Koro-Koro
Drie Berge
mabalingwe
galago private bush lodge
Alloutgear
Sionbergh

 

superbrulekker reseptenuwe onderwerpgraderingsarrowartikels buttonkompetisiessaamtrekkemeningspeilingskamp diyarrowarrow

59405 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Beslis... WilSur - Letaba 2019 Len Loader -1 hour ago
Groot voël Lag 'n slag Willem Brits -1 hour ago
Len ... WilSur - Letaba 2019 Willem Brits -2 hours ago
Wat is.... Ombou van jou bakkie van… Len Loader -3 hours ago
Willem...... WilSur - Letaba 2019 Len Loader -3 hours ago
Sal ek nou n testikel… Ombou van jou bakkie van… neef Herman -5 hours ago
Ek moet... WilSur se 2011 Exclusive Krag… Len Loader -6 hours ago

Ter nagedagtenis aan Piet Botha

Worcester
Submitted by Wildehont on Tue, 04/06/2019 - 08:56

Ek weet nou nie hoeveel lede het wyle Piet Botha (wie die afgelope Sondag oorlede is nadat hy vroeër vanjaar met pankreatiese kanker gediagnoseer is) se musiek geken nie. Van sy Afrikaanse liedjies word taamlik gereeld op RSG gespeel, maar sy Engelse musiek saam met die blues rock groep Jack Hammer is seker minder bekend. Hy was nie lief vir die stelsel nie en het gevolglik nie kommersieel baie goed gedoen nie. Hy het maar sy brood verdien deur op te tree, tot 250 gigs 'n jaar!

Ek het Piet die eerste keer gesien toe ek in die vroeë 90's tussen klasse op die grasperk by die Ou Lettere gebou op die UP kampus gesit het saam met vriende. Hy en een van sy orkeslede het pamflette uitgedeel vir bemarking van 'n optrede van Jack Hammer, en vir ons ook kom gee. Oor die jare het ek meer Jack Hammer vertonings gesien as wat ek kan onthou by Navigators in Kerkstraat (wat hy en sy vrou bestuur het), Cafe Barcelona in Elarduspark, Oppikoppi en ander feeste, Otter Lake anderkant die Roodeplaat dam, Blue Flame in Montana, Bentley's in Akasia ens ens.

Mettertyd het ons vir Piet ook leer ken nadat hy ons so baie by sy vertonings gesien het, en bevriend geraak met hom en sy vrou Vivian en dogters Jessica en Robynne, nadat hy ons vir 'n braai genooi het een aand toe ons vir hom en Jack Hammer by die Steak and Ale in Centurion (wat intussen afgebrand het) gaan kyk het. Jessica het ook vir 'n geruime tyd vir my vrou gewerk in haar fotografiebesigheid.

Toe ek en my vrou in 2009 trou het Piet en Jonathan Martin wat saam met hom in Jack Hammer was, by ons troue kom optree. In plaas van die troumars het hulle op ons versoek Stairway to heaven op hulle bokskitare gespeel, toe my vrou in die canvas "kapel" instap op die wildplaas noord van Pretoria waar ons getrou het. Terwyl ons fotos geneem het, het hulle die agtergrondmusiek verskaf vir ons gaste onder die bome en die aand by die onthaal ook musiek gemaak.

Piet het my selfs toegelaat om vir hom 'n lys liedjies te stuur wat ons graag wou hoor en spesiaal 'n Tom Waits liedjie Picture in a frame uitgewerk en gespeel wat ek aan my vrou opgedra het. Gelukkig het ons 'n uitstekende 4 disc DVD opname van ons troue wat klomp beeldmateriaal van hulle optrede op die dag en aand ook bevat. Hy het 'n paar jaar later ook aangebied om in ons huis in Magalieskruin vir ons 'n paar liedjies te kom speel, tydens 'n ete wat ek vir my vrou gemaak het vir ons huweliksherdenking, en wou nie betaling daarvoor aanvaar nie.

Piet het later Kaap toe getrek en omdat ons toe nog in Pretoria gewoon het, het ons hom minder gesien. Toe ons in 2014 ook hierheen getrek het, het ons hom darem elke nou en dan weer gesien optree in Tulbagh en selfs twee keer hier in Worcester. Elke keer wat ons mekaar gesien het, het Piet my omhels en luidkeels gegroet met 'n "Bra Chris!" (hy het omtrent almal wie hy geken het as bra - Kaapse slang vir broeder - aangespreek). 

Piet het sy demone gehad maar het totaal herstel van 'n heroien verslawing tussen '97 en '01 en was skoon daarvan tot sy afsterwe. Die bottel was ook soms 'n Achilles heel maar Piet het telkemale vir 'n paar maande heeltemal opgehou drink, wanneer hy besef het dit raak te veel te gereeld. Ten spyte van sy foutjies (en wie het geen daarvan nie?) was hy nie net 'n groot gees in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, ongelooflik talentvol en charismaties nie maar hy was 'n wonderlike mens.

Al het ek geweet dat Piet siek was en net twee maande gegee is om te lewe, was ek gister bitter hartseer nadat ek laatmiddag Sondag gehoor het van sy afsterwe, en het die trane 'n hele paar keer deur die dag gevloei. Ek het vir Piet die laaste keer gesien presies 'n jaar tevore, nadat hy die vorige aand hier in Worcester kom optree het.

Piet
Ons laaste kuiertjie met bra Piet

Hy laat 'n groot gaping in verskriklik baie mense se lewens, maar gelukkig het hy vir ons 'n skatkis vol musiek nagelaat wat ons kan aanhou geniet. Sy laaste album - Die Middernagtrein - het bv vanjaar 'n Ghoema gewen vir beste Rock album. 

As daar nog lede is wat vir Piet geken het, of hom selfs net sien optree het en hom saam wil onthou sal ek baie bly wees.    

Roodepoort

HennieBo

Tue, 04/06/2019 - 09:13

Chris, ek lees gister kommentaar van Karen Zoyd wat sê dat sy na haar foon kyk en weet dat Piet se nommer nie weer sy stem in die anderkant sal hê nie.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 04/06/2019 - 10:03

Dankie Bra Chris dat jy jou herinneringe met ons deel.

Ek is nie 'n Afrikaanse rock fên nie, maar sedert sy siekte en 'n onlangse TV-onderhoud met hom, het ek nogal begin luister na die woorde van sommige van sy liedjies.  RSG het juis Maandag in 'n huldeblyk een liedjie wat my nogal getref het, "Bye Bye Baby"  gespeel  -  so asof dit geskryf is om sy afsterwe te vooafgaan.

Wat my verstom het is dat hy 'n afbeelding van sy pa se gesig was, veral fotos wat van die kant af geneem is.

Ja, hy is deur diep waters in sy lewe, maar gelukkig het hy dit alles oorkom voor sy afsterwe.

Worcester

Wildehont

Tue, 04/06/2019 - 16:05

Oom Len, hy was maar onder die radar omdat hy kommersialisme verpes het. Hy het egter 'n klomp pratige liedjies geskryf. Sy eerste Afrikaanse album Suitcase vol winter is veral mooi. Hy het ook kitaar, klavier en bekfluitjie gespeel daarop.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Fri, 07/06/2019 - 21:53

Ek sit nou hier by myselwers en wonder ?

Hoekom moet iemand eers tot rust gaan voor ons na die Afrikaans van musiek luister ?

Nou laataand luister ek die jongklomp op 146.

Wonder net so by myselwers ?

Worcester

Wildehont

Mon, 10/06/2019 - 08:34

Ons was bevoorreg om genooi te wees na die viering van Piet se lewe gister in die Elgin omgewing. Dit was lekker om sy vrou en dogters en vriende 'n stywe druk te gee (wat ook vir my vertroosting gebring het) en te luister na die pragtige huldeblyke wat gelewer is.

Daarna het 'n verskeidenheid van ons talentvolle plaaslike kunstenaars musikale huldeblyke gelewer. Akkedis het hulle eie weergawes van 5 van Piet se liedjies gedoen saam met Jacques Groenewald (wie die afgelope paar jaar gereeld saam met Piet opgetree het).

Toe het Anton Goosen 'n liedjie aan Piet se kinders opgedra en Karin Zoid het by hom aangesluit. Mel Botes en 'n hele paar ander kunstenaars was ook daar, en ek het vir Valiant Swart raakgeloop en lekker met hom gesels toe ons oppad uit was.

Ons moes ongelukkig vroeër vertrek aangesien ons nog moes terugry Worcester toe, en die wind het gister verskriklik gewaai. Soveel so dat die pad tussen Grabouw en Villiersdorp tydelik gesluit is omdat daar soveel sand van die Theewaterskloof dam af oor die pad gewaai het. Ons het dus nie al die kunstenaars sien optree nie, maar ek is dankbaar dat ons daar kon wees om sy lewe te vier en ou vriende en bekende gesigte te sien.