Is daar nog forum-gebruikers wat al hulle foto's op Microsoft se One Drive gestoor het? My dogter het my aangemoedig om dit te doen. Sou jou rekenaar se hardeskyf skielik besluit om die gees te gee - en die inhoud kan nie herwin word nie - het jy 'n rugsteun van al jou foto's op One Drive.
Maar wat ek nogal van hou is die feit dat One Drive elke dag (waarop jy foto's geneem het op daardie spesifieke datum) vir jou 'n herinnering stuur van die betrokke dag se foto's. Ekself gaan selde loer op al die lêers waarop my ou foto's is - behalwe wanneer ek dalk 'n spesifieke foto soek. Dan skielik, uit die bloute, kry jy 'n e-pos met die foto's wat jy op die betrokke dag geneem het. En dit bring meestal 'n klomp aangename herinneringe terug.
Vandag het ek o.a. die volgende foto's ontvang wat geneem is op 1 Feb 2019 tydens ons verblyf in Shingwedzi (tydens een van my vele wegbreke wildtuin toe as ek in die noorde moes gaan werk).

Dit was ons chalet waar Ralie amper die dikstert skerpioen, aangesien vir een of ander gogga, in die toilet wou optel. Genadiglik het sy my geroep om dit te kom doen - waarna ek toe sien dat sy met 'n lelike kalant "speel".
Die volgende foto het ek op die S56 (Mphongolo Loop) geneem toe dié ou "dagha boy" pas 'n lekker modderbad geneem het.

Tussen gister se foto's is ek weer herinner aan die muskeljaatkat wat ons met verlangende oë sit en aanstaar het toe ons die aand van 31 Jan 2019 in Mopani gebraai het.

Aag - en so kan ek aangaan met foto's waarvan ek al amper vergeet het. As jy (ook) nog nie jou foto's op One Drive stoor nie, is dit dalk raadsaam om dit ernstig te oorweeg.
Geert ...
... snoek het gewoonlik eers in die later deel om Kaappunt ooswaarts beweeg, maar beslis nie meer nie. Vroegwinter is steeds vangtyd langs die Weskus, alhoewel ook heelwat minder as vroeër jare. Daar word gespekuleer dat klimaatsverandering, wat hoër see-temperature meebring, waarskynlik 'n rol daarin speel. Ons kry langs die Kaapse kus nou sommige spesies (alhoewel raar, maar tóg) vissoorte wat eens net langs die Natalse kus voorgekom het.
Twee jaar gelede - die laaste keer wat ek saam met my seun by Hentiesbaai gaan hengel het - was die tradisionele yskoue water waarin jy beswaarlik jou groottoon wou druk, so warm dat jy lus gekry het om te swem.
Dinge het verander en verander steeds. Ons snoektande is behoorlik getrek hier in Kleinmond - alhoewel ek nog altyd die Weskus se snoek verkies het. Laasgenoemde was nog altyd vetter as dié hier by ons. En 'n vis moet vet wees om lekker te proe.
Weer so 'n paar herinneringe ...
... wat ek vandag vanaf One Drive ontvang het.
In Augustus 2020 word ons toe mos "vrygelaat" na 'n paar maande in die Covid-tronk. Ons het besluit dat ons dit moet vier met 'n kort toertjie na plekke hier naby ons. Op 15 Augustus vat ons toe die N2 in 'n oostelike rigting en slaap vir die eerste aand oor in een van die Bontebokpark se uitstekende chalets. Ons het voorheen al verskeie kere daar gekamp, maar het dit nog altyd in gedagte gehad om hulle vaste akkommodasie te beproef. Ek kan dit met vrymoedigheid aanbeveel. Op pad daarnatoe was dit volblomtyd van die Canola-lande. Watter gesig!

Ek het by vorige geleenthede gesien dat Chalet No 7 die beste uitsig oor die Breederivier bied. 'n Oproep vooraf na die park se ontvangs, het verseker dat ons No 7 kry vir die aand.
Ons uitsig oor die rivier:

Ons chalet:

Ons was skaars daar of 'n paar bontbokke het kom dagsê:

Die akkomodasie van binne:



4 September 2004
Ek weet nie of van my ander forummaters die destydse Vaalbos Nasionale Park besoek het nie. Ek het die voorreg gehad om twee keer daar besoek af te lê en in hulle nostalgiese huisies te bly. Die park is gedeproklameer nadat eise teen die grond deur diamantdelwers ingestel is. Omdat dit gebruik was as park waar skaarser wildsoorte geteel is, het die deproklamasie aanleiding gegee tot die vestiging van die huidige Mokala Nasionale Park.
Omdat dit só 'n pragtige park was, was ek destyds nogals redelik ontsteld dat hierdie juweel deur delwers omgedolwe moet word. Hier is 'n foto, waaraan One Drive my vandag herinner, van die mooi ou huisies (een van slegs drie) wat daar was. Die ligte was danksy solarpanele en die yskas, stoof en warmwater was afhanklik van gas. Saans was dit pikdonker buite met slegs die naggeluide van o.a. jakkalse. Dit was 'n idilliese bestemming.

Vaalbos na Mokala
Van my medewerkers by PBMR se seun het by Vaalbos as wildbewaarder gewerk.
Volgens my swak geheue en die geskiedenis van Mokala, by die museum beskikbaar, het hulle AL die wild oorgeskuif na Mokala. Dit is ook in 'n baie kort tydjie gedoen, maar die tydsduur ontgaan my.
Daai huisie lyk sommer lekker, maar seker BAIE warm in die hoogsomer
Synde hier maar min aangaan ...
... plaas ek sommer weer 'n paar foto's waaraan One Drive Memories my gister herinner het. Dit is almal op 19 November in die onderskeie jare geneem. Ek verwag nie kommentaar nie en kyk maar daarna net as jy sou wou.
2005 - Een van ons eerste kuiers in die Bontebokpark. Dit was nog voordat die nuwe ablusies gebou was - die ou ablusies was net agter ons karavaan.

Destyds, soos vandag nog, kom die bontbokke gereeld in die kamp kuier. Dit bly maar vir my een van ons mooiste (kleurvolste) boksoorte.

2011 - 'n Ouma is soms maar verplig om haar lyf nog jonk te hou as die kleinkinders kom kuier en besig gehou moet word.

2013 - Mokala Nas Park. Ek het nog net by twee geleenthede hase in die wildtuin (ruskampe uitgesluit) gesien en een keer in Karoo Nas Park. Hierdie was die enigste keer wat ek twee hase saam gesien het. Ons het in Mosu Lodge, met sy uitstekende akkommodasie, gebly.

2018 - Ons was met 'n werkstrip op pad Oos-Vrystaat toe en het in 'n Lekkeslaap selfsorgplek (Be Blessed) in Richmond oorgebly. Ek was verras met die pragtige tuin wat hierdie mense in die Karoo onderhou het.

2020 - Ek was weer met 'n werkstrip op pad noorde toe. Soos baie ander kere kon ek nie die versoeking weerstaan om 'n paar dae weg te breek wildtuin toe nie. Ons het hierdie keer in onderskeidelik Letaba, Shingwedzi en Bateleur oorgebly. Hier volg 'n paar foto's van 19 Nov 2020.
Ons eet nie baie in die wildtuin se restaurante nie, maar is tog lief om 'n lekker "brunch" by Mopani se restaurant te geniet. Nie net is hulle kos en diens goed nie, maar jy geniet 'n pragtige uitsig oor die Pionierdam.

Dit was ons enigste keer in Bateleur. Synde ons in afslagtyd daar was (40% af) kon ons dit bybring om in hierdie andersins duurderige bosveldkampie oor te bly vir 3 aande. Dit is 'n mooi ou kampie met 'n besonderse lekker atmosfeer. Maar ai, die eekhorings se wangedrag is 'n kopseer. Hulle het deur die dak gekom en in die tweede slaapkamer, waar ons kruideniers gestoor was, elke liewe "long life" melkboks stukkend gevreet.

Waar dit lekker was...
Ek sit ook en blaai deur my kampeer foto's, en besef hoe lekker ons al vakansie gehou het. Hier is 3 fotos van lekker plekke/staanplekke waar ons al spore gelos het;
Balule

Tsendze nr 28: Na my mening die lekkerste staanplek, wat koelte vir woonwa, en son vir panele, betref.
Mokala nr5: Ook na my smaak, lekker koelte vir wa, met baie son vir panele. Agter my trokkie is eie ablusie vir nr 5 en 6. Staanplek 6 is so skuins links oor my sonpanele.
Vir julle ouens met die…
Vir julle ouens met die sonpanele is daar ander faktore wat ook in gedagte gehou moet word. Maar No 29 was vir my 'n lekker staanplek in Tsendze. So ook No 26 (my persoonlike gunsteling). No 13, waar ek die eerste keer gestaan het, is 'n lekker skaduryke plek (vir die warmer dae) en is seker juis vir daardie rede gewild (ek kon dit nog nooit weer kry nie. Maar dit sal sekerlik nie deug vir solarpanele nie.
Dalk moet ek maar eenkeer Motswedi kampeerterrein in Mokala met my tent aandurf. My ou waentjie sal dit nie tot daar maak nie. Ek het al daar gaan inloer - en dit lyk baie bakgat.
Dankie ChrisB,...............
...............ek het lekker saamgekuier. Ek stem saam, die Bontebok is een van die mooiste bokke wat daar is.





Snoek
Wat is die rede? Mag mens nie meer nie, is daar nie meer snoek nie of het mense se belangstelling verloor?