Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Bome omwaai November 2026 Geert -48 minutes ago
Jeandre Rudolph - perfekte keuse.... Springbok rugby Rona du Plessis -12 hours ago
Jeandre Rudolph Springbok rugby Geert -13 hours ago
Hael November 2026 Geert -13 hours ago
Brits en Pretoria... November 2026 Wessel Strydom -14 hours ago
Die weer is woes November 2026 Rona du Plessis -18 hours ago

Dana Snyman - Skrywer

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits
Submitted by Willem Brits on

Ek sien nou van sy goed op fb.

Gaan soos ek dit sien hier plaas vir dié wat wil lees.

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:18

(Wie onthou hierdie tyd?)

DROOG

Dit is vlak 4 van die inperking. Die drankwinkels is steeds toe en jou drank is op. 
 Jy het al die silwer papsak uit jou laaste doos Robertson-rooi gehaal en die sak in die lug gehou en dit met jou hande gefrommel tot die laaste bietjie in die glas drup. 
 Jy het reeds vir Christo-skilder gebel en gevra. Sy drank is ook op, maar Charmaine, sy vrou, is besig om pynappelbier te maak.
 Miskien sal oom Pieter nog ’n botel of twee hȇ. Jy bel hom. “Hallo, oom Pieter,” sȇ jy. “Hoe gaan dit met oom?” 
 “Ek’s so bly jy bel,” sȇ oom Pieter. “Ek wou jou ookal bel. Het jy nog wyn?”
 “Niks nie, oom. Dis juis hoekom ek oom bel.”
 “Weet jy waar kan ’n mens kry? Het Christo-skilder nie?”
 “Christo het ook niks nie, oom. Maar Charmaine is besig om pynappelbier te brou. Dalk moet ek by Nita hoor.”
 “Goed. Ek sal intussen by Divvie hoor. Dalk het hulle iets.”
 Jy bel vir Nita. “Hallo, Nita,” sȇ jy. “Jy weet seker wat ek wil vra.”
  “Jammer, ons het ons laaste bottel gisteraand gedrink,” sȇ Nita, “maar Henry weet van ’n ou op Saldanha wat mampoer stook. Die ou het glo sy eie ketel gebou.”
 “Henry-polisieman? Of ander-Henry?”
 “Ander-Henry.”
 “Het jy dalk ’n nommer vir die ou wat mampoer stook, Nita?”
 “Ek sal vir Henry vra.”
 “Whatsapp die nommer vir my as jy dit kry, asseblief.”
 “Ek maak so. Laat weet my ook as jý intussen iets kry.”
 “Ek sal.”
 Jy bel weer vir oom Pieter. “Ons het ’n probleem, oom Pieter,” sȇ jy. “Ek kry niks nie. Kon oom iets uitvind?”
 “Divvie sȇ hulle s’n is lankal al op.”
 “Nita sȇ ander-Henry sȇ daar is glo ’n ou op Saldanha wat mapoer stook.”
 “Het sy ’n nommer vir hom?”
 “Sy gaan dit probeer kry en vir my stuur, oom.”
 “Ek wonder of ons nie vir Carlo moet probeer nie.”
 “Carlo drink mos nie meer nie, oom.”
 “Maar dalk het hy nog iets daar by hom. Bel jy hom. Jy ken hom beter as ek.” 
 Jy bel vir Carlo. “Jis-jis, my broertjie,” sȇ Carlo. “Hoe lyk dinge daar by jou?”
 “Dinge lyk maar droog hier, Carlo” sȇ jy. “Jy’t nie dalk ’n botteltjie wyn wat daar by jou rondlȇ nie?”
 “Nee, my broertjie. Jammer. Maar ek hoor daar is ’n ou op Saldanha wat mampoer stook.”
 “Ek’t gehoor van hom. Jy het nie dalk sy nommer nie?”
 “Nie jammer, my broertjie. Probeer vir ander Christo, hy kan dit dalk hȇ.”
 Jy bel weer. “Hallo,” antwoord ’n stem, en dadelik besef jy jy het weer vir Christo-skilder gebel, pleks van ander-Christo.”
 “Jammer Christo, man. Ek wou eintlik vir ander-Christo bel. Maar ek het gehoor van ’n ou op Saldanha wat mapoer stook.”
 “Het jy ’n nommer vir hom?”
 “Nee, dis reeds wat ek by ander-Christo wou hoor.”
 “Ons moet daai ou se nommer kry, pel. Charmaine sȇ die pynappelbier gaan eers volgende week reg wees.”

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:20

Drie Saterdae terug was ek by Bokkie Carstenstens-hulle se Helderberg Rugby Klub vir die roudiens van Robert Fry, een van hul geliefde klublede. Daarna het ons na die tweede-Leeu-toets gekyk. Het voor die tyd ook 'n draai by Willie le Roux se pa se kroeg en Stevan Kitshoff en se ouers gemaak. 'n Anderster mooi dag... Is nogal 'n lang storie. 

