Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Lekker gelag, Geert,... Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -5 hours ago
Goeie Hout ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -7 hours ago
Laaste probeerslag - dit lol Rock View Lodge Nelspruit Rona du Plessis -7 hours ago
Lodge gedeelte Rock View Lodge Nelspruit Rona du Plessis -7 hours ago
Kleedkamers en opwas Rock View Lodge Nelspruit Rona du Plessis -7 hours ago
Dek vir almal se gebruik Rock View Lodge Nelspruit Rona du Plessis -8 hours ago

Hollies en Glynis Hollenbach - Toer om SA se grense

Daspoort Pretoria
Submitted by Willem Brits on
Forums

Ek gaan probeer om hulle vertelling op fb hier te plaas.

FB skakel.

Web skakel.

.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 26/05/2020 - 09:37

Dis tyd vir kamp, skakel aan jou kampstoel, haak die koppie koffie en toer saam met my om die grense van Suid Afrika, net daar waar jy sit !!! Oor die volgende dae deel ek my ervaring met die wat dit wil lees, geniet !!

VOORWOORD
Ek wou net ry om kop-skoon-te-maak nadat ek en Moeksie (dis die kinders wat haar die naam gegee het) op pensioen gegaan het. Ek het September 2013 klaargemaak en Moeksie Desember.
Na 82 dae en 12 654km is daar nog baie dinge in my kop oor, dalk meer as voor ons om die grense van Suid Afrika getoer het want ons toer nog baie, ek bedoel BAIE !! Om die waarheid te sê, ons is nou al langer as ses jaar permanent op die pad.
Dis Januarie 2014. Die laaste paar items word aangekoop voor ons vertrek. Ek is ʼn lysie-mens en mense het al gesê my lysies is “te” volledig, maar dis nou maar ek, wil seker maak alles wat nodig mag wees is ingepak. Die nagaanlys is uitgedruk en meeste items se boksies is ge-tick. Enkele items op die “aankooplys” en “doenlys” moet nog aandag kry.
Die telefoon lui, dis my vriend (en oud kollega vir 29 jaar) Anton en Magda uit die Kaap. Wil net hoor of al die dinge nog volgens PLAN verloop, want hulle vertrek die 15de Januarie uit die Kaap. Hulle het besluit om op te ry en vanaf ons huis in Roodepoort saam te reis, eerder as wat ons hulle iewers langs die roete ontmoet. Hulle vat dit stadig en arriveer Saterdag 18 Januarie.
Plan? Wat se plan? Die enigste plan is, ons vertrek Sondag die 19de Januarie, ry antikloksgewys om die land en begin by Groot Marico. Waar gaan ons oorslaap? Hoe lank gaan die reis vat? Waar gaan ons aankope doen? Hoe vêr gaan ons elke dag ry? Hoe lank gaan ons op ʼn plek bly? GEEN idée nie en tyd sal leer !!
Ek dink terug aan die uitdrukking op mense se gesigte as ek hulle van ons PLAN vertel, gedink ek is van lotjie getik. Hoe kan mens nie weet waar jy gaan slaap en nie vooraf plek bespreek nie?? Hoe kan jy nie weet hoe lank dit gaan neem nie??  Is jy ernstig ??  Maar wat van X,Y,Z ??  My antwoord elke keer:  Ek weet nie, sal daaroor dink as die tyd kom.
Dis Saterdag aand en die vuur brand lekker. Dis hoe dit hier by ons gaan, ons braai gereeld, elke Woensdag, Vrydag, Saterdag en Sondag (Sondae is dit in die Weber). Dit gebeur gereeld dat daar per-ongeluk ʼn vuurtjie aangesteek word op ʼn Maandag of Donderdag ook.  Ernstig, ek hou van braai !!! Die vier van ons sit in die lapa en gesels oor ons PLAN. Daar is ʼn opgewondenheid wat mens nie kan beskryf nie, die tyd het gekom!
Ek besluit om ons eerste aand se slaapplek liewer te bespreek. More is Sondag en ek het op die platteland grootgeword. Dit gebeur maklik dat jy Sondag middag iewers opdaag net om voor dooiemansdeur te land. As die plaasmense gaan kuier, weet jy nooit hoe laat hulle gaan terug wees nie. Ek bel en bevestig ons slaapplek in ʼn huisie op ʼn plaas buite Groot Marico op die Maricorivier.
Anton help my na ete om my laaste goedjies in die bakkie en waentjie te laai en ʼn radio in sy voertuig te installeer. My DROOM word waar en as ek kon, sou ek nou dadelik in die bakkie geklim en begin ry het, kan nie nog 9 ure wag nie.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 26/05/2020 - 09:44

Skakel

Dag 1. Sondag 19 Januarie 2014


Na koffie en beskuit laai ons die laaste paar goedjies en ons padkos in. Ons ry gou Makro toe, want Anton het besluit hy gaan ʼn nuwe kampyskas koop. Die gas een wat hy het werk nie na wense nie en hy wil nie onnodig sukkel nie. Hy sou maande later uitvind dat die gasyskas heeltemal goed werk, met genoegsame ventilasie.
Nou is daar nie meer omdraai kans nie, ons gaan ry !!!
Die Anton en Magda in hulle Toyota Fortuner 3 D-4D met ʼn Venter Off Roader waentjie en ek en Moeksie in ons Toyota Hilux 4L V6 met ons Venter Bush Baby. Ons vat die pad en is gedurig op die radio om aan mekaar te vertel hoe ongelooflik dit is dat hierdie dag uiteindelik aangebreek het.
Wat ʼn GROOT voorreg en stuk genade dat ons dit kan doen, ʼn droom te kan leef, plekke te ontdek …. weet nog nie wat alles nie, maar ons sien uit !!. Anton en Magda het al saam met ons gaan toer in Afrika. Hy jaag my nie aan as ons 100km/uur ry nie.  Vandag se afstand is net 197 km en al wat ons het is tyd, BAIE tyd.
Op Koster ry ons eers deur die skool se gronde. Dis waar Magda op skool was. Jy hoor die verlange in haar stem as sy oor die radio vertel van daardie dae. Dis lekker om haar stories te hoor en ons leer mekaar nog beter ken.
Dis net na 2 toe ons deur Groot Marico ry, op pad na Tino Erasmus se gasteplaas, sowat 15 km buite die dorp. Daar is ʼn paar netjiese gastehuisies langs die rivier gebou. Ons is aangenaam verras toe ons die King Fisher huisie sien. Dis regtig netjies en op die rivier. Ons het besluit om nie die aand te kamp nie en eerder LUUKS te gaan en in ʼn huisie te slaap.
Soos ek voorspel het, het die mense gaan kuier en sal eers later daar wees, maar hulle het gereël dat die huisie nie gesluit is nie. Ons pak net die nodigste af en koppel die waentjies aan krag, die yskaste en vrieskaste moet nog lank koud bly en ons weet nie of ons altyd gaan krag hê nie. (Dis ʼn reël met my: Jy maak brandstof en water vol, al het jy nog genoeg en jy spaar jou battery se krag.)
Die eerste koel versnappering was skaars in die keel af toe Anet en Tino, die eienaars, kom groet.
Ons word welkom geheet en gevra of ons binnebande gekry het. Ek en Anton kyk mekaar snaaks aan. Het iemand ʼn band gebars? Die rivier loop en hulle sê ons moet binnebande by die volgende huisie gaan haal en op die rivier afdryf tot in die dam, sowat 800m verder.
Ons is soos jong kinders en voor jy mes kon sê, het ons al vier ons swemklere aan en die bande is op die water. Die bande op die water kry was een ding, maar om vir Magda en Moeksie IN die bande OP die water te kry was ʼn lagwekkende affêre.
Ek dink terug aan my kinderdae.. n gros jong seuns op ʼn trekker agterwiel se binneband op die Hartsrivier wat sy walle oorstroom. So het ons white water rafting ontdek voordat dit die naam gekry het.
Terug by ons huisie sit ons op die dek bo die rivier en besin hoe lank ons gaan vertoef.  Die konsensus kom redelik vinnig, net een aand want die pad is nog lank. ʼn Donderstorm in die omgewing het die krag al vroegaand uitgeslaan. Ons maak ʼn lekker vuur en sit om die tafel met ʼn olielamp wat lig en ʼn lekker atmosfeer verskaf.
Ons besluit om van hier af te ry na Botsalano Wildsreservaat, wat deel uitmaak van Noord-Wes Parke. In my eie gedagtes dink ek: As dit die eerste dag was, met soveel pret en opwinding, waar gaan dit eindig??

