Terwyl ons in Roemenië was het my seun ons ingelig dat hul vriende nie meer die vakansie na Eiland Spa kan meemaak nie. Die vriende se staanplek was op my naam bespreek omdat hulle ATKV-lidmaatskap nie op daardie stadium betaal was nie. Die gedagte was om die bespreking later op die vriende se naam oor te dra. Laasgenoemde het egter die volle besprekingsfooi betaal. Pappa se arm is toe gedraai (hy het mos maar 'n rubberarm) om saam te gaan.
'n Voorwaarde was dat hy (seun) moes reëlings tref om my karavaan te laat diens. Ek laat diens die "Ou Lady" elke keer voor ons langpad vat - dit gee my maar net 'n bietjie gemoedsrus. Dit is vandag hier by my huis gedoen voordat ons Sondag in die pad val.


Môre word 'n paar inkopies gedoen en Saterdag moet die inpakwerk afgehandel word vir Sondag se beplande wegtrek om 08:00.
19 Julie
Ons is vanoggend 08:45 by Eiland Spa weg. Na 'n paar nodige inkopies by Letsitele se OK Mini Mark, was ons 10:50 by Phalaborwahek. Ons het sommer van gisteraand se braaivleis by Masorini geëet. Dit kan dalk die piekniekplek wees wat die minste deur besoekers in die wildtuin benut word. Maar ai - kom dié plek nou verwaarloos voor. Swak!! Veral as jy dit vergelyk met Mooiplaas en Babalala waar ons verlede naweek aangegaan het.
Die H9 tussen Phalaborwa en Letaba het, soos vele kere in die verlede, weinig wild opgelewer. Maar ons het darem 'n paartjie van een van die wildtuin se skaarser spesies gesien - Tropiese (oftewel Sharpe's) grysbokkies.
Ons was net na 13:30 by Letaba, waar 'n grootskaalse werkery aan die gang is. Die hele kampeerarea is oop, maar slegs die hoof-ablusieblok. Hier is tans maar min kampeerders in die kamp. Ons kon 'n uitstekende draad-staanplek naby genoemde ablusies kry.


Ek wens eintlik die ou wil…
Ek wens eintlik die ou wil kom kuier.
Te lekker om hier langs die karavaan teen die draad te sit en na die voëls te luister. Nog geen vierbenige gedierte gewaar nie, maar die hiënaspore lê net anderkant die heining - want sommige onnoseles voer hulle mos.
Amper kom kuier
Toe ons weg is uit Olifants het ons amper noord gery en kom groet toe ek sien dis maar n skrale 23km. Darem vir jou een van jou gunsteling plekke afgeneem
20 Julie
Na gister se warm dag (die Hilux het die temperatuur aangedui as 32°C), was ek verras om vanoggend te sien dat hier 'n paar druppels geval het. Ons staan onder 'n groot boom en ek het tweekeer iets op die dak hoor val, maar het gedink dit is blare. My kampstoele is dus lekker nat.
Ons het 'n fantastiese aand in Letaba geniet. Die skopsuiltjies het ons deeglik laat verstaan dat hier 'n paar van hulle is. 'n Groot olifantbul met pragtige tande het sowat 10 meter van die draad af gewei - dit was net té ver en donker om die ou af te neem met my selfoonkamera. En die kakefonie van bakleiende hiënas was besonders. Om wakker gemaak te word deur bosveldfisante was lekker.
Soos wat ek nou hier sit en tik het ek 'n tweespalt in myself - moet ek gaan verneem of ons nóg 'n nag hier kan oorbly i.p.v. Shingwedzi toe te skuif vandag?
Jy's 100% reg Geert - N'wamanzi is een van ons gunsteling uitkykpunte in die wildtuin. Ons is baie lief vir die stukkie pad langs die Olifantsrivier as jy regs, in die rigting van Letaba, gedraai het. Ons het al mooi "sightings" daar beleef.
Wie't gewen?
Letaba of Shingwedzi? Ek hoop dit was nie 'n penalty shootout nie![]()
Jou 2e paragraaf hier bo: Die Bosveld se naggeluide. Saans wanneer dit stil raak in die kamp is dit die mooiste om te hoor - daardie wat jy nie kan sien nie..........
Shingwedzi ...
... was die wenner, maar dit was nogals 'n lang breingeveg. Nietemin - ons staan ons staan.

