Môre vriende,
Ek gaan probeer om dié Jors se Kampstories gereeld hier te plaas ?
Hier is die fb skakel.
Dagsê vriende, …
Dagsê vriende,
DIE HARE GAAN WAAI !
Gister n bietjie gepraat van vrouens en hul hare. Praat ek gisteraand met oom Kaspaas daar in die Kruger.
Nee, het hy te vertelle, hy het my storie gelees en die ander bobbejane daarvan vertel. Ou Poenskop het glo al laas week besluit dit is n goeie tyd om n haarkapper salon oop te maak vir al die bobbejane in die wildtuin. Hy ken net een styl en dit is poenskop. Hy reken hy gaan nou die gestryery stopsit van ek is tog mooier as jy, en my hare is mooier versorg as joune.
Almal gaan nou poenskop dra. Terwyl ons so praat sê oom Kaspaas, wag ek gee die foon vir hom, ek sit hoeka hier in sy stoel. "Poenskop, praat hier met Jors"
Die volgende oomblik groet hy en sê, wag laat ek net die ou phonetjie op speakerphone sit, dan kan almal lekker gesels en ek kan aanhou sny. Knip.....knip....knip hoor ek sy skêr toe hy aangaan.
Nou vertel hy opgewonde verder van sy salon. Hy glo net aan een haarproduk, vertel hy. Ek dog, hier kom dit nou, seker met die Tresemme debakel". Hy sê, ek glo net aan "STRESSPASS". Afgelei van trespass, glo omdat bobbejane dit so baie doen.
Vandat hulle dit gebruik voel hulle vere oor ander se hare.
Wag sê hy, ek moet gaan. Hier is baie wat wag. Die ouens hitchhike van heinde en verre om hier te kom. Toe hoor ek net hoe klap....klap....klap hy die doek soos hy oom Kaspaas se hare uitskud en hy roep "VOLGENDE"
Vreugde en vrede vir julle.
Salon-Google foto.
Hitchikers-Veronica Kern.
Verwese oom Kaaspaas, die uwe.


Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
AG, HET MEVROU NIE VIR MY N PAAR RANDJIES NIE.
Ou Broer, nou hierdie glo ek het julle seker al almal gehoor. Dit is net die aanspreekvorm wat verskil. Uit die aard van die saak kan dit Meneer word. Jong dametjies weet weer waar lê ons oumense se liefde en benader dit weer met n ander inslagspunt.
Môre oom/tannie, pluk dan n verrimpelde fototjie van n kleine kindjie uit wat verwese na die kamera gestaar het. En sê vra, het oom nie vir my geld om kos te koop vir my kind nie.
Hier by ons is weer n bejaarde dame wat die dorp bewandel, wat altyd geld bedel vir die geld wat sy kwansuis vir haar voorskrif kort. Noudat almal haar en haar pil afhanklikheid ken, teiken sy die GP en N registrasie voertuie by die vulstasies.
My broer vertel weer van n ou wat by sy huis aankom omdat hy altyd ietsie te eet daar kan kry. Soos dit n goeie bedelaar met broederliefde betaam het hy sy vriende van die huis vertel. Nodeloos om te sê, daar is nou gereelde besoekers.
Vertel iemand gister dat sy vir kinders in die Kaap gaan kuier en sy gaan bus ry. By die bushalte in Pretoria wag sy vir haar bus. Daar kom n dametjie en sê, het tannie nie vir my R600 vir my kaartjie Durban toe nie, of net die helfte sal ook al help. Haar ma is siek en sy wil dringend daar kom
Die man langs haar sê vir haar, mevrou, gee jy die helfte en ek sal die ander helfte gee. Wat sy toe ook doen. Dadelik haal die man ook sy beursie uit en gee sy deel, ook R300.
Die Durban bus vertrek eerste en wie klim saam saam op die bus? Die paartjie wat haar pas uit haar pension geldjies beswendel het.
Ou Sus, nou moet ek klaarmaak, airtime is duur. Julle het nie vir my ook n paar ou randjies wat nog oor is in jul beursies nie. Myne is nou ook al leeg soos wat die ouens my ook maar vang. Elke keer sê ek, dit was nou die laaste, elke keer vang iemand my.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
AS JY AANT HOLLE RAAK.
Man ek moet jul die ding vertel. Ja...ja...ja...ek ken die ding dat jy iemand se ouderdom kan bepaal aan sy hol.
Die oumense het mos met die woord vorendag gekom. By atletiek sou jy by hul hoor, " man maar daai kind kan darem lekker hol"
Vandag wil ek jul van n oumens se hol vertel. Daai onverwagse lopie wat ons partykeer kry.
Is ons eendag so oor Kerstyd daar by Gateway in Natal. Ons Vrystaters ken van roltrappe, sien hul altyd op TV. Jy moet n bietjie mense op n roltrap dophou. As hul opgaan moet daar altyd een of twee trappies fisies geklim word. Afgaan dieselfde, een of twee self afklim. Baie keer is dit om by jou wederhelf te kom.
So was dit ook die dag. Ons gaan af, die ouvrou is so n trappie of wat voor my. Nou wil ek aftrap na haar toe. My sterk been eerste, trap ek te kort met my hak. Ou broer met die hak op trap een en die tone wat mik vir trap twee maak dit mos nou so half en half dat daar n wanbalans is. Julle weet mos, daai gevoel van hier gaan jy nou. Gewig en skuinstes is n lelike ding, veral as jy ouderdom bysit. Raak ek daar aant hardloop. Ek mis die ouvrou net net. Seker ook maar net omdat ek skaars weggetrek het. Net gehoor sy gee n gil toe ek by haar verbygaan.
Daai gil maak dat almal nou vir my staan en kyk. Ou broer, laat ek jou nou sê, toe tel ek spoed op, trap net so nou en dan om die lyf weer regop te kry. Dan hardloop jou onderlyf mos nou weer jou bolyf in. Ma gelukkig is daar nie ander mense op die roltrap nie. Heel onder staan n sekuriteits outjie. Net toe ek dink ek gaan die ding kan beheer dog hy, hy sal die ding kan red en hy trap die emergency knop om die roltrap te stop. Shame, seker gedink hy doen goed.
Briek die trappe hier onder my en my momentum dwing my vorentoe. Met die dat die trappe nou stilstaan, trap ek nou vas. Man dit is amper soos verspring vanmeleë. Raak ek daar airborn so tien trappe van onder af. Nou gaan ek reguit vorentoe. Ek mis die sekuriteits mannetjie se kop net net. My bene hardloop nog steeds so in die lug. Ek is bo-oor n vrou en kinders met van hierdie "Merry Christmas" ballonne wat so in die lug hang. Dié het aan my vasgehaak en ek het die skreeuende kinders daar agtergelaat sonder hul ballonne.
Paar tree verder duik ek in n ou tannie se winkeltrollie in wat in die rigting van die trappe loop. Dit is net buns en botter waar jy kyk. Die botter so met my vingerpunte uit my oogkaste uitgeskep. Die ballonne se toue so om my nek verstrengel en hul dryf so bokant my kop in die lug.
Ou broer, daar sit ek in daai trollie vir haar en kyk. Was sy nou vir jou geskok. Shame, as dit nie vir my ouderdom was nie, kon sy seker gedink het dit is een van haar kleinkinders. Sê ek vir haar "Merry Christmas"
Ewenwel, het die omstanders my daar kom uittel uit die trollie en my weer staangemaak. Gelukkig niks gebreek nie.
Man, maar was die lyf nou seer van al die oefeninge. Dadelik vir my daar by een of ander outdoor plek twee sulke lang stapstokke gekoop.
Het die Natallers nou vir my bekyk die dag. Die ouman wat mall toe kom met sy lang stapstokke.
Vreugde en vrede vir julle..
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
COMRADES HIER KOM EK.
Ou Broer, vandag wil ek jou n ding vertel. Jy moet nou wragties nie die ouvrou loop vertel nie. Sy is hoeka so half en half die dinges in vir my omdat ek haar gister alleen gelos het om ons kruideniers in die motor te laai.
Ons was net mooi besig daarmee toe daar so n pragtige dametjie, wat langs ons geparkeer was, daar aankom met n trollie vol goed. n Mooie meisiekjênd ou Broer. Hier voor haar borste het sy so n drasak gedoente, met die pragtigste ou babatjie in. Sien ek die kjênd sukkel met die sak om die baba daar los en uit te kry. Loop help ek haar toe.