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 26/05/2020 - 09:50

Toer Om SA - Dag 2

Maandag 20 Januarie 2014


Ons is nie oorhaastig nie en vat die pad nadat ons ontbyt gemaak het. Die oorblywende braaivleis van die vorige aand smaak lekker saam met die bacon en eiers. Die totale afstand vir die dag is 121 km. Ons het besluit om met die grondpad aan te ry tot by die Groot Marico Oog om te gaan kyk na die gat waaroor ons al baie in tydskrifte gelees het. Ons stop by die plaashuis waar ons die besoekersfooi betaal en ry tot by die Oog.
Dis ʼn netjiese oord en dit vat my terug na my kinderdae toe ons stilhou in die koelte van een van die groot Wilgebome op groen gras. Dit is net soos die ou grotes wat ek onthou langs die Hartsrivier, waar ons geswem en kleilat gegooi het as kinders.
Ons staan op die jetty en die skoon water roep hard waar jy meters na benede die visse sien swem. Voor ons weet wat gebeur is Anton se broek uit en is hy in die water met sy “speedo”.
Anton was nog besig om te praat oor hoe lekker dit sou gewees het as ons paddapote en duikbrille gehad het. Ek is terug bakkie toe en gou weer terug op die dek, swembroek aan met paddapote en duikbrille in die hand. Anton en ek verken die oog se water en voel later skuldig toe Magda en Moeksie sukkel om ons uit die water te kry. Soos ons baie met die kinders gesukkel het toe hulle klein was. Nog net gou een duik ma!
Dit was regtig verfrissend en lekker om in die skoon water te kon speel. Op ons pad uit, stop ons eers weer by die plaashuis en kry elkeen ʼn bottel Oogwater vir die pad.
Ons vat die pad deur Zeerust na Botsalano. Op Zeerust doen ons ʼn paar aankope, genoeg vir so vier dae, want ons het nog nie besluit hoe lank ons gaan vertoef nie. Verder gery, vat die GPS ons eers na ʼn hek wat gesluit is en ons besef dis die verkeerde hek.
ʼn Paar minute later stop ons by die hoofhek. Plaas was dit meer minute, want ek raak toe haastig en ry ʼn bietjie vinnig op die grondpad met baie los klippe. ʼn Klip het die waentjie se neus getref en teen die kappie se venster geland. Gelukkig is dit shatter proof en is die duisende blokkies glas nog bymekaar en die ruit nie uit nie.
Ons vra hoeveel kampplekke daar is en word meegedeel daar is ʼn paar boskampe. Hoe lank gaan julle bly? Wil die man weet. Nie seker nie, maar ons betaal vir twee aande en sal weer kom betaal as ons langer wil bly. Dis ʼn klein park, ongeveer 5 800 ha naby die Ramatlabama grenspos op die Botswana grens. Ons vra watter kampplek aanbeveel sal word, bedoelende die een met lekker skadu bome. Ons kampplek is die een in die verre Ooste kant van die park.
By die kampplek aangekom, klim ons almal eers uit om te verken en te besluit of dit die een is of nie. Daar is geen boom in sig nie, net ʼn lae sink afdak wat soos ʼn oond bak.
Die eenparige besluit dwing ons om die ander kampplekke te gaan verken. Einde ten laaste land ons op by die beste een van al die kampplekke in Botsolano, onder die doringbome wat soos ʼn kamp toegespan is met ʼn rietheining.
Dis nog vroegmiddag en lekker warm. Nadat die tente opgeslaan is, verken ons die park en sien genoeg wild en voëls, eintlik verbasend baie en verskillende spesies.
Terug by die kamp verken ons die omgewing te voet en ons loop maar versigtig (hier is renosters) tot by die uitkykpunt by die gronddam. Ou Vlakkie is oudergewoonte in die modder besig en ʼn paar blesbokke en springbokke wei om die water. Die elande en rooihartbeeste kom ook stadig nader. Twee renosters aan die oorkant van die dam laat ons ekstra versigtig terugloop kamp toe. Terwyl die son sak, soos net hier beleef kan word, steek ons die vuur aan by die kamp en bespreek die gebeurtenisse tot nou toe. Twee onvergeetlike dae !!
Anton trek die Fortuner voor die opening in die rietheining waar jy inry, net in geval ʼn renoster te nuuskierig raak in die nag.
Later die aand wonder ek hoekom braaivleis so anders proe hier onder die sterrehemel. Is dit dalk omdat die melkweg soos ʼn helder wit wolk oor die hemelruim strek en jy al die sterre almal hier bymekaar sien? Dalk die stilte van die bos wat jou smaakkliere aantas? Of is dit die geselskap van vriende? Miskien die Jakkals se getjank in die verte wat die vleis anders maak? Moontlik is dit maar net lekker vleis!

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 26/05/2020 - 16:18

Ok, Hollies het my die goedkeuring gegee om dit hier te plaas.  Hy het ook hulle web adres vir my gestuur (soos hier onder).  Ek sal vir die wat wil steeds probeer om elke dag hulle volgende dag trip hier te plaas.

Web skakel.

Dinsdag 21 Januarie

Die oggend staan ons vroeg op en stap na die uitkyktoring. Ons kan ons oë nie glo nie – ses renosters lê vlak voor ons by die dam. Die kameras kan nie ophou kliek nie, dis majic. Springbokke en blesbokke loop en lê oral rond. Vlakkie se kinders stel ook nie teleur nie en baljaar in die modder. Jakkals se kind maak seker die bokkies wat lê raak nie te gemaklik nie



Nog twee Renosters kom water toe, die horings is mooi. Die koffie wat ek drink terwyl ek om my rondkyk, smaak die lekkerste ooit! Amper net so lekker as die koffie in die Serengeti toe ons die Wildebeesmigrasie aanskou het. Dis ʼn emosie wat jy eers moet beleef voordat jy verstaan wat iemand sê as hy daaroor praat.

Ons wil heeldag hier vertoef, maar besluit om brunch te gaan maak en weer ʼn slag deur die park ry. Terug in die kamp moes ons  eers opruim waar die blouapies ons rommel rondgestrooi het.  Terwyl ek op die toilet sit en oor die veld staar, gewaar ek die wolke wat saampak op die horison en besef ek dat ons kan reën kry. Die toilet is ʼn steenhuisie sonder ʼn deur wat na die veld toe uitkyk. Nou het die uitdrukking “ʼn veltie” ook ʼn nuwe luukse betekenis gekry. Amper soos in die Serengeti waar ek ʼn porselein skoeter gery het.

Dis ʼn storie vir ʼn ander dag…

Die stort is lekker gerieflik, ʼn blikemmer aan n kabel, wat jy vol water maak en ophys in die groot ou doringboom. Die stort is ʼn entjie weg van die kampplek, met ʼn betonvloer en n rietheining om.

Die voorspelling wat jy maak as jy op die toilet sit is nogal akkuraat, want die reën het toe vroegmiddag gekom. Dit het gevoel soos die stortemmer x 1000 wat oor ons uitgegooi word. Ons het nie gekla nie want ons weet dié wêreld het reën nodig. Dis baie warm en droog! Die hitte breek genadiglik na die lekker stortbui. Gelukkig kamp ons op sand wat nie modder maak as dit water kry nie en die reënwater trek vinnig in.

Laatmiddag pak ons versnapperings en koeligheidjies in om ʼn sundowner op die uitkyktoring te gaan geniet. Weereens stel die watergat nie teleur nie en ons is verstom oor al die wild wat ons sien. Die diere kry mos nuwe lewe na so n reënbui. Veral die swartwildebeeste, die narre van die veld. Hulle hardloop rond so asof hulle malkoeisiekte het, koeie wat mal geraak het en van hulle oortollige energie ontslae moet raak.




Om die vuur daardie aand, besluit ons om die volgende dag verder te ry na nog ander plekke wat ons moet gaan verken en beleef. Eenparig kan ons nie uitgepraat raak oor die afgelope 3 dae nie, net bang dit raak op of sleg.

Ons voel geseënd !!

0

Môre Willem

Dankie vir jou moeite, en dra asb ons dank aan die Hollies oor. Ek gaan dit beslis geniet.

Ek beny mense wat so rustig en onbepland kan reis. 

Groete

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 28/05/2020 - 13:04

Woensdag 22 Januarie

Ook ons het nuwe energie na die vorige dag se reën en die oppak gaan vinnig. Na die jogurt en vars vrugte ry ons na die hoofhek.


Toe ons daar aankom, wil die benoudheid my beetpak toe ek die hordes mense en string karre sien wat in die hoofpad geparkeer staan. Wat op dees aarde is hier aan die gang? By navraag word ons meegedeel dat Noord-Wes Parke een vakante pos hier geadverteer het en al die mense is hier vir die onderhoud. Die gedagte flits by my verby, as kind wou ek ook ʼn wildbewaarder word, maar ek sou vinnig van plan verander het as die toue mense wat aansoek doen vir een pos, so lank soos hierdie tou was.

Nou op pad na Mafikeng, want daar moet running repairs gedoen word. Die bakkie se kappievenster moet vervang word en Anton het die vorige dag gesukkel met die waentjie se agterklap. Die wyn voorraadvlakke is ook laag en ons gaan ʼn deel van die land verken wat ons nie goed ken nie – die verre Noord-Kaap waar die Molopo die grens vorm met Botswana.

Die herstelwerk en aankope vir die volgende paar dae is afgehandel. Ek het besluit om twee van daardie swart stortsakke by Midas te koop en hulle uit te toets. Ek het twee ander storte ook, maar het altyd gewonder hoe gemaklik is die swartsak storte werklik.  Ons vat die pad al langs die Moloporivier na Bray. Die pad is redelik en ons vorder goed. Hierdie wêreld is mooi, ʼn ander mooi.

Die rooi Kalahari-duine al langs die droë rivierbedding wat bedek is met groot, nee reuse kameeldoringbome. Dis MY wêreld en ek dink terug aan die ou grote in ons voortuin wat soos ʼn lapadak koelte verskaf het vir al die jare wat ek daar grootgeword het. Oor die radio kom dit gereeld – sal darem lekker kamp onder daardie kameeldoringboom. Die raakskote van die droogte is duidelik sigbaar in die ou grotes wat van die droogte gevrek het, dis hartseer.

Dis mos Frik du Preez se wêreld hierdie, die gebied om Bray. Ons praat rugby van daardie tyd oor die radio’s en salueer die legende. Hy bly mos nie meer hier nie. Hierdie dorpie wat sy naam gekry het by die donkie, die geluid of roep van die donkie is “bray” in Engels soos die runnik van die perd.

Dis warm en die Paddon kontantwinkel het net op die regte tyd hier langs die pad kom staan. Ons is net betyds, want hulle is besig op toe te sluit. Die winkel binnekant is soos ʼn oond en die klein staanwaaier binne waai net die warm lug rond.

Ons koop elkeen ʼn koeldrank en gesels oor die verskeidenheid voorraad op die rakke, ʼn regte plaaswinkel soos van ouds. Die jakkals in die pad vorentoe dui aan dat dit laatmiddag raak, al sit die son nog hoog.

Tapama Lodge aan die linkerkant soos jy Bray inry, lyk na die regte plek. Hier kamp jy op regte rooi Kalaharisand onder die kameeldoringbome soos ek nog altyd wou. Ons slaan kamp op en gaan geniet ʼn lafenis by die Lodge se lapa. Die regulars het klaar oral om die tafeltjies op die stoep gesit en gesels, elkeen met ʼn glas wat aan die buitekant nat gesweet is. Dit lyk verfrissend !!

Dis vriendelike mense hierdie en ons geniet die geselsies en atmosfeer. Ons betaal vir die aand se kamp en reël vir braaihout. Dis na ses maar die hitte hang nog in die lug. Dit vat nie baie oortuiging om die lafenis van die swembad op te soek en die langpad van 262km af te spoel nie.

Terug by die kampplek maak ek ons braaiplek reg. Hier word nie gereeld gekamp hierdie tyd van die jaar op Bray nie. Die miere hier het oorvloed kos, want hulle is groot en as jy nie versigtig is nie, word jy lewendig weggedra. As kind het ons na hierdie grotes verwys as army miere.

Hierdie voel soos ʼn plek waar daar fles gevat moet word, my uitdrukking vir lekker ontspan en kuier. Na ete maak ek seker dis opgeruim en alles is onder die tente gebêre. Ervaring het my al geleer: Jy slaan op vir wind en reën, al is dit die mooiste windstil dag onder die blou hemelruim, sonder ʼn wolkie in sig!

Die donkie word gestook om seker te maak die vrouens het warm water vir die storte. Die ablusie is so groot soos danssale, eenvoudig maar netjies.  Deur die aand begin dit reën, met tye baie hard. Die koeler weer is welkom en mens slaap mos anders as dit so reën. Dit was weereens ʼn volmaakte dag!

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Thu, 28/05/2020 - 13:10

Donderdag 23 Januarie

Dit reën nog liggies toe ons opstaan en die koffie wat Anton gemaak het is soos boeretroos. Ons besluit om ontbyt by die Lodge te gaan eet en nie te sukkel nie. (ʼn gesegde wat Anton al baie gespreek het, dis nie ʼn oorlewingskursus nie, ons mag maar gerieflik kamp en dit geniet). Na ontbyt is die donkie se water nog warm onder die stort. Met nog ʼn koppie koffie in die hand besin ons oor die verloop van die res van die dag.

Die tente is nat en ons besluit ons gaan nog ʼn aand, of twee of drie slaap, om droog op te slaan. Ons het baie tyd en gaan verken die dorp. Louis by die deli vertel ons meer oor die dorp en sy mense. Hy maak kos vir die skool en die koshuis – ja hier is ʼn koshuis op die dorp wat dertien kinders huisves.

Ons gaan besoek die lokale bakkery waar ons onsself eers wou voorstel as inspekteurs maar toe daarteen besluit het. Ons MOET die bakkery besoek want Anton en ek was lewenslank in die bedryf betrokke. Die reuk van vars brood kielie die hongerspiere in jou maag en hang sterk in die vars lug na die reën.

Die algemene handelaar by die petrolstasie is iets om te beleef, van basiese kos, plaasimplemente, hardeware, perdesaals, skryfbehoeftes, van alles en nog wat. Die man agter die toonbank praat van oor die 10 000 items in voorraad as hy na al die skroefies, spykers en moere in die houers op die grond wys. Dit is die winkel op Bray waar jy enigiets kan koop, enigiets.

Op ʼn rak is daar ʼn beigekleurige erdepotjie wat nie agtergelaat mag word nie, ideaal vir vleis en oorskiet kos wat ontbyt moet word. Ons praat vandag nog van BRAY as ons na daardie bakkie verwys, en hy gaan kamp ORAL saam.

Terug by ons kamp is dit tyd vir Moeksie om ʼn paar kleertjies te was. Dis ʼn lekker sonskyn middag en die lug ruik nog vars na die reën. Ons stap Lodge toe om ons rekenaars te up-date deur Wi-Fi en te kyk of daar nuwe mails deurgekom het. Ons betaal vir die aand se kamp en gesels lekker met die mense, terwyl ons nog ʼn kouetjie by die kroeg geniet.

Ek vra of ek ʼn paar stukke hout kan laai die volgende oggend as ons pad vat en “help jouself met genoeg” kom die antwoord van die man agter die kroegtoonbank. In ons gesels kom die ongevraagde antwoord duidelik na vore oor ons volgende bestemming – Molopo Natuurreservaat.

 

Die tjops en braaibroodjies vanaand proe weereens spesiaal, seker die hout waarop dit gebraai is wat die verskil maak. Om die kampvuur die aand dink ek terug aan die een keer wat ek hier op Bray was, baie jare gelede, en vertel die storie vir Anton.

Ek was nog op hoërskool gewees, sowat 37 jaar gelede. ʼn Goeie vriend van toeka se dae, Dirk Vorster van Delareyville, was saam met my in Schweizer Reneke op skool en hy het in die koshuis gebly. Hulle het ʼn plaas hier gehad. My groot pêl van daardie tyd, Danie v/d Heever, Dirk en ek, het een naweek hierheen gekom en op die plaas gekuier. In die stoor was daar ʼn 1972 Bedford wat aan die gang moes kom.

Na ʼn lang gesukkel loop die enjin, maar die petrolpedaal is soek. Die lot val op my, met die enjinkap oop moet ek myself voor in die enjin tuismaak en die funksie van die petrolpedaal verrig, deur met my hand die petroltoevoer te beheer, op Dirk se instruksies. Danie sal by die linker venster uithang en die pad aandui want Dirk kan nie oor die oop enjinkap sien nie.

Daar was ʼn paar noue ontkomings as die spoed te vinnig was en ons op die twee-spoor sandpaadjie tussen die doringbome moes deurvleg. Gelukkig het ons oorleef anders sou ek nie hierdie storie kon vertel nie. Wens egter ons het dit op film kon vaslê.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Fri, 29/05/2020 - 10:16

Vrydag 24 Januarie

Na ʼn rustige aand proe Magda se koffie net so lekker soos Anton s’n, sy het seker by hom geleer – of is dit andersom? Die vars vrugte en jogurt vul die nodige gaatjie in die maag en ons pak rustig op, want ons het net 117 km om af te lê vir die dag. Ek maak gebruik van die goedheid van die aand se aanbod en laai so vyf stompe hout op die bakkie. Dis nie vol boomstompe nie, hulle is lekker gekloof en net die regte grootte.

