Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Braai Eenvoudige Hoender Potjie -… Geert -59 seconds ago
Ek begin iets regkry Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -4 minutes ago
Goeie Hout... Goeie hout se Noord & Oos… Rona du Plessis -1 hour ago
5 Maande Goeie hout se Noord & Oos… Goeie Hout -1 hour ago
Vordering! Ek gaan verloor!!! Rona du Plessis -2 hours ago
Nooit! Ek gaan verloor!!! Rona du Plessis -2 hours ago

Jors se Kampstories op fb ...

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits
Submitted by Willem Brits on

Môre vriende,

Ek gaan probeer om dié Jors se Kampstories gereeld hier te plaas ?

Hier is die fb skakel.

 

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 09/01/2021 - 09:48

Dagsê vriende, 

    DIE POSBODE EN DIE MECHANIC.
 
 Oraait, ek moes seker gesê het, die van meleë se posbodes. Vroeër jare het ons darem nog diens gekry van die manne. Ja, toe was meeste van hul nog, o magties, ek mag seker nie meer n kleur sê nie, maar jul weet wat ek bedoel.
   Nou kyk, daai jare se posman en melkman het vir baie dinge die skuld gekry. Tot vir kinders wat nie soos die pa lyk nie. Rondloop kom nie van vandag of gister af nie. Van voor enige van ons wat nou hier lees se tyd af.
   n Posman was n ou wat vir jou nuus gebring het. Dit kon nou goeie of slegte nuus wees. Omdat hul so wyd gery het met hul bicycles het hul ook van alles geweet wat in die dorp gebeur. Dikwels het hul sommer ook dan daai vars nuus versprei. Gewoonlik waar die ontvanger so by die posbus soos n tant Stienie van Agter elke Man, oor die tuinhekkie hang. 
   Party keer sommer so met n paar krullers in die hare en Lexingtontjie tussen sulke geel vingers vasgeknyp.
Baie kere was dit juis sulke mense wat verantwoordelik was vir n groot deel van die varste plaaslike nuus. 
   Die volgende gebeurtenis is juis deur so n posman oorvertel, ou Skraalriet. Skraalriet was so n lang skraal mannetjie.
   Ou Rooi Sarel het die gewoonte gehad om direk na werk by die Hotel te gaan draai, hy was n mechanic. n Goeie een ook, dit is nou as hy nugter was. Hoe lank hy daar vertoef het, het net afgehang van watter tyd van die maand dit was. 
   Daai manne het ook nog daarvan gehou om elke fortnight pay te kry, dit is nou hoe hul daarvan gepraat het. Die paydays was dan nader aan mekaar.
   Rooi Sarel self, het nooit n motor gehad nie. Die ouens het ook nie van motors gepraat nie maar van karre. Hy het nooit n kar gehad nie. Ook maar genadiglik, anders sou hy in baie ongelukke betrokke gewees het. Nee, hy het n bicycle gehad. 
   Een middag raak Rooi Sarel aant suie, juis oor hy en die vrou die vorige aand oor die voggies gestry het en sy vir hom gesê het hy is dronk. Vanaand sal ek haar wys hoe lyk n dronk ou, dink hy terwyl hy sy hoeveelste dop wegslaan. 
   So is hy laataand uit die kroeg uit en het eers sy dinges afgesukkel om op die bicycle te kom en later besluit om hom eerder te stoot na n paar valslae. 
  Ou Skraalriet weer het terug gekom van Sarie Sproete af waar hy by haar gaan opsit het, ook met sy bicycle. n Man wat mos nog vry is baie energiek, die speke sing. Die Dyno draai vinnig en die ou fietslig brand mooi. Rooi Sarel se fietslig is dood, n fiets wat met n Dyno gestoot word, het nie ligte nie, net so min as wat brandewyn nie brieke het nie. 
   Nou, julle weet hoe stoot n dronk ou n bicycle, dit is mos so asof hul paaie uiteen wil gaan. Hy strompel in die linkerbaan maar die bicycle loop in die regterbaan. 
  So was dit ook die aand toe Skraalriet kop aan kop met Rooi Sarel se fiets gebots het. Rooi Sarel was maar net n toeskouer toe die ongeluk hier neffens hom plaasvind. Val ou Skraalriet vir hom halfdesdinges. Stoot stoot is hul daar uitmekaar huis toe.
   Toe Rooi Sarel by die huis kom het die hel losgebreek. Kyk hoe lyk jy, skree die vrou en wat het jou bicycle oorgekom vra sy in een asem. "n  Nugter ou het in my vash gery" kom dit van Rooi Sarel. Kyk, toe pak daai vrou nou vir jou uit. Jy is dronk en kyk hoe lyk jy, skree sy.
  Soos n kar se aerial wat nog wieg het hy oorgehel tot teen die voordeur se kosyn en kon nie weer regop kom nie, steeds het hy sleeptong gevra, " Wie ish dronk, ek shê jo, dit ish nugter menshe she schuld lat ek sho lyk".
    Baklei baklei is hul gangaf kamer toe. "En by the way, daar is nie vir jou kos nie", sê sy. "Ish oraait, ek ish in elle geval nie hongerrr..  nie", sê hy. Die spyker in die kis was toe hy haar reken sy kan in elk geval nie kook nie. 
   Blykbaar het Rooi Sarel die wêreld vol vertel van die nugter ou wat in hom, die dronkie, kom staan en vasry het, en hy wat daaroor pakslae gekry het.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 11/01/2021 - 09:27

Dagsê vriende.

        
         STRY TEEN DIE OUDERDOM.

      Of dalk moet ek eerder sê met die ouderdom kom die stry. Jong as jy nou n bietjie ouer raak dan word dit mos n kuns wat party ouens mooi kan bemeester. Dit lyk my of dit maar saam met die ouderdom kom.  Ek en die vrou kan ook lekker stry.
      So was dit ook gister. Nie hieroor of daaroor nie, oor pille. Soos dit in n huwelik is, doen ons dinge saam. Ons is nou saam siek. Eers het sy begin en ek n paar dae later. n Ou is mos te bang om te hoes deeske dae. Maar nou het ons hom oordentlik, die verkoue. Waar hy nou hier in die middel van die somer vandaan staan en kom, sal net hy weet.
     Ons het altwee min of meer dieselfde medikasie gekry. Die ding werk nou so. Eers kry ons sinus en dan sak die ding nou in die bors in, maar daar bo in die sinusholtes bly nog genoeg oor om moeilikheid te maak. 
   Nou verklaar die ou liggaam mos oorlog teen hierdie goete hier in die keelgange en longe in. Terwyl die fight aan die go is gaan daai fabriek in die sinusholtes nou in vol produksie. Hulle werk selfs oortyd. Party keer voel dit my die bemarkings kanale word geblok, dan pot hul die voorraad n bietjie op. Dit is nou net daar, daar terwyl hul daar in die gange rondhang wat hul seker kwaad stook.
    Allerhande goetertjies broei uit en word n teelaarde vir allerhande rooi overhall gedroggies. Jy kry mos dan allerhande simptome, soveel so dat die dokter vir jou antibiotika gee. 
   Sal die vrou nou met my stry dat sy drie antibiotika pille gekry het. Ek sê ek het nog omtrent drie oor. Kan nie wees nie, reken sy my. O, ek moet bysê, ons het presies dieselfde antibiotika pille gekry. Dan drink jy nie jou pille nie reken sy my. Staan ek op uit my bank uit, waar gaan jy nou heen, seker jou pille haal sê vra sy in een asem. Ja ek gaan, kom dit nou norserig van my. Jy gaan my omverskoning vra as ek reg is, kry sy die laaste pyl in my rug in toe ek wegstap. Ja, mompel ek. Gangaf begin ek nou self twyfel, verwar ek nou nie dalk die pille met ander pille nie.
  Kry die pille bymekaar, wragties, ses pille. Daarvan kan die leë verpakking met die drie oop en drie vol getuig.
   Nou stap jy mos terug met n gevoel van genoegdoening in jou hart. So asof jy n oorlog gewen het en jy wys haar die pille. Kry net n sorry. Nie jammer, ek het jou opgewerk of jammer ek het jou bloedruk opgejaag nie. Of jammer ek het jou nou amper n hartaanval gegee nie. 
    Toe sal ek hoor dit is eintlik jou skuld, jy wil oor alles stry. Miskien is dit so, of dit nou sy of ek is besluit self. Sal iemand vra wat het so en so gekos en ek se bv. R30 sal sy sê R29.99 dan betaal jy in elk geval net R29.95 vir dit. 5c afslag. Maak die bleddy ding R30 dat ek en die vrou tog net kan ophou stry. 
     Omdat ons in ons huwelik alles saam doen,  het ons toe maar net terug gesit en saam afgekoel.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 12/01/2021 - 08:19

Dagsê vriende,

            DIE STRAATAF KUIERPLEK.