Altyd lekker
Shingwedzi is ook een van ons gunsteling kampe. Nou kan julle vir die res van die wildtuin-kuier net lekker ontspan. Soms behandel die Mopanieveld mens goed - min diere, maar wat jy wel kry is dan sommer in die pad. Toe ons in April daar was het 'n leeu een nag die stilte versteur ![]()
Nóg een ...
... van die forumlede ontmoet. Paul Mulder het gou kom groet skaars nadat ons hier aangeland het.
Nou nog o.a. vir Rona en Geert op die wenslys. Het reeds saam met Wessel, Lapskag, Len en Neef gekamp. Ai - so 'n ou mini-saamtrekkie sal darem weer lekker wees.
21 Julie
Ons eerste oggendrit hier in Shingwedzi (met die S50 langs die Shingwedzirivier af) het, maar soos die reis hierheen, weinig opgelewer wat wild aanbetref. Maar dit bly 'n voorreg om só rustig hier te kuier.
Paul Mulder het gou vanoggend weer kom dagsê en een van die vrae wat ek gehad het beantwoord. Ons het in Letaba onder twee pragtige skaduryke bome teen die grensdraad gekamp. Maar ek het geen idee gehad watter soort bome dit is nie. Toe ek die blare vir hom beskryf, het hy dadelik gevra of dit regoor die hoof-ablusie van Letaba was - waarop ek bevestigend geantwoord het. Hy't gesê dit is Wilde Mangobome. Ek het dit gou op Google gesoek - en waaragtig, Paul was 100% in die kol. Well done Paul! Ek het dadelik besef dat hierdie man 'n passie vir bome het.
Paul passie...
strek verder as die bome. Hy is passievol kwadraat oor die Kruger, en spandeer baie tyd daar.
Ek is seker as jy hom vra oor 'n boom by die 2de draai op die S100, gaan hy weet van watter ene mens praat![]()
Chris B ontmoet
Middag almal van die wonderlikste plek op aarde.
Ja ons het gister vir Chris en sy vroutjie Ralie ontmoet en lekker gesels. Ek het weer “gou” ń draai daar gaan maak vanogend en ń uur later was ek weer terug by ons kamp so 30m van hulle af. Ons passie is die natuur en ons probeer om so veel as mootlik daarvan te ondervind en “verstaan?” Die Wildtuin bly maar ons beste plek vir dit. Teen hierdie tyd ken ons al helfte van die boome se naam in die Wildtuin…..Mopani.
Ons het vir die eerste keer vanogend katte gesin…4x Jagluiperd op die S56. Maar dit is nie vir ons so belangrik nie. Daar was ook net 2 ander karre.
Geniet julle dag.
M.a.w. ...
... Paul vertel vir my ek het álweer verkeerde pad vandag gery. Ek beplan om môre die S56 te gaan ry. Dan's die katte seker langs die S50 wat ek vanoggend gery het.![]()
Hallo Paul
Jammer tog Chris dat ek hier op jou draad voort borduur, maar elders gaan dit nie sin maak nie.
Ek het nou jou skrywe 2x gelees en sommer ook 2x lekker gelag. Mopanie
Skielik voel ek baie goed by die gedagte dat ek ook die helfte van die wildtuin se bome ken.
Moet asb. nie weer lank wegbly nie - dis nou op die forum; wildtuin toe gun ek julle 365 dae van die jaar. Dit sal die beste ooit wees om meer gereeld net ietsie te hoor, of 'n foto te sien.
Geniet julle tyd in "die wonderlikste plek op aarde".
Dankie Rona
Ja ons was nog altyd op ons gelukigste hier in die Wildtuin.
Ek sien Chris B is terug van sy kat soek? Maar hy lyk nie te opgewonde nie?
Goeie Hout ...
... my verskoning dat ek vergeet het om jou ook te noem as een van diegene wat ek al raakgekamp het. Dalk is daar nog ander ook - maar die ou kleintjie hier tussen die ore raak nou oud.





Wildtuin toe - weer!
Veilige pad vir julle môre en ek hoop dat die wildtuin alles sal wees waarvoor julle hierdie keer wens.