Die mense staan buite op die lapa se stoep om ons te groet toe die man roep, “is dit al hout wat jy saamvat, daar is nog plek vir ʼn paar stukke, moenie skaam wees nie”! Ek wag nie vir ʼn tweede uitnodiging nie en laai nog so drie stompe.

Ons stop gou eers weer by die algemene handelaar want Anton het my oortuig ʼn snoeiskêr maak jou lewe maklik as daar ʼn takkie is wat die tent pla. Hy moes hoeka al steke in Maun (Botswana) kry toe hy die takkie wat sy tent pla met ʼn mes wou snoei en dinge verkeerd geloop het.

Die speensalf op die rak, glo Magda, is net die regte medisyne vir die droë velle en val ook in die mandjie, saam met die bakkie stinksalf vir Anton se rug. Dis ʼn ou ding, die rug van Anton, maar hy sê dit gaan goed die afgelope tyd en die stinksalf is net vir ingeval.

Die voorspoed wil nie ophou nie. Die pad wat ons moet ry is die vorige dag geskraap na die reën en dit voel soos ʼn teerpad waarop ons ry.

Dit neem ons ʼn tydjie om die regte ingang te vind na die Molopo Natuurreservaat, maar ons kom uiteindelik by die kantoor aan waar ons moet inboek en betaal.

Toe ons op die agterstoep van die plaashuis kom, is dit Jonas wat ons vriendelik groet en verneem of hy ons kan help, die baas wat hier is slaap ʼn bietjie. Ek ken nie die park nie en wil eers uitvind van kampplek, kostes ens.

Jonas wys in ʼn Noord-Westelike rigting en sê daar is lekker kampplekke oorkant die droë rivierloop met ablusie en lopende water. Hy sal die pomp later gaan aansit vir die watertenks om vol te loop. Ons betaal vir een nag se kamp, koop ʼn paar stukke hout (die op die bakkie is back-up) en ry na die kampterrein, Phiri kamp.

Die reservaat is in 1987 geproklameer en ongeveer 27 000 hektaar groot, geleë 250 km Noord van Vryburg en sowat 10km Wes van Vorstershoop.

Die staanplekke naby die ablusie voldoen nie aan ons verwagtinge nie en ons besluit om kamp op te slaan onder die pragtige kameeldoringbome op die walle van die droë rivierloop, sowat 400m van die ablusiegeboue af.

Die rooi Kalaharisand, bedek met kameeldoringbome en die rivierloop hier langs ons, verwesenlik ʼn droom, hier gaan ons lekker kamp, ek het TUIS gekom !!

Dis warm as ons begin opslaan en Magda en Moeksie kry swaar as dit voel of die son tot stilstand gekom het, om net op ons te fokus. Ek is dié hitte gewoond uit my grootword dae. Ek ry na die ablusieblok om die nuwe stortsakke vol water te gaan maak.

Die ablusie kan baie netjies wees, maar dis redelik vuil en onversorg, ʼn jammerte, daarom het ons besluit om ons eie storte te gebruik, lekker in die opelug onder die sterrehemel.

Terug by die kampplek maak ek die twee stortsakke langsmekaar lê op die Kalaharisand wat ek ʼn bultjie gestoot het, sodat die sonstrale vol op die swartkante kan inval. Vanaand stort ek in WARM water. Ek weet nie waarom ek so dink nie, want in hierdie hitte wil jy nie ʼn warm water stort naby jou hê nie, maar die nuwe stortsakke se effektiwiteit moet uitgetoets word.

Die gille wat die stilte breek en die sang van die sonbesies uitdoof kon ek eers nie plaas nie, is dit angs, benoudheid of ʼn hulpkreet? Dit kom weer en ek besef dis Magda se stem. Net toe ek wil begin hardloop om hulp te gaan verleen, sien ek die groen watertenk op die hoë stellasie naby die ablusie wat ʼn straal water uitgooi bo by sy oorloop en Magda, vol geklee, onder die straal staan en gil van die plesier.

Moeksie en ek kon ons lag nie bedwing nie en ek voel die koue op my lyf toe ek so op ʼn afstand na haar kyk, so onder die stroom water. Anton kon dit nie weerstaan nie en is binne sekondes langs haar, in sy speedo en hulle geniet die lafenis.


My gedagtes gaan dadelik terug na my kinderdae, onder ons watertenk wat oorloop van boorgatwater, waar die water van so hoog af stroom dat dit jou seermaak. Ek, my drie boeties en my kleinsus. Ons het ook in ons speedo’s gestaan, daardie ou groot wittes wat se onderkant tot by jou knieë hang as hy nat is, maar dit was altyd lekker.

Magda kom sopnat en ongefokus aangestap kamp toe, maar ek sien toe haar bril se een lens is uit. Met haar kapperjolle onder die water het ʼn klein skroefie aan die een kant van die bril uitgeval en is weg, swem iewers in die Kalaharisand rond. Sy is nog so vol van die lafenis dat die gebreekte bril haar nie ontstel nie, vertel net hoe heerlik dit was onder daardie stroom water. Na ʼn bietjie improvisasie en McGyver truuks is die lens terug en kan sy weer behoorlik sien.

Ons besluit om ʼn draai te gaan ry om die area te verken. Aan die anderkant van die ablusie ry ʼn bakkie verby, dit lyk soos een wat deur natuurbewaring gery word. Dit is droog hier, BAIE DROOG en ons sien nie veel wild buiten ʼn paar gemsbokke, blouwildebeeste en koedoes nie.

Op ons pad terug kamp toe, naby die ablusie, sien ek die houtpen in die grond met lint (die soort wat hulle gebruik om konstruksie areas af te baken, wit en rooi strepe op) wat oor die twee-spoor paadjie gespan is. Dis waar die natuurbewaring se bakkie gery het en dink ek hulle is besig met ʼn projek hier en wil nie gesteur word nie.

Daar is ʼn uitkykpunt met riete bedek, op die wal van die rivier so 150m van ons kampplek af, wat uitkyk op ʼn suiping in die rivier. Ons neem iets koel vir die pad, stap die entjie en gaan sit in die uitkykpunt.

Die maer elande wag al vir ons by die suiping en die waterbokke is ook op pad. Die koedoekoeie kruip nog weg vir die son in die skaduwee van die bome in die rivierbedding. Later kom vlakkie ook sy dors les.


Die droogte breek weer deur in my gedagte toe ek aan die anderkant van die rivierbedding die karkas van die eland sien lê wat gevrek het. Ten spyte van die droogte is daar vir my ʼn mooi in dié wêreld, harde wêreld maar ook mooi, ʼn mooi wat ek nie kan beskryf nie.

Dis net voor sononder toe ons vuur aansteek. Die kameras kliek aaneen soos ons die son op die horison sien sak, met die wolkies wat ingekleur word op ʼn wyse wat net die son en net hier gedoen kan word. Mens staan in bewondering en voel geseënd om dit hier te kan beleef. Ek sal hier kan bly, vir laaaaaank !


Dis tyd en die tou word aan die stort vasgemaak, een van my oues want die nuwes, soos te wagte kon wees, is te warm gebak deur die son. Die tou word oor die tak van die kameeldoringboom gegooi en opgehys, maar nie voordat ek die stortskerm opgeslaan het en seker gemaak het die water is genoeg en nie te warm nie. Die geluide wat uitkom is bevestiging dat Moeksie dit geniet, BAIE geniet. Sy is mal oor ʼn buitestort en wou my lankal oortuig om een by die huis te bou, maar ek skop vas, want dit is nie dieselfde as hier in die bos nie.

Dis toe ons lekker om die kampvuur sit en gesels dat Jonas sy opwagting maak. Hy het die pomp kom afsit want hy sien die watertenk is vol.

Ons nooi hom om te sit en vra hy moet ons van die park en die mense vertel. Daar is eers ʼn effe huiwering maar dit kos nie baie aanmoediging om hom lekker aan die praat te kry nie. Die oubaas wat hier werk, hy is nie so oud nie, maar hy slaap in die dag en word net in die nag wakker. As hy in die dag wakker word, dan roep hy my net om die bottel vir hom te bring.

Ek dink dadelik terug aan toe ons ingeboek het, die leë drankbottels op die agterstoep en die bokse bottels in die garage langs die kar. Met ʼn laggie kyk en Anton vir mekaar en ons verstaan wat hy sê. Hy sê die oubaas loop ook moeilik. En die natuurbewaring in die kamp? Dis nie natuurbewaring nie, maar ʼn man en vrou wat al lank, baie maande, hier bly en hulle loop saam met die oubaas.

Hy sê hy weet, maar hy wil nie baie praat nie, want daar is ander goeters hier. Hulle loop saam met die baas in die nag, hy dink miskien is dit diamante maar hy weet nie, want hy mag nie saamloop nie. Hy sê die ander goeters gaan hier aan maar hy weet nie, want hy sien nie altyd so mooi nie, hy dink net. Hy het gehoor die man wat hier kamp se vrou is dood ʼn ruk gelede, nou kamp hy hier. Ek dink by myself, ek sal dit ook dalk doen as dit met my moes gebeur, om hier te kom kopskoonmaak waar niks en niemand jou pla nie.

My gedagtes gaan op hol, die paadjie wat toegespan is, die man wat ons nie kon ontvang by aankoms nie, die man wat al maande hier “kamp”, wat is hier aan die gang? Laat ek liewer nie bespiegel nie, maar dit klink nie reg nie !!

Nadat Jonas vertrek het, braai ons hoender en wors wat heerlik smaak saam met die pap en sous. Die hemelruim is oop en die sterre te veel as jy opkyk en klein voel as mens, bevoorregte mens, om te doen wat ons doen, reis sonder datums. Ons gesels en my hart kry seer as die meerderheid besluit dat ons more verder moet ry, ek wil nog bly!!

Ek gaan nie lekker slaap vanaand nie, maar dit was die besluit, ek dink die hitte vang die mense. Anton en ek sit tot laatnag om die vuur. ‘n Mens mors nie hout nie en gebruik die volle vuur, tot hy uitgebrand is, anders mors jy want jy het te veel hout opgegooi.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Fri, 29/05/2020 - 10:25

Saterdag 25 Januarie

Ons is vroeg op om te gaan kyk wat se aktiwiteit by die suiping aan die gang is. Dis maar stil by die suiping en die koffie terug by die kamp smaak lekker. ʼn Ligte windjie bring koeligheid as ons stadig begin skoonmaak en pak. Moeksie wil net gou vir oulaas die stort beleef en ek gooi warm water in wat sy baie geniet.

Ons ry deur die res van die Molopo Natuurreservaat, met die grootpad langs na die Mc Carthy’s Rest grenspos op die Botswana grens. Die pad varieer van ʼn redelike grondpad, breë sandpad tot soms ʼn twee-spoor sandpad. Die veld anderkant die park lyk beter, redelik baie gras en groen ook. Die pad kronkel langs die Moloporivier en die kameeldorings en Kalaharisand bly betowerend.


By een van die hekke wat ons moes oopmaak, was ons net deur toe Anton daar aankom en gou moes wegtrek, toe die gedaante uit die bos sy verskyning maak en langs die bakkie staan. Geklee in sakke en materiaal om hom gedraai, horings wat oral om hom hang, ʼn kopband uit dierevel vol vere gedruk, ʼn sak in die hand vol wie-weet-wat. Sangoma, dink ek by myself. Ons skerts lekker oor die radio oor die ervaring.

Die bene rek onder die boom by Mc Carthy’s Rest gee weer moed vir die pad vorentoe, wat heelwat beter lyk.

By Van Zylsrus gooi ons brandstof in, koop koeldrank, broodrolletjies vir padkos en doen navraag oor die toestand van die pad na Askam. Die vrou by die kafee sê die pad is sleg, baie sleg en sy sal hom definitief nie aanbeveel nie, ten spyte van die feit dat ons 4×4 voertuie ry. Dis ʼn grondpad wat ek baie jare gelede gery het, toe was hy nog redelik.

Ons besluit dit is nog vroeg en ons gaan die pad aandurf, ons sal dit stadig vat met die sleepwaentjies, maar dis eers tyd vir eet en ons stop onder die groot peperboom langs die vulstasie.

Dis toe ek iets uit die yskas agter in die bakkie moes haal, dat ek die “water” agter in die bakkie onder een van die kratte sien. Dit vat nie lank om die lekkasie op te spoor nie, ʼn kartonhouer wyn van Moeksie wat deurgeskaaf het en lek. Ek moet gou maak, want hierdie voggies is kosbaar en gooi die oorblywende wyn in ʼn leë koeldrankbottel, nog genoeg vir een of twee aande se kuier, want Moeksie vat nie rêrig fles nie, twee glase is genoeg op ʼn aand vir haar.

Ons vat die pad na ete en ʼn ent weg besef ek net weer dat jy versigtige oordeel aan die dag moet lê as jy jou ore uitleen aan wat ander sê, want sleg, mooi, gerieflik en al die ander woorde, het verskillende betekenis vir verskillende mense. Die pad is OK met hier en daar ʼn stof-gat wat jou laat wip, maar ons vorder redelik vinnig al langs die Kurumanrivier tot by Askam.

Die radio’s was redelik besig op die pad daarheen. Elke keer as ons aasvoëls of net ‘n mooi boom sien, bassuin ons dit oor die radio uit. Jy weet mos hoe dit gaan as die pad lank raak, dan praat jy maar sommer net snert met die diere, oor die radio.

By Askam doen ons navraag en besluit om by Molopo Lodge, sowat 15 km op die pad na Kgalagadi, te gaan kamp. Die plek verwelkom ons soos ʼn oase na die dorre 374 km grondpad wat ons vandag beleef het.

Die swembad word deur niemand se oog gemis nie en ons kan nie vinnig genoeg opslaan om die water te gaan geniet nie. Iewers langs die pad, ek weet nie presies wanneer en waar nie, het ons besluit om ʼn paar dae in die Kgalagadi te gaan spandeer. Ons betaal vir net een aand hier, want ons is nog op pad.

Ons soek die beste skadukolle en maak die waentjies staan. Dit was nie so maklik nie, aangesien die waentjies agteruit ingestoot moet word in die ongelyke plekke wat ons gekies het. Die staanplekke is egter gerieflik met ʼn betonblad wat met ʼn stellasie van houtlatte bedek word, waar jou opwas en kragpunt is, elke staanplek boonop met sy eie ablusie.

Dis die eerste keer dat ons so buite seisoen gaan vakansie hou want sien, Moeksie was onderwyseres haar lewe lank en dit het ons gedwing om saam met baie ander, DUUR vakansie te gaan hou, binne seisoen. Met die verlaagde buiteseisoen tariewe EN die korting vir pensioenarisse, kan ons dit maklik bekostig om die luukser staanplekke te gebruik, ʼn lekker voordeel.

Na die opslaan en die gebruiklike versnapering om die liggaam af te koel, is ons swembad toe, want die hitte is erg. Die swembad is nie so skoon soos myne nie, maar die water bied dieselfde lafenis. Dis ʼn netjiese oord en ek het al menigte male die naam gehoor by kampers wat vra en praat oor slaapplek in die wêreld. Ons bly so lank in die water, dat my vel soos ”oumens” begin voel en lyk, goed gerimpeld.

Vanaand is steak aand, en wat kan nou beter wees as ʼn lekker knoffelbroodjie daarmee saam. Vanaand se vuur is gemaak van die Bray hout, nie baie nie, want dis kosbaar.

Ons maak dit ʼn redelike vroeë aand, want ons weet nie tot waar ons more gaan ry nie, Twee Rivieren, Rooiputs, Mata Mata of Nosob, ons sal eers by die park se ingang besluit waarheen en vir hoe lank.

0

Middag vriende

Ek kan sommer sien hierdie bydrae gaan waardevolle info verskaf tov reisplaane, kampeerplekke ensovoorts.

Ek is natuurlik baie nuuskierig oor die brandstofverbruik van daai V6 Hilux gedurende hulle omswerwinge.

Kyk dit wys net weer---baie tyd, baie Geduld, en sekerlik voldoende fondse, dan kan mens so reis.

Groete

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Fri, 29/05/2020 - 13:35

Daar is nog 62 dae wat kom.

Wessel, ek sal by hom hoor of hy boek gehou het van die brandstof verbruik.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 30/05/2020 - 14:27

Sondag 26 Januarie

Ons is redelik vroeg opgepak, maar nuttig eers die gebruiklike vars vrugte en jogurt saam met ʼn paar koppies koffie so oor die lekker gesels saam. Ons is nie haastig nie. Ons stort eers voor ons die pad vat net na tien en ek kan voel dit gaan ʼn rowwe dag wees, want die sweet loop my af.

