Ek sien nou van sy goed op fb.
Gaan soos ek dit sien hier plaas vir dié wat wil lees.
Dana Snyman plasings …
FRED MOUTON
(27/8/1947 - 4/5/2022)
Fred Mouton se weggaan, is verdrietige nuus – nie net vir sy gesin, familie en naby-mense nie. Fred was vir so lank deel van baie van ons se lewe, veral met sy daaglikse spotprent in Die Burger.
Fred was ’n nederige, sagte man. In wese ’n storieverteller.
Was bevoorreg om hom ’n bietjie te kon leer ken in die tyd toe ek by Weg gewerk het. Hoop ek onthou dit reg: Op ’n dag stuur Bun Booyens, die redakteur, my na Fred toe om ’n illustrasie te gaan haal wat Fred vir Weg gemaak het. Is effe op my senuwees. Is ’n groot naam daardie: Fred Mouton. Ken sy prente wat stories vertel van altyd af. En hier vind ek hierdie lang man in ’n kantoortjie iewers in die Naspers-gebou se agterkamers. Op die vloer staan stapels AutoTraders. Rustige stem en manier van doen.
’n Klompie maande later moet ek weer ’n illustrasie by Fred gaan haal. Hy is nie meer in daardie hokkie nie. Ek vind hom in ’n tamaai kantoor waar Die Burger se hoofredaksielede se kantore is. Donker meubels. Uitsig op Tafelberg. Die AutoTraders moontlik in ’n kabinet. Maar Fred lyk nie tuis in die kantoor nie. En sê dit ook.
Nóg tyd gaan verby. Moet weer ’n illustrasie by Fred gaan haal. Kom by die groot kantoor, maar dis nou iemand anders s’n. Waar’s Fred? Daar agter, beduie een. En daar is Fred in ’n heelwat kleiner kantoor naby die bodes s’n, alte tuis. Die stapels AutoTraders terug op die vloer.
Dankie dat ons soms deur jou oë kon kyk hoe vreemd, mooi, hartseer, snaaks, absurd, hopeloos en hoopvol ons land en die wêreld is - en daaroor kon glimlag of grynslag. Rus in vrede, Fred.
Sterkte aan sy mense.
In my.............
...............Volkskas-dae het Fred 'n skets van my gemaak waar ek met 'n golfstok staan - nooit vreeslik Ernie Els kompetisie gewees nie, maar die portret is "priceless".
Dana Snyman op fb ...
SIN CITY
Op ’n dag besluit Pa dis hoog tyd dat ons ook Sun City sien.
Hy het die Valiant laat was, Ma en Ouma het hul hare laat doen, en Oupa het lank oor ’n Total-padkaart op die kombuistafel geleun en sy vinger oor die blou en rooi aartjies laat gly, op soek na die kortste pad soontoe.
Dit was 1980, as ek reg onthou, ’n jaar nadat Sun City amptelik geopen het.
Dis moeilik om te glo, ek weet; maar in die 80’s was ’n plek soos Sun City byna ondenkbaar in Suid-Afrika. Of wel, Sun City was nie amptelik in Suid-Afrika nie, dit was in Bophuthatswana, ’n onafhanklike staat met sy eie seëls, weermag en president.
Miskien was dit een van die aantrekkingskragte van Sun City in daardie jare: Dit het gevoel of jy ’n ver, eksotiese plek besoek wanneer jy soontoe gaan, ’n plek met palmbome en blink Las Vegas-liggies waar mense drankies drink met sulke sambreeltjies in.
Sin City – dis wat ons Sun City destyds genoem het. En, ja, dit was seker ’n ander rede waarom dit toe so ’n gewilde toeristeplek was. Jy kon dobbel en drank koop en swem op Sondae.
Dit het nie juis gevoel of ons op pad is na ’n eksotiese plek toe nie. Oral was boerbokke en donkies in die pad, en veld was yl en oorbewei.
Ons het eers ’n ruk by die Valiant in die parkeerterrein gestaan en na als rondom ons gekyk: die Superbowl se koepeldak, die palmbome, die spuitfonteine. Toe sê Oupa: “Wel, kom ons staan nader, mense.”
Eers is ons na die Superbowl, maar die deure was gesluit. Oral was plakkate waarop die Sun City Extravaganza geadverteer is: Meisies in sulke klein broekies, skoene met hoë hakke, sulke vere, en niks hier bo nie… Nie eens swart sterretjies soos op die meisies in die Scope s’n nie.
“Og, jha-a,” het Oupa gesug em my nogal hardhandig voor hom uit gestoot na ’n plek waar mens koeldrank kon koop.
Natuurlik wou Pa-hulle niks van dobbel weet nie. Dobbel was sonde. Hulle wou slegs na die dobbelmasjiene – die one-armed bandits – gaan kyk.
Ons het tussen die rye en rye masjiene in gestap en Oupa het voor een gaan staan. Hy het na die hefboom aan die kant gevat asof hy wou bladskud, maar dit dadelik weer gelos, asof dit hom brand.
Oral rondom ons was mense wat so talm-talm voor die bandits gestaan het.
Dit het nogal soos sonde gevoel om daar tussen die masjiene met die tollende wiele een liggies in die skemer casino te staan. Dit was opwindend genoeg om sonde te wees. Kort-kort het ’n klokkie iewers gelui en dan was daar die geklingel van munstukke.
Oupa het weer na die bandit se arm gevat, versigtig. “Ek wil net sien,” het hy gesê en ’n randstuk uit sy broek se geldsakkie gehaal, eers links gekyk, toe regs, toe druk hy die munstuk in die gleufie en trek die masjien se arm vinnig. Toe lui daar ’n klokkie en muntstukke klatter in die bakkie terwyl Oupa roep: “O, hel, wat nou?”
Hy het R50 gewen, en maar die munstukke in sy sak gedruk, ’n mens kan dit tog nie daar laat lê nie. En toe kry Pa en Ma elkeen vir hulle ook ’n masjien, net om te kyk hoe werk hierdie dobbelding.
Voor ons weg is, Pa-hulle se beursies byna leeg, het ons na Sun City se swembad gaan kyk, en Pa het ’n foto van ons voor ’n tafel vol poedings in die restaurant geneem, en Ma het ’n steggie van een of ander plant gepluk, dit in ’n sneesdoekie toegedraai en dit in haar handsak gebêre om daar te gaan plant.
Op pad terug, naby Northam, het Oupa vir Pa die verkeerde aanwysings gegee, die volgende oomblik is ons op ’n grondpad tussen ’n klomp sinkhutte. En daar was vuil kinders, en maer honde, en papiere en rommel in die veld.
“Nou’s ons in ons heppie kanon in,” het Ma gesê en haar met haar sakdoekie koud gewaai.
Ek kan nie onthou hoe lank dit ons geneem het om weer op die regte pad te kom nie. Ek onthou net Oupa het gesê as ons iets slegs oorkom, sal dit ons straf wees.
(Die skets is deur Fred Mouton gemaak. Ek was baie bevoorreg dat hy destyds 'n prent vir my Weg-rubrieke geteken het.)
Dana Snyman op fb ...
UITSAAISTASIE
Mens, het jy gehoor? Die tweetjies in nommer 14 gaan skei. En hulle was altyd so lovey-dovey met mekaar. Ja, ’n ander een se boeke is vir ’n mens duister. Hy het glo iemand anders, vir ses maande al. Daar het jy dit nou. Ek het nog altyd gedink sy ogies sit te naby aan mekaar. Iets is nie lekker daar nie. Daarom het ek vir my ou man gesê het ek sal hom tot in sy graf in ry as hy dit met my doen. Shame, ek wonder wat gaan van die vroutjie word. Ek dink nie sy gaan vir lank stilsit nie – nie met daai lyfie nie. Het jy daai rokkie gesien waarin sy vanoggend hier uit is? ’n Mens hoop net nie hier kom ’n toeloop van mans nie. Ek weet nie hoeveel keer moet ek nog op ons Whatsup-groep vir die mense sê: slegs een parkeerplek vir besoekers per eenheid. Dit staan tog duidelik in ons kompleksreëls. Hier slaap glads te veel vreemdes oor in die laaste ruk. Hulle vat al die parkeerplekke, dan moet ons gaste buite parkeer. Ons kan nie ons standaarde hier laat val nie. Kyk hoe gaan dit klaar in die land. Hulle breek net af en verwoes. Lyk my die twee in nommer 17 is darem weer stil. Ek is nie een wat my neus in ander se sake druk nie maar, mens, jy moes nou die oggend al daai drankbottels in hulle asdrom gesien het. En madam drink glo lekker saam. Die arme kindertjies. Gepraat van kindertjies, het jy die oulike foto’s gesien van prinses Charlene en prins Albert van Monaco en hulle tweetjies? Daai seuntjie lyk darem op ’n druppel water nes sy ma. Shame, Charlene het darem bietjie gewig opgetel. Maar sy bly maar maer, nè? Ek kan maar net nie vat kry aan daai Albert nie. Regte pierewaaier. Het mos ’n kind by ’n ander vroutjie ook. Ek was mal oor sy ma: Prinses Grace. Such a lady. Sy was ook maar nie gelukkig nie, nè? Shame. So het elkeen maar sy eie sorge. Ek weet nie hoekom speel my ou man deesdae so baie gholf nie, maar ten minste weet ek waar hy is. Hy sê ek steur my te veel aan die koninklikes, maar het jy gesien die Queen het al weer verjaar? Is al 96. Die stomme ou mens kan nou regtig maar die troon oorgee vir Charles. Lyk of Camilla regtig lief is vir hom. Oor prins Harry en daai klein merrie van hom sê ek liewer niks nie. Dink arme Diana draai in haar graf om. Ag, daai mense is seker maar nes ons. Ek weet minstens my ou man is nie een vir rondloop nie. Ja, en nou is ou Steve en Rian ook aanmekaar. Steve is al een wat nog iets vir ons mense doen, maar ek hou niks van daai Rian nie. Jy weet seker hy is… anders, nè? Maar God slaap nie. Wat my betref, kan hulle maak wat hulle wil. Ek steur my in elk geval nie aan wat in die media staan nie. Joernaliste is ’n klomp adders. Hulle soek net sensasie.

Dana Snyman op fb ...
’N KIND IN AUSTRALIË
Dries diens my Nissan-bakkietjie en ek staan by hom in die werkwinkel. Hy spook met ’n vonkprop wat nie wil loskom nie.
“Jy’t nie kinders nie, né?” Hy kyk met ’n diep frons tussen die oë na my.
“Nee,” sê ek. “En jy?”
“Twee. ’n Seun en ’n meisiekind.”
Hy vat die spênner met albei hande vas. Die are op sy voorarms swel en swel, maar die vonkprop wil nie skietgee nie. “Is hierie blêrrie seelug,” sê hy. “Als roes vas.” Dis maar die tweede keer dat ek ’n ryding na Dries toe bring.
Hy gaan haal ’n blikkie Q20 op die werksbank teen die muur en spuit daarvan op die halstarige vonkprop.
“Ek’t my seun laat leer,” sê hy. “Stellenbosch. Tandarts.” Hy beduie na die hout-en-glashokkie in die hoek van die werkwinkel waar hy sy papierwerk doen. “Daar hang die foto.”
Teen die muur in die hokkie, agter Dries se oorvol lessenaar, is ’n geraamde foto wat ná die seun se gradeplegtigheid op Stellenbosch geneem is. ’n Jong man in akademiese toga, met Dries en sy vrou weerskante van hom. Dries in ’n pak klere wat effens te styf aan hom klou.
“Julle’s seker baie trots op hom,” sê ek.
“Hy sit nou in Australië - hy en sy vroutjie.” In Dries se stem is opeens iets stram. “Hulle laaitie verjaar nogal vandag. My kleinseun. Word vyf. Ek’t vir hom ’n boodskap gestuur. Een van hierdie stemgoed.” Hy wys na die selfoon in sy oorpakbaadjie se bosak. “Toe laat weet my seun: Pa, kan jy nie die boodskap in Engels stuur nie? Die kind verstaan nie Afrikaans nie.”
Dries skud sy kop. “Ek moet nou met my enigste kleinseun Engels praat. Hoe moet ek vir hom in Engels sê: ‘Kom kuier ’n bietjie vir jou oupa lat jou oupa vir jou kan wys hoe trek ’n mens kreef en hoe eet jy ’n bokkom… Come and see your grêndfather that he cên show you how to pull a…” Hy sug. “Ek weet nie eens wat is ’n donnerse kreef in Engels nie.”
Hy kyk stil deur die werkwinkel, asof hy homself van iets probeer oortuig. Die werkbank, met die moersleutels bokant dit, elkeen omkring met ’n swart viltpen. Die plat domkrag op vier wieletjies.
“Weet jy hoe hard ek het ek hier gewerk om daai kind deur universiteit te kry?” Hy hou sy oliebesmeerde hande oop voor hom in die lug.
“Ek’t nog nie eens daai kleinseun van my vasgehou nie, weet jy. Hulle’s ses jaar gelede hier weg en was nog nie weer terug nie.”
Dries stap na die stoortjie aan die werkwinkel se agterkant. “Ek kry net gou iets,” sê hy en gaan by die stoortjie in. ’n Rukkie later kom hy weer uit. Hy moes met sy hande oor sy gesig gevee het toe hy daar binne was, want sy wange is vol oliestrepe.
“Hierie ding gaan ons nie vandag baasraak nie, my maat,” sê hy en kom buk weer oor die Nissantjie se enjin.
Ek kan my vir eenselwig met…
Ek kan my vir eenselwig met die man se trane.
Dana Snyman op fb ...
OGGENDGEBED
Te maklik vergeet ek van die vrou wat die rooi vlag by die padwerke oral in die land swaai en van die afgetrede stasiemeester, diep in sy sewentigs, wat steeds sy eie grasperk sny en beddings skoffel, die horlosie in sy voorhuis presies op tyd.
En die lorriedrywer onderweg tussen Richmond en Hanover ná vier ure se waaksame slaap in sy Scania op Leeu-Gamka. En die jong man van Oos-Londen, ’n IT-boffin, wat nie die sessyferaanbod in Australië aanvaar het nie. En die klinieksuster met die troostende hande op Hondeklipbaai. En oom Japie van Strydenburg, ’n engel in ’n insleepbakkie wat gestrande reisigers in sy buitekamer herberg gee.
Die aandelemakelaar van Kaapstad wat derduisende rand in Suid-Afrikaanse kuns belê en die prokureur wat die vrou met die stukkende lip help wie se gewese man in ’n pikswart AMG-Mercedes ry en nie onderhoud betaal nie. Die skoolhoof van die Strand wat nadat drie van sy leerlinge op die N2 doodgery is, ’n veldtog begin om ’n voetbrug oor die N2 gebou te kry – en die brug wat toe gebou is tussen die township en sy skool.
Die hartchirurg wat vir die oom van die Noordweste sê, dis reg, oom, ek doen daardie klep vir oom gratis. Trevor Nyakane se pa en stiefma wat Trevor wou verras en die aand voor sy eerste toets in hul bakkie buite die stadion oornag het.
JC Smith van Yzerfontein wat Woensdag oorlede is terwyl hy mense gehelp het wie se boot op see omgeslaan het. Oom Koos wat elke oggend die fisante en ander voëls op die sypaadjie voor sy winkel voer. Die NG-predikant wat vir my ’n Tom Waits-cd gegee het. Stefaans, die regse bomplanter, wat liefde begin leef het. Die vroue wat vrywillig in SPCA- en Hospicewinkels werk. Die manne Maandagoggende op die lorrie wat die vullis kom haal.
Die oom wat met die Sotho-petroljoggie Zoeloe praat. Die vars teer in slaggate in Senekal se strate, die konvooi vragmotors wat voer vir geknelde plaasboere se diere neem op droeë plekke neem. Die gerestoureerde hotel op Britstown waarin dit voel of jy in Parys in Frankryk is. Die veiligheidswag se flits in die nag voor jou huis.
Almal wat nie soos minister Bheki Cele is nie. Almal wat nie soos daardie bakkieprofeet is wat op ’n kerkkamp in st 7 geestelik ophou ontwikkel het en almal verwyd wat in 1992 se referendum vir hul drome eerder as hul vrese gestem het.
Almal wat besef om teen ons mislukte regering en korrupte leiers te protesteer begin al hoe meer onafwendbaar word, wat Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog wat deur Hitler laat hang is, se woorde instinktief aanvoel: “Ons moenie net die wonde verbind van slagoffers wat deur die wiel van ongeregtigheid vertrap word nie. Ons moet ’n stok in die wiel steek.”
Die miljoene mense wat soggens opstaan en werk toe gaan. Die plaasboere wat die grond bewerk, kos produseer en goed is vir hul werkers. Die toegewyde onderwysers en leerders, dosente, studente, ingenieurs, kelners, dokters, psigiaters en karwagte.
Open my oë, laat ek dit nie sal miskyk en vergeet elke keer wanneer ek dink of sê of skryf daar is geen hoop meer vir hierdie land nie.
Amen.





Dankie Willem, ek is mal oor…
Dankie Willem, ek is mal oor Dana se skryfwerk.