Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
By voorbaat, Veels Geluk aan Geert! Ek gaan verloor!!! Rona du Plessis -56 minutes ago
Toe word ons dors Kruger 2026 Rona du Plessis -1 hour ago
Steeds lekker vooruitsigte - vir Chris Vakansiebeplanning 2026/27 Rona du Plessis -1 hour ago
Meiringspoort status Pad en roete inligting Wessel Strydom -1 hour ago
Sterkte Chris Vakansiebeplanning 2026/27 Geert -2 hours ago
Chris B Vakansiebeplanning 2026/27 Wessel Strydom -3 hours ago

Jors se Kampstories op fb ...

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits
Submitted by Willem Brits on

Môre vriende,

Ek gaan probeer om dié Jors se Kampstories gereeld hier te plaas ?

Hier is die fb skakel.

 

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 10/08/2021 - 13:12

Dagsê vriende,

          NATTE VS SAPPE.

    Vroeër jare was dit ń groot ding, die politiek. So vertel n bejaarde tannie een dag van hoe dit daai jare gegaan het. 
   In Winburg, ń baie klein dorpie is daar byvoorbeeld twee NG  kerke gebou in daai jare. Een vir die Natte en een vir die Sappe. 
   Bure het ook nie sommer met mekaar gepraat nie, net oor hul verskil het met die politiek. Ander was weer groot vrinne, maar as  hul ń uitval gehad het oor die politiek was die vriendskap verby.
  Baie mense was ook nou nie juis ver geleerd nie, kon skaars skryf.  
   Vertel hul daar in Aberfeldy se omgewing is dit stemtyd. Die oom en tannie is op pad na die stemlokaal. Nou vertel die oom haar. Ou vrou jy moet reg stem vandag. Jy moet jou kruisie in die middel van die blokkie maak. Jy mag ook nie dat die kruisie aan die kante van die blokkie raak nie. Ja ou man, ek hoor jou sê die tannie.  Daar aangekom is dit ń bedrywigheid. Die Sappe en die Natte het elkeen ń tent. Daar bak die boeretannies pannekoeke, die reuke hang swaar in die lug.
  Hul is in die stemlokaal in en daar word gestem. Oppad terug plaas toe in die ou bakkie, vra die oom, ou vrou, het jy reg gestem? Ja ou man, kyk hier en haal haar stembriefie uit haar handsak uit met haar kruis netjies in die blokkie getrek. 
   Nodeloos om te sê, was die oom vir dae kwaad vir die tannie.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 12/08/2021 - 16:40

Dagsê vriende, 

                      O HANG.
(Wille Willem vertel tong in die kies)

    Vrinne nou wat kan ek sê, ek is seker hierdie gesprek het al plaas gevind in julle huis. 
   Dis vroeg oggend en ek vra vir vroutjie, Skattie voel jy lus om saam met my te gaan draf? Vroutjie is dadelik vies, so wat jy eintlik probeer sê is, ek is vet. Nee, nee Engel, dit is eintlik goed vir jou gesondheid. Vroutjie ,Ohh so nou leef ek ongesond en is ek skielik sieklik. Ek, baie verbouereerd, probeer nou keer. Nee vrou, jy verstaan my verkeerd, dis nie wat ek bedoel nie. Vroutjie, sooo...nou is ek onnosel ook en ongeletterd wat niks verstaan nie.  Ou broer, nou is ek desperaat. Dit is nie wat ek gesê het nie my skat. Vroutjie, wil jy nou vir my sê ek lieg. Sugtend sê ek vir haar, okay Engel geniet maar jou slapie ek gaan alleen draf. Vroutjie,  ja jy doen mos alles alleen, te hel met my. 
    Ek sê vir jou, ek het dit swaar ou broer.
    ń Ander gunsteling is om saam gesleep te word om inkopies te doen, ek weet nie hoe julle manne daaroor voel nie maar ek haat dit .     Saterdag word ek forseer om saam te gaan “ Mall “ toe en sê later vir mamma, doen jy maar inkopies ek sal in die “Mall” rondloop, sodra jy klaar is bel my dan kom ek na jou toe. So twee ure later lui my selfoon, waar is jy ? In daai skril stemmetjie kan ek hoor Mamma is nie ingenome nie. Ek vra wat is fout, niks pas nie, sê sy nors. Was eers lus en sê, jy moes saam gaan draf het, maar bly eerder oor daai een stil.  Ek sê vir haar,  Mamma onthou jy daai Juweliers plek waar ons na ringe gekyk het ? Jaaaa... en ek hoor die stemtoon is nou meer vriendelik.  Wel sê ek, ek is in die pub langsaan. 
    Ai broer, steek daai vrou my in die skande voor al die mense in die “ Mall “ toe sy my woedend daar kom uitpluk en met my baklei.
     ń Ander voorbeeld, die ander aand sê ek vir Vroutjie , Skat ek gaan vir ons wegneem etes bestel, waarvoor voel jy lus. Nou kry ek die antwoord. Ag,  besluit jy maar. Okay,  is jy lus vir Pizza ? Nee die kors is te dik. Nou wat van Burger King se burgers ? Agge nee, die vleis proe soos rubber. Okay, wat van KFC, neeeee, dis te olierig. Nou wat dan, wat soek jy? Ag kies jy maar, kom die antwoord weer. Nodeloos om te sê, daai aand eet ons Kellogs Allbran Flakes vir aandete.  
   Vir die wat belangstel, ek lê in saal drie en kan net vloeistowwe deur my bedrade tanne kry.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 13/08/2021 - 08:36

Dagsê vriende. 

    DON'T LET THE OLD MAN IN.

Lees ek nou die oulike ding gister raak. Die Country-Western sanger Toby Keith speel golf saam met die bekende Clint Eastwood. Op n staduim noem Eastwood dat hy Maandag 88 word. Waarop Keith vra wat hy gaan doen om dit te vier. Eastwood sê hy begin die week daarna met n nuwe film en is besig om voor te berei. 
  Keith sê, sjoe hoe kry jy dit reg om so aan die gang te wees.
  Toe sê Eastwood, "I get up every day and don't let the old man in."
  Keith het huistoe gegaan en die liedjie geskryf, "Don't let the old man in" . Dit voorgelê aan Eastwood vir sy goedkeuring en hy was gaande daaroor. Gaan kyk hom maar op YouTube.
   Laat dit die oom toe mos baie dink, so op ons ouderdom. Laat ons die ou oom of tannie in ons daaglikse lewe inkom? 
   O Magties ou broer, hierdie oom fight hom met alle mag.
   O ja, julle moet nie laat die "OOM" storie julle om die bos lei nie, ek is nog op en top en spring lewendig. Nou gaan almal op my profielfoto klick en sien die tannie lyk ook nog OK.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 14/08/2021 - 10:25

Dagsê vriende, 

               ALKOHOLVRY.

   Vertel iemand my nou een aand dat sy Johannesburg toe moes gaan vir besigheid. Sy en haar vennoot gaan die aand by n vriendin oorslaap wat n gastehuis daar besit.
   Dit was toe net mooi in die grendeltyd en drankwinkels was toe. Die aand maak hul vir hul en die vriendin n mengeldrankie met alkoholvrye vodka. Dit is nou van daai drankies met die gedraaide strooitjies en druiwekorrels. Allerhande kleure en sulke dinge.  
  Die vriendin sê sy en drank kom nie lekker oor die weg nie, dit vang haar glo. Hul bly tjoepstil, en oorreed haar om net enetjie te drink, op goeie vriendskappe. 
  Die goed is heerlik. Na die eerste een lê sy skuins in haar stoel, nou kuier hulle. Sy wil haar doodlag vir alles. Nog enetjie word vir elkeen ingegooi. Sy gloei en is sommer so rooi in die gesig. Kort kort vertel sy dat die goed haar nou vang. 
  Na die derde een begin haar tong te sleep en hul is naderhand bed toe. Die volgende oggend by ontbyt vertel sy dat sy met n hewige kopseer wakker geword het. Hul kon hul lag nou nie meer hou nie en vertel haar dat dit n alkoholvrye drankie was.
   Tot vandag toe glo sy daar was drank in, hul kry haar nie oortuig nie.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 17/08/2021 - 08:21

Dagsê vriende, 

                    HOORSÊ.

  Die oom se gehoor is nie meer lekker nie. So sê die ouvrou. Het mos so half en half skelm lippe begin lees toe die maskers nou ga sta en inkomme het. Kon net weer lekker hoor toe val alles plat, so plat soos n pannekoek. 
  Deesdae is dit n groot ding die, dié hoorsê gedoente. Dan voel ek lus en vertel van my hoorsê gedoente. Vertel iemand my eendag van die groot persentasie mense wat doodgaan aan hartaanvalle as hul op die toilet sit. Vang ek toe nou vir jou n skrik in die ding. Vir dae soos n donkie vasgesteek in my spore. Raak toe mos heel hardegat. Die vrou sê naderhand, dokter toe met jou. Die ou doktertjie het toe iets gegee, en gesê ek moet nou my  dinges los voor my selfopgelegde taliban selfmoordbom afgaan en my in stukke skiet. Sêg hy, "Glo my oom, dit gaan sleg lyk", hoor ek mos met my dowe oor "ruik". Verander toe sommer dadelik my uitkyk oor die storie. 
  Drink ek toe purgasie ou maat, amper soos n ou wat weer die bottel gryp. Dit is kompleet of ek nou weer n liksens gekry het vir die ding. Sit soos n wafferse chopperpilot op hom.
  Amper was die hoorsê n lelike ding ou broer. Deeske dae steur die oom hom nie aan al die stories nie. En as iemand eers begin met "hulle sê....." 
  Wie is hulle?

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 19/08/2021 - 09:09

Dagsê vriende, 

        ALLES IS IN REP EN ROER.

    Jammer dat ek so n bietjie stil geraak het die laaste ruk. Hier by ons is alles in rep en roer. Rep en roer, wie dink al hierdie goed uit. Maar in elk geval, ou broer, hier is dit nou besig.
   Ons ry mos nou môre wildtuin toe. Baie dinge gehad om te doen. Vaantjie se yskas het begin probleme gee. n Vorige keer se "regas" het net n ruk gehou toe begin sy weer met haar nukke. Amper soos n koue vrou, sy wou nie meer nie.
    As n karavaan se yskas probleme gee, het jy nou regtig probleme ou broer, vra maar vir die oom. Kom die oom jou nou gou kom vertel hoe die oom dink hul te werk gaan in n karavaan fabriek.
    Die oom dink hul vat n as met twee wiele, sit n raamwerk vir die vloer en hak op. Dan sit hul die vloer op en die hak aan. 
  Nou kan hul begin bou aan die karavaan. Nou word die yskas staangemaak waar die  "designer" tannie hom wil hê. Met al die spasie vir n nasie rondom die yskas word hy nou vasgeskroef aan die vloer. Van bo en van onder. 
   Die mikrogolf hang hul net eers aan toue waar hy moet wees. Nou kan hul mos lekker bou aan die vaantjie. Alles bou hul nou om daai twee goed vas. Beddens en kaste met nog versterkings by. Die ouens bou die kaste so om die yskas en mikrogolf, dat net hul se gesigte uitsteek. Toe ou broer, toe sê ek jou.
  Die oom moes so n jaar of wat gelede eers die mikrogolf vervang. Sy is in diens, skielik dood. Jy breek omtrent die karavaan af om by hul uit te kom. Praat nie eers van hoe om daai yskas by die deur of venster uit te kry nie. 
   Het jy al n yskas of mikrogolf gaan koop vir n karavaan. Jy stap mos daar tussen hulle rond met n maatband. Almal word opgemeet. Die ou verkoopmannetjie wil nog probeer met al sy kursus goete wat hul hom geleer het hoe om te verkoop, hy maak nie hond haaraf nie. Na n ruk gee hy moed op en stap soos n hond wat raas gekry het skaam skaam weg. Kyk nogal so kort kort terug omdat hy hierdie manier van yskas koop nie verstaan nie. Hierdie oom wat die yskas soos n landmeter eers op n afstand staan en beskou en met die oë meet, dan pluk hy sy maatband soos n cowboy hier vanuit sy belt, heuphoogte uit en begin meet. Hoe die ou yskassie lyk en wat hy alles kan doen is n bysaak ou broer. 
  Hier het die oom toe agter gekom, "size does matter" soos die ingelsman sê. 
  Maar nou ja, alles is in en werk nou weer gaaf. Kan nou nie meer wag nie. 

Vreugde en vrede vir julle.

.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 23/08/2021 - 09:35

Dagsê vriende. 

                  OUBALIEKAN.

       Wat vir n naam is dit nou vir jou ou broer, sal jy seker nou vra. Ons het Vrydag op gery, daar van Bethlehem af wildtuin toe. Sien die oom so langs die paaie al die verskillende naamborde. Hul laat my baie keer wonder, ek meen nou. By n kruising, grondpaaie weerskante toe, Pramkop en Langdraai. n Klompie kilometer aan kry jy Jagspruit. 
  Waar die mense aan die name kom. Vat nou maar net Moordenaarskuil en Ongelukspruit, dit kan mos niks goeds voorspel nie. 
    Hoor maar net die woord Taliban, dan sien jy mos moeilikheid. Nou praat ek vanoggend met my medekampeerder buurman, Pieter. Hy ry môre verder en begin so stadigaan oppak. Wys so na n klomp goed wat hy op sy gronseil voor sy canopy uitgepak het en sê, ek moet nog die klomp goed skoon kry voor ek begin oppak. 
   Toe sy hy n ding, "maar wat ou Jors, ek is op "pension", ek het baie tyd"
   Nou dink die oom so oor die saak,   ons oubalies kan mos maar so n clan stig. Die ou balie kan clan,   "Oubaliekan". Klink baie beter as Taliban. 
   Staan ons nou hier by Malilaan gholfbaan se karavaanpark. Was aangenaam verras. Baie ouens staan hier oor en besoek die wildtuin van hier af. Ou Pieter hul het self vir n week hier gestaan.
Baie mooi en rustig hier. 
Nou wag jong, ons praat weer, die tannie wag, ons gaan nou in Bergendal toe. Praat weer ou broer.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 25/08/2021 - 14:17

Dagsê vriende,

   BERG EN DAL SE WILDEHONDE.

 Wat n lieflike oggend hier in Berg en Dal in die Wildtuin. Hier word jy wakker, by jou huis skrik jy wakker. Nogal n verskil.
   Gister by Afsaal gaan picnic hou, sal die horingbek voëls toe nou mos ook saam wil picnic hou. Ook nie lank nie toe kry ons kuiergaste, drie olifante wat seker die picnicgangers se vol tafels gesien het. Te heerlik het hul hier in die bosse nefens ons gewei, vriendelik met hul slurpe gewaai en so al groetende met hul flappende ore is hul weer daar in die bos in. 
   Op ons terugtog sien ons n motor staan en verminder spoed. Ou broer, nou werk dit mos so, jy verminder spoed en begin soek. Wat sien hulle vra ons ons self af?  Kruip stadig by hul verby en die man beduie met sy hand by die venster uit vir ons om stil te hou.
  "Wild dogs with a puppy" sê hy en hy beduie hier na sy passasierskant van die voertuig. Wou nogal terug beweeg om beter te sien, maar hy besluit om te ry. Ons soek in die verte, sien niks. Kyk reg langs die pad, beweeg voertuig tot op die rand, en daar sien ons die "puppy" by n pyp wat onderdeur die pad loop. Daar sit die wildehond puppy. n Amper volgroeide hiëna. 
 Dit skater van die lag. Nou weet die oom nie meer wat om te glo as die mense terug in die karavaanpark vertel wat hul alles gesien het nie. 

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 26/08/2021 - 11:08

Dagsê vriende, 
            
              DE DUIWEL IN.

    Soos jul seker darem nou al weet is ons in die wildtuin. Loop ons gister vir oom Kaspaas daar raak naby Renosterpan. Die man is ontstig. Nee, het hy te vertelle. Klein Cindy, sy kleindogter, het mos gestaan en "pregnant" raak en het nou dié bobbejaan se kjênd. 
  Hy is nou regtig n bobbejaan. Kan jy glo sê hy, as die knaap net soos sy ma gelyk het, sou dit nog oraait gewees het. Maar nee, bobbejaan trekke die het hy, nes sy pa. Gin wonder die pa se naam is Grootgeskrik nie. 
   Cindy wou egter nie mooi stilstaan vir n foto met die nuweling  nie. Die kleintjie het net hier onder ma bly hang en so kort kort in ons rigting geloer. Oom Kaspaas sit hier op die enjinkap en vertel van die familie.
   Ja ou Jors, sê hy. Ek is de duiwel in, kan jy glo, uit al die ander manne wat sy kon kies, gaan kies sy die bobbejaan. Sê ek, ag oom Kaspaas, ons sien en hoor dit ook in ons mense wêreld. Die liefde is blind. 
  Sy is toe veld in met die kleintjie en toe hy veiliger voel is hy soos blits op haar rug en leun so terug teen haar stert. Eintlik heel oulik, die bobbejaan kjênd met sy pienk gesiggie en donker blink ogies.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 28/08/2021 - 13:59

Dagsê vriende, 

OOM KASPAAS, GENOSTER EN KONING LEEU.

