My beplande Oktober-kuier in Kgalagadi begin al meer in plek val. Met die uitsondering van een aand waarmee ek nog nie geholpe kon raak nie, begin die toerplan al hoe meer vorm aanneem.
Ons skop af met 2 aande in Twee Rivieren gevolg met 4 aande in Nossob. Beskikbaarheid van akkommodasie in Nossob, 'n dag later as die datum waarop besprekings geopen het, is net so goed soos om wors te soek in 'n hondehok. Maar geduld en gereelde loer op Sanparke se webblad, het vrugte afgewerp.
Intussen kon ek, na nog 'n aand in Twee Rivieren, ook 2 agtereenvolgende aande se akkommodasie in 'n rivierfront chalet in Mata Mata bekom en drie aande in Kalahari Tented Camp (KTC). Ek benodig nog 'n nag tussen Mata Mata en KTC maar ek is positief dat ek met die benodigde nag (15 Okt) in hetsy Mata Mata of KTC gaan regkom. Ek sal maar geduldig voortgaan met my soektog.
Ek sou wat wou gee om 'n nag of twee in hetsy Gharagab of Bitterpan te bekom. Ek het mos nou 'n 4x4.
Gemsbok...
is darem maar 'n pragtige bok.
Nou eers weer park se kaart nader trek om plekke te merk.
Baie waarskynlik
Ons het net die volgende dag, net voor hek-toemaaktyd sowat 600 meter vanaf die noordhek 'n leeuwyfie soos 'n dooie ding in die pad aan die slaap gekry - en toe gewonder of dit nie die een van die vorige aand by die "hide" was nie. Sy hou seker maar in daardie omgewing rond.
Die Auobrivier
Toe ons in die Auobrivierbedding-pad arriveer na 'n bra ongemaklike rit met die lang duinepad (erg sinkplaat gery), het ons sommer by die eerste suiping (Kamqua) ons eerste van vele kameelperde gekry.

En net 'n ent verder, by 13de boorgat vind ons toe hierdie ou.

Terloops - nog 'n nuwe piekniekplek is by 13de Boorgat ingerig - netjies!!
Die suiping, waar ta gelê het is seker sowat 300 meter vanaf die piekniekplek. Die ou het vir ons maar siek en afgeleef voorgekom. Hy het sommer daar waar hy lê ge-urineer - sodanig dat hy sommer in sy eie urine gelê het. Die voertuig saam met ons was 'n CCC Hilux.
Vandaar was die park prentjiemooi tot by Mata Mata. Ons het nog 'n leeu "sighting" net duskant Craig Lockhart-suiping gehad, maar dit was te ver vir my ou selfoonkameratjie.
Die volgende dag het ons weer tot by 13de Boorgat gery - dié piekniekplek was net 'n gerieflike afstand vanaf Mata Mata. Toe ons by die watergat kom waar ta die vorige dag gelê het, kry ons weer die CCC Hilux net voor die suiping. Ek praat toe met die bestuurder en vra of die ou nog daar lê of dalk dood is. Die man (wat vir my bekend gelyk het) sê toe vir my dat 'n Kalahari-leeu baie meer verdra voor hy vrek. Hy wys toe met sy hande (uitmekaar) hoe maer 'n Kalahari-leeu soms word voor hy vrek.
Die volgende oggend lê ek toe nog wakker in my bed en skielik kom dit by my op - is dit nie die afgetrede parkhoof van Karoo Nas Park nie en wat voorheen parjhoof van Kgalagadi was nie. Armond Nel, gewese veldwagter in die Karoo het aan my genoem dat die parkhoof in Stilbaai gaan aftree het. Stilbaai is deel van Riversdal landdrosdistrik en gebruik dus ook CCC registrasies. En nog langer se tob bring toe die van Van der Walt by my op.
Toe ek my permit by die kantoor gaan afhaal vra ek vir die dametjie wat daar werk of daar 'n Van der walt in Mata Mata tuisgaan. Ek noem toe aan haar dat ek verbeel my ek het 'n gewese parkhoof, ene Van der Walt, in die park gesien. Ja, sê sy, Mnr van der Walt, gewese parkhoof van Kgalagadi en sy vrou was vir 2 aande in Kalahari Tented Camp. 'n Soektog op Google het bevestig dat dit inderdaad Nico van der Walt was. Ek was na die tyd nogal spyt dat ek hom nie dadelik herken het nie - dit kon nogal 'n interessant gesprek afgee.
Mata Mata
Soos reeds boontoe genoem was die Mata Mata-omgewing amper skilderagtig mooi tydens ons besoek. Die hele Kgalagadi (eintlik die hele Kalahari - van Upington af) was groen, maar die Mata Mata-omgewing was die spreekwoordelike "cherry" op die koek. My foto's laat dit nie tot sy reg kom nie, maar hierdie oorkantste duin was elke oggend sooo mooi.

Ons was bevoorreg om in een van die River Front Chalets vir 4 aande in Mata Mata te kry. Dié huisvesting het Mata Mata ekstra spesiaal gemaak. Daar is geen kampheining voor die chalets nie - net 'n horisontale elektriese heining om die eenheid (wat jy nie sien nie - tensy jy voor by die muurtjie gaan kyk). Dit het die gevoel geskep dat jy in die rivierbedding bly.

Die eerste aand (eerder laatmiddag) was ons gelukkig om 'n leeumannetjie. en later 'n kameelperd voor ons chalet te kom sien water drink. Met my "spotlight" het ons gereeld jakkalse by die watergat gesien.
Aag - ek verlang sommer terug.
groen Kgalagadi...
....is 'n mooi gesig. Ek kan nogal verstaan waarom jy dalk jou besoek prioriteite kan verskuif na die park, eerder as Kruger. Baie nader vir julle, en beslis minder dig met toeriste bevolk.
Ons het met ons besoek, nie die malse groen gehad nie, maar wel ruig begroei.
In my geval is Kgalagadi weer net mooi 2 keer vêrder as naaste Kruger hek. Dit tip die skaal natuurlik na kruger se kant toe. Dan heeltemal tereg is daar veel meer roetes om te geniet in Kruger, EN gewoonlik in goeie rybare toestand.
Dit alles geseg, wil ek tog nog weer Kgalagadi besoek, ook tot in Nossob en Mata Mata.






Kwang ...
... is verseker een van Kgalagadi se bekendste (of liewer beroemdste) suipings - veral vir leeus. Dié geluk was egter nie die Bouchers vanjaar beskore nie. Ons het ure hier gewag - vir niks om te gebeur nie. Andere het weer op voorafgaande dae 'n trop van 18 leeus daar raakgeloop. Dit was warm en sommige van die kleintjies het selfs skadu onder toeriste se voertuie gesoek.
Ons het die een dag tot by Kousant-suiping gery en hierdie groepie koedoes daar gekry.
Ek dink het het dit boontoe genoem (en te lui om te gaan soek of dit wel die geval is), maar ons was verbaas oor die aantal koedoe "sightings" wat ons vanjaar gehad het. Voorheen het ons nog net 2 keer koedoes in die park gesien - eenkeer by Grootkolk en eenkeer by Marie se gat.
Terloops - op pad Kousant toe is daar 'n nuwe piekniekplek by Bedinkt. Met die terugkeer vanaf Kousant het ons gou daar stilgehou - netjiese plek.
Ons het darem toe 'n bietjie wild by Kwang gesien.
Baie van die springbokooie was duidelik dragtig, maar sommiges het reeds gelam.
Ek bly maar 'n "sucker" vir 'n karaktervolle boom - en in Kgalagadi is daar baie.