   Kyk, as daar nou ouens n gebrek storie kan vertel is dit ouens wat self die gebrek het en dit dan vertel. Vat nou maar byvoorbeeld n hengelstorie, alhoewel dit nou nie n gebrek is nie. Of miskien is dit, dalk n gebrek aan vis. n Ou wat nie visvang nie kan hom nie so goed vertel soos n hengelaar wat kan lieg nie.
   In my jong dae was daar ou Piet Eenoog, pellet skietongeluk gehad. Ou Eggs Baiearms, arm verloor in n motorfiets ongeluk. Dit is nou die manne wat jou van sulke goed kon vertel.
   Nou vertel Wille Willem my die storie wat Klaas hom vertel het. Klaas is nou die man met die gebrek. Klaas het werk gekry by n ingenieursfirma in die dorp, hy doen hul admin. Alhoewel hy in die kantoor werk kom hy tog dikwels ook in die werkswinkel, soos hul sê, op die vloer. Nou sal jul weet die ouens moet staalpunt veiligheiskoene dra. Hoekom Klaas dit moes dra, sal net hulle weet, maar reëls is reëls. 
  Baie van die ouens dra dit dus sommer ook in hul sosiale lewe. Nou vertel Klaas van die dag, dit was nou in die jare wat ouens nog by plekke die rugby gaan kyk het waar daar big screen TV's was. Hy en die vrou bly in n grondvloerwoonstel in die dorp en hy is die Saterdag oggend gou in kantoor toe om admin af te handel. Op pad terug gaan hy soos met haar gereël eers rugby kyk by die kuierplek net so straataf van hul woonstel. 
    Daar raak die manne mos nou aan de kuier. Party sit by die kroeg, ander sit by sulke tafels en stoele nader aan die TV.
   Nou weet julle hoe dit in so n plek gelyk en geruik het daai jare toe die manne nog kon rook. Die plek is blou gerook, die sigaret hang mos so tussen die vingers, dan suig die ou hom dat die kooltjie so lank raak, varal as dit n naelbyt game is. Die as val nie af nie, net as Naas gedrop het en die span score, spring die ouens op, dan drop die as grond toe.
Het jy al gesien as die ouens getrek is en hul begin n light soek. Kry hom mos nie. Dan moet sy dronker pêl dit vir hom met sy Bic lighter aansteek. As hul staan en rondstrompel is dit iets om te sien, soos wat hul sukkel om daai sigaret se punt by die vlammetjie uit te kry. Die ou met die sigaret in die mond raak mos heeltemal skeel soos wat sy oë kyk vir die punt van die sigaret. Die man met die lighter strompel weer so reguitarm oppad met die vlam vir die sigaret se punt. Om daai twee bymekaar te kry kan nogal n tydjie vat. Gewoonlik gebeur dit dan ook dat die ouens hul wil doodlag vir die petalje.
   Die manne kuier, kort kort val iemand en kom weer strompelent orent. Klaas self wou op n staduim opspring toe die ouens hier op hul doellyn boer, maar het hier reg voor sy stoel kennis gemaak met die grond. Sy pêlle het hom egter teruggehelp tot in sy stoel. Hy was nou al ver heen en toe dit die tweede keer gebeur dat hy wil opspring en val, het hul hom gelos. Nou het die ouens oor hom geval en sy vingers blou getrap. Hy het van hierdie handskoene gedra, sulke swartes sonder vingerpunte. 
    Besluit hy hy moet vars asem kry, kruip tot by die deur en trek homself regop teen die deurkosyn, as hy sy hande los val hy soos n nat handoek grond toe. 
  Daar het sy twee pêlle hom kom optel toe die kroegman toemaaktyd almal uitboender uit die kroeg uit. Nou het elke man hom daar aan n arm beet, so oor hul skouers en sleepdra hul hom daar straataf flat toe. Hy vertel  as hy so afkyk na sy voete sien jy net sparks soos wat die staalpunte op die teerpad skuur. Lyk kompleet soos n kar wat se exhaust op die teerpad skuur. Hy sê, einlik was dit nogal mooi, tot sy dofgedrinkte oë het geskitter. Het hom glo baie herinner aan toe hy nog n kind was, daai sparckles wat so sparks geskiet het. Hy sê, toe mis hy opnuut daai tye, hy het so bedroef geraak dat hy dronkverdriet gekry het. By die woonstel het die ouens hom net voor die deur neergesit, geklop en die hasepad gevat. Vir sy vrou se bakleiry het hul nie weer kans gesien nie. 
   Hy vertel, daar het hy nog so huilende vir sy skoenpunte gesit en kyk wat so rooi gloei toe sy oopmaak.
   Maak sy daai deur oop en beskuldig hom sommer van die staanspoor af dat hy en sy pelle al weer gesuip is. Hy het dit bly ontken tot sy gevra het, " nou waar is jou rystoel dan."
  Hy sê die laaste wat hy kan onthou toe hy in die bed lê was toe hy vir haar sê ," Die sparks was so mooi".
  
Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 13/01/2021 - 08:11

Dagsê vriende, 

                HARTSEER EN SY KAT.

      Ek het jul gister vertel van Klaas en sy rolstoel of soos hy eerder van hom gepraat het, my rystoel. Vertel hy dit is so omdat dit sy vervoermiddel is in die dorp waar hul woon. Weens sy rolstoelgebondenheid het hy en vroutjie nooit kinders gehad nie. Lief vir diere die is hulle. In hul woonstel mag hul egter net n budgie hê.
  Maar om terug te kom na Hartseer, dit is eintlik sy bynaam wat die dorp se inwoners hom gegee het. As jy hom gesien het sal jul nou verstaan. Party mense het mos net so n hartseer gesig. So n gesig het n sangeres daar uit Namibië ook vir my. Sing soos n nagtegaal en ek raak ook sommer hartseer met party van haar liedjies. Dan verlang jy mos sommer na mense wat jy nie eers geken het nie. As jy hul sien, voel jy al lus om te huil. Nou so vir n gesig het Hartseer gehad, Hartseer man, Hartseer sê ek jou.
    Behalwe dat hy nou n kroegstorie goed kan vertel kan hy maklik huil. Sy vrou sê hy huil as Pick A Pay in die oggend oopmaak. As hul in die aand toemaak is dit eers n tranedal.
   Menigmaal het hy al sy rystoel daar by die kuierplek se kroeg ingestuur en met sy stories die hele kroeg so gebind dat hul almal daar sit en snot en trane huil het. Die barmanne het van hom gehou, as hy daar was sal daar nie n barfight wees nie.
   Sulke aande het die manne met dronkverdriet by hul huise aangekom, jy sal sweer hul kom nou net van n begrafnis af. 
  So was dit ook die aand wat Hartseer vir die ouens van sy kat vertel het. Sit hy die aand daar in sy rystoel met die manne so rondom hom. Die ouens wat by die kroeg sit het so in hul stoele omgedraai om vir hom te kyk. 
 Nou kyk, Hartseer was n slim man, hy het sy stories uitgerek, dan koop die ouens vir hom drankies. Nou vertel hy, hy was nog n klein seuntjie met sy gebreklike beentjies, sommer dadelik begin van die groot ouens n traan wegpik. Groot ouens het baie keer mos n klein hartjie. Nou, as Hartseer dit gesien het, was dit vir hom soos petrol, dan sit hy alles in in sy storie. Ewenwel, sy ma-hulle gee vir hom die kat.  n SPCA straatkat. Aerial was n wyfie kat. Die naam het Hartseer haar gegee omdat haar stert so regop gestaan het soos n vlakvark sin as hul hardloop. 
   Toe Aerial groter word het Hartseer agtergekom as hy gaan slaap gaan loop Aerial rond. Met die stert wat so regop staan was sy einlik n sedelose meisie vertel hy. n Opregte straat kat. Haar seine het sy die hele buurt uitgestuur.  Menigmaal het sy met n klomp mannetjies daar aangekom en dan is dit n ge-mauie.....mauie die hele nag deur.
   Man dit is nou vir jou n gekattermaai van n ander wêreld gewees. Gin mens kan rus kry met so n kat nie. Een Sondag na kerk besluit hy dat, en dan onderbreek een van die dronkies hom en sê, gee jou glash vir n ou varshetjie. Terwyl die ou die glas so oor sy skouer aangee vir die barman skreê hy vir hom," Cghee
vir Hartseer daar n dubbel" As hy die glas vir Hartseer aangee het hy n waarderende "Chanks" gekry.
  Waar was ek nou weer, o ja, by die kerk. Kry ek daar n plan toe ek by die huis kom. Hiedie sedelose kat kort katkisasie. Nou lag die hele kroeg vir die kat wat nou moet katkiseer. Dadelik het ek hom in die kamer ingeroep en die kat het sy eerste katkisasieles gekry. 
  Omdat hy eintlik nou n agterstand het het ek hom elke aand ekstra katkisasie lesse gegee, een uur sessies n aand. Dan skater die manne. Wragties sou ek sien, sy vorder fluks en is eintlik n vinnige leerder. 
   Net toe ek eendag begin dink dit gaan werk, toe is Aerial net weg. Nooit weer huis toe gekom nie vertel hy snikkend en vee sy loopneus met die agterkant van sy hand af. Of sy weg geloop het Nonneskool toe of dalk voor n kar in, die sal ek nooit weet nie. Jislaaik, dan huiii..l die ouens. Toe hy sê haar katkisasie sertifikate hang nou nog in sy sitkamer, toe is dit asof jy die krane oopdraai.
   Na n paar troosdoppe het die barman hul daar uitgejaag. Met sy rystoel is hy al huilende daar straataf na hul woonstel toe en die ander is ook huilende daar weg. Dit het kompleet geklink of die hele dorp in rou is toe al die honde in die omgewing ook begin saamhuil. 
    Sy vrou het al gehoor hy is oppad toe sy die honde hoor huil, toe weet sy, hy het nou weer een van sy tranetrekkerstories in die kroeg vertel. 
Wat is dit nou, vra sy vrou toe hy tjank tjank in die huis inrol. 
   Eeeeuuuu....eeeeuuuu huil hy, ek verlang na my kat wat ek nooit gehad het nie. Dadelik wil hy haar ook sommer die storie begin vertel toe sy hom stilmaak en sê, "toemaar, jy het my al vertel"
   Hartseer het eers weer rustig geraak toe hy in sy beneweldheid hoor sy sê, ek sal vir jou nog so n kat koop.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 14/01/2021 - 10:00

Dagsê vriende,

           KLAGTES EN GEDAGTES. 