RUGBY SAAM MET DIE STRAND-HONDE

Hulle gaan nie tranerig raak nie. Die Bokke speel boonop vanmiddag. Hulle moet sterk wees.
 Bokkie Carstens stap na die voorkant van die saal. Is byna tienuur. Robert Fry se roudiens gaan nou begin hier in die Helderberg-rugbyklub in die Strand se klubhuis. Robert se vrou, Ne-Ray, sit al op een van die stoele wat hier uitgepak is.
 Oral staan van Robert se vriende rond, party in Springbok-ondersteunerstruie, skrikkerig om te naby aan mekaar te kom. Covid-19 het soveel dinge anders kom maak, nou het dit ook vir Robert, een van die klub se staatmakers, in sy 37ste jaar kom vat.
 Op ’n tafel daar voor brand sewe kerse by ’n foto van Robert en sy toks, kopskerm en klubtrui. Hy het as voorryman vir die klub diens gedoen, maar in die laaste paar jaar was hy een van die afrigters. Joviale Robert met die bulderstem. ’n Regte Strand-hond.
 Bokkie, voorsitter van die klub, gaan staan agter die podium. Daar wás al ’n diens vir Robert in ’n kerk, maar hulle het besluit dis niks minder as reg om ook gepas hier by die rugbyklub van hom afskeid te neem. Boonop pak die Bokke en die Britse en Ierse Leeus mekaar vanmiddag in die tweede toets in die Kaap - ’n wedstryd wat ons moet wen om dit een elk in die reeks te maak. Hier is ’n paar TV-skerms. Dit kan ’n lang roudiens word.
“Welkom, mense,” sê Bokkie “Dis ’n pragtige dag, dis ’n wonderlike dag, almal is in ’n rugbygees. Dankie dat julle hier is om eer te betoon aan ons groot vriend, Robert Fry.”
Daarna lees ds. Johan Botes uit Romeine en gee ’n kort boodskap. Hannes Louw en Lin Beukes praat oor die Robert wat hulle geken het, dan gaan JP Nunes vorentoe. “Ons gaan nou ons kreet op die veld vir Robert doen.” JP sluk-sluk. “Dit gaan nie maklik wees nie.”
Almal stap buitetoe, tot op die rugbyveld. Dit is ’n helder windstil oggend.
“Daar het ou Dok Craven altyd gesit.” Bokkie beduie na die middel van die pawiljoen langs die klubhuis. “Dok was baie lief vir hierdie klub.”
Helderberg, gestig in 1904, is een van die oudste rugbyklubs in die land. Die klub het al 23 Springbokke opgelewer, byna almal in ’n era voor die Maties klubrugby in die WP begin oorheers het. Manne soos Bob Morkel, Phil Mostert en Stephen Fry, Robert Fry se oupa.
Maar ’n klub soos dié is meer as net ’n rugbyklub. Dis ’n tweede tuiste vir elkeen wat gereeld hier kom, deel van wie hy of sy is. Robert Fry is vir elkeen net so belangrik as enige Springbok- of WP-speler wat al hier gespeel het.
Willem le Roux, pa van Willie, wat vanmiddag vir die Bokke heelagter speel, kom ook soms hier. Hy het lank slot vir die klub gespeel. Willie was in die Laerskool Lochnerhof ’n paar strate hiervandaan. As laaitie was hy ’n ballboy langs hierdie einste veld.
Steven Kitshoff, ’n ander Strand-hond wat vanmiddag vir die Bokke op stut sak, was op Laerskool Hendrik Louw en kom ook van tyd tot tyd hier. 
Iets intiem verbind Steven, Willie en almal hier aan mekaar. 
Gewoonlik het Robert met sy groot stem die leiding geneem wanneer die klub se kreet geskreeu word. Nou vat JP en Schagne van Wyk voor. “Ari-esta-hippi!” roep hulle, dan antwoord die ander wat in ’n wye kring rondom hulle op die veld staan. “Ari-esta-hippi!” Dan laat waai JP en Schagne weer: “Ari-esta-kwarra-hippi!” En so aan, tot einde. 
Dankie vir my span, sê die kreet glo. Dankie vir my kaptein. Dankie vir die ander span. Dankie vir my God.
Ná die laaste “Ari-esta-kwaro!” sak party manne af tot op hul hurke, asof hulle pas tagtig taai minute gespeel het. Hulle kan die verdriet nie langer terughou nie. Een omhels vir Ne-Ray, Robert se vrou. Almal van hulle het gedink Robert gaan te sterk vir Covid-19 wees.
“Kom ons gaan na Willem toe.” Bokkie stap na waar die motors voor die klubhuis geparkeer is. Dit is nou net ná elf. Die Bokke speel eers sesuur vanmiddag.
Nie ver van die klub af nie, in die Strand se industriële gebied, is die kroegie oorkant ’n bandeplek. Jy moet mooi kyk om die bord raak te sien: “The Head Office” - Willem le Roux, Willie se pa, se plek.
Eintlik is Willie die oorspronklike Strand-hond. Rassie Erasmus, afrigter van die Bokke in 2019 se Wêreldbeker-toernooi in Japan, het daarmee begin. In Rassie se taal is iemand wat “hond” het, iemand met ’n vegtersgees. In ’n dokumentêre TV-reeks oor die toernooi kan ’n mens hoor hoe sê Rassie in sy spanpraatjie voor die eindstryd teen Engeland vir Willie: “Most of you guys have this one thing, which is dog that you’ve got inside of you – you’re a Strand dog, Willie…”
Willem is ’n lang man van min woorde, ’n boorling van Carnavon, wat jou stip in die oë kyk wanneer hy praat. Dié kroeg is ’n ode aan sy seun. By die toonbank is ’n foto van ’n 8-jarige Willie saam met James Small. En doer staan Willie in Japan by pres. Cyril Ramaphosa waar die president die Wêreldbeker-trofee in die lug hou.
Willem was ook in Japan vir die toernooi. Sy ma, Hanlie, is nie saam nie. Hier is ’n foto van Willie by Willem terwyl ook Willem uit rugby se goue graal drink. “Koue Heineken.” Willem glimlag effentjies. “Yskoue Heineken.”
Heelparty mense gaan netnou na die toets hier kom kyk.
“Daar’t Cliffie altyd gesit.” Willem beduie na ’n leë stoel.
Cliffie Etzebeth, die oom van Eben wat netnou slot vir die Bokke speel, het soms hier gekuier voor sy dood drie jaar gelede in ’n motorongeluk. Cliffie, ’n derduiwel op en van die veld af in sy jong dae, het ook vir die WP gespeel.
“Hulle gaan vanmiddag wen.” Willem vat jou met die oë vas. “Hulle móét net wen.”
Hy het vroeër vir Willie ’n Whatsapp-boodskap gestuur: Sterkte, seun. Willie het hom geantwoord met ’n duimpie wat die lug in wys.
Bokkie wil nog nie terug klub toe gaan nie waar die hartseer oor Robert Fry seker al besig is om ’n bietjie skiet te gee. Ons ry eers Somerset-Wes toe, wat aan die Strand grens, na Steven Kitshoff se ouers toe. “Ek en Steventjie se ma, Poppie, is neef en niggie,” verduidelik Bokkie.
Steventjie. Dít is wie ons taai rooikop-voorryman vir sy mense is – al 124kg van hom, blomkoolore, de lot. Almal noem hom Steventjie.
Dwarsoor die straat naby die Kitshoffs se huis het iemand groot met bordkryt geskryf: “GO STEVEN GO!!”
Die Kitshoffs verwelkom jou asof jy lankverlore familie is. “Ons het ook Covid gehad.” Poppie het een van Steventjie se Bok-truie aan en kom met wydoop arms na jou toe. “Ons kan mekaar seker maar ’n drukkie gee.”
By die swembad agter die huis is ’n tamaai vertrek, byna so groot soos Willem le Roux se kroeg, ook met rugbyfoto’s teen die mure. Geraamde truie. Kroegie. Jacuzzi.
 Steven, Steventjie se pa, is toevallig besig om vir oulaas voor die toets met Steventjie oor die foon te praat – hul gewone ritueel. Dit voel onwerklik: hier gesels hy met dié Steven Kitshoff wat ons netnou op die TV gaan sien.
“Sterkte, seun.” Steven, ’n sakeman, groet en laat sak die foon. “O, jinne, ek raak op my senuwees.” Hy vryf oor die krop van sy maag. “Dit voel of ek self op die veld gaan.”
“Eers na die eerste skrum ontspan hy,” voeg Poppie by en wys ’n foto op haar selfoon wat Aimee, Steventjie se vrou vir haar gestuur het: Steventjie speel vandag in sy vyftigste toets en sy het ’n spesiale rugbybalkoek vir hom laat bak.
Een van die foto’s teen die muur is van Steventjie wat as ’n Hendrik Louw-laaitie met ’n bal onder die arm vorentoe storm.
“Hy was hierdie vet seuntjie met die rooi hare.” Poppie se stem is vol moederliefde. “Later hang drie of vier outjies aan hom, maar hy gaan net vorentoe.”
Ruben, hul ander kind, het ’n regsgraad en is ook hier.
Poppie lag te lekker. Ja, sy was een van daardie rugbyma’s wat so langs die veld staan en skreeu het. “Dan kom die skoolhoof na my toe, dan sê hy: ‘Poppie, dis nou klaar. Jy moet loop’. Maar Woensdag bel hy my weer en sê: ‘Poppie, jy moet Saterdag kom, ons het jou nodig’
“Het jy al gesien, Steventjie het nog nooit ’n vuishou geslaat nie? En hy spoeg nie op die veld nie. Ek het vir hom gesê: ‘Jy doen dit nie. As jy iemand met vuis slaat, hardloop ek op die veld en gee jou ’n pakslae.” 
Steventjie se rooi hare en sproete kom van Steven af. “Hulle het hom baie daaroor gespot op skool. Een keer toe kom sê hy: ‘Ma, hulle noem my ‘hunderd and one dalmations’. Dit het hom meer vasberade gemaak om homself te bewys.”
Deesdae is Steventjie ’n soort beskermheer vir rooikoppe. Bokkie vertel hoe ’n ma by die klub gekla het oor haar suster se rooikop-seuntjie wat nie meer skool toe wou gaan omdat die kinders hom spot.
“Ek kry toe die kind se nommer en bel vir Steventjie.” Bokkie wys na sy selfoon. “‘Help bietjie, bra,’ sê ek vir Steventjie. Toe bel Steventjie daai kind en praat hom moed in.”
Bokkie wil terugkom by die klub. Die Bokke draf oor ’n uur of twee op en die strate is stil. By Willem se The Head Office staan heelparty motors.
By die klub hang die somberheid nie meer so dik in die lug as vanoggend nie. JP Nunes se das lê op die kroegtoonbank, Lin se hemp hang uit en oor die luidsprekers sing Bok van Blerk. Buite skop ’n paar seuntjies bal op die veld. Nes ’n jong Willie le Roux destyds wanneer sy pa hier binne was. 
Dit is vir Bokkie belangrik dat gesinne saam hier kan kuier.
Die wedstryd gaan begin. Sommige staan op toe die volkslied speel en sing saam met ’n hand plat op die bors. Die Bokke móét vandag net wen, vir Robert Fry en alle Strand-honde, vir Rassie en sy video, vir hierdie hele verdwaalde land van ons.
Dit gaan rof en onbeskof wees: In die eerste paar minute gryp en ruk en pluk die manne mekaar op die veld terwyl die skeidsregter probeer keer. Eben Etzebeth is heel voor met ’n grynslag, asof hy sy oorlede oom Cliffie is laataand in die Goodwood Hotel se kroeg in 1977.  
Kort daarna is dit die eerste skrum. Steventjie se rug bly reguit en jy weet pa Steven kan nou ontspan daar by die huis.
Vir die volgende uur plus sleur die wedstryd jou mee. Diep in die tweede helfde betrap jy jouself dat jy sag bid: “Here, ons het ’n wen meer nodig as hulle. Help, asseblief.”
Op die skerm verskyn Alun Wyn Jones, die Leeu-kaptein, met ’n bebloede gesig.
“Lekker!” gil ’n vrou. “Lekkerrrr!”
En toe wen ons: 27 – 9. Dit is moeilik om nie links en regs mense te begin omhels nie. Op die vloer by die toonbank lê Basie, die klub se basterbrak – die hondste hond in die Strand. Jy tel hom op en druk hom teen jou vas.
In The Head Office en by die Kitshoffs se huis word moontlik nou Jägermeister geskik. Eenkant staan JP Nunes en Lin en van Robert Fry se ander pêlle. Ne-Ray, Robert se vrou, is al huis toe. Hulle was maar vir sewe maande getroud.
Ons kan seker nou maar tranerig raak. Ons hoef nie nou meer sterk te wees nie.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:23

Musiek vir die siel en Fotografie van mooi dele van ons land.  Hier en daar ’n vriend wat kom inval om ’n liedjie vir ons te speel:

Piet Botha - Groot Verlange, (ft. Lia Luna Li on iPhonography)

Piet Botha - Bitterfontein ft. Gert Vlok Nel)

Kristoe Strauss - Hierdie Dae

Riku Lätti - Die Duiwel in die Detail (ft Christo Groenewald & Jackie Lätti)

Koos Koombuis & Millenium - Lisa se Klavier

Akkedis - Suitcase vol Winter

Kristoe Strauss - Die Trane Loop

Hanru Niemand - Land van Kaïn

Riku & Jackie Lätti - Hoofstroom, (ft. Christo Groenewald & Kristoe Strauss)

Jackie Lätti - I want you dead (ft. Christo Groenewald & Riku Lätti

Radio Lava - Hekkie & Hoofstroom (Jahn Beukes, Arnaud van Vliet, Riku Lätti)

https://www.facebook.com…

 

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:25

(In die Kaap weet baie mense van die Etzebeth'e - Eben, ons Springbok-slot se twee ooms, Skattie en Cliffie. Beide is al oorlede.  'n Jaar of twee voor Cliffie se dood in 'n motorongeluk het ek een aand 'n bier saam met hom gaan drink. 'n Liewe man... Hoop Eben roer die Tommies weer vanmiddag.