Maar jul weet mos, ons oumense ken nie al die grênd patente van vandag nie. Sy het een van hierdie ooprug toppies aan.
Nou moenie vir my vra hoe nie, ou Broer, knip ek die verkeerde hakies daar los. Die mooie meisiekjênd het net so n gilletjie gegee en gesê oom het my bra losgeknip.
Man, vergeet die vrou toe heelemal om verder uit te pak toe ek sê, wag ek sal hom weer vasmaak. Was sy nou heel onstig, die ouvrou.
Ewenwel ou Broer, die ouvrou het toe verder kom help. Was ek nou in die moeilikheid daaroor.
Ek dink eintlik ek weet waar het die moeilikheid begin. Ek het nie my bril opgehad nie. Die oogspesialis het hoeka gesê, "oom is bysiende"
Lankal agtergekom ek gaan deeske dae op gevoel.
Kom ek gooi vir jou nog n koffietjie in ou broer.
"Nou wat nou van die Comrades oom" vra jy.
Wrintiewaar het ek nou heel vergeet van die ding, onthou dat ek jou eendag daarvan vertel, dit is n lang storie
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
Wille Willem vertel my die storie. Hy vertel dit vir die waarheid. Sê so ewe, ou Jors, ek het dit met my eie oë gesien. Ek het jul vertel van ou Van en sy cruiser, toe sê Wille Willem......
Na aanleiding van jou Koos die brandweerman wil ek jou die storie vertel van Koos die plaasboer. Ou Koos het daar in die Karoo geboer, nogal skaap wereld daai en eendag kom n klomp hoë amptenare van die Spoorweg op die plaas aan, in daai dae nog S & R & H. Hulle deel hom mee dat hulle n spoorlyn oor sy plaas gaan bou wat sy plaas in twee gaan deel. Maar hoe nou meneer, die trein gaan mos my skape doodry, protesteer ou Koos. Toemaar paai hulle hom, ons gaan n draadheining span sodat jou skapies veilig sal wees. Maar hoe gemaak as ek die skape van die 1 weiveld na die ander moet vat, gaan julle hekke in sit? Nee meneer Koos, ons gaan n tonnel onder die spoorlyn bou dan kan die skape migreer soos hulle wil. Ohh okay sê Koos, nou maar maak dan so. Maande later na die treine begin loop het, kom die Spoorweg inspekteur om te sien hoe werk die tonnel vir Koos en hier vang hy Koos besig om vore in die tonnel se dak te kap. Hy meet die donkie se ore en kap dan met mening in daai concrete om die donkie se ore te laat pas. Kyk n donkie is n bevoeterde dier, as jy aan sy ore raak, raak hy onbeskof en skop en byt hy. Die inspekteur kla toe vir Koos aan vir beskadiging van Staatseiendom. Koos verskyn in die hof en die magistraat vra vir hom maar hoekom beskadig jy die Staat se eindom so? Koos sê sy donkie kan nie deur die tonnel en hy kap groewe sodat hulle ore daarin kan pas en dan stap hulle deur. Die magistraat sê, maar Koos hoekom grou jy nie net die grond onder hulle voete uit nie dan sal hulle mos kan inpas.Verontwaardig sê Koos, ai julle geleerde mense is ook maar dom, dis nie hulle bene wat te lank is nie, dit is hulle ore. Die saak is toe uit die hof gegooi.
Daai groewe sit tot vandag toe nog daar, ek sal jou gaan wys, sê Wille Willem.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende.
DIE LEWE.
Ou Seun en ou Dogter, kom sit jul nou so n bietjie hier weerskant van die oom, hier neffens ons ou kampvuurtjie.
Lat die oom eers vir jul n koffietjie ingooi. Ja ek weet jy sou eerder sjampanje verkies, my kind. En jy ou maat, seker brandewyn en coke. Maar lat die oom jou vertel, die oom wil hê jul moet nou nugtere denke hê.
Oom wil n bietjie praat oor die lewe. Eers word jy verwek en gebore. Nou is jy net oulik en pragtig. Almal sê dit ook, alhoewel jy nog nie daarvan weet nie. Dan word jy groter en minder oulik (stout). En nog groter, ouens hou dalk nou minder van jou. Ander is weer mal oor jou. Jy hou ook nie van almal nie.
My kind, dan kom die spices in die liggaam by, dogters kry sekeres en seuns kry ander. Vir ouers is dit n moeilike staduim, maar gelukkig gaan dit ook verby.
Uit die skool en uit die universiteit.Soekend.
Nou is jul mooi groot en soek jul n eie maatjie. Begin jul eie pot te krap. Begin self met n gesin en die sirkel begin weer van vooraf.
Nou word jy oud, die kinders gaan aan met hul lewe. Almal het n vol lewe, n besige lewe.
Ons ou liggame is vol plooie en selluliet. Ons koppies is grys en word al kleiner. Ons ore word langer. Ons bewegings raak stadiger. Baie word dalk moeilik.
My kind, dan besef jy, die Bybel was reg, dit was alles net n gejaag na wind. Al wat jy wil hê is Liefde. Vir jou Skepper, liefde vir jou kinders, jou kleinkinders, jou familie en jou naaste.
Geld is belangrik maar is nie alles nie. Die belangrikste is die liefde. Wees lief vir mekaar.
Nou hoe lyk dit met nog n ou koffietjie? Hoor daar, hoor hoe mooi roep die ou naguiltjie, is dit nie mooi nie?
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
Wille Willem is n man wat n ding kan vertel. Hy het al vele avonture meëgemaak en kan jou baie stories vertel. Kyk ou broer as hy eers begin kan hy nie ophou nie, die een na die ander ryg hy hul uit. En met elke storie smaak dit jou of jy saam met hom was. Nou vertel hy my die storie, dit voel kompleet of ek Hawaii se seewatersproei in my gesig gevoel het.
HAWAII.
Ek staan die dag by een van daai “Travel Agents “en beloer hulle brosedures oor idilliese vakansies op klein eilandjies en my oog vang een van Hawaii. Mense, het daai plekkie nou mooi spierwit strande, meisies met min klere aan en “coconut“ bome die wereld vol. Kyk ou broer, dit is mos so asof daar weer nuwe lewe in jou gebeendere inkom. Jy wil net gaan. Jy wil ook uit n coconut n drankie met n lang gedraaide strootjie drink. Saam met die ouvrou op die strande sit en vir die jongklomp kyk en n bietjie party op polsende musiek.
Met die wat dit amper moedersdag was, boek ek my en die ouvrou se plekke en hier volg my storie. Kyk, n mens vlieg mos met een van daai spoggerige vliegtuie na Amerika en van daar vlieg jy met so klein vliegtuigie, hulle noem dit Island Hoppers, na jou eindbestemming. Ons dwaal maar daar rond in die voorportaal van die terminus en wag vir ons vlug om aangekondig te word.
Blykbaar is elektrisiteit nie n vereiste by daai klein lughawens nie. Die manne het sulke borde wat lyk soos coathangers en dan sit hulle die vlug nommer per hand in . Ons vlug is nogal 5050 en ek dink, jinne dit klink soos 50/50 kans dat ons ons bestemming gaan bereik. En toe ons “Pilot “aangestap kom sink my moed in my skoene. Hy lyk ook al of hy afgetree moes gewees het. Ou maat, hy lyk soos ek en jy. Lyk vir my so half en half "gouterig". Sy gewrigte lyk vir my so of daar n rumatiekerigheid in hul kan wees. Dra hoeka sulke koper bangels aan elke gewrig, seker om die strammerigheid weg te vat. Hy het so mooi gekleurde blommerige hemp aan, kortbroek ala surfer style en vir skoene “flip flops “
Ou broer, en is hy getan. Wonder toe by my selwers, daai tan kry jy op n strand, nie in n vliegkajuit nie.
Agter hom loop so ou dame met daai wrap around sonbrille, julle weet, daai wat hulle uitdeel na n katterak operasie, en sy sleep n suurstof bottel agter haar. Dog so by my selwers, shame, wil seker haar laaste asem hier in saligheid kom uitblaas. Ek sê nogal vir die ouvrou, ai ek hoop nie sy is hier om iets te kom sweis op die vliegtuig nie. Ons “Pilot “bestyg die vliegtuig en wink om hom te volg. Man daai vliegtuig is klein, jy sit so te sê bo-op die ander passasier se skoot. Nou hou ek die “Pilot “dop, hy sit sy selfoon aan en Google Hawaii Maps, uit sy boonste sak haal hy papiertjies uit, van hierdie wat jy so kan vasplak. Hy begin hul so een vir een vasplak. Die een lees in sulke vet swart letters, "Haha, before take-off, start engines". Magties dink ek, is die man n komediant. n Ander een plak hy so oor n gauge, "Out of order" lees die. Ander is weer net nommertjies. Die laaste een plak hy so aan die windscreen vas. En daar staan in sulke groot letters geskryf “Let wheels down before landing “ Ek dog so by myself, hierdie “Captain Kirk “het al by n vorige geleentheid vergeet om die wiele te laat sak vir landing. Ek wag nou vir die aankondiging oor die luidspreker dat ons gaan opstyg, nie hierdie “Rambo “nie, hy draai net om in sy sitplek ek skreeu na agter “Yahoooo!!!! here we go “. Daai aeroplanetjie is so stadig, met die opstyg het daar n kiewiet op die vlerk kom sit. Hy het egter op die vlug geslaan toe hy die bome op die eindpunt van die aanloopbaan sien naderkom. Ou maat, nou lieg die oom nie, toe hy daai stokke met oumens ruk bewegings terugtrek, lyk dit soos n oumens wat in n lazyboy reguitskop. As dit nie was dat die bome in lanings in lyn met die aanloopbaan geplant was nie was ons al net daar dinges toe. Die ry laning se toppe skuur so aan die earie se pens met die twee wiele so binne die lanings. Die passasier voor my laat sak haar stoel in die lê posisie, maar boeta toe lê haar kop op my skoot, ek kyk af in haar oë en sy kyk op in myne, nogal heel ongemaklik. Ek dog, dit is hoe hul dit seker hier doen, wat kon ek doen, ek masseer toe haar kopvel. Die ouvrou my net so een vuil kyk gegee. As sy nie aan die anderkant van die gangetjie gesit het nie, het sy my verseker raak geklap. Die dame vlieg pen orent, toe sal ek sien dat haar stoel eintlik stukkend is, sy het nie bedoel om op my te kom lê nie.
Daar is nie n lugwaardin op die vlug nie, die “ Pilot “ het n cooler box waarin sulke mini koeldrank blikkies is ek dink dit was 100 ml wat hy dan aangee en elke passasier stuur dit aan vir die man agter hom. Tussen die ys dryf daar n klomp sardyntjies. Versnapperinge was n pakkie peanuts, net 5 in, ek het hulle getel, en aanboord vermaak was die Kaptein wat “I see with my little eye" speel. Intussen kou die Pilot kougom dat sy lippe soos windscreen wipers teen die ruit vee. Hy mis die vasgeplakte papiertjie net net. Die man kry nie hoogte nie. Hy bly net so bokant die see. Toe sien ek waarvoor die sardiens is. Ou broer gooi hy die sardientjies so weerskante van die vliegtuigie uit deur die vensters, spring twee dolfyne bo oor die vlerke en gryp die vissies so uit die lug uit. Sit die ander passasiers wragties en hande klap vir hierdie show. Kort kort lyk dit of dit reën as ons so deur n walvis se sproei vlieg. Daai seesproei lat die enjins nog so n ekstra stotter gee. Ou Broer, toe ons eindelik op die vliegveld van Hawaii land het ek gebuk en die teerstuk gesoen van blydskap en dankbaarheid. Ek vra locals daar, “How do you pronounce Hawaii with a W or a V en hy sê n V, ek sê dankie en hy sê “You velly velcome “ Nooit nooit weer sal ek gebruik maak van “Island Hopper" vliegtuie nie.
Wille Willem sê vrou sê, Jors, jy moenie alles glo wat die man jou vertel nie. Ek vee my voorkop af met my sakdoek, weet nou nog nie of dit sweet of seesproei was nie.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende.
Gister vra iemand op n groep ek moet n kerkstorie vertel. Toe gaan delf ek in my argiewe. Die tweede een gooi ek "mahala" by.
OOM ABIE EN DIE NIKKERBALL.
Vertel Wille Willem my die storie.
Dit was n warm dag daai Sondag toe almal in die kerk sit. Dit was nog in die dae toe die ouderling en diakenbanke so weerskante van die preekstoel was.
Heel voor sit Oom Abie in die ouderlingbanke. Hoof ouderling, op die punt, naaste aan die gemeente. Hy is die oudste inwoner op die dorp en ook die langste n lidmaat van die gemeente. Agter hom sit Tant Hessie, ook n ouderling met haar blomme hoed en een verdwaalde veer. Sy weer was nog van die ouer garde en het geglo n vrou bedek haar hoof as sy kerk toe gaan. Oom Abie het een slegte gewoonte gehad en dis om gedurende die diens te sit en nikkerballs suig. Dan het hy die gewoonte gehad om die nikkerball te wissel vanaf sy linker kies na sy regter kies met die gepaardgaande slurp en klap geluide tussen die valstande deur. Nou kyk dit het Tant Hessie mal gemaak om te sit en luister hoe die ou oom die nikkerball sit en wissel tussen sy kieste. Oor daai rede het sy altyd so ver as moontlik weg van hom probeer sit. Nou egter, beland sy reg agter hom. Omdat sy n voorbeeldige kerkganger was het sy op haar tande gebyt en dit verduur. n Ander kenmerk van Oom Abie was dat hy n monnik “hair style” gehad het, julle weet, daai bles bo-op die agterkop en dan die strook hare wat rondom sy agterkop loop. So sit Tant Hessie en luister na die diens en die irriterende oom se gesuig en die nikkerball verwisseling van kies toe sy opmerk daar vlieg n muskiet om Oom Abie se kop. As daar nou een ding is wat meer irriterend is as Oom Abie, is dit n muskiet. Solank jy daai ‘jet “ geluid hoor weet jy die muskiet is nog “airborn”, sodra dit stil raak weet jy, jy skenk nou bloed. Oom Abie is egter al n bietjie doof en is nie bewus van die muskiet se beplande aanval nie. So sien tant Hessie die muskiet land op Oom Abie se bles gedeelte. Dog Tant Hessie vandag stuur ek jou die ewigheid in, menende die muskiet, maar sy het niks om die muskiet mee te slaan nie. Al wat sy het is die dik Bybel op haar skoot.
Oom Abie is salig onbewus van die moord planne op die muskiet en suig te lekker aan sy nikkerball. Die tante vat die Bybel styf vas in haar twee hande en staan stadig op en tel die Bybel op tot bokant haar kop. Die dominee hou op preek siende hy nou nie weet wat aangaan nie. Wat het hy dan nou verkeerd gepreek dat n geagte ouderling hom met n Bybel wil gooi. Almal kyk nou na tant Hessie. Broer Abie staar na die dominee en verstaan ook nou nie die skielike stilte nie. Tant Hessie korrel en slaan die muskiet wat op Oom Abie se bles sit. Die volle Evangelie tref Oom Abie agter sy kop, dit was n kolskoot, die muskiet het die tydelike met die ewige verwissel. Oom Abie se nikkerball was nie so gelukkig nie. Op daai presiese oomblik toe die Bybel sy agterkop tref, het Oom Abie hoeka kieste verruil van links na regs, daai nikkerball trek soos n koeël uit sy mond, met die valstande so n duim of twee al hapende agterna, en slaan teen Dominee se preekstoel vas. Die valstande is swaar en val neffens die doopvond, kaplaks op die plankvloere. Die nikkerball skiet skuins terug in die gang tussen die kerkbanke in en begin stadig terugrol. Klein Kosie spring rats op en gryp die Nikker-Ball en steek dit in sy mond.
Nou dreun dit al in die kerk soos almal lag. Die dominee sê " Amen, ons sal volgende sondag aangaan".
Tant Hessie en broer Abie het onder die leraar se leiding later in die konsistorie weer vrede gemaak.
Vervolg.
OOM ABIE EN DIE KERKORRELTJIE.
Soos ek gesê het, Wille Willem is in die gemeente en vertel dat oom Abie en tant Hessie nogal vir baie amok verantwoordelik was in hul gemeente. Met kerkraadvergaderings kon hul mekaar goed opvryf. Dit het dikwels tot laatnag geduur en broer dominee moes dikwels die hammertjie hard laat praat om die vergadering tot orde te roep.
So vertel hy van die Sondag, die mamma kom met haar kleuter seker so vier jaar oud die Kerk in en hulle gaan sit heel voor. Die Kerk is vol, dis Nagmaal,
So lui broer Abie die voorsang, selfs daarmee het hy en tant Hessie vasgehaak op n vergadering, as leier ouderling het hy gevoel dit is sy werk. Sy weer het prontuit gesê hy kan nie sing nie. Nou sing hul n lied, oom Abie is met vals stem en al nou besig om met die kerkorreltjie te wedywer om sy stem te laat geld. Die ou tannie agter die kerkorrel het weer die vermoë gehad om die kerkorreltjie te speel dat dit klink soos n traporrel. Ons almal weet dat Kerk en n kleuter nie mooi saamwerk nie, die outjie sit stil op die bank maar toe die gesang begin raak hy kriewelrig. Mamma het n plan, die plan is n pakkie van daai “Jelly Babies “en toe die mannetjie so rondskuif gee sy hom die sweets. Ingenome met homself pak hy die Jelly Babies op die bank langs hom, dis rooies, groenes, oranje en een verdwaalde swart Jelly Baby. Nou vat hy die swart Jelly Baby tussen sy twee vingertjies vas en hou dit op na sy Ma wat sing en sê, Mamma sê hello vir Sipho. Mamma maak of sy hom nie hoor nie en die keer sê die outjie in n harder stem, Sipho sê hello vir die miesies. Die mense wat naby hulle sit begin te giggel en toe hardop te lag. Mamma klap sy handjie en daar is die Jelly Baby uit sy hand uit. Toe skreeu daai knapie dat die wêreld kan hoor. Hoekom klap mamma vir Sipho, skree hy nou bo oom Abie se stem uit. Met n rooi gesig raap sy die knapie op en storm uit die Kerk uit. En toe weergalm dit in daai Kerk soos die mense lag. Dit is net oom Abie wat nog sing. Dominee besef hy moet ingryp en hou sy hande op in die lug. Die orreliste hou op speel. Oom Abie wat met sy rug na die preekstoel staan het nog n noot of drie gesing voordat hy dit agtergekom het. Gemeente, gemeente, roep die dominee, kom ons raak net weer rustig. Dominee vra vir broer Abie om voort te gaan met die die voorsang toe almal bedaar het.
En daar vat broer Abie hom, maar jong omdat hy ook n soort van toe neus het begin hy die gesang in n baie laer oktaaf as wat die orrelis hom beet het. Ons val maar in hier agter Oom Abie en ek besef hier kom moeilikheid toe die liedjie nog laer in note gaan, maar ons byt vas en trek die wa deur die drif tot op die kruin en pappie toe sak daai note hier heel onder toe rond, so laag dat ons nie meer sing nie, maar praat. Weer gooi Dominee sy hande in die lug en vra dat tant Hessie tog moet oorvat, maar ooohhh genade sy vat daai lied so hoog dat haar klein tongetjie vas slaan in haar keelgat, dit klink soos twee katte in parings tyd. Buite op die trappe van die Kerk het so losloper hond gesit met sy rug na die kerk en met die gekerm van tant Hessie se twee katte gaan die hond mos aan de tjank. Nou is dit die hond by die een deur en die mannetjie wat huil oor Sipho by die ander deur. Dominee beduie met sy kop na broer Abie om die hond te loop stil maak en hy stap so al sing, sing aan na die voorportaal om die hond stil te maak. Die hond is heel onbewus van Oom Abie wat na hom toe loop en toe Oom Abie se no 10 skoen hom onder die stert skop skrik hy so groot dat sy getjank nog 2 oktawe styg . Die gemeente dink dis die nuwe set toon en toe breek daar chaos los, Dominee gooi sy hande in die lug en sê so droogweg, kom ons los liewers die voorsang. Na die nagmaal terug in die konsistorie het tant Hessie gevoel oom Abie moet onder sensuur geplaas word oor die voorsang.
Vreugde en vrede vir julle.
Môre vertel ek verder.
Foto: NG Kerk Ficksburg.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
Weer n twee in een storie.
OOM ABIE EN TANT HESSIE.
Nou ja, ek is nog besig om jul van die twee te vertel. Met die wat die voorsang in die kerk in n redelike fiasko ge-eindig het die Sondag, wou tant Hessie mos hê die kerk moet oom Abie onder sensuur sit. Broer dominee moes net keer dat dinge nie handuit ruk nie.
Almal is toe later daar weg. Die Maandag oggend vroeg lui die herder se foon, dit is broer Abie. Hy wil die dominee kom sien. So gereël kom hy die middag daar aan.
Dominee, ek is baie beswaard, ek het gedog ek kom sê jou maar net, so kan dit nie aangaan nie. Ek gaan vir ou Hessie hof toe vat oor hierdie treitering. Gin mens kan so aangaan nie, vir wat kan ek nou nie my nikkerballs in die kerk suig nie? En as sy my dan nou al so in die gesig vat deur te sê ek kan nie sing nie. Nee broer, sy is nou besig om my die dinges in te maak. Broer Dominee, die woord wat ek wou gebruik, die mag ek niet. Dan slaan sy my ook nog met die Bybel oor de kop, en dit ten aanskoue van die hele gemeente, en dit broer, dit in die kerk. En buitendien, die storie van n muskiet wat op my kop kom sit het, die glo ek niet.
Van wanner af kom die kerklike tug haar toe om my te slaan, hê, van wanner af vra ek jou ....wag nou broer Abie, jy moet nou nie te haastig wees nie, probeer die dominee nou keer. Raak nou net eers rustig dat ons die ding mooi kan uitpraat.
Dominee, jy kan nou maar net sê wat jy wil, dink jy haar poging om die gemeente aan die sing te kry was goed, nee broer, sy het geklink soos n vark wat ter slagting gelei word. My ou ore is nie meer wat hul was nie, maar wragtig, gister het hul, hul finale knou gekry.
Kom ek jou nou sê, as my ouvrou nog geleef het, was ou Hessie nou dood en het jy wat dominus is, haar die week begrawe, verbeel jou, om my voor getuies so aan te rand, en dit ten aanskoue van die hele gemeente. Dan was sy sommer ook nou by haar oorle man. Gin wonder hy is so vroeg dood nie, sy het hom seker in sy se graf in gedryf. Gin Christenmens sal met haar kan huishou nie.
Broer Abie, probeer die dominee weer. Ek wil darem nou nie hê die ding moet in die hof loop draai nie, ek gaan vra dat die dagbestuur dringend moet vergader. Hou oom nou net n bietjie terug, ek is seker ons kan hierdie saak beredder. Ek meen, as leier ouderling gaan oom mos nou insae hê met die dagbestuur se vergadering en besluite.
Oom Abie is toe daar weg nadat hy deur die dominee oorreed is tot n tydelike skietstilstand. So het die dagbestuur toe vergader die Woensdag en daar is besluit dat broer Abie en suster Hessie nou in die toekoms saam die voorsang gaan lei. Broer Abie het half teësinnig ingestem tot die akkoord. Dominee het dit ook met tant Hessie gaan bespreek. Saam met daai man sing, in my dagske lewens nooit nie dominee, sê sy. Sy het vasgeskop soos n steeks perd maar tog later ingestem.
Die dominee het dit toe ook met die orrelis bespreek, die tannie het net haar kop vasgegryp en gesê, hoe op deeske aarde gaan ons die mense aant singe kry met daai twee.
Die dominee het net geweet, hierdie saak moet hy uit die howe uit hou.Tant Hessie en oom Abie se kinders en hul se orrelpyp nageslag is almal in die gemeente. Hierdie kan n groot ding raak.
(Die moeilikheid vervolg)
BROER ABIE EN SUSTER
HESSIE KRY SANGLESSE.
Ek is nog besig om jul te vertel van die dominee wat probeer red wat te redde is met die onmin tussen dié twee kerkraadslede.
Broer Abie en tant Hessie het haaks geraak oor die voorsang voor die eredienste. Eintlik het dit met nikkerballs begin. As julle uitgemis het moet jul dit dalk eers gaan lees op Jors se Kampvuur Stories.
Ewenwel, daar is nou ooreengekom om albei die twee beswaardes te betrek by die voorsang. Die orrelis, besluit om die twee eers n bietjie touwys te maak en reël n tyd om die stukke in te oefen.
Sy weer kon, soos ek al gesê het, n kerkorrel speel dat hy klink soos n van meleë se traporrel. Taamlik trekkerig. Glad nie vloeiend nie, inteendeel, dikwels met redelike stiltes tussen strofes. Tipies soos wat orrels in die vyftiger jare bespeel was. Sy is as tant Baby bekend in die gemeente. Naas oom Abie is sy die tweede langste in die gemeente.
Hul kom toe die Donderdag bymekaar, die dominee is ook daar om darem nou toe te sien dat die twee beswaardes mekaar nie sommer met die eerste bymekaarkomslag al takel nie.
Ek dink die groot fout wat tant Baby gemaak het was om vir die twee te sê hul gaan met die " Do-Re-Mi" begin. Nou kyk, dit sê jy nie vir twee oumense wat glo hul kan sing nie. Sommer dadelik was hul opgewerk. Oom Abie dreig dat hy gaan loop en tante Hessie sê, ons is nie kinders nie.
Broer dominee het sy hande vol gehad om die twee te laat bedaar. Toe vra tant Baby, kan julle musiek lees. Vir wat vra oom Abie, ek is nie hier om nou op my ouderdom te leer lees nie, ek kan lankal lees. Tant Baby moes toe nou eers mooi verduidelik van note lees. Nee, hul kon nie, maar ons kan sing, sê albei gelyk.
Na n uur kon hul dit darem regkry om gelyk in te val. Vrydag en Saterdag het hul weer vir n uur elk geoefen. So ook Sondag direk voor die diens. Toe die mense begin aankom, raai wie kom ook daar aan, die rondloper hond van laas Sondag wat begin tjank het met die voorsang. Weer het hy daar voor die deur gaan lê. Toe die gemeentesang begin het hy met n tjank opgevlieg so asof iemand op sy stert getrap het en die hasepad gevat, straataf. Selfs die duiwe in die kerktoring is met n gefladder daar uit die toring uit. Ek dink hul het ander broeiplek gaan soek. Vir hierdie gemeentesang het selfs die duiwe nie meer kans gesien nie.
Wat n storie, dan het oom Abie die noot, dan tant Hessie. Dan los sy hom weer en die gemeente vat hom oor, kompleet soos met n aflos. Die arme orrelis se kop draai nou omtrent reg in die ronde soos wat sy probeer byhou met waar die stemme vandaan kom en watter is op en watter is af van die noot af.
Selfs sy druk ook nou en dan n vals noot, so deurmekaar is sy nou al.
Van die ouer gemeentelede met gehoorstukkies sit hul af. Die kerke van daai tyd het banke gehad met so n handletjie en n klein speakertjie wat die hardhorendes so teen die beste oor gedruk het, die was dan met n draad verbind na die mikrofoon op die preekstoel. Nou, daardie oumense het sommer hul oorstukke weer terug gehang aan hul hakkies. Net om nie hierdie sang te hoor nie. Hoe harder oom Abie en ant Hessie sing, hoe harder speel die orrelis die orreltjie.
So het dit vir n paar weke aangegaan, hy, Hessie en tant Baby oefen deur die week en naweke sing hulle. Toe roep broer Abie halt, hy en Hessie sal nou eerder sonder die orreltjie oefen, miskien kom hul beter reg. Dan kan Baby Sondag maar net by hul inval met die orrel. Hulle is mos daar om te ly.
Nou het hul sommer by een van hul se huise begin oefen. Aanvanklik het dit half en half beter gewerk. Dit was tog asof daar n geringe verbetering in die voorsang was. Na n maand of twee kom sien hul vir dominus omtrent die voorsang. Dit werk nie, sê oom Abie. Hulle wil nou uit.
Oom Abie sê, dominee as jy nie n plan maak nie, vat ek vir Hessie hof toe. So kan dit nie aangaan nie.
Broer dominee sien klaar dat sy plan om dié twee eerder te laat saamsing met die voorsang toe nie gewerk het nie. Ag nee broer Abie, nee man, jy kan dit nie doen nie. Dominee, dan beter jy n plan maak, sê oom Abie. Hoe bedoel jy nou broer Abie, vra die dominee. Toe kom oom Abie met die hele sak patats te voorskyn. Dominee, as jy ons nie trou nie, vat ek haar hof toe, maar trou gaan ons trou. Jy kon die predikant met n veertjie omtik. Hy was uit die veld geslaan.
Dominee het hul toe later getrou, hy was maar te bly dat hy die saak so kon beredder.
En die voorsang? Met dit het dit toe ook beter gegaan, tant Baby het afgetree en n jonger orrelis het oorgeneem. Oom Abie en tant Hessie se kleinkinders doen nou die voorsang. Oupa en ouma is so trots op hulle. Het die kinders nou vir jou mooi stemme, sê hulle.
Met die eerste kerkraadsvergadering het oom Abie en tant Hessie as getroude paartjie hand aan hand daar aangekom en aangekondig dat hul wil bedank, hul is nou oud, sê oom Abie. Die jongeres moet nou oorvat.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
WAAR BLY JY?
Man, dit is nou vir jou n ding. Kyk, vir sekere mense is dit belangrik waar jy bly. Vir ander is dit meer belangrik wat jy ry en watse skoene en donkerbril jy dra. Hulle sal in n sinkhuis bly, so belangrik is dit vir hulle.
So n klompie jare gelede het die oom mos so n ligte beroerte gehad, een van daai wat jou kom waarsku jy moet bietjie laat kyk, daar is fout. Gelukkig nie baie goed oorgehou daarvan nie, net nou en dan sleg met name, en so hier en daar met onthou.
Verander ek nou een dag van makelaar, waar bly jy oom, kom die vraag? Ou broer, skop my stroke brein toe daar in, ek dink en dink dat die rook om my draai, om de dood kom ek nie op my adres nie. Naderhand sê ek vir die mannetjie, kom ons gaan aan, dit sal die oom netnou byval. Dit was toe ook so.
Laat my toe dink aan n dame wat my eendag van haar ouers vertel wat in die negentigs is. Sou hul êrens heen ry, sal die tannie sê, "ou man, onthou jy net waarnatoe ons gaan, dan sal ek onthou wie ons is".
So sal ons mekaar maar moet help, ons word oud. Miskien is dit eerder, ons is al oud.
Gelukkig is my rigting goed, ek kon darem by die huis kom.
Vreugde en vrede vir julle..
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
MISVERSTAND.
Ou Broer, sê die woord misverstand nou net mooi wat hy probeer beduie. Nou beduie is mos vir die oom meer met die arms en die lyf as om te praat. Nou het die manier van groet met die covid gedoente verander van n handdruk na die elmboog gestampery.
Maar lat die oom jou nou eers vertel waar het die ding eigentlik begin. Dit was nou so in my grootword jare. Drie seuns en n dogter was ons gewees. Ou Broer, kon ons darem nou vir jou speel, maar net so lekker baklei. Koop pa vir ons bokshandskoene. Met die het ons nou ge-oefen en as die humeure opgevlam het, het ons hul aangetrek en die wit waks uit mekaar geslaan.
Twee vinnige reguitlinkers, en dan stoot jy n regter. Man, ons was darem rats. Die heel tyd dans jy soos n wafferse bokser rond. Skerm..kerm..JAB....JAB en dan die regter bomber. So is ons geleer. My pa was ons leermeester.
Later jare het hul begin sê deur vir iemand vinger te wys is al klaar aanranding. Dan het die vuiste geklap.
Die ding met die misverstand is eigentlik my oorle pa se skuld. Ja, ek weet nou nie, want die ding het nou gister gestaan en gebeure. Ou broer, en dit by die kerk.
Maar noudat ek daaraan dink, dit is covid se skuld. Dit is nou die misverstand met die groetery.
Gaan ek gister kerkkantoor toe met my en die ouvrou se koevertjie. Alles afgehandel staan ek en die koster buite in die wintersonnetjie en gesels.
Nou ou maat, die oom is nou net mooi gewoond aan die elmboogstampery, kom die dominee daar aangestap en hy is weer gewoond aan die vuisstampery.
Hy wil met die vuis groet, en ou broer, misverstaan ek die broer se atensies heelemal. Ek dog hy stoot my met n regter. Ek hoor weer my oorle pa se stem wat sê, "stamp af en volg op". Maak ek toe net soos ek geleer is, stamp af met die linker en ek stoot n vol reguit regter vir dominus se linkeroog.
Slaan ek die predikant dat hy so terugval in die koster se arms. Die is weer n skraal ou en hy het met dominus en al platgeval. Nou is ek in "boxing mode", ou broer. Gelukkig slaan die kerk se klok twaalfuur en onmiddelik laat sak ek my vuiste, soos in n boksgeveg as die klok gelui het. Ou broer, wat n konsternasie. Die tuinjong wat daar gestaan en spit het sien die ding en probeer die predikant beskerm, hy slaan my hier van die kant af met die spitvurk bo-oor die kop. Daar lê ek en die predikant half katswink bo op die koster wat spartel om uit te kom. Die vroutjie in die kantoor neffens ons het die petalje deur die venster gesien en storm met n kraffie water daar uit. Sy bring ons weer by.
Ek het n hangse knop op my kop en die dominee het n shiner. Wat gaan ons môre vir die gemeente by die kerkdiens sê. Ou swaer, ek dink nie hul gaan ons glo as ons sê ons wou mekaar net groet nie.
Miskien moet ek maar my ou "toupeetjie" opsit oor my bles en die knop. Sien al die dominus met sy swart toga, oogklap en n goue eenlens leesbrilletjie so in die linkeroog vasgeknyp, op die preekstoel.
Vreugde en vrede vir julle.
NS. Sê die vrou nou hier vir my, jy moet vir die mense sê jy praat sommer nonsens, netnou glo hul jou.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
SULKE TYD.
Van wat se tyd praat die man dan nou, sal almal vinnig vra?
HUISBESOEK.
Vertel Wille Willem my die ding oor die Dominee en die huisbesoek. Die plaasboer het die tydige met die ewige verwissel. Die vroutjie gaan aan met die boerdery, alles kan tog nou nie gaan stilstaan na haar man se dood nie. Die oes staan op die lande, die ooie lam, so dinge moet aangaan. Die bulle moet by die koeie kom en so aan. As dit sulke tyd is moet die dinge gebeur.
So was dit ook weer sulke tyd vir die Ds. om die vroutjie te kom besoek en haar by te staan.
Die vrou vertel, man ek is besig om te werk by die store neffens die huis. En dit in my ou verslete klere, toe ek sien daar draai die Dominee by die plaashek in. Ek dog by myself, ek skaam my dood as die Dominee my in my ou werksklere moet sien. Ek hardloop gou in die huis in om ander klere te gaan aantrek. Ek sê so in die verbygaan vir ou Miena die huishulp om vir die Dominee te laat inkom, hy moet net wag, ek gaan gou my broek uittrek. Later stap ek die sitkamer binne en daar is geen Dominee nie. Ek vra Miena, waar is die predikant, wat het jy vir hom gesê? Auk miesies, ek het hom gasê, hy moet wag, die miesies gaan net gou haar broek uittrek. Daai Maruti, sy se oog, het so groot garek en hy het vinnag galoop by die kar. Toe ek by die voordeur uitkyk het ek net gesien hoe die dominee in n stofwolk by die plaaswerf uitjaag.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,,
Jul nou die dag vertel van die Kite-man en die bike-man. Sommer dadelik laat Wiile Willem my van nog n bicycle storie.
SIPHO EN SY BICYCLE.
Jors, jy praat van die kite-man en die fiets-man, laat ek jou n ware verhaal vertel van jare terug toe ek nog op skool was. Ek moes bus skool toe ry, nou om my bus na die skool te haal moes ek met die een bus inry middestad toe in Durban. Dan met n ander bus na my skool. Die verkeer in die oggende was besig en baie “pedestrian “robots. die Bus moes ook kort kort stop. Ek sit heel agter saam my vriende in die bus en sien hier is Sipho op n fiets wat die bus “dice “ van robot tot robot. Nou staan ons so op ons knieë en terugkyk om die dice dop te hou. Die man trap dat die spoeg spat om by te hou met die bus. Ons het baie ongehoorsame Burgers in die land en baie van hulle stop mos op die bus halte met hulle karre, met die gevolg die bus kan nie op sy normale plek stop nie en is dus verplig om in in die stadige laan te stop om passasiers af te laai.
Nog n passasier wat elke dag op die bus was, was n netjies gelapte man, julle weet daai driestuk pak met briewetas, seker maar by Volkskas gewerk daai jare. Hy maak reg om by die halte af te klim. Met ons ou Speedy Gonzales op sy fiets so te sê op die bumper van die bus in die slipstream. Die bus stop in die stadige verkeer se laan. Sipho sien hy gaan dit nie maak om die bus aan die regter kant verby te vat nie en hy sny linksom. Sit julle kamera’s aan , meneer Volkskas sit sy voet uit by die bus en op daai oomblik is Sipho reg by die bus se deur, en hy en meneer Volkskas maak kennis met mekaar, nie eers aan mekaar voorgestel nie. Meneer Volkskas sit so te se op Sipho se fiets se handlebars, die briewetas vlieg deur die lug. Sipho verloor beheer oor die fiets en die twee koop n stuk sypaadjie reg voor “Ackermans “ se winkel. Dis net speke en wiele en kop klappe van meneer Volkskas wat op Sipho se kop reën. Die bus vertrek, ons brul van die lag in die bus. Toe ons om die draai gaan was die twee nog steeds besig om die ongeluk uit te sort. So ons het nie die uiteinde van die drama gesien nie.
Ek kan my net indink hoe die bankamptenaar sy stukkende vuil suit moes gaan verduidelik aan Meneer Die Bankestuurder.
Vreugde en vrede vir julle.
Shutterstock foto geleen.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
Wille Willem vertel my die ding.
MY KORT HUMEURTJIE.
Sit nou die dag en kyk na ou musiek videos van die jare 70’s. Daar is n groep “ The Who," wie kan hulle nog onthou ? Die knape het n slegte gewoonte gehad, dit was om tydens hulle vertoning hulle kitare aan flardes te slaan op die verhoog. Heeltemal kens gesta en raak. Met hulle kaal bolywe, borsies wat n “budgie “boer sou beny en lang hare wat Simson jaloers sou maak. Hulle nou nie eintlik n rol model vir die jeug nie maar mense het van hulle musiek gehou daai jare. Sit ek en wonder, wat sou die trigger gewees het om daai manne te dryf om hulle kitare so te verwoes.
Dink ek aan die dag wat n soortgelyke trigger my beet gepak het. Laat ek jul vertel.
Dit was n Saterdag-middag, n baie warm dag hier in Durban. Ek besluit om bietjie die tuin in te vaar met my “Weed Eater “. Alles groei mos welig hier. Jy snoei die heel tyd net terug. Dit was n petrol weed eater, daai wat jy met so start tou moes trek om te vat. Ek trek daai tou “wwwrmmm ,wwwrrmm en nog n wwrrmmm maar vat wil die ding nie. Naderhand drink ek n bietjie water want my keel word droog en gaan probeer weer . Wwwwrmm ,wwwrrmmm en dan terg die ding jou ook met so n vaterige brrrmmm brrm wat hy op sy eie gee en vrek onmiddelik. My arm is so te se lam getrek aan daai tou ek pluk daai tou nou met mening, wrrmm wwwrrm dis toe my trigger punt bereik word ek vat daai weed eater en swaai hom oor my kop en slaat hom in die grond vas hier voor my, en nog n swaai beweging na links op die grond en toe nog n swaai beweging na regs. Jy sien net sulke rooi en geel plastiek parte vlieg, al wat nie stukkend is nie, is die exhaust. Die het nog aan een boutjie gehang. Verder lê die weed eater se parte die grasperk vol. Intussen het my vrou ongemerk op die stoep verskyn en staan met sulke gebalde vuisies op haar heupe my en aanstaar. Ja Wille se sy, julle mans is almal dieselfde, wil alles met geweld reg slaan. Het jy gekyk of daar petrol in was voor jy soos mal mens tekere gegaan het. Ek stap oor na die verminkte plastiese petrol tenk en die is so droog soos n kroeg in vol “lockdown “. Nou hoe antwoord jy jou vrou as sy weereens reg was. Nou kom daai stil woede op. Jy is so kwaad vir jouself, jy wil nie eers met jouself praat nie. Om vir vroulief die satisfaksie te gee dat sy reg was gaan ook nie gebeur nie. Hoe sê hulle, stilbly is ook n antwoord. Sy sê net, maak skoon jou gemors op die grasperk en kom in die huis in, netnou kry jy sonsteek.
Kyk ou broer, die cherry op die koek was toe sy vra, het jy jou pille gedrink vandag? Haar net so kopknik gegee en omgedraai. Dink hoeka my bloeddruk was nou in die rooi.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende.
N GEWIGTIGDE SAAK.
Vanoggend wil ek oor iets anders gesels, "GEWIG"
Ou broer, moenie dat iemand jou vertel n kg vleis weeg dieselfde as n kg water nie. Dit is nou n liter water om presies te wees.
Nou het die oom al gehoor van soortlike gewig. Dit is nou waar die digtheid ook in berekening gebring word. Praat hul van soortlike gewig of SG. Sekere vloeistowwe se SG is hoog, so n liter word swaarder.
Swaer, so het ek nou een aand weer agtergekom toe ons en vriende saam kuier en ek en die vriend wil opstaan uit die stoele uit toe ons n ou versterkinkie wil gaan ingooi.
Man, kom ek jou nou sommer prontuit vertel, n oumens se boude weeg baie swaerder as n jong mens sin. Kyk net n bietjie hoe sukkel n oumens om sy agterend te lig. Jong mense sin is baie ligter. Tjop tjop is hul regop. Miskien is dit die gewigverspreiding waarvan die caravaners so van praat, anders begin die ou caravantjie mos so swaai, praat hul mos van so n ding soos jackknife.
Nee jong, as n oumens se gewig eers in die agterstewe gaan sit het, het jy moeilikheid om dit weer in die lug te kry.
Hou ons maar dop, ons gaan sit nie, ons val in die gestoeltes in. Om ons weer regop te kry is n ander storie. Skuif mos eers so vorentoe op die bank of stoel. Jackknife mos heelemal, druk dan die kop so tussen onse kniege in om te counterweight, onse koppe moet mos eers laag sak om onse agterstewes in die lug te kry. Eers dan kom ons so in paaiemente regop.
n Gewigtigde saak man, n gewigtigde saak, sê ek jou.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
SIXTY.
Vanoggend skrik ek wakker langs n ou vrou. My dinges afgeskrik. Al die tyd was dit toe maar net Bethlehem se koue. Maar die ou vrou storie is waar. Word die vrou nou vandag sestig.
Wag sê ek, ek gaan vir jou brekfis maak. Klim agter die warm lyf uit binne in die koue in. So ver ek gaan sit ek heaters aan.
Kyk ou broer, ek kan n mean omellete bou. Vanoggend kom ek agter, die oom het sy slag verloor. Kry net nie die plaat se hitte mooi reg nie, reken dit het iets met die koue te doen. Om de dood kry ek nie n perfekte omelette gebak nie.
Nou reken ek as sy nou meer kere in n jaar verjaar sal ek my slag terugkry. Terseldertyd kan sy n bietjie inhaal op my wat nou tagentig sta en raak eerskomende jaar. Of wat praat die oom nou alles.
Ewenwel het ek toe die beste uit drie vir haar bedien. Hy loop mooi met al sy vulsel. Eet sy net die helfte en sê, sjoe, dankie my skat, dit is heerlik, maar ek kan nie meer nie, dit is net te veel en skuif die ander helfte vir my aan. Nou weet ek ook sommer waar kom daai ekstra gewig in my agterstewe vandaan wat ek jul net gister van vertel het.
Nou werk ek die ding so uit, as ek op gewig sou wees met een omelette en ek word ge-forse feed met nog n helfte. Dan is dit mos nou die vrou se skuld dat ek n bietjie oorgewig is.
Sê ek, ai ou vrou, wat ek ook nie alles vir jou sal doen nie, toe ek haar bord so voor my inskuif. Klink ons n koppie koffie op haar verjaardag.
Vreugde en vrede vir julle.
NS Sê die ou vrou nou ek moet weer uitwerk hoe oud ek is. HAHA.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
SPEEDOMAN SE SKANDES.
Dit is mos n naam wat ek die man gesta en gee het jare terug. Sit ons klomp vriende so om ons kampvuur een aand.
Wille Willem sê, Jors onthou jy nog en begin sommer dadelik die storie vertel van die slag wat ons groep by Shingwetzi gekamp het. Miskien moet ek byvoeg van die hiëna wat altyd daar by die draad boer, opsoek na n ietsie om te aas. Die mense skiet hul oorskiet braaivleisbene en worsies onwettig oor die draad vir hom.
Die wat nou daar sit die aand, is nou ekke, Jors, Speedoman, sy vriend Biltong en skeel Jan, vertel Wille Willem. En dan natuurlik al die vrouens. Ou Biltong, die het weer sy naam gekry, hy is so skraal en seningrig, lyk nes n stuk uitgedroogde biltong. Skeel Jan se naam het geen verduideliking nodig nie. Sit ons lekker daar saam om die vuurtjie en Speedoman sit met n groot verband om sy maermerrie. Sê Jors vir hom Speedo, vertel bietjie die mense wat gisteraand met jou gebeur het. Ja sê Speedoman, met vriende soos julle, wie het nou vyande nodig. Hy begin sy storie te vertel.
Gisteraand sit ons mos ook so om die vuur, die vrouens met hulle glasies wyn, die manne met hul bier en ek met my Kaptein Morgan. Voel ek ek moet n draai gaan loop. Nou moet ek so tussen die karavane en karre deur ablusie toe.
Wille se Land Rover het so simpel homemade verlengde trekstang om sy karavaan te trek. Daarvan het ek vergeet, dis donker en die trekstang is net mooi maermerrie hoogte. Ek stap maermerrie eerste in daai gedoente vas, onmiddelik is my maermerrie n dikmerrie, so blou soos n polisiekar se lig op sy dak en ek hinke pinke aan na die ablusie.Terug by die vuur sien Wille Willem se vrou my blou merrie en plak my gaai daar op n stoel vas en sy pluk haar eerstehulp tassie uit, omtrent alles daarin, ook “Super Glue “om wonde toe te plak. Sy draai n verband om my merrie nadat sy salf opgesit het, en sê, jy moet jou gewig van daai been afhou en hou die been “elevated" sodat die swelling kan sak. Skeel Jan se vrou sê, ek het n enamel pot in my karavaan wat ek vir jou sal leen sodat jy nie so ver moet loop toilet toe nie. Skeel Jan sê, ek sal hom sommer nou in jou karavaan gaan sit. Sal die blikskottel nie n half bottel Eno’s in die pot gooi en niks sê nie. So teen tien uur is dit nagsê, almal is kooi toe.
Nou hoor jy net die wildtuin se nagstilte en naggeluide.
Twee uur die oggend voel ek, ek moet n draai gaan loop en toe onthou ek van die pot langs my bed, nou hierdie is nie vir sensitiewe lesers nie, ek slaap nakend, ek haat nagklere, die goed draai om my lyf. Nou is ek op en trek die pot nader, maar toe my water vloei toe bruis en sis dit in daai pot en ek gee n gil en dog ek het op n swart mamba se kop gepiepie. Vroutjie skrik ook wakker en gil net so hard saam want sy weet nie wat gaan aan nie. Die enamelpot het ek nerfaf gegooi teen die karavaan se yskas. Hy het met sy skuimende inhoud die hele vloer bemors. Ek hardloop die deur uit sy slot en skaniere en staan poedel nakend en sonder tande soos ek gebore was voor ons karavaan onder die canopy. Skielik is dit daglig van die flitsligte en spotlights soos die kampeerders kom kyk wat vang vir wie. Dit so in die donker nag en hul skyn op my waar ek soos Lord Muck kaal staan. Net soos n standbeeld met n klomp spreiligte op my gerig. Die mense lag dat hulle skeef lê, sal die bleddie hiëna nie ook so n nje....nje....nje laggie hier nefens die draad gee nie, seker maar omdat ek afgeskeep gelyk het. Iemand kom gooi n handdoek oor my naaktheid en help my terug in die karavaan en sê ons sal daglig jou deur weer regmaak.. Vroeg die oggend kom daar n “Ranger “en gee my n boete kwansuis oor ek die Hiëna’s terg met n worsie. Daar is borde orals wat se "Moenie die diere kos gee nie". Later blyk dit te wees dat MY VRIENDE die Ranger omgepraat het om my n “fake “boete op te lê . Nou ja hier sit ons weer vanaand hier om die vuur. Ou Skeel Jan, sê ek, loop haal bietjie die pottie uit my karavaan, ek het hom weer nodig. Lag almal te lekker. Aan die anderkant van die draad het die hiëna ons so aangekyk en self so n hehehe laggie gegee. Skeel Jan het hom net so n skeel, skuins kyk gegee en gesêvra, waarvoor lag jy?
Lag ons te lekker vir Speedoman se vertelling. Klink ons almal n glasie op Speedoman wat so n groot sport was en dat ons vir altyd goeie vriende sal bly.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
LEEUKOS.
Gaan kuier ons en die kinders toe vir Ann se verjaardag die naweek by n oord langs die vaalrivier. Wawielpark is n pragtige oord, met tonne goed vir die kinders om te doen.
Vertel n werker hy gaan die leeus kosgee. Almal stap op leeukampe toe behalwe ek, net gou besig om ons braaivleisvuurtjie klaar te pak. Die kampe is lekker groot vir die leeus. Klaar, gryp ek my stapkierie en gaan ook leeukampe toe. Vat ek n verkeerde gangetjie daar. Sien naderhand die leeus so in die verte so met hul rue na my gedraai en die mense aan hul anderkant agter die dubbel omheining. Sommer dadelik spyt ek het nie my bril opgesit nie. Is daar deur n klomp hekke en goete, selfs gesukkel om deur n valhek te kruip, was nogal vir my snaaks dat hul jou deur so n vreemde sirkus tiepe hek laat kruip.
Die ou ore wil ook mos nie meer lekker hoor nie. Hoor naderhand die kleinkinders se geskree, "OUPA....OUPA" en ek sien waserig hoe hul vir my waai. Sien daar is n hele klomp mense wat na diè leeu kosgee-ery kom kyk.
Ou broer, wat n storie. Sien en hoor toe eers die werker met sy blou oorpak op en af hardloop hier langs die draad. OUBAAS...OUBAAS... kom uit daar by die laauws, skree hy vir my.
My ou maat beland ek onwetens mos daar in die leeus se kamp. En lyk hul toe vir my lekker honger, die goed. Ek het net geweet, as ek omdraai en wegharloop is ek leeukos. Soos n wafferse sirkus " lion handler" het ek die leeus daar met my kierie hanteer. Hul so al in die ronde om my laat hardloop met my kierie, met die wat ek nie n sweep het nie het ek sommer so vir die show met die tong geklap. As een so storm het ek hom met die kierie gewiks.
My ou hart, die het so hard geklop, die kinders het later vertel hul kon hom hoor. Glo nes n sirkus orkes se drommer se dromme geklink wat die spanning laat opbou, so trrrrrrrrr aanmekaar. Jy weet mos hoe klink dit , of hoe?
Die mense klap hande vir my, so n show het hul in hul in hul dag des lewens nog nooit gesien nie. My kleinkinders kyk met sulke groot bewonderende oë vir hul oupa.
Op n staduim het ek die leeus so ent van my af in n reguit lyn laat lê. Hulle is stokflou in die rondte gehardloop. Ek self het half dronk in die kop gevoel, laas rondomtalie gespeel toe ek self n kind was. Nou was dit net die elektriese heining tussen my en die skare mense. So drie tree van my af. Toe weet ek, nou is my kans.
Vlieg ek daar om, skoon uit my plakkies uit, my derde tree was ook my eerste trap op die eerste elektriese draad, ek hoor net hoe storm die leeus. My tone het ek so deur die ogiesdraad gedruk en soos n bobbejaan is ek al chokende daar oor die draad. So al hande viervoet, tone en vingers so in die sifdraad se gate ingedruk.
Die leeus het gestorm en so voor die elektiese draad vasgesteek. Vir hierdie draad het hul nie soos hul hanteerder kans gesien nie.
Ou broer, laat ek jou nou sê, as die leeus agter jou is, klim jy n lectric draad soos n leer uit.
Later by die braaivleis vuurtjie het ek nog steeds so gesit en skut van die naskokke. Ek was vol lectric. Kort kort het ek so geklap soos n prodder as ek ontlaai en mooi earth met my kaal voete op die grond. Man ou broer, lat die oom jou nou vertel, amper was ek leeukos.
Wat die oom nou baie pla is, hoe gaan ek my kierie terug kry?
Vreugde en vrede vir julle.
Dit was maar net n storie.😄
Fotograaf, my skoondogter.






Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende.
HARE.
Nee, dit is nie die storie, wat hare is, is hare. Myne is ook hare en ons sin is ook alles hare. Ek wil gesels oor vrouens en hul hare.
My vrou byvoorbeeld is erg op haar hare. Elkeen moet op sy plekkie wees. Hul dink mos anders as ons mans oor hare. As hul hare sny, sny hul nie hare soos ons nie, hul sny net die punte.
As hul hul hare wil groei, sny hul ook hare. Net die punte, sal hul van praat. Nee, nie ons nie, ons groei hul tot hul te lank is en dan sny ons hul kort af.
Wat ek nie verstaan nie is dat hul kort kort van kapsel verander. Is hul hare lank, wil hul dit kort hê. Die haarkapsters is ook slim. Hul het die kliënte oortuig dit moet in staduims gedoen word. Die punte word afgesny, volgende week doen ons weer die punte en dan begin ons lae wegvat. Soos hul wegsny word die kleure ook aangepas. Laas week se strepies is nou weggeknip en daar moet nou weer bykom, dalk in n ander skakering.
Is hulle hare kort wil hul dit lank hê.
Ou broer, en daai kleursel is ook n gemors. Blykbaar vat die goed nie altyd nie. Rooi is ook nie altyd rooi nie, op party koppe kom hul oranje uit. Ander kleure kan jou dalk net met n skelpienk of teerpadgeel kop los. Van hulle is ook lief om robot oranje te sta raak. Jy stap dalk net daar uit met n John Deere groen, of so iets.
So, ou broer, as jy n vrou sien met n snaakse kleur hare, dit is nie noodwendig die kleur wat sy wou gehad het nie.
Gewoonlik lê die oplossings vir die vrouens dan daarin om n ander haarstillis te soek. Nee, sal jy hoor, sy het my hare opgedinges, kyk hoe lyk ek. Oe, het jy al vir Sally probeer, hoor jy dan, of ek is by Cilla, probeer haar n bietjie.
Die ouvrou se hare het sy redelik onlangs, oor maande kort laat sny. Hoe het dit gebeur, ons kyk een aand n program op TV. Ek hoor net sy sê, ek soek my hare so. Ou maat, het jy nou al n girl se hare op n TV probeer afneem. Nou kruip ek op my knieë daar voor die TV rond om die regte shot te kry. Dan is die hoek verkeerd, dan is dit te ver. So asof Kate Perry spesiaal vir my poseer sodat ek nou haar kapsel kan afneem. Dan is hy oor en dan onderbelig. Met die fotos was sy toe haarkapster toe. Moet sê, sy lyk pragtig met die kapsel.
Ou Swaer, en toe, toe is dit gisteraand weer so. Is daar n vrou met n langer styl op TV, nou is dit weer ek en die vrou. Stilstaan staan sy nie stil nie. Na n hangse ruk het ek n reeks fotos van haar hare.
Wat het in die program gebeur, ek weet nie, was te besig om fotos te neem. Hoe lank gaan dit neem om hul so lank uit te groei? Weet ook nie, veral nie as hul elke week die punte afsny nie.
Met hulle moet jy wragties hare op jou tande hê. En moet dit nie waag om hare te split oor wat en wat nie gaan pas nie.
Eintlik dink ek nie n haarkapster het die maklikste werk nie. Die lelikste eendjie stap daar in met n foto en verwag sy moet soos Sophia Loren lyk as sy uitstap.
Ja ou broer, vrouens en hul dinge.
Vreugde en vrede vir julle.