Môre Chris S
Hoop jy voel al beter na olikheid.
Ek lees dat jy 'n onsmaaklikheid beleef het op Onrus verlede jaar Oktober. Ek kon die inset nie vind nie, en is nogal nuuskierig daaromtrent.
Bloot vir kennisname, want noudat my dogters albei uit Hermanus getrek het, is die kanse seker maar skraal dat ek weer daar penne sal inslaan. Of dan beter gestel, weer aan 'n pen sal hak.
My 2 besoeke daar verlede jaar, weliswaar buite seisoen, was heel aangenaam.
Onrus woonwapark
Goeie môre almal, ek hoop ek plaas die op die regte plek. Ek lees nou die nuutste kommentaar op Onrus woonwapark se web blad, dit is nogal kommerwekkend die skielike diefstal daar. Ons het laasjaar Mei daar gekamp en geen probleme gehad. Ons kamp met die voltent en rally se dakke op en net twee sykante by die woonwa, so die plek is heeltemal oop. Ek twyfel nou daaroor om weer daar te kamp. Het enige iemand die laaste jaar daar gekam en probleme ervaar met diefstal.
Ek kamp al lankal nie meer…
Ek kamp al lankal nie meer daar nie, want wie wil nou op sy voorstoep kamp. Maar ons het jare gelede, toe ons nog in Grabouw gewoon het, 'n hele paar keer daar gaan kamp oor naweke - en lekker tye ervaar. So ook verskeie lekker naweekkampe hier in Kleinmond se Palmiet woonwapark gehad.
Maar dit wat ek hier plaaslik verneem, sal ek dit geensins oorweeg om by Onrus of Palmiet te kamp nie. Nadat hulle 'n klompie jare gelede ernstige probleme ervaar het met diefstal, is dit nogal goed reggestel met opgeskerpte sekuriteitmaatreëls. Maar klaarblyklik het die probleem weer kop uitgesteek.
My suster-hulle, woonagtig in Bellville, het redelik gereeld by Onrus gaan kamp, maar vermy dit deesdae. Nie dat hulle self al deur misdaad daar geraak is nie, maar van hulle kampeervriende het al deurgeloop.
Onrus woonwapark
Soos ek sê, ons het geen probleme gehad, het daar gekamp van 6 tot 20 Mei laasjaar. Ek sien die een vrou sê haar handsak is uit die tent gesteel terwyl hulle geslaap het, kon toe haar selfoon naspoor en kry alles toe by die weermag se plekke wat ook daar staan.
Slegte ervaring Okt 2022
Ons het ‘n paar baie lekker besoeke aan Onrus karavaanpark geniet voorheen. Verlede jaar Oktober het ons egter ‘n slegte ervaring gehad, wat my afgesit het en sal laat wegbly. Ek was onder die indruk dat ek al vertel het daarvan op die forum.
Ons kon nie plek kry anderkant die voetpad na die getypoel en kuspaadjie waar ons twee keer voorheen baie lekker gestaan het nie. Ek bespreek toe nr. 38 want dit was ook aan die see se kant en half eenkant. ‘n Lekker ding van Onrus is dat hulle aanlyn besprekings fotos het van al die staanplekke. 38 het skadu en son (vir ons sonpaneel) gehad.
Daar aangekom is dit ‘n tweespoor van die teerpad af na die staanplek. Dit lyk lieflik met ‘n uitsig oor die baai, en lekker skadu. Die eerste nare ervaring kom die aand toe ons vuur maak en ligte buite die wa aansit. Sandluise (eintlik ‘n klein crustacean) by die honderde, indien nie duisende nie. Die grond wemel van hulle, en hulle spring om die beurt so voet hoog. Aanmekaar. Hulle byt nie, maar spring teen jou bene vas en irriteer mens grensloos. Later kom ek agter dat die lig hulle aktief maak, en sit toe maar in die donker. Dis beter, maar steeds steurend. Na oplees vind ek uit hulle hou van plekke met dooie blare (waarvan daar baie was teen die heining. Die oord het dit net na die heining gevee van die staanplek af en nie opgetel nie).
Die tweede aand borsel ek tande buite die wa na die res van die gesin al in is. Ek sien ‘n flitslig in die tweespoor afkom, maar bly agter die Everest staan (wat 90 grade teenoor die Kavango aan lg se agterkant gestaan het). ‘n Man kom om die Everest gestap, en skrik ooglopend toe hy my sien. Hy skyn sy flits so dat ek nie sy gesig kan sien nie en groet verskrik; “Naand, hoe gaan dit?” Toe ek antwoord met goed dankie self, sê hy ook goed dankie self.
Ek het dus die indruk gekry dat hy nie verwag het om my daar te kry nie. Hy vra toe of ons fietse, wat agter my teen ‘n boom gestaan het, vas gesluit is. Toe ek sê hulle is, sê hy nee hy wou maar net seker maak dat hulle is en draai om en loop vinnig weg. Die volgende dag ry Chris en Kara met hulle fietse in die oord, en kom vertel dat ‘n tannie vir hulle gesê het hulle moet hulle fietse vas sluit, want die tannie hulle se fietse is die vorige aand gesteel.
Dit was vir my net te toevallig, en ek is oortuig die ou was oppad om ons fietse te kom steel. Ek het ook toe ons oppak, agtergekom my herlaaibare koplig is soek. So ook een van my stel van ses slotte met dieselfde sleutel. Wat op aarde mens daarmee wil doen sal ek nie weet nie. Seker maar ‘n paar sente kry as skroot.
Ek vermoed die diewe het nie van buite af ingekom nie. Jy gaan sukkel om met fietse die oord te verlaat in die nag. Selfs in die dag kry jy ‘n gekleurde papier armband voor jy uitgaan, waarsonder jy nie kan terugkom nie. As jy egter ‘n paar lekker duur fietse steel en in ‘n sleepwa of bussie laai ry jy môre vroeg maklik daarmee uit. En dis nie die oord se skuld nie. Hulle probeer werklik hulle ingange goed beheer.
‘n Ander ding wat my dwars in die krop gesteek het, was mense wat laat musiek gespeel en hard gepraat en gelag het. Dit kan jy seker enige plek teekom, maar ek dink Onrus is dalk te naby aan die Kaap. Die afgelope naweek by Jongensfontein was dit teen 21:00 doodstil in die redelike vol oord. En ten spyte daarvan dat die oord oop is na die strand en voetgangerhekke aan drie ander kante het wat nie kan toemaak nie, voel mens nooit onveilig nie en het niks weg geraak nie.
Dis jammer, maar Onrus sien my nie gou weer nie - indien ooit.





Onrus Karavaan park
Chris, antwoord eerder onder die bogenoemde gesprekslyn, dan is alles bymekaar.
Ek het vergeet van die skakel.