    Nou kyk, hierdie is nou twee goete wat n oumens kan doen. Party doen dit dalk so n bietjie in die oortreffende trap. Nou praat ek van die kla gedeelte. 
   Regte ou knorpotte. Ek probeer regtig om my soveel as moontlik daarvan te weerhou. 
     Die ouens het mos dan nou baie tyd om oor dinge te dink, die gedagtes gedeeltes. 
     Môre Boet, groet ek toe ek gaan sit, en val dadelik weg. Sê die vrou vanoggend ek moet nie my afspraak vergeet nie. Hulle sê mos ons onthou jare terug se goed, maar ons kan nie gister se goed onthou nie. Se dinges man, kom vra my oor 65 jaar van gister dan vertel ek jou, toe, kom vra my. Ek sal jou wys.
    Detail boetie, ek sal vir jou detail gee. Kom ek vertel jou van n Merry Go Round. Ken jy n Merry Go Round ? 
 Nee wat man, julle jong klomp van vandag weet van niks, niks sê ek jou. Van vry en jol en gigs miskien, ja. Terwyl ons nou so daarvan praat, wat vir n ding is n gig? Sonder om hom kans te gee om te antwoord gaan ek aan. Klink vir my alteveel soos iets soos n zol, nee man, nie die terugkyk twak wat nou gewettig is nie, ek praat nog van n propperse koerantpapier zol met BB twak. Ou Makoks die skaapwagter, het my nog geleer, hy was nou n zoldraaier van formaat. My eerste een was nogal een wat hy vir my gedraai het. Vas gespoegplak, die lot. Nie soos vandag waar daar allerhande gedroggies in spoeg  is nie.
   Help nou net weer die oom, wat wou ek jou nou weer vertelle. "Van die Merry Go Round oom, maar oom....." Ek gee hom nie kans met sy maar oom nie. Dankie ou seun, ja, van die Merry Go Round. Jong kom ek jou nou sê, as dit darem ook nou nie vir julle was nie, weet die oom nou ook nie so lekker nie. Vat nou maar net gister, kom ek en die ou vrou daar uit n winkel uit met een van daai winkeltrollies wat se GPS opgepak het. Ons moet regs na die kar toe maar hy bly links neuk. Die sweet tap my af. Kom daar so n jong man en bied aan om te help. Was ook maar te dankbaar. Man, jy moes sien hoe regop en flink stap die tannie toe.
    Toe ek diep wil asem haal. "Nou waarmee kan ek oom vanoggend help, wat is fout? Nee Doktertjie, ek weet nie jy moet n bietjie kyk, en toe pak ek uit.
    Ek is toe later daar uit, toe ons groet sê, ek, onthou dat ek jou van die Merry Go Round vertel. Hy het maar net geglimlag en gesê, hoop oom voel gou beter. 

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 15/01/2021 - 09:14

Dagsê vriende, 
 
                  MERRY GO ROUND.

Ek het jul gister vertel van my besoek by die doktertjie in "KLAGTES EN GEDAGTES". Hier is so n inleidende grepie.
  " Hulle sê mos ons onthou jare terug se goed, maar ons kan nie gister se goed onthou nie. Se dinges man, kom vra my oor 65 jaar van gister dan vertel ek jou, toe, kom vra my. Ek sal jou wys. Traai my boetie, ek sal jou detail gee. Detail vertel ek jou". 
   Nou dat jul weet waaroor dit gaan kan ek verder vertel. Ek wou hom nog van die Merry Go Round vertel, nou vertel ek maar vir julle.
   Kyk, n merry go round was darem nou vir jou n lekker ding. Ons was mal daaroor, tot gaan kyk as hul per trein arriveer op die stasie en in n oop stuk veld neffens die stasie alles staan gemaak het. Daar het hul dan gestaan vir so n drie of vier weke voor hul weer opgebreek het. 
    Deur die dag het daar nie veel aangegaan nie, hul het eers begin as die skool gesluit het. Saans was eintlik die besige tyd. As al die liggies so aangekom en geflikker het. Die ligte van die swaaie wat al in die ronde tol. Die seekat oftewel, Oktopus wat sy bene in die lug in opskiet om net weer terug te val tot kort voor die grond, ook al draaiende. Van my eerste ondervindinge was op die perdjies, wat so op en af galop in hul pyp, met pa of ma wat langsaan staan en ons vashou. Dan hoor ek sommer weer die musiek in my ore opklink. Ek proe die spookasem, die toffieappel se taai wat my lippe laat vaskleef aanmekaar. Ek sien weer die goedkoop speeldingetjie wat ek gewen het met die kettie of windbuks skiet. Ek voel weer die stof tussen my tone soos wat ons van die een apparaat na die ander een hardloop om solank in die ry te gaan val. Tussen ma en pa gesit op die Big Wheel, voete so in die lug geswaai tot ma se ontsteltenis. Vir hom was hul nou weer lief
   Die swings en Dive Bomber was van die lekkerder goed toe ons groter raak. Die Dive Bomber was soos al die ander goed ook in verskillende kleure geverf. Daai een, met sy puntpanele in wilgerboom groen, donker kanariegeel, blou onweer lug blou wat reg by sy neus almal bymekaar kom.
    Kan jul dit nog onthou? Die hele ding uit staal. Die vensters uit "expanded metal", vir die wat nie weet nie, die ouens gebruik dit vir braaisiwwe ook. 
   Daai ding het nou vir jou ouens siek gemaak. Eers later gesien hoekom hul dit met daai sif gemaak het. Dit is maar om al die heel worteltjies, tamatietjies en sulke goed op te vang. Die tamatiepitte, turksvypitte, waatlemoenpitte en Ventersdorp se groenmieliepitte kon deurgaan. Net groot genoeg vir pitte. Die heel goed, die het die operateur na elke trip so met n hark uitgehark en in dromme gegooi vir n varkboer daar naby.
  As die Merry Go Round weg is het ons die grond gehuur en net losweg bewerk. Menige top oeste daar afgehaal ou swaer. Waar die bomber gestaan het was n blokland. Daar waar die swaaie en al die ander draaiende apparaat gestaan het, het dit gelyk of daar spilpunte op was. Sulke pragtige sirkels. Dit was nou wat hul sê, n gemengde boerdery. Turksvye, later jare, blare so groot soos n boeing se vlerke met vrugte so groot soos n Dive Bomber se kapsules. 
   Mieliekoppe ou broer, so lank as my arm, sê ek jou. Tamaties, ek wil eintlik nie eers praat nie. Die Grieke het hul opgesny soos waatlemoenskywe en hul so slice slice verkoop. Om nie eers van die waatlemoene te praat nie, hy het so in sy alleenigheid n bakkie se gat in die grond ingedruk.
   Tot vandag toe nog is daar op die Johannesburgse mark fotos van ons groentes. Selfs die groot groentewinkels  gebruik dit ook. Waar dink jy kom daai groot komkommers vandaan wat so groot soos n winkelvenster is. Van Ventersdorp af boetie, van Ventersdorp af, gewis.

Vreugde en vrede vir julle.
Fotos vanaf google geleen.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 16/01/2021 - 09:09

Dagsê vriende, 

                  JAFTA SE BICYCLE.

   Hierdie is nou n ding wat Wille Willem my vertel. Die man kan nou vir jou baie dinge vertel. Jy kan nou waaragtig vir hom  enige iets vra, hy kan jou n ding of twee van dit vertel. Jare gelede praat ons een aand so om n kampvuurtjie daar in die wildtuin oor van die wildbewaarders wat so met hul bicycles rondry, net met n kettie om die nek. 
   Nou die man het die gawe om toe hy bicycle en kettie hoor, n bicycle en n rek bymekaar te bring en dan daarvan n storie te maak. Ou Broer, eintlik praat ek nou verkeerd, hy maak nie stories nie, hy vertel net n ware storie daaroor. 
   So was dit ook die aand toe ons na die braai n lekker groot vuur daar voor onse karavane gemaak staan brand het.
     Ou Jafta en sy vrou Sanna het op n plaas daar in Wellington area gewoon. Vervoer was bietjie n probleem vir hulle totdat Jafta n bicycle by die plaasboer gescore het. Hy het nou "genag nag" oor die bicycle van die oubaas wat nou al vir jare daar in die waenhuis aan die balke gehang het. Toe onder die stof. Tot die man dit nie meer kon vat nie, toe is Jonas se transport probleem opgelos, wel, soort van. Maar dit was nou darem al een van die fietse met kabel brieke, nie meer een van die wat jy so moet back paddle nie. Die voorste briek kabel was stukkend maar dit het ou Jonas nie gepla nie. Met n voorbriek soek jy in elk geval na jou dood op n grondpad. Die fiets het ook n carrier agter op gehad wat heel gerieflik was om kruideniersware of vir ou Sanna te karwy.  Daai jare se manne was nog trots op hul bicycles, die rims en speke is met fyn as wat hul so in n pasta met water gemaak het gepolish. Die fiets, so met sy wiele in die lug, staan op sy handles en die saal. Dan word die speke een vir een blink gevryf. Met die rim word die lap so teen hom vasgedruk en die wiel gespin. Man dit is darem nou vir jou mooi as daai speke so blinkend al in die rondte tol. Die rim blinkend soos n spieël. Die Dino blink net so, n rooi liggie net onder hom, so ook die chrome ring by die swart omhulsel van die voorlig. By die voorwiel het ou Jonas  n ou bakkie aerial vasgeskroef wat hy ook by die oubaas afgebedel het. Die het so n plastiek lemoentjie in. Die hele fiets het hy vol rooi en oranje reflecktors versier. By elke wiel het hy op die breë gedeelte van die speke n tennisbal ingedruk wat hy by die kinders gekonfiskeer het.
Jafta moet die Saterdag dorp toe, hul het die Vrydag gepay. Soos die gewoonte was daai tyd maak Sanna n lysie van die benodighede en Jafta vat die pad op sy fiets na die dorp, seker so 10 kilometer van die plaas af. Die FMpie, maak hy hier oor die handles hang. Full blast is hy daar weg. By die dorp gekom koop hy die nodige, onder andere n blok margarine wat op sy vrou se lys was. 
Dit was grondpad en die fietse het baie papwiele gekry daai jare, so was dit ook die dag. Met n paar sjielings in sy sak, koop hy die dag van daardie harde rubber tiepe binnebande wat jy nie oppomp nie. Sommer daar buite die Handelshuis het hy die tubes uit en die rubber binnebande in. Nou sit hy met die 2 tubes en op n plaas leer die oubaas hom, mens gooi nie goed weg nie. Die druk hy daar in die box met croceries. Jafta was n slim man, hy het geweet hy gaan te min geld hê vir alles, dit is nou vir die twala (drankies) ook en het hy al by die oubaas n loan gemaak gister. Met die loan is hy daar na n shebeen toe in die lokasie. Die is mos sommer sulke oop plekke met rietdakkies hier en daar met tipiese houtbankies waarvan die pote so in n V gesaag is. Die bicycle het hy hier neffens hom teen n ysterpaal en heining staangemaak. Daar het dit n bietjie laat geraak. Toe dit laat raak begin hy sy goed bymekaar maak om te ry. Die ander ouens probeer keer, want hulle het ook op ou Jafta se loan account gedrink. Ou Jafta reken hy is die eerste mens wat seatbelts vir n fiets uitgevind het. Hy vat die een tube en sit hom oor die regterkanste handle bar tot teenaan waar die wireless in die middel hang, en dan so oor sy linker skouer, die gedoente word nou agter oorkruis aan die carrier vas gemaak. Dan neem hy die ander tube haak die tube oor die linkerkanste handle bar en die gedoente oor sy regter skouer en die ook aan die carrier vas. Die drinker pêlle help al laggende. Die shebeen eienaar het n stuk lorrie tube en bring die, maak die voorpunt bokant sy overall se zip vas aan sy gordel, af saal toe, n paar maal om die pyp en dan weer agtertoe aan die gordel vas. Nou sit hy lekker vas getrek,  sy fiets kan hom nou nie afgooi nie. Met die FMpie weer op full blast is hy onder luidende toejuiging en groot gelag daar weg.
    Wat ou Jafta nie geweet het nie was dat die margerine begin smelt het van die sonstanery teen die heining, deur die boks agter hom begin sypel het en nou besig was om sy remblokkies en rim lekker te ghries. 
     Hy moet deur n pas gaan wat lekker afdraend loop en die fiets loop dat die speke sing. Hoe meer die harde rubberbande nou op die grondpad spring, hoe meer ghries die margerine. So vinnig ry hy dat die wind so in sy neusholtes opwaai dat daar sulke knoppe agter op sy kop uitslaan. Die wind waai ook sy lippe, dat hul so in die wind flap, dat hy skaars kan sien waar hy ry. Jy sien net voortande met so hier en daar n leë kas en n paar bruin tande, sy voortande heel ontbloot. Lyk kompleet of hy lag. Hy begin die agter rem aanslaan maar die margarine doen sy job, hy smeer die remblokke dat daar geen remme is nie. En Jafta gaan vir n skerp draai, hy reken teen die spoed gaan hy dit nie maak nie maar hy het op TV gesien die Formula Grandprix manne lê so met hulle een been in die draai dat hulle knie die pad raak. En Jafta maak so, sy knie skraap teen die grond. Die blou overall is nie vir racing gemaak nie en lap en n deel van Jafta se  knieskyf het in die pad bly lê. Genadiglik maak hy die draai. Onder in die driffie is n hek wat seker tien  jaar laas toegemaak was. Toe Jafta orent kom na sy Grandprix move sal hy tot sy onsteltenis sien die hek is nou toe. Nou probeer hy afspring maar sy tuis gemaakte seatbelts hou hom stewig in die saal, ontsnap kan hy nie. En so met sy lewe wat so verby hom flits slaan hy daai hek met n groot gejuig, so hard dat hy en die fiets bollemakiesie skoon bo-oor die hek tuimel. Die fiets land aan die ander kant op sy wiele en wragtig ou Jafta sit nog steeds soos n jokkie op sy perd vas gegrendel op die fiets. 
  Na die tyd het hy vir my vertel,"Kleinbaas, daardie dêng hulle roep haar die safetybelt, djy kan hom maar dra, sy, sy werk"

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 18/01/2021 - 09:53

Dagsê vriende,

                            DIE SETPIL.
          (Nie vir sensitiewe lesers nie.)
   
      Ek het jul laas week vertel van my besoek aan die Doktertjie en dat hy my nie kans gegee het om hom te vertel van n Merry Go Round nie. 
  Toe mos met n klomp pille by die huis gekom later die dag, getrou gedrink. Maar helaas, nie gesond geword nie. 
  Ja, jul het reg geraai, die bleddie vlermuise het kom nesskrop hier in my se liggaam. Nou skryf ek maar met n seer kop,  wat ek dink aan iemand anders behoort,  aan julle hier vanuit my siekbed. As dit maar net die verskriklikke hoofpyne was. Nee wat, op die koop toe koors,zero eetlus smaak en reuk, en nog ander dergelike dinge saam ontwikkel. 
   So van siekbed gepraat, n ou hoor dikwels so en so is na n kort of lang siekbed oorlede. Dit is mos nie die bed wat siek is nie, of is dit. Dit is miskien hoekom daar so baie tweedehandse beddens te koop is. Siekbed beddens.
   Gelukkig sê ek vir die vrou Saterdag sy moet vir my setpille koop vir indien die koors erger raak. Dit was ook so oor die naweek. As jy kênders groot gemaak het weet jy, hy is soos n dief. Naweke operate hy, inteendeel snags is hy op sy aktiefste, die koors ding.
    So was dit ook. Nou kyk, dat die ouens nog nie iets gemaak het wat jou koors vinniger kan afbring en hoe dit toegedien word nie, kan ek nie verstaan nie. Die ander goeters bring hom af, maar die setpil bring hom net vinniger af.
    Daar is mos n ingang plek en n uitgangsplek, n entrance en n exit. Vir wat nou die twee gaan sta en omruil. Het jy al ooit by n bank gekom en by die verkeerde deur, veral hierdie draaideure probeer ingaan. Jy probeer maar jy kom nie in nie. Nou presies so is dit met n setpil. Jy kom mos voor dooiemansdeur te staan.
    Nou die naweek moes ek dit drie keer doen. Maar self gedoen, n man het ook darem sy skaamte. En moenie glo dit word makliker nie. Hoe verder jy gaan hoe erger raak dit, seker maar angstigheid. Alles knyp toe, net as jy dink daarsy, knyp jou oë ook toe veral as jy voel daar is hy nou weer uit. Jy kan genadiglik nie daar sien nie, so alles gebeur so tastende. 
  Eers smeer jy so n bietjie jellie of vaseline om dinge makliker te maak. Dan begin jy by n toegesluite deur in te breek met hierdie bullet. Dit is so goed jy breek by n bank se kluis in met n spons baten. Hoe meer jy spook hoe meer smelt hierdie bullet van jou liggaamshitte en die manhandling wat hy van jou af kry. Dan sit jy nou met n paar van hierdie stukke van die kapsulle wat jy nou stukkie vir stukkie in jouself inwurm. 
 Teen die tyd wat jy alles inhet, is jy papnat gesweet, tot teen jou elmboog besmeer van die goed. Daai hele area is nou goed ingesmeer met die goed ook. Dit smaak my die goed word van terpentyn gemaak, soos wat jy dan brand,  en as jy gelukkig is het jy nog al jou vingers.
  So word die vrou wakker toe ek kaalgat, gat in die lug, wydsbeen voor die fan lê laasnag. Sy het eers gesmile tot ek haar hierdie storie vertel het.
   
Vreugde en vrede vir julle.
Foto vanaf google geleen.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 19/01/2021 - 12:58

Dagsê vriende, 

                         ASEMNOOD.

 Vanoggend tik ek met bewerige vingers. Ek dink nie daar is iets ergers as dit nie. Nou praat ek nie van as pappie n wind in die bed los en mamma se kop toegooi met die komberse nie,  Ek praat van n werklike smag na suurstof. Ek dink dit moet n verskriklike dood wees om te sterf. 
   Miskien het my vrees daarvoor sy oorsprong in die feit dat ek al by n paar geliedes se sterfbed hul laaste smag na asem moes gadeslaan. Daai asseblief, ek wil nog leef oomblikke.
   Ek vat jul terug tot in 1996. Ek doen n longaandoening op. 

     Jammer:  Twee ure later kan ek voortskryf.

   Na n drie dae in n gewone saal wat dit voel of n drie ton lorrie op my bors staan kom die internis onder wie ek die dag  begin val het agter dat daar vog om my longe is, binne n halfuur is ek in ICU. Twee keer n dag plate. Staphylococcus infeksie word gediagnoseer. Na nog drie dae word die hulp van n longspesialis/narkotiseur ingeroep. My longe val plat. Die goed beweeg rond, vanoggend nog gesond dan weer n kol wat besmet raak in die aand, snydokter toe met jou, sê hy. 
  Dit is nou net hier waar my storie eintlik inkom. Die chirurg besluit dadelik hul moet my oopmaak. Nou, hy was so n kort mannetjie, daar was altyd vertel hy staan op n tamatiekas as hy opereer. Daai dag het ek dit gesien, hy het so n houtkis waarop hy gestaan het. Shame, hy is nou al oorlede, maar ou Dr Pistoruis het my oopgemaak. n "Decortication" op my gedoen, dit is nou n longskraping. Maar oopmaak het hy oopgemaak, dan het hul daar in die teater n "bouncer" wat ribbes breek en hul so uitmekaar trek. Smaak my die onderste een het hy oor my enkel gaan hak en die boonste een met arm en al hier oor die teaterbed se kopstuk gaan sta maak. Alles net om maklik te werk.
Nou lê jou longe mos lekker oop. Ek is seker ek was half by en het gehoor hoe fluit hy vir die grader drywer.
   Dan bring hul die padskraper en begin skraap.
   Nou ek ken nie al die mediese termes en goete nie, maar na die tyd het dit gevoel, die 3 ton lorrietjie het sy ry gekry. Maar vir lank het dit nog gevoel of hul die padskraper daar binne vergeet het en hy nog doenig was. Hul moes toe ook n deel van die long verwyder, weet nie of Dr. Pistories dalk die ou  kassietjie misgetrap het en die Joseph Roger laat gly het nie.
 Na die tyd het hy my vertel dit is die eerste keer wat hy sien dat daai staffies n ou se long van buite die long aanval, gewoonlik in die long of in die maag. Hoe hul buite my organe gekom het is nou nog n vraag. Staffies kan ook maar lekker rondloop. 
  Môre vertel ek meer oor hoe die asemnood laasnag my vrou laat skarrel het vir suurstof. Die Bybel sê nie verniet n goeie vrou se waarde is ver bo die van korale nie. My vrou/nurse dreig sy gaan my foon wegvat. En dit net toe ek begin goed praat van haar. Ek is op suurstof en rustig. Dankie vir almal se beterskap wense gister.

Vreugde en vrede vir julle.
Padskraper vanaf google.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 20/01/2021 - 16:42

Dagsê vriende.
     
           n MOEË SKRYWERSPEN.
 
  Magties, ek kan darem nie nalaat om ietsie te sê nie. Gaan darem te veel voel of ek jul afgeskryf het en dit sal ek nooit doen nie. 
  Ek het jul gesê ek spook met flermuissiekte (covid). My vrou/nurse is ook positief getoets. Sy is ok, met my gaan dit minder goed. Gister vertel van asemnood en hoe vinnig Ann vir my suurstof in die nagtelike ure eergisteraand in die hande gekry het. 
   Wel ek is vanoggend gehospitaliseer, dit is hoekom ek sooo... laat n ou ietsie skryf. Ek is onder slim mense se sorg. 
    Reken die traumadoktertjie my ek is baie siek, dink ek so vir myself, ek sou nie gekom het as ek baie gesond was nie. 
   Vertel vir my na allerhande toetse dat my telling baie hoog is. Druk hul jou mos daar in so n pypgedoente met allerhande gadgets binne wat so soiii soiii geluide maak, een of ander Ct scan , praat hulle. 
   Dan verkas die nurse en sê ek moet net doen wat die masjien sê. Nou wag ek, wragtig sê hy "take a deap breath and hold" Raak daai ding met my aant loop. Met allerhande goeters wat zooi zooi en draai bekyk hy nou vir my dwarsdeur my se kleure. En dan sê hy weer "Breathe"
    Die het hul n tweede keer gedoen, ek is seker die oulike girltjie het ondertoe iets gesien wat sy weer wou gaan kyk.
    Nee, vertel die Doktertjie my hul kyk vir bloedklonte in my longe. Sulke kolle waar hul presies kan sien waar die vlermuise gesit en skuit het.
    Nou, dit smaak my hier het n hele swerm hier  in my gekom nesmaak. Hulle het die hele wêreld beskuit daar in my longe soos wat die kolle wys.
   Nou sal ek maar hier bly tot hul nie meer met my kan huishou nie.
    Intussen verlang en bekommer ek my oor my eie nurse by die huis.
 Ek moet nog die karavaan kom klaar maak, ons gaan met hom kamp.

Vreugde en vrede vir julle.
Verskoon maar die foute wat bewende vingers getik het.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 25/01/2021 - 08:05

Dagsê vriende.
  
          CAFÉPAAI EN LANGPAD.
   
Ek weet nie waar kom die ding met veral ons ouer mense vandaan nie. Mos mal oor n meatpie en coke. Al verskil, daai jare moes jy nog dikwels staan en wag dat hul uit die oond kom by die Griek. In Ventersdorp was dit by ou Chidrawie se kafee so.Terwyl jy wag en jou bek kwyl en die reuke inasem, is jy lus en vreet die plastiek spyskaart op die toonbank op. Nou sin is enige iets tussen dagoud tot stokoud.
 So het Wiille Willem my die ding van hom en n meatpie vertel.
   Ek moes een tyd Kaap toe ry en dis n lang pad vanaf Durban. En die tyd is hoeka nie my vriend nie ek ry en stop net om petrol en n toilet break te vat. Dit was nou by 1 van daai petrol stops wat ek die fout maak, ek voel bietjie honger, en besluit om 1 van daai “Garage pies “en n Coke te koop. Besluit sommer om in die ry te eet en Coke te drink, alles het goed gegaan totdat ek daai laaste stukkie pie in my mond wil druk, Die salmonella in daai hoeder pie lê so tussen die crust van die pie, ek wil n kat skiet maar vergeet my venster is toe en slaat my brille teen die ruit. Ek stamp so hard ek sluk alles met een sluk terug. Nou sit daar n olie kol van my voorkop teen die ruit en die brille is so goed ek het n lensinplanting gehad. Die lense is in my oë en die raam lyk soos permanente makeup. Toe ek in die spieël kyk nogal gelyk soos Skollie van Vyfster wat vir my terug staar. Sal hul maar met laser moet laat uithaal of n ou pêl van my wat wragtig goed is met sy Joseph Roger moet vra. Ek het nog nie n ou gekry wat biltong so dun soos papier kan sny soos hy nie. Ek druk maar deur na die volgende dorp wat Drie Susters is hopende dat 1 van hulle 3 by die huis sal wees. Intussen kry ek krampe so erg dat ek die 1 bout so oor die ander 1 vou en kruis my bene.Gelukkig n automatic.  Trek toe in by die Engen Truck stop , nou moet ek uit die kar klim. Jy stap op jou tone soos n ballerina en knyp vir n vale, hoekom is die pad na die toilette so ver. Nou kyk ek is n lang man. Die ballerina verander na knieë wat sluit en nou loop ek met sulke stywe bene wat dryg om heeltemal te gaan staan. Lyk kompleet soos hierdie girls wat hierdie styfpassende lang rokke aanket wat tot so onder die knieg kom. Jy gee sulke loopplank treetjies, net nie met soveel flair nie. Alhoewel dit nou voel asof alle oë op jou gerig is. Die fors man met die loopplank stappie trek aandag. Dit voel mos of jy in die grond in loop. Al wat nou nog werk is jou enkels en soos n karwag wat jou trollies stoot sleep jy jou skoene nerfaf teen die sement. Haastig is ek die toilet binne  maar 2 van die geriewe se deure is gesluit maar ek sien die laaste 1 is so effens oop,teen die tyd is my broek op my enkels en ek reverse my boude daar in soos wat n formula 1 kar by sy pitstop sal doen. Ek gaan sit, die toilet gee so n kreun geluid. Ek sit skaars toe bars alle hel om my los die are in my kop bult so en die in my nek is geswel amper soos ou Swartznigger as hy gewigte optel. Mense daai verligting kan jy nie beskryf nie en sit so en loer hier tussen my bene en sien 2 voetjies skop.Maak ek nou mediese geskiedenis en het gekraam, was die naar en alles misleidend, nooit die pie nie. Ek kyk om en daar sit so kleinerige ou Omie op die troon en ek op sy skoot. Hy is asvaal en kry nie asem nie.
 Ek se net Ai jammer Oom, hy sê  geen probleem boetie gelukkig kon ek jou broek optrek voor jy kom sit het en die bomme geval het. Ek het geskree, maar hoor is niet, jy sal vir jou n masjientjie moet kry.
  Daar het ek alles in n plastiek sak gedruk wat ek in die asblik gekry het. Met die terugstap moes jul die mense sien, hierdie crossdresser met sy toiletpapier mini  en CAT bootse wat so vinnig as moonlik by sy kar wil kom.

Vreugde en vrede vir julle.

 N.S Met my gaan dit vandag beter in die hospitaal en met Ann, ook met Covid, by die huis, ook goed, tensy sy jok. Vra verskoning vir foute, gewoonlik proeflees sy my plasings voor ek hul plaas. Nogmaals dankie vir al jul boodskappe en gebede.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 25/01/2021 - 08:06

Dagsê vriende, 
    
       OOM KASPAAS HUL KOM KUIER.
                              (Fiksie)
 
Nou ek het jul al vertel van die spesiale verhouding wat ek het met oom Kaspaas daar in die Kruger. Nou het ek maar my covid hospitalisasie probeer wegsteek van die man af maar Wille Willem my ou vriend het sy bek verby gepraat en toe Kaspaas hoor Jors en sy vrou is plat met die Covid was daar net geen keer aan hom en sy trop nie. 
     Hul het glo daar by Krokkodilbrug die pad gaan toemaak. n Paar olifante in die pad laat lê, daar het hul gelê tot daar n toerbus met n klomp Chinese verplig was om te stop. Kaspaas en sy trop het doodluiters ingeklim terwyl hulle soos n klomp bobbejane by al wat n opening uitgepeul het. Die drywer wou hom glo verset maar ou Kaspaas het hom met n spuitende brandblusser skoon agter sy stuurwiel uitgeblaas en die bestuursitplek oorgeneem. 
   Hul is toe daar weg met n hele bus vol bobbejane. Hy sê hy like glo van busbestuur. Na sowat twee tolhekke se booms wat hy poertos nerdus gery het,  het hul die paaie vir hom begin oopmaak. Aanvanklik het n blouligbrigade hul probeer aftrek maar sy trop het hul met FuJi, Canon en allerhande kameras en bazukalense verdryf. Toe begin hul die paaie oopmaak toe hy vir hul deur die venster skree hy gaan na Jors toe in Bethlehem.
Hier aangekom het hul nou die hospitaal tot groot vermaak van al die pasiënte oorgeneem. Dit was sommer of daar so ou vars asempie in almal ingeblaas word. Three Rivers ons plaaslike groentewinkel het van die ding te hore gekom en n hele trok vol versnapperinge vir die ouens gestuur. Wat ek waardeer het van Kaspaas was dat hy vir sy ouens gesê het hierdie is n hospitaal, julle mors niks nie anders gaan ek jul gatte skop.
   Laatmiddag is hul toe al smilende hier weg, alles silwerskoon gelos. Tot gesien die Polisie wat buite saam n brandwag van Kaspaas die bus opgepas het, het ou Kaspaas Salueer. Hy het glimlaggend terug salueer en jy kon net tande sien onder sy busbestuurderspet. Jy kon sommer sien hy dra hom met trots. Toe het hul ook eers vinnig n draai by Ann by die huis gemaak. Ann sê sy dink ons slakprobleem in die tuin is nou opgevreet en iets van die verlede.
 Ek het dit nou regtig geniet, die kuiertjie van oom Kaspaas hulle.

Vreugde en vrede vir julle.
 NS. Dankie vir almal se boodskappe en gebede, daagliks 2000+ op my en al die groepe. Met my en Ann begin dit beter gaan.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 26/01/2021 - 09:20

Dagsê vriende, 

            DIE VARK GAAN KUIER.

Sê ou Wille Willem gisteraand vir my met die wat ek nou so pens en pootjies met die vlermuis siekte in die hospitaal lê hy wil my die storie vertel. 
      So  na die depressie jare was die mense maar arm en het hulle vreeslik gesukkel. Geld was skaars en meeste moes n bestaan op n  kleinhoewe voer. So was daar Japie en sy vrou Leen,  hulle het so n sukkel bestaan gevoer op n plot met Japie wat net 1 vark het, n sog . Die plan was om met die sog te teel maar die probleem was dat Japie nie n beer gehad het nie, maar sy buurman Gertjie, so 5 myl van hom af, het n beer gehad. So reël Japie n romantiese dag vir sy sog vark met Gertjie se beer vark. Nou die probleem was dat geen 1 van die 2 enige vervoer gehad het nie, Japie het net n kruiwa so sukkel hy en Jonas om die vark op die kruiwa te laai. Met n moewiese gespartel is die vark op die kruiwa gelaai en Japie en Jonas vat daai 5 myl pad,hulle maak beurte om die kruiwa te stoot. Intussen sit die “bruid” breë skouers die hele kruiwa vol en wonder seker wat haar lot gaan wees.Vir die tog het Japie sy oorle skoonma San  se exstra groot sunglasses geleen, daai groot witraam brille wat erg in die mode was. Die het hy met n ou bicycle tube op die vark se kop vasgemaak aangesien die vark nou omtrent reg in die son gaan vaskyk. By Gertjie se plek het die beer sommer chop,chop sy taak op hande aangepak. By die huus kon hul net hierdie veskriklike varkgeskree hoor. Nie vreeslik na pret geklink nie. Ou Jonas wat daar neffens die varkhok op n blik gesit het, het omtrent sy ou flenelhoed in twee stukke gedraai. 
   Laatmiddag het hul oorgestap hokke toe en moes die beer met geweld van die sog afhaal. Afklim wou hy nie vrywilliglik afklim nie. Ou Jonas, het net net gesê," auk my baas, so ver n deng ek had hom nog nooit gasienie, watterse sorte van a kos die baas hy gagee hierdie beer"
   Nee, lieg ou Gertjie, ses rooi Smarties in die oggend en ses geeles in die aand en twee liters skokkijan (bier brousel) Baie ingenome met sy resep sê ou Jonas," ek, ek gaan hom ok traai, banja dankie baas.
   Sonder enige weerstand het hul toe weer die sog gelaai, brille opgesit vir die laatmiddagson. Sy is bloedrooi, amper soos in sonsteekrooi. Nou vra Japie vir Gertjie “Hoe weet ek sy het gevat “Wat bedoel jy gevat, vra Gertjie. Nee sê, Japie of sy nou preggies is . Ohhh sê Gertjie as sy preggies is sal sy op die gras rol, as sy nie is nie sal sy in die modder rol . Dankie sê Japie en hy en Jonas vat daai bitter stoottog terug huistoe. Vroeg die volgende oggend is Japie op en daar rol die vark in die modder. Agge nee, sê Japie en reël vir n 2de ontmoeting met sy buurman se beer vark. En daar trek Japie en Jonas weer met die kruiwa met die vark en die donkerbril, die 5 myl wat nou al seker soos 50 myl vir hulle voel. Die beer vark is so opgewonde oor die sog vark hy stamp amper die kruiwa om toe hul daar aankom, om by haar te kom . Die joppie afgehandel is Japie hulle terug huistoe lekker moeg en seer. Die volgende oggend is Japie so styf hy kan nie eers uit die bed opstaan nie en vra vir sy vrou om te kyk wat doen die vark. Sê sy vrou “Jy sal my nie glo nie maar die vark sit al op die kruiwa met donkerbrille en al en wag vir jou .

Vreugde en vrede vir julle. 
Dit gaan elke dag met my beter.
Weereens vra ek verskoning vir enige foute ,my vrou/proefleser lê met covid by die huis. Foto vanaf googgle geleen.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 26/01/2021 - 10:02

Môre Jors,
Die ouens van Kampforum vra is jy ook 'n Corona slagoffer ?
Indien, is jy in die hospitaal ?

Hoe gaan dit nou met die gesondheid ?

Jong Willem. Die Corona het my en die vrou. Ek in die hospitaal en sy by die huis maar ek is nog nie sy slagoffer nie. 😁😁😁

Baie sterkte van almal op Kampforum.  Hou ons asb. ophoogte van julle toestand en baie sterkte.

👍

 

 

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 27/01/2021 - 08:15

Dagsê vriende.
  
  OOM KASPAAS KRY NIE UITGEPRAAT        
        OOR SY HOSPITAALBESOEK NIE.

Vertel Wille Willem my dat ou Kaspaas hom gebel het met die nuus. Hy noem hom mos Wille, nie baie lus vir lang en moeilike name nie. Sal maar liewers nie sê wat hy vir Pieterse gesê het nie, iets in die lyn van Pe...ter. Maar nou ja, dit is nou maar tipies bobbejaan se kind. 
   Het hy nou vir ou Wille breedvoerig vertel hoe hul kom kuier het vir my hier in die hospitaal. Hulle glo kortgevat oor al die vleis, vis en hoendervretery. Glo n hele boks vol skerpione, uitjies, worteltjies en alle dergelike kruie goete hier voor die Dr's neergesit en gesê as jul die man se vlermuisgeit uit hom wil hê is dit wat jul hom gee.
 Hy vertel dat custard en jellie met roomys net vir die verpleeg personeel gemaak word, Basta sê Kaspaas Jors kort daai gelatine in die jellie sodat sy bene nie so wobble nie. Maar hy sê laat ek jou vertel van die storie laas week by Lower Sabie, man die maroela oes laas jaar was mos so skraps, so skraps dat bestuur glo n hele drank verbod op ons geplaas het. In elk geval ons ou klompie kry mos n boom vol Maroela vrugte naby Sunset Dam en hoe sê hulle, wat die oog nie sien maak die hart nie seer. Soos gewoonlik is daar mos van die manne wat hulle vergryp aan die verbode vrugte en daai aand besluit ek mos ons slaap sommer in die Maroela boom want party lede sal dit nie maak na ons oornag plek nie. Daar is mos orde in ons bobbejane se lewe, die kleintjies slaap heel bo in die boom op die dun takkies, dan gevolg deur die meer senior oues van dae en die jong klomp wat onder sit en wag hou. Nou weet ek nie of dit die uientjies of skerpiontjies gemeng met Maroela wat die kleintjies spuit maag gegee het nie maar ou broer dis so 12 uur daai aand toe reën dit van bo af erger as orkaan Eloise sê ek vir jou, en dit als op die ouer garde, wat op hulle beurt ons flood met hulle sê maag inhoud. Dit kos ons hele spul uit die boom klim en op die grond loop slaap wat eintlik baie gevaarlik is vir ons bobbejane, jy weet ons is n Luiperd se gunsteling voorgereg nê?  Maar ek dink geen Luiperd of Hyena met selfrespek sal aan ons kom  vreet met daai reuk nie. Vroeg die oggend net so voor sonop is ons spul na Sunset dam om te gaan bad en daar vererg die Krokkidille hulle so vir ons dat hulle hul Krokkidil tassies en tande borsel inpak en die pad vat. Jy sien net dingese spat soos wat ons skrop en vingernaelborsel. Ek hoor Sarel Seekoei het hulle by die piekniek spot gekry en dat hulle mompel, iets van onbeskofte vrot bobbejane en dat hulle trek na n ander dam . Ferdie Vlermuis het gister n ongeluk gehad, het glo in 1 van die hommeltuie vasgevlieg en dit helder oordag, die ding se propellers het sy radar so deurmekaar gehad hy het nie geweet of hy kom of gaan nie. Glo een van die goedjies wat hul nou gebruik vir navorsing en sulke dinge. Nou sê die dokter hy is glo n vermuis vir n maand totdat sy vlerk gesond is. Kaspaas sê ekskuus Wille ek moet waai  moet gaan salf koop vir ou oom Kees, hy het glo sy agter ent met n giftige plant afgevee en sit hy met sulke dik blou geswelde boude. Wat dink jy sal Zam-Buk salf help?

 Vreugde en vrede vir julle.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 28/01/2021 - 08:20

Dagsê vriende,

Eerstens net n woord van dank teenoor al my getroue lesers. Baie dankie vir elke gebed, boodskap en woorde van bemoediging in hierdie Covid tyd waar ek in die hospitaal was en Ann/nurse met covid by die huis was. Ek is ontslaan en sterk nou met suurstof ondersteuning by die huis aan. Met Ann gaan dit ook goed, Dr's is tevrede met haar vordering as covid tuispasiënt. 
  Maar kom ek vertel jul n storie.Trek jou kampvuurstoeltjie nader dat ek vir ons n lekker vars koffietjie ingooi.

  
              NURSES EN N MAN.
 
   Weet eintlik nie waar kom die ding vandaan nie. Seker maar van dieselfde plek af as wat n man in n uniform vir vrouens kom. So vertel hul dat dit die vrouens se knieë lam maak. Sal nou nie dieselfde van mans kan sê nie. 
  Kyk n man is n ander ding, soos die outas op die plaas altyd gesê het," hy, hy het nie ah gedagte nie". 
   Nou slaan die vlermuissiekte my en die vrou  toe mos. Nou moet ons gaan vir die Covid Test. Nou die eerste ding wat ek sien in my geestesoog is die nursie. Mans is mos as dit by vrouens kom so half en half sieners. All smiles en so gewillig om te help. Voel sommer al klaar n bietjie beter. 
Nou ry ons na die lokaal.
     Kom ons by die toetssentrum, wat n skok.Dadelik voel ek sommer baie sieker. 
   Daar wag n Marsvroutjie, ek neem aan dit is een, sy praat met n vrouestemmetjie. Al wat jy kan sien dit is n mens is dat die gedroggie beweeg en oë het. Val my ou kopfilmpie heeltemal plat. Skielik is jy bang. Maak jou sit met bewende boude wat besig is om die kunsleer van die stoel af te vreet. Gryp so n kopbeen gedoente op die toonbank wat in die helfte deurgesaag is, lyk kompleet soos n ou wat dit nie gemaak het nie. Daar kan jy nou allerhande tonnels en sinusholtes sien, lyk na n bloederige spul. Nou trek sy so n lang oorstokgedoente daar uit n buis uit. Weet nie hoekom nie maar dit het my aan n stoker se graaf laat dink waarmee hul vroeër jare gestook het. 
  Beduie sy waar gaan sy grou vir goggas, hier kort duskant jou kleintongetjie. Party mense sê dit brand, ander sê dit kielie, ander weer raak aan't hoese en proese, doen alles net in jou masker, waarsku sy my.
  Nou kom die opdragte, haal jou masker net van jou neus af, nie die mond nie. Ek doen so. Buig jou kop agteroor, as ek sê haal asem, haal deur jou neus asem en hou vir vyf sekondes, dan gaan ek ingaan, die stokkie vyf keer draai dan is ons klaar. Haal asem, ek trek so diep terug ek voel hoe skop sy hier voor my bors vas, amper sluk ek die die ding lock stock en barrel in, nou tel sy 1 draai, 2 draai, 3 draai vier draai en 5 draai. Daarsy,  dankie meneer sê sy.
  Was toe glad nie so erg nie, weet nou nog nie eintlik wat en of ek werklik iets ervaar het nie, behalwe die marsvroutjie. 
    O ja, dit was beslis n vroutjie, ek het twee sulke hoëhakskoen kolle op my bors waar sy vasgeskop het, of dink julle dalk ek was maar met hul gebore?

Vreugde en vrede vir julle.

.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 29/01/2021 - 09:05

Dagsê vriende. 

                 MELAATSHEID.

 Verskoon maar as ek nou die vlermuissiekte daarmee wil vergelyk. Word nogal baie op dieselfde manier oorgedra. Nies, hoes en soos hul sê "droplets"
   Maar kom ek vertel jul eers die storie, gister het ek jul mos nou vertel van manne se ding met n mooi nursie. Dit bly mos darem mooi. En sowaar as wat padda manel dra, wat wys gisteraand op TV. Jy het reg geraai "THE NURSE"  En soos dit moet wees het hul n girl vir die hoofrol reg uit n man se kop gaan haal. Man is sy nou vir jou mooi. So n blondine met kurwes boetie. 
   In elk geval, sy was n "baddy", sy het mense doodgemaak.n Riller. Het ek nou laasnag wragtig nie n oog toegemaak oor die girl nie. Die heelnag gelê en luister na die suurstofmasjien se thuk-thuk, amper so asof hy jou hart ritme wil kom staan en versteur. 
 Wat wou ek jul nou weer vertel het. Gooi nog vir ons n stompie daar op die kampvuurjie boet, en die oom sal nog so n koffietjie vat. 
  O ja, die melaatsheid. Dit moes n verskriklike siekte gewees het. Afgelei van die latynse woord "lepra"  wat dan skubberig beteken. 
  Nou amper so is dit nou met die vlermuissiekte, behalwe dat jy nie met uitwendige letsels sit nie maar met mensgemaakte binne letsels. Daar waar niemand dit kan sien nie, behalwe as jy n goeie waarnemer is gaan jy dit net dalk in die persoon se oë sien. Die seer.
   Met die wat die kinders ver is besluit die een skoondogter om vir ons gevriesde geregte te bestel wat iemand so uit n tuiskombuis verkoop. Alles is klaar betaal, die dame moet dit net kom aflaai. Ons plek is baie toe, net met n interkomstelsel verbind om die deure met n afstandbeheerder te kan oopmaak op die straat. Daar gaan vir haar oopgemaak word en sy gaan dit net binne die erf agter die deur neersit. Geen maar geen kontak nie. Die tyd gaan verby en Ann bel om te hoor waar is die aflewering. 
    Die antwoord, ons was maar bang, alles staan in die straat voor die deur. My vrou was in trane.
     Iemand wat ook die siekte het vertel van n remote wat sy by haar baas wou terugkry aangesien hy geskakel het daar hy dit nodig het. Daar word gereël dat sy hom by die hekkie in n banksakkie sal ophang. Sy saniteer die remote,  die sakkie, en toe sy hom ophang is alles silwer skoon.Drie ure later hang hy nog daar. Sy bel en vra wat nou, nee kom die antwoord, ek is bang vir die kiem, ek het n ander plan gemaak.
   Ja nee Boet, ek jou nou sê, die oom het gesien dat hierdie vlermuissiekte nie die mooiste uit mense haal nie.
 
Vreugde en vrede vir julle.
Fotos vanaf google geleen.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 30/01/2021 - 10:00

Dagsê vriende, 
   
      DIE VARK MOET GESPEEN RAAK.

 Ek vertel n bietjie verder van die vark. Kyk die sog het mos nou vir Japie en ou Jonas vir n ride gevat vir lank. Vir die wat die vorige storie die week oor dit gemis het, tik bo by die groep waar jy nou is  Jors van Heerden of Die vark gaan kuier, dan behoort jy hom te kry. 

Met die joppie afgehandel is Japie hulle terug huistoe, lekker moeg en seer. Die volgende oggend is Japie so styf hy kan nie eers uit die bed opstaan nie en vra vir sy vrou om te kyk wat doen die vark. Sê sy vrou “Jy sal my nie glo nie maar die vark sit al op die kruiwa met donkerbrille en al en wag vir jou. 
    Wragtig daar sit die vark klaar in die kruiwa, lê so ewe terug op haar rug met die twee agterpote so oor die twee handels van die kruiwa gegooi. So asof sy losbandig is. Haar kop, die lê so terug teen die tuit van die konkryt kruiwa waardeur n ou die sement of konkryt laat deurloop. My oorlê skoonma se negentien voertsek ekstragroot witraam Durban sonbril oor die oë getrek. Dit voorspel net een ding, sy wil by ou Gertjie se beer loop kuier. 
 Ja, ou Japie en Gertjie het mos nou so half en half tot akkoord gekom, as die sog nou kan dragtig raak gaan hy wat Gertjie is twee van die werpsels verniet kry vir al die werk wat sy beer nou moes doen om die sog nou pregnant te staan kry. 
  So het ou Jonas en Japie die vark elke dag die 5 myl gestoot om by die beer uit te kom. Omdat hul in die son ingeloop het in die oggend en weer in hom in die laatmiddag het ou Jonas ou Sanna se ou strooihoed vir die vark opgesit. 
  Wat n gesig was dit nie. Al die maplotters het van hierdie spektakel te hore gekom en by hul indraaipaadjies vanaf die grondpad oor hul hekke gehang om dit gade te slaan sou die twee daar verby gaan met die vark. 
   In die middae was dit n groot gespottery as hul almal vir ou Japie vra, "Nou wat sê jy Japie, het sy vandag gevat?" Dan het hy hul moeg en uitgeput net so aangegluur en by homself gedink, ja wag maar, wag maar dat sy n werpsel het. Waaragtig gaan ek nie vir jul n karmenaatjie gee nie, van my af sal jul niks kry nie, niks nie.
 So het hul dit getrou gedoen, dag in en dag uit. Party dae was dit net n gekuier tussen die twee varke en het niks gebeur nie. Die beer se pleidooie het op dowe varkore geval. Vandag is sy sommer net lus om te kuier, dan het hul heel vreedsaam daar om n bak afvalkosse gekuier. 
   Tot eendag wat ou Jonas sê, Baas Japie, die vark ons moet haar roep "Clever". Elleke dag ek voel by die kruiwa sy, sy raak swaar, en die baas hy ken my, ekka, ek is nie lui nie. Kyk hoe staan haar se maag, ek ekke dênk ons maak haar vet or sy, sy het laankal gevat by daai beer. 
   Dit was toe net so, sowat drie maande later tien klein varkies gehad. Twee vir Gertjie gegee en die ander groot gemaak. Ou Japie se varkboerdery het goed vooruitgegaan. 
   Clever was n goeie ma. As die varkies gespeen geraak het en hul in hul eie hokke was en ou Japie en Jonas kom in die oggend uit en Clever sit klaar in die kruiwa met haar donkerbrille en strooihoed op, dan het hul geweet. Clever wil by die beer gaan kuier.