Toe ek in die bakkie klim, vang die bondel hout bo-op die dak my oog en ek dink soos volg: Hulle gaan my nie toelaat om die hout so bo-op die bakkie in die wildtuin te vervoer nie. Ek sal daar by die ingangshek planmaak, MAAR hulle kan die hout weier, want dis nie verpak nie. In welke geval ek dit by die hek sal aflaai en weer oplaai as ons oor ʼn paar dae hier verbykom. Met die planne in my kop klim ons in die voertuie. Die 60 km teerpad na Twee Rivieren is ʼn plesier en op die pad vertel ek vir Anton oor die radio van toe ons ʼn paar jaar gelede, vir die eerste maal, met ʼn groep pelle, die Kgalagadi kom besoek het. Toe was die pad van Askam tot by Twee Rivieren nog grondpad. Ons het daardie keer met die teerpad vanaf Upington tot by Askam gery en nie Van Zylsrus om nie, ook maar goed so. Die grondpad was ʼn uitdaging vir enige mens en voertuig! Sinkplaat soos ek in my lewe nog nooit gery het nie! Ons het almal iets gesleep, gelukkig niemand ʼn gewone karavaan nie, want dan sou ons vandag nog gery het. Daardie gevoel van eerder nog stadiger, jy beweeg skaars vorentoe, tot ek wil die pad slaan teen 140 km/uur want dan vlieg ek dalk oor die sinkplaat. Jy kan nie anders nie as moedeloos te raak, veral as iemand langs jou sê dis nou te erg, so asof jy aspris is of dit kan verander en al alles probeer het. Toe die eerste donkiekar in die veld langs die pad verbykom, gaan die liggie in my kop aan! Gaan ry langs die pad op die donkiekar spoor. Die volgende 40 km het BAIE sagter, minder geskut maar wel meer stof, redelik gegaan, met die hele konvooi agter mekaar in die bosse langs die grootpad. Die teerpad is ʼn plesier en die radio’s klets as ons die versamelvoëlneste uitwys en bespreek, hier en daar ʼn gemsbok gewaar en die lodges verbyry waar ons definitief nog eendag moet kom oorbly. By die ingangshek van die Kgalagadi by Twee Rivieren aangekom, besluit ons eers hoe lank ons gaan bly. Ek het nog nooit op Nossop gekamp nie en sal graag so 3 nagte daar wil spandeer. Boonop moet ek vir Anton en Magda laat voel hoe dit is om te kamp sonder heinings, so een of twee aande by Rooiputs is ook ʼn moet. Dit gaan maklik om op ʼn totaal van vyf nagte te besluit. Die mense by ontvangs is regtig baie vriendelik en ons is gelukkig om drie nagte by Nossob en twee nagte by Rooiputs te kry. Gelukkig om plek te kry, dink ek by myself. Wie kom kamp die tyd van die jaar in die snikhete Kgalagadi, wil ook daardie malkoppies ontmoet.  Die 160 km grondpad na Nossob was die vorige keer toe ek hom gery het, ook maar baie sinkplaat, so ons mors nie tyd nie. Ons blaas wiele af tot 1 bar (my BF Goodridge bande ry die lekkerste sinkplaatpad as dit so sag is want hy het ʼn stywe wand en gee nie maklik mee nie, het ek gehoor). Ek hoor die radio: Hollies, Hollies, kom in. Hollies, Hollies, kom in – Ek kan die opgewondenheid in Anton se stem hoor. Hulle was nog nooit in die Kgalagadi nie, ʼn eerste keer. Dis lekker om radio kontak te hê as mens so rondry, want as jy iets miskyk is die ou agter jou gou op die radio om te vra of jy “dit” ook gesien het. Die Kgalagadi stel nie teleur nie en ons is nog nie 10 km weg nie, toe ou vuilbaard, ʼn redelike groot maanhaar, so 150m veld in onder die boom opgemerk word. Hy lê lekker uitgestrek in die koelte. Ek besluit om nie te lank te vertoef nie, glo ons sal hulle nader kry oor die volgende paar dae.  ʼn Hele ent verder wonder ek of Anton op pad is, want ek sien hulle nie in my truspieëltjie nie. Oor die radio kom die verduideliking, vuilbaard het opgestaan, omgedraai en weer gaan lê, net sodat hulle hom mooi kon afneem. Sonder om die entoesiasme te demp vertel ek hom daar is nog baie leeus en ander katte in die Kgalagadi en dat ons VIRSEKER nog heelwat gaan sien en ry bietjie vinniger weg by die volgende paar sightings.  Dis nie dat ek ondankbaar is teenoor die diere wat ons sien nie, maar dis BAIE warm en ons het nog ʼn hele ent om te ry. Dit teen ʼn stadige pas en voorsiening moet altyd gemaak word vir tyd wat verlore kan gaan by ʼn GOEIE sighting.   Die radio roep weer, dis net na 4, en ek hoor ʼn ander toon in Anton se stem. Weet jy hoe warm dit is, vra hy? My 2008 Hilux het nie ʼn termometer in nie, maar ek weet dit is HEL warm. 43, kom dit oor die radio as daar ʼn laggie van ongeloof in sy stem gehoor kan word.   In teenstelling met wat ons oor die radio gesels het oor die temperatuur wat nou sal sak, klim die kwik nog verder tot 44 teen net na vyf en Moeksie se moedeloosheid beaam dat dit nou WARM is. Die pad na Nossob is redelik en ons vorder fluks, met die normale gemsbokke, hartbeeste, blouwildebeeste, springbokke, en ander bok- en voëlsoorte wat ons redelik gereeld opmerk. Ons stop net as hulle BAIE naby is en ʼn Kodak moment bied. (dis wat ek dit noem as daar ʼn goeie en mooi foto is).   By Nossob aangekom, boek ons in en gaan soek die grootste koelteboom wat daar is, maar ons is nie so gelukkig nie. Die malkoppie kampers het almal reeds onder die koelte opgeslaan, en jy kan die moedeloosheid op almal se gesigte sien.  Soos ek gesê het, ek wil die “malkoppies” sien wat in hierdie hitte in die Kgalagadi kom kamp en was ek verbaas om soveel van hulle te sien. Baie was buitelanders wat met gehuurde bakkies met daktente op kamp.  Selfs die groot bome waar daar nie krag is nie, aan die Oostekant van die kampterrein, is almal gevat. In hierdie hitte sal ek ook die koelte bo krag verkies – maar dit sê ek maklik want ek het ʼn solar paneel om krag te voorsien. Anton wys na die bosse aan die Westekant van die terrein en praat van takke snoei, maar na my oordeel sal net die stam oorbly as jy moet snoei om die waentjies daar in te kry. Dis ʼn nadeel van ʼn waentjietent en ook ʼn daktent op ʼn voertuig. Hy slaan hoog op, baie hoër as ʼn karavaan en beperk jou as die skadubome nie hoog genoeg is nie. Einde ten laaste kry ek my waentjie so halfpad onder die boom in die middel van die kampterrein in. Dis die groep se besluit, want ons gaan by my waentjie kuier en braai en Anton kies die boompie nie vêr van daar af nie. Die boompie is redelik klein en hy stop die waentjie maar langs die boom. Die son is nog hoog vir hierdie tyd van die dag, maar ons besluit om op te slaan en net rustig in die kamp te kuier. Die opslaan gaan maar stadig en sweterig, ʼn gemengde gevoel van – dis lekker om hier te wees, maar die hitte is ondraaglik. Ek moet erken, wat nie ʼn groot bierdrinker nie, maar daardie “ching-ching” wat Anton uit sy yskas gehaal het, was ʼn lewensredder. (dis ons manier om cheers te sê, jy kyk mekaar in die oog en as die drankies mekaar raak, sê jy “ching-ching”).  Ons stap rustig na die hide naby die ingangshek van die kamp om te gaan kyk of daar enige diere is wat ook so warm soos ons kry en lafenis by die watergat kom soek. Daar is baie duiwe wat op die watergat toesak en voor almal kan drink, dan fladder hulle weer bome se kant toe, so asof hulle skrikgemaak word. Dan kom hulle weer om die dors te les, eers een, dan nog een en dan soveel van hulle op ʼn slag, dat hulle bo-op mekaar te lande kom op die rand van die suiping, om ook ʼn teug te kry. Dis asof hulle eers kyk wat gebeur met die eerstelinge, die waaghalsiges, ʼn rukkie wag en as die eerstelinge begin drink, dan is dit asof almal gelyk geroep word om te kom drink. Almal op een slag. Ek sou later leer dat die opfladder teweeg gebring word deur die Swerfvalk wat op die watergat afduik, teen so vinnig as 300 km/uur, om sy prooi, veral duiwe, in die lug te onderskep.   Ons vertoef nie lank nie en gaan koop koeldrank en ys by die winkeltjie net voor toemaaktyd. Die tyd wat ons in die winkel spandeer is oortollig vir die paar goedjies wat ons wil koop, maar die aircon wat die lug afkoel bring ʼn lafenis wat jou laat dink om jou matras te gaan haal en hier te kom oornag. Die vrouens is besig en Anton gesels met die buurman as ek, kamera in hand, die veld onderkant die swembad instap tot by die heining. By die swembad volg die duisende duiwe, so lyk dit as hulle skielik almal gelyk opfladder, dieselfde ritueel as by die watergat. Die horison word geskilder met kleure wat nog nie ʼn naam het nie, as die son laag begin sak. Die wolkies in die lug en die kameeldorings in die skildery maak hom besonder en ek is bang ek neem te min foto’s, want elke minuut verander die Skilder die prentjie.  Ek voel weer klein as ek so na die skildery staar. ʼn Skildery wat beleef moet word en nie op doek of op ʼn foto vasgevang kan word nie, want sien, ʼn foto kan nie emosie aan die kyker oordra nie. Jy moet hier wees en dit beleef! In die stilgebed soos ek staan en staar, probeer ek my dankbaarheid beskryf dat èk dit kan aanskou, hier op hierdie plek. Te veel om voor dankbaar te wees en my gemoed raak vol, ʼn GROOT stuk onverdiende genade, sê ek in my binneste. Elke sonsondergang is uniek, maar hierdie een het ander betekenis.   Die vuur brand en ons klink soos kinders wat kersgeskenke oopmaak as ons die reis tot hier weer en weer bespreek. Elke oomblik en belewenis weer op te roep en te verwoord, die een hoogtepunt op die ander. Dit voel nog onwerklik, besig om rondom die grense van ons land te reis. Dit voel eerder soos ʼn onvergeetlike vakansie wat oor ʼn paar dae moet klaarmaak. Die vleis wat Anton braai, proe lekker en na ete sit ons nog lank en gesels. Dis nog gans te warm om kooi toe te gaan. Dis Moeksie se rondrol en wat nie haar lê kan kry nie, wat my vertel dat sy warm kry en nie kan slaap nie. Die hitte wil nie breek nie en dit gaan maar slaap-wakker-slaap-wakker die hele nag deur.

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sat, 30/05/2020 - 14:43

Maandag 27 Januarie

Ons is vroeg wakker, of sal ek sê, ons staan op tussen een van die slaap-wakker-slaap-wakker episodes, voor die son nog op is en oudergewoonte val die eerste paar koppies koffie in my keel af voor almal op is. Ons besluit om na koffie en beskuit ʼn ent te gaan ry en later terug te kom en brunch te kom maak. Daar is net twee roetes wat mens van Nossob af kan ry, Suid of Noord en Suid wen. Ons ry met my Hilux, Magda en Moeksie agter in en Anton links voor. Die “links voor” het ʼn uitdrukking geword, as iemand praat van ry en jy wil saamgaan, dan sê jy dis reg, ek sit “links voor” menende jy gaan saam. Die sowat 20 km wat ons ry tot net voor Cheleka watergat lewer die normale op.     Ek het voor die toer vir my ʼn mis-sproei sisteem gekoop en hierdie hitte is net die regte omstandighede waar hy uitgetoets moet word. Daar is gelukkig ʼn kraan naby die boom waaronder ons sit langs die waentjie en ek vleg die sproeipypies aan die onderkant van die boomtakke deur, sodat daar ʼn groot oppervlak gedek word. Ek voel half skuldig om die water aan te sit, hier in die droogte, maar met die swembad in die agterkop besluit ek die water is nog nie kritiek nie. Die lafenis, as jy kaal bolyf op jou stoel onder die sproei sit, is onbeskryflik. NOU KAMP ONS LEKKER !!! Ook ʼn uitdrukking wat die mense wat al saam met my gaan kamp het, goed ken.  Terug by die kamp is die brunch ʼn groot bederf, spek, eiers, avokadopeer, brood, en ʼn paar stukkies oorskiet braaivleis. Ek is nie ʼn groot ontbyt mens nie, maar hierdie is iets waaraan ek gewoond kan raak, veral as dit elke oggend op hierdie plek bedien kan word, saam met dieselfde mense. Die besluit is om eers later weer te ry en Magda en Moeksie maak gebruik van die tyd om wasgoed te was. Die waskamer is netjies en ons is beïndruk met die sterretekens wat netjies op gelamineerde foto’s teen die muur uitgestal word. Die res van die oggend en vroeg middag bring ons in die kamp deur, stap gereeld hide toe om ty kyk of daar iets gebeur. Meeste van die tyd net die Jakkalse wat tussen die klippe by die watergat lê en wag vir die geleentheid om ʼn duif te vang, wat hulle gereeld regkry.  Ons ry later die middag Noord tot by Kwang watergat waar ons rustig raak. Aan die oorkant van die rivierloop lê daar drie leeu wyfies en hulle kry ook warm, want hulle lê rustig onder die koelteboom. Ek besluit om my “natuurkragte” in te span en vertel die ander ek gaan die leeus roep. Kom kietsie, kom oubaas se leeus, kom drink water, julle is dors, praat ek saggies in die bakkie. Die toeval speel saam, want net op daardie oomblik staan die een leeu op, kyk bietjie rond en kom reguit na ons toe aangestap om water te kom drink. Hy hurk hier reg voor ons by die watergat en die kameras kliek. As hy klaar gedrink het, stap hy terug na die oorkant waar daar ʼn boom omgeval en met ʼn boog op die grond lê. Hy klim op die boomstomp en nog baie foto’s volg. Ek dink aan die leeus wat rêrig kan boomklim.    Terug by die kamp sit die son nog redelik hoog en ons kuier verder onder die mis-sproei boom. Uit die hoek van my oog sien ek die man, vrou en baba aangestap kom. Hy haastiger as die vrou en baba en sy regterarm is voor hom uitgestrek in ons rigting. Toe hy naby is, eien ek die Parkeraad uniform, en my hart begin vinniger klop! Hierdie missproei gaan ons nou in die moeilikheid bring. Hy stel homself haastig voor as ranger Smith. Hy is nie baie gelukkig met die hout bo-op my bakkie nie. Waar het ek dit opgetel, weet ek dis onwettig en nog ʼn rits aantygings kom dit in Engels deur. Skielik maak die man se opgewondenheid sin en die hout, wat ek al by die ingangshek by Twee Rivieren plan mee sou maak, se spook word werklikheid. Het al skoon daarvan vergeet, want ek sal NOOIT doen waarvan ek nou beskuldig word nie, ek is te lief vir ons Parke om so iets te doen. Hy is verbaas toe ek hom vertel waar die hout vandaan kom en dat ek so, met die hout op die bakkie, by Twee Rivieren ingekom het. Hy is steeds nie oortuig nie en wil hê ek moet al die hout afhaal en brand en hy gaan die saak met die mense by Twee Rivieren opneem. Na onderhandelinge laat hy my toe om die hout agter in die kappie te laai sodat ander mense nie die stompe sien nie. Dit kan hulle dalk net aanmoedig om ”ook” stompe in die veld op te tel vir vuurmaakhout.  Die skildery aan die Westekant kry weer vorm as die son sak, dieselfde son net ʼn heel ander prentjie, mooi soos elke ander een. Ons gaan vat ʼn duik in die swembad om verder af te koel, en daar is heelwat mense wat dieselfde planne het as ons, want die swembad is redelik vol. Die mielies en butternut saam met die braaivleis loop soos jet, ook ʼn uitdrukking as dinge BAIE lekker verloop. Die hide bring ook sy kant later die aand toe ʼn bruin Hiëna sy opwagting maak en ʼn hele ruk vertoef. Weereens ʼn volmaakte dag!! Voor slaaptyd, besluit ons om die volgende dag Noord te ry tot by Union’s End en padkos moet pak vir die roete.   

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 31/05/2020 - 17:53

Dinsdag 28 Januarie

Die slaap was beter as die vorige nag en die hitte nie so erg nie, dalk die missproei of die laatmiddag swem wat ons afgekoel het. Ons pak die yskas met die nodige versnapperings en padkos, koue vleise en brood.

Ons vertoef ʼn tydjie by elke watergat op ons pad na die Noorde, sien weer leeus en kom na 72 km by Lijersdraai piekniekplek aan. Die troppe gemsbokke, blouwildebeeste, rooihartbeeste, springbokke en verskeidenheid roofvoëls tot hier was mooi, met ʼn hele aantal Kodak moments.

Daar is drie bewaarders wat net klaar geëet het en besig is om op te pak. Ons verneem na die roete vorentoe en word vertel van die klomp aasvoëls op ʼn karkas aan die regterkant, so 10 km verder. Die karkas is die van ʼn jong Gemsbok wat die vorige aand deur ʼn trop leeus van die omgewing gevang is.

Ons moet mooi kyk sê hulle, want die karkas is ʼn hele ent weg van die pad af. Die bewaarders is eintlik op soek na ʼn ou groot maanhaar wat sieklik is en vra dat ons asseblief sy posisie moet aanmeld by die kamp as ons hom gewaar. Ons kan ook op die uitkyk wees vir hiënas, hulle het ʼn den in hierdie omgewing.

Die bakkie water wat Magda op die grond langs die tafel sit lok onmiddellik ʼn swerm voëls. Die dors dwing hulle om hulle vrees vir mense te laat vaar en kom sit oral op die tafel saam met ons, wip af waterbak toe en kwetter van dankbaarheid. Van die Koringvoëls was die stof van hulle vere af as hulle in die waterbakkie sit en bad. Water is LEWE, gaan dit deur my gedagte, die waarheid, as jy na die prentjie voor jou kyk.

Die padkos is tops en ons vat die pad verder Noord, oë gerig na regs, want ons wil nie die aasvoëls mis nie. Hierdie het ook later ʼn spreekwoord geraak – die aasvoëls soek. Ons hou op die hoofpad en besluit om met ons terugkeer die afdraairoetes te neem.

Stop! Stop! Is Anton se aankondiging toe hy die aasvoëls op die karkas gewaar. Daar is baie van hulle, net jammer dis so vêr die veld in, darem help die vêrkykers om dit die moeite werd te maak om ʼn rukkie te bly.

Die volgende 62 km tot by Union’s End gaan maar moeilik, nie veel diere nie en die hitte saam met die padkos maak die ooglede swaar. Na die bene-rek en ʼn versnapering by Union’s End piekniekplek, met al sy waaierstert meerkatte wat vir foto’s kom poseer, vat ons die pad terug, so op die hitte van die dag.




Die pad terug raak eentonig en die ooglede BAIE swaar. Al die passasiers “mis die aasvoëls” as hulle koppe op hulle skouers tot ruste kom. Anton veg teen die gedagte, maar word gereeld wakker as hy sy kop skielik regop ruk, want ons is lankal verby die karkas met die aasvoëls en hy het “die aasvoëls gemis”.

Ons nader die Lijersdraai watergat en Anton wys na ʼn beweging naby die watergat. Oortuigend praat ek van die stomp wat hy sien, toe die stomp in ʼn groot vlakvark verander as ons nader ry. Aan die oorkant staan daar ʼn Hiëna en ʼn entjie verder onder die boom lê nog een. Almal is vir eers helder wakker om die Kodak moment te geniet.




Die pad terug kamp toe raak lank en die dag loop uit.



Laatmiddag is ons almal weer swembad toe, ʼn heerlike opkikker en verfrissing na die lui langpad van vandag. Almal in en om die swembad deel hulle ervarings van die dag en die gesels is gesellig. Die pap en steak vir die aand is koningskos!

Om die kampvuur klink dit soos elke ander aand, kan nie glo ons is so bevoorreg om dit te kan beleef nie. Nossob was goed vir ons en ons beplan om as groep weer hier te kom kuier, virseker.



0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 31/05/2020 - 17:53

Woensdag 29 Januarie

Ons is almal vroeg op en Magda en Moeksie was die skottelgoed. Dis hoe ons dit soms doen, na aandete word daar ontspan en gesels en die skottelgoed word netjies opgeruim maar gelos vir more. Die oumense het mos geglo jy was dadelik die skottelgoed, want as jy dalk siek raak deur die nag en die dokter kom besoek jou (daardie dae het die dokter na jou huis toe gekom in die aand as jy hom bel), kan hy dink jy is lui of vuil as daar skottelgoed rondstaan. Ons spot altyd en sê as die dokter by ons kom, sal hy ons jammer kry, want met die skottelgoed wat opgehoop het, sal hy dink ons is LANKAL siek.

Net na agt vat ons die 136 km pad na Rooiputs waar ons die volgende twee nagte sal kamp. Die pad na Dikblaarskolk piekniekplek vorder vinnig met heelwat diere wat Kodak moments bied.


Ons gewaar die brandsiek maanhaar, glo dis die een waarvan die bewaarders gister gepraat het, so 10 km Suid van Nossob en merk die posisie op die GPS. Hy is redelik vêr, maar met die vêrkykers kan ons duidelik sien hierdie leeu is maer en uitgeteer, wel ʼn groot meneer. Na die vleis en broodjies was my verrassing groot toe Magda ʼn pakkie koeksisters uitsit en ek kan nie glo dat sy dit so lank van my kon wegsteek nie.

Na die ete vat ons weer die pad, want ons moet eers terug Twee Rivieren toe om weer daar te gaan inboek by die Botswana deel van die kantoor en dan die 28 km terugry. Op ons pad ry ek by ʼn motortjie verby wat aan die kant van die pad staan, met ʼn man wat agter die bos langs die kar is. Natuur wat roep, dink ek.

Toe Anton daar verbykom, merk hy die man is amper 100m die veld in. Hy stop en verneem by die vrou in die kar of alles reg is, waarop sy in ʼn gebroke Engels antwoord dat haar man net gaan kyk het of hy nie leeus kan sien nie. Nadat hy haar probeer verduidelik het hoe gevaarlik dit is, ry hy verder en laat weet my oor die radio wat gebeur het, mal buitelanders!!


Op ons pad verder na Twee Rivieren, ongeveer 10 km voor Rooiputs, kom ons op die half gevrete karkas van ʼn gemsbok af, hier langs die pad. Die karkas is gedeeltelik deur die leeus onder ʼn rosyntjiebos ingesleep om dit “weg” te steek. ʼn Wyfie lê langs die bos en ou vuilbaard so paar meter daarvandaan, in die koelte van ʼn doringboom. Daar is net twee ander voertuie saam met ons op die sighting en dit gee ons oorgenoeg geleentheid om die oomblik te verewig op kamera, ons neem baie foto’s.



Na sowat ʼn halfuur ry ons verder, want ons moet nog gaan inboek. By Twee Rivieren aangekom moet ons eers wag. Gaborone is van lyn af en hulle moet die bespreking deur hulle kantoor in Gaborone doen. ʼn Pluimpie vir ons Parkeraad wat daar-en-dan alle admin kan afhandel, of jy kan sommer self aanlyn op jou rekenaar bespreek en betaal!! Ek rapporteer die brandsiek maanhaar se GPS posisie aan ʼn bewaarder en sê hy moet dit Nossob toe stuur, daar is mense wat na hierdie leeu soek.

Ons besluit om na die Twee Rivieren kampterrein te gaan en daar in die eetsaal te sit en rekenaars te laat up-date, e-posse te lees en banksake te doen oor die internet terwyl ons vir Gaborone wag. Die koel lug van die lugversorger is verfrissend en ons neem meer tyd as nodig om alles op te dateer en selfoon boodskappe te luister, het die afgelope paar dae geen opvangs gehad nie. Terug by die kantoor  betaal ons vir twee nagte.

By Rooiputs slaan ons kamp op onder die groot kameeldoringboom, so 15 meter weg van die A-raam afdak met die betonblad. Hier is nie krag nie en ek sit my sonpaneel uit. Daar waai ʼn ligte windjie, net genoeg om jou lekker af te koel as jy in die koelte sit.

Ek gaan net weer ʼn slag deur my rympies met Anton en Magda: Nie alleen longdrop toe nie! Nie sonder ʼn flitslig loop nie! Maak seker die longdrop en stort het nie diere in voor jy ingaan nie! Skerpioene, slange, ens, ens!! Dis Rooiputs, het hom al beleef, sonder omheining, soos ek dit verkies.

Voor die son sak ry ons weer terug na die gemsbokkarkas waar daar nou twee welpies ook is. Ou vuilbaard en die wyfie lê nog op dieselfde plekke, dik gevreet en lui. Die welpies is tussen die karkas, waaraan hulle kort-kort gaan kou en die wyfie. Ons neem weer BAIE foto’s, veral met die welpies wat aan die karkas kou en dan weer oor ma gaan klim-en-klouter. Ons ry terug kamp toe, want ons wil settle voor donker.




Vanaand wil ek Bray se hout klaarmaak, die paar stukkies wat oor is. Die sonsondergang is weer besonder, getuig die aanhoudende kliek van die kameras. Die vuur brand hoog en ons sit en bewonder die natuurskoon hier in die Kgalagadi, voete op die voetstoeltjies soos altyd, bang vir die skerpioene.

Op ʼn slag toe die nood druk, stap ek saam met Moeksie en jou wrintiewaar, hier loop die ou grote, een van daardie groot swart skerpioene! Dis lekker stil hier en jy hoor al die naggeluide van die bos.



Die riblits, aartappel en butternut smaak weer lekkerder as ander kere, moet die Bray hout wees dink ek by myself as ek die sterrehemel aanskou wat weer lyk of al die hemel se sterre hier bo ons uitgestal word. Die lewe is ʼn lied!! Dis heelwat koeler vanaand en ons slaap goed as die leeu se brul en die jakkals se tjank in die vêrte soos musiek in my ore klink.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus