Algemene Inligting
Resensies
Wow, ek het nooit die een…
Wow, ek het nooit die een raak gesien nie, deuglike terugvoer, en netjies oord.
Dankie Johan K
Algemene Inligting
Wow, ek het nooit die een raak gesien nie, deuglike terugvoer, en netjies oord.
Dankie Johan K
Mapungubwe - Mazhou Boskamp
Mapungubwe Nas Park is gelee teen die Limpopo rivier waar die RSA, Botswana en Zimbabwe grense bymekaarkom en meer info is op Sanparke se webwerf beskikbaar by: https://www.sanparks.org…
Die park is in twee gedeeltes met 'n sitrusplaas tussen die oostelike en westelike gedeeltes. Die westelike deel is waar Mazhou kamp terrein gelee is. Die ontvangs in die oostelike deel en dit is ook dan hier waar jy eers moet aanmeld. Vanaf die ontvangs na Mazhou is ongeveer 30km teerpad en dan 6km grondpad. Die grondpad loop deur een van ZZ2 se plase en was nog elke keer wat ek daar was in 'n goeie "sleepbare" toestand. Ander verblyf opsies (almal goeie alternatiewe) is ook beskikbaar in Mapungubwe indien jy nie wil kamp nie.
Mazhou het net 10 staanplekke in die bos omgewing langs die Limpopo. Elke staanplek het 'n eie kragpunt, kraan, asblik en staan braaier wat elke oggend skoongemaak word. Soos dit hoort in 'n boskamp, is daar nie aangeplante gras nie en staan jy op die grond. Die staanplekke is in 'n rowwe sirkel vorm uitgelê, met die gevolg dat elke staanplek redelik privaat is. Die kamp is nie omhein nie, maar het (as ek nou reg onthou) net twee ge-elektrifiseerde kabels wat heup hoogte om die kamp loop om die olifante uit te hou. Die olifante beweeg vrylik oor die rivier vanaf die Tuli blok in Botswana aan die anderkant van die Limpopo. Verskeie boksoorte loop gereeld na aan die kamp, sodat jy hulle sommer van jou stoep af kan sit en bekyk. Muishonde sommer hier voor jou is ook redelik algemeen. Soos dit maar gaan by sulke kampe, kan ape en bobbejane soms lastig wees. Ons bêre maar alles wat hulle sal lok weg, dan pla hulle nie.
Daar is nie 'n swembad in Mazhou nie, maar ongeveer 500m daarvandaan is die Limpopo Forest Tented Camp wat 'n klein "splash pool" het. Mapungubwe het ook nie juis veel van 'n winkel nie en jy moet maar jou laaste aanvullings doen in Alldays of Messina. Daar is wel 'n restaurantjie by die ontvangs wat ligte etes bedien. Ons het nog nooit daarvan gebruik gemaak nie, dus kan ek nie oordeel.
Selfoon en data seine is maar skraps en ek kon laas net by ontvangs en by die samevloeiing uitkyk punt (meer hieroor in 'n volgende plasing) selfoon ontvangs kry. Ek verstaan dat daar deesdae wel 'n swak sein by Mazhou is, maar ek kan nie bevestig.
Ongeveer 2km vanaf Mazhou is die Maloutswa Pan Hide waar jy die voëls en diere kan dophou wat kom water drink.
Vervolgens 'n paar foto's van Mazhou kampterrein.
........en sommer ' paar foto's van staanplekke.