Vreugde en vrede vir julle.
Google foto geleen.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 02/02/2021 - 09:53

Dagsê vriende, 

                         WITGOUD.

     Jong, ek glo almal sal weet waarna ek nou verwys. Dit is mos nou n ding waarsonder n mens nie kan nie. En net nou die dag het ek jul vertel van oom  Kees wat homself met een of ander branderbos skoongemaak het en toe mos nou n soort van n brandboud opgedoen het. Die bobbejane praat van holbrand, hul hol die hele wêreld vol.
   Oom kaspaas vertel vir my hy kon toe darem daar by Skukuza sy hande op n potjie of twee Zam-Buk gaan lê nadat hy al wat n toeris en werkgewer daar uit die winkel laat skarrel het toe hy vir hulle tande gewys het. Hy reken dit werk baie beter as n speedpoint goue kaart. Tjop tjop het hy sy nodige goedjies gehad. Ook sommer n paar ekstra goed in n shoppingbag gedruk. Hy sê jy moet sien wat vir  ghrênd shopping bags verkoop hul daar aan die buitelanders, buffelsleer sakke, jy moet die pryse sien. Malligheid vir shopping bags,sê hy.
     Maar dit is nou nie eintlik wat ek jul wil vertel nie. 
   Jare gelede gaan vang ons, n vierman groep, vis by Koffiebaai in die destydse Transkei.
    Ek, broer Willie, sy skoonpa en n vriend. Die dag voor ons terugkom word alles skoongemaak en ons begin pak. Nou ou broer, ek weet nie hoekom nie, maar n maag wag mos net dat jy moet ry, dan wil hy sy dinge doen. Kan hy nou wragties op sy onsteldste raak op n langpad.
  So was dit ook die dag toe ons daar vertrek. Sy skoonpa se maag raak daar aant spoele op onse terugtog. Die Transkei het mos nie baie plantegroei binneland se kant toe nie. Kort kort moet ons vir die oom stop, dan soek hy nou vir n skuilinkie daar agter n trop bokke. Teen die tyd wat hy klaar is, het die bokke weg gewy en is dit net wit boude wat jy sien. 
    Nie ver nie toe is alle witgoud en al wat n papierige dingetjie is opgebruik. Naderhand het die ou visaas lappe ook deurgeloop onder die aanslag. 
    Die oom was n bankbestuurder van beroep. Naderhand het die onderbroek ook agtergebly. Toe hy weer met n stopslag terugkom sê hy, en daar het n tien Rand nou ook sy gat gesien. Man het ons darem nou vir jou gelag vir die storie. So veertig rand later het ons by n Spaza Shop darem weer reg gekom met die witgoud.
   So het ons, stop ry stop ry, skemeraand by broer Willie se huis gekom, hy moes eers die huis se sleutel by die bure gaan haal. 
    Nou raak die oom ernstig in die nood "waar bly Willem " kom dit doodsbenoud kort kort van hom af.
   Man was broer darem nou vir jou ontsteld toe hy terugkom en sy skoonpa n veltie sien vat hier op sy pragtige grasperk. 
   Ou Swaer, la ek jou nou sê, daai goed is n onmisbare ding as jy in die nood sta en raak.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 03/02/2021 - 10:34

Dagsê vriende.
   

Wille Wilem beat my darem met n paar jare. Nou dit is interessant, die goete kom mos so met die jare. Soos die oumense gesê het, volgens oorlewering. Soos n aflos stok "pass" ons mos die ou storietjies aan, van die een geslag na die ander. Baie van die storie stokke val op die grond en word vergeet, vir ewig verlore. Ander word dalk net weer iewers langs die lewensbane opgetel, gewoonlik in die finale pylvak van lewens, bietjie skoongeblaas en afgepoets en weer oorgegee aan die kleinkinders. 
   Ek dink hierdie is so n storie, sê ek vir Wille Willem toe hy vertel.

              DIE LANGLIP DONKIE.

Hierdie storie vat ons terug daar na die twintiger, dertiger jare. Flippie en van sy vriende was ywerige jagters en het elke jaar deurgetrek  Laeveld toe om vir die winter op te stock. Soos dit maar was daai jare moes fyn beplanning gedoen word, die waens en perdekarre se aste was uitmekaar gehaal en ge-ghries, die ammunisie is aangevul en gewere is nagegaan en skoon gemaak, die groot kanonne soos ou Dirkie altyd gespot het. Kyk n mens skiet nie n Buffel met n .22 nie. So ook was die trek diere reg gekry. Die wat nuwe skoene (hoefysters) moes kry ens. Julle mense wat al met donkies gewerk het sal verstaan, n donkie is seker een van die min diere wat hardkoppig, eiesinnig en pleinweg moeilik is om mee te werk. Flippie het ses donkies gehad wat die vleiswa moes trek en een van daai donkies was n hardekwas donkie. Om hom in te span was n belewenis om te sien. Dan draai hy skuins, dan loop hy te ver vorentoe vir die juk om by te kom.Reverse kry jy nie vir hom gereverse nie. Soms staan hy agterstevoor in die tuig. En skuif kon jy nie, hy skop viervoetig  stywe bene vas. Slaan en skreeu het op daai donkie se dowe ore geval. Gelukkig het Flippie die donkie se swak plek eendag uitgevind en dit was sy onderste lip, sodra jy aan sy onderlip vat is daai donkie die gehoorsaamheid vanself, veral as jy hom kon twist. Julle weet mos hoe lyk n donkie se lip, dit is n los en beweeglike ding. Hy kan sy linker hoek van sy lip mos heel regs toe vat en andersom. Vorentoe en ondertoe kan hy hom mos loop neersit nes hy wil. Dan sien jy net hierdie kake en donkietande wat so vir jou smile. Dink maar net hoe maak hy met hom as hy nou so hawiwhaau..hawiwhaau...hawiwhaau.
 Dit is iets om te sien. Nou om hom in te span het Flippie so plankie gevat en n gat daarin gekerf dan stap hy na die steekse donkie en gryp hom aan die onderlip vas,  wat hy dan so tuit trek en deur die gat in die plankie trek, dan wen hy hom op soos wat jy met n koeksuster sal maak. Jy kon toor met daai donkie as sy lip in daai plankie was. Later het daai einste donkie as hy die plankie gesien het sommer vanself sy lip so getuit dat hy deur die gat getrek kan word .
      So trek die manne af Laeveld toe, by die oornag plek die diere uitgespan en kooi gemaak onder die waens, met hul kampvuur wat nog steeds gesellig by hul kamp brand. Parrafin lanterns wat in die bome hang. Vroeg die oggend is dit inspan tyd en Flippie besef hy het sy inspan plankie by die huis vergeet, maar reken hy gaan die donkie flous deur te maak hy het die plankie in sy hand, hy sny n mikstokkie van n boom af en stap nader. Donkie maak nogal weer sy tuit lip en Flippie knyp die lip met die mikstokkie vas, maar besef as hy hom twist gaan die lip uitglip. Die donkie is ook nie onnosel nie en besef dit is nie sy plankie nie. Met die, ruk hy sy kop geweldig hard terug en slaat vir Flippie vol op sy mond, dis net snot, trane,bloed en voortande wat waai. Flippie vererg hom en klap daai donkie teen die kop dat hy vir twee dae skeel gekyk het.  Hy voeg ook by dat hy lus voel om n koël deur sy brein te blaas tot by sy exhaust uit.
  Die aand by die volgende stilhou plek sit almal om die vuur en soos die gewoonte was na ete se Flippie n dank gebed.  Die manne vat hande en sluit hulle oë vir die gebed, maar niks. Hulle loer vir Flippie met een oog en sien hy sit net en kom nie tot bid nie. Uiteindelik sê hy, Japie bid jy maar, ek het nog te veel moordgedagtes in my hart vir daai donkie.
  Die manne kon nie anders nie en bars uit van die lag.
 Na hul bedaar het, het Japie gesê  kom ons bid saam en die aand so afgesluit.
   Flippie het so n winkelhaak in sy lip gehad vir die res van sy lewe en die ouens het hom sommer ou Flip Lip begin noem.

Vreugde en vrede vir julle.

.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus