek om so 4 aande wildtuin toe te gaan. My gedagte is om 17 April by ons vriende in Tzaneen te oornag, 18 & 19 April in Satara en 20 & 21 April in Skukuza. As my kopbeplanning kan gebeur, mag ons dalk mekaar raakloop in die wildtuin indien ons datums ooreenstem.
Raak sommer opgewonde..
vir almal se beplande uitstappies. Geert se planne vir die Paasnaweek is nog duister - of miskien het ek dit misgelees. Wildehont maak sommer 'n vakansie daarvan. Wessel? Ek dink hy het vars lug nodig na hierdie week se opskudding, sjoe. Die ander van ons tuisblyers sal maar ons beurt geduldig afwag...
Witrivier vir oorstaan-kampering - ons het in November verlede jaar een aand by die Ben-Mari oord (tevore) oorgebly toe Daan se besoek aan die spesialis ook vroeg was en ons daarna wildtuin toe is vir 'n paar dae. Die plek heet nou Busa House. 'n Vrou wat 'n werker van die vorige eienaars was het dit gekoop en bestuur dit self - heel goed, maar die omgewing anderkant die mure lyk anders as jare gelede en laat my effe kriewelrig. Om in Shoemanskloof te gaan oorstaan is nog net 'n gedagte wat ek dink kan werk, want dis vir ons baie mooi daar en dit voel sommer asof 'n wildtuinvakansie daar begin. N4 deur die tonnel is glad nie 'n opsie nie....
Busa house ala BenMarie
Dankie Rona, nou is ons almal ophoogte van die situasie.
Gelukkig het ek nooit naby Nelspruit oornaf slaapplek nodig nie, maar ander manne wat vêr sleep, mag dit dalk oorweeg het.
Ek voel op my veiligste binne die wildtuin, daarom is my 1ste aand Meimaand in Malelane kampie. Tariewe is ook heel gaaf op my beursie, veral met 40% af.
Rona
Jammer om te hoor van jul Botswana vriend...sterkte.
Rakende Paas naweek kamp. Dink hierdie jaar gaan ons tuis wees. Oorde hier om ons is propvol....daar is nog hordes wat nog pkek soek. Ek het nog gedink aan Manyane, glo die kampeer area sal gesellig wees, maar dink die dagbesoekers gaan te veel wees in die reservaat self wat fustrerend kan wees by n sighting. Ek sien uit na terugvoering en foto's van jul KNP trip
Schoemanskloof
Ons het vroeer die maand vir die eerste keer in n baie lang tyd die Waterval Boven pad terug gery. Oppad wildtuin toe het ons Schoemanskloof gery, maar was heelwat padwerke met 2x STOP/GO. Dit het ons darem nie lank opgehou nie omdat ons nog in donker oggend ure daar deur is. Oor die algemeen hou ons van Schoemanskloof...ook om dan te stop by Joubert en Seuns padstal.
As ons Julie gaan, sal ons tien teen een weer Schoemanskloof ry aangesien ons moontlik wil oorstaan by Indabushe op daai pad. Ander alternatief is Hippo Waterfront in Nelspruit waar ons ook nog nie was nie, naar goeie terugvoering gelees het.
Dankie Geert
Ons vriend se onverwagse vertrek het my net weer laat besef mens moet doen wat jou gelukkig maak, so veel as moontlik.
Al is daar padwerk in Schoemanskloof bly dit steeds vir my die lekkerste en mooiste van die twee paaie (N4). Ons stopplek is weer die Viva garage. Die padstal se lekker eetgoed, veral biltong mis ons nie graag nie, en dáárdie sappies - bloubessie, nie druiwe nie.
Vanmiddag het ek ook Hippo Waterfront as oorslaap opsie oorweeg. Ek sien so van tyd tot tyd hulle advertensie op Iewers in die Laeveld. Dit is ook net 10km vanaf Nelspruit wat dit baie ideaal maak vir ons doel. Moet net nie Lekkeslaap se aanwysings/beskrywing volg nie, jy gaan eindig 300m vanaf die strand by Struisbaai (ek moes eintlik die bewys afgeneem het, netnou is dit miskien verander)![]()
Paasnaweek...
bly die Strydoms tuis!!! Ek het nie meer lus vir verkeer, swart skopfietsies en derglike steurnisse wat mens ervaar in oorde oor langnaweke en skoolvakansies nie.
Ek vermoed al die oorde om Brits, naby Pretoria en JHB gaan baie vol wees, weens brandstofkoste. Manyane kan dalk ook vol wees, dan praat ek nie eers van die dagbesoekers in Pilansberg nie.
Voortrekker...
...ek begin nou effe keelvol word vir die stadige reaksietyd van die forum.
Selfs internasionale koerante en ander internet blaaie reageer veel vinniger. Dan praat ek nie eers van Caravan parks se blad nie.
Die kuiken is uit
Ek het gister na werk die Kavango gaan haal. Die remme is nou reg, maar dit het R640 meer as die R3500 wat ek geskat het gekos. Vandag het ek ‘n magdom goed wat ek moet klaarmaak op kantoor. Ek het nodig om vir die bietjie meer as ‘n week heeltemal af te skakel van wat daar aangaan.
My posbenaming verander al weer van 1 April af en daarmee saam sal my posbeskrywing moet verander en ek verloor personeel. Ek moet reeds amper alles self doen, so nou gaan ek nog harder klippe kou. Ek begin dink hulle wil hê ek moet bedank, en as ek ‘n werkbare alternatief gehad het sou ek.
Ek is nou een van daardie wit, Afrikaanse mans oor vyftig in die openbare sektor wat al die werk moet doen sonder dat ek ooit weer bevordering of ‘n kerfverhoging gaan kry, en rapporteer aan iemand meer as 20 jaar my junior wat die regte demografie het. So ek wil net bietjie gaan kop skoonmaak sodat ek die volgende drie maande kan trotseer. Julie sal ek maar moet soek na iewers hier naby waar ek dit weer kan doen aangesien die Krugerwildtuin bo my vuurmaakplek geraak het.
Na werk moet ek ‘n paar dinge gaan koop en diesel ingooi. Dan moet ek kom pak wat ek kan. Môre het ek ‘n halfdag verlof gevat en hoop ek dat ons nie later as 13:00 in die pad kan val nie. Geniet julle wegbreke as julle gaan, en vir die van julle wat Paasfees vier vir dieselfde redes as ek - mag julle geseënd wees in die wonderlike wete dat ons verlos is deur Jesus se yslike opoffering.





Oplig en kyk
Ek gaan die wa se wiele oplig en dinge nagaan. Speling, vryloop en rem met die handrem (asook weer vryloop daarna).