   Wat n gemors was dit nou gister. Ek skryf die stukkies soos wat ek tyd kry. Gister was dit ook so, en op n manier het die stuk voor hy voltooi was die lugruimte deurklief en by party van julle uitgekom. Iemand het gevra wat se onverklaarbare taal is tussen in, amper so iets soos "shorthand" van jare gelede.
   Maar kom ek vertel jul wat gebeur het. Ry ons hier op n grondpad. Ou broer, hy is nou vir jou die ene sinkplaat. Kom oom genoster heel rustig al weiende aangestap. Steek so by ons motor vas, toe sou hy my nou eers herken, en n woordjie wissel. 
   Het hy nou vir jou baie te vertelle oor die renosterstropery hier. Hyself is onthoring, ja wat ou Jors, sê hy wat sal ons doen. Dit is of dit of jy weet mos wat gaan met jou gebeur. 
  Vriendelik groet hy en wei verder. Uit respek het ek hom maar van agteraf afgeneem om nou nie sy onnatuurlike gesig te wys nie.
  Wragties, daar loop ons weer vir oom Kaspaas en sy kleindogter Cindy raak. Ek vra oom Kaspaas, waar is al die diere, "Jorsie, jy kap net reguit aan, net deur die driffie gaan jy vir ou Luigat leeu sien. Hoekom hul hom die koning van die bos noem weet ek nie. Ek lyk mos veel meer na n koning as hy", sê hy en smile vir my waar hy op die kant van die motorvenster sit. 
   Nou, moenie vir my vra hoe dit gebeur het nie, of ek met Cindy aan die anderkant van die motor gesels het of wat nie, maar soos blits het hy my selfoon met my halfvoltooide storie uit my hempsak gegryp en so n end veldin gaan sit en die phonetjie gesit en bekyk. Daar het hy toe nou opgewonde in bobbejaan taal voort getik en sommer tussen sinne en paragrawe ook iets te sê gehad oor my storie. Die wat dit gelees het, sal weet, heeltemal onverstaanbaar.
   Man, moes ek nou mooi praat om hom so ver te kry om die ding terug te bring. Na omtrent n uur het hy hom terug gebring. Ons was al weg toe ek hoor die phonetjie maak ping ping hier in my sak en van lesers vra wat gaan nou aan. Moes ek sien hy het die storie met sy "remarks" gepos. Kos my ek moet die ding delete. Net om verwarring te voorkom.
   Nee wat, dit is darem nie heeltemal wat gebeur het nie. Ek dink die phonetjie het met die halfvoltooide storie daar op die sinkplaatpad homself aangeskakel en toe rustig al skudende voortgetik en met my onwetend die lugruim ingestuur.
    Ons het toe wel vir ou Luigat gekry waar hy verrerig in n sonkol lui lui rondgelê het.
    Nou moet jul my verskoon, die oom moet nou eers aangaan.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 06/09/2021 - 08:54

Dagsê vriende,
  
   VERKEERSBEHEER IN WILDTUIN.

   Ou broer, het ek en oom Kaspaas nou vir jou weer lekker gekuier daar in die wildtuin. 
  Die man het nog baie planne op sy ouderdom. Hy is ook nog vol bravade en wys nog maklik tande, die wat nog oor is, vir kompeterende mannetjies. Self gesien hoe hy n paar kansvatters verjaag en n paar klappe uitgedeel het. 
  Ou Diklip, die het mos n wilde kans kom vat met Cindy, Kaspaas se kleinkjênd met die baba. Kan jy glo ou broer, dat hy kans sien om in Grootgeskrik se slaai te kom krap. Ou Diklip het sy naam gesta en kry nadat n krioelende skerpion hom op sy lip gepiets het toe hy dié wou eet. Swel daai bolip toe nou vir jou op, dik van die swelsel, sê ek jou.
  Hy was toe kliniek toe waar die ou sustertjie, die lyk te komies met haar bobbejaan lyf, wit verpleegster kappie met die rooi kruis, hom pille gegee het vir een en n ander allergie. Die oom dink sy het dalk die verkeerde pille vir die man gesta en gee. Ek kan hoeka nie lekker lees nie, maar op hul staan iets van Miagra of was dit nou n V gewees.  Skielik dink ou Diklip hy is die adoons in die trop. Verbeel hom hy kan nou so goed soen. Wil hy nou al wat n bobbejaan wyfie is, vry. Verbeel jou. Maar dit nou daar gelaat, ou broer.
  Noem ek die probleem met die verkeer by leeu "sightings", soos die Ingelsman sou sê. Die mense verdring mekaar nou met hul se mousters. Klim mos half bo op mekaar, kompleet asof die mousters wil teel. Bumper tot bumper, party sommer so skeens oor die pad getrek, sê ek jou.
  Sê oom Kaspaas dat hy al die bobbejane en ape bymekaar gaan roep en verkeerspolisie gaan aanstel. Van nou af gaan hul die verkeer reguleer. Vasvat, gaan hul nou die mense vasvat. 
   Gaan ook glo kaartjie boeke laat druk. As, hul nie wil hoor nie, gaan hul "tickets"kry, sê Kaspaas.
  Ek sê, oom Kaspaas, wat gaan jy doen met die omkopery soos by ons. Ek kan al sien hoe word die bobbejane met n lekkerny omgekoop. Toeriste ry mos rond met n peusel dingetjie in hul se mousters hier in die wildtuin.
   Sê hy, ou Jors, jy sal sien, by ons is daar nie so iets soos tronkstraf en parool en sulke goed nie. As jy aanjaag slaan ons jou kruppel dat die roofdiere jou kan vreet. Dit lok weer toeriste. 
  Wag sê hy, ek kan nie hier sta en ginne gaap nie, ek het werk om te doen. Sien jou Jors, sê hy en is toe daar veld in met sy hele trop.

Vreugde en vrede vir julle.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 07/09/2021 - 15:03

Dagsê vriende, 

     KASPAAS GEE OPLEIDING.