EBEN SE OOMS

Dis asof die Goodwood-sportklub se kroeg effe stiller raak toe Cliffie Etzebeth by die deur instap met sy lang lyf. Party ouens staar na hom. Ander probeer maak of hulle nie staar nie. Hy gaan staan by die toonbank met sy knobbelrige hande voor hom.
“Kom help vir Clifford!” roep iemand. “Bring vir Clifford ’n dop!”
Die kroegvrou skarrel nader. Niemand wil moeilikheid hê nie, want Cliffie is mos ’n Etzebeth – een van dáái Etzebeths. Het op sy dag op stut en slot vir die WP gesak. Hy en sy oorlede broer Skattie was ook Springbok-stoeiers. Oor hoe Cliffie en Skattie saam rowwe jacks hier in die noordelike voorstede se kroeë was, is daar baie stories.
Cliffie kry ’n bier en gaan sit naby die toonbank by ’n tafel met ’n rooi Castle-kleedjie oor. Hy en Skattie se jonger broer Harry se seun Eben speel op die oomblik slot vir die Springbokke. “Eben gaan nog ver kom. Hy’s honger. Maar deesdae se outjies het dit maklik.” Cliffie se stem is sag, amper te sag. “Hulle word betaal en het tyd om te oefen. Ons het twee keer ’n week geoefen. Jy kry R5 vir ’n oefening. As jy ’n wegwedstryd speel, kry jy R30. Hulle gee vir jou so ’n bruin koevertjie.”
Die ouens by die toonbank is opeens stil. Almal probeer hoor wat Cliffie sê.
“Daai tyd was dit makliker om ’n ou op die veld te donner.” Cliffie vou die botteltjie bier in sy een hand toe. “Die vlagman het nie ’n sê gehad nie. Jy kon die ou voor die vlagman slaan, hy kon niks doen nie.” Hy glimlag effentjies. “Skattie het ook rugby gespeel – klubrugby. Hy’t een keer sommer reguit vir die ref gesê: ‘Ref, kyk gou weg, ek wil gou hierdie ou rol’.” Skattie is in 1993 doodgeskiet terwyl hy skuldinvordering in Belhar gedoen het.
By die toonbank kom ’n kêrel halfpad van sy hoë stoeltjie af orent, ’n Coke-keppie halfmas oor sy voorkop. “Hei, Cliffie,” sê hy dronkerig. “Vertel ’n bietjie hoe julle jou pa se vliegduiwe geëet het toe julle honger was.”
Cliffie los die botteltjie bier en vee en vee en vee met sy hand oor die tafel, sonder om na die kêrel te kyk. “Ons het in Epping gebly. Arm. Ons was nege kinders. Ná skool moes ons gaan werk. Ek en Skattie was saans nog bouncers ook vir ekstra geld. Ons het baie ouens gedonner en as daar nie meer iets was om te donner nie, dan sê Skattie: ‘Kom ons sak gou Central Hotel toe.’” Hy vee en vee weer oor die tafel. “Skattie was eintlik die moeilike een.” Vee en vee. “Een Saterdag staan ons in die ou Duikboot-kroeg by Nuweland. Hier kom sê ’n ou: ‘Skattie, iemand druk sommer sy siegret op my lip dood, man.’ Skattie sê vir hom: ‘Wys vir my die ou.’ Toe wys die ou na drie sulke groot manne . . .” Daar was baie sulke aande. In die Duikboot. In die Central. In die Goodwood Hotel. “Maar Skattie is ’n goeie ou dood.” ’n Oomblik kom Cliffie se hande tot rus. “Drie jaar voor hy vermoor is, het hy tot bekering gekom. Jy moes sy begrafnis gesien het. Dok Craven-hulle het met ’n Kombi van Stellenbosch af gekom.”
“Vertel ons van die duiwe, Cliffie!” roep die ou weer van die toonbank af.
Cliffie kyk op sy horlosie. Honderde sweetdruppeltjies klou aan die botteltjie voor hom se rondings vas. Party kom los en gly stadig ondertoe. Oor die groot TV-skerm teen die muur is ’n heruitsending van een of ander krietketwedstryd aan die gang.
“Vertel hom van die duiwe, Cliffie.”
Cliffie drink die laaste van sy bier op. “Ek dink ons moet liewer gaan,” sȇ hy. “Ek’s nie lus vir nonsens nie.”

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:26

(Saterdagaand toe Trevor Nyakane sy tong so tydens die Leeu-toets uitsteek, kon ek nie anders as om te dink aan die keer toe ek tydens die 2015-Wereldbekertoernooi by Trevor se mense op 'n myn naby Gravelotte na een van die wedstryde oor die TV gekyk het.)

NTANDO

“No problem,” sê Lerato agter die toonbank in die Gravelotte-kafee anderkant Tzaneen in Limpopo. Sy sal Trevor Nyakane, die Springbokvoorryman, se pa se nommer vir my kry.
 Sy tel haar ou Nokia langs die kasregister op en bel iemand. ’n Lang gesprek volg. Al woord wat ek verstaan, is Nyakane. Daarna bel sy nog iemand, en nog iemand. Ek kan hoor sy kom reg: Sy skryf die nommer op ’n servet neer. “It’s fine. You can phone him now.” Sy gee die servet vir my.
Dis net ná twee in die middag, dit is 30 grade plus, en die waaier met die wye wit arms teen die kafee se plafon veg vergeefs teen die hitte. Die Springbokke speel oor ’n paar uur in Londen teen Samoa. Ek is vieruur vanoggend al uit Pretoria weg, noord met die N1 tot in Polokwane, en toe met die R45 deur Magoebaskloof en Tzaneen tot hier. Ek bel die nommer op die servet. Ja, hy is Trevor Nyakane se pa. Norman. Sal hy omgee as ek vanmiddag se toetswedstryd in Londen by hom kom kyk? 
“Please,” sê hy. “Come. I’ll show you the real truth.” 
“Can I bring some meat, Sir?” “Please. Bring.” 
“How many are you?” 
“Six.” 
“And something to drink?” 
“I drink Amstel. They drink Stoney.”
Ek koop steak en works, twaalf Amstels en twee groot bottles Stoney en ry soos Uncle Norman verduidelik het: links hier, regs daar. Later is ek in ’n klein township naby ’n myn, so 20 km buite Gravelotte.
Uncle Norman staan in ’n Springboktrui voor ’n huisie met ’n kaal voortuin. Agterop die trui is ’n nommer 17. Trevor het sy eerste toetswedstyd in daardie trui gespeel. Langs die voordeur is ’n hen-en-kuikens in ’n asbesbak. 
“No!” roep Uncle Norman toe ek voor die deur wil parkeer. “Go to the back.”
Hy beduie na die agterkant van die huisie. Hy het spesiaal sy ou Hilux-bakkie onder die ietwat verslete afdak agter die huis uitgetrek sodat ek daar kan stilhou.
Die huis het vier vertrekke. Teen die muur hang ’n foto van Trevor in sy Springboktrui wat Uncle Norman geraam het in een van daardie goedkoop rame wat jy by ’n China shop koop. Teen ’n ander muur is ’n foto van biskop Barnabas Lekganyane, leier van die Zion Christian Church. Agnes, Trevor se stiefma, kom uit die kombuisie, ’n groot vrou met ’n ZCC-wapentjie op die bors. Sy kan nie Engels of Afrikaans praat nie. Trevor se ma is oorlede toe hy nog op skool was. Agnes is ’n ZCC-tannie. 
’n Week gelede, voor die begin van die Wêreldbekertoernooi, het Uncle Norman-hulle spesiaal Moria toe gery, die ZCC se Vatikaan naby Polokwane, om vir Trevor daar ver oorsee te gaan bid. Uncle Norman gaan sit op die bank en vertel hoe Trevor eers net sokker wou speel, en vanmiddag speel Trevor doer ver anderkant die water vir die Bokke. 
Uncle Norman was ’n hekwag en ’n kantoorassistent by die myn, maar is nou afgetree. Trevor het sy eerste toets wedstryd vir die Bokke in 2013 op Nelspruit gespeel. Hulle het soontoe gery en het die aand voor die toets in die Hilux naby die stadion oornag. “We wanted to surprise Trevor.”
 Ons gaan nie hier rugby kyk nie; ons gaan by Trevor se susters, Abigail en Rhulani, na die wedstryd kyk. Hulle woon hier naby in ’n ou mynhuis wat Trevor vir hulle huur. Ons skommel deur slote en oor klippe, deur Afrika, deur die township, in die ou Hilux, tot by die mynhuis waarin Abigail en Rhulani woon.
Abigail en Rhulani het ook Springboktruie aan, elkeen met ’n nommer 17 op die rug, en hul hondjie, Chico, begin dadelik vreeslik vir my blaf. Blaf, blaf, blaf, terwyl almal hom probeer stilmaak, en Uncle Norman aanhoudend sê: “Sorry . . . Sorry . . .”
Ek wil nie sulke dinge dink nie, maar ek kan myself nie help om te wonder nie: Blaf Chico so vir my omdat hy nie dikwels wit mense op hierdie werf sien nie? In die kombuis is ’n nuwe yskas. In die sitkamer is ’n nuwe grootskerm-TV. In die een slaapkamer staan ’n nuwe oefenfiets – als goed wat Trevor vir hulle gekoop het. Teen die sitkamermuur, byna soos ’n klein huisaltaar, hang die Springbokvlaggie wat Trevor in 2013 ná sy eerste toetswedstryd teen Skotland in Nelspruit gekry het – onder ’n foto van sy oorlede ma.
Ons staan op aandag toe die volkslied speel en sing hard saam. Ek en Uncle Norman elkeen met ’n Amstel teen die bors. 
Dan is dit die afskop, en dan . . . In die volgende twee uur gebeur ’n klomp dinge terwyl die Springbokke teen Somoa hoeveel duisend kilometer van hier speel. Uncle Norman en Agnes en sy dogters praat Sjangaan met mekaar, maar kort-kort hoor ek ’n speler se naam: Habana, Matfield, Pollard, Le Roux – name wat soos katoë skitter op die donker, onbekende pad waarop ek is. Later gaan haal Uncle Norman vir ons elkeen nog ’n Amstel, en toe hy die botteltjie vir my gee, praat hy die eerste keer met my Afrikaans. “Pla die muskiete jou nie?” vra hy. 
Halftyd, met die Springbokke wat voorloop, gaan steek ek en Abigail die vuur aan in die klein braaier agterin die jaart. Chico storm weer op my af en begin blaf, en blaf vir my, totdat Uncle Norman hom optel en in ’n kamer gaan toemaak. 
Toe is dit die tweede helfte, en toe die 22ste minuut van die tweede helfte; en toe, skielik, is hy op die skerm, Trevor Nyakane, hulle Trevor, Nommer 17. Ons Trevor. Uncle Norman leun oor en sit sy hand vlugtig op my skouer, asof hy wil seker maak ek sien dit. Abigail en Rhulani kom regop en roep: “Bhuti! Bhuti!” terwyl tannie Agnes met albei hande vir die skerm waai, en ek . . . begin huil.Dis net ’n gewone gesin wat bly is om dat een van hulle vir die Springbokke speel, maar party gewone dinge is nie gewoon in hierdie land nie. “I just want to go to the toilet.” Ek gaan staan ’n ruk buite op die stoep. Dis al donker. In ’n droë bedding merk ek iets: ’n tuisgemaakte oefenapparaat. Twee koffieblikke gevul met sement, verbind met ’n besemstok. Uncle Norman het dit vir Trevor help maak om sy spiere as laaitie mee te oefen.
Net voor ek later die aand weer ry, herinner Uncle Norman my: Trevor se regte naam is eintlik Ntando. Ntando, wat “seëning” beteken.

(Hierdie stuk kom uit my boek, Op Pad. Ek het ongelukkig Uncle Norman se nommer verloor. As iemand dit het, stuur dit grootasseblief na my inboks toe. Dankie-dankie.)

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:27

BETYDS

Dit voel of ek op ’n lang reis was, Ma. Weg. In myself in. Maar ek is terug, betyds vir jou verjaardag vandag. 26 Julie. Jy sou vandag 87 jaar oud gewees het. Soms wonder ek hoe sou hierdie vreemde virustyd vir jou gewees het. In 1998, toe jy oorlede is, was die wêreld op soveel maniere anders as nou. Jy het nooit ’n selfoon gehad nie, jy het van die huisfoon af gebel. Daar was nog nie Facebook en Twitter en Instagram en Whatsapp nie. Ek weet nie of die lewe nou beter is as tóé nie. Hoe bepaal ’n mens in elk geval so-iets? Ons weet so min van die hoekoms en waaroms van die lewe, hierdie pandemie bewys dit wéér vir ons. Ek was vir ek-weet-nie-hoeveel-dae in die bed en het myself gereeld met Vicks gestoom en aan jou gedink wanneer ek gebukkend oor ’n skottel kokende water met ’n handdoek oor my kop staan. Jy was gereeld by my, al is jy al vir jare weg, Ma. Ek glo aan die evangelie van Vicks, gerugsteen deur kortisoon en antibiotika. En oor God sal ek altyd wonder, die Groot Misterie, die Gans Andere wie se teenwoordigheid ek in die toevallighede van my lewe ervaar. Het die virus my enige lesse geleer? Om dankbaar te wees, ja. Ek is een van die gelukkiges, ek sal binnekort heeltemal gesond wees, anders as soveel ander mense wat nog lank gaan sukkel met die nagevolge van die siekte. En dan is daar dié wat treur oor hulle mense wat vir altyd weg is. Ek wil nie nou staan en soetsappig raak nie, Ma: Miskien is die belangrikste les wat ek geleer het hoe mense – ons – mekaar moontlik maak. Soveel mense was in die laaste ruk goed vir my op maniere wat alles met die liefde te doen het. Ek het vanoggend ’n pot bloumagrietjies by die  kwekery gaan koop – blommetjies waarvan jy baie gehou het. Net betyds vir jou verjaardag, Ma. Sowaar, net betyds.

(Ek wil weer eens baie dankie se vir al die beterskapswense en sagte woorde en gebede terwyl ek siek was. Baie van die boodskappe het ek nog nie geantwoord nie. Ek is jammer daaroor. Ek probeer byhou. Wat se 'n mens? Dankie, dankie, dankie. Julle is baie goed vir my. Ek leef 'n geseende lewe - onverdiend, voel dit soms. Is lekker om terug op Facebook te wees. Voel soos 'n vertrek in my huis wat lank toegestaan het... Hoop julle bly gesond, en die wat siek is, word gou gesond. En die wat treur, jy mag maar treur. Die lewe kan genadeloos wees, verby alle grense van verstaan. Liefde-liefde. Dana)

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:28

EN TOE GEBEUR DIT.

Eers was dit die befaamde droeë hoesie, toe die hoofpyn, toe begin my hele lyf pyn. Ek voel vanoggend, dag vyf, darem al effe beter, maar, ja, ek het Covid. Die siekte kom in vlae, ook in jou lyf. Nou voel jy nie te sleg nie, netnou bibber jy, en hoes en hoes.
 Maar ek glo nie ek sal hospitaal toe hoef te gaan nie. Met die die genade, en al die medisyne wat ek drink. Ook Invermectin
 Erna Oostuizen, my vriendin saam met wie ek die Swarthond-projek het, het voor my die virus gekry – sy, en haar seun. Erg. Ek kon darem nog elke dag vir ’n rukkie met haar by haar huis gaan gesels, ’n vensterruit tussen ons. Love in the Time of Covid. Dit gaan darem al beter met Erna-hulle, maar hulle is nog nie naastenby gesond nie.
Gelukkig het ek ’n oksimeter waarmee jy meet hoeveel suurstof in jou bloed is. Gister het ek vir ’n ruk op die bank voor die TV gelê en gekyk na die verskriking wat die land getref het, die plundery en geweld – en ek dink dit het my stuurstofvlak laat daal. Hartseer.
Toe ons in Maart verlede jaar die eerste keer ingeperk is, het ons bespiegel of die virus ons manier van leef gaan verander. Party het gesê dit gaan mense nader aan mekaar bring, ons laat besef hoe nodig ons mekaar het. Dit voel nie elke dag of dit gebeur het nie. Ek sien mense se woede en lees daarvan, en ervaar ook my eie woede – woede kom baie makliker as empatie na ’n mens toe, dink ek. En tog, die laaste paar dae ervaar ek soveel liefde en omgee van mense. Mense wat kos voor my deur kom neersit, mense wat bel met raad en sagte woorde. Dankie daarvoor. Sal nog meer volledige daaroor skryf.
Dankie veral aan Hannes Stander, die engel van ’n dokter van die Kaap, wat ons – vir my en Erna-hulle -   oor die foon dokter. Dankie vir alles, Hannes. Dankie. Dankie.
Het ek al enige lesse uit die siekte geleer? Ja. Ek het geleer my oorlede ma was toe reg: om jou met Vicks te stoom help.
Ek hoop elkeen van julle wat kan, laat julself inent. Ek glo dis die regte ding om te doen.
Wees sag met jouself, en met mekaar.
Liefde-liefde
Dana

(Ps! Aan almal wat van ons Swarthond-komberse en ander goed bestel het, dit word gemaak en sal so gou as moontlik gestuur word. Dankie vir julle ondersteuning. Ons waardeer dit baie.)

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:30

(Is hartseer van die vragmotors wat op die oomblik so aangeval en aan die brand gesteek word. Het my weer laat dink aan daardie RSG-program vir vragmotorbestuurder wat laatnag uitgesaai is... Sterkte, as jy 'n vragmotorbestuurder is - vir jou en jou mense by die huis.)

SIELE OP WIELE

Laatnag. Jy voel deur die donker na die radio op jou bedkassie. Dit is ingeskakel op RSG. Lorriedrywers bel van oral af na Ettienne Ludick, die aanbieder in die ateljee. Ouens met name soos Assegaai, Skaap, Pucman, Bontbaadjie.
“Naand, Ettienne,” groet ’n volgende een. “Dis Tank hier. Hoe gaan dit?” Op die agtergrond dreun ’n lorrie se enjin.
“Nee, dit gaan goed, Tank,” sê Ettienne. “Waar’s jy vanaand?”
“Ek sukkel nou hier deur Vryburg, Ettienne.”
“Wat het jy op die hart, Tank?”
“Man, ek wil net vir my vroutjie sê ek verlang baie na haar. Baie dankie vir ’n wonderlike naweek, my engel. Ek het jou ontsettend lief. Jy bly die warm bloed wat deur my are vloei. Jy bly my eerste keuse en sal altyd my eerste keuse bly.”
Tank groet en Ettienne gaan na die volgende oproep. Tommy. Hy is iewers tussen Colesberg en Springfontein.
“Ek kan oor niks kla nie, Ettienne,” sê Tommy. “Die ongelukke is net te veel, man. Dit maak ’n mens so hartseer. Jy weet, ’n lorrie is vir my amper soos ’n lewende ding. Ek wil nie hê die ding moet seerkry nie. Almal moet mooi ry. Ou Skaap ook.
Nog manne bel. Boeta. Diek. Kokkie. “Dis Generaal hier, Ettienne,” sê ’n ander een.
“Hoe gaan dit, Generaal?” vra Ettienne.
“Nee, man, ons kyk noord. Ons kyk noord. Ek is sterk op pad Upington toe. Ek het nou net vier klein koedoetjies langs die pad gesien. Ek wil net vir Skaap sê: ‘Ons gaan julle Saterdag op Loftus opvreet, pel’.”
Freddie. Anton. Panado. Sakkie bel ook. “Die langpad is my woning en God is my koning,” bulder hy bokant die lawaai rondom hom uit. “Ek dien ’n lewende God. Ek’s lief vir almal.” Jy sien vir Sakkie agter die stuurwiel sit. Miskien dra hy Crocskoene en hang daar ’n houtkruisie aan die truspieëltjie links van hom, wiegend in die wind wat by die oop venster inwaai. Miskien is daar ’n Solly Ozrovech-Bybeldagboek in die slaapkajuit agter die sitplek.
“Naand, Ettienne,” groet die volgende stem. “Dis Gawie Jooste hier. Almal noem my sommer Blou Bul. Ek wil ook net vir Skaap sê hy moet lekker luister. Ek het hom al baie daar by Colesberg gekry. Dan drink ons maar ’n koffietjie, ek en hy.”
Willem. Tiekie. Ben. Hannes. Een na die ander kom die stemme uit die donker. Stemme wat na mekaar uitreik, stemme wat mekaar weer verloor terwyl die radio op die bedkassie se rooi liggie jou deur die noutes van die nag navigeer.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:31

ONSE HONDE

Stéfan Burger skryf vanoggend op sy blad van hul hondjie, KouKou, wat gister verdrink het. Miskien verbeel ek my, maar dis asof al hoe meer mense hier op Facebook vertel wanneer een van hulle se hond dood is. Toe Kleintjie, een van my honde, verlede jaar dood is, het ek dit ook gedoen. Ek het 'n bietjie skuldig gevoel daaroor: soveel mense sterf aan Covid en op ander vedrietige maniere, en hier treur ek in die openbaar oor my hond... En toe ontdek ek Derek Walcott se gedig: Oddjobb, a bull terrier. 'n Gedig oor sy hond se dood. Dit het my beter laat voel. Rus in vrede, KouKou, en jy ook Kleintjie.

ODDJOBB, A BULL TERRIER

You prepare for one sorrow,
but another comes.
It is not like the weather,
you cannot brace yourself,
the unreadiness is all.
Your companion, the woman,
the friend next to you,
the child at your side,
and the dog,
we tremble for them,
we look seaward and muse
it will rain.
We shall get ready for rain;
you do not connect
the sunlight altering
the darkening oleanders
in the sea-garden,
the gold going out of the palms.
You do not connect this,
the fleck of the drizzle
on your flesh,
with the dog’s whimper,
the thunder doesn’t frighten,
the readiness is all;
what follows at your feet
is trying to tell you
the silence is all:
it is deeper than the readiness,
it is sea-deep,
earth-deep,
love-deep.
 
The silence
is stronger than thunder,
we are stricken dumb and deep
as the animals who never utter love
as we do, except
it becomes unutterable
and must be said,
in a whimper,
in tears,
in the drizzle that comes to our eyes
not uttering the loved thing’s name,
the silence of the dead,
the silence of the deepest buried love is
the one silence,
and whether we bear it for beast,
for child, for woman, or friend,
it is the one love, it is the same,
and it is blest
deepest by loss
it is blest, it is blest.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 16:31

Vandag, 6 September... 55 jaar gelede... 6 September 1966.

NAG

Oom Apie hou met sy Zephyr op die sypaadjie stil. Punch blaf by die draad.
 “Voertsek!” skree my oupa van die stoep af.
 Oom Apie buk by die Zephyr in een tel iets van die agtersitplek af op. Dit is ’n geweer, ’n ou langloop .303, nes Oupa s’n. Hy swaai dit oor sy skouer.
 My ouma staan by die draad met tant Sus en gesels. “En nou, ou Apie!” roep tant Sus.
 Oom Apie stoot die hekkie oop en kom met ’n frons tussen die oë in die paadjie afgestap.
 Oupa sit voor die sitkamervenster op die bank wat eers die Holden agterin die jaart se agterseat was. Ek sit op die stoep se boonste trappie.
 “Dag, ou beesblaas,” sȇ oom Apie en vryf oor my kop.
 Punch draf by die hekkie uit en gaan ruik aan die Zephyr se tyres.
 “Dag, ou Danie.” Oom Apie kyk na Oupa en lig die .303 van sy skouers af.
 “Dag, ou Apie. Sit.” Oupa beduie na ’n stoel waaroor ’n gebreide springbokvel hang.
 Oom Apie stut die .303 teen die stoepmuurtjie en haal ’n pakkie sigarette uit sy hemp se bosak. “Ek maak daai hond vrek by my tyres!” Oom Apie skud sy vuis in die Zephyr se rigting. “Voertsek!”
 Oom Apie trek ’n sigaret uit die pakkie. “Dis van nou af nag vir ons, ou Danie,” sȇ hy, en maak die sigaret brand.
 “Ja, ou wȇreld,” sȇ Oupa. “So gaan dit maar.”
 Oom Apie stap tot op die punt van die stoep. “Dis nag.”
  “Wat is dit met jou, ou Apie?” vra Oupa. “Wat pla jou?”
 “Wil jy vir my sȇ jy het nog nie gehoor nie?” Oom Apie kyk met groot oë na Oupa.
 “Wat gehoor nie?”
 “Van doktor Verwoerd.”
 “Wat van hom?”
 “Hy’s vermoor. Vanmiddag. In die parlemint. Deur ’n dȇm Griek met ’n dolk.”
 Opeens is Oupa regop. Hy klap teen sy voorkop en gaffel sy vingers deur sy hare, stap tot by die voordeur, draai om, steek vas. Hy slaan met sy vuis na die varing wat aan die dak hang en stap by die trappe af, oor die grasperk. Hy gaan praat met Ouma en tant Sus van langsaan by die draad en beduie na sy borskas.
 Tant Sus gryp na haar mond. “O, liewe Heretjie, dis vreeslik.”
 Oom Apie haal die Zephyr se sleutels uit sy broeksak en kyk na my. “Hoe oud is jy, ou beesblaas?”
 “Vyf, oom.”
  “Loop kyk gou in my boot.” Hy hou die sleutels na my toe uit. “Daar is ’n hoendertjie. Bring hom vir my.”
 Ek gaan sluit die Zephyr se boot oop en lig die swaar klap versigtig op. Netnou vlieg die hoendertjie uit. Die boot ruik soeterig binne, maar ek sien nie die hoendertjie nie. Ek kyk oral, agter die spaarwiel, onder die groen seiltjie. Het oom Apie nie dalk die hoendertjie in die toolbox gedruk nie? Niks. Onder die mat is ’n seekoeisambok, halfagter die domkrag iets wat in bruinpapier toegedraai is. Ek wikkel die papier oop. Binne-in is ’n bottel. Brandewyn.
 Oom Apie het seker die hoendertjie by die huis vergeet.
 Ek draf terug stoep toe.
 “Waar’s die hoendertjie?” vra oom Apie.
 “Ek sien hom nie, oom.”
 “Se gat.” Oom Apie skiet sy stompie oor die muurtjie tussen die daisies in. “Sȇ vir jou oom wat het jy als gesien.”
 Ek noem op: die toolbox, die domkrag, die seiltjie. Oor die sambok bly hy liewer stil.
 “En?” Oom Apie vat my styf met die oë vas. “Wat nog?”
 “’n Bottel, oom.”
 “Dis die bleddie hoendertjie. Loop haal hom. Toe, toe!”
 Op pad terug met die bottel in sy hand val ek amper oor Punch op die onderste trappie.
 “Oppas, dȇmmit!” roep oom Apie benoud.
 Hulle stap in die gang af, Oupa voor en oom Apie agterna, die .303 in sy hand. 
 In die kombuis haal Oupa ’n bottel koue water uit die yskas en twee glase van die rak. Oom Apie maak die .303 teen die muur onder die kerkalmanak staan en gaan sit by die tafel. ’n Flou streep sonlig val deur die venster, oor die botteltjie met ’n avokadopit in op die vensterbank, oor die linoleum op die vloer.
 Ouma kom by die agterdeur in met ’n sakdoekie in haar hand en stap stil by ons verby kamer toe.
 Oupa skink vir hom en oom Apie elkeen ’n sterk dop brandewyn.
 “Mens, het jy gehoor?” kom tant Sus van langsaan se stem deur die sifdeur gesweef: “
 “Ek weet nie wat gaan nou van ons word nie.” Oupa lig sy glas en vat ’n diep sluk.
 “Ek weet ook nie, ou Danie.” Oom Apie kyk na my onder sy kwaai wenkbroue deur. “En dan dink hierdie kind wragtig nog ’n hoendertjie is ’n hoendertjie.”

(Vergewe my die skaamtelose selfpromosie. Die storie kom uit my boek Onder een Dak: 'n honderd ou- en nuwe stories... Praat gerus met Erna as jy een wil bestel. R250.... 082-771-4654.)

0
Irene
Profile picture for user Grootwind

Grootwind

Mon, 06/09/2021 - 19:44

Dana Snyman plasings en kopiereg? Wil nie op jou battery piepie nie Willem maar ek dink daar kan moontlik kopiereg issues wees as jy Dana Snyman se goed hier oorkopieer. al word hy erkenning gegee...sou dink dis dalk veiliger vir jou sowel as Anton as forum eienaar om dit nie te doen nie? Dalk beter om bloot na sy FB te verwys sodat lede self daar gaan kyk? 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 06/09/2021 - 19:57

Huh?

Dit is ou rubrieke van hom wat gewoonlik op Saterdae in o.a.Die Burger geplaas word. Ek het al bogenoemde, deur een van my gunsteling-rubriekskrywers, gelees. As hy dit op FB plaas, vir enigeen om te lees, wonder ek of hy "eksepsie sou neem" as dit 'n bietjie wyer geplaas word soos hierdie relatief-beperkte forum.

Ek wonder maar net.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 20:48

Sal hom vra, soos die ander goed wat ek ook plaas het almal vir my gesê dit is fine.

0

Kopiereg bly altyd 'n ingewikkelde ding met baie grys areas....as sy rubrieke in die Burger gepubliseer was is dit sekerlik nog meer ingewikkeld. Wie besit nou die kopiereg daarop? Hang seker af van die spesifieke ooreenkoms tussen skrywer en publiseerder....normaalweg word die rubriek teen betaling gepubliseer, dws die kopiereg gaan oor na die publiseerder (Burger in die geval, en hulle behoort dan ook die nodige erkenning te kry?) (staan ook bekend as "works for hire" waar iemand iets skryf teen betaling deur 'n ander party...). Dis een ding om slegs 'n klein deel van wat iemand skryf met die nodige erkenning elders te publiseer (kan ook gesien word as "fair use"). Maar deur 'n lang reeks van iemand se skrywes elders te publiseer selfs met erkenning kan dalk (klem op "dalk"....dis al wat ek wou uitwys!) problematies wees. Selfs al word die rubrieke op 'n oop forum soos 'n oop FB blad gepubliseer beteken glad nie dis carte blanche vir enigiemand anders om dit elders te publiseer nie, erkenning of nie? Indien die skrywer wel sy toestemming gee (hetsy gratis of teen betaling) is dit uiteraard 'n heel ander saak...ek sou dan ook voorstel dat Dana Snyman se toestemming, verkieslik skriftelik, verkry word. Hoe dit ook al sy, ek steek net 'n (moontlike) rooi vlag op....

0
Centurion
Profile picture for user Voortrekker

Voortrekker

Tue, 07/09/2021 - 09:58

Ja ek stem met Chris -  as dit op FB is op 'n publieke platform dan is dit alreeds publiek.   Inelkgeval, ek het hom ook benader en die skakel na hierdie blad gegee vir sy insette indien nodig. Sal maar hoor of hy antwoord.

pending

0
Irene
Profile picture for user Grootwind

Grootwind

Tue, 07/09/2021 - 10:42

Ongelukkig is die kwessie van kopiereg ietwat van 'n kan wurms! Jammer as ek dit oopgemaak het! As iets op FB (of op hierdie forum) gepubliseer word is dit in die wyer sin sekerlik in die "publieke domein", die kopiereg bly egter steeds die outeur s'n (behalwe as hy/sy 'n ander ooreenkoms met 'n uitgewer het). Dit maak nie saak of die materiaal op papier of in pixels (elektronies) gepubliseer word nie! Lees bv. die kopiereg voorwaardes van FB....Indien iemand bv. 'n artikel in die "oop" media publiseer gee hy/sy geensins hulle kopiereg prys nie, dit bly hulle s'n (eiendom) om mee te handel soos hulle goeddink. Dis in alle geval beter om skriftelik toestemming te kry van die outeur eerder as mondelings...Sal interessant wees om te sien wat Dana Snyman se antwoord sal wees!

Net vir interessantheid, kom ons kyk na die volgende hipotetiese geval....Anton skryf 'n reeks artikels oor die beste manier om tent penne in te slaan. Die reeks is baie gewild en trek heelwat "clicks" of besoeke na sy kampforum blad. Ons as forumlede (met gratis lidmaatskap) is gek oor die artikels en kry heel gratis toegang daartoe. Anton, sou ek raai, doen nie die kampforum blad vir liefdadigheid nie, hy trek borge wat hom betaal om hulle advertensies hier te kan wys (en as ek die besigheid reg verstaan trek baie gewilde webblaaie ook groter fooie? More clicks = Higher fees). Nou is ekke, sê nou maar, die eienaar van 'n kompeterende kamp webblad en een van my forum lede sien Anton se artikels. Die ou besluit om Anton se artikels te kopieer en op my kompeterende blad te plaas...en skielik begin Anton se webblad se besoeker getalle dramaties afneem want die ander webblad trek nou daai besoekers met Anton se artikels. Gaan Anton net terugsit? Ek dink nie so nie! Dink mens kry die prentjie....

Kyk bv. ook na Netwerk24 se IP voorwaardes, dis min of meer soortgelyk aan meeste ander publikasies s'n (Netwerk24 sluit ook Die Burger in)

https://www.netwerk24.co…

0
Centurion
Profile picture for user Voortrekker

Voortrekker

Tue, 07/09/2021 - 10:56

Anton, sou ek raai, doen nie die kampforum blad vir liefdadigheid nie, hy trek borge wat hom betaal om hulle advertensies hier te kan wys

 Ja ek doen dit vir liefdadigheid en verdien geen inkomste daaruit nie (-:

0
Centurion
Profile picture for user Voortrekker

Voortrekker

Tue, 07/09/2021 - 12:33

Dit wat ek hieruit kry, die plesier om te deel en dit wat ander deel te kan lees + vriendskappe ens is meer werd as geld.   Ek verdien my inkomste op 'n ander plek en hier op kampforum kan ek net geniet!   Dit is soos vakansie  smiley    

Dankie almal vir julle betrokkenheid en bydrae yes

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus