My beplande Oktober-kuier in Kgalagadi begin al meer in plek val. Met die uitsondering van een aand waarmee ek nog nie geholpe kon raak nie, begin die toerplan al hoe meer vorm aanneem.
Ons skop af met 2 aande in Twee Rivieren gevolg met 4 aande in Nossob. Beskikbaarheid van akkommodasie in Nossob, 'n dag later as die datum waarop besprekings geopen het, is net so goed soos om wors te soek in 'n hondehok. Maar geduld en gereelde loer op Sanparke se webblad, het vrugte afgewerp.
Intussen kon ek, na nog 'n aand in Twee Rivieren, ook 2 agtereenvolgende aande se akkommodasie in 'n rivierfront chalet in Mata Mata bekom en drie aande in Kalahari Tented Camp (KTC). Ek benodig nog 'n nag tussen Mata Mata en KTC maar ek is positief dat ek met die benodigde nag (15 Okt) in hetsy Mata Mata of KTC gaan regkom. Ek sal maar geduldig voortgaan met my soektog.
Ek sou wat wou gee om 'n nag of twee in hetsy Gharagab of Bitterpan te bekom. Ek het mos nou 'n 4x4.
Kaapse kobras
Ons het 11 van hierdie pragtige slange gesien (sien onderstaande "link" van 'n kort video). Ek wens ek het meer van hulle afgeneem, want sommiges het nogal lank in die pad vertoef. Alhoewel die Kaapse kobra bekend is vir verskillende kleur-variante, het ek nog net die tradisionele "geelslang" (die mees algemene) en die sogenaamde "koperkapel" (donkerder skakering van geel) in Kgalagadi gesien. Hier by ons in die Boland is die bruin variant, sogenaamde "bruinkapel" nogal algemeen. In die Karoo het ek ook al die "spikkel-kapel" gesien.
Ek vind dat die video clips verloor baie "helderheid" as jy dit op die rekenaar kyk. Op die selfoon, wat 'n kleiner beeld gee, is die kleur baie beter.





dis wat...
...ek naby aan leeu noem!!! Julle was omtrent gelukkig tussen MaraMata en Tweerivieren.