   Jul gister vertel van die probleem met toeriste as hul op n "sighting" afkom in die Kruger. Hul parkeer mos so bo op mekaar. Voel niks vir niemand nie.
  So twee weke gelede kom ons af op n "kill" waar leeus n buffel plat getrek het langs die pad. Het die toeriste soos aasvoëls op daai plek toegesak. Stop weerskante van die pad. Ou broer, bo op mekaar sê ek jou. In die middel van die pad, n smal deurgang. Sal daar nou nie wragties n ou in die deurgang met sy GP SUV kom stop, sy enjin afskakel en n bazukka van n kameralens deur sy venster druk en begin fotos neem nie. 
   Van weerskante af druk die ouens nou hul neuse in mekaar se gatte vas, drie bane vol.
   Ek het vir oom Kaspaas daarvan vertel en hy het gesê hy gaan verkeersbeamtes aanstel. Julle gister daarvan vertel. 
  Ry ek toe die volgende dag daar na Renosterpan toe. Daar naby Afsaal, sien ek die gedoente daar in n bos. Oom Kaspaas in n volledige uniform, nogal met sy spietkop keps met die blou band rondom die kop. Sommer gou gou is daar n klomp toeriste wat hierdie rare gedoente wil gade slaan. 
   n Esel met n swartbord hier neffens hom. Witkryt so tussen sy regteroor en die keps ingedruk. Hier kort voor hom sit n amperse brigade bobbejane, almal in splinternuwe uniforms geklee, op stompe wat hul so in n halfsirkel gepak het. 
    Kort kort pluk hy die kryt agter sy oor uit en skryf op die bord in bobbejaantaal. Maak sketse, kleur hul ook sommer in met geel, groen en allerhande kleure wat sy P.A. vir hom aangee. 
    Sy het weer so n pikante mini rokkie aan, so nou en dan wys sy haar harige bobbejaan been. Dan sit die klomp bobbejane net so en staar. Was oom Kaspaas ontsteld. Haar dadelik gestuur om vir haar respektabel te gaan aantrek. Toe sy terugkom, het die manne te lekker gelag. Sy het n voortrekker rok aan wat in die wildtuin grond sleep, n outannie hoof bedekking, net haar harige snoet steek uit. Sulke frilletjies orals vasgewerk. Spierwit, nogals. 
 Dan beduie hy weer dat die spoeg spat. Op n staduim wys hy so na al sy "badges" Hy is behang, lyk soos n kersboom. Rye range op sy skouers. Waar hy oornag al daai toekennings en range gekry het, weet net hy.
  Hy het sy pote vol om hierdie klomp opgelei te kry. Ou broer, toe hegin wapenopleiding, wat n fiasko.  Gaan daar ook sommer n paar skote af. Toe die skote klap is daai bobbejane op hul se pote, dans een of ander bobbejaan polka, vastrap of kees, ek meen tees. Mafia styl trek hul sommer naderhand so in die lug skote af. Dit is die vinnigste wat ek nog gesien het hoe n klomp toeriste motors uitmekaar spat. Ek het self maar vir my eie veiligheid op die vlug geslaan. 
  Daai aand bel oom Kaspaas my en maak verskoning dat dinge handuit geruk het met die wapenopleiding. Noem verder dat hy hul nou gaan oplei met plastiek speelgoed rewolwers. Eers as hy voel hul kan lewendige ammunisie hanteer sal hy die opleiding daarmee voortsit.
  Vra of ek hom die volgende dag sal kom help. Ek voel ge-eerd oom Kaspaas, hoe laat moet ek daar wees, vra ek. Kom so nege uur, jy weet mos ons bobbejane gaan eers   kos soek vir brekfis.
  Sien jou dan, sê hy en lui af. 

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 11/09/2021 - 12:18

Dagsê vriende, 

     EK SALUEER DIE WILTUIN.

  Gister vertel dat oom Kaspaas hulle se opleiding nou afgehandel was. Dat die einde van ons vakansie aangebreek het. Nou voel die oom dat, aangesien ek jul die hele week vertel het van al die mannewalisse met die diere, ek jul tog van die laaste dag ook moet vertel. 
    Oom Kaapaas sê hy reël n groot makietie vir die laaste aand. Glo n afskeid vir ons. Dit gaan alles daar by Bojaan Sjebeen Bar gebeur.  Ons moet glo twee uur die middag daar wees.
   Ou broer, trek ek en die ouvrou toe nou vir ons netjies aan. Ek met my Ou stywe army Stepouts wat die ene motballe stink en die ouvrou in haar netjieste kamp klere. My army beret so skuins getrek oor my regter oor. Die blinkgevryfde Bokkop pryk aan die voorkant. Man, voel ek darem toe nou vir jou pure soldaat. Daai gevoel laas in die sewentiger jare gehad met my uitpasserings parade.
    Ou maat, kom ons daar aan, is daar in daai bosse n oop ruimte geskep  Die bome is uitgetrek en op n hoop gesleep. Alles met die hulp van die olifante gedoen, sê oom Kaspaas. Dit is net markies tente waar jy kyk. Toe ons daar aankom was oom Kameelperd nog besig om die laaste vlaggie aan die hoofpaal se nok vas te maak. Dit lyk te vrolik. Daar staan trokke en trokke kos. Baie van hulle aangery van die Porra af vir die diere, dit is nou groente en vrugte. n Ander trok vol bees en skaap karkasse vir die vleisvreters. Langs die trokke, blokmanne wat regstaan om n snit van jou keuse af te kap op hul blokke. n Groot trok met lusernbale. So is daar voorsiening gemaak vir al die diere. Elkeen het sy eie spyskaart. Trokke en trokke tankers met drank. Op een staan BRANDEWYN, op ander RUM, BIER  en so aan. Rye en rye van hulle. Hier langs die kante is hul toegerus met rye en rye spene vir die diere. Van klein tot groot. n Soort van n selfhelp Bar. Vir die kleiner diere wat nie die spene kan bykom nie is daar krippe in verskillende hoogtes gamaak. n Versterkte staal bolvalve kontrapsie vir die krokkodille. Die oom Kaspaas darem, ook aan alles gedink. 
     Die diere kom in rye aangestap, ou broer van die grootste koedoes het ek daar gesien. Al die diere moes eers n vrywaring en soort van n skietstilstand teken. Daarin moes hul onderneem om nie mekaar op te vreet of om in n bakleiery betrokke te raak nie.
     Oom Kaspaas open die geleentheid. Bedank my vir my harde werk en die opleiding wat ek gegee het. Toe gee hy die groen lig dat die jolyt kan begin. Tot n band wat musiek maak.
    Daar word gekuier. Die diere staan en suie aan daai drank tankers.Daar word gevreet. Een van die hope hout word aangesteek vir braaivleis, Die ander vir vreugdevure en vir lig daar in die donker bos as dit donker raak. 
   Toe dit nag raak het die nagdiere ook arriveer. Die skaam katte van die veld sivette, jakkalse.Te veel om op te noem. Nou is die party in volle swing.
   Daar word gedans dat die stof staan. Sal dit seker nooit weer in die oom se lewe sien nie, n bojaan en n luiperd wat n close dans doen. Het nogal op n staduim gelyk of daar n vryery gaan uitbreek toe die musiek ophou. 
  Na die tyd het oom luiperd gesê hy eye haar al lankal, maar vir n ander rede.
   Die meisies van die nag was ook daar. Oom Kaspaas hulle net so een kyk gegee en gesê, die bojane sal ook nooit leer nie. Tot ounag toe het ons toe daar gekuier. 
      Die volgende oggend eers later uit Berg en Dal kamp uitgery as wat ons beplan het. Net voor Malelaan hek kon ek my oë nie glo nie. Weerskante van die pad staan hulle, oom Kaspaas en die troepe wat nou die toeriste moet vasvat. Hulle het n erewag gevorm vir my en die ouvrou. Ek het hul salueer en die vrou het vir hul koebaai gewaai. Ek is seker ek het trane in oom Kaspaas sê oë gesien, ek kan egter n fout maak, my oë was vol trane en ek kon nie mooi sien nie.

Vreugde en vrede vir julle

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 13/09/2021 - 08:18

Dagsê vriende, 

     Wil vanoggend n geheimpie uitlaat. Manne en hul geheime. Hul praat mos nie daaroor nie. Ja man ek praat van n braai geheim. Jy kan hom eerder vra wie is sy skelmpie as wat jy hom vra oor sy braai geheim. Vrouens is net so erg oor hul resepte.
     Een naweek kuier ons by familie, hulle boer. Vertel hy van sy privaat proewe en toetse wat hy doen. Iemand, n mede boer, sê vir hom dat n spesifieke blok mielies so goed lyk en wil weet wat hy daar gedoen het. Hy dink so n bietjie, nee nee nee, dit het my geld gekos om op daai geheim te kom, ek gaan nie vir hom sê nie, dink hy vir homself. En hy gee nie die volle inligting vir die man nie.
      So maak ek n potjie later die dag. Al moet ek dit self sê, ek kan n lekker pot bou. Hy wil weet wat ek alles insit en doen. Ek sê, nee nee nee, dit het my geld gekos om die pot te vervolmaak, ek gaan nie vir jou sê nie. Lag ons tog te lekker. Ek het hom toe tog maar vertel wat ek gedoen het.
   Die reseppie werk eintlik vir  Chuck Norris se "chuck en brisket". Ek is mal om hul so te braai. Vir my van die lekkerste vleis aan n bees. Hy loop lekker met pap.
    Gister gebruik ek dieselfde resep op die T-bene. Nou om nie te adverteer nie sal ek nou nie die ou naampie noem nie. 
   Jul moet nou mooi lees. Een pakkie "Rocky Bilboa"  Spare Rib marinade en een pakkie Garlic Steak marinade van dieselfde Rocco.
    Nou "chuck" jy dit elkeen in n aparte bakkie, voeg 175 ml koue water by en klits met n lepel, die garlic ene regsom en die steak ene linksom. Moenie dieselfde lepel gebruik nie. Maak ook seker dat jy van onder na bo met die lepel roer. As alles romerig opgeklits is, gooi hul nou bymekaar en laat vleis so drie ure marineer. Hoe langer hoe sagter.
  Ek praat nonsens, om dit makliker te maak doen alles in een bak en  roer nes jy wil. Marineer soos ek gesê het. 
   Ou broer, jy gaan jou vingers aflek.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 16/09/2021 - 10:29

Dagsê vriende.

              SPOOKBOERDERY BPK.
             (Uit Jors se argiewe uit)
    
Jong, vandag wil ek julle n ding vertel. Nou, hierdie het ou SS my self vertel een aand om n braavleisvuur daar op sy plaas. Dit was ook die eerste keer wat ek hom ontmoet het. Ek vra waar kom die boerdery se naam vandaan. Sy naam het hy daardie jare gekry, sy oorlede pa-hulle het so n Datsun SSS gehad. Hy het te vertelle dat hy Sarel -Schalk Swanepoel gedoop is, n naam wat sy pa en ma hom gegee het, omdat hulle van die karretjie gehou het en sy oupa was ook so gedoop. Nou die karretjie staan nou nog daar in die waenhuis, die het sy ma se ryding geword toe sy pa in 1967  n Chev SS gekoop het. Nou vertel hy, met die wat ouens in elk geval nie hulle tweede name gebruik nie het hy toe net SS geword en het hul hom nie meer Sarel-Schalk genoem nie. Sy oorlede oupa was glo Sarel-Schalk, so aanmekaar gesê. Maar in elk geval, hy word toe net Sarel Swanepoel.  Sy pa-hulle het later jare vertel dat dit eintlik n verkeerde ding was om te doen, hy het hoeka daai tyd gesê as pa, dit is nou SS se oupa, dit moet hoor draai hy in sy graf om.
    Die familie begrafplaas is net so om die koppie van die opstal af. SS vertel dat hul hele familie, dit is nou omtrent van Jan van Riebeeck se tyd af, almal daar begrawe lê. 
    Op n stadium terwyl ons braai, sê hy hy gaan nog n ou ietsie ingooi. Met hom toe uit die gesprek sê die ander ouens naderhand, jong jy moet maar versigtig wees.... toe ou SS weer aansluit,  die waarskuwing hang nou in die lug en ek weet nie waarteen hul my wou waarsku nie. Nou vertel hy verder. 
 Hy vertel dat sy voor grootjie oupa daai jare die enorme groot plaas nog soos die gebruik was te perd afgemeet het. Toe hy van die eendag te perd storie hoor het hy blykbaar sy dinge mooi uitgewerk en die ses seuns al n week vantevore uitgestuur met vars perde in alle windrigtings in van die middelpunt van die plaas af. Die dag van die afmeet het hy dan teen Durban July spoed van die een seun na die ander gejaag, perde geruil en voort gejaag na die volgende aflosse. Dit is volgens oorlewering hoe hy dit reggekry het om so n groot plaas te kon afsteek in een dag. Die ses seuns lê ook almal daar begrawe saam met hulle se kinders. 
   Maar kom ek antwoord jou vraag. Die SSS wat toe nou SS geword het, was so in planttyd. Wat dan gebeur, is as dit donker word los ons die trekkers, implimente en waens met die dieselkar net daar langs die lande. Môre gaan ons net aan. Daai selfde dag wat my naam verander het, het pa se sêding van in die graf omdraai waar geword. Oupa moes daai nag omgedraai het, met die omdraaislag moes die hele begrafplaas se rustendes wakker geword het en opgestaan het. Van daai nag af boer ek in die dag en oupa hulle in die nag. As ons in die oggend op die lande kom het alles geskuif van die vorige aand af. Dan het hul die heel nag geplant. Net daar het ek besluit om die naam te verander na SPOOKBOERDEY BPK.    
   Maar sê hy julle moenie uitpraat nie, dit is eintlik my geheim hoe ek aan al my skatte gekom het. Hy is toe daar weg om die vleisbakke te gaan haal en kon die ouens my verder waarsku. Hy lieg sê hulle, die SS staan eintlik vir Sarel Spekskiet, dit is hoe die ouens van hom praat hier rond.
 Vreugde en vrede vir julle.
Foto vanaf Google geleen

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 16/09/2021 - 10:30

Dagse vriende, 

         SPOOKBOERDERY BPK.
            (Vervolg op gister)
     
 Ek het jul gister vertel van Sarel-Schalk Swanepoel oftewel SSS en sy ma se SSS karretjie, toe sy pa n Camaro SS koop toe word hy SS. Tot vandag toe praat almal net van SS, of soos hy sê, dit is nou net Sarel Swanepoel. Alhoewel, die ouens wat hom goed ken praat van Sarel Spekskiet.
      Ek en hy het toe groot pêlle geword. Het maar geleer om baie sout in te neem, seker nie te goed vir die hoë bloeddruk nie, maar vir n goeie pêl sal n ou baie doen. 
    Wat ek van die man hou is, hy kan n storie vertel dat jy hom werklik glo. En dan verwag hy jy moet hom " Nie" glo nie. Dan sal hy so ewe droogweg vra, het jy my wragties geglo? 
    Maar ek wil weer terugkom na die boerdery se naam "SPOOKBOERDERY BPK. Hy vertel dat die ding eintlik as n grap begin het, dit was nou nog voordat sy oupa in sy graf omgedraai het. Hy het toe mos nou saam die ander afgestorwenis begin boer, die klomp spoke.Toe die ding van die grondonteiening begin het hy die plan uitgedink. As hy nou almal kan oortuig dat dit daar spook, sy werkers en die staat, gaan hul mos nou nie in sy plaas belangstel nie. Wat toe nou ook so gebeur het. Gin mens stel in die grond belang nie, alhoewel dit van die beste landbougrond in die omgewing is. Land sy boeke by die ontvanger, is dit nie vir hul snaaks dat daar nie winste is nie. Hulle vrae nie eers vra nie. Waar sal jy nou n SPOOKBOERDERY kry wat geld maak.
    Die aand toe die volk klaar geplant het vir die dag het hul die trekkers,planters,kunsmis en dieselkar  soos die gewoonte was weer daar langs die lande gelos en die werkers is strooise toe. Intussen het hy n klomp boere gereël om die aand by hom te kom braai. Na die braai is hul almal met sy bakkie, met  hulle agterop met n ompad na die lande toe. Hy het geweet dat die volk van hul huise af die ligte en bedrywighede sal kan sien op die lande. Met die manne in plek is hy terug huis toe. 
 Daai ouens start die trekkers op en begin plant. By die strooise het ou Philemon dit gesien, al die huise se mense wakker gemaak en hy het die baas kom vertel daar is mense by die trekkers wat plant. Ou SS het net gesê, Philemon, moet jy nie worry nie, met die wat julle nie meer wil werk nie het ek die tokkelossie gekry. Hy en sy mense help nou boer. Ou Philemon is toe so wit soos n spook daar terug strooise toe. Net so n rukkie toe brand daar verskeie vure by hul huise en dit is die ene bedrywigheid soos die mense voor die vure heen en weer beweeg. SS is toe weer terug lande toe met n wit laken vir elke boer. Met daai land klaar geplant moet hul met alles trek na die volgende lande toe. Die plaaspaadjie het vlak voor die strooise verby geloop. Met elke drywer nou in wit getooi is hul toe mooi agtermekaar daar verby. Die trekkers met die spoke op, mooi verlig met die lig van die trekkers agter elkeen. SS vertel jy het net n ge-JO-JO en gille gehoor toe hul daar verbygaan. Hulle hardloop in verskillende rigtings in, weg vanaf die spookboere. Hulle het toe geplant tot so vieruur die oggend en is almal toe huis toe. 
  SS vertel dat hy al sy dae gehad het om die manne weer by die lande te kry die oggend. Van hulle en hul vrouens is tot vandag toe nog soek. Van hulle het trekkers en waens kom leen om te trek. Van hulle is dorp toe, ander is buurplase toe.
   Toe begin hy iets doen. Hy maak n nuwe kerkhof so entjie van hulle sin. Span hom toe. By die hek laat bou hy so n klein kantoortjie met n bordjie bokant die deur waar staan OWNER/ MANAGER. Net as hy sien die manne raak laks dan laat grawe hy n graf. Daai nag kom gooi hy en sy pêlle hom toe en sit n kruis op. Op hom staan in hul taal geskryf , hier rus nog n tokkelossieboer, so en so, hy wou nie meer werk nie. In Vet Letters LALA KAHLE of ROBALA KA GOTSO met n fiktiewe naam. 
 Hy sê, vandat hy dit doen het hy nie meer bywoners op sy plaas nie. Die wat daar is werk nou mooi. 
   Vra ek nou wat werk die kantoortjie, sê hy, o dit is nou as LABOUR, SARS of wie ookal daar aankom en vra om die eienaar of bestuurder te sien. Ek vat hul soontoe en sê hul moet net daar wag, die baas sal hul sien, hy kom net in die nag. 
  Hy vertel dat hy een aand gesien het daar brand n liggie in die kantoor by die kerkhof, en hy ry toe soontoe. Daar aangekom sien hy die kerse op die lessenaartjie staan. Agter die lessenaar sit sy oorlede oupa en voor hom staan n klomp boere, almal oorle ooms. Hy is besig om hul nagtake uit te deel. Hy is toe huis toe met die geruste wete dat SPOOKBOERDERY BPK op ge-oliede ratte loop.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 17/09/2021 - 08:45

Dagsê vriende, 

            DIE SPOKE LOOP.

    Ou broer, laat ek jou nou n ding vertel van spoke. So twee of wat jaar gelede het ek julle n storie vertel met die naam "SPOOK ASEM".
    Miskien moet jy hom eers by Jors se Kampvuur stories bo by die vergrootglasie loop soek. Dit gaan oor n meisie wat geryloop het wat ek een nag n geleentheid gegee het. Toe ek haar by haar ouers se huis aflaai het sy in mistigheid oppad voordeur toe verdwyn. Weg, soos in weg. By nadere ondersoek was die huis leeg en onbewoon.
 Ewenwel ou broer, daar tik jy net in Spook asem. Twee woorde. Dan behoort hy hom te gaan uithaal. 
    Laas nag word ek wakker en wonder ek wat kan ek jul vertel. Dit is pikdonker. Dink ek terug aan die storie en besluit ek gaan hom so soek soos ek nou net beduie het. Ek gaan haal hom dus uit die argiewe uit. Kry hom toe. Nou "copy en paste"  jy mos die ding dan kan ek hom weer aflaai by vandag se storie. 
  Ou broer, waar ek so in die pikdonker kamer so op die bed lê met net die ou phonetjie se lig wat so onheilspellend voor op my bors skyn, gebeur daar n snaakse ding. Daai storie wil nie copy en paste nie. Gaan ek na enige ander storie, tjoef tjaf en ek het hom afgelaai. Probeer weer, om de dood weier daai spook om die storie vir my terug te gee sodat ek hom weer kan plaas. 
  Laai sonder moeite enige ander storie af, maar nie hierdie een nie. So n koue rilling trek so in my ruggraat af. Was eers lus en sit die lig aan, maar besluit daarteen. Dan maak ek dalk vir Ann wakker. Draai ek die ou phonetjie so in die rondte dat ek in die kamer kan kyk. 
   Ek hop soos ek skrik toe ek die lig in die kamer in laat skyn, ou broer. Daar staan sy in haar spook gewaad.  Dit lyk alles so mistig. Net soos daai nag.
   Die sweet slaan op my uit. Toe ruik ek die onmiskenbare reuk van spookasem. Ek vries, soos n lyk lê ek daar met my hand om die phonetjie vasgeklem. Ek kon toe eers weer roer toe sy so in die mis verdwyn. 
   Dadelik sit ek die lig aan. Daar is niks, niks nie, sê ek jou. En steeds, steeds ruik ek n spook se asem.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 21/09/2021 - 12:21

Dagsê vriende, 

             VAT HOM VIR JOU.

     Ou broer, het ek nou die naweek vir die tannie gelag. Ouma Lien, noem almal haar. Sy trap die jareskaal nou al in tot drie en tagtig. Gaan nou sterk vir vier en tagtig, sê sy.
     Vertel sy ons van haar oorlede man. Hy het vir die SAL gewerk as vliegtuig tegnikus. Te pragtig gelyk in sy uniform man, sê sy. Vertel sy hoe was die girls daai jare agter die pilots en al wat n uniform gedra het, aan. 
     Begin daar n nuwe meisie by die SAL kantore werk en hy gee haar n saamry geleentheid  aangesien sy naby hul gebly het. Eendag sê hy vir die meisie hy wil net gou iets optel by sy huis. Stop daar en hy nooi haar in om sy vrou te ontmoet. Sodat sy nou met haar eie oë kan sien hy is getroud.
   Ouma Lien was besig om vloere te skrop en lyk naar. Hy is toe daar uit om kamstig die ding in die motorhuis te loop haal. 
  Ouma Lien wat daardie tyd nog n jong vroutjie was begin dadelik uitpak. Kyk hoe lyk ek, hy verniel my. Hy slaan my, ek moet soos n ousie in die huis werk. Hy weier om vir my geld te gee. Ek gaan hom los. Vat hom vir jou. Ek los alles, die kinders ook, hy kan hul kry. Ek gaan net my tassie vat, hy kan alles kry. Ek soek net n skeibrief.
   Dit was die laaste van haar aanlêery. Al die ander meisies het van die arme vroutjie se elendige lewe gehoor en hul het hom soos n warm gesmeede yster vermy. Hiervoor het hul nie kans gesien nie. 
    Ouma Lien het toe nooit haar tassie gepak nie. Sy was te gelukkig getroud, alles net opgemaak om hul af te skrik.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 22/09/2021 - 16:14

Dagsê vriende.

               REF HOM REG.

     Vertel ouma Lien my die ding. Ek het jul gister van haar vertel. Haar oorlede man was n vliegtuigtegnikus. Alhoewel hy meestal op Boeings gewerk het, het daar van tyd tot tyd ook kleiner vliegtuie ingekom om te diens. Die nuwer ouens het op hulle gewerk. 
     Op so n kleiner vliegtuig moet daar eendag gesweis word. Vir hom wat meer ervare is kom vra hul om te kom kyk. Hy was op daai oomblik baie besig en sê hy sal later oorstap na hul afdeling om te kom kyk. 
     Stap hy later die dag daar uit die massiewe Boeing gebou om na die vliegtuigie te loop kyk. Daar gekom, staan net die uitgebrande vliegtuig raamwerk daar. Hul het toe besluit om voort te gaan en die vliegtuig sodoende aan die brand gesteek. Ou broer, het daai ouens nou vir jou moeilikheid gehad oor dit, sê sy.
   By so n plek kan dit nou vir jou lawaaierig raak as hul die enjins opstart, sê sy. Dan kyk hul nou dat hul reg loop, toetse word gedoen om te kyk of hy vinnig by die regte toeretellings uitkom. Ons sal sommer sê hul ref hulle, vertel sy laggend.
    So tree hul af en gaan bly aan die kus. Wragties koop hul toe langs n man wat heel dikwels aan sy moustertjie werk. Dan ref hy nou die ou karretjie omtrent dat hy valvebound kry. 
    Sou haar man dan laggend sê, ref hom reg ou pêl, ref hom reg. 

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 27/09/2021 - 10:56

Dagsê vriende, 

          TOT STILTE GERUK.

     Baie van julle wonder seker hoekom is Jors so stil die afgelope tyd. Die lewensloop se loop, loop mos so, ou broer. Maar kom ek vertel julle. 
     As ons op ons ouderdom kom, doen ons mos anders. Kom die son vir ons op, besef ons dit is net geleen. Hom prop ons vol, weet nie of dit ons laaste gaan wees nie. Sak die son, is ons dankbaar vir groot genade. Toe ons jonger was het ons met drome aan die slaap geraak. Nou is dit anders, dikwels raak ons met gebede aan die slaap. Baie kere moet ons stil wees. 
   n Neef van my, Carel van Heerden n kampeerder in murg en been is gister na n kort siekbed oorlede. Hy sal gemis word deur sy vrou, kinders, kleinkinders en familie. Verseker sal sy kampvriende hom en sy streke ook mis. Sy dae was vol, propvol.
     Rus sag, Neef.

Vreugde en vrede vir julle.
(Fotos uit sy album)

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus