Ek begin die gesprekslyn sodat ek ophou om die Alternatiewe sleepvoertuie gesprekslyn te besoedel met praatjies oor die 2013 Ford Ranger 3.2 auto 4x4 wat ek onlangs gekoop het.
Ek wil nie die goeie raad wat ander lede wat soortgelyke voertuie het/gehad het verbeur nie, so nou kan ons verder daaroor praat hier.
Almal ken teen die tyd die besonderhede van my aankoop, so ek gaan niks herhaal hier wat reeds gesê is onder Alternatiewe sleepvoertuie nie.

Ek het nie 'n.....................
...................dubbelkajuit bakkie nie en moet miskien maar eerder my mond hou. Maar, ek wil tog graag 'n opinie gee. Chris, jy het nou 'n pragtige d/k bakkie gekoop, maar die groot tekort is die bakruimte wat oop is. Hoekom nou afskeep met seiltjies, roller-deksels en sulke goed ? Voltooi jou aankoop nou behoorlik, skaf 'n kappie aan wat aan jou behoeftes voldoen en wat pas by hierdie mooi en netjiese bakkie want dit maak geen sin om iets net halfpad aan te pak nie . Die koste van 'n kappie is net 'n fraksie van die bakkie se aankoopkoste, moenie nou afskeep nie.
Klein kans
Oom Len, daar is nog ‘n klein kans dat ek ‘n kappie sal opsit. My vriend in die tweedehandse motor bedryf kon nie die week by Ramkappie uitkom om te hoor hoeveel hulle hom sal vra as hy vir my ‘n kappie laat opsit deur hulle besigheid nie. As dit in die lae R20k is sal ek dit oorweeg. Intussen geniet ek dit om weer ‘n bakkie te hê waarop ek goed kan laai. Ek het gister vir die kinders elkeen ‘n lessenaar gekoop by Game, en die twee dose het netjies agterop die bak gepas.
‘n Selfdoen projek?
Ek begin dit oorweeg om self ‘n kappie aanmekaar te slaan. Dis maklik om alles te koop wat mens benodig, dit kos net tyd. Ek werk nie van 22- 26 Desember nie. Die uitdaging sal net wees om alles aan te skaf wat nodig is voor 16 Desember, want daarna kan dit sukkel. Ek vermoed ek kan vir helfte van die prys ‘n kappie bou, maar ek moet eers nog bietjie sit en pryse kry van materiaal nadat ek afmetings gevat het.
Min dae!!!!
Môre Chris, ek dink nie dis 'n goeie idee nie. Wil jy die selfdoen kappie dan as 'n tussentydse oplossing beskou, of permanent.? Indien laasgenoemde, kan jy dit in fases aanpak, waar fase 1 voldoende is vir die Dwarswegstrand vakansie.
Indien 'n tussentydse oplossing, dan is ongeveer R15000 baie geld om te spandeer, as jy tog later ,n Ramkappie gaan opsit. Dan eerder net 'n seiltjie.
Het jy al die nodige gereedskap vir so 'n projek? Sweis, plate sny, vensterrame afdigting ensovoorts. Sterkte met jou besluite, maar wees versigtig om nie oor optimisties met tydskedule te wees nie.
Ek het mos ‘n Prado
As dit nie kant en klaar is voor ons Dwarswegstrand toe gaan nie ry ons met die Prado. Ek wil nie ‘n tydelike oplossing hê nie, ek wil die bakkie ordentlik inrig. Dit sal ‘n lekker projek wees, en dis nie nodig vir sweis nie. Connect-it het swaardiens koppelstukke wat SABS getoets is en sommer alles mooi haaks sal hou sonder klampe. Dis ook baie vinniger as sweis. Gaan kyk gerus na hulle webwerf.
Venster rame ens
Ek het die webwerf gekry van ‘n verskaffer wat vensters, gaslifts, slotte, dakrakke en al die nodige hegstukke voorsien aan kappie vervaardigers. Ek gaan by hulle kwotasies aanvra vir die res van die materiaal. Die vervaardigers kry natuurlik afslag, maar die materiaal gaan my steeds ordes minder kos as om ‘n kappie te koop.
Die tuisgeboude kappies wat…
Die tuisgeboude kappies wat hier rond te siene is, en van hulle is werklik netjies aanmekaar gesit, lyk maar net soos tuisgeboude kappies. Die vreeslike skerp hoeke, kante sonder n effe van n knak, etc, etc is darem nie die standaard van die wat uit die vervaardigers se werkswinkels kom nie.
Ek het al baie staan en beloer oor hoe die " rondings" uit n klomp voue gemaak is, dan gesny en vasgesweis om hoeke te maak, is bitter goed gedoen.
Ek vir die Landy, by n fabriek ń kappie maak. Hulle bou boswaentjies. Once of ,so was taamlik duur. Bitter netjies, fancy welding en fancy skarniere en slotte. Ongelukkig lyk dit soos n appelkrat wat oorgetrek is op die voertuig.
Skuus, maar dit is my eerlike opinie. Lees weer wat Len bo geskryf het. Mooi bakkie....
Lus vir ‘n projek
Ek hoor wat Oom Neef sê, en ek weet dit is waar. Dis eintlik maar die lus vir ‘n projek wat my gisteraand laat soek het op Google na selfdoen opsies. Hier is ‘n artikel wat ‘n ou wat sy eie gebou het geskryf het met foto’s. Hy het nie werklik so baie gespaar nie (dit het hom sowat twee derdes gekos van wat ‘n kommersiële produk sou gekos het).
Ek gaan ‘n ander projekkie kry vir die paar dae wat ek nie werk nie en nie weggaan nie. Ek oorweeg dit om ‘n raam te bou waarin ek my sonpanele gaan monteer tussen toere sodat hulle die huis se omsetter kan voer en ons ‘n paar Mandelas kan spaar op elektrisiteit.
Ek hoor wat Oom Neef sê maar…
Hier is ‘n maatskappy wat laser en plasma snyers en ‘n CNC buigmasjien het. As ek ‘n tekening vir hulle gee (ek kan CAD gebruik) dan sal hulle vir my al die materiaal kan sny en buig presies soos ek dit wil hê. Ek hou nie van die aluminium tread plate as materiaal vir ‘n kappie nie, want dis te blink. As mens vlekvrye staal plaat gebruik en dit laat powder coat na die tyd kan dit baie netjies uitkom.
Met die laser en plasma sny werk sal al die nodige gate en snitte 100% akkuraat wees en sal bv slotte en venster rame perfek pas. Dan is dit net ‘n kwessie van aanmekaar sit en sal die finale produk netjies lyk. Ek sal graag wil weet hoeveel goedkoper dit sal uitwerk as ‘n gekoopte kappie, maar ek het eintlik nie tyd om deur die hele oefening te gaan nie.
As ek nou geweet het dat dit bv helfte soveel gaan kos as om een te koop, sou ek tyd gemaak het daarvoor. Maar die premie wat mens gaan betaal omdat jy nie in grootmaat materiaal koop nie, plus die koste van die sny- en buigwerk gaan waarskynlik daartoe lei dat die besparing nie só groot gaan wees nie. En dan sit mens met ‘n produk wat nie ge-engineer is nie en dalk kan faal as jy Kgalagadi se paaie tref tussen skrape.
Dit sal n lekker projek wees…
Dit sal n lekker projek wees om self aan te pak. Maar soos jy noem, teen die tyd wat jy al die nodige spesialiswerk gedoen is, gaan jy hopelik gelyk breek met koste. En dan nog intussen die leerkurwe en frustrasies.
Laat my dink aan my buurman, regtig n slim gegradueerde in landbou. Als onder die son word herontwerp en dan self bou. Daar lê hope pogings op sy werf. Tog kry hy hier en daar iets reg wat redelik tot goed werk. Maar beter as wat hy kon koop... nog niks wat ek gesien het nie.
As jy n totaal unieke ontwerp mee vorendag kom, dan klink dit na ń plan. Laat loop met die ontwerpe, dit is amper die lekkerste van so scheme.
Unieke ontwerp???
Vir 'n kappie, ek twyfel. Al die verskillende vervaardigers se kappies lyk omtrent presies dieselfde. Ek wonder of die ouens ooit moeite doen met patente regte. Mens kan kwalik 'n verskil sien tussen RinoCab, LEDfly, RLD, Ramkappie ensovoorts. Selfs die ekstras wat voorsien word, is maar amper duplikate.
Daar sal altyd n nuwe…
Daar sal altyd n nuwe ontwerp wees, anders het ons nog in model T Ford's gery.
Die huidige kappies is n groot verbetering teenoor die ruwe veselglas wat maar onlangs n verskyning gemaak het. Hulle lyk nou almal Macho......
Bou een van Carbon fibre ? Spandeer n goeie klompie tyd om ń mould, of dalk 10 voorbeelde, te maak met netjiese lyne, komplimenteer die bakwerk.
Vootspoed.
3D drukkery
Herman, dalk sommer koolstofvesel met 3D-printing. wonder net of dit 'n daktent met 2 persone se gewig sal kan dra.
Koolstofvesel is 5 keer…
Koolstofvesel is 5 keer sterker as staal en baie, baie, ligter. Ek glo nie jy kan dit 3d print nie, maar beslis jou moulds, skuus is dit vormstukke?
Heuningkoek
Ek vermoed dat as die saamgestelde koolstofvesel in die bekende heuningkoek struktuur gebruik word, dat dit baie sterk is. Dit word baie gebruik in die lugvaart industrie.
Ek het egter nie veel kennis van die materiaal nie.
Die self bouis `n uitdaging…
Die self bouis `n uitdaging. Ek is ook een van daai wat als wil probeer self doen. Soms suksesvol soms minder soos Herman se buurman.
Die kappie op die 3.2 BT50 het ek self gebou die raam was van staal (el kan nie alu sweis nie) maar oorgetrek met die plaat waarvan sekere mense nie hou nie![]()
Mooi geplak met Sicaflex en rivits en moet sê hy het `n helse ongeluk oorleef

Selfs met die kante wat kon oopmaak was die inlaai vir `n kortgat soos ek maar `n gesukkel ek het maar so 2 trap steppies saamgery.
Toe ek die Wildtrack gekoop het was die kappie reeds op so dit was `n bargain maar selfs as daar nie een was nie sou ek liewer eek loop koop het as om weer een te bou.

Was `n Rhino kappie lekker stof en waterdig nadat ek ook die agter klapeen van daai stofdig stelle laat installeer het.
Altyd lekker om iets self te doen en die vrug van jou arbeid te sien en genet maar soms is sommer net koop maar tog net beter
Sterkte met jou besluit en hoop jy kry wat jy regtig wil hê en aan jou behoeftes voldoen
Groetnis
Risikos van self bou
Afgesien van die tyd faktor (party van ons werk nog en het kinders in die huis), en die feit dat mens waarskynlik nie soveel goedkoper gaan uitkom met self bou nie is daar ander risikos. Daar is ‘n leerkurwe en potensiële duur foute. Soos ek vroeër genoem het sit mens dan ook met ‘n stuk raaiwerk, nie ‘n ingenieurs ontwerp nie. Met ‘n bakkie se vering op erge sinkplaat gaan so kappie aan kwaai stress onderwerp word.
Ek is nie seker dat al die kappies op die mark wel ingenieursontwerpe is nie. Dis eintlik potensieel gevaarlik. As jy enige staalstruktuur bou - selfs ‘n afdak - moet ‘n ingenieur dit afteken. Ek wonder of dit die geval is met aftermarket produkte soos kappies, staal buffers en dakrakke.
Ten minste kom al die kappies waarop ek kwotasies gekry het (al die make wat ek kon opspoor) met ten minste ‘n jaar waarborg. Dit sal darem nie snaaks wees as mens R30k betaal vir ‘n kappie en die ding kraak, lek water of suig stof in nie.
Ek het gisteraand na ‘n YouTube video van ‘n Bushtec kappie gekyk, en ek moet sê dit lyk na ‘n ordentlike produk. Dis vrek stewig en slim ontwerp so bykomstighede kan maklik bygevoeg word. Die basiese model kos egter amper R38k vir my Ranger, en dan het dit nie ‘n dakrak nie.
Omdat ons waarskynlik nie ‘n lang toer gaan aanpak sonder die Kavango nie, is die ander bykomstighede in die kappie/bak nie nodig nie. Ek sal wel graag ‘n dakrak wil hê, omdat hout laai altyd ‘n uitdaging is. Met ‘n bakkie waarskynlik minder so as met bv die Prado, maar soms wil mens sommer 10 sakke hout laai, en dit vat baie plek en kan mors.
Ek sien vanoggend ‘n kappie wat van checkered plate gemaak is maar nie so blink nie. Mens kry natuurlik daarvan wat geborsel is en nie so erg blink nie. Bushtec maak ook daarvan wat gekleur is. Die gladde plaat wat powder coat op het lyk net vir my mooier, en gaan beter pas by my Ranger se kleur. Dit gaan egter baie warm word in die kappie, en ons gaan die Engel agter op die bak laai. Die tweede battery ook. Bushtec het insulasie as ‘n opsie. Mens kan seker ‘n ander kappie ook self insuleer sonder om te veel gewig by te voeg.
Daardie BT50 se kappie lyk nie sleg nie, maar mens gaan sukkel om self iets te maak wat so mooi afgerond is soos die kommersiële produkte.
Ek dink Chris het homself al…
Ek dink Chris het homself al geantwoord dat hy maar eerder 'n produk op die mark moet koop. Het jou vriend nognie teruggekom met 'n moontlike afslag prys?
Ek het nou bietjie gaan kyk vir kappies en op die volgende afgekom. R26990
Dankie Hennie
Dit lyk ook na ‘n netjiese kappie. Nadat ek die kant vensters, interne liggies, insulasie en dakrak bygesit het trek dit egter by R37780 en dan sal daar nog koerier koste bykom.
Ek wil nie nie die ou wat moontlik vir my afslag kan kry irriteer nie. Almal hardloop maar rond die tyd van die jaar en kom nie by alles uit nie. Die kappie sal waarskynlik maar moet wag tot volgende jaar. Ek kla egter nie te veel nie want ek gaan moet skuld maak daarvoor, en die Prado is slaggereed. Ek het vanoggend daarmee gery omdat die tuin ingenieur besig is om goed wat ek wil weg ry op die bakkie te laai, en dit bly maar ‘n plesier om mee te ry.





Besluite
Ek hoor jou Wessel, die gespande seiltjie lyk netjies maar ek is teen die gate.
Ek stem saam met Oom Neef. Ek kan stroke wrap opsit om die verf te beskerm. Die bakkie se neus en voorkant het reeds daarvan op. Ek is gewoond aan die rekke van my vorige Ranger af en dit het vir baie jare op alle bakkies so gewerk.
Die Tusk kappie na koerier en opsit kos dieselfde as die Ramkappie en dit lyk dieselfde, net ‘n ander naam.